Читать книгу Sluimerliefde - Susan Pienaar - Страница 3

1

Оглавление

“Nee, mán, los my! Dis nog te vroeg vir ’n vryery.” Karli probeer losruk uit Maritz se arms, maar hy is sterk en hy verstewig net sy greep om haar. Sy lyf is warm teen haar rug, en sy is nou só verdomp geïrriteerd.

Maritz soen haar agter in haar nek en grom: “Huh-uh, nee, dis nooit te vroeg nie, veral nie met my meisie se sexy lyfie so cosy teen my nie. Weet jy, het jy énige clue wat jy aan my doen?”

Sy asem is warm teen haar wang en sy ruik ’n sweempie naskeermiddel. Dis duur en smaakvol, soos alles wat Maritz aanskaf. Hy druk haar styf teen hom vas en Karli voel die harde lengte van sy begeerte teen haar agterstewe. Flip! Sy is vanoggend só nie in die bui vir hom nie!

“Ek sê lós my, déksels!” Karli mik met haar sandaal se hak na sy enkel, maar hy tree rats agteruit en sy mis. Sy is moeg gespook. Sy skep asem en kyk oprit toe.

Henk staan halflyf agterin sy viertrek, besig om bagasie vir die langnaweek in te laai. Oral op die plaveisel staan tasse, en vlak voor sy enorme motorhuis staan twee koelbokse en nog ’n hele spul ander goed. Henk is al heeloggend knorrig, maar dis glad nie iets nuuts nie. Hoewel, hy behoort vir ’n verandering tevrede te wees – sy en hy het mos darem lank gewag vir die langnaweek tussen die berge by Golden Gate. Maar hy het haar netnou ingevlieg oor ’n simpel ou dingetjie wat sy hom gevra het, dus bly sy liewer uit sy pad uit.

Henk kom regop agter sy voertuig. Sy donker wenkbroue trek fronsend saam terwyl hy humeurig na hulle kyk. “Hey, Maritz!” En toe Maritz opkyk: “Ag nee, demmit, man. Hoor jy nie wat Karli sê nie? Los haar en kom help inlaai.” Karli kan duidelik sien hoe ’n spier teen sy kakebeen spring.

Maritz plant ’n soen op Karli se wang, los haar onmiddellik en kom staan voor haar. Sy oë vonkel spelerig en hy streep ’n hand deur sy blonde hare.

“Oukei, rissiepit, ek los jou. Maar moenie scheme jy gaan altyd jou sin kry nie.”

Karli kyk Maritz agterna. Hulle gaan nou maar eers drie weke vas uit en sy ken hom nog nie naastenby goed genoeg nie, maar hy’s fun en sover kom hulle goed klaar . . .

Flip, maar sy voel buierig vanoggend. Sy kan natuurlik haar vinger op ’n hele spul moontlike oorsake lê, maar sy gaan nie nou staan en dinge probeer uitrafel nie. Sy sien al te lank uit na die naweek in die Oos-Vrystaat om die dag verder te bederf. Eintlik kan sy nie wág om Golden Gate in al sy glorie te gaan verken nie.

Kyk net hoe sukkel Henk en Maritz om Anchen se goed in te laai. Die mans meet en pas, haal Karli se kleiner tas uit om in sy plek een van Anchen se groter tasse in te pak. Mens sal sweer Henk se girlfriend gaan vir ’n bleddie maand vakansie hou! Drie nagte en vier dae, dís hoe lank sy en Maritz en Henk en Anchen weg sal wees. Dis vandag Donderdag, Maartmaand en Menseregtedag. Hulle kom Sondag terug. Henk het vroegtydig Vrydag se hofsake geskuif, Maritz is sy eie baas en Anchen kan blykbaar ook doen wat sy wil. Karli het nie Vrydag klas nie, so alles het mooi uitgewerk.

Die naweek is al lank gelede beplan. Lank voor Henk vir Anchen ontmoet het. Anchen is Henk se latest, een van ’n la-a-ang string meisies. Karli werk gou uit. Sy’s reg, hulle date nou presies ses weke. Dis regtig lank vir Henk, wat klokslag al om die maand van meisie verander. Karli het ses maande lank by Henk geloseer, so sy weet nogal baie van sy gewoontes.

Dit was darem gaaf van Kobie se ouers om haar en Henk vir die langnaweek te nooi. Hulle gaan in die vakansie­rondawels op die ouer mense se plaas in Clarens bly. Eintlik is oom Neels en sy vrou, tannie Martie, maar net baie dankbaar teenoor haar en Henk dat die plek uiteindelik op hulle naam is. Karli het vir Henk gevra om sy invloed te gebruik om iemand in die akteafdeling te kry om die oordrag van die verwaarloosde plaas op oom Neels-hulle se naam te bespoedig – Henk is advokaat by die regsfirma Myburg en Myburg, wat aan hom en sy pa behoort. Maar natuurlik moet Maritz en Anchen nou ook saampiekel.

Oom Neels en tannie Martie is jarelange huisvriende van Karli en haar ouers. Kobie is hulle enigste kind en laatlam, en ook Karli se jarelange vriendin.

Karli kyk op haar horlosie. Ja-nee, Henk se meisie kry weer nie vandag klaar nie. Sy’s regtig nie katterig nie, glad nie, maar soos daai vroumens darem kan tof! Mens sal sweer sy’s ’n celebrity of so iets.

Anchen het ’n goed besoldigde werk as rubriekskrywer vir ’n glam tydskrif. Sy skryf oor haarstyle, grimering, gesig­rome en verjongingskure. Buiten haar salaris word sy ook nog met gratis gesigbehandelings, masserings en allerhande foefies gepamperlang. Gmf, verbeel jou!

Karli snuif liggies. Al word sy ’n plaas se prys betaal, sal sy nie Anchen se rubriek lees nie. Sy’t net een keer een van die tydskrifte in ’n supermark deurgeblaai, net om bietjie na Anchen se artikel te kyk. Sy was bloot nuuskierig oor Henk se nuwe meisie, dis al.

Karli haal ’n opgevoude blaadjie uit haar jeans se sak, vou dit oop en lees weer die artikel oor die Oos-Vrystaat. “In die voetheuwels van die Maluti-gebergtes, net bokant Lesotho en suidoos van Bethlehem, lê die Golden Gate Hoogland . . .”

Sy druk die blaadjie terug in haar cutoff-jeans se sak. Êrens tussen Clarens en QwaQwa se berge is oom Neels en tannie Martie se plaas met die vakansierondawels. Karli het die kaart wat Kobie geteken het om die pad tot by hulle plaas en ruskamp te beduie, vir Henk gegee. Dis nou maar eers vier maande gelede dat oom Neels-hulle Clarens toe getrek het, so nie sy of haar ouers het al kans gehad om te gaan kuier nie. Sy’t by Kobie gehoor van Clarens se enorme vooruitgang die afgelope ses jaar; haar ouers bly immers al jare op Bethlehem.

Dis darem ’n geluk dat Henk die Oos-Vrystaat soos sy handpalm ken. Hy’t haar verseker hy sal die plaas maklik kry. Henk was al ’n paar keer by Golden Gate en in die omgewing, toe hy student was en ook daarna. Hy’t die Titanic Rock in Naaupoort en die Chain Ladder na die bopunt van die Drakensberge geklim. Abseil en roei, hy’t die hele lot gedoen.

Karli loop sit op die blinkswart marmerstrook bo die water­valletjie. Henk en Maritz sukkel steeds om al die goed in die viertrek gelaai te kry. Henk tel een van Anchen se groot tasse op, en Karli kan nie anders as om die sterk spiere in sy rug en bo-arms op te merk nie. Henk is stewig gebou en een van die langste mans wat sy ken. Hy’s amper ’n kop langer as Maritz.

Haar oë luier op Henk. Die wit hemp span oor sy breë skouers en die donker hare is nou effens korter as voorheen. Maar oh boy, het Henk ’n dishy lyf aan hom! Mens bly nie ses maande onder dieselfde dak saam met ’n man sonder om sekere dinge te sien nie. Sy bene is sterk en mooi gevorm, soos ’n naelloper s’n. Ook sy bolyf is gespierd, en sy maag is plat met riffels soos dié van ’n outydse wasgoedplank.

Karli kry hoendervleis en sy vryf oor haar arms. Sy weet nie wat met haar aangaan nie, sy kyk mos nog altyd op ’n kliniese manier na Henk se lyf, al is dit drop-dead gorgeous. Hulle was en is nog altyd bloot vriende – behalwe nou die kere dat hulle soos kat en hond baklei het, destyds toe sy by hom geloseer het.

Karli onthou hulle kennismaking asof dit gister was. Sy was ’n derdejaar-regstudent verlede jaar toe hulle ontmoet het. By ’n kampuspartytjie, nogal. Karli frons. Tot vandag toe weet sy nie wat Henk nou eintlik in die eerste plek daar kom maak het nie. Hy was sonder ’n meisie daar en lankal nie meer ’n student nie. Hy was reeds advokaat en vennoot by sy pa se regsfirma.

Karli se maat vir die aand, André, was ’n medestudent. Sy het heel rustig met ’n glas lemoensap in haar hand by ’n tafeltjie gestaan en geïnteresseerd na die dansende studente gekyk. Die meerderheid kan gerus ’n paar professionele dansklasse by haar en Sonja kom neem, het sy gedink toe Henk onverwags omdraai en haar elmboog stamp. Geel vloeistof het oor haar hand, arm en bloes gespat.

“Ag, sorry!” Henk het haastig ’n hand vol servette gegryp. “Ek’s vreeslik jammer,” het hy herhaal en in haar gesig gekyk, asof hy toestemming vra om haar af te droog.

Karli was sprakeloos. Sexy goudbruin oë onder digte swart wenkbroue het wakker in hare gekyk. Toe het hy haar arm en hand met die servette begin droogmaak. Sy hele gesig, die sterk kakebeen, mooi neus en mond – sjoe, sy’t gedink hy moet ’n model of ’n ding wees.

Maar dit was juis Henk se looks en sjarme wat haar in ’n oogwink op haar hoede geplaas het. Sy het nie vergeet hoe die aantreklikste ou in haar verlede – ’n rugbyspeler vir die eerste span en hoofseun in haar skool met wie sy in haar matriekjaar gekys was – haar met ’n blondine met ’n swak reputasie verneuk het nie. Hoe sê die Engelse spreekwoord nou weer? Once bitten, twice shy?

Karli het misnoeg na die geel vlekke op haar duur wit bloes gekyk, die servette by Henk gevat en probeer red wat sy kon.

“Ag, dis net ’n ou ongelukkie, dit kan enigiemand oorkom,” het sy die hele gedoente met ’n glimlag probeer afmaak, toe haar amper leë glas op die tafel neergesit en haastig omgedraai. Sy moet so gou moontlik wegkom van hierdie charmer af.

Henk het blitsig voor haar kom staan. “Jy’s boosaardig kwaad vir my. Dis waarom jy weghardloop. Of wil jy stry?”

In daardie stadium het haar bemorste bloes glad nie meer saak gemaak nie. Dit was eintlik adrenalien wat gepomp het, die veg-of-vlugreaksie van iemand wat geweet het sy gaan haar vlerke skroei met hierdie ou.

Sy’t probeer om nie direk na Henk te kyk nie. “Nou waarom sal ek kwaad wees? Dis tog net ’n bloes.”

“Laat ek ten minste vir jou ’n ander sappie koop. Asseblief? Om te vergoed . . . vir jou te wys hoe jammer ek is.” Henk het mooi gevra. Sy oë het oor haar bolyf gegly terwyl hy gepraat het.

Karli het haar nek gerek, op haar tone gestaan en gesien André staan styf teenaan ’n skamel geklede meisie. Nes ’n koeksister ineengevleg met die girl. Nee kyk, ’n muurblommetjie wou sy beslis nie wees nie. Boonop het sy saam met André gery, so hoe kom sy terug by die huis? Sy sal nou maar ’n rukkie met die man móét gesels.

Alles omtrent Henk, sy manier van praat en kleredrag, het duidelik uitgespel dat hy lankal nie meer ’n student is nie. Wat soek hy hier? Tussen jollende studente en oorverdowende musiek? Ag, natuurlik, hoe dan anders? Sy date moet ’n student wees.

“Wat gaan jou meisie sê as jy vir my koeldrank koop?” wou sy weet.

Henk het sy hande gelig. “Ek’s alleen. Regtig. Ek’s nie op die oomblik in ’n verhouding nie.”

No way! Die ou is te juicy om nie ’n meisie te hê nie. Dalk lieg hy? “Wag jou vrou by die huis?” Sy het geglimlag asof sy grap, maar sy was doodernstig.

Henk het droogweg gelag. “Nee, dankie tog. Ek pleit onskuldig. Ek was nog nooit verloof of getroud nie.” Hy’t haar ernstig en vol in die oë gekyk. “Jy kan my glo.” Toe sy hand uitgesteek. “Henk Myburg.”

“Karli Wilken.” Sy handdruk was nét ferm genoeg om nie seer te maak nie. Intuïtief het sy geweet die ou is eerlik.

Sy het haar oë oor Henk se sterk nek en breë skouers laat gly en gevra: “Speel jy rugby?”

“Ek hét gespeel, maar ek speel lankal nie meer nie. Ek’s hopeloos te besig. Al rugby wat ek deesdae kyk, is wanneer ek op Ellispark of Loftus sit. En natuurlik op TV.”

Karli het van sy spontaneïteit gehou en effens ontspan. “Ek kyk ook rugby, dis nou wanneer ek kan. My broer is ’n rugbyspeler, en . . .” Sy het geesdriftig verder vertel.

Karli kon duidelik sien Henk was verbaas oor haar rugbykennis. Sy’t toe nie ’n ander lemoensap gekry nie. Henk het haar genooi vir Wimpy-koffie en ’n muffin en haar toe heelwat later eers teruggeneem woonstel toe.

Sjoe, sy onthou nog hoe deurmekaar die sitkamer was. Die stoele was vol klere soos sy en haar woonstelmaats aangepas en uitgetrek het. Henk het om hom rondgekyk, niks gesê nie. Sy oë het tot ruste gekom op ’n sexy bra en deurtrekkertjie en Karli het gevoel hoe haar wange aan die brand slaan. Sy’t dit gegryp, agter haar rug weggesteek en gesien hoe Henk ’n laggie probeer insluk. Dekselse mansmens!

Een van Karli se woonstelmaats het teruggekom en Henk het haastig gegroet. Die volgende oggend het hy haar gebel. “Het jy lus om vanaand saam met my te gaan eet?”

“Ek moet swot. Miskien liewer . . .” Sy wou hom afskud met ’n belofte van ’n ander aand, maar toe besluit sy een keer sal seker nie skade doen nie. “Oukei, maar net as jy beloof om my nie té laat terug te bring nie.”

Henk het woord gehou, haar vroeg teruggeneem. “Dit moet moeilik wees om saam met ’n klomp meisies ’n woonstel te deel,” het hy opgemerk voor Karli uit sy motor geklim het.

“Ag wat, ek’s fine. Mens raak anyway mettertyd alles gewoond. As die lawaai te erg raak, gaan swot ek in die bib,” het sy sonder bybedoelings gesê.

Twee weke later het Henk aangebied dat sy by hom intrek. Karli het ’n hele week daaroor nagedink. Sy’t net vir ’n oomblik oorweeg om haar ma en pa se mening te vra, maar vinnig daarteen besluit. Haar ouers het eers later gehoor.

“Alleenlik as ek huur betaal,” het sy gesê. “Dieselfde bedrag wat ek op die oomblik vir my deel van die woonstelhuur betaal. Dis nie baie nie, maar dis al wat ek en my ouers kan bekostig.”

Henk het geglimlag. “Nee, maar dan is dit reg so. Dis my eiendom, daar’s geen verband op die huis nie. So jy kan intrek wanneer jy wil. Die plek is groot, ons sal beslis nie in mekaar se hare wees nie.”

Die eerste maand ná Karli ingetrek het, was sy Henk se enigste vriendin en metgesel. Sy is saam met hom na ’n dinee, en nog ’n tedoe van Myburg en Myburg. Hulle het saam shopping gedoen, gaan fliek en sommer pizzas bestel en voor die TV geëet. Alles tussen haar en Henk was hunky-dory, totdat een van haar mansvriende kom koffie drink het en Henk die volgende aand ’n meisie huis toe gebring het. En twee weke later ’n ander meisie, en kort daarna nog een en nog een . . .

’n Lig het vir haar opgegaan en sy was nogal geskok. Henk is ’n player! Hy’s so wragtig ’n vrouejagter! Nie een van Henk se verhoudings het ooit langer as twee tot drie weke gehou nie. Sy’t Henk teen daai tyd goed uitgefigure gehad. Hy raak nie emosioneel betrokke by die meisies nie. Hy stel glad nie belang in permanente verhoudings nie.

Sy en Henk het begin vassit, soms oor die geringste dinge­tjie. Wanneer sy en ’n mansvriend in die woonkamer sit en fliek het, het Henk gekla die TV is te hard. Hy’t so fout gesoek, sy’t nie meer geweet waarheen nie. Dis nie asof sy so vreeslik gekuier het nie! Dit neem flippen baie tyd in beslag om regsvakke te swot. Sy en haar vriende het later maar liewer op die kampus koffie gedrink. Gmf, asof sý meisies engeltjies is!

Een van Henk se meisies het in Karli se kamer kom snoop en haar dansuitrustings aangepas en laat rondlê, toe gaan kla sy by hom. Hy was heeltemal onsimpatiek teenoor haar.

“Hou jou kamerdeur in die vervolg gesluit,” het hy gesê terwyl hy haar vas in die oë gekyk het.

“Moet ek nou in ’n bleddie tronk bly oor jy nie weet hoe om ordentlike girlfriends te kies nie?”

Henk het nie ’n oog geknip nie. “Kyk jy maar liewer na jou boyfriends. Hulle is almal nat agter die ore, en tussen die ore het hulle ook nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.”

Dan was daar ook nog die bakleiery oor Henk wat nie spaarsamig is nie. Sy háát vermorsing van enige aard, terwyl hy met die spreekwoordelike goue lepel in sy mond gebore is. Daar was ’n hele spul goed wat sy as vermorsing gesien het en waaroor sy en Henk baklei het, maar die melk was die strooitjie wat die kameel se rug gebreek het.

Hy’t nie saans die melk in die yskas teruggesit nie en die volgende oggend moes sy dan aaklige poeiermelk drink omdat die melk suur was. Sy’t hom telkemale daaroor aangevat, maar sy kon sweer hy’t dit later aspris uit spite buite gelos.

Een oggend was Henk regtig nasty met haar. “Hel, Karli, as ek geweet het jy’s nie net ’n mooi gesiggie nie maar ook so ’n dekselse geitjie, het ek jou nooit genooi om hier te kom bly nie.”

Sy’t gevoel hoe haar hart soos ’n klip in haar maag val en haar onderlip bewe, toe draai sy liewer vinnig om en snip oor haar skouer: “Moenie worry nie, ek het anyway lankal besluit ek trek uit.”

Sy’t dieselfde dag haar details met ’n versoek om blyplek op ’n stuk papier neergepen en dit op die universiteit se kennisgewingbord opgesit, maar vir lank geen reaksie gekry nie. Sy’t Henk ’n hele week lank botweg geïgnoreer, selfs toe hy haar probeer vaskeer het en gevra het hulle moet vrede maak.

Die volgende week was Henk vir vier dae by ’n simposium en sy kon in vrede doen net wat sy wou. Henk het die oggend teruggekom en dieselfde aand was die vet weer in die vuur.

Henk het kasdeure oop- en toegemaak en die yskasdeur hard toegeslaan terwyl sy vir hom staan en kyk het.

“Hoekom is hier nie kos in die huis nie?” Hy’t beskuldigend na haar gekyk.

“Ek hét gaan shop vir groceries, maar alles is al weer op,” het sy gesê en gedink aan Henk se meisie wat eet asof sy betaal word en tog so maer bly.

Henk se goudbruin oë het kil in hare gekyk. “Dit moet stop, Karli. Jy moet ophou om jou mansvriende op my . . . en jou onkostes te onthaal.” Daai huiwering het vir haar alles gesê, hy’t haar soos ’n parasiet laat voel.

Hoe durf hy! Dis sý skuld dat sy die afgelope week meestal van brood moes leef. “Henk Myburg, as jy jou deel van die budget vir my inbetaal het, kon ek ál die kos op my lysie in die trollie gelaai het,” het sy teruggekap.

Hy’t haar ’n paar tellings stomgeslaan aangekyk. “Maar die geld ís inbetaal. Ek het my sekretaresse . . .” Hy’t ’n hand deur sy hare getrek terwyl sy net stil en seergemaak na hom staan en kyk het. “Magtig, ek’s jammer . . . Ek dink Woolies is nog oop. Kom jy saam?”

Suné, sy meisie in daai stadium, het deur die oopplankombuis gestap gekom en Karli het haar kop geskud en omgedraai.

’n Week ná die voorval was Suné weg en ’n week daarna het Anchen sak en pak by Henk ingetrek. Gelukkig hoor Karli toe van ’n student wat iemand soek om haar eenmanwoonstel se kontrak oor te neem. Dankie tóg, want toe kon sy uittrek en van Henk en Anchen ontslae wees.

Karli se oë dwaal na Henk se dubbelverdiepinghuis. In haar gedagtes noem sy dit die “glashuis”, oor die voor- en sykante geheel en al uit donker getinte ruitpanele bestaan. Saans, wanneer die kandelabers brand, kan ’n mens die swierige trap en kosbare oorspronklike skilderye van buite af sien.

Karli hoor hoe Henk liggies swets en kyk oprit toe. Sy spring orent toe hy ’n hand sywaarts hou en met die ander in sy broeksak grawe.

Maritz glimlag en sit ’n arm om haar lyf. “Hallo, sweetness.”

Karli draai haar uit Maritz se arm toe sy bloed sien. “Hemel, Henk, wat het jy aangevang?”

“Dis niks,” maak hy dit af en skud ’n tissue se voue uit.

“Wag, laat ek sien voor jy toemaak. Moet ek ’n pleister loop haal?”

Hy draai die plek toe. “Nee, los dit. Dis net ’n skrapie. Die sakdoek moet net keer dat ek nie bloed op die goed kry nie.”

Sy glo hom nie, maar dis soos Henk is. Sy hande is nie sag soos Maritz s’n nie. Hy mag dalk ’n advokaat wees, maar hy hou van goed binne en buite die huis fix as hy die kans kry.

Dit lyk darem asof die twee mans vordering maak. Henk druk die inkopiesakke wat Maritz aangee, in openinge tussen die tasse in.

Karli gaan sit weer, draai dan haar kop na die panele van gerookte glas. Sy frons. Vier ruim slaapkamers, elkeen met ’n en suite-badkamer, en ’n hele spul ander vertrekke. Soos Henk gesê het, is dit regtig ’n huis waarin ’n mens kan verdwaal. Maar Anchen het haar lewe die week wat sy dit hier moes uithou voor sy in haar eie plekkie kon intrek, ondraaglik gemaak. Anchen is die ene sweetness voor Henk, maar as hy sy rug draai, wys sy haar katnaels.

Ná Anchen se vragte klere en bokse goed die oggend afgelaai is, het sy dieselfde middag aan Karli se oop kamerdeur kom klop en ongenooid ingestap.

“Hallo. Ek het vir Henk gesê dis tyd dat ek en jy ’n heart-to-heart het, so ’n bietjie chat.” Sy’t die deur toegemaak, op ’n stoel gaan sit en na ’n ander een beduie. “Kom sit. How-ever, wat ek vir jou te sê het, gaan nie lank vat nie.”

Karli het op haar bed gaan sit. “Waaroor wil jy nou eintlik gesels?”

Anchen het haar dungeplukte wenkbroue gelig. “Oor jou en Henk, natuurlik. Daar’s ’n paar dinge hier rond wat nou gaan change.”

Karli het haar grootogig van onskuld aangekyk, asof sy nie geweet het Anchen is jaloers op haar en Henk se vriendskap nie. Hoe sal Anchen ook nou weet hulle is deesdae meer vyande as vriende?

Tong in die kies het sy gevra: “Wát van my en Henk?”

“Julle vriendskap is oor. Finish en klaar, verstaan jy?”

Voorbarige vroumens! “Dis vir Henk om ons vriendskap te beëindig.”

“Maar hy kan dit nie regkry nie, because you’ve got a hold on him. Ek weet presies wat jou game is.”

Karli was dronkgeslaan én nuuskierig. “Waarvan práát jy?”

“Een van my girlfriends werk by Myburg en Myburg. Sy’t my ingelig gehou omtrent jou speletjies. Jy’s die rede hoekom Henk se vorige relationships nie gehou het nie.”

“Ag, asseblief! Jou kastige vriendin het omtrént ’n verbeelding.”

Anchen se lippe het dunnetjies getrek. “Jy maak nie alleen ’n fool van jouself nie, nee, jy sleep Henk ook in.”

Karli was bloot nuuskierig. “Hóé maak ek ’n gek van myself en Henk?”

“Rumour has it dat jy op hom verlief is, en Henk se kollegas dink hy’s ’n softy wat jou nie afgeskud kry nie.”

Karli doen haar regstudies by Tukkies, maar sy werk ook Dinsdag- en Donderdagmiddae by Myburg en Myburg. Vakansies ook, daarom het sy blitsvinnig gereageer.

“Jy praat twak, man. Jy ken duidelik nie die set-up by Myburg en Myburg nie. Daar werk ’n hele spul regsgeleerdes in daai gebou, mense wat in verskillende rigtings spesialiseer. Om nie eers te praat van die hordes kantoorpersoneel en skoonmakers nie. Die paar gegradueerdes wat hulle pupilskap daar doen, ken jou van g’n kant af nie, en ek sou verbaas wees as enige van die ander mense jou ken. Henk se kollegas is net so besig soos hy, hulle het nie tyd vir kinderagtige skinderstories nie.” Sy het opgespring en die deur oopgemaak. “Ek moet swot, ek kan nie sit en spinnerakke weef nie.”

Anchen was traag om te loop. “Our girly talk better stay between you and me. Henk hoef nie te weet waaroor ons gechat het nie. Tensy jy natuurlik moeilikheid wil maak.”

“Moenie worry nie, ek skinder nie en ek weet van beter as om met jou bogstories na Henk te hardloop,” het Karli gesê en die deur agter Anchen toegemaak.

Karli is dors. Sy kom orent, stap verby die twee mans die huis binne en loop kombuis toe. Sy kry ’n glas, tap dit vol gesuiwerde water by die groentewasbakkie en drink die helfte. Sy lig haar kop en luister of sy Anchen iewers bo kan hoor rondloop. Niks, dis doodstil.

Sy kyk deur die venster. ’n Voëltjie spring van tak tot tak in die groen boom. Sy kan nie wag om in die ongerepte natuur by Golden Gate te wees nie. Sy’s meestal bedags in geboue vasgekeer, en dít terwyl sy so lief is vir die buitelewe. Dis hoekom sy eers haar B-graad in omgewingsbewaring by Wits gedoen het voor sy met haar LLB by Tukkies begin het. Sy sien uit daarna om in omgewingsake te spesialiseer.

Dit kos derduisende rande om regte te swot, maar met die geld wat sy by Myburg en Myburg verdien, verlig sy die geldlas van haar ouers so ’n bietjie deurdat sy haar persoonlike goed en ’n paar boeke kan aanskaf. Hoewel, sy is nou finansieel slegter daaraan toe omdat haar woonstelhuur meer is as wat sy by Henk betaal het.

Henk se pa het haar een aand by ’n byeenkoms wat sy saam met Henk bygewoon het, gevra of sy dit sal oorweeg om deeltyds by hulle te werk. Asof sy nee sou sê om ondervinding op te doen by een van die mees vooraanstaande regsfirmas in die land. Sy’t die geleentheid met albei hande aangegryp. Sommer al die Maandag by mevrou Jenkins gaan aanmeld en die volgende dag begin werk.

’n Motordeur word toegeslaan en Karli drink gou die res van haar water, sit die glas in die wasbak en stap buitentoe. Daar kyk Henk nou op sy horlosie, duidelik haastig noudat amper alles ingelaai is. Maritz kom verby haar gestap, knipoog vir haar en verdwyn binnetoe. Hy wil seker ’n draai gaan loop voor hulle ry.

Karli stap doelgerig na Henk toe en vra: “Is Anchen nou klaar?”

Henk kyk nie na haar nie. “Sy’s amper klaar. Sy’t nog ’n paar goedjies om in te pak.”

Nóg goedjies! Vrek, daar’s nie plek vir ’n muis daar agter nie. “Ons het tog ooreengekom om vroeg vanoggend te ry. Kyk net hoe laat is dit al. Ag nee wat, Henk. Dalk moet jy haar so ’n bietjie gaan aanjaag?”

Henk frons vir haar. “Chill ’n slaggie en hou op stres.”

Karli bly vererg staan. “Wie sê ek stres?”

Henk se kakebeen verstyf en skielik wonder sy of Anchen oukei is. “Voel sy nie lekker nie? Is sy siek, of so iets?”

“Ag hel, Karli, moenie nou gaan staan en spoke opjaag nie. As Anchen iets makeer, sou ek jou gesê het. Waarom gaan jy nie liewer binnetoe en loop gesels met haar nie? Sy wil baie graag vriende met jou wees, maar jy maak dit deksels moeilik vir haar.”

Amper snork Karli hardop. Sy gee Henk se rug ’n vuil kyk voor sy wegdraai. Dis so verdomp onregverdig! Hoekom moet sý die spit afbyt as dit Anchen is wat die moeilikheidmaker is? Waarom is Henk in elk geval so opgetense? Sy sál nie binnetoe gaan en skynheilig wees nie. Wie weet anyway hoe lank hy en Anchen ’n item gaan wees? Een van die dae is hy moeg vir haar, soos vir die ander girls voor haar, en dan het hy weer ’n nuwe meisie.

Sy stap liewer uit die oog om die huis swembad toe, gaan staar dan ingedagte in die kristalhelder water. Kort nadat sy in haar nuwe plekkie ingetrek het, het Henk kom koffie drink. Hy’t gevra hulle moet altyd probeer om ten minste vriende te bly. Sy’t geknik, maar sy weet darem nie. Sy hou nie van die vibes wat by tye tussen haar en Henk is nie. Maar gelukkig weet sy darem haar hart is agter slot en grendel, waar Henk dit nie kan bykom nie. Sy sal nooit as te nimmer met ’n player deurmekaar raak nie!

Sy hou van Henk, hy’s inherent ’n goeie mens en hy verneuk nooit een meisie met ’n ander nie. Hy koop vir ’n meisie blomme en parfuum en klere, so wanneer hy hulle afsê, kan hulle nie voorgee hy’t hulle misbruik of mislei nie. Hulle lag nou nie juis as Henk hulle uitskop nie, maar daar’s geen hard feelings tussen hom en sy vorige girls nie. Sy glo Henk laat die meisies weet waar hulle met hom staan, want hy’s steeds vriende met ’n hele paar van hulle. Sy’t al gehoor wanneer Henk met een van hulle oor die foon gesels.

