Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 82
Vitamien O
ОглавлениеOlie
U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
– Psalm 23:5
In Ou Israel was olie iets wat vir herders baie nuttig was. Olie is veral vir drie dinge gebruik: om insekte wat die skape kon irriteer weg te hou; om ’n bakleiery tussen ramme wat in die paarseisoen koppe stamp stop te sit, en om wonde te help gesond maak.
Skape verstaan nie hoe die olie die insekte kan verjaag, hoe die olie wonde gesond kan maak of ’n infeksie kan verhoed nie. Al wat ’n skaap weet, is dat daar iets goeds gebeur wanneer die herder hom met olie behandel.
Die goeie Herder wil al sy kinders met olie behandel sodat ons lewe op koers kan kom. Die Woord wys dit vir ons.
Jesus het simbolies olie oor sy dissipels se koppe uitgegiet deur vir hulle te bid. Hy het hulle toegerus deur vir hulle gelykenisse te vertel. Hy het hulle rusies onderbreek.
Jesus het mense se wonde genees. Hy het blinde oë oopgemaak en melaatsheid weggeneem. Hy het mense uit die dood opgewek en Nikodemus se soekende hart tot rus gebring. Hy het in Saggeus se ontvanklike hart ingegaan en Maria Magdalena se stukkende hart heelgemaak.
Hy het Paulus se hardkoppigheid genees en Petrus se voortvarendheid laat bedaar sodat hulle albei sy evangelie met oorgawe kon verkondig. So het Hy almal se hoofde vet gemaak met olie.
Gaan vandag na Hom toe met jou teleurstellings, jou wonde, jou irritasies, jou koppigheid. Gaan na Hom toe met die nederigheid van ’n skaap. Vertrou Hom as jou herder. Laat toe dat Jesus jou hoof vet maak met sy genesende olie sodat jou lewensbeker kan oorloop.
Bruisgebed vir genesing: Liefdevolle Vader, ek kom in nederige afhanklikheid en met verwagting na U toe. Ek onderwerp my aan u heilige werking in my lewe sodat u genesing in my gees kan bring.