Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 56

Vitamien M

Оглавление

Mooi

’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

– Psalm 16:6

Wat is vir jou mooi in jou lewe? Is mooi vir jou sinoniem met woorde soos perfek, volmaak, onbesmet? Is mooi vir jou iemand sonder littekens of wonde? As dit die geval is, gaan jy dalk sukkel om die mooi deel raak te sien wat God, te midde van minder mooi omstandighede, steeds vir my en jou afmeet.

Die lewe bestaan nie uit volmaakte situasies en volmaakte mense nie, het ek geleer. Inteendeel. Elke mens het krakies onder die icing. Party meer as ander. Maar hierdie onvolmaakthede in jou lewe kan jy juis gebruik om ’n lieflike mosaïek van jou lewensverhaal te skep.

My pad deur die lewe was nog nooit volmaak nie. Agter my lê vele glasskerwe, trane, woede, ontnugtering, pyn en mislukkings. Tog kan ek vandag met ’n smile sê: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”

Mooi ken die pynlike snykant van mislukking. Mooi ken lyding, verlies, verwerping en worsteling. Mooi mense het daarin geslaag om hulle pad uit hierdie donker laagtes terug te vind na die Lig.

Hierdie mooi mense is vir my ’n inspirasie. Hulle het ’n dieper waardering, ’n groter sensitiwiteit en ’n besonderse begrip vir die lewe. Hulle terugslae het hulle nie innerlik lelik gemaak nie, maar juis mooier. Hulle is die ware ligdraers in die samelewing wat empatie, ’n sagte gees en opregte liefdevolle omgee uitstraal.

Mooi mense gebeur nie net nie. Hulle word mooi geslyp deur die lewe se kishoue.

Bruisgebed vir mooi mense: Vader, ek onderwerp my aan u slypproses en onderneem om elke stukkie van my lewe te gebruik om ’n mooi mosaïekprent te vorm. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх