Читать книгу Wag-'n-bietjie-liefde - Susan Pienaar - Страница 4

2

Оглавление

Met die heerlike ete agter die rug en ná die gaste wat nie naby familie is nie hulle ry gekry het, sit Amber en Paul en Doreen saam met die Van Eden-gesin op rusbanke in die woonvertrek en gesels.

Lindie en Dewan speel in die miniatuurparkie agter in die erf, dus kan Amber heerlik ontspan terwyl sy na die gesprek om haar luister. Sy weet Alex was destyds ’n briljante ingenieurstudent, maar sy lei uit die geselsery af dat hy so ’n bietjie van ’n big shot daar oorkant was betreffende die konstruksie van manjifieke brûe en wolkekrabbers. Indrukwekkend! Alex praat nie oor homself nie. Dis Kobus wat vrae vra, Alex wat kortweg antwoord en oom Jakobus, wat ’n afgetrede ingenieur is, wat dan verduidelik wat sekere projekte behels.

Amber sien tannie Sophia knik vir oom Jakobus en hy maak hom reg om te praat. “Ek en julle ma het gewonder of julle jongklomp nie vir ’n paar dae Zebula toe wil gaan nie. Ek het gebel, en die huis is van Maandag af die hele week tot Sondag toe nie aan gaste uitverhuur nie.” Hy kyk na Alex. “Dit behoort ’n lekker wegkomkans vir jou te wees voordat jy begin werk. Kobus was ook lank laas daar.” Hy kyk beurtelings na Amber, Paul en Doreen. “Zebula is mos ’n wêreldgehalte gholflandgoed met ’n spa binne-in ’n reservaat. Dit lê anderkant Bela-Bela. Die huis is groot genoeg vir julle almal.”

Mandie vat dadelik vlam. “Wow! Dit gaan so lekker wees. Wat sê jy, Paul, jy’t mos nie volgende week iets aan nie? Dis skoolvakansie en ons gaan mos eers die daaropvolgende week by jou ouers op die plaas kuier.”

Paul glimlag vir die ouer mense. “Dankie, oom, tannie.” En aan Mandie: “Natuurlik gaan ek saam, maar ons moet nog tot Dinsdagmiddag by die skool wees.”

“Ag nee, julle,” sê Mandie toe almal stil is. “Hoekom moet julle eers daaroor sit en dink? Toe nou, dit gaan lekker wees.”

Alex knik. “Pa is reg, ek was donkiejare laas op Zebula. ’n Paar dae van niksdoen sal lekker wees, maar ek sal nie voor Woensdagoggend kan wegkom nie. Ek moet eers ’n paar dinge by die kantoor afhandel.”

Kobus kyk na Amber, dan terug na sy ouers. “Maar wat van my spannetjie, Ma?”

Tannie Sophia glimlag. “Ek en julle pa het klaar daaraan gedink. Dis mos nou vakansie, ons kyk dus graag na die kinders terwyl julle weg is.”

“Wel, as Ma baie seker is . . .?” begin Kobus.

Tannie Sophia tik hom op ’n hand. “Ag, nonsens met jou. Ons het mos darem al in die verlede die kinders by ons ingevat. Letsho sal haar dogter bring om bedags na hulle te help kyk. En buitendien wil ons graag hê Amber moet saamgaan. Sy is nog maar kort terug in die land en moes dadelik by jou inspring. Sy het ’n bietjie bederf broodnodig.”

Amber vries. O gats, nee, al wil sy hóé graag saamgaan, moet sy liewer ligloop. Haar wilde reaksies en gedagtes van vroeër het haar gewaarsku om dubbel versigtig te wees en eerder so ver moontlik van Alex af weg te bly. Amber glimlag, skud dan haar kop.

“Dis gaaf van tannie-hulle om my saam te nooi, maar ek belowe ek sal liewer bedags sowel as snags mooi na die kinders kyk as Kobus wil saamgaan.”

“Nonsens, Amber, jy gaan saam.” Tannie Sophia kyk verskonend na Kobus. “As jou werk dit te moeilik maak om weg te gaan bly die kinders steeds by my en Pa. En Amber? Jy gaan beslis saam met wie ook al almal Zebula toe kan gaan.”

Amber maak haar mond oop, bedink haar dan. Hoe kan sy tannie Sophia se uitnodiging nou van die hand wys sonder om ondankbaar voor te kom? Ag nou ja, dis net ’n paar dae, sy sal oukei wees. Hulle gaan mos darem ’n hele klomp saam wees.

Dis reeds vyfuur toe Amber later dieselfde dag in die erf van haar ouerhuis parkeer en uitklim. Sy haal haar tas uit en kyk na die pastorie terwyl sy aanstap voordeur toe. Die nuwe predikant het sy eie huis, daarom is daar ná haar pa se begrafnis tydens ’n gemeentevergadering eenparig gestem dat haar ma die huis teen ’n billike bedrag kan huur.

Haar ma wag haar op die voorstoep in. Sy glimlag en druk aan haar goudblonde hare. “Jinne, my kind, ek het net bekommerd begin raak. Ek wag en wag en al wat kom, is jy.”

Amber soengroet haar ma. “Die gedoente by Mandie-hulle het langer geduur as wat ek gedink het dit sal.” Sy stap agter haar ma aan kombuis toe. “Ek kon seker gebel het. Sorry, Ma.”

Haar ma vat aan die ketel. “Is jy lus vir tee?”

“Dit sal lekker wees, maar sit Ma, dan maak ek vir ons.” Amber begin aanstap. “Ek vat net eers my tas kamer toe, en dan moet ek badkamer toe.”

“Ek kook solank water,” roep haar ma.

Amber was hande en onwillekeurig gryp haar gedagtes terug na die middag wat verby is. Ná hulle ooreengekom het oor die vakansietjie by Zebula, het amper almal saam met die kinders in die verhitte swembad gebaljaar. Amber maak haar hande droog en glimlag skeef.

En daar sit Doreen toe so ewe hoog en droog saam met tannie Sophia-hulle onder ’n boom.

Amber het sommer in een van Mandie se kortbroeke en ’n T-hemp geswem, maar Doreen het botweg geweier om iets van Mandie aan te trek.

“Doreen is bang sy gaan soos die natgereënde hoender lyk wat sy is,” het Mandie vir Amber gefluister, en voortgegaan: “Kan jy dink hoe sy gaan lyk wanneer al daai polyfilla van haar gesig begin afsmelt?”

Amber het niks gesê nie. Mandie sal haar wel een of ander tyd vertel hoekom sy nie ooghare vir Doreen het nie.

Amber vryf room in haar hande in en stap solank kombuis toe. Alex se beeld doem voor haar op. Hy’t die kinders toertjies in die water laat doen – hulle laat duik en gevang. Maar toe sy agterkom sy kyk nou meer na hom as na die kinders, het sy liewer uitgeklim, afgedroog en loop aantrek.

“Was dit toe net jy en die familie by die Van Edens?” vra haar ma toe hulle ’n rukkie later in die TV-kamer tee drink.

“Daar was omtrent ’n spul vreemde mense, vriende van Alex en van sy ouers.” Amber lag. “Ma kon my omtik met ’n veer, so verbaas was ek om Kobus se vriendin, Doreen, te ontmoet. Ek dog sy’s ’n model of so iets, want sy’s regtig mooi. En toe moet ek hoor sy’s ’n teater­suster.”

“Nou wat doen Doreen om soos ’n model te lyk?”

Amber se hande praat saam terwyl sy vertel. “Dis aangeplakte onderlaag, kunswimpers met laag op laag maskara, kunsnaels en gekleurde witblonde hare. En haar manier van stap is omtrent sexy. En sjoe, sy’s lank. Kan Ma Ma dit voorstel?”

“My jinne, en Kobus is nie juis aantreklik nie, dus kan ek glo jy was verbaas.” Haar ma drink ’n slukkie tee, kyk dan asof terloops na haar. “Was daar dan nou geen man by die Van Edens wat jou oog gevang het nie?”

“Nee, niemand nie.” Sy jok nie regtig nie. Alex het haar oog gevang, maar dis al. Haar ma wil eintlik weet of daar ’n man is waarin sy belangstel.

“Tannie Marais hier langsaan sê vir my die oudste seun, Alex, is baie aantreklik en boonop ongetroud. En goed geleerd ook, nogal ’n ingenieur met sy eie maatskappy. Hy was verlede jaar gou hier by die tannie in om beskuit af te gee wat sy ma saamgestuur het. Julle het mos vandag sy tuiskoms gevier?”

En toe Amber afgetrokke knik: “Is hy nog ongetroud?”

Terwyl haar ma gepraat het, het Amber gevoel hoe haar keel stadig begin toetrek. Hoe kán haar ma nou, ná al haar waarskuwings, ’n aantreklike man aan haar wil opdring? Maar nee, laat sy bedaar, liewer dankbaar wees haar ma is nie meer so verbitterd nie. Sy moet haar ma van dié onderwerp afkry.

