Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 43
Vitamien S
ОглавлениеSelfbeheersing
’n Stad sonder ’n muur om hom te beskerm, so weerloos is ’n mens as hy [of sy] nie selfbeheersing het nie.
– Spreuke 25:28
As meer van ons maar net selfbeheersing kon leer gebruik in emosioneel gelaaide situasies, sou daar baie minder afgebrande verhoudings in ons land gewees het.
Ons word egter nie met selfbeheersing gebore nie. Ons almal het ego’s, impulse, oerdrange en ’n selfsugtige, sondige natuur wat baie van ons reaksies en optredes bepaal.
Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees wat in ons regeer. Ons kan egter selfbeheersing aanleer namate ons al nader aan geestelike volwassenheid groei en ons lewe al meer aan die Here oorgee. Party van ons bly egter geestelike babas, en babas word aan die neus gelei deur hulle kortsigtige en ekkerige kniereaksies.
In watter situasies sukkel jy die meeste om jouself en jou kookpot emosies te beheer? Dalk wanneer jy agter ’n taxi ry wat sonder waarskuwing reg voor jou rem trap? Dalk vra dit baie selfbeheersing om nie die f-woord te gebruik en jou middelvinger te wys nie.
Dalk sukkel jy in jou verhoudings met mense om jou woorde te tel en nie gedurig in ’n magstryd betrokke te raak nie. Miskien is dit jou grootste uitdaging om nee te sê vir daardie stuk lemon meringue-tert wat voor jou ingeskuif word.
Vra die Here om die onbeheerste emosionele stormwinde wat deur jou gemoed waai onder sy beheer te bring en só die skade wat dit kan aanrig te beperk. Vra Hom om die bruistablet van selfbeheersing in jou te kweek.
Bruisgebed vir selfbeheersing: Vader, ek lê my ekkerige self neer en vra dat u Gees my onstuimige kniereaksies sal keer. Ek bid dat U selfbeheersing in my sal vestig as vrug van u Gees se werk in my. Tot eer van u Naam.