Karli kyk om haar na die veelkleurige blomme en die groen gras met jakarandablomme wat soos ’n pers kombers daaroor gestrooi lê. Dis half tropies, en soveel groener hier in Greenstone, die nuwe uitbreiding anderkant Boksburg en Kempton. Sjoe, dis al die derde week in Maart, en steeds baie warm. Hulle gaan vir seker uitbak daar in Golden Gate tussen die sandsteenkranse, maar gelukkig het Henk se viertrek lugverkoeling.

Sy’t ses jaar gelede saam met haar ouers en broer en suster daar gekampeer, so sy weet dis omtrent drie-en-’n-half tot vier uur se ry tot by Clarens. Hang natuurlik ook af van hoeveel kere hulle gaan stilhou op pad soontoe.

Karli kyk op haar horlosie. Kwart oor tien! Sy wil hê hulle moet nog vandag voor dit donker word Clarens gaan verken. Kobie en haar mansvriend gaan die laaste tyd gereeld by die ruskamp uitspan, en sy sê ’n dag is heeltemal te kort om by al die winkeltjies in te gaan en al die kunsgalerye te besoek.

Karli kom om die hoek teruggestap en sien Henk is alleen by die kar. Anchen en Maritz is nêrens te siene nie. Karli vang Henk se goudbruin kykers op haar. Daar’s ’n bekende uitdrukking in sy oë en sy voel weer die aantrekking wat soos ’n styfgespande snaar tussen hulle tril. Sy kyk asof gehipnotiseer terug en moet dan gou wegdraai toe sy voel hoe iets soos begeerte en verlange haar lyf en hart in ’n warm greep vasvat.

Sy’s flippen besig om haar varkies te verloor! Sy sal mos nóóit op dáárdie manier in Henk belangstel nie. Hy’t in elk geval van die eerste oomblik af geweet waar hy met haar staan. Sy’t hom sommer vroegtydig op sy plek gesit die eerste dag toe sy by hom ingetrek het.

Henk het die aand langs haar op ’n bank kom sit en haar hand gevat, toe met sy ander hand die hare wat losgekom het agter haar ore ingedruk. Sy oë het haar gesig gefynkam en dit was nogal lekker om so heerlik styf teen hom te sit. Skielik het sy besef sy is nou alleen saam met hom in sy huis en dit het haar ongemaklik gemaak.

Sy’t haar hand uit syne getrek, opgestaan en gesê: “Ek glo nie daarin om ’n verhouding met ’n vriend te hê nie. Dit werk nooit uit nie, en ek wil nie jou vriendskap verloor nie.”

Henk het dit nogal goed opgevat. Hy’t glimlaggend geknik en orent gekom. “Jy’s seker pootuit van die trekkery. Gaan maak reg, dan gaan eet ons by ’n restaurant.”

Karli kyk Henk agterna toe hy binnetoe verdwyn. Ook maar goed sy’t hom van die begin af op ’n afstand gehou. Henk kan baie nice en charming wees as hy wil. ’n Paar keer die afgelope tyd wanneer sy en Henk bymekaar was, het die gevaarligte kwaai vir haar geflikker. Sy kan dit nie verklaar nie! Dis soos ’n elektriese lading wat styf tussen hulle span wanneer hulle in dieselfde vertrek is.

Sy’t nou eenmaal aan haarself beloof dat sy nooit met ’n man intiem sal wees voor sy getroud is nie. Dit beteken nie sy is koud nie. Glad nie! Sy’s ’n warmbloedige meisie wat maar net weet waar om die streep te trek, dis al. Kyk net wat het met haar ouer suster gebeur. Surina sit met ’n baba sonder ’n pa! Karli sal haar ma se gekerm oor die skande waarin Surina hulle familie gedompel het nooit vergeet nie.

Maritz kom sit ’n arm om Karli se lyf. “Daai Anchen kom so wragtig nie vandag uit daai huis nie. Dit lyk nie vir my ons gaan voor middag wegkom nie. Ek begin nou regtig heluit kwaad word vir die vroumens.”

Hy trek Karli saam met hom na ’n bankie toe en hulle gaan sit. Hy steek ’n hand uit, draai haar gesig na hom toe, laat sak sy kop en vra: “Hoe lyk dit met ’n soentjie?”

Karli is nou in ’n beter bui, daarom keer sy nie. Maritz is aantreklik, glad nie ’n slegte ou nie en hy verdien sekerlik ’n soentjie ná sy netnou so goor met hom was.

Sluimerliefde

Подняться наверх