Читать книгу Bloudruk vir die liefde - Susan Pienaar - Страница 3

1

Оглавление

Salomé steek voor Stefan Rademeyer se kantoordeur vas toe sy ’n vreemde en erg omgekrapte manstem hoor.

“’n Vroulike projekbestuurder! Hel, Stefan, ek kan dit wragtig nie glo nie.” Dan volg die slag van iets soos ’n lêer wat met drif op ’n lessenaar neergegooi word. “Ek het ’n verdomde manlike ingenieur nodig wat met gemak en outoriteit met die ingenieurs en kontrakteurs kan saamwerk.”

Salomé gaan staan langs die deur naby die muur om verder te luister. Mm, dan is die hoof- uitvoerende beampte van Verster & Rademeyer Argitekte vandag terug. Sy het die afgelope twee dae nogal baie van Malan Verster by haar nuwe kollegas gehoor, maar niks wat daarop gedui het dat hy ontevrede met haar aanstelling gaan wees nie.

“Sy is nou wel ’n vrou, maar –” begin Stefan.

“Watter man in ons beroep,” stoom Malan voort asof sy vennoot nie gepraat het nie, “gaan ’n vroumens ernstig opneem en haar instruksies uitvoer?” Hy lag ironies. “Tensy sy natuurlik soos ’n man gebou is, met rooi beenhare en ’n snor.”

Salomé lig ’n hand, groet ’n man wat hom in die verbyloop aan haar vergaap. “Verrassinkie vir jou, Malan,” sê sy binnensmonds. Dit sal nie die eerste keer wees dat sy iemand wat haar onderskat, verkeerd bewys nie. Daardie arrogante ingenieur wat tydens haar internskap as derdejaarstudent voorspel het dat sy sou opskop, moes lekker op sy neus kyk. Hy wou hom mos nie steur aan hierdie “ou girltjie” se “wiskundesommetjies” nie, maar hy het hom lelik misgis.

“. . . ook saam met ’n hele paar verskillende argitekte aan ’n verskeidenheid medium- en high-rise geboue in die VSA gewerk. Lees haar CV deur, dan praat ons weer,” hoor Salomé gedeeltelik wat Stefan sê.

“Daar was mos ’n hele paar manlike aansoekers vir die pos,” praat Malan nou kalmer. “Laat een van ons sekretaresses of Adam die mense bel en hoor wie is nog beskikbaar, en reël onderhoude vir so gou moontlik. Jy kan die vroumens dalk by die Thorn Park-projek inspan, of elders, net solank ek iemand anders kan kry.”

“Hendrik is projekbestuurder by Thorn Park.” Stefan sug. “Met die siftingsproses het daar drie kandidate oorgebly. Ouens met heelwat minder kwalifikasies as Salomé.”

Salomé het tydens die onderhoud nie dadelik besef sy gaan saam met Malan werk nie – Stefan het die onderhoud gevoer en sy het aangeneem sy werk saam met hom.

Maar toe sy vasstel presies waar sy in die maatskappy inpas, het sy nogal gedink sy en Malan behoort lekker saam te werk, juis omdat hy nie alleen argitek is nie, maar ook struktuuringenieur. Nou klink hy regtig soos ’n aaklige mens . . . maar sy sal nie toelaat dat dit haar afskrik nie. Sy het tog al met ’n hele paar mislike argitekte te doen gekry, sy weet hoe die meerderheid se koppe werk. Sommige argitekte reken mos ingenieurs is nie kreatief genoeg nie, en ja, soms is dit waar, maar beslis nié in haar geval nie.

Salomé het Malan gegoogle toe sy gehoor het sy werk saam met hom. Om te dink sy het hom in die stilligheid bewonder omdat hy duidelik besef hoe noodsaaklik struktuur in die beplanningsfase van argitektoniese ontwerpe is, en daarom ’n graad in ingenieurswese, sowel as in argitektuur, behaal het.

Maar nou is die vent nie geneë om met ’n vroulike ingenieur saam te werk nie.

Laat Malan maar gal braak, sy is nie in die minste deur hom geïntimideerd nie. Sy ken haar waarde en weet Malan kan dankbaar wees dat Stefan háár aangestel het om vir hulle te werk.

“Jy’s flippen moeilik en onredelik,” grom Stefan. “Ek het die beste kandidaat tussen die hele lot gekies. Jy’t gesê ek moet my goeie oordeel gebruik, en ek hét. Salomé Delport se CV is impressive, sê ek jou.”

Malan Verster lag effens. “Hel, jy’s so dêm goedgelowig waar dit vroue aangaan. As jy my vra, is die bleddie ding boonop gekook.”

Salomé voel haar bloeddruk styg. Hoe durf die vent! Sy haal diep asem. Kalmeer, Salomé, kalmeer. Sy gaan eenvoudig maar voorgee sy het niks van hierdie gesprek gehoor nie. Verster & Rademeyer Argitekte is ’n prestige-onderneming wat groot projekte aanpak.

Sy wil hier werk waar sy haar kan uitleef soos sy nie by ’n kleiner firma sal kan doen nie.

“Salomé is klaar op ’n proeftydperk van drie maande aangestel,” sê Stefan, en in die daaropvolgende stilte hoor Salomé ’n geklingel soos van ysblokkies wat in glase gegooi word. “Jy’s in ’n moerse bui. Hoe’t dit by die konferensie gegaan?” Glas klink teen glas. “Wil jy daaroor praat?”

“Cheers. Bleddie tydmors gewees,” sê Malan. “Weer die ou-ou storie van die verskillende persepsies wat ingenieurs en argitekte het. Argitekte soek logika in visuele patrone . . . bla-bla-bla . . . ingenieurs gebruik die begrip van wiskunde en translitereer wat hulle sien in abstrakte modelle of diagramme. My raad aan hulle was: ‘Doen jou graad in ingenieurswese saam met argitektuur en jy’t nie probleme nie.’” Dis ’n paar oomblikke stil. “Ek moet oor ’n uur en ’n half Waterfall site toe. Ek het nie die geduld om boonop saam met ’n oningeligte ingenieur te werk nie.”

“Jy’t niks om oor te worry nie. Ek sê jou Salomé Delport is briljant en hardwerkend,” sê Stefan. “Met haar aanstelling het sy dadelik die verskillende planne en dokumente van die Waterfall-projek en die insette van die ander ingenieurs aangevra en bestudeer. Sy is ingestel op detail. Dè, vat Salomé se CV en gaan dit op jou tyd deur. Of wag, laat ek saamstap en julle aan mekaar voorstel. Dan lees jy saam met haar . . .”

Salomé tol om. O genade, sy moet wegkom. Sy draf in die gang af. In haar kantoor gekom, gaan sit sy agter haar lessenaar en druk haar leesbril oor haar neus. Sy het die lêer darem betyds oop toe die twee vennote binnekom. Sy gee voor dat sy seker maak al die Waterfall-dokumente is binne-in die lêer, kyk eers op toe Stefan keel skoonmaak.

Stefan Rademeyer glimlag vir haar. “Salomé, laat ek jou voorstel aan Malan Verster. Malan, ontmoet Salomé Delport.”

Salomé het nie ’n keuse nie, sy moet nou maar na Malan kyk. Binne oomblikke som sy hom op: lank en breedgeskouerd in swart jeans en ’n netjiese wit oopknoophemp, met donker hare, ’n sterk beenstruktuur en loodgrys oë wat stip in hare kyk. Baie aantrekliker in lewende lywe as op die foto op die maatskappy se webblad, moet sy toegee, veral met daardie dagoue baard.Maar noudat sy weet van sy chauvinistiese uitkyk op vroue in haar beroep, is sy nie meer so seker nie.

Salomé knik en bly sit. “Meneer Verster,” wurg sy. Sy kán nie . . . sál nie voorgee dis ’n aangename ontmoeting nie.

“Malan wil darem ook saam met jou deur jou CV lees, om . . . u-hm, seker te maak van sekere aspekte,” probeer Stefan haar gerusstel.

Sy glimlag. “Natuurlik, Stefan. Ek verstaan.”

Malan kom tot sy sinne toe Stefan hom met ’n plathand teen die rug slaan en vir hom knipoog. “Nou maar dan sien ek jou later.”

Malan vee met ’n hand oor sy oë. Sal hy hom nou so wragtig staan en verkyk aan die blonde groenoog-wipstert wat gestaan en afluister het? Hy het gesien hoe sy gou by haar kantoordeur inglip. Hy kan maar net hoop sy het nie alles gehoor wat hy oor haar kwytgeraak het nie.

“Aangenaam, juffrou Delport.” Sy stem klink vreemd in sy ore en hy vergeet skoon om sy hand uit te steek.

Soos glinsterende groen juwele kyk haar oë bo-oor ’n piepklein swartraam-brilletjie wat op die punt van haar fyn neusie gebalanseer is, trotserend in syne.

Sy’s stunning . . . hel-uit mooi, maar hy kan nie dadelik sê wat presies dit aan haar is wat hom so interesseer nie. Sy draai haar kop, kry ’n pen en nou eers sien hy haar blonde hare hang in ’n vlegsel laag teen haar rug af. Franse vlegsel, het een van sy vorige meisies dié styl genoem. Hy vrek oor lang hare. Hel, sy hande jeuk skielik om daardie hare los te maak en sy vingers daardeur te trek. Hy hoes in ’n hand om homself reg te ruk. Laat hy liewer op haar aanstelling konsentreer, die storie met haar afhandel.

Malan kyk eerder af na haar lessenaar. Stadig neem sy brein die verandering waar. Sy het klaar haar persoonlike stempel op die kantoor afgedruk. Afgesien van ’n aarbei-parfuumgeur wat soos ’n fluistering in die vertrek hang, is daar ’n hele spul onnodige goed op haar lessenaar. ’n Boks sneesdoekies, handsanitasie-jel, handeroom, ’n houtdosie met wie weet wát daarin, ’n boksie sjokolade, ’n passerstel met ’n spul skryfgoed wat binne-in die kissie langsaan hoort.

Eenkant op die groot lessenaar lê omtrent sewe opgerolde planne, en langs ’n spul dokumente in ’n houer is drie dik boeke opgestapel. Op ’n kantoorstoel staan ’n rooi handsak, oor die leuning hang ’n bypassende baadjie. Nee flip, hy kan nie reguit dink in hierdie kantoor nie. Sal beter wees as hulle in sy kantoor, waar dit ordelik is, gaan gesels.

Mm, kyk nou hoe analities en takserend kyk sy hom deur. Hy kan sweer daar is ook ’n tikkie arrogansie in haar blik. Sy het beslis meer as genoeg van sy uitlatings gehoor . . . niks wat hy nou daaraan kan doen nie. Hy kan haar netsowel laat weet dat hy besef sy het afgeluister. Dalk kan hulle die lug dán suiwer.

“Jy het reeds gehoor dat ek skepties oor jou aanstelling is. Ek wens ek kon eerlik sê dat ek jammer is oor alles wat ek kwytgeraak het, maar ek glo steeds dat ’n vroumens tussen ’n spul mansmense nie gaan werk nie.”

’n Blos begin vanaf haar hals oor haar fyn, amper deurskynend ligte vel stoot en vlek haar wange. Ja-nee, sy behoort skaam te kry omdat sy afgeluister het. Hy kyk haar in die oë. Hel, dis toe nie skaamte nie, haar groen oë blits van verergdheid en verontwaardiging.

Hy gaan haar maar eers tyd gee om af te koel.

Doelbewus skuif sy oë na haar blonde hare. Aan die haarwortels en die gesonde skynsel kan hy sien sy kleur dit nie. Nogal raar om blonde hare in hul oorspronklike kleur te sien. Lucinda gaan gereeld haarkapper toe en bleik haar donker haarwortels . . .

Hy frons. Vir wat kom foeter sy vorige girlfriend nou tussenin. Hy fokus weer op die meisie se gesig. Asof hy haar tyd mors, kyk Salomé doodluiters na die rekenaarskerm. Sy het boonop nog net twee woorde gesê, en haar ongeërgdheid begin hom nou irriteer. “Jy is nie baie spraaksaam nie. Gaan kommunikasie vir jou ’n probleem wees?”

Asof verveeld, draai sy haar kop en glimlag stadig. “Nee. Vir my is kommunikasie tweede natuur. As ek die dag régtig tyd het, kan ek vreeslik lekker gesels.”

Maar so ’n wipstert van ’n snip! Sy gee duidelik nie ’n duit om oor die onderhoud met hom óf oor die uitkoms daarvan nie. Maar aan die ander kant, hoekom sal sy? Stefan het haar mos klaar vir ’n proeftydperk van drie maande aangestel.

Malan kyk op sy horlosie. Darem nog genoeg tyd voor hy die ander ouens op site moet kry. “Stap saam, juffrou Delport, dan bespreek ons jou CV in my kantoor.”

Sy haal die leesbrilletjie met ’n geoefende beweging af, sit dit neer en tel die lêer op. “Goed,” sê sy styf.

Malan wag dat Salomé voor hom uit stap. Sy het ’n fyn beenstruktuur, maar hy kan sien sy is goed bedeeld, al wys die stylvolle bloes nie te veel nie. Onwillekeurig dwaal sy oë na haar netjiese sitvlak in Levi-jeans . . . Seker ’n satyndeurtrekkertjie of dalk glad . . . Get a bloody grip, Malan! Hy kyk liewer na haar voete. Mm, skoene van goeie gehalte, dienlik en duursaam. Sy trek beslis nie aan om aandag te trek nie.

Die meisie het ’n grasieuse manier van stap, asof sy voor hom sweef. Geen geswaai van haar heupe om sy aandag te trek nie, anders as soveel ander meisies met wie hy al te doen gehad het. Dit tel in Salomé se guns dat sy professioneel is deur nie sy aandag op haar kurwes te probeer vestig nie.

In sy kantoor gekom, gaan sit sy met die lêer op haar skoot, en hy neem oorkant haar plaas. Malan is intens bewus van die manier waarop Salomé sy kantoor deurkyk terwyl hy deur haar CV lees. Hel, hy het lanklaas so gesukkel om te konsentreer.

Right, graad by die Universiteit van Kaapstad . . . Plaaslik internskappe gedoen terwyl sy geswot het . . . Drie jaar by ’n Pretoriase ingenieursfirma ’n internskap gedoen voor sy eksamen afgelê het vir registrasie om as ingenieur te praktiseer. Vier jaar in die buiteland saam met nege verskillende argitekte gewerk. Stefan het ’n blad ingevoeg: Het almal gebel, alle sertifikate waterdig.

Sy is vaardig in die skep van agtergrondplanne in Revit . . . kan afskaal na PDF’s, AutoCAD, 3ds Max en Excel . . . You name it, sy het als gedoen. Sy’t die struktuur van ’n brug oor ’n highway in New York gedoen . . . ander groot projekte . . . geen residensiële projekte . . . Mm, hy kan sien hoekom Stefan haar aangestel het. Maar flip, hy weet darem nie so mooi nie . . . Sy het kennis van groot projekte, maar wat gaan dit help as die werkspanne haar nie ernstig opneem nie? Hy het mos al gehoor hoe van die ouens vroue agteraf bespreek; hy weet daar gaan mans wees wat haar net as ’n mooi dingetjie sal beskou. Wie sal dan vir haar intree? Hy het wragtig nie tyd daarvoor nie. Dis mos juis hoekom hy iemand wil aanstel – sodat sy werkslading verlig kan word.

Hy maak haar CV toe en leun terug. “Gee jy om as ek jou ’n paar vrae vra?”

“Nee, natuurlik nie. Vra gerus, ek sal antwoord so goed ek kan.”

Haar stem is melodieus . . . laat hom so wragtig helder oordag aan sagte satynlakens en sjampanje dink. Hy sluk swaar, skiet orent, loop kry twee glase en twee bottels water uit sy yskassie. Vir ’n man wat skaars ’n maand uit ’n wurggreep-verhouding is, iemand wat vroue vir eers afgesweer het, is hy wragtig vinnig besig om sy varkies te verloor. Hy moet sy verdomde kop laat lees om gedagtes oor die vroumens te kry, terwyl hulle nou noodgedwonge saam sal moet werk. Daardie vervlakste Stefan!

Haal diep asem, Malan, dink helder. Moet onttrekkingsimptome wees wat hom beet het. Suspisieuse en versmorende Lucinda, wat hom op die ou einde geen spasie vir leef gegee het nie, het hom ontnugter.

Hy geniet nog die nuwe vryheid wat sy Harley-Davidson en sy Land Cruiser hom onderskeidelik bied.

Hy weet nie hoekom hy Salomé nou met ’n vorige meisie staan en vergelyk nie. Salomé is op die oog af totaal verskillend van Lucinda, ook die ander meisies voor haar. Hulle het van sexy klere wat mans se tonge laat uithang, swaarder grimering en hope juwele gehou. Salomé Delport is glad nie uitlokkend aangetrek nie. Sy het ’n mooi gesiggie en lyfie, maar wat is nou so besonders daaraan? Tog, sy het iets meer . . . ’n kwaliteit . . . hy weet nie wat nie, ’n onsigbare aura . . . iets . . .

Malan vra nie of Salomé wil hê nie, hy stoot haar glas water tot voor haar en sluk syne staande af. Sy is klaar aangestel. Dis gedane sake, maar alles pla hom aan haar – haar houding, haar stiltes – en hy het nog nie eens begin om saam met haar te werk nie.

Hy voel effens meer in beheer toe hy weer oorkant haar sit. “Wat het jou laat besluit om in die VSA te gaan werk? Jy’t tog reeds jou lisensie hier in Suid-Afrika gekry.”

Sy drink eers ’n slukkie water, sit die glas neer en kyk hom in die oë. “BMS Construction in New York het aan my ’n werksaanbod gemaak, toe volg die een projek ná die ander. So ja, ek was besig.”

“Ek’s nuuskierig. Wat het jou laat besluit om ingenieur te word?”

Sy frons, tik nadenkend met ’n vinger teen haar ken, knik dan. “Ek het kleintyd gehou van Lego-blokkies . . . jy weet . . . het sulke hoë geboue en vreesaanjaende ruimtewesens van blokkies aanmekaargesit,” beduie sy met ’n geamuseerde glinstering in haar oë.

Spot sy dalk? Teen sy beterwete kan hy nie anders as om te glimlag nie. Haar vere is goed deurmekaargekrap, maar blykbaar het sy steeds ’n sin vir humor. “Jy’s nie ernstig nie, of is jy?”

Sy knik. “O, maar ek is. En ek het boonop ’n kop vir wiskunde gehad. Nogal raar in ’n meisiekind, nè?”

Sy spot beslis. Sy het baie meer as aanleg in wiskunde in hierdie beroep nodig en sy weet dit. Sy is ’n regte snip, maar om die een of ander rede vind hy dit prikkelend. Haar houding is aansteeklik. “Jy’s nie skaam om met jou prestasies te spog nie.”

“Feite is feite,” knik sy.

Daar is nog water in sy bottel en hy skink dit in sy glas, drink ’n paar slukke. Hy moet hom regruk en beheer neem. Dit is nie ’n flirtasie nie, dis ’n onderhoud, magtig. Die meisie het selfvertroue en ’n sterk persoonlikheid, wat natuurlik broodnodig is, maar ’n probleem vir hom kan wees.

“As ingenieur is jy gewoond aan orders gee. Sal jy daartoe in staat wees om te kan volg? Om sonder argumente my opdragte as hoofingenieur uit te voer?”

Haar mondhoeke lig in ’n glimlag, maar hy kan nie sê of dit eg of aangeplak is nie. “Bedoel jy dat jy geen inmenging gaan duld nie, al kom ek na jou toe en stel iets beters voor . . .? Iets aan ’n struktuur of ander materiale wat beter sal werk?”

Malan sug heimlik. Hy werk aan ontwerpe, kleiner projekte wat hy tussen die oprig van die huidige groot winkelsentrum moet inpas. Hy het nie ’n keuse nie, hy sal haar moet vertrou en hoop sy kry dit reg om ’n valkoog oor die verskillende kontrakteurs en werkers te hou, om nie te praat van al die ander goed soos die rekenaaraangedrewe inventarisse en die vroegtydige bestel van materiale nie.

Maar sy moenie onnodig lol nie.

“Nee wat, ek sal nie jou insette nodig hê nie. My verskaffers lewer die beste materiale. Ek het die strukture van die pilare ontwerp, dit word vooraf deur ’n maatskappy vervaardig. Maar daar is een vereiste wat ek aan jou stel wat glad nie onderhandelbaar is nie: Geen veranderinge, hóé klein ook al, mag deur die kontrakteurs of enige ander ingenieur met jou toestemming aan die Waterfall-planne gedoen word nie. Jy kom na my toe en bespreek ’n saak met my, dan sal ek bepaal wat nodig of onnodig is en jou die groen of rooi lig gee.”

Sy knik. “Reg so. Ek verstaan. Jy maak die reëls.”

Hy het verwag sy sal teëstribbel . . . Hy vertrou nie die vrede met die vroumens nie. Sy is op die oomblik net té mak.

“Hoe lank beplan jy om hier te werk . . . dis nou as die wedersydse proeftydperk van drie maande verstryk het en ons albei tevrede is?”

“’n Minimum van drie jaar, beslis.”

Kyk hoe wit is haar vel. Sy het nie Afrika-son daar anderkant gekry nie. Hoe kan hy haar tussen die manne op site loslaat? Wat de ongeluk het Stefan tog besiel om haar aan te stel? Sy is ’n flippen distraction, vir hom en dus vir almal wat rondom haar gaan wees. Hy kan al sien hoe val die ouens oormekaar om haar te help, net omdat sy ’n vroumens is.

Sy sit al weer met ’n effense glimlaggie vir hom en kyk, kompleet asof sy sy gedagtes kan lees. Hy sal haar maar die diep kant moet ingooi en klaarkry. Hulle is reeds kniediep besig met die ontwikkeling van die viervlak-winkelsentrum in Waterfall; sy sal maar moet swem of sink.

Malan kom orent. “Het jy ’n oorpak en skoene en helm gekry?”

“Ek het my eie gebring, dankie.”

“Gaan trek aan, jy gaan saam Waterfall toe. Ons het ’n vergadering op site.”

Sy stoot die lêer oor sy lessenaar na hom toe. “Alles oor die Waterfall-projek is hier binne. Ek was van plan om dit vir Stefan te gee.” Sy staan met ’n grasieuse beweging op.

Malan onderdruk ’n sug.

Salomé het in die dameskleedkamer by haar sluitkas gaan verklee en kom haal net die stel planne en spesifikasies in haar kantoor toe haar selfoon lui.

“Jy sal nooit raai wat ek oor jou baas gelees het nie,” val haar suster weg nadat hulle gegroet het.

“Malan Verster?” Salomé knyp die foon tussen haar skouer en wang vas. Sy begin solank van die goed wat sy moet saamneem perseel toe op haar lessenaar stapel. Sy wil niks van die vent weet nie, maar Magdaleen gaan vertel, of sy nou wil hoor of nie. “Vertel tog, maar maak asseblief gou, ek’s haastig.”

“Ek het ’n saketydskrif by die tandarts deurgeblaai. Malan se hele professionele geskiedenis is daarin. Jislaaik, Salomé, jy moet die foto van hom sien. Die man is absoluut gorgeous! Om te dink jy gaan saam met so ’n dishy ou werk. Ek was omtrent beïndruk met als wat hier oor hom geskryf staan . . . sjoe! Laat ek vinnig vir jou lees –”

“Ek dog dis die tandarts se tydskrif,” mor Salomé.

“Die ontvangsdame het gesê ek kan dit maar kry, dis verlede jaar s’n. Maar hoor gou die interessante stukkie: ‘Malan Verster se werk is verlede jaar ten toon gestel in die Museum of Modern Art in New York, en dis nie die eerste keer dat die firma internasionaal naam gemaak het nie. Werk van Malan, wat ’n ingenieur is met ’n meestersgraad in argitektuur, word volgende jaar op die Venesiese biënnale, wat die belangrikste tentoonstelling ter wêreld is, bekend gestel’.” Magdaleen skep asem. “So, wat sê jy dáárvan, hè, Sus?”

Salomé soek met haar oë op haar lessenaar rond. Waar sal die 3D-illustrasies van die gebou se voor- en syaansigte tog nou wees? “Malan Verster kan dalk vir jou oulik wees, of juicy of wat jy hom ook al wil noem, maar ek vind hom nie in die minste aantreklik nie, daarvoor is hy te arrogant. En vir al wat ons weet, is hy dalk getroud,” voeg Salomé by, net ingeval haar ousus dalk idees kry.

Magdaleen huiwer. “Maar ek dog jy’t gesê die man is by ’n konferensie. Het hy dan intussen teruggekom?”

Salomé vat die 3D-illustrasies raak en sit hulle langs die planne op die lessenaar neer. “Ja, die vent is terug met ’n helse bang. Ek kon nie anders as om te hoor hoe hy teenoor Stefan oor my aanstelling tekere gaan nie. En boonop beweer hy toe my CV is gekook.”

Salomé hoor ’n geluid agter haar en laat val amper die foon toe sy omdraai en Malan teen die deurkosyn sien leun. Sy druk die foon summier dood en probeer haar skok agter ’n glimlag wegsteek.

Malan slaan met die lêer – wat sy netnou na sy kantoor saamgeneem het – in ’n hand en trek sy wenkbroue op. “As jy klaar geklets het, het jy dalk ’n oomblikkie om aan my af te staan?”

Genade, haar bene voel lam van skrik. Wat het hy als gehoor? “Waarmee kan ek help?” probeer sy ligweg vra.

“Ek soek die struktuurtekeninge en -spesifikasies van die projek. Dis toe nie alles hier soos jy my verseker het nie.”

Sy weet dit was binne-in die lêer wat Malan vashou, so waar kan dit anders wees? Sy is nou so opgeklits. Malan staar boonop na haar asof sy horings ontwikkel het, maar sy hou haar handbewegings so kalm moontlik terwyl sy tussen die dokumente van ’n ander projek rondsoek. Dit was kwaai onprofessioneel van haar om die vent te bespreek, maar as Malan by Stefan oor haar kon gal braak, moet hy darem ook verlief neem met wat na sy kant toe kom.

Malan staan nader en bekyk haar lessenaar met ’n frons. “Dalk moet jy minder goed op jou lessenaar plak, dan sal jy belangrike dokumente nie verlê en jou doodsoek na goed nie.”

Salomé voel hoe haar bloed warm oor haar nek na haar gesig stoot. Hy het in elk geval net die waarheid oor homself gehoor, hoekom nou oor haar lessenaar skoorsoek? “My lessenaar makeer niks.” Sy beduie na ’n stapel. “Dit is planne en dokumente wat ek nou net hier neergesit het om saam te neem perseel toe.” Sy staak die soekery en kyk na die lêer in sy hand. “Ek weet die spesifikasies was in daardie lêer. Is jy doodseker dis nie tussen die ander dokumente nie?”

“Dis vir seker nie hierby nie.” Malan kyk na sy persoonlike assistent, Adam, wat die kantoor binnekom.

Adam hou ’n dokument na hom uit, en Malan neem dit.

“Ek het gou net weer seker gemaak of die struktuurspesifikasies nie by my is nie, soos jy gevra het. En hier is dit. Ek onthou nou ek het dit kom leen terwyl Salomé nie in haar kantoor was nie.” Adam glimlag verskonend na Salomé. “Sorry hieroor. Ek koop vir jou sjokolade om jammer te –”

“Adam. Het jy nie genoeg werk nie?” blaf Malan, en Adam maak hom gou uit die voete.

Die blikskottel! Salomé kyk Adam se stewige figuur wrewelrig agterna. Hoe durf hy goed uit haar lêer kom vat sonder om haar daarvan te sê?

Sy kyk na Malan terwyl hy die dokument by die ander sit. Gaan hy niks sê nie? “Daar het jy nou self gehoor Adam het dit sonder my medewete gevat.”

Sy oë gly fronsend oor haar oranje oorpak. “Dit was jóú werk om seker te maak alles is binne-in die lêer voor jy dit vir my gegee het. En as jy dan agtergekom het dit was nie hier nie, sou jy dalk werk daarvan gemaak het en die dokument wel by Adam opgespoor het.”

Langs haar sye klem Salomé haar hande in vuiste saam. Maar die bleddie vent is nou lelik onregverdig? Sy kook boonop nog oor die onderhoud. Hy soek mos geen insette van haar kant af nie. Hy maak ’n dekselse groot fout as hy dink sy gaan net rondstaan en toekyk dat dinge op ’n perseel verkeerd loop. Nou is sy keelvol.

Roekelose woede stoot in haar op, maar sy vra so sag en beheers moontlik: “Sal jy verkies dat ek by ’n ander onderneming gaan werk?” Op hierdie oomblik bedoel sy wat sy sê. Sy het ander opsies. Haar brood en botter hang nie van haar werk by Verster & Rademeyer Argitekte af nie. Sy het nie skuld nie, het genoeg bymekaargemaak daar oorkant en het nog nie aan haar erfporsie van haar ma geraak nie. Sy kan ander werk plaaslik kry, of teruggaan VSA toe, waar sy weet aanbiedinge onmiddellik haar kant toe sal kom.

Malan glimlag stadig terwyl hy sy kop skud. “En my die plesier en satisfaksie ontneem om jou ’n bietjie werksetiek te leer? Nee wat, ek dink ons wag ’n week of twee voor jy ’n skuif maak.”

’n Week of twee? Mislike vent. Sy het miskien nie eties korrek opgetree om hom te bespreek nie, maar om háár darem lesse oor etiket te wil leer, terwyl hy haar éérste by Stefan afgekraak het. “Ek het met my suster gepraat. Jy sal van haar hou, want sy dink jy’s te wonderlik vir woorde,” sê sy met ’n aangeplakte glimlag sodat Malan kan weet sy dink presies die teenoorgestelde.

Hy glimlag, en sy tande skitter wit teen sy bruingebrande gesig. Salomé staar na hom toe sy voel hoe daardie glimlag haar intrek. Dis asof ’n lig binne-in sy gesig aangesteek is en dit maak hom dodelik aantreklik. Haar hart slaan sowaar ’n slag oor.

Hy knik ’n paar keer. “Ag, dankie, jong. Sê vir jou suster ek is ongetroud en op die oomblik sonder ’n girlfriend.” Hy draai om en stap uit.

Gmf, asof die vroue nou oor hul voete moet val om hom op te raap terwyl hy enkellopend is. Haar oë boor in sy breë rug toe hy uitstap, maar die volgende oomblik besef sy Malan gaan sonder haar ry as sy nie gou maak nie.

Bloudruk vir die liefde

Подняться наверх