Читать книгу Koeke en terte - Susan Coetzer - Страница 4
Voorwoord
ОглавлениеHoekom koeke en terte?
Toe ek by die tuisnywerheid instap, het die groot verskeidenheid eetgoed my dadelik opgeval. Daar is so baie verskillende koeke en terte en koekies en happies – alles gemaak van uiteenlopende resepte met verskillende bestanddele, geure, smake, vorms, kleure en voorkomste om van te kies.
Wat my toe laat dink aan al die uiteenlopende vroue wat die Here gemaak het. Vroue is so verskillend en uniek soos die koeke en terte en wat nog als in ’n tuisnywerheid. Ons styl, persoonlikheid en kleur verskil; ons vorm, grootte en bestanddele verskil. Party is soeter, ander s(t)outer. Sommige is styf, ander meer plooibaar …
So begin my gedagtes toe met my op loop sit en ek kry hierdie wonderlike idee vir ’n splinternuwe, innoverende geestelike (en humoristiese) boek: ’n koek-en-tert-boek waarin ek al die verskillende geloofsvroue uitbeeld wat al my pad gekruis het.
Hierdie uiteenlopende geloofsvroue was almal so uniek.
En tog in baie opsigte ook eenders.
Sedert die verskyning van my debuutroman, Oros vir die siel, in 2007 het my lewe byna oornag ’n nuwe rigting ingeslaan. Ek het ’n nuwe roeping ontvang waarin ek my gawes en talente kon gebruik. Die afgelope 12 jaar word ek feitlik elke week genooi om as motiveringspreker by ’n groot verskeidenheid en uiteenlopende damesfunksies landwyd op te tree.
Aanvanklik was ek maar skepties en senuweeagtig oor die versoeke van kerke, skole en vroueorganisasies wat ingestroom het. Wat was hierdie onbekende vroue se verwagting van my? En wat was my verwagting van hulle? Wat gebeur alles by so ’n funksie? En watter soort vroue woon dit by? Hoe lyk hulle? Wat dra hulle? Wat glo hulle? Is hulle krities of verwelkomend? Oorwegend koekerig en styf, of is daar ook terterige vroue en inbetweens? Het sommige van hierdie vroue darem ’n humorsin, of is almal baie ernstig?
Ek het begin stres. Sou ek as ’n ongewoon kleurvolle kunstenaar met ’n skerp humorsin daar inpas – of soos ’n seer oog uitstaan?
Voor 2007 was ek nooit eens ’n gas by enige sodanige damesfunksie nie. Nou skielik moes ek die spreker wees, die een wat voor gaan staan, die een wat die onbekende kerktannies toespreek en hulle probeer inspireer. Dit het my tot buite my gemaksone en my talente se reikwydte gesleep.
Ek het baie met die Here geworstel hieroor, veral oor die onderwerpe waaroor ek dan moes praat en die aanslag wat ek moes kies. Ek het my bedenkinge gehad of ek die regte kandidaat was om met vroue by ’n damestee of vrouedag, of waar ook al, te praat. Hulle sou my waarskynlik onder ’n vergrootglas ontleed. (Ja, ek bely ek het vooropgestelde idees oor die gemiddelde kerkvrou gehad. En hulle sekerlik oor my ook. Het ons nie maar almal ons vooropgestelde idees oor mekaar nie?)
“Is ek nie te ánders vir hierdie konserwatiewe vroue nie?” wou ek die hele tyd by die Here weet. “Is ek regtig geskik vir dié job? Ek is ’n onvolmaakte vrou, met baie foute en flaters.”
Dalk is jy te anders vir sekere mense, het ek gevoel die Here my geantwoord. Maar nie vir My nie. Ek het jou met my eie hande ontwerp en jou met ’n doel gemaak. En my doel met jou nou is juis om die boodskap van my genadige liefde met almal te gaan deel. Gaan bou brûe met my liefde daar waar verdeeldheid is tussen die uiteenlopende happerige dogters in my kerk.
Ek was steeds onseker …
Een ding waarvan ek egter wel baie seker was, was dat ek op ’n onmiskenbare geloofsreis saam met die Here sou vertrek, ’n groot avontuur met nuwe ontdekkings oor Hom – en oor myself. En oor die jare heen is ek inderdaad geslyp en gesnoei. Ek het dieper insig gekry in hoe die Here se hart lyk. Sy hart is sag, vol liefde en medelye – ook vir dié buite die tradisionele boks, die ongewone, andersoortige mense. Mense soos ek. Mense soos jy. Ek moes op Hom vertrou vir dié nuwe avontuur. Hy sou my as spreker bemagtig om sy boodskap van liefde oor te dra.
Met die eerste paar funksies was my mond kurkdroog en ek moes kort-kort water sluk om te kon praat. Agter my was ’n skerm met notas om aan vas te hou, soos ’n lewensanker. In my hand was ’n lang stok om die notas op die bord te beklemtoon – en ’n paar kletsende dames op die kop te tik.
Die eerste paar optredes in sale vol vreemde kerkvroue was so vreesaanjaend soos om na ’n nuwe skool in ’n nuwe land met ’n vreemde taal te gaan. Ek was bang vir die oë wat vol verwagting op my gerig was. As aktrise was ek gewoond aan ’n vaste teks in my hand en ’n regisseur wat aan my kon leiding gee. Ek kon agter ’n karakter skuil. Al was dit ook Daisy de Melker wat twee van haar mans en haar seun vergiftig het …
By hierdie funksies was daar egter nie ’n karakter om agter te skuil nie, het ek besef. Ek het naak gevoel en dikwels gewens ek kon ’n tjalie oor my gesig gooi om my ongemak te bedek. Ek was lus om te vlug. Ek was te anders …
Wees nederig en bly altyd volkome afhanklik van My. Ek gee elke tree saam met jou, het ek die Here se stem in my hart gehoor. Elkeen in hierdie saal en in al die sale waarheen jy nog sal gaan, is uiteenlopend en anders en uniek deur My gemaak. Maar as vroue is julle ook in baie opsigte eenders. Fokus dáárop, en bou brûe na mekaar toe met dit wat julle as beroepsvroue, ma’s, oumas, susters, tannies gemeen het: dieselfde hemelse Vader. Aanvaar mekaar soos ’n verskeidenheid lekkernye in my tuisnywerheid. Sjokoladekoeke, wortelkoeke, Peppermint Crisp-terte, koeksisters, vetkoeke, droë koekies, cupcakes … Want Ek kyk na die bestanddele aan die binnekant van elke vrou, eerder as na die versierings, die voorkeure en die modegiere aan die buitekant.
Wat net weer bewys, om anders te wees is nie die klip op jou geloofspad nie. Die klip in die pad lê diep in ons elkeen se hart, in ons gesindheid teenoor mekaar. En veral die gesindheid teenoor dié wat volgens ons maatstaf nie inpas by ons tuisnywerheid nie.
As ons Skepper al die vroue op aarde presies eenders wou gehad het, kon Hy ons in groot maat deur dieselfde fabriek gestuur het – almal met dieselfde beige uniform, dieselfde haarstyl, dieselfde stemtoon, dieselfde gesigsuitdrukking, dieselfde kleur en dieselfde persoonlikheid. Netjiese afskrifte. Maar Hy het elke vrou oorspronklik en uniek geskep, met sterkpunte en swakhede, met ’n rede: om ons nederig en afhanklik van Hom te hou. Om ons te leer om ten spyte van ons verskille steeds ’n liefdevolle en eensgesinde geloofspan te vorm.
Dit is nou al 12 jaar later en ek het omtrent al die hele land en die buurlande deurkruis. Nadat ek oor my aanvanklike vrees en vooropgestelde idees oor kerkvroue gekom het, het ek hierdie vrouefunksies en die vroue baie meer begin geniet. Ek was al meer ontspanne en bewus van God se genade en guns wat op my rus. Sy krag het my gevul en my sterk gemaak. My fokus het verskuif, weg van myself na dienaarskap. Ek het ’n kykie gekry op hoe ware naasteliefde lyk.
Wat ’n wonderlike deurbraak op my geloofspad!
Wanneer ek klaar met die vroue by ’n funksie gepraat het, is daar natuurlik altyd koffie en tee en ’n verskeidenheid uiteenlopende smulgoed om te geniet. Dit het my al meer begin opval hoe uiteenlopend die eetgoed op die tafels was wanneer ons so saam gekuier het. Elke tafel was uniek.
Maar wat my nog meer getref het, noudat ek meer ontspanne was, is hoe uiteenlopend die vroue by hierdie funksies was. Party was vrolik en kwetterend; ander stil en ingetoë. Elkeen het haar unieke “resep” verteenwoordig.
By party vroue het ek dadelik meer aanklank gevind as by ander. Maar ek het ook besef: Dit is my persoonlike lens en my ervarings en agtergrond wat ek as barometer gebruik. Die een is nie beter of slegter as die ander nie – net anders. Ons almal is lieflik en bruikbaar in die oë van ons Maker.
Party vroue, het ek gemerk, hou daarvan om hulle met oorgawe op te tof (of eerder, op te tert). Letterlik van toontjie tot kroontjie. Dan is daar ook die valetjies wat verkies om meer beskeie sponskoeke te wees, sonder enige versiersuiker of kleursel. En dan is daar natuurlik die inbetweens, dié met ’n bietjie koekerigheid en terterigheid ingemeng. (Ek sou sê ek val meer in hierdie kategorie.)
Al hierdie uiteenlopende vroue was die inspirasie agter my eerste humoristiese eenvrou-teaterkomedie Koek en Tert waarmee ek sedert 2016 rondtoer. Die doel van hierdie produksie was om vroue op ’n speelse manier aan te moedig om op die ligter kant van die lewe te fokus, in plaas van op die harde en kritiese snykant.
Eintlik loop ek dus al lank rond met die konsep vir hierdie ongewone koek-en-tert-boek. Ek hou van stir, maar stir met ’n goeie doel. Ek wil elke vrou aanmoedig om uit te rys tot die beste weergawe van hulle unieke self – of jy nou koekerig of terterig of inbetween is. Nie een van ons is volmaak nie; daar is altyd ruimte vir verbetering en groei. Veral in naasteliefde, deernis en aanvaarding.
Ek het oor die jare agtergekom dat wanneer mense vir Jesus as hulle Verlosser aanneem, hulle nie op daardie presiese oomblik nice mense word nie. (Ek sluit myself hierby in.) Hierdie ontdekking kom altyd as ’n groot verrassing – of eerder, ’n skok. Net omdat mense sê hulle glo in Christus, beteken dit nie hulle leef volgens sy voorskrifte nie.
Gaan lees gerus weer Paulus se briewe aan al die gemeentes wat hy gestig het tydens sy sendingreise. Kort-kort moes hy hulle herinner aan hoe Jesus geleef het, en dat hulle as Christene in sy voetspore moes volg. Dat Jesus hulle rolmodel moes wees. Dat hulle die gesindheid van Christus moes aanneem.
Dit het baie briewe en baie smeek en baie vermaning van Paulus gekos om ’n positiewe verandering onder die jong gelowiges teweeg te bring, om harmonie en vrede onder hulle te vestig en hulle mekaar te laat liefhê, ten spyte van hulle uiteenlopende agtergronde, kulture, persoonlikhede en temperamente.
Ek glo Paulus sou vandag ook graag by my en jou wat hier lees, wou pleit om ons in hierdie onstuimige Suid-Afrika daarop toe te spits om as Christenvroue brûe na mekaar toe te bou – eerder as om mekaar af te breek en groter verdeeldheid te veroorsaak. Kom ons span almal saam (ten spyte van ons verskille) en raak ware en waardige ambassadeurs van Jesus Christus se liefdesopdrag aan almal.
Ja, ja, dit sluit álmal in. Jy moet veral lief wees (of probeer lief wees) vir dié vroue van wie jy nie hou nie. Ook vir dié wat jou grensloos irriteer. Ook vir jou skoonma. En vir al die weird koeke en terte op die ander rakke in die tuisnywerheid.
Stel jou oop. Ons almal is saam op hierdie opwindende geloofsreis. Sien dit as ’n prettige avontuur – om daai moeilike vroue wat al jou verkeerde knoppies druk en wat jou gedurig rooi laat sien met groter naasteliefde en deernis te begin hanteer.
Ek nooi nou elke unieke, handgemaakte geloofsvrou van alle buurte, kleure, geure en kulture – van die vierkantige koekeriges tot die meer loslyf-terteriges, van die kleurvolle inbetweens tot die vaal sponskoeke – om op ’n innerlike reis deur hierdie resepteboek te gaan. Dit bevat ’n kaleidoskoop van smulgoed en ek glo jy sal jouself hier en daar raakloop – hopelik met ’n giggel en ’n grinnik, en nie ’n gil of ’n brul nie.