“Alex is nie getroud nie, maar ek sal nie verbaas wees as hy iewers ’n meisie het en dalk boonop verloof is en op trou staan nie.”

Haar ma knik. “Ek sien.”

Amber sit haar leë koppie op die tafeltjie langs haar neer. “Ek was eers saam met Kobus terug om my kar te kry, toe bring ek sommer my rekenaar en boeke saam. Ek wil later ná ek gebad het, ’n ruk swot. Maar eers gaan ek ’n bietjie klavier speel.”

Haar ma lag. “Dis reg so. Dis darem lekker om naweke weer jou musiek te hoor.”

“So van naweke gepraat: Tannie Sophia en oom Jakobus het my en Mandie-hulle genooi na daai plek van hulle anderkant Bela-Bela. Ons kom dalk eers Sondag terug, dus weet ek nie of ek Ma volgende naweek gaan sien nie.”

Die huisfoon lui en haar ma staan haastig op. “Dis darem baie gaaf van hulle.” Sy stap gang toe en Amber pak die koppies op die skinkbord.

Terwyl Amber die teegoed was, dink sy aan die uitstappie wat kom. As Kobus en Doreen verlof kan kry, het hulle ooreengekom dat almal Woensdagoggend halfsewe by Kobus se huis moet wees sodat hulle sommer daarvandaan kan vertrek.

Kobus se Mercedes is te laag vir sekere paaie by Zebula, daarom ry almal saam in Alex se viertrek. Sy is nou nie juis in die wolke daaroor nie, maar Kobus gaan vir seker voor langs Alex sit, hulle is mos darem ses mense. Hoe erg kan dit wees?

Nee kyk, sy was kwaai verlig om te hoor dat Alex die naweek ná die paar dae op Zebula, terugtrek na sy eie plek toe. Nou hoef sy nie in die toekoms in hom vas te loop wanneer sy so af en toe by Mandie of tannie Sophia gaan inloer nie.

Amber het vir Alex, Mandie en Paul ook koffie gemaak. Dis al kwart voor sewe en Doreen en Kobus is nog nie hier nie. Sy is dankbaar dat tannie Sophia die kinders gistermiddag kom haal het, want toe kon sy darem ’n volgende sielkundetaak klaarmaak en instuur.

Mandie kom sit langs Amber. “Ek weet wragtig nie hoekom Kobus vanoggend kliniek toe is nie. Hy hét mos gereël dat ’n dokter vanaf Woensdag tot Sondag in sy plek werk. En waar is Doreen, anyway?”

Amber kyk na waar Alex en Paul langs die wit viertrek staan. “Kobus het gisteraand oor die foon vir Doreen gesê hy gaan haar oplaai sodat haar kar nie heeltyd hier in die son staan en bak terwyl ons weg is nie.”

Mandie se leë koffiebeker hang aan sy oor aan haar vingers. “Ek dink ek moet met Alex praat, dan ry ons solank. Kobus en Doreen kan maar met die Mercedes agterna kom.”

En dan is daar twee minder mense in die kar om haar aandag af te trek van Alex af? Nee, dankie!

“Jy’s soos altyd al weer te haastig, Mandie. Dis mos darem nog vroeg, jong. Kobus het gesê dis minder as twee uur se ry Zebula toe. Dalk is hy en Doreen net vyf minute se ry van hier af en dan mis ons hulle.”

“Oukei, maar ons kan nie heeloggend wag nie.” Mandie kry Paul en Alex se bekers en stap binnetoe.

Alex kom na Amber aangestap en tel haar tas op asof dit ’n veertjie is. “Lyk my jy’t die wasbak sommer ook ingepak, en klere vir ’n maand.”

Amber skiet regop en probeer die tas by Alex afneem. “Gee hier, gee dat ek dit dra as dit vir jou te swaar is.” Hy verslap nie sy greep op die handvatsel nie, staan net met geligte wenkbroue na haar en kyk. Amber ruk haar hand weg toe sy agterkom dat die tinteling in haar vingers veroorsaak word deur Alex se vel wat aan hare raak.

“As daar nie genoeg plek in jou kar is nie, bly ek verdomp nét hier.” Sy vryf haar hand aan haar jeans af.

Alex glimlag stadig. “Tsk, tsk, en hier dog ek jy’s van die stil soort wat nooit ’n woord praat nie.”

“As ek iets te sê het, sal jy wel van my hoor.” Sy kyk na haar tas, gluur dan vir Alex aan. “Hoe dink jy moet ek met daai sjampoetjies en showerjelletjies en handeroompies klaarkom wat julle vir ’n mens in daai fancy plekke gee? Ek gebruik my eie haardroër, en wat van my haarstileerprodukte en gesigrome en badgoed en skoene?”

Alex sug hardop toe hy wegdraai. “Nou moet ek hoor jy’t jou hele kamer ingepak.”

Amber sien Paul staan en grinnik, maar sy draai om en stap kombuis toe, plak haar beker in die wasbak neer en vou haar arms.

Mandie maak asof sy skrik. “Wat het nou oor jou lewer geloop?”

“Ag, dis seker niks, maar Alex reken my tas is te swaar gelaai.”

“Nooit! En wat sê jy toe vir hom?”

“Dat ek nie met daai klein sampletjies by Zebula sal kan bad nie.”

Mandie lag. “Ons het ’n stoorkamer met ons eie goed van die gewone grootte daar. Alex het juis ’n hele spul items by Clicks gaan kry om dit aan te vul – my ma het vir hom ’n lys opgestel.” Sy giggel. “Hy was nie baie impressed nie, dis gewoonlik my joppie. Alex verpes dit om shopping te doen.” Sy slaan Amber liggies teen ’n arm. “Hy’t gegrap, man, moenie so fyngevoelig wees nie. Alex is nice, jy moet hom net leer ken.”

“Ja, oukei, tog.” Amber voel gestres oor Kobus en Doreen nog nie hier is nie, en nou lyk dit boonop asof Alex haar tas ingelaai het omdat hy haastig is en dalk sonder hulle wil ry. Daar staan Kobus se tas dan nog.

Amber stap agter Mandie aan buitetoe, gaan sit langs haar en kyk onderlangs na Alex. Hy dra ’n denim-kniebroek en ’n wit katoenhemp met sakke. Hy skop teen die viertrek se wiel en dit trek haar aandag na sy gespierde bene.

Alex haal sy luiende foon uit sy hempsak en frons vir die skerm voor hy antwoord. “Yes, waar bly julle?” Hy luister ’n ruk in stilte voor hy sê: “Oukei, right, kom dan maar wanneer julle klaar is.” Hy luister eers weer. “Sien julle dan.” Alex bêre sy foon en kom aangestap. “Ons ry solank. Kobus-hulle sal nou maar met die Mercedes tot by Zebula moet kom. Gaan kry julle meisies wat julle saamvat. Ek moet toesluit.”

Amber skiet regop en stap binnetoe. Verdomp! Sy’t geweet sy was nie verniet bekommerd nie.

“Wow,” skree-lag Mandie, “dit rock! Geen Doreen nie. Maar wag, ek moet gou badkamer toe, kry jou by die kar.”

Amber knik suur, loop kry haar handsak en stap minute later verby Alex wat die voordeur agter haar toesluit. Sy steek vas toe sy by die viertrek kom. Daar sit Paul so wragtig reeds agter langs Mandie. Sy’t intussen gedink die twee mans kan voor sit en sy en Mandie agter, dan sal sy die saamry darem oorleef. Maar met Alex hier vlak agter haar, kan sy nou ook nie so blatant vir Paul vra om voor te sit nie. En wie sê Mandie gaan instem? Sy kan flippen halsstarrig wees as sy wil.

Alex maak die deur vir Amber oop. Sy huiwer. “Toe maar, ek byt nie, jy kan maar inklim,” sê hy glimlaggend.

Wat kan sy anders doen as inklim? Sy maak haar sitplekgordel vas toe Alex langs haar inskuif. Sy foon lui terwyl hy wag dat die hek oopgaan sodat hy agteruit kan ry.

Hy kry sy foon, kyk op die skerm en antwoord. “Hallo, Liefie, net ’n oomblik, ek’s nou by jou.”

Amber snuif liggies. Dis só tipies, nes die Alex van destyds. Hy’s skaars terug en hy’t klaar ’n meisie. Nie dat sý enigsins omgee nie, hoekom sal sy? Dis ’n vry land: die vent kan mos doen wat hy wil.

Alex lig die foon na sy oor toe hy uit die erf is en reguit aanry. “Yes, ons is op pad.” Hy luister en glimlag. “Dankie, Liefie, jy’s ’n darling. Dan maak ons dit ’n hengse lekker paartie wanneer ons daar is.”

“Dis Alex se persoonlike assistent,” sê Mandie.

Amber kyk anderpad. Date Alex sy persoonlike assistent? Nee, kan nie waar wees nie, waar was die meisie dan Saterdag met sy verwelkoming?

