Читать книгу Bloudruk vir die liefde - Susan Pienaar - Страница 4

2

Оглавление

Salomé weet waar die Waterfall-perseel is, maar vandat sy Malan vroeër in haar kantoor sien glimlag het, is sy vreemd bewus van hom, daarom bekyk sy die omgewing asof sy die pad moet onthou.

Sy het Malan se oë nou al ’n keer of wat vlugtig op haar sien rus, maar hy praat nie. Sy het ook nog nie ’n woord gesê vandat sy net betyds langs hom ingeklim het nie.

Haar oë vang die glinstering van sy polshorlosie, gly dan ingedagte na sy arms. Sterk bruin arms, nie die wit arms van ’n argitek wat heeldag agter ’n lessenaar sit nie. Sy hande is groot en bruin, die vingers sterk en lank soos ’n kunstenaar s’n. Hy verander ratte, en Salomé kyk weg. Dis nie snaaks dat Malan soos ’n buitelugman lyk nie. Oorsee of hier, argitekte se werk is meestal oral eenders. Hulle ontwerp planne en strukture, moet ook al die ander verpligtinge uitvoer wat daarmee gepaard gaan, vergaderings op boupersele met werkspanne en aandeelhouers hou. Malan kan dankbaar wees om ’n bekwame argitek soos Adam as persoonlike assistent te hê, en ’n paar ander wat hul pupilskap doen en sy planne klaarmaak.

So in die ry steek Malan ’n arm na agter uit. Hy kry ’n koelsak raakgevat en hou dit naby haar. Sy neem dit en sit dit op haar skoot. “Maak vir my ’n bottel water oop, asseblief, en kry vir jou ook,” sê hy sonder om na haar te kyk, want hulle steek ’n massiewe lang trok aan hul linkerkant verby.

Sy maak so, hou die bottel na hom uit. Toe die pad voor hulle skoon is, vat hy die bottel blindelings by haar, en sy vingers vou per ongeluk oor hare. Sy hand is droog en die vel hard. Salomé wag vir hom om die bottel terug te gee, en haar oë glip na sy mond terwyl hy groot gulsige slukke drink met sy oë op die pad voor hom. Sy lippe is styf teen die bottel se opening vasgedruk.

Sy ferm mond teen haar lippe, kom die aanloklike beeld by haar op, en sy kyk verward weg. Sy is lekker simpel.

Sy skroef haar bottel oop en kry ’n strooitjie langs die deur. Ag, sy kan seker nie langs die man sit en totaal onbewus wees van die krag en rou manlikheid wat hy uitstraal nie. Daar is iets rusteloos in Malan, iets wat beslis vroeër afwesig was. Dis te siene aan die wyse waarop hy in sy spieël kyk, die manier waarop hy ’n rat sal verander en dan aan die radio se knop draai, ’n blik na haar kant toe gooi en dan weer voor hom kyk. Dit moet die rede wees hoekom sy nou skielik oorbewus van die vent is. Sy het nie veel ooghare vir hom nie, maar dis gelukkig darem nie ’n vereiste wat betref die lewer van ’n fantastiese gebou nie.

Malan bêre die leë botteltjie langs sy deur en vra: “Het jy ander familie . . . u-hm, dis nou buiten jou suster, iewers in die land?”

Moet die stilte wees wat hom laat vra, maar hulle moet seker iewers begin as hulle nie voor die span op die perseel vir mekaar wil knor nie. “Dis net ek en my suster, Magdaleen. Sy’s twee jaar ouer as ek.”

Malan kyk in die truspieël. “Het jy darem so af en toe vir haar kom kuier?”

“’n Paar keer, vir my vriende en vriendinne ook,” antwoord sy en sien hulle het by die staalplaat-afskortings van die perseel gekom. ’n Sekuriteitswag maak oop en groet met ’n breë glimlag. Malan se gespierde arm rus op die oopgedraaide venster en hy lig ’n hand, groet en praat vlot Sesotho met die man wat sy vrae beantwoord voor hulle binnetoe ry. Sou Malan dalk op ’n plaas grootgeword het? Dis mos gewoonlik waar mense die taal vlot leer praat.

Haar gemoedstoestand verbeter toe sy die besige perseel sien. Hyskrane dra materiaal aan en twee groot sementmengers op lorries lawaai terwyl stootskrapers grond gelyk maak. Oral is mense aan die werskaf. Die grondvloer van die parkeerruimte word gegooi.

Sy wag dat Malan stilhou, klim onmiddellik uit en neem alles om haar belangstellend waar.

Malan slaak ’n sug van verligting toe Salomé uitklim. In haar kantoor met daardie oranje oorpak aan, kon hy met moeite sy oë van haar afhou. Nou verstaan hy eers regtig die gesegde dat sekere vroue in ’n goiingsak goed sal lyk. Selfs die erg gehawende ligbruin veiligheidskoene lyk sexy aan haar.

Is vroue nie veronderstel om meer as mans te praat nie? Sy pa reken so. Maar hel, hy kan Salomé se lang stiltes nie hanteer nie. Dit maak hom skoon kriewelrig. Sy is nie moedswillig nie. Daar is net ’n sekerheid in haar wat hy aanvoel, ook raaksien in elke beweging wat sy maak.

Nee flip, waaraan dink hy tog alles? Laat hy uitklim en die voorstellery oorkry.

Die vergadering moet aan die gang kom.

Hy klim uit, sluit die voertuig en sit sy helm op sy kop. Hy sien hoe Salomé haar grys-en-wit helm op haar kop druk en die bande verstewig. Daar is ’n vasberadenheid aan haar bewegings. Dan knik sy vir hom, glimlag en begin stadig naderstap in die rigting van die mans.

Malan gee lang treë om haar in te haal. “Hallo, julle almal. Ontmoet Ludwig Dippenaar, Salomé. Dit is Salomé Delport, sy is die nuwe projekbestuurder, Ludwig.”

Dit lyk asof laasgenoemde sy tong verloor het.

“Ludwig is die elektriese ingenieur,” brei Malan uit. “Salomé is die struktuuringenieur wat ons met die projek gaan help. Nee, magtig, ek moes net hulp in oom Markus se plek kry, want ek kan nie oral wees nie,” sê hy om die stilte te vul. Hel, die ouens kyk almal stom na Salomé. Hy het verdomp geweet ’n vroumens gaan die manne ontwrig.

“Noem my Salomé,” sê sy en draai sodat sy haar hand na nog ’n man kan uitsteek.

“Dis Adriaan, die sisteemingenieur,” kom Malan tussenbeide toe Adriaan te stadig na sy sin is.

“’n Baie aangename kennis,” glimlag Adriaan soos ’n kat voor ’n piering room. Hy hou Salomé se hand te lank vas, maar sy trek hare beslis uit syne en kyk na die man langs hom.

“Salomé, ontmoet Nelis Lemmer, die boukontrakteur,” sê Malan en hulle groet met die hand.

“Aangenaam, Nelis,” sê sy, draai na die laaste man in die kring en steek haar hand na hom uit.

Dié man neem haar hand in syne. “Etienne,” sê hy. “Ek’s die meganiese ou hier rond. Aangenaam, Salomé.”

Salomé knik: “Aangename kennis, Etienne.” Sy kyk om haar rond en dan na waar ’n subkontrakteur met werkers staan en praat.

“Kom ek gaan stel jou gou voor aan Tienie,” sê Malan, skielik oorhaastig om haar hier weg te smokkel.

“Sal julle my asseblief verskoon?” sê Salomé so in die wegstap oor haar skouer.

“Stap julle maar solank aan,” sê hy ergerlik vir die manne. Al sal hy nie kan hoor wat hulle sê nie, weet hy presies watter soort aanmerkings hulle gaan maak.

Tienie, die subkontrakteur, is ’n bedaarde, ouerige man, en nadat Malan hom aan Salomé voorgestel het, laat hy haar met gerustheid in sy sorg. “Ek gaan haal net gou my en Salomé se aktetasse in die kar sodat ons met die meeting kan begin. Wys haar asseblief waar die lokaal is waar ons altyd vergader,” vra hy vir Tienie.

Van die voertuig af sien hy hoe Salomé buk en nat sement in ’n hand vryf, dan haar hand aan haar oorpak afvee en orent kom.

Toe Malan weer by die manne aansluit, fluit Adriaan saggies deur sy tande. “Sy’s ’n beauty. Waar kom jy aan haar?”

“Ek het mos gesê Salomé is in oom Markus se plek aangestel. Hy sal ná sy beroerte nie weer die job kan doen nie,” sê Malan kortaf.

Ludwig glimlag breed terwyl ook hy in Salomé se rigting kyk, dan sy kop skud. “Daai girl . . . hel, sy laat ’n oorpak lyk na iets wat ’n model op ’n loopplank sal dra.”

“Dis net ’n gewone oorpak,” grom Malan en kyk hoe Salomé en Tienie staan en gesels.

“Ek praat van die girl binne-in die oorpak,” sê Ludwig en voeg by: “Maar wat, jy het mos ’n sexy girlfriend, so ons verstaan as jy nie kan sien wat ons sien nie.”

Malan help hulle nie reg oor sy verbreekte verhouding nie. “Komaan julle ouens, wees asseblief professioneel. Salomé is hier om ’n werk te doen.” Hy snap maar te goed wat hulle bedoel.

En boonop begin hy vermoed dat Salomé se bekoring met meer as net haar uiterlike te doen het, hoewel hy steeds nie sy vinger kan lê op presies wát dit is wat haar so aantreklik maak nie.

Hy begin omdraai, maar steek vas en kyk elkeen van die span ’n slag in die oë. “Daar’s iets baie belangriks wat ek eers by julle wil tuisbring.” Een van die twee sementmengers op ’n lorrie raak stil en Malan praat effens sagter, maar meet sy woorde versigtig af. “Onthou asseblief dat Salomé Delport éérstens ’n ingenieur is, en twéédens ’n vrou. Sy het ’n baie belangrike werk, in party opsigte belangriker as enigeen van julle s’n, want sy moet seker maak dat julle almal jul jobs ordentlik en betyds doen. Wees asseblief professioneel en respekvol en gee haar julle samewerking. Julle praat oor níks anders as die werk met haar nie, oukei?”

“Ek’s getroud,” verweer Nelis, “preek vir húlle.”

Almal knik en koor: “Natuurlik, hoe ken jy ons?” Maar Malan weet goed dat die manne té hard probeer om ernstig te lyk.

Nes hy verdomp gedink het! Hardwerkendheid en skerpsinnigheid het hom gebring waar hy vandag is. Hy moes sy intuïsie vertrou het. Die eerste teken was toe hy net skrams na Salomé se CV gekyk en dadelik oor haar aanstelling op loop gegaan het.

Die tweede teken was toe hy oomblikke later sy oë op haar gelê en onmiddellik die kluts kwytgeraak het. Hy moes net daar omgedraai en finaal vir Stefan gesê het dat hulle ’n ander plan moet maak.

Bleddie sot wat hy was! Hy kon vir Salomé gesê het hy gee nie om oor kontrakbreuk nie, dat sy gerus dadelik by ’n ander onderneming kan gaan werk, maar in plaas daarvan basuin hy dit uit dat hy ongetroud en boonop nie in ’n verhouding is nie. En dít net uit leedvermaak. Hy moes maar eerder gemaak het asof hy haar nie oor die foon teenoor haar suster gehoor praat het nie. Hy kon net nog nooit sy mond gehou het nie. Seker aan sy grootwordjare op die plaas te wyte; sy familie sê ’n ding mos altyd reguit, sonder om doekies om te draai.

Die Waterfall-projek is ’n dekselse groot kontrak. Hy het nie tyd vir suutjies trap rondom vroumense nie. Hulle moet juis vandag oor die skedule en die afleweringsdatum van die gebou praat. Hy hoop wragtig nie die meisie steek ’n speek in die tot dusver geoliede wiel nie.

Salomé het die hele pad terug die stilswye in die motor bewaar. Maar eintlik het verontwaardiging en ergernis haar al op die perseel in ’n wurggreep gehad sodat sy diep moes asemhaal om Malan nie sommer daar eenkant te roep en hom aan te praat nie. Dit sou onprofessioneel gewees het om dit voor die ander te doen en sy wou ook nie Malan se aandag van die pad af trek terwyl hy bestuur het nie. Maar toe hulle terugkom by die kantoor het sy vir Malan gesê daar is iets waaroor sy met hom in die privaatheid moet gesels.

Nou staan en kyk die vent al weer krities na haar lessenaar.

“Besef jy wat jy vandag by die perseel aangevang het met als wat jy kwytgeraak het?” vra sy sag en beheers.

Malan kyk na haar en frons. “Aangevang het? Nee, ek weet nie, maar sê liewer reguit wat jy daarmee bedoel.”

“Jy’t my gesag ondermyn deur die dinge wat jy vir die mans gesê het.”

Malan se staalgrys oë verskerp merkbaar en hy druk sy duime by sy jeans se agtersakke in. “Met wat? Ek verstaan nie?”

“Jou presiese woorde aan die span was: ‘Onthou asseblief dat Salomé Delport éérstens ’n ingenieur is, en twéédens ’n vrou.’ Hoekom moet daar onderskeid getref word tussen my vroulikheid en my beroep? Jy kon netsowel vir die ouens gesê het dat jy nie veel vertroue in ’n vroulike ingenieur het nie. En toe vrá jy hulle om mý respekvol te behandel, en om hul samewerking aan my te gee. Asof ek nie op my eie twee voete kan staan nie. Jy’t my CV gelees. Jy behoort tog te weet dat ek nie ’n sukses van daardie groot projekte sou gemaak het as ek myself nie teenoor mans kan handhaaf nie.”

Malan sug. “Jy’s ’n vrou, jy weet nie hoe mansmense se koppe werk nie. Jy’t nie ’n idee hoe hulle agteraf oor vroue praat nie.”

Sy lag saggies met ’n goeie skeut ironie bygevoeg. “O, ek weet hoe mans dink, moenie ’n fout maak nie. Ek het nog nooit met toe oë en ore saam met mans gewerk nie.” Sy vou haar arms. “Al wat jy reggekry het, is om my foolish in hul oë te laat lyk.”

“Ek stem nie saam . . .” begin Malan, maar bedink hom dan blykbaar. “As dit werklik die geval is, is ek jammer.”

Die blikskottel is g’n jammer nie. Hoekom sal hy op dieselfde dag sy opinie oor ’n vroulike ingenieur verander? Dink hy miskien sy is onnosel? Soos sommige mans kies hy maar net die maklike uitweg – sê hy is jammer en hoop sy vergeet dit.

Salomé trek haar asem in en blaas dit sugtend uit. “Jy kan my by Stefan slegmaak, maar as jy van die projek ’n sukses wil maak, sal jy moet dink voor jy iets chauvinisties oor my voor die werksmense kwytraak. Jy sal my moet vertrou . . . my uitlos om my werk te doen.” Sy sal noodgedwonge ook saam met Malan aan die projek moet werk. Maar dis goed dat hy weet hy moet sy woorde in die toekoms tel.

Malan vou sy arms, staan gemaklik met sy bene effens uitmekaar en knik asof hy skielik oor alles met haar saamstem, maar sy bespeur tog ’n tikkie behoedsaamheid in sy oë.

Malan laat sy oë oor Salomé gly. Dit lyk asof sy in ’n sandput gespeel het. Hy lyk seker nie beter nie, maar hoe kan dit anders? Die aarde is droog en teen drieuur se kant het daar ’n sterk wind opgesteek wat rooi stootskrapersgrond, bousand en droë sement die wêreld vol gewaai het.

Salomé staan steeds vir hom en kyk. Sy het flippen skerp ore, dis nou maar klaar. Hy het nie kon raai sy het gehoor wat hy vir die manne gesê het nie. Op pad terug was sy gedagtes vol werksake.

Hy was nogal beïndruk met hoe Salomé op site met die werksmense gepraat het. Kort en bondig. Hy dink hulle was ook beïndruk met haar kennis en insig in hul onderskeie vakgebiede, maar hel, hoe vergeet ’n man dat sy ’n vroumens is?

Sy ruik soos een, loop soos een en is boonop ’n lus vir die oog.

Maar kyk nou net weer: As dit ’n man was en hy wat Malan is, het die ingenieurs se samewerking gevra, sou so ’n man g’n woord daaroor gerep het nie. ’n Vrou op die perseel krap nou maar eenmaal die hele genderkwessie oop en veroorsaak komplikasies. Maar nou ja, hy het ná alles vanoggend onwetend op Salomé se fyngevoelige toontjies getrap met sy uitlatings.

Salomé het twak gepraat . . . sê hy is ’n chauvinis. Hier werk genoeg vroue in die kantoor, maar dis ’n ander storie om ’n vrou aan te stel oor ’n spul mans wat hel-uit rof kan wees.

Nee tog, hy het nie tyd om te staan en ginnegaap nie, hy sal tot laatnag moet werk aan planne wat een van sy ander assistente sal moet klaarmaak. Adam het reeds te veel hooi op sy vurk. Hy gaan sy saak eerder nie nou verder verdedig nie.

Hy draai om en sien Salomé lig haar kop waar sy by die lessenaar staan. “Ek reken ons het die probleem opgelos,” sê hy op ’n toon wat bedoel is om enige verdere diskussies hok te slaan.

Sy glimlag, maar hy kan nou al sien dat iets daaragter skuil. Hy bespeur dieselfde spottende houding wat sy tydens die onderhoud ingeneem het. “Maar natuurlik. Kom vra gerus indien daar iets is waaroor jy onseker is, hoor?”

Oomblikke lank staar hy haar verbluf aan, draai dan om en stap met lang treë by haar kantoor uit. Daardie groenoog-wipstert moenie dink sy gaan kat-en-muis met hom speel nie.

“Haai, maar dis darem gaaf van jou om te kom inloer,” lag Salomé verras toe Magdaleen ná werk met ’n paar inkopiesakke by haar huis inval. Sy het nog altyd Magdaleen se amper swart hare bewonder wanneer dit so los en blink oor haar skouers val. Haar sus se noupassende rooi rok beklemtoon haar slanke kurwes. Mm, sy dra steeds hemelhoë hakskoene, soos altyd min gepla oor haar lengte.

“Jong, ek het jou so gemis toe jy in New York was dat ek sommer elke dag wil kom inloer!” lag Magdaleen. “Dis net hierdie huis wat my tog ’n bietjie hartseer maak.” Haar lag eindig in ’n suggie. “As ek hier instap, dink ek net aan Ma, maak nie saak dat hier hóé lank ander mense gebly het terwyl jy weg was nie.”

“Dis sleg, ek weet. Dalk maak ek soos jy sê en skaf ’n ander huis aan, en kom weg van al die herinneringe. Maar daar’s ’n paar meubels en erfstukke waarvan ek beslis nie ontslae gaan raak nie.”

Magdaleen knik. “Ek pas my erfstukke van Ma soos goud op.”

“Tee, wyn of water?” vra Salomé.

“’n Wyntjie sal nou lekker wees ná die dag se dolle gejaag.” Sy begin in die gang af stap. “Ek gaan net gou hande was.”

Salomé haal ’n bottel wyn uit die yskas en kry glase. Tog snaaks hoe hul voorkoms verskil, al is hulle susters. Magdaleen trek meer op hul pa, en sy wat Salomé is, lyk weer op ’n haar na soos hul oorlede ma.

Magdaleen loop staan in die binnedeur wat na die portaal en sitkamer lei. “Genade, Sus, die huurders het mos lankal uitgetrek. Wanneer kom hulle hul meubels haal? Hier’s nie plek vir ’n muis in jou sitkamer nie. Kyk net hoe staan jou pragtige erfstukke tussen hul goed ingedruk.”

“Hulle sê hulle het nie plek in hul nuwe woonstel vir als nie. Die huurder het gesê haar kinders van Kroonstad sal ’n trok moet huur om die goed te kom haal, maar sy kon nie sê wanneer nie, want die skoonseun werk elke naweek.”

