Читать книгу Koeke en terte - Susan Coetzer - Страница 6

1

Оглавление

Degies

Ek en my half-dogtertjie Ena bak graag saam. Die deeg wat ons aanmaak vir ons verskillende eetgoed soos pannekoeke, vetkoeke, cupcakes, koeksisters, skons, beskuit, soetkoekies, groot koeke, brode, terte, tertkorse en gebakte poedings lyk nogal baie dieselfde, het ek op ’n dag agtergekom. Die meeste bevat ook dieselfde basiese bestanddele soos meel, suiker, eiers, melk, sout en geursel, maar in verskillende verhoudings tot mekaar.

Eers wanneer die produk klaar gebak het en uit die oond of pan kan kom, kan jy dit identifiseer en ’n naam daarby sit. As jy net na die mengbak met die slap (of stywe) en vormlose deeg kyk, is dit moeilik om vas te stel wat die eindproduk sal wees.

Dit is hoekom jong skooldogters dikwels degies genoem word. Hulle het nog nie liggaamlik, emosioneel, intellektueel en geestelik klaar gegroei nie. Hulle is nog nie volwasse nie. Nog nie klaar gebak nie. Hulle persoonlikheid, karakter, gawes, kennis van hulle sterkpunte en swakhede, en dikwels ook hulle geloofspad, het nog nie werklik gestalte gekry nie. Degies het hulleself nog nie werklik ontdek nie. Hulle is nog op soek na hulle ware identiteit en nog nie seker wie of wat hulle is nie, veral nie in verhouding tot die Pottebakker se Groot Plan met hulle lewe nie.

Hulle is nog vormlose deeg op soek na iets om hulle te omlyn en te vorm … of te laat verdwyn. ’n Degie op soek na haar identiteit en doel kan in enige rigting beweeg. Sy kan iemand word wat ander inspireer. Of sy kan ’n afbrekende pad kies. Sy kan ook ’n ongedefinieerde, kleurlose, geurlose Degie bly totdat sy die dag sterf en met haar potensiaal en talente en al begrawe en vergeet word. Sy het dan haar doel gemis. She missed the mark.

Ek is seker in ons begraafplase lê daar ’n rykdom van onontginde talente; degies wat begrawe is sonder om ooit hulle volle potensiaal te bereik en hulle doel op aarde uit te leef. Groot skilders lê daar begrawe, ook skrywers, musikante, dansers, kokke, sakevroue, atlete, beraders, dokters. Die lys is lank.

Ek self was baie jare lank ’n soekende degie in die mengbak van die lewe. Ek het op baie kronkelpaaie gestap in my soeke na wie en wat ek is en waar ek regtig inpas en sal blom. Ek kom nie uit ’n Christelike agtergrond nie. My ouers was teen die kerk en het nie geskroom om dit te sê nie. Hulle het my nie aangemoedig om ’n geestelike pad te volg nie. My ouma was wel diep gelowig. Sy het my dikwels saamgenooi kerk toe. Ek kan nie meer die eredienste en boodskappe onthou nie, maar ek kan wel haar voorbeeld onthou: hoe sy haar naasteliefde prakties uitgeleef het. Dit het ’n diep indruk op my gemaak en bly vandag steeds ’n lig op my pad. My ouma het naasteliefde betoon aan almal op haar pad – van die fancy ryk mense tot by die arm tuinier wat onkruid uittrek. By haar het ek onvoorwaardelike liefde en aanvaarding leer ken. Ek was altyd welkom in haar ruimte. Welkom om net myself te wees.

Dit het baie jare gekos voordat ek by die Pottebakker aangemeld en toegelaat het dat Hy die bak deeg in sy hande neem en ontslae raak van die vergiftigende eienskappe in die deeg, om dit te vervang met beter en flopvrye bestanddele.

As tienerdegie en jong soekende vrou het ek minder aangename eienskappe met my saamgedra. Ek onthou dit nog so goed. Dalk kan jy jou daarmee vereenselwig?

Onsekerheid en twyfel was die hele mengbak vol. Ek was onseker van my talente en gawes. Ek het myself as die stert beskou, nie die kop nie – al was ek akademies altyd onder die voorste leerders.

Daar het ’n ongesonde skaamheid aan my gekleef, wat my potensiaal en die ontwikkeling van my unieke persoonlikheid ondermyn het. Ek was jare lank te skaam om my mond voor ander mense oop te maak. Op universiteit was ek die een wat niks gesê het nie. Later, as jong aktrise, was ek bewend, blosend en ongesond senuweeagtig tydens oudisies. Regisseurs was bang om hierdie senuwrak in ’n groot rol te cast. As ek self nie in my potensiaal geglo het nie, hoekom sou húlle wou inkoop en my ’n rol aanbied?

’n Minderwaardigheidsgevoel is direk gekoppel aan ’n swak selfbeeld en ’n gebrek aan selfvertroue en selfliefde. Ek was rigtingloos, angstig, stotterend. My lewe was ongestruktureerd en deurmekaar. Mense kon nie op my staatmaak nie. My optrede was nie konsekwent nie. Ek was emosioneel aangedrewe, gelei deur my veranderlike buie, in plaas van ’n goddelike karakter en beginsels.

As tiener, student en later jong aktrise was ek die slagoffer van eetsteurnisse. Ek was óf oorgewig weens ’n onversadigbare “honger” óf ondergewig weens my skuldgevoelens en gevolglik selfopgelegde strafmaatreëls. Ek sidder vandag as ek terugdink aan die eetstakings, die streng en onuitvoerbare dieetplanne, die hande vol eetlusdempers!

Ek het dikwels moeg, swaarmoedig en depressief gevoel, allesbehalwe soos ’n borrelende, bruisende persoon. Ek het hierdie swaarmoedigheid soos ’n sak klippe met my saamgedra. Ek het bly soek na dinge buite myself om my na groter blydskap en blywende vrede te lei. Sonder sukses. Die klippe het altyd maar weer iewers my gees gedemp en my blydskap gesteel.

Hoe het ek van ’n onseker en vreesbevange degie verander in ’n kleurvolle en selfversekerde koek-tert wat met haar kop omhoog kan loop? Deur in te skakel by die Bron van alle oorwinning. Ek het die Here persoonlik leer ken – nie net op ’n stukkie papier of in die kerk nie. Ek het ’n pad saam met Hom aangepak en sy voorskrifte en padaanwysings begin volg. My transformasie het egter nie oornag gebeur nie. Ek klim ook nog gereeld terug in die oond om verder gevorm en gebak te word.

Wees dus gewaarsku. Maar hou ook goeie moed.

My groot deurbraak was egter toe ek bevry is van die swaar emosionele klippe in my wat my groei gestuit het. Mettertyd het ek elke klip verruil vir die nuwe en veerligte bestanddele wat die Here aanbeveel het. Só het Hy ruimte in my gees geskep vir nuwe eienskappe. Geleidelik het ek nuwe denkpatrone, ’n nuwe karakter en nuwe leefstylgewoontes aangeleer. Ek het my talente en gawes begin ontwikkel onder leiding van die Heilige Gees. Terselfdertyd het ek ’n nuwe identiteit as oorwinnaar in Jesus begin ontwikkel en ’n nuwe borrelende seisoen van oorwinning begin ervaar.

Ek was nie meer ’n soekende degie nie. Ek was ’n sterk vrou wat haar potensiaal begin uitleef en nader aan haar Groot Doel begin beweeg het.

Voel jy soos ’n degie op ’n dwaalpad terwyl jy hier lees? Is jy moedeloos en sonder motivering? Skep moed! Daar is hoop.

Bemoediging en wenke vir Degies

In ’n referaat oor die ontwikkeling van begaafde kinders wat by ’n internasionale konferensie gelewer is, bied die opvoedkundekenner prof Sidney Moon die volgende hulpmiddels aan vir ouers en onderwysers van hierdie kinders om hulle te help om selfbewussyn aan te kweek. Alle mense kan egter hierdie hulpmiddels gebruik om hulle gawes en talente te ontwikkel, ook jy as Degie:

•Stel vas watter soort persoonlikheid jy het.

•Suiwer jou waardes.

•Ondersoek en evalueer jou belangstellings.

•Identifiseer jou sterkpunte en jou swakpunte. Gebruik die SWOT-analise hiervoor. Dit behels dat jy ’n lys maak van jou sterkpunte en jou swakpunte, jou geleenthede vir groei om nuwe vaardighede aan te leer en die bedreigings wat daarmee gepaardgaan.

•Ontdek jou talente. As jy sukkel om jou talente en gawes self te identifiseer, vra dié mense wat jou goed ken – soos jou familie en vriende – om jou te help. As jy steeds onseker is, maak dit ’n saak van gebed.

•Ontwikkel dan jou talente en gawes deur oefening, nog oefening en selfs nog meer oefening. Leer die vaardighede aan wat jy nodig het om jou talente of gawes te beoefen. Om ’n nuwe vaardigheid aan te leer, is nie maklik nie en dit word al moeiliker hoe ouer ’n mens word. Glo egter in jouself. As jy foute maak, leer daaruit. As jy suksesvol is, vier dit.

•Toets of jou belangstellings werklik geprikkel word deur die talente en gawes wat jy in jouself geïdentifiseer het. Hier is ’n voorbeeld: Jy glo fotografie is jou talent. Jy toets jou teorie deur ’n fotografiekursus te doen. Jy ontdek jy hou nie daarvan om ure lank vir die regte foto te wag nie. Jou talent lê eintlik in die ontwikkeling en redigering van foto’s.

Die ontwikkeling van jou persoonlike gawes en talente hou die volgende voordele in (om maar ’n paar te noem):

•Dit versterk jou selfbewussyn en identiteit.

•Dit help jou om jou potensiaal te bereik.

•Dit bou menslike kapitaal.

•Dit vergroot die kans dat jy in ’n pos aangestel sal word.

•Dit help jou om nuwe vaardighede aan te leer.

•Dit help jou in jou geestelike groei.

•Dit versterk jou lewensgehalte.

Moon sluit haar referaat af deur te sê die ontwikkeling van ons persoonlike talent en hoëvlak-prestasie lei tot ’n lewe van vervulling. Om jou gawes en talente suksesvol te ontwikkel gaan daaroor om moeite te doen om nuwe vaardighede te bemeester. Dit doen jy deur hard te studeer en nog harder te oefen om jou doelwitte te bereik en jou drome en ambisies waar te maak.

As jy as gelowige egter ook jou Groot Doel op aarde wil bereik, sal jou sukses nie net gefokus wees op jouself en persoonlike gewin nie. Jy sal ook as dienaar van God aanmeld en deel van sy Groot Plan word. Jou werk (wat jy ook al doen) en jou menswees (hoe jy met ander omgaan) sal getuig van jou liefde vir Hom en van jou liefde vir jou naaste. Wanneer jy binne God se Groot Plan werk, as deel van sy liggaam, sal jy ander mense se lewe ten goede beïnvloed, hulle as mens verryk en hulle geestelik inspireer. Dit sal God laat glimlag en sê: “Mooi so, my getroue dienaar. Ek is baie tevrede met jou lewe.”

’n Laaste bemoediging van my: Word wie jý veronderstel is om te wees. Moenie ongeduldig wees met jouself nie. Jy sal nie oornag resultate sien nie. Dit is ’n ewige reis na geestelike en emosionele volwassenheid, ongelukkig nie ’n halfdag te perd nie. Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en wees doelgerig om jou volle potensiaal in God te verwesenlik.

Slypskool vir Degies

Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

•Is jy ’n Degie? Motiveer jou antwoord.

•Het jy sommige van die eienskappe van ’n Degie?

•Wat is jou sterkpunte?

•Wat is jou swakhede?

•Wat is jou natuurlike talente?

•Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?

•Wat is jou drome?

•Wat is jou passies?

•Hoe lyk die nuwe jy waarin jy wil verander?

•Watter bestanddele wil jy uit jou huidige resep weglaat?

•Watter nuwe bestanddele wil jy byvoeg om die beste jy te word?

•Wat is vir jou haalbare doelwitte vir hierdie week, hierdie maand, hierdie jaar?

•Wat is jou lewenstaak as jy dink aan die kombinasie van al jou geestelike gawes, natuurlike talente en sterkpunte wat die Here spesifiek in jou geskenkpakkie geplaas het om die wêreld mee te verryk?

Die Woord vir Degies

•1 Korintiërs 12:4-31

•Matteus 25:29

•Handelinge 20:24

Stilwordtyd by God vir Degies

Lees die Bybelgedeeltes hierbo in stilte en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:

•Wat het my getref? Bid daaroor.

Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:

•Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?

•Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?

•Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Slypskool vir almal wat saamreis

Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

•Hoe voel ek oor Degies?

•Hoe hanteer ek hulle?

•Hoe kan ek hulle bemoedig en help om hulle volle potensiaal te bereik?

•Hoe wil die Here hê moet ek Degies hanteer?

Die Woord vir almal wat saamreis

•Johannes 13:34-35

•Handelinge 20:28

Stilwordtyd by God vir almal wat saamreis

•Wat het jy in hierdie verse oor naasteliefde geleer?

•Wat sê die Here vir jou?

•Hoe kan jy dit prakties toepas?

•Het jy enige lightbulb-oomblikke beleef?

Koeke en terte

Подняться наверх