Читать книгу Die goue vlinder - Susanna M Lingua - Страница 3
1
ОглавлениеMet haar arms om haar knieë gevou, tuur die drie-en-twintigjarige Janet Hartman met dromerige blou oë na die witgekruinde, aanstuwende golwe, hier waar sy in die geselskap van haar ouer suster, Ester, lui-lui op die wit seesand ontspan – albei in baaipakke geklee.
Die koesterende wintersonnetjie toor blink liggies uit Janet se glansende, goudblonde krulhare. Dit lyk kompleet of elke haartjie ’n ragfyn goue draadjie is. Haar sagte, wit vel het al ’n rosige tint, maar Janet kom dit nie eens agter nie. Hierdie toneel van deinende golwe laat haar altyd ver en diep dink en nou dink sy hoe gelukkig hierdie enigste suster van haar is om die doodgoeie en sagmoedige Pieter de Waal as lewensmaat te hê. Selfs hul driejarige dogtertjie, Lidia, is ’n pragtige kind op wie elke ma trots kan wees. Dit laat Janet heimlik wonder of sy ooit eendag die geluk van vrou- en ma-wees sal ken. Of sal haar kieskeurigheid nog maak dat sy ’n oujongnooi word?
Nadat die Hartman-ouerpaar twee jaar gelede in ’n lugramp omgekom het, het Victor en Janet skatryk geërf. Maar vir Victor en Janet, wat nog ongetroud is, was daar geen ouerhuis meer nie. Aangesien Victor die oudste van die drie Hartman-kinders is, het hy vir hom en Janet ’n gerieflike woonstel in een van Pretoria se aantreklike voorstede gehuur.
Na hul ouers se afsterwe het Pieter en Ester haar feitlik gesoebat om haar intrek by hulle te neem, maar daarvan wou Janet nie hoor nie. Sy is baie lief vir Ester, maar ook baie geheg aan haar ouboet, die twee en dertigjarige Victor. Daarom het sy dit as haar plig beskou om hul ma se plek in haar ouboet se lewe te vul … en dan was daar ook nog haar werk as kunsonderwyseres aan een van Pretoria se hoërskole, wat sy nie wou prysgee om in Durban te gaan woon nie. Gevolglik sorg sy nog steeds vir Victor soos ’n sorgsame moedertjie.
Victor Hartman is ’n besonder knap ingenieur en om daardie rede druk die firma gewoonlik op sy nommer wanneer daar ’n groot en ingewikkelde onderneming aangepak moet word. Hulle weet al uit ondervinding dat, waar Victor Hartman die ingenieur is, dinge nooit skeefloop nie. Hy is ’n eerlike, konsensieuse man met ’n besondere verantwoordelikheidsgevoel.
Vic, soos sy familie en vriende hom noem, geniet sowel sy werk as die buitelewe wat daarmee gepaardgaan. Dit kwel hom net wanneer hy ’n groot onderneming, soos ’n besproeiingsdam, moet aanpak en Janet dan maande lank alleen in Pretoria moet agterbly. Hy, op sy beurt, voel weer dit is sy plig om na sy jongste sussie om te sien totdat sy eendag veilig getroud is. Aan ’n vrou en eie gesin dink hy nie meer nie. Nadat sy verlowing ses jaar gelede op die rotse geloop het, steur hy hom weinig aan die skoner geslag. Hy lewe net vir sy werk en vir Janet. Solank dit met albei goed gaan, is hy doodtevrede en gelukkig.
Toe die skole drie weke gelede vir die Julievakansie gesluit het, het Vic groot moeite gehad om Janet oor te haal om die vakansie by Ester-hulle te verwyl, waar sy behoorlik kan rus en die seelug geniet. Aanvanklik het sy soos ’n steeks donkie geweier om hom alleen in Pretoria agter te laat, maar met Job se geduld en Salomo se wysheid het hy haar eindelik oorgehaal om by Ester te gaan kuier.
Victor het haar ook al dikwels probeer oorhaal om uit haar pos as kunsonderwyseres te bedank en saam met hom te reis na die afgeleë plekke waarheen sy werk hom so dikwels neem. Dit sal haar in elk geval meer tyd bied om haar eie skilderye te voltooi, het hy gemeen. Maar vir so ’n rondswerwery, meestal in die veld, het hierdie vrolike, lewenslustige stadsnooi nie kans gesien nie, nog minder vir ’n onbepaalde verblyf in ’n tent of ’n woonwa.
Janet is lief vir die stad en sy vermaaklikheid … en die kêrels is lief vir haar, maar nie een kon nog ooit daarin slaag om haar hart te verower nie. Sy is soos ’n aanloklike goue vlinder wat voortdurend sorgeloos van die een blom na die ander dartel. Tog het dit haar nog nooit getref dat sy al menige hart op hierdie wyse gebreek het nie. Vir haar is die lewe bloot ’n spel – ’n spel wat kuis en kommerloos gespeel moet word, ’n aangename spel vol pret en plesier.
Dit is selde dat ’n mens Janet se fynbesnede gesiggie ernstig en sonder haar gewone stralende glimlaggie sien. Slegs wanneer sy voor die esel staan met penseel en palet in die hand, of wanneer sy diep dink of konsentreer, is daar ’n trek van intense erns op haar gelaat … en dan ook wanneer sy nie in ’n goeie stemming is nie. Andersins is sy soos ’n sonstraaltjie wat almal lok om hulle te koester in die warmte wat sy so mildelik uitstraal. Sy is ’n betowerende, aanloklike skepseltjie, en vir die teenoorgestelde geslag absoluut onweerstaanbaar.
Maar hier waar sy met ’n veraf blik oor die rustelose golwe tuur, is daar nie ’n beduidenis van ’n glimlaggie op haar mooi gelaat nie. Haar gedagtes dwaal na haar ouboet. Sy wonder of daardie gewese verloofde van hom veroorsaak het dat hy nou ’n ewige hekel aan die vroulike geslag het? Hy is so ’n mooi man met sy steil blonde hare, sagte blou oë en forse gestalte …
“Ek vrees ons sal nou huis se kant toe moet staan, Janet,” hoor sy Ester meteens sê. “Lidia en die kinderoppasser is seker ook al terug van hul wandeling.”
Janet kyk haar suster aan en glimlag stil.
“Ja, dié juffroutjie sal ook wonder wat van ons twee geword het. Terloops, ek het belowe om haar vanmiddag vir ’n motorrit te neem, dus het ek nog ’n belofte om na te kom.”
Geselsend kuier die twee susters terug na die sierlike De Waal-woning met sy weelderige agtergrond van piesang- en papajabome.
Janet het net klaar gebad en is nog besig om, onderwyl sy saggies neurie, haar aan te trek, toe Ester aan haar kamerdeur klop. Dit onderbreek terstond die deuntjie wat sy neurie.
“Binne!” roep sy.
“Hier is ’n poskaart vir jou van Vic, Janet,” sê Ester.
Janet se ongeërgdheid neem dadelik die wyk. Met net een skoen aan, hink sy vlugtig na Ester en neem die welkome poskaart. Nou straal haar gesig van blydskap, want sy verlang juis vandag uitermate baie na haar dierbare ouboet. Met ’n breë glimlag gly haar blik vlugtig oor die geskrewe reëls. Die volgende oomblik verstar haar glimlaggie asof ’n onsigbare hand dit weggevee het.
Asof sy haar eie oë nie glo nie, lees sy die paar reëls weer ’n keer.
My liewe ou sussie, lui Vic se kort boodskap, net ’n paar reëls om vir jou tot siens te sê. Vertrek môreoggend na Mosambiek, na ’n dorpie ongeveer ’n honderd en negentig kilometer noord van Beira. Moet opmetings gaan doen vir bou van private besproeiingsdam. Weet nie hoe lank ek daar sal vertoef nie. Is aangestel as ingenieur vir bou van genoemde dam. Alle heil en seën. Sal later van my laat hoor.
Liefde, Vic.
“So,” kom dit merkbaar teleurgesteld van Janet, “dan is my liewe ou Vic al weer op die trekpad, die wye vlaktes in. Weet jy, Ester, ek sal my nog dood verlang na en dood bekommer oor hom.”
“Ja,” sug Ester, “jy en Vic was maar van altyd af baie geheg aan mekaar. Dit het my nog altyd verbaas dat jy hom nie op sy swerftogte vergesel nie. As jy die salaris van die Departement van Onderwys nodig gehad het, kon ek dit nog verstaan het. Maar ons al drie het ryk geërf na Pappie en Mammie se afsterwe. Selfs Mammie se juwele, wat ook aan jou bemaak is, is ’n fortuin werd. Jy wat so lief is vir skilder, behoort sulke vreemde tonele en landskappe baie interessant te vind. En dan nog: Vic se werk is nooit honderde kilometers van ’n dorp af geleë nie. Jy kan jou in ’n hotel tuismaak en nog soos ’n hen oor ons ouboet waak.”
“Maar waarom moet hy nou juis na daardie uithoek van Mosambiek gestuur word?” kla Janet met ’n opsigtelik ongelukkige trekkie om haar mooi, sagte mond. “Het die vervlakste Mosambiekers dan nie self ingenieurs nie?”
“O, hulle het, maar blykbaar nie so ’n knap ingenieur soos ons ouboet nie,” kom dit met groot wysheid van Ester. “Vic sê dis ’n private besproeiingsdam, dus moet dit bepaald ’n skatryk Mosambieker wees as hy dit kan bekostig om ’n ingenieur in te voer om vir hom die dam te bou.”
“Ja, skatryk, uitgeëet en spekvet,” vaar Janet nou onthuts uit teen die onbekende man, kompleet asof hy spesifiek om haar ouboet se diens gevra het en haar sodoende opsetlik van haar liewe ou Vic beroof het.
“Ek ken sy soort,” gaan sy uitgesproke voort. “Trouens, ek het al ’n paar van sy soort hier in ons eie land teëgekom. Hulle is gewoonlik spekvet, met ’n ewe vet vrou en ’n hele string kinders by die huis. En dit is nou dié tipe vir wie my dierbare ouboet moet gaan werk. Hy het natuurlik ook ’n paar vet wange wat byna op sy bors hang en ’n paar hande soos hamme. Sy asem sal ook na niks anders as knoffel ruik nie.”
“Jy het vergeet om sy maag te beskryf, my hartjie,” herinner Ester haar met ’n onmiskenbare lagvonkie in haar grys oë.
“O, dié kan jy verseker wees sal soos ’n ballon oor sy broek hang,” laat Janet nog steeds ontstoke hoor. “Ek sê vir jou, die paar skatryk Portugese wat ek al gesien het, lyk almal soos vetgemaakte slaggoed. Hulle eet gans te veel ryk kos, dis hul moeilikheid.”
“Haai, wag ’n bietjie,” keer Ester met ’n geamuseerde glimlaggie. “Ons was onlangs in Maputo, en ek het nogal netjiese en ordentlike mans daar gesien –”
“Ja, toe maar, ek was ook al daar,” knip sy Ester se betoog terstond kort, “maar daardie mense is nie skatryk nie. Die mans van wie jy nou praat, werk almal hard vir ’n lewe; gevolglik boer hulle nie om die vleispotte van Egipte nie. Nee, jong, jy kan sê net wat jy wil, maar ek voel glad nie gelukkig oor Vic wat hom daar in die vreemde tussen vreemde mense bevind nie. Ek dink ek moet liewer my bedanking indien en self vir ons ouboet gaan sorg. En laat daardie kort, vet Portugees met sy ballonmaag net sy neus in Vic se sake steek, dan sal ek sy verlede, hede en toekoms vir hom padlangs vertel.”
Na hierdie onverbiddelike dreigement draai Janet om en gaan soek haar ander skoen wat vroeër onder die bed ingeskuif het. Sy is nou in so ’n wrewelrige luim dat sy hopeloos vergeet van die vrolike deuntjie wat sy flussies besig was om te neurie. Sy is nou ook sommer haastig om terug te keer na Pretoria sodat sy die sake in verband met haar bedanking kan afhandel. As sy dadelik ’n plaasvervanger kan vind, vertrek sy nog oor ’n maand na Mosambiek. Sy hou inderdaad niks daarvan dat haar dierbare ouboet daar in die vreemde moet swaarkry nie, want wat weet daardie mense van hom en sy gewoontes af?
Nadat Janet klaar aangetrek het, neem sy Lidia vir die beloofde motorrit. Maar ten spyte van die babbelende meisietjie se geselskap, dwaal Janet se gedagtes telkens weg. In die gees is sy by haar ouboet, sien sy hoe hy die vreemde disse waaraan hy nie gewoond is nie, moet afwurg om aan die lewe te bly. Hierdie gedagtes maak haar hart week van verlange na Vic, wat die afgelope twee jaar vir haar soos ’n eie pa geword het.
Sy ry al met die kuspad langs tot by Illovo-strand. Daar drink hulle elk ’n koeldrank voordat hulle na Durban terugkeer. Die buitebande van haar geel Alfa Romeo-sportmotor sing gesellig op die teerpad, maar in haar wese voel Janet glad nie gelukkig nie.
Aan tafel daardie aand kondig sy ook sommer uit die bloute aan dat sy die volgende môre teruggaan na Pretoria. Die skole open in elk geval weer oor drie dae en sy het nog heelwat sakies om af te handel voor dan.
Vroeg die volgende oggend vertrek sy dus uit Durban en hou om eenuur voor haar en Vic se woonstel stil. Met die intrapslag tref dit haar dadelik hoe ’n presiese man haar ouboet is. Daar lê jou waarlik nie ’n enkele kledingstuk of boek rond nie. Ja, nie eens ’n sigaretassie nie. Sowaar, dink sy, as sy ooit eendag so ’n netjiese en presiese man soos haar ouboet ontmoet, trou sy net die volgende dag met hom. Dis waar, niemand kan by die dierbare ou Vic kers vashou nie. Daar is nie nog ’n man soos hy nie. Die vrou wat eendag met hom trou, is inderdaad gelukkig, want sy soort is yl gesaai.
Onderwyl Janet se gedagtes knaend om haar ouboet kring, maak sy vir haar ’n koppie koffie. Daarna skryf sy haar bedanking uit en begin haar tasse uitpak. Die res van die middag sien sy haar klere na – was wat gewas en stryk wat gestryk moet word.
Eers toe sy daardie aand in die bed is, lê sy in die donker oor ’n plaasvervanger en peins. Sy kan aan baie mense dink wat bekwaam sal wees om haar pos by die skool te vul, maar die vraag is wie sy eerste in dié verband moet nader.
Na ’n lang ruk besluit sy om môreoggend met Herman Vosloo in aanraking te kom. Hy is nie net uiters bekwaam nie, maar ook ’n baie goeie vriend. Na hierdie besluit raak sy eindelik aan die slaap.
Dit skyn inderdaad of die geluk Janet behoorlik tegemoetkom, want al haar reëlings verloop na wense. Sy sal net ’n maand nog werk, daarna sal sy haar onverwyld by Vic kan aansluit. Intussen sal sy haar ander sakies in orde bring, want ook haar paspoort sal hernu moet word. Ja, eers dan sal sy gereed wees vir die lang ent pad daar na die uithoek van die aarde waar die arme Vic hom op die oomblik bevind.
Twee weke later ontvang Janet ’n brief van haar ouboet.
