Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 38

Vitamien B

Оглавление

Blom

Hy: “Soos ’n lelie tussen dorings, so is my liefling tussen die meisies.”

– Hooglied 2:2

Ek tree gereeld as ’n inspirerende en humoristiese spreker by verskeie kerke en skole se damesfunksies op. Wanneer ek oor die saal vol uiteenlopende vroue van verskillende agtergronde, ouderdomme en kulture kyk, herinner hulle my dikwels aan ’n tuin met lieflike en kleurvolle blomme – veral wanneer die vroue met oë van liefde, genade en blydskap na my en na mekaar kyk.

Daar was ook al etlike kere dat ek benoud voor ’n saal vol vroue gestaan het, wanneer ek na ’n see van troebel gesigte voor my moes kyk. Daardie harde en strak gesigte het my meer herinner aan onkruid en dorings wat kwes.

Ons vroue, so glo ek, kan elkeen ’n potensiële goddelike blom in ander se lewe wees – of ’n potensiële doringstruik of onkruid. Wat is jy oorwegend? ’n Brandnetel wat seermaak, ’n doring wat laat bloei … of ’n bruisende en sonnige sonneblom wat hoop bring?

Ons is die skoner geslag – die blommetjies tussen die dorings. Die sagter sy van die skepping. Die finishing touch. Watter indruk dink jy maak jy op ’n saal vol mense? Op jou gesin? By die werk? By jou huispersoneel? Wanneer jy in die winkel is of brandstof ingooi?

Mag ons ons sagter blomkante ontwikkel – eerder as ons skerp doringnaels en giftige ivy-ranke. Elke vrou is anders, en dis oukei. Daar is plek vir rose, sonneblomme, stinkafrikaners en beskeie daisies. Elke vrou is anders gevorm en versprei ’n ander geur, maar elkeen wat blom, dra iets mooi en kleurvol by tot God se koninkryk op aarde.

Bruisgebed vir vroue: Here, help my om ’n lieflike en kleurvolle blom met ’n soet geur in u tuin te wees, eerder as ’n suurknol of ’n gifappel. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх