Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 50
Vitamien T
ОглавлениеTee
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
– Romeine 12:1
Die meeste vroue hou van teedrink en gesels. Ek ook, veral met my paar close vriendinne wat ek vertrou. In hierdie veilige sirkel gesels ons ons harte uit.
Ek waag dit ook elke nou en dan om saam met ’n vreemdeling te gaan tee drink. Want dalk het ons Vader daardie vreemdeling spesifiek oor my pad gestuur sodat ek bemoedigende woorde en ’n koppie tee met hom of haar kan deel.
In my tuin is ’n muurbord opgesit met die woorde: Where there is tea, there is hope. Ek glo dis goed om tyd opsy te sit om tee saam met iemand te drink en ’n bietjie samesyn te geniet. Ook met vreemdelinge. Daar is soveel geïsoleerde mense wat ’n behoefte aan tee saam met ’n opregte en betroubare mens het.
Ek het my egter ook al lelik vasgeloop by teedrinksessies waar die grootste behoefte eerder was om my vir skindernuus te melk. In so ’n situasie vind ek dit wys om pluisies in my ore te druk en my mond vol koek te stop. Volgende keer is dit dalk my beurt om beskinder te word.
’n Goeie leuse vir teedrinksessies is: As jy niks goeds het om te sê nie, bly liewer stil. En as jy iets goed en aanneemlik kan sê, sê dit sommer oor ’n luidspreker.
Wat is jou ingesteldheid? Waaroor praat jy die graagste oor ’n koppie tee? Is jou teepraatjies vol skerp glassplinters en dodelike gif, of is dit opbouende bruistablette vir dié wat na jou luister en vir die Here?
Bruisgebed vir teedrinkers: Vader, maak my sensitief sodat ek net oor opbouende dinge sal gesels wat vir U aanneemlik is wanneer ek saam met mense tee drink. Help my sodat ek my nie sal verlustig in skindernuus oor ander mense en dit sal versprei nie. Tot eer van u Naam.