Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 84

Vitamien H

Оглавление

Huis

En ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

– Psalm 23:6

Huise fassineer my. Jare gelede was dit een van my stokperdjies om Sondae na skouhuise te gaan kyk – sommer net om te kyk en te droom. Vandag is ek bevoorreg om ’n verband op twee huise te hê – een in die stad en een by die rivier.

As kreatiewe mens is dit vir my belangrik om my huis so mooi moontlik in te rig – ook my tuin. Wanneer iets breek, glo ek daarin om dit dadelik reg te maak. Ek woon en werk in my huis en dis my veilige hawe. Daar is skilderye teen die mure om my omgewing te verfraai. Ek speel ook graag musiek wat my gees streel. Daar is gewoonlik iewers vars blomme in ’n blompot.

My huis is egter nie net vir myself met liefde en sorg ingerig nie. Dit is net so belangrik vir my om ander mense tuis en welkom in my huis te laat voel. Daar is ’n muurbord voor my voordeur wat sê: Welkom. Dieselfde woord is op my deurmatjie: Welkom.

Hoe lyk jou huis? Dink jy mense voel welkom wanneer hulle by jou huis instap?

Ek glo die Vader berei vir sy kinders die heel mooiste ewige huis voor. Dalk nie gevul met leerbanke en duur skilderye nie, maar beslis met engelesang en die vrug van sy Gees wat ons welkom heet.

Mag ons aardse huise daarom bowenal gevul wees met sy omgeeliefde wat sê: Hier is jy welkom, sodat dit ’n hawe vir elke besoeker kan wees.

Bruisgebed vir huisbewoners: Vader, dankie vir u ewige huis gevul met liefde. Help my as u kind om hier op aarde my gaste altyd met u gasvryheid en liefde te behandel en hulle welkom te laat voel in my huis. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх