Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 47
Vitamien Z
ОглавлениеZero
“As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.”
– Johannes 13:14
Die meeste van ons wil die hero en nie die zero in die verhaal wees nie. Ons hou van aandag en erkenning. Ons wil beroemd wees. Ons wil belangrik wees. Ons wil openbare erkenning kry. Ons smag daarna.
Hierdie strewe na prestige en roem kan ons totaal van koers af dwing op ons geloofspad. Al die aandag en die opheffing en die hero worshipping van mense kan na ons kop toe gaan. Letterlik.
Ons kan begin glo ons is belangriker as die gewone mens op straat. Dit kan die sluimerende narsissus in ons wakker maak. Al die openlike aandag en verering kan ons laat glo ons is klein godjies wat voorgetrek moet word. Ons moet eerste eet, voor in die ry staan en eerste bedien word. Ons mag ook tantrums gooi.
Juis daarom is dit so belangrik om die eienskappe van die ultimate Hero van alle tye gereeld te bestudeer en uit te leef. Jesus is 2 000 jaar ná sy dood steeds bekend vir sy zero aanstellerigheid, hoogmoed en ego.
Watter voorbeeld stel jy in die posisie wat jy tans beklee? Speel jy baas van die plaas oor dié mense in laer posisies as jy? Glo jy jy is die hero en die ander is zero?
Die Koning van alle tye het verkies om op ’n nederige donkie te ry. Hy het afgebuig tot zero en sy dissipels se vuil, stink voete gewas. Hy vra dat ek en jy – veral dié in hoë hero-magsposisies – dieselfde sal doen. Ware heroes vra nie om bedien te word nie, maar dien ander mense.
Bruisgebed vir heroes: Here Jesus, help my besef dat eers wanneer ek afbuig na zero ek ’n ware hero in u oë word. Help my om u voorbeeld van égte nederigheid uit te leef. Tot eer van u Naam.