“Is sy sexy?” wil Paul dadelik weet en moet dan koes toe Mandie hom wil aanrand.

“Sy’s beautiful, maar Alex draai die nek om van die man wat Liefie steel.” Mandie lag. “Altans, dis nou wanneer sy dalk eendag trou en haar man haar verbied om vir hom te werk.”

“Wat is haar regte naam?” vra Paul.

Mandie sit vorentoe. “Ek weet nie, weet jy, Alex?”

“Dis haar noemnaam –” Alex trap rem en druk die toeter. Amber het klaar gesien dis ’n kombi wat ’n stopteken geskiep het. “Bleddie padvark,” grom Alex onderlangs.

“Dit was amper of ons was bokveld toe.” Paul klink verlig. “Gelukkig het jy stadig genoeg gery om te kon briek.”

Alex glip ’n CD in die speler en Amber kyk na sy hande, kyk dan gou weg. Sy luister na die musiek, maar is só bewus van hom dat sy weet van elke beweging wat hy maak. Hy steek ’n arm uit, draai die volume sagter en Amber merk sy goue horlosie op, en dít trek haar oë weer na sy sterk bruingebrande voorarms met die fyn donker haartjies. Vir ’n sotlike oomblik trek daardie manlike arms haar soos ’n magneet, maar sy druk die gedagte met mening weg en fokus op die bome wat verbyflits.

Alex kyk vinnig agtertoe. “Gaan ons een van die dae huweliksklokkies hoor lui?”

“Nee, jislaaik, Alex, waar val jy nou uit? Ons praat nog nie eens van verloof raak nie. Ons onnies word peanuts betaal, en Paul betaal boonop woonstelhuur.”

“Moenie van my studieskuld vergeet nie,” sê Paul.

Alex knik. “Klink asof julle darem koelkop dink.”

Alex stuur die viertrek op die N1 reguit na Pretoria. Amber kyk na Alex se kort vingernaels op die stuurwiel, dan deur sy venster na die ander karre in die drie bane regs van hulle wat ook spoed verminder. Haar oë glip na sy profiel. Welige donker hare in ’n byderwetse styl gesny, kort agter en langer bolangs. Reguit neus, die ken hoekig en die kakebeen sterk en vasberade. En daardie vol, ferm lippe . . .

Onverwags draai Alex sy kop en kyk haar in die oë. Hy glimlag langsaam voor hy weer in die pad kyk en spoed vermeerder. Arrogante blikskottel. Daardie glimlag sê vir haar hy’t geweet sy bekyk hom. Gmf, hy sal hom wát verbeel.

Alex draai die musiek sagter. “Amber, vertel my hoekom ek nooit van jou geweet het nie. Jy en Mandie was glo skoolvriendinne en ons ouers ken jou ook goed, hoe is dit dan moontlik dat ek jou nooit raakgesien het nie?”

Sy glimlag innerlik. Hy kan natuurlik nie glo dat daar ’n Eva in Mandie se skool was wat nie sy aandag probeer trek het nie. Maar nou ja, hoekom sou hy haar buitendien opgemerk het? Sy was ’n maer ou meisietjie sonder enige kurwes met ’n vlegsel wat tot op haar sitvlak gehang het.

Amber glimlag gemaak stralend vir Alex. “Dit ís nogal snaaks, nè? Ek het nou nét aan dieselfde ding gedink toe ek vir jou gesit en kyk het. Ek bedoel, ek en Mandie is al die jare vriendinne en als, en ek het geweet Mandie se broers kom haal haar Vrydagmiddae by die skool, maar ek kan jou eenvoudig glad nie onthou nie.” Daarso, nou het sy hom lekker op sy plek gesit.

Alex glimlag. “Nou maar dan is dit tyd dat ons mekaar beter leer ken, of hoe? Vertel my so ’n bietjie van jouself.”

Maar die vent is omtrent dikvellig. Sy praat nooit oor haarself nie en sy gaan nie nou daarmee begin nie. Daarenteen kan sy seker ook nie in die paar dae wat voorlê haar penne soos ’n ystervark uitstoot elke keer wanneer Alex naby haar kom of ’n vraag vra nie.

Alex kyk ’n tweede keer vir haar en sy sug hardop. “Wat wil jy nou eintlik weet?”

“Laat ek sien. Dinge soos . . . wat het jou laat besluit om ná matriek as au pair in Amerika te gaan werk? Een hoekom swot jy sielkunde?”

“Nee, jitte, ek kan onmoontlik my hele storie op een slag vir jou vertel.”

