Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 25

Vitamien T

Оглавление

Toets

Toets my Here, keur my, ondersoek my deur en deur.

– Psalm 26:2

Wanneer ek die woord toets hoor, draai my maag sommer. Ek onthou spesifiek die wiskundetoetse van jare gelede op skool. Ek kry nou nog gereeld nagmerries daaroor. Jare later spook die toepassing van die meetkundestellings steeds by my.

My bestuurstoets was ook vir my ’n angswekkende ervaring. Ek was jonk en onervare, en het so pas van die Kaap af Johannesburg toe getrek. Ek was baie senuweeagtig en kon glad nie fokus nie. Eers die derde keer het ek die padtoets en parkeringtoets geslaag. Dis beslis nie iets wat ek ooit weer wil herhaal nie.

As teateraktrise was openingsaande vir my die heel ergste toets. Die pers was in die gehoor en elke nuanse is met kritiese oë bekyk en geëvalueer. Later kon ek die resensie in die koerant lees en uitvind of ek geslaag het of nie … Hulle sê ’n akteur skei met ’n openingsaand net soveel adrenalien af as iemand wat deur die trauma van ’n ernstige motorongeluk gaan. Alles as gevolg van vrees.

Dawid gee egter vir ons ’n nuwe en goddelike perspektief op die woord toets. Hy deins nie van ’n toets terug nie. Hy is nie bang daarvoor nie. Inteendeel. Hy smeek die Here om hom te toets en te evalueer – om ’n resensie oor sy innerlike menswees te skryf.

Dawid besef die waarde van die Here se oog wat tot in die diepste verskuilde hoekies van ons harte kan sien. Vir Dawid is so ’n geestelike toets ’n bruistablet, nie ’n straf nie. Hy besef dit is noodsaaklik as hy wil groei in gehoorsaamheid aan sy Vader.

Hoe voel jy oor so ’n toets in die Almagtige se klaskamer?

Bruisgebed vir toetsvrees: Vader, ek besef die waarde van evaluering. Daarom kies ek om gereeld deur U, die Almagtige, getoets te word. Dan sal ek in geestelike volwassenheid kan groei tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх