Читать книгу Wag-'n-bietjie-liefde - Susan Pienaar - Страница 3

1

Оглавление

“Jy onthou seker nog my broer Alex?”

Amber klem haar selfoon stywer vas, huiwer dan asof sy eers moet nadink. “Ek onthou hom so vaagweg. Maar wát van hom?”

“Wow! Ek’s só opgewonde. Alex kom huis toe.”

Amber voel hoe haar hart bons. Sy haal ’n slag diep asem. “Vir hoe lank kom jou broer dié keer kuier?”

Mandie sug hardop. “Hoor jy nie wat ek sê nie? ‘Huis toe’ beteken mos Alex kom vir altyd terug.” Daar’s ’n duidelike klikgeluid aan die ander kant, soos dié van ’n blikkie wat oopgemaak word. “Meerdyk! Ek het vergeet die Coke het geval. Dit kook! Ek kry net gou ’n lap.”

Amber knyp haar oë toe. As sy ses weke gelede geweet het Alex kom permanent terug Suid Afrika toe, sou sy mos nóóit vir Kobus kom au pair het nie. Plaas sy liewer by daardie ander gesin gaan werk het, nie by Alex se flippen broer nie! Sy was pas terug uit die Verenigde State waar sy vier jaar lank as au pair gewerk het – eers in Cambridge, Massachusetts, en later in die Boston-omgewing – toe die egpaar met haar ’n onderhoud gevoer het. Hulle wou haar onmiddellik aanstel, maar toe kom vra Kobus dieselfde aand mooi dat sy hom moet kom help omdat sy vorige au pair vier-en-twintig uur kennis gegee het. Amber het vir Kobus gesê sy hét reeds ’n pos, maar toe bel Kobus se ma en vra of sy dit nie maar groot asseblief weer sal oorweeg nie. En vir tannie Sophia kan Amber nou eenmaal niks weier nie.

“Haai, Amber, is jy nog daar?”

“Ja, maar sê my, wanneer verwag julle Alex?”

“Sommer môreoggend al. Is dit nie great nie? Ek gaan hom voor skool op die lughawe haal, dus moet jy weet dis ’n beplanning vir ’n vale hier by ons. My ma-hulle het ’n klompie mense genooi en sy’t gevra ek moet jou bel en seker maak dat jy Saterdag saam met Kobus en die kinders vir die gemeste kalf kom aansit.”

Amber probeer vinnig aan ’n verskoning dink, maar haar brein is skielik traag. Sy praat ingedagte hardop terwyl sy aan ’n geloofwaardige verskoning probeer dink. “So oukei, dis vandag Donderdag . . . en Alex land môreoggend –”

“Meerdyk, vriendin, is jy gerook of wat? Dis môre Vrydag, ja, en die ete is Saterdag.”

“Ag, jou dinges, man. Ek was tot ’n paar minute gelede nog aan’t swot, oukei? Ek glo buitendien nie ek sal Saterdag kan kom nie. Ek moet saam met my ma dorp toe, vir kruideniersware en so aan, en daarna moet ek my wasgoed kom was.”

Mandie sug teatraal. “Los jou wasgoed vir Sondag, en gaan doen môremiddag inkopies. Die winkels is Vrydag­aande tot seweuur oop. My ma-hulle het jou nog net ’n paar keer gesien vandat jy terug is uit Amerika. Los jou nonsens en kom.”

Amber trek ’n gesig. Sy wens haar blindederm bars voor Saterdag . . . Of nee, dit sal darem te erg wees, sy wil nie nou al doodgaan nie. Hy moet dalk net erg genoeg pyn sodat sy dokter toe kan gaan, want ná haar flou verskonings van flussies sal Mandie niks minder ernstig as maaggriep aanvaar nie.

“Weet Kobus dat Alex terugkom?”

“Dis mos obvious dat hy weet. Het hy dan niks gesê nie?”

“Nee, maar dis nie snaaks nie. Kobus werk lang ure en wanneer hy saans van sy rondtes by die kliniek terug is, is ek lankal in my kamer.” Amber het aspris so uitdruklik verduidelik, want Mandie dink sowaar sy en Kobus kan dalkies verlief raak en dan sal hulle skoonsusters wees. Amber hou van Kobus, maar daar’s geen vonk tussen hulle nie. Sy kyk na sy twee kinders en hulle is vriende, dis al.

Nou hoekom is Mandie so lank stil? “Mandie, is jy nog daar?”

“Sorry, ek het gou ’n paar slukke koeldrank gedrink. Moenie vir Kobus verskoning maak net omdat hy ’n vrot vryer is nie.”

Mandie moet ophou met haar stuitigheid. “Luister, ás ek wel die dag besluit dat ek meer as vriendskap vir ’n man voel, gaan dit beslis nie in ses weke gebeur nie. Dit sal my maklik ’n jaar of langer neem om ’n ou deeglik deur te kyk voor ek sal kan besluit of ek die vriendskap verder sal wil voer, of nie.”

Mandie slurp die laaste koeldrank roggelend deur ’n strooitjie, natuurlik om op dié manier vir haar wat Amber is te sê wat sy van haar tirade dink.

“Vriendin, jy gaan nooit ’n man kry as hy so lank vir jou moet wag om te besluit of hy troumateriaal is of nie.” Mandie sug. “Maar kom ons vergeet nou eers van al jou hang-ups. Julle moet Saterdagoggend halftwaalf hier wees sodat almal darem ’n bietjie kan kuier voor ons eet. Ek het klaar met Kobus gepraat, hy weet jy ry saam met hom en die kinders.”

Heerlikheid, sy kan haar darem so vir Mandie vervies. Sy behoort mos teen hierdie tyd te weet sy verpes dit dat iemand namens haar besluite neem.

“Oukei dan tog, ek sal my ma bel en sê ek slaap nie Vrydagaand by die pastorie nie.”

“Sorry, ek sit jou net vir ’n minuut op hold. Ek dink dis Paul wat probeer deurkom.”

Amber draai ’n lok hare om ’n voorvinger en staar onsiende na die rekenaarskerm. Sy is skoon simpel om ná al die jare skrikkerig te wees oor ’n kinderagtige verliefdheid op ’n man wat sy in ’n stuk of ses of sewe jaar nie gesien het nie.

Ook maar goed dat Alex haar nie sal onthou nie. Amber was seker die enigste meisie wat nie probeer het om Alex se aandag te trek wanneer hy en Kobus Vrydae van die universiteit gery het om Mandie by die hoërskool te kom oplaai nie. Om die waarheid te sê, die paar keer dat sy Alex wel van naby gesien het, kon sy skaars haar mond oopmaak. Kobus was vir haar meer toeganklik – dalk omdat hy minder aantreklik as sy broer is – maar selfs hý het haar ses weke gelede nie eens onthou nie.

“Haai, Amber?”

“Ek’s nog hier. Maar sê my, wie kyk na jou graadeen-klas as jy môre so vroeg moet lughawe toe?”

“Dis voordelig dat my boyfriend ook ’n onnie is, en boonop is sy klas langs myne, so Paul sal ’n ogie oor hulle hou. Die skoolhoof weet van ons reëling. Die skool sluit buitendien mos môre; daar word dus nie juis gewerk nie.”

“O gats, ek moenie vergeet om Lindie en Dewan ’n uur vroeër by die kleuterskool te gaan haal nie.” Amber luister nog afgetrokke na Mandie se relaas oor hoe wonderlik Paul is, groet en sit haar selfoon op die lessenaar neer.

Sy frons vir die rekenaarskerm. Sy voel nou so opgeklits oor Mandie se oproep . . . asof sy miere onder haar vel het. Maar sy kan nie dat persoonlike dinge haar swottery kortwiek nie, haar sielkundetaak moet klaar. Sy moet dit môreaand na die universiteit se webtuiste pos. Sy wil nie jare en jare aaneen swot nie; sy moet haar voorgraadse studie so gou moontlik afhandel.

Haar oë glip oor die opskrif wat sy getik het voor Mandie gebel het. ‘Effect of Emotional Issues on Relationships’.

“Yeah, right. Asof ek nie weet watter effek emosionele bagasie op verhoudings het nie,” mor sy en rol ondertoe om haar besonderhede in te tik: Amber Young, student number 301877. En ná ’n oop spasie: ‘Throughout this paper I shall be referring to Erik Erikson’s theory of psychosocial development.’

Amber lees ’n paragraaf in haar boek oor die werkstuk en sug. Sy sukkel om te konsentreer. Dalk moet sy eerder môreoggend ná sy die kinders by die kleuterskool afgelaai het, verder kom werk. Sy stoor haar werk en skakel die rekenaar af.

Moes Mandie haar nou wragtig dié tyd van die aand met die nuus oor Alex bel? Amber sit agteroor en tik met die agterkant van ’n potlood teen haar tande. Sy giggel skielik toe sy onthou hoe Mandie haar troetelrot in hulle graadvier-jaar op laerskool onder haar skoolrok die klaskamer ingesmokkel het. Dit sou seker oukei gewees het as die rot nie op een of ander manier in haar skoolbroekie ingeglip het nie. Mandie het net daar opgevlieg, haar skoolrok voor die klas opgelig en ’n ruk gesukkel om die rot raak te vat.

Mandie is miskien ’n bietjie té baasspelerig en uitgesproke, maar wat sou sy op hoërskool sonder dié vriendin van haar gedoen het? Sý, Amber, wat in graad agt in die mure wou insmelt sodat sy nie die aandag van die skoliere en onnies op haar sou vestig nie . . . Sy was so miserabel en skaam oor haar huislike omstandighede en het in haar onnoselheid gedink almal weet wat in die pastoriehuis aangaan. Mandie met haar sonnige en spontane geaardheid het haar gehelp om uit haar dop te kruip sodat sy weer menswaardig kon voel.

Op laerskool het sy en Mandie gereeld by mekaar gaan speel en oorgeslaap. Maar kort nadat hulle albei hoër­skool toe is, het Amber verskonings begin uitdink oor hoekom Mandie nie by haar in die pastorie kon oornag nie. Amber wou voorkom dat Mandie agterkom die atmosfeer in hulle huis is kil en koud in vergelyking met die Van Edens se idilliese en warm huislike lewe. Gmf, asof sy Mandie kon flous, maar haar vriendin het die ordentlikheid gehad om nooit te laat blyk dat sy weet wat aangaan nie.

Dis nou amper nege jaar later, maar sy sal daardie dag nooit vergeet nie, die dag waarop sy vir die eerste keer agtergekom het wat die werklike rede vir haar ma en pa se aanhoudende bakleiery is.

“Jy moenie eendag met ’n mooi man trou nie,” het haar ma gesê toe sy haar die middag by die hoërskool kom oplaai het.

Amber het haar vlegsel vorentoe gevat en moedeloos tussen die ligbruin hare na denkbeeldige gesplete punte gesoek, want sy wou nie langer haar ma se rooi gehuilde oë sien nie. Dit het haar ontstel soos telkens in die afgelope weke wanneer sy haar ma gehoor huil het. Sy’t al soveel kere op haar onbeholpe manier probeer om haar ma te troos, maar niks het gehelp nie. Sy’t gewens sy weet hoekom haar ma so hartseer is.

“Ag, Mamma, wat is verkeerd met ’n mooi man?” het sy gevra. Sy was verlief op Mandie se aantreklike ouer broer Alex en sy wou nie negatiewe dinge oor ’n mooi ou hoor nie.

Amber het opgekyk toe haar ma snuif en trane afvee. “ ’n Mooi man sal nooit joune alleen wees nie, of hy nou ’n predikant is of nie. Hy gaan elke ander vrou se man ook wees. Glo wat ek vandag vir jou sê: ’n Aantreklike man sal jou hele lewe net opfoeter. Hy gaan jou hart in stukkies breek.”

Amber het fyner opgelet en geluister, en besef haar pa verneuk haar ma met ’n onbekende vrou. Die atmosfeer in hulle huis het drasties en onomkeerbaar verander, en Amber se gemoedstoestand het oornag getuimel. Sy was ’n sensitiewe tiener wat die lewe sterk en emosioneel ervaar het. Sy’t met haar een voet in die kinder- en die ander in die grootmenswêreld gestaan, en geworstel om staande te bly in die traumatiese situasie waarin haar ma haar maande lank bevind het. Sy was só teleurgesteld in haar pa dat sy ’n afkeer in kerk toe gaan ontwikkel het. Hy’t haar egter gedwing om ten minste die oggenddiens­te by te woon. Eers ’n jaar later het sy begin om openlik teen sy gesag te rebelleer.

Amber spring op en stap kombuis toe. Nee wag, sy is darem nou lus vir ’n lekker groot beker koffie. ’n Rukkie later gaan staan sy op die agterstoep en tuur die donker in.

Haar ouers is nooit geskei nie. Haar pa sou voor ’n tugkomitee moes verskyn het en van sy amp onthef word indien sy verhouding aan die lig sou kom, so het hy te kenne gegee, en dan sou hulle almal van ellende ge­krepeer het. Haar pa was soos altyd dominerend en haar ma ondergeskik aan sy gesag. Dit was dus nie vir Amber vreemd dat sy gebly het nie.

Later het daar ’n stilte tussen haar ouers kom lê wat net verbreek is wanneer hulle nie anders kon as om voor gemeentelede met mekaar te praat nie. Dit was aaklig; en daarom het Amber haar al hoe meer emosioneel van haar ouers begin afsluit, stilswyend haar gang gegaan en haar meer as voorheen toegewy aan haar skoolwerk en musiekstudies.

Toe sterf haar pa baie skielik aan ’n hartaanval.

In die hele stryd om selfbehoud het Amber dit reggekry om Alex uit haar gedagtes te kry, veral toe Kobus alleen begin opdaag het om Mandie by die skool te kom haal.

Haar ma se alewige waarskuwings oor aantreklike mans het Amber versigtig vir mooi mans gemaak, maar toe nie versigtig genoeg nie, moes sy later ontdek.

Dis haar eiesinnige geaardheid wat voorkom het dat sy haar ma se waarskuwings tot die letter gevolg het daar aan die stylvolle East Coast tussen al die mense met die ou geld. Sy’s immers nie net landuit om aan haar huislike lewe te ontvlug nie, maar ook om haar vlerke te sprei en die lewe daar anderkant te gaan ontdek en ondersoek. Sy was lankal nie meer die onsekere meisietjie van graad agt nie. En dis waar sy toe haar moses in die aantreklike Spencer teëgekom het. Maar, nee wag, sy gaan nié nou aan hom dink nie.

Amber gaan sit die beker in die wasbak neer, skakel hier en daar ligte af en gaan loer eers by Lindie en Dewan in voor sy vir haar badwater loop intap.

Nogal vreemd dat Kobus juis die afgelope twee weke later as voorheen huis toe kom, maar hy gee wel naweke kwaliteitaandag aan die kinders, en dis tog die belangrikste.

Amber wil eendag in die behandeling van kinders met emosionele- en leerprobleme spesialiseer en daarná haar eie praktyk begin. Sy móét eenvoudig haar eie inkomste genereer. Sy wil tog nooit geldelik van ’n man afhanklik wees nie.

Amber luier nie in die bad nie, en ná sy tande geborsel en room aangesmeer het, klim sy in die bed en skakel die lig af. Môreoggend is dit weer vroeg opstaan om die kinders gereed te kry vir skool.

Amber kyk na Kobus terwyl hulle Saterdagoggend op pad is na die gedoe by sy ouerhuis. Hy dra sy bruin hare kort en sy gesig is glad geskeer. Die nate van sy langbroek is gestryk dat dit soos die snykante van ’n mes lyk. Sies tog, hy gee die arme Mieta opdraande omdat hy so eksieperfeksie oor sy klere is.

Mandie het vertel Kobus was platgeslaan toe sy vrou drie jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is. Vandat Amber by Kobus begin werk het, het hy nog nie ’n meisie huis toe gebring nie, maar wie weet, dalk kuier hy nou saans by iemand.

“Jy sal van Alex hou,” sê Kobus en voeg by: “Hy’s plat op die aarde en maklik om mee oor die weg te kom.”

Amber knik en glimlag net. Sy’t gisteraand geswot toe sy hoor hoe Kobus en Alex oor die foon gesels. Eintlik het Kobus meer gelag as iets anders. Amber draai om en kyk na die kinders waar hulle op die agtersitplek babbel.

“Ek is lus vir Ouma se pannekoek,” sê Dewan.

Kobus skud sy kop. “Ouma kan nie vandag bak nie. Dis oom Alex se dag en Ouma het lekker kos en poeding gemaak.”

“Jippie, oom Alex is by Ouma en Oupa,” sê-lag Lindie en sing: “Alex-Alex-Alex.”

Amber luister hoe Lindie sing en vang haar onderlip tussen haar tande vas. Sy weet nou glad nie hoekom sy Donderdagaand so uitgefreak het nie. Nee wat, regtig, sy voel vanoggend heeltemal oukei oor die idee om Alex weer te sien. A nee a, g’n man kon tog tot dusver ’n blywende indruk op haar maak nie, Alex inkluis.

Kobus kyk vinnig na haar. “Amber, hoe is dit dat ’n mooi meisie soos jy nie ’n ou op sleeptou het nie?” Hy glimlag verskonend. “Mandie het een of ander tyd so iets genoem, nou wonder ek maar net skielik.”

“Ek’s maar pas terug en ek’s hopeloos te besig om ’n ou te kon losslaan.” Feit is, sy het nog altyd geweier om met aantreklike ouens uit te gaan, met een uitsondering: Spencer, die dosent met die wit tande. En in die twee of drie minder aantreklike mans wat haar later in Boston uitgeneem het, kon sy glad nie sin kry nie.

Spencer was ’n aantreklike man met donker krulhare, spitsvondig, goed gemanierd en boonop ’n skerpsinnige sakeman. Hulle het warm gevry, maar hy’t haar nooit probeer dwing om saam met hom bed toe te gaan nadat sy die eerste keer geweier het nie. Vir agt maande kon sy darem gereeld uitgaan en sê sy het wel ’n ou. Boonop kon sy haar ma mos verkeerd bewys: dat ’n aantreklike man nie noodwendig ontrou sal wees nie.

As sy toe maar geweet het hoe verkeerd sy was. Tot haar ontnugtering moes sy ontdek dat Spencer, nes haar pa, voete van klei het. Die arme meisie met ’n boepmagie het haar voor Spencer kom konfronteer. Hy’t die meisie in ’n taxi gesit, teruggekom en ontken dat dit sy kind is.

Toe Amber vir hom gesê het dis verby tussen hulle, het die swaap so wragtig gesê hy verdien ’n tweede kans. Sommige mans is soos klitsgras – jy kry hulle net nie afgeskud nie. Gelukkig het sy ’n beter besoldigde pos gekry en getrek.

Kobus draai by die groot huis in en kyk rond vir parkering. “Magtig, my ma-hulle het omtrent ’n spul mense genooi.”

Toe die deure ontsluit is, klim die kinders holderstebolder uit en hardloop jillend binnetoe om hulle oom Alex te gaan groet. Kobus kom stap saam met Amber voorstoep toe. Dis ’n ouerige huis, deur die jare pragtig in stand gehou.

Mm, haar mond water van die kosgeure wat sy tot hier kan ruik.

Mandie kom uitgestap met Paul op haar hakke, en met die groetery agter die rug, tou hulle aan stoep toe. Binne gekom, begin Mandie vir Amber aan ’n spul wildvreemde mense voorstel.

Sy knik, glimlag en gesels. Sy gaan die helfte se name nie onthou nie, maar dis oukei wat.

Alex drink ’n slukkie wyn terwyl hy die meisie dophou wat saam met Mandie loop. Dit moet Amber Young wees, die vriendin van wie sy suster so baie praat. Toe Mandie gesê het sy is mooi, het hy dié stunning meisie nie verwag nie.

Sy vang die windverwaaide ligbruin hare met albei hande agter haar nek vas, draai na hom toe en laat dit dan los. Hy was nog altyd mal oor lang hare aan ’n vrou. Sy is fyn gebou en van middelmatige lengte, met rondings wat by haar lyfie pas. Sy dra jeans en ’n gaterige, strooi­kleurige top of ’n ding wat van een skouer afgegly het. ’n Kuiltjie duik in ’n wang wanneer sy lag . . . en dit trek sy aandag na haar sensuele mond en mooi tande.

Mandie en die meisie stap nader. En nou kan Alex haar gesig met die fyn gelaatstrekke en amandelvormige oë beter sien. Die ligbruin oë wat omraam is deur digte swart wimpers, vonkel lewendig terwyl sy groet en gesels.

Mandie sê iets vir haar, stap dan tussen die gaste deur na die tafel met drinkgoed. Alex volg die meisie met sy oë, sien hoe sy gaan stilstaan en om haar rondkyk. Sy glimlag skielik en slaan ’n teenoorgestelde rigting in. Hier stap sy nou vlak verby Markus, Jan en Anton – drie van sy ingenieurspelle wat haar kwylbek aanstaar – maar dit lyk nie vir hom asof sy bewus is van die aandag nie.

Alex drink ’n slukkie wyn. Mandie sê sy swot sielkunde. Dié meisie en Cynthia se voorkoms verskil soos dag en nag, maar net die gedagte aan sielkunde laat hom al geïrriteerd voel. Cynthia het sommer al binne die eerste drie maande opgeskop, ’n regte Miss Know-it-all wat almal wat sou luister, wou vertel hoe mense se koppe werk.

Hy voel sy mondhoeke lig. Hy wed as Amber Young haar begeerlike mond oopmaak, gaan sy hom dadelik vertel sy swot sielkunde. Maar nee, hy moenie onregverdig wees nie . . .

Hy kyk ondersoekend en klinies na die meisie, dan na die mense rondom haar, en skielik kliek iets in sy kop in plek. Dit lyk maar net asof sy totaal onbewus is van haarself en van die indruk wat sy op mense en veral die ouens rondom haar maak. Hy gee ’n blaaslaggie. Dis ’n truuk van die skoner geslag wat hy teen dié tyd goed ken. Die girl is duidelik al van haar tienerjare af bewus van die effek wat sy op mans se testosteroonvlakke het – so seker van haar skoonheid en gewoond aan aandag dat dit nou soos water van ’n eend se rug afrol.

Sy pa kom met ’n glimlag orent, soen die meisie en verdwerg haar in ’n omhelsing. Daar buk sy nou by sy ma, gee haar ’n drukkie en hulle soengroet. Sy ma-hulle lag en verwelkom haar soos ’n lang verlore dogter. Sy ma beduie na die patio in die rigting van die tafels met eet- en drinkgoed en hy sien hoe sy knik en omdraai. Sy gee ’n paar treë, strek dan op haar tone om beter te kan sien. Sy soek natuurlik nou na Mandie.

Alex hoor hoe die groep ouens hier langs hom uitbars van die lag, en sien hoe die meisie in hulle rigting kyk. Uit die hoek van sy oë merk hy op hoe Mandie haar pad tussen die gaste deur na haar baan, ’n glas wyn in elke hand. Die meisie draai haar kop soekend in sy rigting, en soos ’n magneet trek sy oë hare en hou hulle vas.

Vir Alex staan die tyd oomblikke lank stil.

Sy lig haar ken en die glimlag verdwyn in ’n oogwink uit haar oë terwyl sy byna uitdagend na hom kyk. Dadelik voel hy hoe ergernis in hom opstu. Hy ken die vroumens van g’n kant af nie, hoekom kyk sy so kil en hooghartig na hom?

Amber voel hoe Alex se donker oë hare soos ’n magneet trek en vashou. Sy herken hom onmiddellik, en teen haar sin voel sy hoe haar maag omrol. Alex was nog altyd treffend met sy donker hare en oë, en met sy lengte en breë skouers het hy bo al die ander ouens rondom hom uitgestaan, maar noudat hy ouer is, is sy voorkoms nog meer oorrompelend manlik en selfversekerd. En die impak wat hy op haar het is . . . verlammend. A nee a, sy moet haar regruk. Sy’s mos lankal nie meer die ou bakvissie van destyds nie. Sy lig haar ken, kyk koeltjies terug en hou Alex se oë gevange terwyl sy haar doelbewus onverskillig hou.

Mandie kom staan langs haar. Amber breek oogkontak. “Jislaaik, dit was nou omtrent ’n mission om ’n bottel oop te kry. Ek kon nêrens ’n kurktrekker kry nie, toe loop soek ek een in die kombuis.”

Amber neem die glasie by Mandie. “Ag, thanks, man.” Sy drink ’n groot sluk wyn om te probeer kalmeer. Net een eindelose kyk in Alex se oë en sy reageer soos die ou skooldogtertjie wat sy jare gelede was. Sy hoop maar sy’t dit reggekry om vir hom te wys dat sy aantreklikheid haar nie in die minste raak nie.

“Nou waarheen sou Alex verdwyn het?” Mandie kyk rond. “Wag, daar’s hy. Kom, Amber, ek wil jou aan my broer gaan voorstel en hoor of hy jou onthou.”

“Nee, wag ’n bietjie, man, gee my darem net asseblief ’n rukkie kans om my droë keel nat te maak.” Amber drink gou twee slukke wyn ná mekaar.

Mandie knik na die groep mans wat weer uitgelate lag. “Daai spul ouens is pelle van Alex. ’n Paar van hulle het sy ingenieursfirma hier en op ander plekke aan die gang gehou terwyl hy sy ding met brûe en wolkekrabbers in Manhattan gedoen het. Nee wat, ek dink regtig hulle het nou genoeg van sy tyd in beslag geneem. Hy behoort mos darem ’n slag te mingle.” Sy glimlag. “Wag, daar loop staan hy nou weer by Kobus en gesels.”

Amber sit haar leë glas sommer so in die loop op ’n tafeltjie neer. Laat sy die groetery met Alex liewer agter die rug kry, want groet sal sy hom móét, en hoe gouer sy dit doen, hoe beter. Sy stap uiterlik gedwee agter Mandie aan, maar innerlik staal sy haar.

“Haai, Alex?” Mandie sit ’n hand op sy bruingebrande arm en Alex kyk af na haar. “Onthou jy my vriendin Amber?”

’n Glimlag helder sy gesig op terwyl sy donker oë lewendig en terselfdertyd intens in hare kyk. “Nee, jammer, maar ek onthou jou vriendin nie régtig nie.” Alex praat met Mandie, maar hy kyk na Amber en hou sy hand uit. Amber se hand verdwyn in syne. “Hallo, Amber, dis gaaf om jou te ontmoet.”

Groot fout. Sy moes nie haar hand uitgesteek het nie. Die aanraking van Alex se harde, warm hand teen haar sagte, kaal vel laat dit voel asof al haar senuweepunte aan die brand slaan.

Amber trek haar hand gou uit Alex se stewige greep. “Hallo . . . aangenaam.” Sy kry dit net-net reg om te glimlag asof niks gebeur het nie. Alex kyk steeds na haar. Sy is skoon verlig toe Mandie praat en hy wegkyk.

