Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 49
Vitamien W
ОглавлениеWelkom
“Elkeen wat julle verwelkom, verwelkom My.”
– Matteus 10:40
Hoe lyk jou gesigsuitdrukking en body language wanneer iemand voor jou staan? Hoe kyk jy na mense? Na jou vriende? Na jou familie? Na gelowiges? Na die uitgeworpenes? Na die sondaars?
Wat sê jou oë en jou woorde wanneer jy met vreemde mense in aanraking kom? Wat gaan in jou hart en gedagtes aan? Sou jy sê jy is toeganklik en sonder oordeel? Sou jy sê jy is oop en innemend sodat mense maklik met jou sal praat oor hulle uitdagings en hulle struikelblokke? Sou jy sê die gemiddelde mens voel welkom in jou teenwoordigheid? Of het jy net ’n uitgesoekte cream-of-the-crop groepie rondom jou?
Moeder Teresa was ’n weldoener en ’n geloofspilaar vir ’n menigte mense wie se pad sy gekruis het. Sy het almal dieselfde behandel – arm en ryk, swart en wit. ’n Ieder en elk is deur dieselfde onveroordelende “welkom”-lens gegroet. Moeder Teresa het geglo aan die belangrikheid van ’n welkom-glimlag. Daarom het sy jong kinders eers leer smile voordat sy hulle leer bid en hulle uit die Woord geleer het.
Jesus is die grootste voorbeeld van iemand wat almal altyd welkom laat voel het in sy teenwoordigheid. Hy het teenoor almal dieselfde warmte en liefde uitgestraal. Niemand is ooit te lig bevind in sy oë nie – nie eens dié wat deur die kerk en die samelewing verstoot is nie. Ook nie vroue en kinders nie. Jesus was toeganklik en bereikbaar. Vir almal.
Leef jy as Christen Jesus se welkom-voorbeeld in ons gespanne multikulturele land uit? Of maak jy ’n punt daarvan om sekere mense uit te sluit en onwelkom in jou teenwoordigheid te laat voel?
Bruisgebed vir gasvryheid: Here Jesus, help my om almal met dieselfde innemende smile te groet, ’n smile wat van u warmte en omgeeliefde getuig. Tot eer van u Naam.