Читать книгу Sluimerliefde - Susan Pienaar - Страница 4

2

Оглавление

“Haai, lovebirds. Henk sê julle wag nog net vir my.”

Karli trek gou haar kop weg, maak haar los uit Maritz se arms en kyk voordeur toe.

Anchen se hemelhoë spykerhaksandale klik-klak op die trappe. Henk se arm is om haar middel en in sy ander hand dra hy ’n ekstragroot smuktas.

Maritz vat Karli se hand en hulle stap nader. “Hallo . . .” Karli se woorde stol in haar keel en langs haar verslap Maritz se hand merkbaar om hare.

Oh, my soul! Anchen dra skintight leggings en ’n sexy top, maar dis nie dít wat Karli se mond laat oopval nie. Anchen se twee bystekies het verander in ekstragroot bors­te! Sy is duidelik baie trots op die twee nuwe toevoegings, want sy dra ’n lae hals wat die boonste rondings mooi vertoon. Eintlik val sy half uit die stywe toppie.

Karli het Anchen ’n hele ruk nie gesien nie, so sy’t skynbaar genoeg tyd gehad om die operasie te laat doen. Sy wil nie naar wees nie, maar genade! Die groot boobs pas glad nie by die vroumens se stokfiguur nie. Iets aan Anchen se gesig pla Karli, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Sou dit die baie makeup wees wat haar gesig so effe rond en vol laat lyk?

Wat dink Henk van Anchen se groot borsmaat? Karli kyk na hom, maar hy’s besig om Anchen se smuktas in te laai en sy kan nie sy gesig sien nie. Nie een van Henk se vorige meisies het groot borste gehad nie. Snaaks, sy’t nie gedink Henk sal van kosmeties vergrote borste hou nie. Wys jou net, sy’t gedink sy ken hom teen hierdie tyd.

Langs Karli kom Maritz uit sy koma. Hy steek ’n hand na Anchen uit. “Hallo.” Hy skraap sy keel en sluk droog voor hy Karli se hand uiteindelik los. “Nee wat, ons mind nie, dit was worth it om te wag. Jy lyk great.” Maritz se oë bly vasgenael op Anchen se boobs.

Karli is lus en klap hom. Idioot . . . huigelaar! Asof hy nie nét so gekerm het omdat Anchen hulle laat wag het nie. Wat ís dit met mans en groot borste! Maar dan onthou sy skielik: Maritz het nog nie haar borste gesien of regtig aan hulle gevat nie. Hy voel dikwels oor haar rokke of toppies aan hulle, maar dis al wat sy hom toelaat. Hy’s natuurlik uitgehonger . . .

“Ag, thanks, Maritz, jy’s ’n darling. Dis so swéét van jou.” Anchen glimlag vir Maritz en fladder haar vals wimperverlengings soos twee skoenlappers op ’n malle vlug.

Karli ken die nuwe tegniek waar eksperts drie of meer vals hare aan elkeen van jou eie wimpers vasbrand sodat dit soos twee grasbesems reguit staan. Dis vrek duur en hou maar omtrent ’n maand tot ses weke. Een van haar vriendinne vertel dit val glo saam met jou eie wimpers uit. Maar waarom kies Anchen toe ligbruin? As sy wou gehad het haar wimpers moet natuurlik lyk, het sy haar lelik misgis. Mens kies tog swart as jou hare ’n diep auburn is.

Henk kom sit sy arm om Anchen se lyf en kyk af na haar. “Is jy nou seker jy’t alles wat jy nodig gaan hê?”

Anchen lyk onseker, lig dan haar besemwimpers op na Henk. “Ek hoop so, maar daar’s seker darem shops daar? Dis nou as ek dalk iets vergeet het.”

Karli is nou so geïrriteerd, sy’s lus en loop iets storm, maar sy hou haar stem egalig.

“Kobie sê daar’s heelwat winkels in Clarens, maar ek dink régtig nie jy gaan van hulle goed hou nie. Ek bedoel nou maar, jy weet, met dié dat jy net aan die duurste en beste gewoond is.”

Henk gee Karli ’n kyk wat sy goed ken, maar sy maak asof sy nie sien nie.

Anchen knik, die innuendo van Karli se woorde ooglopend op haar verkwis. “Ook weer waar, maar mens weet nooit.” Sy praat met ’n sagte, soet stemmetjie.

Henk beduie viertrek toe. “Nou maar klim julle meisies solank in terwyl ek gaan sluit. Maritz, trek solank jou kar in die garage.”

Karli stap agter Henk aan en sien hoe hy vlugvoetig met die trappe boontoe hardloop. “Moenie my toesluit nie,” roep sy terwyl sy gou na die gastebadkamer toe hardloop. Terwyl sy hande droogmaak, kyk sy ingedagte na haar spieëlbeeld. Sy gebruik net getinte vogroom en lipglans. En sonskerm as sy enigsins buite is. Dankie tóg dat haar wimpers dig en pikswart is, soos haar hare.

Karli is voor Henk by die voordeur. Agter haar hoor sy hoe hy die alarm aanskakel. Maritz kom orent waar hy by Anchen se venster ingeleun staan en gesels het. Of het hy na haar borste gekyk? Weet Maritz ooit dis aangehelp? Anchen het voorheen kwaai opgestopte bra’s gedra. Maritz het Anchen nog net een keer vantevore gesien, en toe het sy ’n losserige katoentoppie aangehad. Wanneer sou sy die operasie laat doen het? Karli het nie ’n clue hoe lank dit vat om gesond te word ná so ’n operasie nie.

Karli klim agter Henk se sitplek in terwyl Maritz duidelik trots na sy nuwe BMW stap. Sy haat dit as Maritz neerhalend van haar karretjie praat. En dít net oor haar motor ’n vyf jaar oue model is. Voor Karli kom skuif Henk agter die stuurwiel in en maak sy deur toe. Daar parkeer Maritz nou sy motor langs Anchen se splinternuwe broodblikkie. Henk se silwer Mercedes staan ook binne.

Maritz wou gehad het hulle twee moet op hulle eie ry, maar Henk het geredeneer dat dit geselliger sou wees as hulle almal saam in sy viertrek ry.

“Ons kan lekker gesels en die natuur saam geniet,” het hy gesê.

Maritz het nie teengestribbel nie. Hy’t nie ’n sê gehad nie. Sy en Henk het die naweek beplan en bespreek lank voor hy óf Anchen in die prentjie gekom het.

Maritz kom klim langs Karli in en sit sy hand op haar been. Sy stoot sy hand weg. Sy’s nie lus dat hy aan haar vat ná hy so kwylend na Anchen gestaar het nie. Henk skakel sy voertuig aan, kyk in die truspieël en reverse deur die groot hek. Soos gewoonlik wag hy dat die hek eers toeskuif voor hy wegtrek.

Henk streel oor Anchen se hare en sy glimlag liefies vir hom. Anchen help haar rooibruin haarkleur uit ’n bottel aan, maar dis nie ongewoon nie. Die meeste vrouens doen dit. Anchen se haarwortels het op ’n slag, voor Karli uitgetrek het, net-net uitgegroei, toe sien sy dis muisvaal.

Karli se oë rus eintlik op Henk se hand teen Anchen se hare. Sy naels is kort gevyl en silwerskoon. Hy’t groot hande, maar sy vingers is lank en slankerig, soos dié van ’n kunstenaar. Daar’s fyn swart haartjies op die agterkant van sy hand. A, daar vat Henk nou sy hand weg.

Maritz kyk strak voor hom. Hy’t hom nou natuurlik vir haar gewip. Karli oordink die situasie. Dit gaan nie goed lyk as Henk en Anchen liefie-liefie met mekaar is en Maritz sit dikbek langs haar nie. Sy wil nie die naweek bederf nie. Sy vat Maritz se hand en glimlag vir hom. Hy grinnik darem terug.

Karli keer hul ineengevlegte hande om en bekyk Maritz se hand, vergelyk dit dan met Henk s’n. Sy hande is kleiner as Henk s’n, maar darem steeds baie groter as hare. Maar sy hande doen eenvoudig net mooi níks vir haar nie. Daar’s geen sparks nie, ook nie in sy soene nie. Sy weet dis haar skuld, want Maritz se reaksie op haar kan sy baie duidelik aan sy lyf sien en voel. Maar gelukkig gril sy darem nie te erg vir hom nie, dis net . . . sy haat sy tong in haar mond.

Dis stil binne-in die kar terwyl hulle die paar strate na die sekuriteitshek ry. Henk hou stil, steek sy arm by die venster uit, druk ’n vinger teen die knoppie en die sperpaal lig sodat hulle kan deurry. Hy lig ’n hand, groet die wag en gou is hulle om die sirkel en op pad. Karli kry nou eers regtig ’n vakansiegevoel. Sy kan nie wág om in Clarens en tussen die berge te wees nie. Weg van die al­ewige boeke af.

Lewenslus bruis deur Karli. “Hier kom ons, Golden Gate!” lag sy en sien terloops hoe lagplooitjies om Henk se oë waaier terwyl hy in die truspieël na haar kyk.

Anchen skud haar kop asof ’n lastige vlieg daarom draai, terwyl Maritz vir Karli ogies maak en ’n soen op haar hand plant.

“Right, nou het ons net musiek nodig om ons in die regte mood te kry, of wat sê julle?” Henk wag nie op ’n antwoord nie. “Soek daar vir ons ’n CD en sit dit in,” sê hy vir Anchen.

Anchen blaai deur die leerhouer, stoot ’n CD in die speler en die eerste opgewekte musieknote van ’n bekende liedjie, gesing deur plaaslike sangers, klink op. Karli tik met haar voet die ritme en volg die woorde.

“Maar ’n vrotsige vryer gewees, daai ou. Om darem vier-en-twintig jaar lank te sukkel om iets vir die meisie te sê,” breek Maritz sy stilswye tot nou toe en wikkel sy wenkbroue vir Karli.

Karli weet haar glimlag is afgewater. Alice se ou was rêrig te stadig, maar Maritz is weer hopeloos te vinnig. Dis maar drie weke dat hulle vas uitgaan, en reeds wil hy verder gaan as wat sy ooit sal toelaat.

Anchen beloer haar gesig in die sonskerm se opknap­spieëltjie. Sy kry ’n houertjie en ’n kwassie uit haar handsak en trek skewe lippe terwyl sy aanverf. Karli probeer ongemerk loer. Dalk is dit ’n nuwe soort lipstiffie wat ’n mens se lippe voller laat lyk, al word hulle dun getrek.

“Waar gaan ons nou eintlik bly?” Anchen sit die houer in haar handsak en kyk na Henk.

“Ek het jou mos gesê. Iewers tussen Clarens en Glen Reenen.”

Anchen kry ’n bottel water uit die houer tussen die twee voorste sitplekke, skroef dit oop en druk ’n strooitjie in. “Ek wil weet wáár ons gaan bly. Het die plek ’n naam?”

Henk kyk voor hom. “Kobie se ouers het ’n huis op hulle plaas –”

Anchen val hom in die rede. “Gaan ons in die plaashuis bly?”

Karli kan nie gló wat sy hoor nie. Vergeet Anchen maar net gou, of het Henk haar nie ordentlik ingelig nie? Of het Anchen so min in die naweek belanggestel dat sy eenvoudig nie wóú luister nie?

Henk hou stil by ’n rooi robot, kyk dan na Anchen. “Nee. Kobie se ouers bly in die plaashuis. Ek het jou mos vertel van die kleihutte waarin ons gaan bly.”

“Kleihutte?” Haar mond hang ’n oomblik verdwaas oop. “Ek dog dis rondawels.”

“Dit ís rondawels, gebou met klei.” Henk tik ongeduldig met ’n vinger teen die stuurwiel. “Jy sal daarvan hou. Dit gaan lekker wees, jy sal sien.”

Karli sit betyds ’n hand oor haar mond toe sy wil lag. Flip, en almal maak net grappies oor blondines!

“Hey, Henk, die robot is groen,” waarsku Maritz net toe ’n kar agter hulle toeter blaas.

Anchen sit ’n hand teen Henk se nek, skuif nader en fluister hard genoeg sodat Karli kan hoor. “I can’t wait to be alone with you. Jou tone gaan krul van ons lovemaking.”

Karli kyk by haar venster uit en wens sy’t dit nie gehoor nie. Sy voel skielik onvergenoegd. Anchen weet net watter knoppies om te druk waar dit Henk aangaan. Sy praat altyd mooi en sag met hom, en streel sy ego met elke hofsaak wat hy wen. Henk sal nooit spog nie, maar dis algemeen bekend dat hy eenvoudig nooit ’n saak verloor nie.

Sy byt haar onderlip tussen haar tande vas. Dis duidelik dat Henk glad nie vir Anchen vertel het hoe dit by die ruskamp lyk nie. Hy weet tannie Martie en oom Neels het die uithuuradvertensies stopgesit nog voor die plaas op hulle naam geregistreer was. Ook dat hulle beplan om eers nog heelwat hutte en ’n nuwe ablusieblok te bou voor hulle die hekke vir vakansiegangers oopgooi.

Sy wens Anchen en Maritz het nie saamgekom nie. Henk hou van kampeer en vat dinge gewoonlik soos hy dit kry. Sy weet, hulle het al saam gekampeer. In ’n groep, nie alleen nie. Snaaks, al is Henk die enigste kind van skatryk ouers wat aan net die beste van als gewoond is, dat hy so hou van ru en in die oopte slaap. Hulle besit heelwat moderne vakansiehuise op verskillende plekke in die land, maar Henk is glad nie verwen nie – die teendeel is eerder waar.

In die eerste maand – voor sy en Henk so erg begin ba-klei het – was hy twee keer saam met haar by haar ouers. Kort gelede ook, net voor Anchen ingetrek het, toe Surina en haar baba en hulle broer ook daar was. Henk het sowaar die vyf maande oue kleinding opgetel en gesus terwyl sy ma vir hom bottel gemaak het. Agterna het haar ma gesê Henk kon netsowel in ’n middelklasfamilie grootgeword het.

“Ouers wat hul seun goeie maniere geleer het,” het haar pa bygevoeg.

Maritz druk Karli se hand. “Waaraan dink jy so diep?”

Karli vee sy blonde kuif uit sy oë. “Ag, sommer . . .”

Hy trek haar nader asof sy ’n veertjie is, soen haar dan liggies. Sy luister na die mooi musiek in die agtergrond, maar druk haar gesig teen sy skouer vas toe dit voel asof hy haar lippe wil oopdwing.

’n Sanger sing gevoelvol oor die liefde, maar skielik word die musiek afgesny. Karli skuif terug op haar plek en kyk na die twee voor haar.

Anchen kyk met swak verbloemde wrokkigheid na Henk. “Maar ek like die song.”

“Speel iets anders. Dis te stroperig na my sin,” grom Henk.

“Jy’s glad nie romantic nie, weet jy?”

Karli trek ’n eina-gesig. Oeps! Anchen het haar kloue gewys.

Anchen steek ’n arm uit, streel oor Henk se nek en verander blitsvinnig van deuntjie. “But it’s okay, lovey. Ek hou van jou nes jy is. Mans is mos van Mars en vrouens van Venus. Ek vat jou nes jy is,” spin sy sag.

Karli kyk na Henk. Van wanneer af is die liedjie vir hom te soetsappig? Dis tog sý CD, hulle twee het voorheen baie daarna geluister. Maar Anchen sit die pot lelik mis. Henk is heavenly romanties. In die eerste ruk toe hulle nogal redelik goed klaargekom het, het Henk gereeld ná hulle die vorige aand by een van die werk se tedoes was of gaan uiteet het, die volgende dag vir haar blomme met ’n kaartjie laat aflewer.

Karli frons liggies. Sy het glad nie blomme op die groot ysterhouttafel in Henk se eetkamer gesien nie. Dis gewoonlik waar haar blomme daar in die begin gestaan het, en later van sy ander meisies s’n ook. Kry Anchen ooit blomme? Dis ook nogal vir haar snaaks dat Henk geen liefdeswoordjies teenoor Anchen gebruik nie. Dis sy wat al die lovey-dovey dinge sê en doen.

“Dít kan Karli nie van my sê nie,” verklaar Maritz met ’n tevrede glimlag. “Ek’s ’n romantic soos min, dis nou maar finish en klaar.”

Karli sien duidelik hoe Henk sy kake op mekaar klem. Sy maak groot oë en beduie vir Maritz hy moet stilbly, maar hy ignoreer haar.

“Ek dra time and again vir Karli blomme en perfume en Lindt chocolates aan,” gaan hy voort, leun dan oor na haar en fluister: “Ek sal jou báie meer gee as jy my net sal toelaat.”

Praat hy van die juwele wat sy nie wil hê nie? Of oor bedsake? Sy wil liewer nie weet nie. Sy trek haar hand uit syne en kyk deur haar venster.

Die pad vat hulle bo-oor ander snelweë. Dis mooi, die kronkelende teerpaaie met karre onder hulle. Dis ’n sonnige dag met ’n blou hemel en hulle is op pad na die mooiste plek in die Vrystaat. Vrystaters het Golden Gate die Klein Kaap gedoop, oor die berge en sandsteenkranse. Karli hoop regtig hulle almal kom goed klaar, en veral dat sy en Henk nie gaan baklei nie. Soos dit is, sal hulle meestal in mekaar se geselskap wees.

Maritz was oorgretig om saam te kom. Karli is nou baie bly dat hy hier is, sy wil nie derdemannetjie speel nie. Maritz is haar verskansing teen die twee verliefdes hier voor.

Karli kry haar handsak en haal sjokolade uit. Sy maak die boksie oop, sit vorentoe en hou liewer maar eerste vir Henk.

“Hier, kry vir jou.”

“Nee, lovey, dis nie goed vir jou nie,” sê Anchen toe Henk ’n hand uitsteek. “Dis heavy calories daai.”

Henk vat ’n hand vol. “Thanks, ons is mos met vakansie. Nou wel net vir ’n paar dae, maar nogtans.” Hy tiep die hele spul in sy mond en kou geesdriftig.

Anchen draai haar effens in die sitplek en glimlag katvriendelik vir Karli. “A moment on your lips, forever on your hips, dis wat van chocolates gesê word, so jy moet oppas, een van die dae is jy spekvet.”

Karli gee haar ’n klein glimlaggie. Sy moet maar liewer stilbly, al wens sy soms Anchen wil oor ’n klip val. Sy kan Anchen ’n paar dinge vertel, maar sy durf nie dat sy en Henk ’n uitval oor die vroumens kry nie. Wie weet hoe ernstig hy dié keer is? Anchen is al twee weke verby haar vervaldatum.

Buiten dat dit tans deeltydse werk verskaf, is Karli se hele toekoms verweef met Myburg en Myburg. Sy doen volgende jaar haar pupilskap by hulle, en die jaar daarna begin sy by hulle werk. Sy kan seker elders regkom, maar hoekom sal sy haar rooskleurige skip ter wille van Anchen laat sink?

Henk kyk vraend na Anchen. “Het ek verkeerd verstaan dat julle twee al so ’n bietjie gesels het? Het Karli jou nie vertel van haar hobby nie? Sy doen kontemporêre danse. Eintlik dans sy gereeld soos ’n mal ding op maat van musiek wanneer sy dink niemand sien haar nie. En sy draf elke oggend voor sy stort.”

Shucks, sy’t nie geweet Henk het haar gesien nie. Sy’t dan juis seker gemaak sy’s alleen wanneer sy dans.

Henk kyk in die spieëltjie na haar. “Help jy nog Saterdae vir Sonja met die afrigting?”

Karli knik. “Met dié dat sy nou so ver swanger is, kan ek haar nie drop nie. Ek geniet dit buitendien ook te veel.”

“Ek het al gesien hoe wikkel Karli haar sexy lyfie,” sê Maritz, “maar sy’t my weggejaag, gesê ek pla haar en die ander girls.”

Henk hou ’n bakhand na agter. “Gee daar nog so ’n bie­tjie lekkergoed aan, of het julle als opgeëet?”

Maritz wil nie sjokolade hê nie, so Karli tiep sommer die hele pakkie in Henk se hand uit, druk dan die boksie in ’n leë inkopiesak en sit terug om deur die venster te kyk. Hulle ry steeds op die snelweg en onderdeur een van die gewraakte e-tolstelsels.

Anchen trek aan haar veiligheidsgordel om dit te verslap, draai haar in die sitplek en glimlag vir Maritz. “Ek het vergeet, watse werk doen jy nou weer?”

Karli kyk terloops na Anchen, maar dan kyk sy fyner. Vroeër by Henk se huis was haar aandag meestal op Anchen se borste, maar nou weet sy wat haar gepla het. Anchen se wangbene staan nou meer uit, amper soos twee ronde bolletjies. En haar lippe is voller . . . eintlik plomp. O genade! Anchen het haar wange en lippe met silikoon laat inspuit.

“Ek spekuleer met eiendomme en so aan,” antwoord Maritz.

“O?” Anchen se glimlag verdwyn vinnig. “So, dan verkoop jy huise?” Sy bly net so sit, duidelik lus vir meer gesels.

Karli roep haar gedagtes tot orde. Is Anchen stupid of wat? Dink sy boonop sy gaan met ’n ou eindomsagentjie uit? Iemand wie se enigste doelwit dit is om mense rond te ry en huise te kyk en hulle dan verkoopskontrakte te laat teken? Nee wat, sy gaan die waarheid onder die snobistiese skepsel se neus vryf.

Sy kyk liewer verby Anchen se gesig. “Maritz is ’n eien­domsontwikkelaar. Dis heeltemal anders as om huise te verkoop. Hulle koop eiendomme op, sloop dit en bou dan hengse groot wolkekrabbers en so aan. Hy’s een van drie vennote van ’n moewiese groot maatskappy.”

Henk kyk in sy spieëls, zoem verby ’n klomp karre en verwissel dan van baan. “Ja-nee, dis ’n miljoendollarbesigheid,” gooi hy darem ook sy stuiwer in Karli se beurs.

Anchen steek ’n arm uit en kam met lang naels deur die hare in Henk se nek. “Maar jy’s advokaat én vennoot. Surely maak jy huge amounts . . . millions meer as enigeen van ons.”

Karli kyk na Anchen se hand in Henk se hare en voel hoe wrewel in haar opstoot. So dís Anchen se storie. Sy’s ’n gold-digger. Sy’s so wragtig agter Henk se geld aan!

“Nee wat, ek glo nie ek maak naastenby soveel soos Maritz nie,” sê Henk, en Karli wonder of hy nou aspris so nederig is.

“O?” Dit lyk skielik asof Anchen ’n perdeby ingesluk het, maar dan glimlag sy. “Oh well, geld is ook nie só belangrik nie. Ons het net genoeg nodig om gemaklik van te kan leef.” Sy los Henk se hare, draai terug op haar sitplek en stoot ’n CD in die speler.

Karli kan nie met sekerheid sê nie, maar nou klink dit al vir haar asof Anchen nie weet presies hoe welgesteld Henk en sy ouers werklik is nie. Henk is maar oor die algemeen beskeie wat geld betref. Mense wat geslagte lank aan rykdom gewoond is, praat nooit oor hoeveel hulle werd is nie, dit het Karli lankal agtergekom.

As dit nie was dat sy al heelwat tyd in die Myburgs en hulle vriendekring se geselskap deurgebring het nie, sou sy nooit geweet het hulle werk met gróót geld nie. Nie alleen het hulle een van die grootste en suksesvolste regsfirmas met takke oral in die land nie, maar Henk en sy pa besit ook korporasies deur middel waarvan hulle eiendomme as beleggings aanskaf. Luukse wonings, woonstelgeboue, ver­skeie groot kantoorgeboue, selfs ’n winkelsentrum of twee – die lys is oneindig lank. Dis amper soos om ’n vinger in elke pasteitjie te hê, dink sy en glimlag vir die beeld wat die Engelse uitdrukking by haar oproep. Maritz se geld lyk teen Henk s’n soos ’n pennie teen ’n pond.

Karli wonder of Anchen al ooit kontak met Henk se ouers gehad het. Sy weet vir ’n feit dat tannie Caroline en oom Hendrik reeds die afgelope drie weke in die buiteland is. En voor hulle landuit gaan, is hulle gewoonlik vreeslik besig om reëlings te tref. Henk vry ook te veel in die bondel, so dis nie sy gewoonte om sy meisies aan sy ouers voor te stel nie.

Karli kyk na Maritz. Hy is die teenpool van Henk. Hy’s nogal lief daarvoor om so ’n bietjie te spog. Met dié dat sy ouers iewers in die Kaap bly, het sy hulle nog nie ontmoet nie. Hy praat nooit oor sy familie nie, maar dis oukei. Dis nie asof sy belangstel om dinge omtrent hulle te weet nie.

Skielik sit Karli regopper. Anchen het gesê: “Óns het net genoeg nodig om gemaklik van te kan leef.” Natuurlik! Anchen wil vir Henk inkatrol! Karli sit terug en voel haar mondhoeke lig. Jy kan probeer, maar jy ken onse Henk sleg as jy dink dit gaan só maklik wees, lag sy in haar mou.

Maritz trek Karli nader, vat haar hand en plant ’n soen op die rugkant. “Wanneer gaan jy my aan jou ouers voorstel?” Hy praat sag en vryf oor haar ringvinger. “Ek kyk al ringe.”

Sy sien Anchen draai die musiek harder en voel verlig dat Henk nie kan hoor nie. “Watse ringe?”

“Sommer enige mooi ringe, verloofringe ook.”

Sy kyk hom stomgeslaan aan. “Nee, o gats, man! Is jy mal? Ek ken jou skaars tien minute. Ons gaan nou maar eers drie weke uit.”

Die ding is, sy wíl Maritz nie beter leer ken nie. Eintlik moet sy haar flippen kop laat lees. Maritz het haar maande lank net nooit met rus gelaat nie. Toe gaan sy maar uiteindelik saam met hom op ’n date. En toe dine en wine hy haar en voor sy tot tien kon tel, het sy ingestem om vas met hom uit te gaan.

Sy drink eenvoudig nooit alkohol nie. Sy hou nie van die smaak nie. Selfs coolers, wat maar baie min alkohol bevat en wat soos koeldrank behoort te smaak, is vir haar die ene medisyne, en die heel eerste slukkie gaan na haar kop toe. Sy kyk na Maritz en wonder of hy dit daardie een spesifieke aand aspris gedoen het. Haar sjampanjeglas was net nooit leeg nie, en later het die dekselse drank soos koeldrank gesmaak. Sy was heerlik ontspanne en totaal onvas op haar voete toe hy haar huis toe gevat het. Sy’t die dag by Myburg en Myburg gewerk en glad nie genoeg vloeistof ingekry nie, so sy was vreeslik dors.

“Sal jy my ná die langnaweek aan jou ouers gaan voorstel?” onderbreek hy nou haar gedagtegang.

Sy dink vinnig. “My ma-hulle gaan oor ’n week vir ’n maand met vakansie. Hulle gaan by my suster in die Kaap bly,” lieg sy.

“Oukei, oor ses weke dan?”

Sy knik. “Maar jy moenie oor ernstige goed soos verloofringe praat nie. My pa sal ’n gasket blaas. My ma-hulle is baie nougeset . . . um, soort van outyds. So hulle sal beslis verwag dat ek redelik lank met ’n ou uitgaan voor ek in die verre toekoms dalk verloof raak.” Daarso, nou lyk dit asof Maritz haar met rus gaan laat.

Hy druk sy gesig in haar nek en sy draai haar kop effens. “Jy’s so sexy.” Hy vang haar oorlel tussen sy tande vas en dit stuur ’n rilling teen haar ruggraat af. Was dit haar verbeelding dat Henk ’n oomblik in sy truspieël na hulle gekyk het?

Karli druk Maritz weg en hy kyk vraend na haar. “Jy kielie my.” Sy skuif terug op haar plek teen die venster. R59 na Vereeniging, sê ’n groen bord. Karli kyk op haar horlosie. Dis skaars vyf-en-dertig minute later en Henk draai in by ’n Enjin-oase. “Vaal Meander” wys die bordjie regs.

Henk hou stil, maak sy gordel los en kyk agtertoe. “As enigiemand iets nodig het, moet julle nou uitklim. Dis ons laaste stop voor Bethlehem. Ons ry verby Heilbron, nie deur die dorp nie.”

Karli bly sit terwyl die ander uitklim. Sy het koeldrank en water by haar voete, so sy sal oukei wees. Sy wag nie lank voor die drie terug is nie. Maritz maak ’n pak skyfies oop en hou vir Karli, maar sy skud haar kop. Sy kry haar bottel water uit die klein koelsakkie by haar voete en drink ’n paar slukkies.

Anchen lag en kyk na Henk. “My layout vir Meimaand gaan ’n wenner wees. I’m so excited!” Sy sit haar blikkie Tab in die houer tussen haar en Henk se sitplekke.

Henk kyk na haar, lig dan sy donker wenkbroue. “Nou hoe dan so? Ek dog elke maand is ’n wenner by daai tydskrif van jou.”

“Dit ís, lovey! Maar hierdie keer het ek myself oortref met die theme. Ek het ’n brainstorm gekry en alles gaan absolutely fabulous wees.”

Karli begin lag, maar sy vang Henk se oë in die spieëltjie op haar en koes gou om haar water terug te sit. Langs haar sit Maritz en kou skyfies asof hy uitgehonger is, maar dis duidelik dat hy luister.

“Is dit klere én makeup?” vra Karli.

Anchen draai haar lyf effens na agter. “Yes, maar die klere is glad nie jou gewone herfskleure nie. Dis in midnight blue en rich copper brown to soft creams, and emerald green to lightest greens. En die eye-shadows is absolutely gorgeous. Dis smokey eyes in cosmic brown, sparkling silver en starry night blue. En die lipsticks is divine! Dis flashy copper and shining cherry and wine red.”

Henk skud sy kop. “Ongelooflik! Jy ken darem jou grimering, om al daai kleure se name sommer so af te rits.”

Anchen glimlag en knik herhaaldelik. “I told you! Ek’s ’n expert op my gebied.” En aan Karli. “Jy sal maar die magazine moet koop as jy ’n paar tips wil vang.” Anchen druk haar Armani-sonbril effens af en kyk oor die raam na Karli. “Jy ís nogal bleek. You should wear lipstick and eyeliner and mascara and blusher, girl! Sal die kleur in jou oë uitbring.”

Maritz vergeet van sy skyfies en Karli gaap Anchen oopmond aan. Nee flip, sy wil g’n soos ’n nar lyk nie!

“Ek like nie om ’n girl met rooi lipstick te soen nie, hulle besmeer my klere,” brom Maritz en bêre die skyfies by sy voete.

Anchen bekyk Karli deur skrefiesoë, kompleet soos ’n kat wat sy prooi bekruip. “Het jy nog nooit van stayfast lipstick gehoor nie? Lees jy nie my rubriek nie?”

O genade! “Ek lees . . . ek weet van stayfast, maar ek sal jou tydskrif gaan koop en liewer al jou tips vir die volgende seisoen daarin lees,” maak Karli ’n einde aan die gesprek en skuif sommer nader aan Maritz, al is sy nie lus om so naby hom te sit nie.

Anchen slurp die laaste van haar Tab deur ’n strooitjie, sit die blikkie by haar voete neer en kondig aan: “Ek gaan nap.” Sy laat sak haar sitplek se leuning, lê agteroor en druk haar sonbril vas oor haar oë.

Henk bestuur in stilte en Maritz kyk by sy venster uit terwyl Karli só teen sy skouer lê dat sy darem kan sien wat buite aangaan. Deneysville, lees ’n bord links voor ’n afdraaipad en hulle hou verby. Ruïnes, diere en windpompe vlieg verby. Hulle ry verby Heilbron se plakkerskamp en dan regs om die dorp.

Karli gaap en sit gou ’n hand voor haar mond. “Skuus, ek’s moeg.”

Henk kyk ’n oomblik in die truspieëltjie na haar. “Het jy Kiewie toe by jou ma-hulle gaan aflaai, soos jy beplan het?”

“Ja, gisteraand. Ek het by hulle geëet en jy weet hoe hulle kan gesels. Ek het laat in die bed gekom.”

“Is hulle oukei?”

Sy lig haar kop effens. “Ja, hulle het gesê ek moet vir jou groete stuur.”

Maritz druk haar kop teen sy skouer vas. “Nou maar maak jou oë toe en probeer ’n rukkie slaap.”

Die min slaap van die afgelope laat aande se swot en gisteraand eis nou sy tol. Sy’t oor die foon vir haar pa gesê sy kom net haar ringnekpapegaai aflaai, sy ry dadelik weer. Maar haar ma het kos gemaak sodat sy saam kon eet.

“Gaan jy en Henk alleen Golden Gate toe?” wou haar ma later weet terwyl hulle in die woonkamer tee gedrink het.

“Nee, Ma. Ek het mos vir Ma gesê ons is nou vier wat saamgaan.”

“O, ja, ek onthou nou,” het haar ma geknik en gevra: “Sien jy Henk darem nog noudat jy uitgetrek het?”

“Eintlik maar min. Ons loop mekaar so af en toe raak wanneer ek by die firma werk, en hy was darem ’n keer of wat daar by my. Ma moet onthou Henk is baie besig, en ek ook.”

Karli frons liggies. Dis kompleet asof haar ma en pa nie wíl hoor dat dinge tussen haar en Henk platonies is nie.

“Ek het ook deesdae ’n vaste ou,” het sy gesê, maar nie haar ma of pa het oor Maritz uitgevra nie.

“Oulike man, dié Henk,” het haar pa gebrom en afgehaal gelyk. “Ek het nogal gehoop daar kom iets van . . . maar nou ja,” het hy gesug.

Karli het opgestaan, Kiewie se kombers oor sy hok loop gooi, haar ouers gegroet en haar ry gekry.

Maar sy wil nie nou aan sulke goed dink nie. Die bande se gesuis op die teer is byna hipnoties, en sy voel hoe sy indommel.

Karli word stadig wakker. Die voertuig het tot stilstand gekom. Waar is hulle?

Maritz plant ’n soen op haar voorkop. “A, my slapende skoonheid is wakker.”

Karli sit regop en kyk verdwaas om haar rond. Hulle is op Bethlehem. Die viertrek staan voor ’n inkopiesentrum geparkeer en links is daar ’n vulstasie.

“Het ek sowaar die hele pad tot hier geslaap?” praat sy met niemand in die besonder nie.

Henk se deur is oop. Hy staan reeds buite en kyk oor sy rugleuning na Karli. “Toemaar, jy en Anchen het niks gemis nie. Hulle werk oral aan die paaie – dit het my later rasend gehad. Ons moes op twee plekke amper twintig minute vir aankomende verkeer staan en wag.”

Karli klim uit en Henk maak die deur toe. Die mans praat van KFC koop en uit gewoonte gaan stap Karli langs Henk. Sy kom dit eers agter toe hy omdraai om te kyk waar Anchen is. Karli voel dadelik afgehaal en vies vir haarself. Sy’t totaal van Anchen en Maritz vergeet.

Maritz kom vat haar hand, maar nie voor Karli die vuil kyk sien wat Anchen na haar kant toe gooi nie.

Maritz kyk na die verligte spyskaart bo teen die muur. “Watter package gaan jy vat?”

“Hm, dit ruik watertandlekker hier binne. Kry sommer vir my dieselfde as wat ons nou die dag geëet het, dankie.”

Karli stap eers kleedkamer toe, was haar hande en loop soek dan plek vir vier tussen die volgepakte tafels. Voor die toonbank staan Henk en Maritz tussen ander mense en wag vir hulle kos. Anchen se kop is agteroor gekantel soos sy na die verligte spyskaart kyk. Sy soek natuurlik iets wat nie vet maak nie.

Daar kom die mans nou aangestap, elkeen met ’n skinkbord vol houers. Anchen hang aan Henk se arm, kompleet asof sy hom iewers tussen die tafels gaan verloor. Karli het groot simpatie met vroue wat klein borste het. As sy Anchen was, sou sy ook die operasie laat doen het, maar flip, sy sou beslis ’n kleiner borsmaat gekies het.

Met die houers op die tafel uitgepak, kom skuif Maritz langs Karli in. Henk kom sit oorkant Karli en Anchen langs hom.

Henk stoot sy aartappel en sous eenkant en trek sy hoender nader. “Wat is ’n wegbreek sonder ’n hoederboudjie?” Hy vat dadelik ’n hap en kou.

“Die spyseniers van KFC moet ’n slag bykom,” mor Anchen. “Koolslaai wat versuip in mayonnaise is nou al regtig afgesaag.” Sy stoot dit eenkant en hou ’n vlerkie op. “Hoeveel vere dink julle is weggesteek onder dié kors?”

Karli kyk ’n paar oomblikke na die vlerkie in Anchen se hand, dan na Henk wat skielik hardop lag.

“Kom nou, Anchen. Soos ek jou ken, gaan jy in elk geval nou daai kors met vere en al afkrap voor jy eet.”

Anchen fladder haar wimpers vir Henk en glimlag. “Jy ken my só goed, lovey.”

Maritz kyk na Anchen. “Maar dis dan juis die kors wat die hoender so vorentoe laat smaak. Of hoe, Karli?”

“Jy’s reg.” Maar Karli slaan liewer die vlerkie oor en vat ’n happie uit ’n boudjie. Sy’s nou so honger, sy meng van die sous by haar kapokaartappels en eet.

Langs Henk is Anchen inderdaad besig om die heerlike kors van ’n hoenderborsie met ’n plastiekmessie af te skil. Niemand gesels nie, almal is ooglopend honger. Karli vang Henk se oë op haar mond. Hy kou nie, hou net ’n stuk hoender asof vergete in mid-air. Wat nou? Sy vee oor haar lippe, gryp ’n servet en sien hy eet verder voor sy wegkyk.

Anchen eet nog ’n paar happies, verskoon haarself en loop kleedkamer toe. Karli het genoeg geëet. Sy stoot haar kartonhouer na die middel van die tafel.

“Julle kan maar eet, ek het nie aan die hoender geraak nie.”

Maritz knik, en Karli sien Henk lê reeds weg aan Anchen se porsies.

Karli stap weer kleedkamer toe. Haar hande is vetterig. Net water en seep sal nou die ding doen.

Binne, met haar rug na Karli gekeer, staan Anchen voor ’n spieël. Karli steek vas en kyk na haar, maar sy’s besig om haar gesig te bestudeer en sien Karli nie raak nie. Duidelik ingedagte, vat sy om die beurt ’n string lang hare weerskante van haar gesig vas en laat gly dit beurtelings tussen haar twee vuiste deur terwyl sy haar kop heen en weer draai.

Karli stap na ’n wasbak, pomp seep in haar hand en druk op die kraan vir water. Anchen is die mees narsistiese vroumens wat sy nog ooit teëgekom het. Sy weet wragtig nie wat Henk in haar sien nie.

Buite wag Maritz vir Karli. Sy hare blink goud in die herfsson en sy hand is warm, nes sy oë wat haar klere letterlik van haar lyf afstroop. Wie sal nie daarvan hou as ’n ou soos Maritz begerig na haar kyk nie? Haar medestudente sê gereeld hulle beny haar. Sy sien ook hoe die meisies Maritz aangaap wanneer hy haar soms by die universiteit kom oplaai.

Karli klim sommer by Maritz se kant in, skuif dan oor sodat hy kan inklim. Henk trek uit die parkeerplek toe die deur toegaan. Dan is hulle op pad na die laaste stop, Clarens.

Sluimerliefde

Подняться наверх