Sy sal tyd gee, dan miskien maar self ’n vervoerwa kry om die spul goed na die vrou se kinders te stuur. Sy kan seker ’n maand of twee wag, want die sitkamer word nie op die oomblik gebruik nie. Hier staan buitendien ’n spul bokse wat sy die een of ander tyd sal uitpak. Gelukkig is daar darem die woonkamer, waar ’n paar banke en die TV staan, wat sy wel kan gebruik.

“En toe? Wat het vanmiddag gebeur, hmm? Jy druk die foon sommer in my oor dood,” sê Magdaleen toe hulle elkeen met ’n glasie wyn in die woonkamer sit. Sy lag: “Toemaar, ek het geraai iemand het ons gesprek onderbreek. Was dit Malan?”

Salomé drink ’n slukkie, knik dan. “Maar hy’t darem nie als gehoor nie, so dit is oukei.” Dis nie altyd wys dat Magdaleen alles weet nie. Sy kan dalk Malan se stelling oor sy beskikbaarheid letterlik opneem en aandring dat Salomé ’n ontmoeting tussen hulle reël.

Daardie vent sal Magdaleen se hart in stukkies breek, soos al die mans voor hom. Sy is baie lief vir dierbare Magdaleen met haar sagte geaardheid, maar hulle verskil soos dag en nag wat betref hul siening van en optrede teenoor mans. Magdaleen dink elke keer sy het die volmaakte man en sielsgenoot gevind en dan gee sy haar alles, maar op die ou end wil die ouens hulle nie verbind nie, en dan is die arme Magdaleen weer miserabel en voel sy verwerp.

Sy sal daardie arrogante Malan nooit aan Magdaleen voorstel nie. Haar eie werk en persoonlike lewe is gelukkig so ver verwyderd soos die ooste van die weste.

Magdaleen sit haar glasie neer, diep ’n tydskrif uit haar handsak op en sit dit langs haar op ’n tafeltjie neer. “Jy kan self verder oor Malan lees wanneer jy tyd kry.”

Salomé knik en lig haar voete op die bank. Sy het reeds vinnig by die werk se kleedkamers deur die stort gespring om van die dag se sand en stof ontslae te raak, maar sal later voor slaaptyd nog ’n skuimbad vat en dalk dan deur die tydskrif blaai. Kan nie skade doen om meer oor jou baas te weet nie.

Magdaleen maak ’n inkopiesak oop en lig materiaal glimlaggend uit. “Jong, kyk net na die pragtige lap wat ek raakgeloop het.”

Salomé kyk in verwondering na die glansende materiaal wat aan meermin-kleure herinner. Sy steek ’n hand uit en voel aan die stof met sy blou, groen en turkoois tinte. “Sjoe, dis asemrowend mooi. Het jy ’n patroon ook gekry?”

“Nee, net gare en die twee verskillende soorte netmateriaal vir onderrokke. Die materiaal is vir jou, ’n tuiskomsgeskenkie. Omdat ek wil hê jy moet weer kom dans noudat jy terug is van oorsee. Niemand ontwerp in elk geval mooier ballroom dancing outfits as jy nie.”

Salomé sit ’n oomblik sprakeloos, spring dan op en gee Magdaleen ’n drukkie. “Ag, dankie, Sus! Jy is ’n skat. Jy’t nou regtig my dag gemaak. Ek kan nie wág om met die materiaal te werk nie.” Sy gaan sit weer en drink ’n slukkie wyn.

Salomé hou daarvan om ’n vrou te wees. Sy hou van mooi klere en juwele en lekker ruik, en soms van swaarder grimering met kunswimpers en blinkertjies op strategiese plekke – die kere wanneer sy by kampioenskapsbyeenkomste dans. Sy glimlag. Daar is plek vir ’n oorpak én mooi dansrokke in haar lewe. Als op die regte tyd.

Magdaleen kyk eetkamer toe. Salomé volg haar blik na waar daar ook ’n spul bokse opmekaar staan en wag om uitgepak te word. Die afgelope twee weke sedert die huurders uitgetrek het en die verwers weg is, het sy haar jis af gewerk om die huis skoon te kry. Saans het sy doodmoeg in diepe slaap weggesink. En toe hoor sy by ’n ou professor van haar dat Verster & Rademeyer Argitekte ’n struktuuringenieur soek. Sy het inderhaas haar CV afgestof en net betyds ingegee om vir die pos in aanmerking te kom.

Sy het nie verwag om dadelik aangestel te word en te begin werk nie. So, ja, haar huis is erg deurmekaar met al die bokse wat gedeeltelik uitgepak rondstaan.

“Ek sal nog by die uit- en wegpak kom, moenie aanbied om my te help nie,” waarsku sy haar sus wat graag orde skep.

Magdaleen is dadelik op die verdediging. “Ek kyk maar net. Ek sien jy’t nog nie jou masjiene weggepak nie. Sal jy met die nuwe werk tyd kry vir ontwerp en klere maak?”

Salomé drink ’n slukkie wyn. Haar hande jeuk om weer met lap te werk. Sy het allerhande laslappiemateriale weggepak . . . moet iewers in ’n boks wees. Maar sy gaan eers ’n dansrok maak met dié mooie lap van Magdaleen en dan met daardie beplande laslapdeken begin.

“Ek gaan tyd maak, hoewel ek by die werk kniediep in ’n groot projek is wat baie tyd in beslag gaan neem voor ek rustiger kan wees.”

Magdaleen vul hul glasies, gaan sit weer en drink eers ’n slukkie. “So, wanneer gaan jy by ons kom inval en dans?”

Salomé kyk na ’n foto van hul ma in ’n raam op ’n tafeltjie. Haar mooie ma in ’n spierwit, sprokiesagtige enkellengte-balletrok en balletskoene, haar wilgerlatlyf en slanke nek en arm grasieus agteroor geboog, haar witblonde hare hoog op haar kop in ’n bolla saamgevat agter ’n diamanté-kroontjie. So mooi en broos soos ’n Dresden-poppie, maar ook streng en ongenaakbaar wat oefen en tegniek betref. Haar ma was nog strenger teenoor haar twee dogters as met die leerlingdansers toe sy haar eie dansstudio oopgemaak het. As haar ma geweet het Salomé het die afgelope drie jaar oorsee net ’n paar keer gaan dans, sou sy seker stuipe gekry het.

Dis sowaar al ses jaar sedert die motorongeluk waarin hul ma oorlede is, en Salomé mis haar steeds. Dis anders as die verlange na haar pa wat van haar ma geskei is toe sy en Magdaleen nog maar kleuters was. Hy het oorsee verhuis en was nooit werklik deel van hul lewe nie, te besig met sy nuwe gesin in Engeland.

“Jy’s seker naweke vry om te doen wat jy wil?” verbreek Magdaleen haar gedagtegang.

Salomé knik. “Daar sal dae kom wat ek tot laataand werk, maar ek sal naweke tyd maak. Ek kan nie wag om in jou nuwe dansstudio te begin dans nie. Dalk kom ek sommer Saterdagoggend al oefen.”

Magdaleen se bruin oë sprankel. “Ag, mooi, man! Het jy darem nog oefenklere?”

“Tights en ’n eenstuk. Maar ek sal nog moet aanskaf.”

“Daar is ’n paar van jou kort dansrokkies in een van my kaste. Maar jy moet ook ’n spul iewers in een van die bokse hê. Soek hulle en hang hulle betyds uit. Dit sal dien tot jy ’n paar nuwes gemaak het.” Magdaleen sit haar glas neer. “Begin sommer vanaand al met strekoefeninge. Jy kan nie tot die naweek daarmee wag nie. Jy ken die program, weet hoe belangrik strek is.”

Salomé lag. “Hei, moenie stres nie. Ek het mos gesê ek sal daar wees.” Sy is nie heeltemal onfiks nie, want sy het steeds soggens gedraf. “Maar jy moet verstaan dat ek tegnies baie het om in te haal. Moet tog nou nie soos ’n skooljuffrou wees wanneer ek foute maak nie, oukei?”

Magdaleen lag droogweg. “Jy’t dans met moedersmelk ingeneem. Daar is nie ’n manier waarop jy enige passies kon vergeet het nie.”

Salomé loop agter Magdaleen aan voordeur toe.

“Ag, dis lekker om jou terug te hê, Sus. Maar ek moet nou eers my ry kry. Soggens staan ek baie vroeg op vir die aërobiese klasse en smiddae neem ek die buitemuurse danslesse waar. Saterdagoggende begin ek op die gewone tyd klas gee, so jy kan lekker kom oefen. Saans is ek reeds voor sesuur daar, al kom die eerste dansers eers halfsewe aangedrentel.”

Salomé knik. “Dis goed dat jy my sê.”

Magdaleen maak die deur oop. “Ek sal jou rokke wat daar by my is, soek en saambring. Net vir ingeval jy nie kans kry vir uitpak nie. Darem gelukkig dat mens al die danse, van die foxtrot tot die wals en jive, ook in ’n kort rokkie kan doen. Kom ’n ruk vroeër as jy kan.”

Salomé knik. “Ek sal. As iets voorval, bel ek jou.” Sy gee haar sus ’n drukkie, wag dan tot sy sien dat sy wegry voor sy die deur sluit. Haar oog val op die tydskrif toe sy die lig wil afskakel.

Sy huiwer, vat dit dan saam badkamer toe.

Sy lê al ’n hele rukkie in die skuimbad en blaai deur die tydskrif. Malan is baie aantreklik, moet sy toegee, en blaai om. Toe sy haar kom kry, lees sy ewe nuuskierig wat daar oor sy liefdeslewe geskryf staan. Vir liefde in sy lewe is daar nie veel tyd nie, maar Malan erken ruiterlik dat hy geen monnik is nie. Op ’n vraag oor die verskillende meisies wat hom soms na geleenthede vergesel, wou Malan geen kommentaar lewer nie. Oor sy huidige meisie wou hy ook niks verklap nie, maar hy het darem gesê hulle is nie ernstig nie.

Salomé gooi die boek op die vloermatjie neer. Om te dink Magdaleen het die hele artikel gelees! Ook maar goed dat sy nie weet dat Malan gesê het sy moet vir haar suster sê hy is ongetroud, en al daardie jazz nie.

Salomé sak sugtend laer af in die bad. Dit maak nie saak dat Magdaleen suksesvol en boonop beeldskoon is nie, sy kies altyd mans wie se belangstelling maklik dwaal, daarom dat sy al weer nie ’n ou het nie. Sy wat Salomé is, weet wat haar suster in elke verhouding verkeerd doen, maar hoe oortuig sy Magdaleen om nie so afhanklik van mans te wees nie? Sy gee te vinnig haar alles vir ’n man, en wanneer hy gekry het wat hy wil hê . . .

Magdaleen het tog ook gehoor hoe hul ma altyd gesê het: “Hou ’n stukkie van jou hart vir jouself. Wees ’n bietjie selfsugtig wanneer dit by hartsake kom.” Maar Magdaleen is te gretig vir manlike aandag. Dis blykbaar net sy wat Salomé is wat haar ma se woorde ter harte geneem het.

Dankie tog dat sy op hoërskool al besluit het sy sal nooit haar lyf vir ’n ou weggee asof dit niks is nie, daarvoor het sy te veel respek vir haarself. Sy is nie verkramp nie, glad nie, maar heg waarde aan haarself.

Salomé smeer seepskuim oor haar vel. Haar ekskêrel, Jacques, sou nie kon kla dat sy koud was nie. Inteendeel. Veral tydens die motorfietsritte waarop hy haar saamgeneem het. Dit was lekker om saam met hom te wees, maar sy was beslis altyd in beheer van presies hoeveel sy gee.

Sy lê agteroor in die bad en spoel haar af. Sy het nog nooit haar hart geheel en al vir ’n man gegee nie en sal ook nie in die toekoms nie. Sy gaan g’n aan ’n man die mag gee om haar hart te breek nie. Sy het mos gesien wat met haar ma gebeur het en hoe die mans Magdaleen behandel wanneer hulle beheer oorneem.

Salomé vat ’n handdoek raak en begin haar afdroog. Dis seker maar ook hoekom dit nie met Jacques uitgewerk het nie. Sy is nie spyt dat sy eerder New York toe is agter werksgeleenthede aan as om die verhouding voort te sit nie. Gelukkig kon hulle nog vriende bly.

Bloudruk vir die liefde

Подняться наверх