“Die pad is lank en stil. Ek het baie tyd.”

“Ek waarsku jou, ek gaan die daylights uit jou en Mandie en Paul verveel.”

Mandie lag en sit vorentoe. “Jy gaan niks uit haar kry nie, Alex, maar moenie worry nie, ek sal jou alles vertel wat jy omtrent haar wil weet.”

Amber gooi ’n waarskuwende blik oor haar skouer na Mandie.

“Was jy so sportmal soos Mandie?” vra Paul.

Amber skud haar kop. “Nie dat jy dit sou agterkom nie.”

“Amber het aan skoolsport deelgeneem en netbal gespeel.” Mandie sit agtertoe. “En o ja, sy’t gimnastiek ook gedoen.”

Alex knik ’n paar keer asof die gimnastiek hom beïndruk. “Mm, gimnastiek, nè?”

“En jy moet hoor hoe mooi speel sy klavier,” stoom Mandie voort.

Musiek was haar lewe. Sonder die ontvlugting van haar musieklesse en rigiede oefenprogram van vier ure per dag, sou sy seker uitmekaargeval het. Musiek het haar van alles in haar lewe wat sleg was, laat vergeet.

Alex kyk vinnig na haar. “Watse musiek speel jy?”

“Klassieke musiek . . . maar ek speel sommer enigiets anders ook, dan meestal op gehoor.”

Alex knik. “Eendag moet jy beslis vir my speel . . .” Sy foon lui. “Jammer,” glimlag hy en lig die foon. “Ons is nou by die tweede tolhek.” Hy luister eers weer, sê dan: “Oukei, maar kry dit by die George-slaghuis. Sien julle dan later.” Alex glip sy foon in sy hempsak, haal geld uit die bakkie tussen hulle, betaal deur die venstertjie en gooi die kleingeld so met die wegtrek in die bakkie.

Mandie sug. “Ek lei af Kobus en Doreen is op pad?”

Alex knik. “Mm, ja, hulle het toe gouer klaargekry.”

“Is daar nie winkels en ’n slaghuis op Zebula nie?” vra Paul vir Mandie.

“Nope, net ’n winkeltjie waar ’n mens aandenkings en vuurhoutjies en goed soos sout en suiker, koffie en toiletware kan kry.” Mandie is ’n rukkie stil. “Ons vat nooit kos saam nie. Ons eet gewoonlik by die klubhuis en as ons iets anders regtig broodnodig kry, ry ons na Warmbad se Pick n Pay toe. My ma-hulle braai nie saans wanneer ons alleen is nie, maar my broers is lief om so af en toe ’n vleisie op die kole te gooi. Hulle maak in elk geval saans vuur, sommer net vir geselligheid wanneer ons buite kuier.”

Alex skakel die lugverkoeling aan. Dis Maart, maar vir Amber voel dit soos midsomer. Dankie tog die aandag is nou nie meer op haar nie. Haar gedagtes kies vanself koers na die verlede. Niemand sou haar keer toe sy in graad twaalf besluit het sy gaan Amerika toe nie – daarvoor was haar wil en sin vir onafhanklikheid te sterk. Sy’t self na ’n au pair-agentskap gegaan en die bal aan die rol gesit. Haar spaargeld van agtien jaar se verjaardae het nuttig te pas gekom.

“Wie is lus vir koffie en vleispasteitjies?” vra Mandie en voeg by: “Dis net hier agter, Paul, jou arms is langer as myne.”

“Ek dog jy vra nooit,” sê Alex. “Die pad is nogal mooi, ons kan sommer so in die ry drink en eet.”

Mandie gee vir Amber ’n pakkie met pasteitjies aan. “Dis jou en Alex s’n.” Sy sit haar en Alex se bekers koffie in die ronde houers tussen hulle.

So tussen die etery deur kyk Amber geïnteresseerd om haar rond. Doringbome, mielielande en vrugtestalletjies.

“Was jy al in hierdie deel van die wêreld?” vra Alex.

Amber skud haar kop. “Nee, maar ek was darem al in die Krugerwildtuin.”

Hier is hulle nou by Warmbad. Ag nee, die ou plekkie is dan piepklein? Links is ’n motorsentrum en ’n paar ander besighede, palmbome en ’n yslike kennisgewingbord. Groen watertenks sweef regs van Alex se gesig verby en Amber se kop draai saam. Hy glimlag vir haar, maar Amber maak asof sy dit nie sien nie.

