Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 60
Vitamien D
ОглавлениеDeel
Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
– 1 Timoteus 1:14
As kind was ek lekker suinig. Wanneer ons ’n pak sweets moes deel en daar het een oorgebly, het ek dit altyd met ’n stomp kombuismes in drie dele gesny eerder as om dit vir my broer of suster te gee. Dan het ek boonop die grootste stuk vir my gevat.
Selfs as volwassene was ek jare lank nie so gewillig om my wenke met ander mense te deel nie – hoe my lipstick so lank aanbly, hoekom my butternut-sop so lekker smaak of waar ek my mooi rok gekoop het. Ek het my dom gehou. Ek wou nie my tips deel nie.
Dis egter merkwaardig hoe ’n mens se hart radikaal verander wanneer jy werklik ’n intieme verhouding met die Vader bou en sy mededeelsame hart leer ken. Deesdae klou ek nie meer vas aan daardie sweets in die pak nie. Ek gee sommer die hele pak weg – sodat ander mense dit onder mekaar kan uitdeel en geniet. So ook my tips, my tyd, my energie, my gawes.
Ek glo ek is ’n geseënde vrou, juis sodat ek my seëninge en ervarings met ander mense kan deel. Daar lê groot vreugde in deel. Dink maar aan daardie gedeelde bordjie kos, ’n gedeelde glimlag, ’n gedeelde kombers, ’n gedeelde tjoklit. Om te deel bou brûe. Dit bring mense nader aan mekaar.
Wat het jy om met ander te deel sodat jy hulle – en jouself – kan verryk? Daar is soveel gratis D-bruistablette. Maak dit ’n nuwe uitdaging in jou lewe.
Bruisgebed vir mededeelsaamheid: Vader, U is so mededeelsaam. U seën my met soveel voorregte. Baie dankie. Help my om ander te seën met dieselfde mededeelsame hart. Tot eer van u Naam.