Die 30 tipiese koeke en terte wat in hierdie boek beskryf word, is nie ’n weerspieëling van die werklikheid of van enige spesifieke persoon wat ek ken nie. Elke vrou (ook ek) loop deur om ’n bietjie terug te kom aarde toe. Die tipiese koeke of terte word in ’n ligte, skertsende styl en as oordrewe spotprentkarakters uitgebeeld. Dié wat ’n skerp humorsin het, sal dit dadelik snap. En ek glo ons almal kan baat by ’n bietjie meer humor in die lewe en veral meer dikwels vir onsself lag.
Ek was jare lank baie liggeraak vir kritiek en nogal onbuigsaam in my persoonlike sienings en opinies, met ’n skerp valbyltong daarby. Ek het net gehou van “my” soort mense en die res gekritiseer. Op my reis deur die lewe het ek egter geleer om my lens sagter en met meer genade in te stel – teenoor myself sowel as ander vroue, veral dié vroue wat totaal anders is as ek.
Ons elkeen het ons spesiale plekkie in die son. Ons hoef nie teen mekaar te veg of onsself met ander te vergelyk om “mooier” of “beter” te probeer wees nie. Die lewe is nie ’n kompetisie nie, het ek besef. Ons almal is deel van die Here se tuisnywerheid. Ons is net verskillend. Ons resepte verskil. Maar vir ons elkeen is daar ’n unieke plekkie.
In elke hoofstuk van hierdie boek gaan ek op ’n humoristiese, ligte en speelse manier ’n verskeidenheid uiteenlopende vroue skets deur koeke en terte en kleinkoekies as beeld te gebruik. Ek gaan ’n paar aanbevelings maak oor hoe die verskillende resepte verbeter kan word. En ek gaan dié dele van die resepte wat goed werk, beklemtoon. Moet asseblief nie aanstoot neem as jy dalk ’n stukkie oor jou nare kant raaklees nie. Dit is nie ’n persoonlike aanval nie. Ek spot net so lekker met my eie minder goeie bestanddele. Beskou dit asseblief as ’n liefdevolle en hartlike uitnodiging om die reis saam met my na emosionele en geestelike volwassenheid aan te pak. Dit kom uit ’n hart vol liefde en deernis.
Ons almal is geloofsvroue op reis, eenders in vele opsigte, maar ook baie anders in talle ander opsigte. Solank ons aanhou groei in liefde en genade, glo ek smile die Here oor ons elkeen se reis na volwassenheid in Hom.
Hierdie boek is ’n oop uitnodiging vanuit my hart. Girls, ek nooi julle elkeen om saam met my op hierdie wonderlike geloofsreis te gaan. Ons gaan pret hê! Ons gaan nuwe en mooi plekke in onsself én in ander ontdek. Ek nooi jou dan nou om God se groot en genadige hart in jou eie hart in te nooi. En om op jou pad vorentoe met hierdie verruimde hart die kleurvolle tuisnywerheid van uiteenlopende vroue met vreemde vere, klere, kleure, geure, agtergronde, oortuigings, opinies, voorkeure, persoonlikhede, sterkpunte en swakhede te aanvaar en hulle met meer genade en naasteliefde (en ’n humorsin) te hanteer.
Daarna word alle grappies op ’n stokkie geplaas en jy word uitgenooi na tyd vir nadink. Eers is daar persoonlike bemoediging en wenke. Dit word gevolg deur ’n geestelike slypskoolsessie. Hier kan jy jou skoene uitskop en jou oogklappe afhaal en bewus raak van wie jy regtig is – van jou gawes en talente en sterkpunte. Dan kan jy by God en sy Woord stil raak en sy boodskap vir jou ontvang.
Terwyl jy deur hierdie boek lees, onthou om alle ander koeke en terte te behandel soos jy self behandel wil word – soos ’n spesiale vrou. Aanvaar elke vrou waar sy nou tydens haar reis as gelowige is. Moenie jou prestasies, sukses en selfvertroue met hare vergelyk nie, ook nie hare met joune nie. Môre, oormôre word die bordjies dalk verhang.
Ons almal is in dieselfde skool van die Leermeester, net in verskillende grade en ons neem verskillende vakke. Behandel daarom elke vrou, watter soort koek of tert sy ook al is, met die nodige deernis, geduld, respek en menswaardigheid. Net soos jy, is sy ’n kind van die Here, en daarom jou suster en deel van jou familie. Kyk hoe jy haar kan help om die beste weergawe van haarself te word.