Alex sien hoe Amber wegkyk. Hy’t nie verwag dat sy so stil en terughoudend sal wees nie. En ontwykend ook, veral toe hy haar ’n opening gegee het om oor sielkunde te praat. ’n Glimlag pluk aan sy lippe toe hy onthou hoe haar amberkleurige oë vuur gespoeg het toe hy haar oor die swaar tas geterg het.

Oukei, hy was nogal vieserig om mee te begin, nie vir haar nie, vir homself omdat hy sy oë alleenlik met moeite van haar kon afhou. Sy’s mooier wanneer sy haar vervies. Haar wange word pienkerig en hy moes homself keer om nie heeltyd na haar borste onder die top te kyk terwyl sy diep in- en uitgeasem het nie.

Mandie tik Amber op ’n skouer. “Daar’s iets wat heeltyd aan my vreet. Ek kan slange vang wanneer ek daaraan dink.”

Amber kyk agtertoe. “Nou maar wat is dit wat jou so omkrap?”

“Daar’s ’n dogtertjie in my klas . . . eintlik is dit die kind se ma wat my die hoenders in maak.”

“Wat maak die ma?” Hier langs hom gooi Amber haar lang hare met ’n skud van haar kop agtertoe, draai haar lyfie dan op die sitplek sodat sy na Mandie kan kyk. Sy ruik lekker, na iets soos fyn blou blommetjies en ’n tikkie speserye. Alex loer na haar, sien die erns op haar gesig en glimlag. Sy maak haar nou natuurlik reg vir ’n groot debat.

“Nee, jissie, daai vrou is net nooit tevrede met haar kind se punte nie. Jy moet gehoor het hoe trap sy Sonia voor my uit toe hulle die kind se rapport Dinsdag by die skool kom haal het. Van die kinders en ma’s wat buite my klas op die stoep gewag het, kon nie anders om te hoor hoe sy tekere gaan nie.”

Alex hoor hoe Amber haar asem skerp intrek. “Ag, sies tog, die arme kind. Kan jy dink watter sielkundige skade dit aan so iemand doen? Dis ’n vorm van perfeksionisme wat sekerlik uit narsisme by die ma spruit.”

Alex glimlag. A, hier neem die gesprek nou ’n interessante wending. Nes Cynthia swot Amber nog nie lank sielkunde nie en nou wil sy natuurlik wys wat sy weet.

“Waarop baseer jy jou bevinding van narsisme?” vra hy en voeg by: “Ek reken die ma was dalk net te ontsteld om daaraan te dink dat daar ander mense is wat kon hoor.”

Amber draai haar vinnig na hom. Haar wange is pienk van ergerlikheid en sy’t weer daardie snotty kyk in haar oë soos die dag met hul ontmoeting.

“Volgens my en kenners op die gebied, ís dit narsisme wanneer ’n ma haar kind bloot as ’n verlengstuk sien wat háár glorie moet reflekteer. Alles gaan oor háár.” Sy klink deksels seker van haar saak. “As jy, wat die direkteur van jou besigheid is, iemand uittrap oor sy of haar swak werk, doen jy dit voor jou ander werknemers of eenkant waar niemand kan hoor nie?”

Maar die geitjie! Sy’t hom vinnig en behendig in ’n hoek gedruk. Maar hy kan ook met woorde speel.

“Ek noem dit ontaktvol en onprofessioneel om ’n werknemer voor ander uit te trap. Dit het niks met narsisme uit te waai nie.”

Sy skiet blitsvinnig terug. “O, maar dit hét. Vir dié ma het haar kind nie ’n eie identiteit nie. En as jy jou werksmense wel voor ander sou uittrap, dan is jy magsbehep en boonop ’n boelie.”

Alex pers sy lippe saam. Maar so ’n klein vuurvreter . . .

“Ag nee, julle,” kom Mandie tussenbeide, “ek het nog nie eens klaar vertel nie. Wat julle nie weet nie, is dat die arme kind regtig vreeslik goed presteer. En dís die rede waarom ek die vrou nie kan duld nie. Sy wil nie verstaan dat ’n kind nie honderd persent vir spelling en lees kan kry nie.”

“Nou hoekom het jy nie van die begin af so gesê nie,” blaf hy harder as wat hy bedoel het.

“Omdat jy Amber aangevat het en my nie tyd gegee het om verder te vertel nie,” beskuldig sy suster hom so wragtig voor die wysneus hier langs hom.

Amber sien hoe Alex sy lippe saampers terwyl sy terugdraai op haar sitplek, maar wat gee sy om wat hy dink? Dit ontstel haar wanneer sy dié soort dinge hoor. Die afkrakery vind natuurlik herhaaldelik plaas, en die arme Sonia gaan dalk nooit hoor dat sy goed genoeg is nie, wat haar selfbeeld weer opnuut kwaai gaan knou. Dit laat Amber magteloos voel, want die ma het beslis ’n probleem. Sy sal later vir Mandie vertel dat sy die kind moet prys, natuurlik glad nie waar die ander leerlinge kan hoor en die jaloesie van ander haar verder kan afbreek nie.

Alex draai regs af langs ’n bord wat sê: Zebula Golf Estates and Spa. Hy kyk oor sy skouer. “Nog vyf kilometer verder en ons is nader aan ’n lekker koue bier.”

Paul lag. “Nou maar dan moet jy voet in die hoek sit.” En aan Mandie: “Is die wild op Zebula min of meer dieselfde as in die Krugerwildtuin?”

Mandie snork liggies. “Nee, man, ons het nie die Groot Vyf nie. Dink jy ons sal ons huise tussen tiers en luiperds en leeus bou en dan sommer daar tussen die bosse gaan stap net om opgevreet te word?”

“Dis jammer. As jy my vooraf gesê het, sou ek dan maar liewer by die huis gebly het.”

“Ag, toe nou. Ons het allerhande boksoorte, kameelperde en leeu- en tierwelpies, net nie uitgegroeide leeus of luiperds nie. En yslike slange in glasafskortings.”

Oomblikke later draai hulle by Zebula se ingang in en hou stil. ’n Wag, in kakieklere, met die kentekens van Zebula, groet vriendelik, laat Alex inteken en die sperpaal word gelig.

Die grondpad strek lank voor hulle uit, maar hier voor vurk twee paaie na links en regs met ’n droërige boompie in die middel. Alex druk ’n voorvinger teen die ruit, kyk vir Amber. “Sien jy daai boompie? Dis nou wat ons ’n bosveldsirkel noem.” Hy sê dit droogweg, en agter in die motor bars Mandie en Paul uit van die lag.

Amber kan maar net saam lag terwyl hy links om die boompie ry en dan reguit aanhou. Sy vryf oor haar arms wat skoon hoendervleis geword het. Alex se laggende mond en wit tande is betowerend. Dis nou al die hoeveelste keer dat sy vlugtig en met ’n vreemde hunkering na sy lippe kyk. Vies vir haarself, kyk sy gou weg. Sy moet onthou dis alles net window-dressing – soos álles aan haar pa en Spencer ook was – en dit sê niks van die man self nie.

Spoedoortreders gaan ’n hewige boete opgelê word, lees Amber en besef meteens hoekom Alex op ’n slakkepas bestuur. Links is daar ’n geteerde aanloopbaan met ’n paar kleinerige vliegtuie en ’n enkele helikopter met die Zebula-kenteken op die deure. ’n Ent verder staan drie of vier vliegtuigloodse.

“Nou hoekom bêre hulle nie daai vliegtuie nie,” wonder Amber hardop.

Alex antwoord. “Soms kom mense net vir ’n oggend of ’n dag deur om gholf te speel, of om ’n vergadering of een of ander okkasie by te woon, dan land hulle sommer vir die tydsduur daar. Of besoekers word deur groter vliegtuie hierheen gebring. Die aanloopbaan is een punt vyf kilometer lank, dus is dit maklik vir groter vliegtuie om hier te land.”

“Ek sien. Maar hoe kom die mense sonder vervoer by die klub?”

“Daar’s ’n spul jeeps by die klubhuis vir uitstappies. Veldwerkers kom haal en bring besoekers terug, en ry mense rond. Ons bel die kantoor net wanneer ons hulle nodig kry.”

Amber onthou Alex het lankal sy kommersiële vlieglisensie gekry, sy weet ook hy’t ’n vliegtuig. Sy’t Alex destyds al afgeskryf, maar kon mos nie haar ore toehou elke keer wanneer Mandie oor haar broers gepraat het nie.

“Ek dink ons twee moet daai agterste twee sitplekke vir ons deps,” sê Paul.

Mandie lag. “Mm, goeie plan.”

Amber kyk nuuskierig rond. Hoë geëlektrifiseerde draad skei Zebula van Mabalingwe en aanwysings na die klubhuis, spa en gholfbaan word oral op swart omraamde borde met wit sebrastrepe aangedui. Alex draai links af in ’n grondpad. Links en regs sien Amber grasdakke tussen die lang gras en doringbome.

Wag-'n-bietjie-liefde

Подняться наверх