Читать книгу Onverwags myne - Susan Pienaar - Страница 4
2
ОглавлениеLeonardo gaan staan voor die spieëlkas, sit die bril daarop neer en loop om die plek deur te kyk. Die meubels is voldoende en die huis skoon, nes die foto’s op die internet gelyk het.
Hy gaan staan by die sitkamervenster en kyk buitetoe.
Daar tel die meisie nou die kussing op, draai om en verdwyn daarmee uit sy gesigsveld. Sjoe! Sy het die mooiste lang hare wat hy in ’n lang tyd gesien het. Sy kom terug, loop maak die tuinslang oop en spuit die blomme nat. Haar denimkortbroek en geel bloes lyk vrolik teen die kleurvolle agtergrond van blomme en groen gras. Sy glimlag terwyl sy haar voete skoonspuit.
Die donker hare blink met ’n rooierige glans in die son en hang tot amper in haar middel. Dis baie hare. Is dit alles haar eie? Haar neusie is fyn, haar gesiggie skraal … Sy is die mooiste meisie wat hy in sy lewe gesien het. Dalk omdat sy so spontaan en vreugdevol voorkom?
Sjoe, daai lyfie en daai bene!
Hy glimlag sinies. Dit kan nie haar eie hare wees nie, daarvoor is dit te lank en te perfek. Van sy vorige meisies het verlengstukke in hul eie hare gedra.
Sy is kort, miskien so een komma ses meter, en fyn gebou met kleinerige hande en voete wat by haar lyf pas.
Leonardo draai weg, druk ’n hand deur sy hare en sug. Hy het byna Ryan se kop afgebyt toe hy sy versnipperde hare in die spieël sien. Die kleur op die boks is ligbruin, so hoe de hel het sy hare so donker uitgekom? Maar dis gedane sake en help beslis, want die meisie het met afgryse op haar gesig na hom gestaar toe hy haar na hom sien kyk het.
Hy het skoon vergeet van sy pet op die sitplek, maar darem onthou om sy skouers te laat hang.
Dis nie ’n lekker gevoel wanneer ’n meisie met afsku na hom kyk nie; vir hom is dit ongewoon en vernederend, maar hy is hier om te werk, en meisies, veral stunning meisies soos daai girl daar buite, is nie op sy agenda nie. Hy glimlag wrang: “Dream on, Leonardo! Geen girl by haar volle verstand sal na jou kyk soos jy nóú lyk nie.”
Hy haal sy skootrekenaar uit die sak, sit dit op die lessenaar neer en druk die kragprop in voor hy dit aanskakel. Gelukkig is hy geesdriftig oor sy ontwerp. Hy haal die lêer met sketse en penne ook uit die sak, want hy wil so gou moontlik begin werk en dit klaarmaak.
Later vanaand sal hy sy klere ophang, dan gou gaan kos koop. Hy moet onthou om die lysie, met die nodige kruideniersware en skoonmaakmiddels wat sy huishoudster vir hom opgestel het, saam te vat sodat hy laatmiddag so gou moontlik by die inkopiesentrum kan klaarkry.
Amanda drink ’n slukkie water.
Tessa sit op een van haar gemakstoele met haar bene uitgestrek en haar voete op ’n tafeltjie met ’n handdoek daaroor. Sy druk room uit ’n buisie en begin haar voete masseer. “Jy het in die week by die werk iets gesê van ’n nuwe intrekker in tannie Hanna se plek. Is hy darem iets vir die oog?”
Amanda sit die glas neer, vreemd ongemaklik om oor die man te praat. Sy sal maar moet vertel, anders gaan Tessa aanhoudend vrae vra. “Hy het verlede Sondag ingetrek. Hy het net ’n tas en ’n rekenaarsak uit sy kar gehaal. Tot vandag toe het ek hom seker drie keer skrams gesien. Soggens draf hy voor die son opkom en weer laataand. Ek dink nie hy wil gepla word nie. Hy sit seker heeldag voor daai rekenaar, want ek hoor nie die TV nie.”
“Maar is hy aantreklik? Hoe lyk hy?”
Amanda sug. Sy wil nie iets negatiefs omtrent die arme man sê nie. “Hy is lank, met donker hare en … uhm, hy dra ’n bril.” Sy skram liewer weg van sy hare af.
Tessa frons. “Dit sê net mooi niks nie. Het hy ’n mooi gesig? ’n Mooi lyf? ’n Man wat gereeld draf moet ’n to-die-for lyf hê.”
Ag, Tessa sal hom een of ander tyd self sien wanneer sy kom kuier. “Ek kon sy gesig nie mooi sien nie, want sy kuif hang amper tot by sy bril se raam. Sy hare is, dit … uhm, lyk nie goed nie. En sy klere lyk soos dié van ’n branderplankryer.”
Tessa kyk nuuskierig na Amanda. “Soos wat?”
“Sandale en kortbroeke wat bo die kuite eindig en oorgroot loshangende hemde met blompatrone op gekleurde katoen. Ek kon nie sy lyf sien nie.”
“Is hy darem netjies … uhm, ek bedoel, is sy klere en sy hare darem skoon?”
“Ek kon nie sien nie, want hy dra meestal pette. Jy sal glad nie van hom hou nie, Tessa, glo my. Hy is ’n nerd wat met krom skouers loop.” Amanda is skielik moeg vir Tessa se nuuskierigheid.
Sy kan verstaan dat lang vroue soms met krom skouers loop om hul lengte weg te steek, maar mans behoort mos trots op hul lengte te wees.
“Oukei, genoeg. Ek wil liewer niks verder hoor nie,” gooi Tessa tou op en vryf die oortollige room met ’n handdoek van haar voete af.
Amanda kom orent. “Ek moet by my plekkie uitkom. Ek het wasgoed om te was.”
Tessa kreun. “Al weer op ’n Sondagaand? Hoekom kry jy nie maar vir jou ’n tuimeldroër nie?”
“Nee wat, tuimeldroërs trek te veel krag. Ek was en spoel my klere, dan laat lê ek dit in die wasmasjien in koue water tot Maandagoggend toe. Dan spindroog ek sekere goed en hang hulle op. My bloese en toppies word nat opgehang. Dit kreukel nie in koue water nie.”
Tessa kyk op. “Wat doen jy nou met jou onderklere? Ek bedoel, dis mos nou ’n man wat daai draad saam met jou gebruik.”
“Ek hang my onderklere nog altyd op die toegeboude agterstoepie op. Dis heerlik warm daar.” Sy glimlag. “As ek Maandagoggende nie halfdag gewerk het nie, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie. Ek haat dit dat my beddegoed en handdoeke heeldag in die son hang en stof opgaar.” Sy haal haar motorsleutel uit haar handsak en stap deur toe.
“Sien jou môreoggend,” groet hulle oor en weer voor Amanda in haar motor klim en wegry.
Amanda staan hande in haar sye en kyk in ongeloof na die wasgoed wat sy vroeg vanoggend netjies op die twee gespande drade opgehang het. Sy kan voel hoe haar bloeddruk styg.
Haar lakens en handdoeke en jeans en bloese is eenkant toe gestoot, met pennetjies en al! En die duvet wat sy oor twee drade gehang het sodat dit goed droog kan word, hang nou opgeskuif op een draad en raak aan die sement. Geblomde hemde hang aan hul krae vasgepen; saam met gekleurde kortbroeke en onderbroeke hang sy wasgoed twee drade vol. Die drade is oud en slap sodat die hemde amper aan die sementblad raak.
Sy gooi die twee lakens en kussingslope oor ’n skouer en haal ’n nuwe bloes van veerligte materiaal van die draad af en bekyk dit. Nee, sy moenie nou in trane uitbars nie … Sy doen verdomp al die moeite om haar bloese liggies met die hand te was en nat op te hang, nou is dit gekreukel. Ag nee! Hier hang ’n los draadjie by ’n skeurtjie voor op die bloes waar dit aan die draad gehaak het.
Wie dink die vent is hy om haar klere en linne op te skuif asof dit vuilgoed is? Kyk net watter soort klere dra die man! Sal hy ooit weet hoe sy gewik en geweeg het voordat sy dié bloes aangeskaf het? Hoe sy steeds sente omdraai om smaakvolle klere vir haar en haar suster te kry? Dis ’n pragtige bloes van goeie gehalte, al was dit op uitverkoping.
Sy gaan die vent die waarheid vertel. Gou gooi sy die lakens en kussingslope terug oor die draad, vat net die bloes saam en stap na sy kothuis toe.
Sy klop aan die deur, wag tot die deur oop is en hy voor haar staan. “Meneer, daar is een ding wat jy mooi moet verstaan, en dis nie onderhandelbaar nie,” val sy weg toe hy woordeloos na haar kyk. “Ek werk net één dag in die week nie, en dis Sondae. Maandae werk ek halfdag. Ek sit of werk nie by die huis soos jy nie. Ek was my wasgoed op ’n Sondagaand en hang dit vroeg Maandagoggend voor werk op die draad. Kies enige ander dag om jou wasgoed te was en op te hang. Jy ráák nie weer aan my klere nie.”
Hy druk sy bril hoër op. “Hoekom is jy so kwaad daaroor? Ek het ure gewag sodat jou wasgoed kon droog word voor ek my klere opgehang het.”
Amanda is stomgeslaan. Genade, maar die man het ’n mooi stem. Hy praat mooi Afrikaans sonder aksent en bly boonop kalm terwyl sy duidelik van woede wil uitbrand en op die aanval is, maar hy moet weet waar hy met haar staan, dis nou maar klaar.
Amanda hou haar bloes in die lug. “Dié bloes is nuut en het nou ’n haakplek, en die meeste van my klere is gekreukel; dís hoekom ek ontsteld is. My klere is nie goedkoop nie. Ek hang dit nat en netjies op sodat ek dit nie hoef te stryk nie.”
Hy druk die bril weer op sy neus vas. “Ek is werklik vreeslik jammer. Ek sal betaal vir die skade wat jy gely het.”
Sprakeloos kyk sy hom aan. Sy het nie verwag hy gaan om verskoning vra en boonop aanbied om vir die bloes te betaal nie. Nou laat hy haar onredelik en sleg voel omdat sy sonder om te groet tot die aanval oorgegaan het.
“Dis oukei, dis net … ek werk in dié klere en in my beroep moet ek altyd goed versorg lyk.” Wat kan sy nou meer sê terwyl die man vir haar staan en kyk? “Laat ek jou ’n tip gee. Hang jou hemde onder by die some op, nié aan die krae nie. Ek hoop jy het iemand om jou gekreukelde hemde vir jou te stryk.” Sy draai om en stap terug wasgoeddraad toe.
Leonardo skud sy kop en sug verlig. Bleddie hel, hy het net betyds onthou om sy bril en keps op te sit. Die girl het sy versnipperde hare nou wel daardie eerste dag gesien, maar nogtans steek die pet die ergste darem weg en laat dit hom beter voel.
Die meisie het in sy oë gekyk en hom nie herken nie.
Gelukkig dat hy onthou het om sy skouers te laat sak en krom te staan.
Die girl is beautiful, veral toe haar wange pienk geraak het van ergerlikheid. Sy het die mooiste blou oë wat hy in sy lewe gesien het. Nie ’n uitgewaste blou nie … donkerblou … amper persblou, met lang, digte swart wimpers. En haar fyn roomkleurige vel het nie ’n merkie of vlekkie op nie.
Hy gaan sit voor sy rekenaar, maar staar onsiende na die skerm. Dit was ’n helse vervelige en moeilike oggend. In sy hele lewe het hy nog nooit sy eie wasgoed gewas nie. Eers het hy die hemde met sy hande probeer was, maar die krae wou nie skoon kom nie, toe gooi hy al sy klere in die seepwater in die bad en laat dit week. Later klim hy toe in die bad en trap dit kaalvoet, en laat dit weer week. En so het hy aangekarring tot dit skoon en uitgespoel was. Om te dink hy het nogal gesorg dat hy tien hemde, tien broeke en tien onderbroeke het, en nou het hy nie ’n enkele skoon hemp of onderbroek om môre aan te trek nie.
Die tydrowende gedoente om sy klere gewas te kry het hom aan die dink gesit. Hoe hy dit as vanselfsprekend aanvaar het dat sy klere altyd silwerskoon en gestryk en netjies in sy inloopkas hang, en sy onderklerelaaie netjies en volgens kleurkode gerangskik is. Dat hy sy werkers vir die gerief betaal, is nie hier ter sake nie.
Hy sal vir hom ’n wasmasjien moet aanskaf. En ’n werker kry. Hy gaan verdomp nie weer so met wasgoed sukkel nie.
Hy druk ’n hand in sy versnipperde hare, maar trek dit gou met ’n swetswoord uit. Hy het waaragtig nie daaraan gedink dat die girl se wasgoed skade gaan kry toe hy dit opsy geskuif het nie. Idioot wat hy is! Hoe de hel kon hy so ’n onnosele ding aangevang het? Teen daardie tyd was hy natuurlik so geïrriteerd dat hy uit sy vel wou klim, maar nogtans!
Sy het hom soos ’n buffel laat voel. Met reg ook.
Dit laat hom nou ook met ’n probleem. Hoe gaan hy haar vir die bloes vergoed? Hy skat sy dra ’n nommer twee-en-dertig … Maar waar kry hy daai spesifieke bloes? Dalk moet hy ’n bietjie window shopping gaan doen en kyk wat in vroue se winkels te koop aangebied word. Maar nee, iemand kan hom herken as hy rondslenter. Dalk sal ’n geskenkkaartjie by ’n boutique die ding doen. Maar hoeveel betaal mens vir so ’n bloes?
Hy het nog nooit vir enige meisie klere gekoop nie. Sy persoonlike assistent bestel gewoonlik die parfuum of blomme wanneer hy ’n geskenk vir ’n meisie of sy ma wil gee. Dalk moet hy liewer vir Ryan bel en verduidelik wat gebeur het, en hom dan vra wat hom te doen staan.
Hy kry sy foon, bel Ryan en verduidelik wat hy beplan.
“Nee, magtig, Leonardo, jy gaan jou cover blow. Jy is ’n arm nerd, my ou. Tree op binne die karakter wat ek vir jou geskep het,” stoom Ryan voort. “Jy ry ’n ou kar, jy trek cheap aan, jy kan nie by ’n blessitse boutique vir ’n girl ’n gift card van eenduisend vyfhonderd rand gaan koop nie. Dit gaan hel-uit suspisieus lyk, en die vrou laat wonder of jy ’n bank beroof het!”
Moet Ryan nou verdomp nog staan en invryf hoe sleg hy lyk? “Nou by watter klerewinkel moet ek ’n geskenkkaartjie gaan kry? En hoeveel dink jy betaal mens vir so ’n bloes … uhm, hoeveel moet ek spandeer?”
“Niks meer as vierhonderd rand nie, my ou. Soek ’n Jet of Pep Stores of … uhm, ’n Donna Claire-winkel, so iets. Gaan druk die kaartjie vanaand onder haar deur in. En bly om vadersnaam weg van daai girl af. Sy kan vir jou moeilikheid maak, jou dalk herken as sy jou te veel van naby sien.”
Ergernis stoot galbitter in Leonardo op. As dit nie was dat hulle vriende is en Ryan vir hom werk nie, en Ryan hom boonop uit sy benarde situasie gehelp het nie, sou hy waaragtig nie toegelaat het dat hy so met hom praat nie. “Oukei, ek verstaan. Jy preek verdomp erger as my ma.”
Ryan is ’n paar tellings stil. “As ek jou ma was, sou ek –”
“Ja, ja, ja,” val hy hom in die rede. “Hoe lyk dit vandag daar by julle?”
“Niks beter nie.” Ryan lag droogweg: “Het jy al vandag se koerant gesien?”
Leonardo se maag voel skielik hol. “Nee.”
“Gaan kry hom, my ou. Die hele wêreld soek jou.”
“Thanks. Sal weer bel.” En hy sny die oproep af.
Leonardo gryp sy bril en keps en loop kry sy beursie. Hy gaan sommer nou die wasmasjien en ’n paar ander goed ook aanskaf.
Dinsdagoggend maak Amanda haar voordeur oop en sien ’n koevertjie aan die binnekant lê. Sy tel dit op, maak dit oop. Eers kyk van wie af dit kom. Mm, sterk handskrif. Dis ’n geskenkkaartjie van Jet.
Sy lees gou.
Hoop die geld is genoeg om jou bloes te vervang. Ek vra opreg om verskoning. Van: Jou buurman.
Amanda staar met ’n frons na die vierhonderd rand wat met ’n pen op die geskenkbewys aangeteken is. Die bloes het haar tweehonderd rand by ’n uitverkoping uit die sak gejaag. Sy druk die kaartjie en koevert in haar handsak en stap na haar motor onder die afdak.
Later.
Sy is laat vir werk en het nie nou tyd om te dink nie.
Met die intrapslag by Crazy Cut, sien Amanda dit gaan reeds dol. Haardroërs raas terwyl sy almal in die verbygaan na haar werkstasie groet. Soos altyd heers hier ’n gees van welwillendheid tussen kliënte en werkers.
Haar eerste kliënt, Julia, sit reeds vir haar en wag met ’n handdoek oor haar nat hare gevou. “Net ’n trim en droogblaas, soos jy gewoonlik maak,” sê Julia nadat hulle gegroet het.
Tessa kom staan ’n ruk later by Amanda, hou haar foon na haar uit en fluister: “Dis Larry. Hy bel na my toe omdat jou foon oorgaan na voicemail.”
Genade, sy is besig met hare sny! Sy praat nooit oor die foon terwyl kliënte kan hoor nie. Sy draai skuins, rol haar oë vir Tessa en fluister: “Ek kan nie nou praat nie, ek is besig. Sê hy moet vanaand bel.”
’n Paar minute later kom staan Tessa weer langs Amanda en fluister: “Larry het die foon in my oor neergesit, maar nou het hy weer gebel. Hy sê as jy nie vanaand jou foon antwoord nie, gaan hy na jou plek toe oorkom.”
Amanda knik net, vryf stileermiddel in die blonde hare en begin dit droogblaas terwyl ’n werker die hare rondom hulle met ’n besem eenkant toe vee.
Die vier maande wat sy en Larry uitgegaan het … Wanneer het sy so ontevrede in sy geselskap begin voel? Is dit die fyn manier waarop Larry haar kritiseer? Sy oorheersende geaardheid wat al hoe feller geraak het? En omdat hy haar vriendinne vir haar wil kies? Larry het dit nie gesê nie, maar sy kon sien en aanvoel hy hou nie van Tessa nie. En Tessa het weer gesê sy weet Larry hou nie van haar nie, maar sy sál by Amanda kom kuier.
Dan is daar Elena se mening. Dié het eenkeer onverwags opgedaag om ’n naweek by Amanda te kuier terwyl sy en Larry reeds ’n ete-afspraak gehad het.
Larry se lippe het dun getrek toe Amanda gevra het of hy sal omgee dat Elena saam met hulle uitgaan.
Elena het dit ook opgemerk, toe gesê, nee, sy kan nie uitgaan nie, sy beplan om te swot. Haar sussie het Larry net dié een keer ontmoet, maar gereken Larry is besitlik en gaan Amanda versmoor as sy die verhouding verder vat.
Amanda sit die haardroër neer, kry ’n groter borsel en gaan voort met blaas. Larry is doodgewoon, glad nie mooi nie, maar darem ook nie skreeulelik nie. Sy het bloot met Larry begin uitgaan omdat hy haar aanhoudend vir ’n date gevra het. In die begin het hy haar nogal spesiaal laat voel, maar sy wou lankal nie meer dat hy haar soen en teen hom vashou nie.
Die wete dat sy altyd ongelukkig en vies vir hom is oor een of ander ding wat hy gesê of gedoen het, het die afgelope tyd deeglik tot haar deurgedring.
Sy mis hom glad nie.
“Ek kom oor, Amanda,” sê Larry op ’n bevelende toon. “Dan bespreek ons die situasie op ’n kalm manier. Dis nog vroeg, ek beloof om nie te lank te bly nie.”
Amanda kyk deur haar venster na die weste waar die son soos ’n yslike rooi bal ondergaan. Larry gaan aan haar bly torring, met die hoop dat sy soos die vorige keer sal toegee, maar dié keer gaan sy vas by haar besluit staan. “Nee, Larry, ek is besig om my boeke … uhm, om my bestellings vir die salon te plaas. Ek het jou gesê ek het tyd nodig om oor ons verhouding na te dink. Moenie my stoomroller nie, asseblief.”
“Ek mis jou, Amanda. Kom ons staak die onsin en gaan aan met ons verhouding.”
“Hemel, Larry, kan jy nie verstaan dat ek genoeg tyd nodig het nie?” Amanda wil skree van frustrasie. “Ek is vrek besig en doodmoeg. Hou nog twee weke uit, dan gesels ons weer, oukei? As jy verder aan my karring, beëindig ek ons verhouding sommer nou dadelik.”
“Jy gee niks vir my om nie. Erken dit nou maar, toe?”
Sy kan nie so harteloos oor die foon wees nie. “Moenie dat ons baklei nie, Larry. Jy het saamgestem dat ons mekaar vir minstens ses weke nie sien nie. Ek moet gaan, daar wag ’n spul werk wat ek moet afhandel voor ek in die bed kan klim.”
Sy sny die oproep af.
Amanda stoor haar werk en skakel die rekenaar af. Sy voel nou heeltemal te ontsteld om voort te gaan met berekeninge op Excel. Genade, sy was te bang om vir Larry te sê waarmee sy besig is, té bang hy gebruik dit as ’n verskoning om haar te “kom help”.
Sy gaan liewer nou haar ekwilibrium herwin deur haar tuintjie nat te maak. Diep ingedagte kyk sy op toe haar buurman se deur oopgaan en hy uitkom. Hy dra sy gewone los klere en tekkies. Hy lig ’n hand in ’n groet en draf met lang treë verby haar huis.
Sy gaan sit op haar hurke en onthou van die Jet-geskenkbewys. Haar oë dwaal ingedagte na sy kar onder die afdak. Die arme man kan dit duidelik skaars bekostig om haar soveel geld te gee. Sy gaan die geld nie gebruik nie. Daai los garedraadjie van haar bloes het sy mos darem deur ’n naald se oog gekry en die gaatjie fyn gestop sodat dit amper onsigbaar is. Sy glo nie hy sal kapsie maak as sy die kaartjie teruggee nie, want te oordeel aan die kar wat hy ry, het hy beslis nie geld om te mors nie.
So ja, die tuin is nou oral nat. Met die kraan toegedraai, rol sy die tuinslang op. Sy sal sommer nou ingaan en die geskenkkaartjie kry, dan wag tot hy terugkom en die voorstel maak.
Sy was gou hande, stap dan kombuis toe om vir haar sap te gaan ingooi. Met haar lip tussen haar tande vasgebyt, kry sy twee lang glase uit die kas. Dalk is dit nie ’n slegte idee om vir haar buurman ook in te gooi nie, so ’n hardlopery maak ’n mens dors.
A-nee-a, dis buitendien ’n ongesonde besigheid as twee mense langs mekaar bly en nie kennis maak nie. Sy kyk op haar horlosie. Nog tien minute dan behoort hy op sy gewone tyd terug te wees. Met ’n spul ysblokkies in die glase, gooi sy die suiwer lemoensap in en stap daarmee buitetoe.
Sy sit die buurman se glas op die tuintafel neer, gaan sit dan op ’n stoel en drink klein slukkies.
Amanda sit haar glas neer en spring op toe haar buurman in die skemerdonker verby haar wil stap. “Meneer, net ’n oomblik, asseblief?” keer sy en stap met sy glas na sy wagtende figuur toe.
Sy hou die glas na hom uit. “Die lemoensap is om jou welkom te heet,” sê sy toe hy dit by haar neem en duidelik huiwer om te proe.
Hy drink ’n slukkie. “Dankie, uhm … juffrou, ek voel reeds welkom.”
Amanda steek ’n hand uit. “Amanda Toerien. Ons kan seker nie vir altyd mekaar ‘meneer’ en ‘juffrou’ nie.”
“Gordon Freeman,” sê hy in sy mooi stem en vou haar hand in sy groot, eeltagtige hand toe.
Stille krag vloei uit sy hand na hare, en sy kyk hom tellings lank stom aan. Vir ’n oomblik het alles so reg gevoel met haar hand in syne.
Sy beduie na die stoele. “Kom sit. Verskoon die skemerdonker, muskiete hou van my bloed.”
Hy huiwer. “Net vir ’n paar minute,” stem hy in en gaan sit.
In een sin gaan sy met alles uitkom en dit oorkry. “Ek moet jou bedank … uhm … Dankie vir die geskenkkaartjie vir die bloes, maar dis regtig onnodig.”
Amanda beduie na die spasie tussen haar oopgerekte duim en wysvinger. “Jy het daai los garedraadjie by die gaatjie in die bloes gesien? Dis hoe lank dit was.” Sy wag nie dat hy antwoord nie. “Wel, ek het die gaatjie in my bloes fyntjies daarmee gestop sodat dit nou glad nie merkbaar is nie.”
Gordon kyk in stilte na haar.
As sy sy gesig net beter kon sien!
“Ek dring daarop aan dat jy die geskenkkaartjie terugneem en vir jouself iets by Jet gaan kry. Hulle het die mooiste manshemde daar. Ek dink jy sal maklik twee hemde vir vierhonderd rand kan aanskaf.”
Gordon sit sy leë glas op die tuintafel neer, lag droogweg en sê gelykmatig: “Jy het ’n mooi manier om te sê jy hou nie van my kleresmaak nie, of hoe, Amanda?”
Ag, toggie, nou het sy die man se gevoelens seer gemaak. Plaas sy gedink het voor sy spesifiek na hemde verwys het. “Nee, Gordon, jy verstaan verkeerd. Dis glad nie wat ek bedoel het nie. My bloes het maar tweehonderd rand op ’n uitverkoping gekos, en ek het mos nou net vir jou gesê ek het dit heelgemaak. Jy kan enigiets anders ook by Jet aanskaf. Kyk ’n bietjie rond en jy sal wel iets sien wat jy kan gebruik.”
Sy hou die kaartjie in die koevertjie na hom uit. “Vat dit asseblief terug. Toe? Jy skuld my niks nie.”
Gordon kom orent, plant sy palms op die tuintafeltjie en sê gewoon sag: “As jy dit nie kan gebruik nie, gee die kaartjie dan vir iemand anders wat dit nodig het.” Hy staan regop: “Dankie vir die lafenis, dit was nou regtig gaaf van jou,” en daarmee draai hy om en stap die donker in na sy kothuis toe.
Amanda vat die glase binnetoe en gaan staan fronsend by die wasbak. Tog snaaks hoe hard Gordon se palm gevoel het. Daar in die donker waar sy hom net-net kon sien, het hy so anders geklink as wat sy gedink het hy sou.
Het sy haar verbeel dat daar humor in sy stem was toe hy gesê het sy het ’n mooi manier om te sê sy hou nie van sy hemde nie?
Eers toe hy opgestaan en sy palms op die tafel geplant het, het sy besef sy het hom deeglik in sy eer gekrenk.
Sy sit die kaartjie op die yskas neer. Sy sal maar gaan kyk wat sy vir Elena kan kry.
Leonardo raak van sy klere ontslae, loop staan onder die stort en begin sy lyf met seep-aan-’n-tou inseep.
Wat hom nou regtig die hoenders in gemaak het, is dat Amanda duidelik dink hy het die geskenkkaartjie nodiger as sy. Hy frons. Hoe dan anders? Mens word nie net aan jou vriende geken nie, maar ook aan die klere wat jy dra, die voertuig wat jy ry – en so kan hy voortgaan.
Hel, hy moenie soos Leonardo Anderson dink nie! Hy moet onthou hy is nou Gordon Freeman.
Ingedagte begin hy hom afdroog.
Die mooie Amanda is vir hom ’n raaisel. Hy ken nie meisies soos sy nie. As hy deur sy persoonlike assistent vir ’n meisie iets moois bestel en gegee het, het hulle dit met ’n thank-you-darling geneem asof dit hulle toekom. Maar Amanda wil nie vierhonderd rand van hom vat en iets daarmee aanskaf nie. Sy stop ’n bloes met ’n garedraadjie terwyl die meeste ander meisies wat hy ken dit eenkant sou gegooi het. Maar nou ja, as hy die oorspronklike geskenkkaartjie van eenduisend vyfhonderd rand gekry en vir haar gegee het, sou hy haar beslis suspisieus gemaak het. Sy eie klere is duidelik nie ten duurste aangekoop nie.
Maar daar ís iets wat hy vir haar kan doen …