Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 73

Vitamien G

Оглавление

Gedagtes

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is … daarop moet julle julle gedagtes rig.

– Filippense 4:8

Waaraan dink jy en wat dink jy? Waarmee hou jy jou gedagtes besig? As jy nou sou pause en ’n fotograaf kon ’n foto van jou gedagtewêreld neem, hoe sou dit lyk? Alles maanskyn en rose? Of is daar baie dorings en onderdrukte vierletterwoorde?

My gedagtes is nie altyd silwerskoon nie, moet ek dadelik bely. Maar omdat ek ’n hegte verhouding met die Here het en in touch met my sondige natuur is, is ek dadelik bewus wanneer daar giftige prentjies deur my kop en hart beweeg en my aandag van die goeie stryd weglok.

Soms vent ek by ’n vertroueling oor hierdie negatiewe gedagtes. Maar uiteindelik gaan sit ek dit soos vuil wasgoed voor die Here neer en vra dat Hy die donker kolle met sy liefde en genade uit my hart sal tippex.

Wat vergiftig jou? Hoe lyk daardie gif? Kan jy dit identifiseer? Is dit issues uit jou verlede? Jaloesie? Pyn? ’n Negatiewe gevoel teenoor of irritasie met mense wat anders as jy is? Woede oor jou omstandighede?

Ek het opgelet dat die meeste van my onedel gedagtes die gevolg is van mense wie se woorde so soet soos stroop is, maar dan is hulle optrede heeltemal teenstrydig met hulle woorde en soos arseen vir my gemoed.

Dit mag egter nie my gedagtewêreld besoedel nie. Daarom ruil ek gereeld my gif-pellets om vir die Here se edelstene. Op die ou einde trek ek self die meeste voordeel daaruit. Lieflike gedagtes inspireer my. Dit is bruistablette vir my gees. Dink gerus mooi hieroor.

Bruisgebed vir inspirasie: Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, help my om die gif-pellets in my gedagtewêreld bewustelik om te ruil vir u lieflike edelstene. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх