Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 48
Vitamien G
ОглавлениеGeld
“Niemand kan tegelyk twee base dien nie … Om God én die geldgod saam te dien, is onmoontlik.”
– Matteus 6:24
Geld speel ’n belangrike rol in elke mens se lewe. Almal het geld nodig om te oorleef, om rekeninge te betaal, anders moet ons in ander se oë kyk vir ons daaglikse brood en versorging.
Almal het dit nie ewe breed in die lewe nie. Meer as 50% van ons land se mense leef onder die broodlyn en gaan slaap saans honger. Aan die ander kant is daar die heel rykes van die samelewing wat na hartelus kan reis, uiteet en shop till they drop.
Waar pas jy in? Belangriker nog, wat is jou verhouding met geld? Is jou passie vir geld groter as jou passie vir God? Is jy bereid om ’n bietjie “oneerlik” te wees, om noodleuens te vertel, om jou bankrekening te bevoordeel? Geld op sigself is nie ’n probleem nie, maar wel mense se onversadigbare liefde vir geld.
Ons kan nié God en geld saam dien nie. Die een sal altyd meer eer ontvang. Maak seker wat jou motief is, veral wanneer jy “goddelike” projekte aanpak. Wat is die grootste passie in jou hart? Om God meer te maak? Of om meer geld uit God te maak?
’n Chroniese gejaag na al meer geld is nie ’n bruistablet vir jou siel nie, maar ’n gevaarlike en gewoontevormende dwelm wat God uit die prentjie wegskuif. Wees daarom waaksaam en kry jou geld en jou Godprioriteite reg.
Bruisgebed vir finansiële gesondheid: Here Jesus, ek bid vir suiwer motiewe – ook wat my geldsake betref. Laat my doel altyd eerstens wees om U meer te maak, en nie om geld uit U as God te maak nie. Tot eer van u Naam.