“Ag nee mán, Alex! Amber is my boesemvriendin van laerskooldae af; hoe op aarde is dit moontlik dat jy haar nie kan onthou nie?”

Kobus sit ’n arm om Amber se skouers en trek haar nader. “En deesdae is ek so gelukkig om haar as au pair vir Lindie en Dewan te hê.” Sy arm val weg.

Amber glimlag. Sy’s al gewoond aan die Van Edens – dis net hoe hulle is, warm en liefde­vol.

Alex se oë gly langsaam oor Amber se gesig asof hy iets probeer uitpluis, maar dan kyk hy uiteindelik weer na Mandie toe sy teen sy arm klap.

“Amber is amazing, Alex. Jy moet sien hoe handle sy daai woelige kids van Kobus.”

“Nee, maar dis goed om te weet die kinders is bedags in goeie hande.”

Sy stem is steeds vir Amber mooi. Haar oë glip af na sy ferm mond en toe onthou sy wat ’n matriekmeisie eendag in ’n groep ander meisies oor Alex gesê het. “Oe, julle, Zelma sê Alexander van Eden is ’n awesome kisser!”

Amber laat sak haar oë toe ’n eienaardige gevoel langs haar ruggraat af kriewel. Sy voel ’n aantrekking, soos ’n styf gespande snaar tussen haar en Alex. Benoud kyk sy anderpad en sien hoe ’n meisie met lang blonde hare heupswaaiend tussen die gaste deur na hulle aangestap kom. Sy kom haak by Kobus in.

“Het jy my gemis?” Haar stemtoon is laag.

Kobus glimlag stilswyend af na die meisie. Sy druk haar wang teen sy boarm vas en kyk uitlokkend na hom. Amber glimlag. Mm, dan kuier Kobus saans by dié blonde skoonheid?

“Amber, ontmoet vir Doreen,” sê Kobus en voeg by: “Doreen is ’n teatersuster by die kliniek.”

Amber glimlag vir Doreen. “Hallo.”

“Haai.” Doreen laat haar oë stadig oor Amber gly terwyl sy Kobus se arm liefderyk streel.

“Doreen is ’n ou flame van Kobus.” Mandie frons. “Maar het jy dan nie twee of drie jaar by ’n kliniek iewers in Potchefstroom gewerk nie?”

Doreen knik. “Ek het, ja, maar soos jy kan sien, is ek terug.”

“Dis darem skielik. Ek bedoel, niemand weet eens dat jy en Kobus weer ’n item is nie.” Mandie praat sag.

Doreen se glimlag bereik nie haar ligblou oë nie. “Ek ís darem nou eers twee weke terug.”

Kobus glimlag. “Ons het besluit om ons verhouding weer ’n kans te gee.”

Doreen kyk reguit na Mandie. “En wie het kon raai dat die ou flame ná jare weer soos ’n pas aangesteekte vlam tussen ons gaan brand?”

Onwillekeurig kyk Amber na Alex. Die vriendelike glinstering in sy oë is vervang deur kilheid terwyl hy vlugtig na Doreen en Kobus kyk. Is Alex dalkies verlief op Doreen? Nee wat, sy is nou regtig verspot. Hy’t Doreen seker ook vandag eers ontmoet.

Amber sien tannie Sophia tussen die gaste en besluit om met haar te gaan gesels. Sy stap tussen die mense deur en lag innerlik. Mandie is duidelik ontsteld omdat Kobus en Doreen al die tyd in ’n verhouding is terwyl sy gehoop het sy wat Amber is en Kobus raak verlief. Mandie was nou effens ongeskik, maar dis hoe haar vriendin is, sy wil altyd tot op die murg en been van alles deurdring.

Voor Amber by tannie Sophia kan uitkom, klingel ’n lepel teen ’n glas. “Pa gaan nou eers sy speech maak,” sê Kobus agter Amber.

Amber kyk om, reg in Alex se oë. Sy draai weg, opnuut bewus van hoe onrustig haar simpel hart klop.

Wag-'n-bietjie-liefde

Подняться наверх