My liewe ou sussie, oorbodig om te sê dat dit met die gesondheid nog voor die wind gaan. Jy weet mos darem al dat ek nooit siek word nie, dus sal ek jou liewer die dinge vertel wat jy nie weet nie. Terloops, hierdie kusdorpie waar ek gevestig is, heet Espiño. Dit klink baie na spinasie, nè? Nou wonder jy natuurlik weer of hierdie klomp Mosambiekers darem ook spinasie eet. Ja, hulle eet ook spinasie, jong, met gebraaide knoffel gegeur. Smaak nogal nie sleg nie; ’n mens moet net daaraan gewoond raak. Maar ek moet sê, my mond water behoorlik vir ’n bord lekker boerekos.
In elk geval, ek is baie gerieflik hier op Espiño in ’n gemeubileerde huis gevestig, met kok en al. Die dam word vier en twintig kilometer wes van die dorp af gebou, gevolglik is dit nie vir my nodig om saam met my werkmense in die gewone veldkamp te bly nie. Die mense hier op Espiño is nogal besonder gasvry, vriendelik en aangenaam. Maar jy kan gerus uit jou werk bedank en hierdie kok kom leer hoe om boerekos voor te berei; ek begin nou al moeg word vir sy uitlandse geregte.
Maar wat ek jou eintlik wil vertel, is dat hierdie plek soos die Bybelse Paradys lyk. Jong, jy het nog nooit so ’n groot verskeidenheid tropiese plante, struike, bome en blomme bymekaar gesien nie. Dis ’n gesig waaroor digters en skrywers liries sal raak. Die dorpie is ook glad nie agterlik nie, hoor! Jy sal hier al die geriewe vind waaraan jy gewoond is. Hier is selfs ’n bioskoop en ’n hotel vir toeriste. Glo my, die mense is nie agterlik nie, jong. Die paar meisies met wie ek reeds kennis gemaak het, is nogal mooi en op ’n besadigde wyse modieus.
Nee, ou sussie, jy moet oppak en hierheen kom. Jy weet ek het nog nooit daarvan gehou dat jy alleen in Pretoria agterbly tydens my afwesigheid nie. Die mense hier op Espiño dink dit is skokkend en onbetaamlik dat ek jou alleen daar agtergelaat het. Hulle sê dit is absoluut ongehoord en ek moet jou sonder versuim hierheen laat kom.
Nou ja, ek hoop van harte dat jy jou gou by my sal kom aansluit. Moet net nie te veel harte hier kom breek nie. Onthou altyd, ’n Portugees laat nie mooiweer met sy hart speel nie; hulle is ’n warmbloedige nasie en duld geen onsin nie.
Ek voel trots op jou, ou kleintjie. Almal wat jou foto op my lessenaar sien, sê ek het ’n beeldskone sussie – asof ek dit nie self weet nie. Ek waarsku jou dus weer: laat die kêrels se harte tog heel bly. ’n Man is ’n weerlose kreatuur sodra hy voor ’n mooi meisie te staan kom en daardie oulike gesiggie van jou is genoeg om die jagtersinstink in die dooierigste man aan te wakker.
In elk geval, ek hou nogal besonder baie van Espiño se gemeenskap en ek is seker jy sal ook van hulle hou. Ons kom verbasend goed oor die weg. Die meeste van hulle verstaan darem die Engelse taal, dus het ek geen probleme wat dit betref nie … O ja, byna vergeet ek om vir jou te sê. Hier is selfs ’n klein hospitaal ook, wat natuurlik vir my ’n groot seën is, want met so ’n dambouery is ongelukke en beserings onvermydelik, al tref ’n mens ook die noukeurigste voorsorgmaatreëls. Tussen so ’n klomp werksmense is daar maar altyd ’n paar onverskilliges wat meen reëls en regulasies is net gemaak om oortree te word.
Man, ek was byna oorweldig die dag toe ek hier aangekom het en hoor dat Espiño en die hele distrik, kilometers aaneen, die eiendom van die man is vir wie ek die dam moet bou. Die kêrel is glo dubbel en dwars ’n miljoenêr en boonop ’n werklike hertog. Sy eintlike verblyfplek, of liewer sy setel, is glo in Lissabon, Portugal, waar hy ’n fabelagtige kasteel besit. Ek hoor hy het nog twee sulke kolossale plase soos hierdie – een in Brasilië en een in Portugal. Hy besit selfs ’n plaas in ons eie Laeveld ook. Maar in hierdie soort nuus stel jy seker nie belang nie, dus sal ek maar herhaal: pak jou persoonlike besittings in en kom skilder hier na hartelus. Jy sal nooit spyt wees nie, ounooi, dit verseker ek jou. Hierdie plek is ’n lushof vir ’n kunsskilder. Stuur maar net ’n telegram wanneer ek jou moet verwag.
Nou luister, ek sluit vir jou ’n padkaart in sodat jy darem kan weet hoe jy van Beira af moet ry om by Espiño te kom. Dis ’n grondpad, maar heeltemal gangbaar. Van Maputo af kan jy per boot reis tot by Beira en van daar af die reis per motor voortsit. Ek sien uit na jou koms, ounooi. Onthou, hierdie keer het jy geen verskoning nie. Ek is in ’n gerieflike huis gevestig, dus is daar niks wat jou kan verhoed om hierheen te kom nie.
Nee, kyk, my brief is reeds te lank. Ek verwen jou te gruwelik vir woorde. Bedank nou, kleinding, en kom sluit jou hier by my aan.
Liefdegroete, jou ouboet.
Ns. Telegrafeer liewer in Engels, ingeval die kêrel hier in die poskantoor dalk ’n fout met die Afrikaanse spelling begaan.
Dié ouboet van my darem, dink Janet met ’n gelukkige glimlaggie, hy dink ook aan alles. Dit sal bepaald vir hom ’n verrassing wees wanneer hy van my hoor. Ek dink ek moet maar dadelik vir hom ’n telegram stuur en hom uit sy kommer verlos … Ja, sommer so ’n lange. Sy brief was mos darem redelik lank vir iemand wat nie lief is vir briewe skryf nie.
Na hierdie besluit plaas Janet Vic se brief terug in die koevert en neem agter haar lessenaar plaas. Met ’n breë glimlag van genoegdoening formuleer sy die bewoording van die telegram. Sy laat weet Vic dat sy reeds bedank het en die eerste September wil vertrek, maar met haar eie motor en nie per boot soos hy voorgestel het nie.
Die wind is snerpend koud toe Janet in haar motor klim en na die poskantoor ry om die telegram in te gee. Sy dink aan die lekker tropiese klimaat wat Vic geniet terwyl haar eie hande en voete half verys is van die koue. Sy is bly dat sy oor twee weke vertrek.
Pretoria word nou elke winter net ’n bietjie kouer. Later sal g’n beskaafde mens hier kan lewe as dit so aangaan nie …
Die klerk agter die toonbank is ietwat verbaas toe sy die lang telegram sien. Sy verkeer stellig onder die indruk dat die liewe ou Vic my kêrel is, dink Janet met ’n geamuseerde trek om haar mond en blou oë wat vonkel van pret. Wel, laat sy tog maar dink wat sy wil. Ek het my nog nooit in my lewe gesteur aan wat ander mense van my dink nie. Waarom sal ek my nou steur aan wat sy dink?
Janet vereffen die bedrag wat die klerk noem en met hande diep in haar jas se sakke verlaat sy die poskantoor en vat die pad terug na haar woonstel. Vic sal vanaand nog sy verrassing ontvang, dink sy met ’n gelukkige hart. Sy is net spyt dat sy nie sy gesig kan sien wanneer hy haar telegram lees nie. Net twee weke nog, my liewe ouboet, sing haar hart saam met die motor se buitebande op die teerstraat, net twee kort wekies nog!
Janet voel momenteel diep gelukkig en tevrede. Met haar tuiskoms skakel sy die radio aan, krul haarself in ’n stoel op voor die verwarmer en lees Vic se brief nog ’n keer deur.
Met haar blik afgetrokke op die gloeiende verwarmer, bepeins sy die inhoud van Vic se brief. Ester was dus reg, praat sy in haar gedagtes met haarself; die man vir wie Vic die dam moet bou, is inderdaad skatryk. En as hy so ryk is, kan hy niks anders as ’n lelike ou vet slobber wees met ’n robynring aan elke vet pinkie nie. Ja, hy is stellig ook net so lank as wat hy breed is …
’n Hertog met ’n fabelagtige kasteel en drie yslike plase! Sy maak ’n minagtende geluid deur haar fynbesnede neusie. Sy skatte beïndruk my glad nie. Ons Hartmans is nou wel nie miljoenêrs nie, maar ons is ook nie arm nie. Die hertog met sy vet wange moet net nie maak of my liewe ou Vic sy hierjy is nie, want dan gaan hy met my te doen kry en ek laat nie met my speel nie …
’n Hele stroom wrewelrige gedagtes teenoor die hertog storm deur Janet se gedagtes. Sy weet dat sy die regte beeld van hom in haar gedagtes dra – spekvet en grootdoenerig; hy is mos ’n miljoenêr-edelman. Natuurlik daarom dat die knapste ingenieur in die suidelike halfrond sy ellendige dam vir hom moet bou. Pure grootdoenerigheid en niks anders nie. Ja, edelman ofte nie, hy is maar soos elke ander vermetele man. Almal moet weet en sien dat hy ’n groot kokkedoor is met fabelagtige skatte. Hy moet net sorg dat hy Vic se werk waardeer en nie maak of haar ouboet sy voetvel is nie, want dan verdrink sy hom nog in sy eie dam.
Maar wag maar, stu haar gedagtes voort, oor twee weke is ek self op Espiño. Ek sal sy houding teenoor my ouboet fyn dophou en bewaar sy siel as hy die werk van ’n knap ingenieur soos Vic nie waardeer nie. Ek sal hom baie gou laat verstaan dat my ouboet huis en haard moes verlaat het om sy ellendige dam te gaan bou en dat hy geëerd behoort te voel om ’n man soos Vic daar aan die spits van sake te hê …
Janet hoor hoe die wind iewers aan ’n venster ruk. Dan val dit haar meteens by dat die badkamer se venster oop is. Sy stoot haar welgevormde bene van die stoel af en draf haastig na die badkamer om die venster toe te maak.
Hierdie onplesierige wind, dink sy onderwyl sy ’n rukkie deur die venster na buite tuur, is sowaar genoeg om enige mens mistroostig te stem. Sy luister hoe die wind deur die kaalgestroopte jakarandas op die sypaadjie loei. Dit klink byna soos iemand wat droewig huil. Miskien ween die wind werklik oor die winterverlatenheid wat so somber oor die stad hang, dink sy. Die altyd kleurryke omgewing lyk vaal en verlate. Selfs die grasperke lyk asof dit nooit weer ’n groenigheidjie sal kan voortbring nie.
Sy sien hoe die wind in sy vaart klein stofwolkies in die straat opjaag, net om dit elders neer te werp. Stil draai sy van die venster af weg en gaan maak haar weer voor die verwarmer tuis. Sy voel meteens bitter eensaam en alleen, kompleet asof daar ook ’n winterverlatenheid in haar hart lê.
Etlike minute koester Janet haar in die hitte van die verwarmer, dan besluit sy dat sy maar die snerpende wind daar buite sal moet aandurf. Sy sal beslis ’n draai by die biblioteek moet maak, want sonder ’n boek sal sy nooit vanaand aan die slaap raak nie – nie soos sy op hierdie oomblik voel nie. ’n Boeiende verhaal sal net die regte medisyne wees om haar mistroostige gedagtes in ’n ander kanaal te lei, weg van haar verlange na Vic en die droewige geweeklaag van die wind met sy hartseerlied.