Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 34
Vitamien G
ОглавлениеGuns
Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.
– Galasiërs 1:10
Hoe belangrik is mense se goedkeuring en guns vir jou? Wat is jy bereid om te doen om meer punte by die regte mense te score? Om in te wees by dié wat jou posisie in die lewe kan bevoordeel?
Is jy bereid om te lieg? Is jy bereid om te bedrieg? Is jy bereid om te manipuleer? Is jy bereid om vals te wees en op mense te trap in jou strewe om die boonste sport van die leer te bereik?
My ervaring is dat daar ’n cut-throat mededingende gesindheid in die hedendaagse wêreld heers. Mense met integriteit raak skaarser. Mense se gewetes raak al meer afgestomp. Korrupsie vier hoogty. Al meer mense konkel en koop mekaar om met gunste om guns te wen. Selfs Christene skroom nie om verkeerde dinge te doen om die regte posisies te bekom nie. Ons glo dis al manier om te oorleef in vandag se wêreld.
Die Woord waarsku ons teen hierdie soort optrede: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”
Soek die guns van God in alles wat jy aanpak. Draai weg van mense se guns as dit beteken jy moet dinge doen wat teenstrydig met sy Woord is. Mense se guns kom en gaan en is verganklik. God se guns is die ware bruistablet. En jou beloning? Die ewige en gunstige lewe.
Bruisgebed vir guns: Here, ek soek u guns in my lewe. Ek wil doen wat U sal behaag – tot eer van u Naam.