Читать книгу Son op die horison - Susanna M Lingua - Страница 4
2
ОглавлениеDit is reeds drie dae na Alice se vertrek – ’n koue, nat en mistroostige dag. Al mevrou Smith se loseerders het al na hul onderskeie bestemmings vertrek, behalwe Verena. En hier waar sy ’n hartroerende komposisie van Schumann in haar kamer op die klavier speel, luister sy na die weemoedige klanke wat die mistroostigheid van die weer beklemtoon.
Sy het nog skaars die slotakkoorde gespeel, toe daar saggies aan die kamerdeur geklop word.
“Binne!” roep sy vriendelik.
Die deur gaan oop en mevrou Smith se tienjarige seun, Nick, kom in en hou ’n koevert na haar uit.
“ ’n Kabelgram vir jou, juffrou Kestell,” deel hy haar met ’n breë glimlag mee. “Dis seker van jou kêrel af,” meen hy.
“Nee, jong, jy het dit mis,” lag sy en neem die koevert by hom. “Ek het nie ’n kêrel nie!” Sy haal ’n muntstuk uit haar beursie en gee dit vir die seun. “Gaan koop vir jou lekkers, Nick,” stel sy voor.
Hy neem die muntstuk, bedank haar en verlaat die vertrek.
Net soos Verena vermoed het, is dit ’n kabelgram van Alice se ma wat voorstel dat sy die eerste boot moet haal en haar vakansie by hulle op die eiland kom deurbring.
Sy steek die kabelgram terug in die koevert, kom orent en besluit dat sy eers ’n draai by die winkels sal moet maak voordat sy kan begin inpak, want benewens haar ander inkopies wil sy vir elke lid van die Stratton-gesin ’n geskenkie saamneem.
Terwyl Verena in die stad is, doen sy terselfdertyd navraag in verband met bote wat by die eiland, San Di Rago, aandoen. Sy tref dit gelukkig, want daar is ’n boot wat binne twee dae vertrek. Sy bespreek ook sommer dadelik vir haar plek op die boot en is aangenaam verras toe sy verneem dat daar ook genoeg plek vir haar motor in die ruim sal wees.
Van hierdie oomblik af bly Verena druk besig tot die aand voor haar vertrek. Die volgende oggend moet sy van ’n taxi gebruik maak om haar na die hawe toe te neem. Daar is niemand wat haar kom wegsien nie, derhalwe gaan sy dadelik aan boord en kyk dat haar bagasie alles na haar kajuit toe geneem word.
Die see is grys en onstuimig toe die boot die Engelse kanaal binnevaar. Hoë, witgekruinde golwe beweeg aanhoudend landwaarts, net om hulle genadeloos teen die rotse op die strand te pletter te loop.
Waar Verena alleen op die dek teen die reling aangeleun staan, is sy in ’n ligbruin kameelhaarjas, ’n ligrooi gebreide mus, ’n serp en handskoene geklee. Sy is warm aangetrek, maar die wind waai yskoud teen haar gesig aan. Daar is ’n hartseer trekkie om haar mooi, sagte mond terwyl sy na die onstuimige see kyk. Sy is baie lief vir die see, maar nie wanneer die water so grys en mistroostig lyk nie.
Na ’n rukkie kom die son deur. Verena maak haar handsak oop en haal ’n sonbril te voorskyn. Sy sit die bril op en nou steek net ’n klein deeltjie van haar voorkop, haar neus, mond en ken uit. Die bril lyk kompleet soos ’n masker wat bedoel is om die skoonheid van haar gesiggie vir begerige oë te verberg.
Noudat die son deur die wolke gebreek het, stap die meeste van die passasiers uit op die dek. ’n Lang, donker, breedgeskouerde man van ongeveer vier en dertig kom staan ’n paar tree van Verena af. Sy kyk hom vlugtig aan. Hy is die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy twee hande wat op die relings rus, is lank, slank en netjies versorg. Hy het swart hare, donker oë en ’n donker gelaatskleur.
Sy besluit om darem nog ’n blik in sy rigting te waag. Sy draai haar gesig stadig in sy rigting, en die volgende oomblik kyk sy vas in sy donker oë wat haar met openlike weersin beskou. Gelukkig kan hy nie haar oë deur die lense van die sonbril sien nie.
Sy vererg haar dadelik vir die vermetele man wat haar só aankyk terwyl hy haar nie eens ken nie. Sy kyk hom strak en reguit aan totdat hy omdraai en wegstap.
Die volgende oomblik hoor sy ’n man aan haar ander kant op Afrikaans vir sy vriend sê: “Ek wonder hoe die meisie hier langs ons werklik lyk agter daardie masker van ’n bril.”
“Haar gesig is bepaald geskend, daarom dat sy haar agter so ’n aaklige bril versteek.”
Die man wat eerste gepraat het, begin saggies lag en klap sy vriend vertroulik op die skouer.
“Hierdie uitlandse vroumense dra nie daardie soort bril om ’n geskende gesig te versteek nie, my vriend,” sê hy. “Hulle dra die ding omdat dit glo mode is.”
“Maar hoe sal ’n mens ooit weet hoe sy lyk?” wil die ander man weet.
“O, sy wil bepaald nie hê ons moet weet hoe sy lyk nie. Natuurlik skreeulelik.”
Verena maak of sy nie ’n woord Afrikaans verstaan nie. Sy weet hulle verkeer onder die indruk dat sy ’n uitlander is wat nie hulle taal verstaan nie, daarom dat hulle haar so openlik bespreek. Sy wag ook net totdat hulle ’n ander onderwerp vir bespreking kies, toe stap sy ongeërg weg en maak haar in die son op ’n dekstoel tuis.
Pas voor middagete doen hulle by die hawe van Le Havre aan, waar ’n aantal passasiers van die boot afstap. Die lang, donker man en die twee Afrikaanse kêrels wat haar so openlik bespreek het, bly gelukkig in Le Havre agter.
Die boot vertoef net ’n halfuur in die hawe, toe vertrek hulle weer. Maar nou is die lug weer grys en bewolk en ’n yskoue wind waai oor die dek. Na die middagete gaan sy na haar kajuit toe en sy bly daar totdat dit tyd is vir aandete …
Maar daardie aand, terwyl die boot liggies op die golwe wieg, lê Verena tot laat aan die vermetele, dog uiters aantreklike man en dink wat in Le Havre agtergebly het.
Hy is bepaald ’n Fransman, dink sy. Maar waarom het hy my so openlik en met soveel weersin aangekyk? Ek het hom tog geen leed aangedoen nie, of minag hy my omdat my sonbril so modieus is? Ja, dis nooit anders nie, hy is bepaald van die konserwatiewe soort wat alle modes verdoem, maak nie saak hoe stemmig dit is nie …
Sy wonder of sy die aantreklike Fransman ooit weer sal sien, of is dit bloot ’n geval van skepe wat in die nag by mekaar verbygevaar het?
Eienaardig, dink sy, maar ek het ’n gevoel dat ek hom weer sal sien, maak nie saak wanneer nie.
Ag, dis pure wensdenkery, sê ’n klein stemmetjie binne-in haar. Jy weet nie eens verseker wat sy nasionaliteit is nie. ’n Mens is nie noodwendig Frans omdat jy in Le Havre van die boot afgestap het nie. Die man is dalk Italiaans of selfs Portugees, moontlik nog Spaans. En waarom wil jy hom in elk geval weer sien? Dit is tog duidelik dat hy nie ’n druppel tyd vir jou het nie!
Dis waar, besluit sy, hy is my baie beslis nie vriendelik gesind nie. Maar ek sou hom nogtans weer wou sien.
Met hierdie gedagtes raak Verena later aan die slaap, net om van die aantreklike Fransman, of wat hy ook al is, te droom. Toe sy die volgende oggend wakker word, weet sy dat daardie man se beeld vir altyd in haar geheue afgedruk is. Al lewe sy ook ’n honderd jaar, sal sy hom altyd onthou en … Ja, sy kan maar net sowel aan haarself erken dat sy die man liefhet … Liefde met die eerste aanblik, dis wat dit is.
Vroeg die middag van die volgende dag nader hulle die eiland wat vir Verena soos ’n pragtige, wit, drywende stad lyk. En hier waar sy vol afwagting op die dek daarna staan en kyk, wonder sy of mevrou Stratton haar kabelgram gekry het en of Alice by die hawe sal wees om haar te ontmoet.
Verena se blik bly strak, waarnemend op die naderende eiland en nou kan sy selfs al die berg onderskei waarvan Alice haar vertel het. Dit is duidelik dat die eiland vroeër vandag sneeu gehad het, want die berg is nou nog plek-plek wit daarvan.
Verena was verniet bekommerd. Toe sy aan wal stap, wag Alice haar met ’n breë glimlag in. Hulle omhels mekaar hartlik, dan sê Alice met spontane vrolikheid: “O, Verena, dit gaan ’n wonderlike vakansie wees noudat jy ook hier op die eiland is!”
“Ons moet vir jou ma dankie sê omdat sy my hierheen genooi het,” lag Verena bly en opgewonde. “Dit sal wonderlik wees om weer ’n warm, huislike atmosfeer te kan geniet.”
Hulle staan belangstellend en kyk terwyl Verena se motortjie deur die enkele hyskraan uit die boot se ruim gehys word. Die wind waai snerpend koud uit die noorde, maar hulle voel amper nie die koue nie – hulle is so uitbundig gelukkig.
Toe al die formaliteite eindelik afgehandel en Verena se bagasie in haar motortjie gelaai is, nooi sy Alice om in te klim sodat hulle kan ry.
Maar Alice skud haar kop, glimlag en sê vriendelik: “Dankie, maar ek het met my pa se bromponie gery.”
“O, ek was onder die indruk dat ’n taxi jou na die hawe toe gebring het,” sê Verena.
“Hier op die eiland is nie taxi’s nie,” lig Alice haar in. “Daarom het ek voorgestel dat jy jou motortjie moes saambring. Maar kom, laat ons ry. Dit word by die minuut kouer; my ma het gesê sy sal die tee en warm botterbroodjies vir ons gereed hou.”
“Nou goed, ry voor, ek sal jou volg,” stel Verena voor, aangesien sy nie die eiland en sy paaie ken nie.
Dit duur nie lank nie, toe klim die twee voertuie stadig en versigtig teen die berg uit. Dit gaan maar stadig, want die sneeu maak die pad glad en gevaarlik. Verena het groot moeite om die motor in die pad te hou. Sy het nooit geweet dat sneeu ’n teerpad so glad kan maak nie. Dit voel behoorlik of sy op ys ry …
Sy sug hardop van verligting toe hulle byna oor die berg is. ’n Entjie vorentoe maak die pad ’n kort draai, dan nog ’n klein entjie en hulle is oor die berg. Maar dit lyk of dit hier aan die ander kant van die berg meer gesneeu het.
In elk geval, die rit oor die berg vorder goed totdat Verena die kort draai naby die voet van die berg bereik.
Alice het haar vriendin se rooi motortjie aanhoudend in die truspieëltjie dopgehou, maar sy weet eerlikwaar nie wat by die draai gebeur het nie. Sy het gesien toe die rooi motortjie se neus om die draai verskyn, maar die volgende oomblik het sy Verena aaklig hoor gil en gesien hoe die rooi motortjie die pad verlaat, twee keer omslaan en op sy linkersy langs ’n rots tot stilstand gekom.
Alice is etlike sekondes lam en deur die wind van skrik. Dan tref dit haar plotseling dat Verena straks dood of ernstig beseer is en dringend hulp nodig het.
Met ’n roekelose vaart jaag sy deur die sneeu na waar die rooi motortjie stil op sy kant lê. Sy voel hoe die trane oor haar wange stroom, want alles lyk so stil in die motor. Maar sy weet ook dat sy nou sterk moet wees. Sy weet nie hoe ernstig Verena beseer is nie, maar die beseerde moet haar hulp dringend nodig hê.
Dit voel vir Alice soos ’n ewigheid voordat sy eindelik langs die rooi motortjie rem trap, haastig van die bromponie afklim en by die gebreekte motorruit inkyk.
’n Snik ontsnap oor haar lippe toe sy Verena bleek, bloedbevlek en bewusteloos – of is sy dood? – aan die veiligheidsgordel sien hang.
“O, Verena!” roep sy hartverskeurend uit en bars die volgende oomblik in trane uit.
“Laat ons toe om die motortjie op te tel en op sy wiele te sit, señorita,” hoor sy deur haar snikke iemand langs haar sê.
“Is … is my vriendin dood?” vra sy en sien deur haar trane dat daar twee mans langs haar staan.
“Dit sal ons eers kan vasstel nadat ons die motortjie opgetel het, señorita,” sê die man en vermaan haar om asseblief uit die pad te staan.
“Ek … sal die … die dokter … moet ontbied,” sê sy hortend tussen snikke deur.
“Dit sal nie nodig wees nie, Señorita,” help die oudste van die twee mans haar reg. “Ons het gesien toe die motortjie die pad verlaat. My jonger broer het dadelik gery om die dokter en die ambulans te ontbied. Ons kan dokter De Almeida nou elke oomblik verwag.”
Sonder veel inspanning lig die twee mans die motortjie op totdat hy weer op sy wiele staan. Hierna stap die ouer man om die voertuig en sukkel ’n rukkie om die deur aan Verena se kant oop te kry. Hy het ook net die deur oop, toe hou dokter De Almeida saam met die ambulans langs die rooi motortjie stil.
Die dokter, ’n vyftigjarige man, klim haastig uit sy motor en stap dadelik na die bewustelose meisie in die motortjie. Met ’n strak gesig neem hy haar bebloede pols tussen sy vingers.
Almal wag in die stilte om te hoor of die pragtige, blonde meisie nog lewe of reeds dood is. Selfs Alice se snikke het bedaar, nou loop die trane net stil en warm oor haar wange. Almal hou die dokter se gesig dop vir ’n teken of ’n trek wat die pasiënt se toestand verraai. Maar hulle vind niks nie. Die dokter se gesig bly strak en ernstig.
Eers na twee minute, wat vir die toeskouers soos twee uur voel, sê die dokter: “Die señorita lewe gelukkig nog, maar ons sal haar so gou moontlik by die hospitaal moet kry sodat ek kan vasstel hoe ernstig sy beseer is.”
Alice begin uit verligting weer snik. Die dokter, wat elke inwoner op die eiland ken, kyk haar vlugtig aan en vra belangstellend op Engels: “Is sy familie van julle, señorita Stratton?”
Alice skud haar kop, droog haar trane af en sê skor: “Ons is nie familie nie, dokter – sy is my boesemvriendin. Die señorita se naam is Verena Kestell en sy is vier en twintig. Sy studeer musiek in Londen, maar is van Pretoria, Suid-Afrika afkomstig. My ma het haar genooi om die vakansie hier by ons op die eiland te kom deurbring. Ek het haar vanmiddag op die hawe gaan ontmoet en ons … ons kom juis nou van die hawe af. Sy het nog nie eens die eiland ge … gesien nie …” Sy begin weer hardop snik.
Terwyl die bewustelose Verena versigtig op die ambulans se draagbaar geplaas word, neem die dokter twee pille uit sy tas en hou dit na Alice uit.
“Dit is vir my duidelik dat jy aan skok ly, señorita Stratton. Gaan liewer huis toe en rus. Neem hierdie twee pille. Dit sal jou gou kalmeer en laat ontspan,” doen die dokter vriendelik aan die hand.
“Kan ek nie saam met julle na die hospitaal toe gaan en by Verena bly nie, dokter?” wil Alice hartseer weet.
“Nie nou nie. Later, wanneer jy beter voel,” sê die dokter en skud sy grys kop om sy woorde te beklemtoon. “Bring dan sommer vir haar slaapklere en ander benodigdhede saam. Hierdie señor …” Hy beduie na een van die twee mans wat die motortjie op sy wiele getel het, “hy sal jou bromponie en ook señorita Verena se bagasie op sy vragmotortjie laai en jou huis toe neem. Hy sal haar motor later by julle huis besorg.”
Na hierdie verduideliking klim hy in sy motor en ry agter die ambulans aan.
Toe Alice tuiskom, is dit die eienaar van die vragmotor wat aan haar ouers, Dennis en Maureen Stratton, vertel van die ongeluk wat teen die berg plaasgevind het.
Dit is ’n geskokte Maureen wat die man ’n koppie tee aanbied, wat hy vriendelik van die hand wys. Hy verduidelik dat hy die señorita se motortjie wil gaan haal voordat dit toe is onder die sneeu.
Dennis vergesel hom na die ongelukstoneel, terwyl Maureen haar dogter oorhaal om die twee pille te neem en ’n rukkie te rus voordat sy hospitaal toe gaan.
Selfs vir Alice se sustertjie, Clare, voel dit of ’n ernstige ramp die Stratton-gesin getref het. Alice het vir hulle ’n foto van Verena gewys en Clare kan amper nie glo dat die pragtige Verena nou bewusteloos in die hospitaal lê nie. Alice het hulle so baie van die talentvolle Verena vertel en hulle het almal so gretig na die meisie se koms uitgesien. Sy voel in haar kinderlike eenvoud dat sulke mooi en talentvolle mense nie ongelukke behoort te maak nie. Nou sal Verena nie eens vanaand vir hulle op die klavier kan speel nie, en dit, voel sy, is alreeds ’n ontsettende ramp.
Die hele Stratton-gesin vergesel Alice daardie aand na die hospitaal toe. Toe hulle die privaat kamer binnestap waar Verena bleek en nog steeds bewusteloos op die hoë hospitaalbed lê, merk hulle op dat die bewustelose meisie etlike besoekers het – die drie broers wat Alice tydens die ongeluk bygestaan het, hulle pa, ma, vroue en nog ’n paar eilandbewoners. Dit is duidelik dat die hele eiland van die motorongeluk weet, want terwyl die Strattons langs Verena se bed staan, kom en gaan die besoekers die een na die ander. Elkeen wat inkom, plaas sy of haar hand liggies op die bewustelose meisie se bleek hand wat op die wit deken rus, prewel sag ’n paar woorde in Portugees en verlaat dan weer die siekekamer.
Alice kyk haar pa, wat vlot Portugees kan praat, vraend aan. Dan verduidelik hy sag: “Elkeen kom belowe jou vriendin persoonlik dat hy of sy vir haar in die kerk gaan bid. Die ou gryskopvroutjie wat pas die vertrek verlaat het, het jou bewustelose vriendin verseker dat die hele eiland treur oor die ramp wat haar getref het en dat hulle almal vanaand in die kerk vir haar herstel sal bid. Die mense hier op die eiland is eenvoudige vissers en fabriekswerkers, maar hulle is almal vol liefde vir hulle medemens en baie opreg. Jou vriendin sal nooit getrouer en opregter vriende vind as hierdie eilandbewoners nie, Alice. Terloops, die paartjie wat pas ingekom het, is die plaaslike apteker, José Mendes, en sy verloofde, Julietta Caspera. Julietta se pa is die eienaar van die eiland se enigste hotel …”
Die binnekoms van dokter De Almeida en sy vrou, Rita, laat Dennis Stratton meteens swyg. Die dokter neem Verena se pols tussen sy vingers, lig een ooglid op en draai dan na Alice.
“Ek sal bly wees as jy al die gegewens in verband met jou vriendin aan my sal verstrek vir die hospitaalregister,” sê hy. “Kom, stap asseblief saam met my na die kantoor toe, señorita Stratton.” Vir sy vrou sê hy op Engels: “Ek sal nie lank besig wees nie, cara, gesels maar solank met señora Stratton.”
In die dokter se kantoor draai Alice haar na die dokter en sê bekommerd: “Ek sien gelukkig nie ’n enkele skrapie aan Verena se gesig nie, dokter. Het sy inwendige beserings opgedoen? Hoe ernstig is sy werklik beseer?”
“Dit wil vir my voorkom of sy haar gesig met haar arms beskerm het, want haar linkerarm is agt sentimeter bokant die gewrig gebreek en aan haar regterarm is ’n sny van tien sentimeter lank. Die veiligheidsgordel het ten minste verhoed dat sy uitgeval en miskien onder die motor beland het. Die inwendige beserings is nie so ernstig dat dit nie volkome kan genees nie, en sy het gelukkig geen kopbeserings opgedoen nie. Sy moet nog net haar bewussyn herwin, dan sal ons almal gelukkiger voel. Maar gee my haar volle name, van en adres hier op die eiland, asook in Londen en in haar vaderland, sodat ek haar ouers van die ongeluk in kennis kan stel …”
“Verena het geen familie meer in Suid-Afrika nie, dokter. Haar ouers en haar enigste broer en suster het in ’n motorongeluk omgekom. Haar pa was baie vermoënd en die prokureur wat haar geldsake hanteer, ene meneer Hugo, is glo ’n huisvriend sowel as prokureur. Miskien moet u hóm van die ongeluk in kennis stel,” meen Alice, innig bly dat Verena nie ernstig beseer is nie. “Maar ek vrees ek ken nie meneer Hugo se adres nie, dokter. Al wat ek weet, is dat hy ook in Pretoria woon waar Verena se tuiste is, en dat hy getrou sorg dat sy nie in Londen gebrek ly nie.”
“In daardie geval sal ek moet wag totdat sy haar bewussyn herwin –”
“Maar, dokter,” val Alice hom in die rede, “hoe op aarde sal Verena kan klavier speel terwyl haar arm gebreek is?”
“Sy sal nie kan klavier speel terwyl haar arm in gips is nie,” sê die dokter asof Verena se klavierspelery vir hom van minder belang is.
“Sy is besonder talentvol,” sê Alice half ingedagte. “Maar hierdie motorongeluk gaan vir haar ’n groot terugslag beteken, en dit sal haar hart breek. Ek weet nie hoe sy sonder haar musiek sal kan lewe nie.”
“ ’n Mens se hart breek nie so maklik nie, señorita,” help die dokter haar reg. “Die señorita sal maar net geduldig moet wag totdat haar arm herstel het.”
“U verstaan nie, dokter,” laat sy weer hoor. “Verena het geen familie of ’n spesiale mansvriend nie, daarom lewe sy net vir haar musiek …”
Die binnekoms van ’n verskrikte verpleegster laat Alice stilbly. Die verpleegster rammel ’n klomp woorde in Portugees af waarvan Alice nie ’n woord verstaan nie en verlaat daarna die vertrek net so haastig.
Alice kyk die dokter vraend aan.
“Die verpleegster sê daar is groot moeilikheid in die señorita se kamer,” sê hy. “Sy het flussies haar bewussyn herwin, maar dit lyk of sy haar sig verloor het … Sy kan glo niks sien nie.”
Alice is etlike sekondes lank spraakloos van skok en sy kan die dokter net verslae aanstaar. Maar dan kom sy skielik tot verhaal en roep net saggies uit: “Blind … Bedoel u dat Verena blind is, dokter?”
“Ek weet nie,” sê hy. “Jy moet my asseblief verskoon, ek moet nou dadelik na haar toe gaan.”
Toe die dokter Verena se kamer binnestap, het die verpleegster reeds van al die besoekers ontslae geraak. Verena is doodsbleek. Sy huil saggies en sielsverlore. Dokter De Almeida sê iets vir die verpleegster. Sy verlaat die siekekamer onverwyld en trek die deur saggies agter haar toe.
Daar is ’n trek van kommer in die dokter se oë toe hy Verena se hand van haar gesig af wegneem en haar trane met sy sakdoek afdroog.
“Wie is jy?” vra sy op Engels en met trane in haar stem.
“Ek is dokter Carlo de Almeida, superintendent van hierdie hospitaal,” verduidelik hy met ’n bedaarde stem en vervolg: “Ek hoor jy huil en sê jy kan nie sien nie?”
“Ek kan niks sien nie, dokter,” sê sy met ’n gebroke stem. “Alles voor my is swart, soos ’n inkswart nag wanneer ’n mens nie eens jou hand voor jou kan sien nie. Dokter, ek is bang vir hierdie onbekende donker wêreld …”
“Señorita Verena, as jy werklik jou sig verloor het, sal dit net tydelik wees, want daar is hoegenaamd geen rede vir blindheid nie. Jy het geen kopbeserings nie. Inteendeel, daar is nie eens ’n skrapie aan jou gesig nie. Ek vermoed hierdie blindheid van jou is aan skok te wyte. Maar om jou gerus te stel, het ek die verpleegster gevra om vir my ’n oproep na Oporto te bespreek. Ek wil die uitstekende breinspesialis, dokter De Reuda, vir jou ontbied. As daar êrens ’n drukking op die brein of op die oogsenuwees is, sal hy dit dadelik opspoor. Maar ek verseker jou daar is na my wete geen drukking op die brein of op die oogsenuwees nie.”
“Wat is my kanse op herstel as … e … hierdie blindheid aan skok te wyte is, dokter?” vra sy.
Hy streel bemoedigend met sy hand oor haar sagte hare wat soos ragfyn, goue draadjies lyk en sê: “Jy sal jou sig óf skielik óf geleidelik herwin, señorita. Moet net nie haastig of wanhopig word wanneer jy nie gou genoeg na jou sin weer kan sien nie. Hierdie dinge neem soms tyd om reg te kom en dan moet ’n mens net geduldig wees.”
Verena bly so lank stil dat die dokter al begin dink dat sy geen vrae meer gaan vra nie. Maar Verena sukkel nog wanhopig om die dokter se verduideliking in te neem sonder om haar pyn en frustrasie uit te gil. Toe is dit asof iets in haar breek.
“Skielik … geleidelik … inderdaad,” bars dit oor haar lippe soos ’n onstuitbare vloedwater. “En intussen moet ek geduldig in ’n donker, onsekere wêreld rondtas. Besef u wat u van my vra wanneer u sê ek moet geduldig wees, dokter? Besef u wat dit beteken om voortdurend in ’n inkswart nag te lewe? Ek voel of ek my leed, my wanhoop en my teleurstelling aan die ganse aarde kan uitskreeu totdat daar geen asem meer in my liggaam oor is nie, en u sê ek moet geduldig wees. Ek sal my blindheid nooit kan aanvaar nie. Nooit, verstaan u? Nooit. Nóóit!”
Die laaste woorde gil sy half histeries uit. Toe raak sy genadiglik in ’n beswyming weg.
“Arme meisie,” sê die dokter met deernis in sy stem vir die verpleegster wat die vertrek verskrik binnestorm. “Dit gaan vir haar ’n lang en ’n swaar stryd wees om haar met haar blindheid te versoen.”
“O, maar sy is pragtig, dokter!” sê die verpleegster. “Ek het nog nooit in my lewe so ’n mooi meisie gesien nie. Haar blindheid is inderdaad ’n ramp – ’n ontsettende ramp.”
“Ja, jy het gelyk. Haar blindheid is ’n ontsettende ramp, veral as ’n mens dit in gedagte hou dat sy ’n begaafde pianiste is,” stem die dokter saam en versoek die verpleegster om vir hom die nodige vir ’n inspuiting te bring.
“Dis waar,” mymer die dokter toe die verpleegster die siekekamer verlaat, “señorita Verena se skoonheid is iets besonders. Maar dit lyk vir my haar skielike blindheid gaan óf ’n koue, harde en ongevoelige mensie van haar maak, óf dit gaan al die blymoedigheid, die lewensvreugde in haar doodmaak en haar in ’n teruggetrokke meisie laat ontaard, iemand wat bang is vir die lewe en sku vir haar medemens … en in laasgenoemde geval sal sy beslis ’n makliker mensie wees om mee oor die weg te kom.” Die dokter beskou die bewustelose meisie met oë wat al baie vreugde en verdriet in die lewe aanskou het.
Nadat die dokter haar die inspuiting toegedien het, herwin Verena haar bewussyn en sy word geleidelik kalm. Sy maak haar oë net een keer oop asof sy haarself wil oortuig dat haar blindheid nie net ’n droom is nie, maar ’n wrede werklikheid. Daarna sluit sy haar groot, blou oë sonder om eens te vra waarom haar linkerarm in gips en haar regterarm in ’n verband is. Dis of sy al haar belangstelling in haar omgewing en omstandighede verloor het, of die lewe vir haar skielik net ’n bestaan geword het – ’n bestaan wat soos ’n vaal, eensame pad voor haar uitstrek.
Die dokter neem Verena se fyn gewrig in sy hand en hou haar pols tussen sy vingers totdat hy heeltemal tevrede is met haar polsslag. Hierna draai hy om en verlaat die vertrek stil.
Verena slaap uiteindelik, maar in die Strattons se huis lê Alice met rooi gehuilde oë deur die venster na die inkswart nag oor die see en staar. Die geruis van die branders wat op die strand breek, klink vir haar soos die gesug van ’n gepynigde siel wat êrens uit die nag kom. Dit is vir haar absoluut ondenkbaar dat Verena blind is, dat daardie pragtige, blou oë van haar niks sien nie. Sy weet dat, as so iets met haar sou gebeur, sy hopeloos van haar verstand af sou raak. Die lewe sal vir haar daarna geen betekenis meer hê nie.
Sy voel of haar hart wil breek wanneer sy aan die ramp dink wat haar dierbare vriendin getref het. Sy dink aan die klavier in Verena se losieshuiskamer wat nou stil sal wees, en dan stroom die trane weer oor haar wange.
Soms verwyt Alice haarself innerlik omdat sy Verena tydens die winter na die eiland toe genooi het – ja, al is dit nou ook aan die einde van die winter. Ander tye verwens sy weer met ongekende wrewel hierdie eiland met sy sneeubedekte berg. Tog weet sy dat al haar verwensings haar of niemand iets baat nie. Dit kan nie Verena se sig aan haar teruggee nie …
Daardie nag slaap Alice baie min.
Toe sy die volgende oggend ontwaak, het sy reeds besluit om alles in haar vermoë te doen om die lewe vir Verena draaglik te maak.
Ook Verena het daardie nag ’n geweldige stryd met haarself gestry en toe sy die oggend ontwaak, is sy stil – vreemd stil en gelate. Dit is kompleet of sy oornag in ’n ander persoon verander het. Hier waar dokter De Reuda, die breinspesialis, haar daarvan verwittig dat haar blindheid deur skok veroorsaak is, voel dit vir haar of sy met iemand anders praat, of sy heeltemal apart staan van alles en almal, of sy in ’n ander wêreld lewe.
“Jy verstaan natuurlik dat jy nie jou sig permanent verloor het nie, señorita, dat jy die een of ander tyd weer sal kan sien,” hoor sy dokter De Reuda op Engels sê.
Sy sê ja, sy verstaan so, maar in werklikheid laat dokter De Reuda se woorde geen indruk op haar nie. Sy weet al sedert gister dat sy geen breinskade opgedoen het en dat daar geen drukking op die brein of op die oogsenuwees is nie. Almal sê sy sal weer óf skielik óf geleidelik kan sien. Maar dit is vir haar geen troos nie, want sy sal miskien eers oor tien of twintig jaar weer kan sien en intussen moet sy in ’n inkswart duisternis lewe, ’n donkerte wat byna tasbaar is, ’n wêreld wat net uit stemme en geluide bestaan.
’n Rukkie na dokter De Reuda se vertrek praat Alice onverwags vanaf die bed se voetenent. Verena voel dadelik geïrriteer omdat mense so skielik langs haar praat sonder dat sy eens van hul teenwoordigheid bewus is. Sy besef dat sy nou onredelik is, maar aan die ander kant voel sy dat ’n sagte kloppie aan die deur nie te veel gevra is nie.
“O, Verena,” hoor sy Alice opgewonde sê, “ek het met dokter De Reuda gepraat en hy sê jy het jou sig net tydelik verloor. Jy sal mettertyd weer kan sien.”
“Ja, mettertyd wat ook ’n ewigheid kan wees,” sê Verena meer aan haarself as aan Alice, maar vra na ’n rukkie: “Die handsak wat ek tydens die ongeluk by my gehad het – is dit hier in die hospitaal of by jou ouerhuis, Alice?”
“Jou handsak is in die bedkassie hier voor jou bed,” sê Alice. “Kan ek dit vir jou aangee?”
Verena skud haar kop.
“Nee, nie die handsak nie, net die donker bril wat in die sak is.”
Alice haal die sonbril met sy groot lense uit die handsak, plaas dit in Verena se regterhand en vra belangstellend: “Wat wil jy met die bril maak, Verena?”
“Ek wil dit dra,” antwoord Verena sag.
“Hier in die bed?” vra Alice. Sy kyk die blinde meisie verbaas aan en gaan sit op die stoel langs die bed.
“Ja, hier in die bed,” sê Verena afgetrokke terwyl sy die onooglike bril opsit. “Ek haat dit dat elkeen wat hier in die kamer kom na my glanslose, blinde oë staar sonder dat ek dit eens weet.”
“Jou oë is nie glansloos nie, Verena,” help Alice haar reg. “Jou oë is nog net so mooi en blink soos altyd. Almal praat daarvan dat jy so ’n pragtige mens is …”
“Toe maar, Alice,” maak sy die ouer meisie met ’n suur glimlaggie stil, “dit is nie nodig om my te probeer vlei nie. Ek weet wat die mense in hulle enigheid dink: Foei, die arme meisie! Nog so jonk en nou skielik blind. Sy kan ook maar wens om liewer dood te wees! Ek weet die mense bejammer my …”
“Hulle bejammer jou nie,” help Alice haar geduldig reg. “Die mense is net simpatiek en hulle wonder hoe hulle die lewe vir jou makliker kan maak. Trouens, al die eilandbewoners het eenparig besluit om as oë vir jou te dien sodra jy uit die hospitaal ontslaan word. Jy sal die eiland dus kan plat loop sonder dat enige onheil jou tref, want daar sal altyd iemand in die nabyheid wees wat ’n oog oor jou sal hou. My sustertjie, Clare, het reeds aangebied om jou elke dag vir ’n wandeling langs die strand te neem.”
“Jy praat asof almal verwag dat ek my hier op die eiland gaan vestig,” maak Verena beswaar.
“Wel, jy sal hier moet bly totdat dokter De Almeida sê jy is gesond genoeg om die eiland te verlaat. Dan sal die winter reeds verby wees en sal dit al amper somer wees, en jy het hierdie eiland nog nie gesien …” Alice bly meteens stil en vervolg na ’n rukkie berouvol: “Ek is jammer, Verena. Maar jy lyk so pragtig hier in die bed dat ’n mens geneig is om te vergeet.”
“Gaan asseblief voort. Wat is in die somer so wonderlik hier op die eiland?” probeer sy om Alice uit haar verleentheid te help, want sy kan aan die ouer meisie se stem hoor dat sy bitter verleë voel.
“Ag, dis sommer die mooi natuurskoon, die sonnige dae en die vissers se interessante bedrywighede op die strand,” vertel Alice nou sonder veel geesdrif. “Clare sal alles aan jou verduidelik wanneer julle bedags langs die strand gaan stap.”
“Het jy al jou geliefde hertog gesien vandat jy teruggekom het?” vra Verena.
Alice begin saggies lag en sê duidelik verlig: “Hy woon nooit in die winter hier op die eiland nie. Hy sal eers later in die lente of aan die begin van die somer kom. Maar vertel my – het jy darem met interessante mense op die boot kennis gemaak?”
“Eienaardig dat jy nou juis so ’n vraag aan my moet stel,” laat Verena met ’n peinsende uitdrukking op haar gesig hoor.
“Waarom sê jy so, Verena?”
“Omdat ek op die boot vir die eerste keer in my lewe op ’n man verlief geraak het … ironies, is dit nie?”
“Ek hoop van harte dat jy hom weer eendag sal raakloop,” sê Alice. “Wie is hy en hoe lyk hy, Verena?”
Verena haal haar tenger skouers liggies op en antwoord ongeërg. “Ek vrees ek het nie persoonlik met hom kennis gemaak nie. Ek en ’n paar ander passasiers het op die dek in die son gestaan toe hy ook op die dek verskyn en ’n entjie van ons af gaan staan het. Ek het hierdie sonbril opgehad en ek kon hom dus goed bekyk sonder dat hy dit geweet het. Maar die man het bepaald nie van my gehou nie, want hy met my met soveel weersin aangekyk dat ek my behoorlik vir hom vererg het. Gelukkig het hy die boot daardie selfde middag by Le Havre verlaat. Hy is lank en donker, maar ek weet nie wie of wat hy is nie. Ek weet net dat hy die aantreklikste man is wat ek al gesien het en dat ek hopeloos op hom verlief is.”
“Wil jy vir my vertel dat jy verlief is op die vent, ten spyte van die feit dat hy niks van jou hou nie?” vra Alice ongelowig.
’n Droewige, soet glimlaggie verdring die hartseer trekkie om Verena se sagte mond toe sy effens gelate sê: “Dit lyk vir my die liefde is ’n emosie wat sommer ongevraag kom sonder aansien des persoons. Dit is die eerste keer dat ek met die liefde kennis maak, Alice, en ek hoop van harte dat dit ook die laaste keer sal wees.”
“Wel, ek hoop jy loop die vent weer raak, al is dit dan ook net om jou neus vir hom op te trek. Maar ek sal natuurlik meer daarvan hou as hy jou liefde beantwoord …”
“Jy lees gans te veel storieboeke,” bestraf Verena haar goedig. “Sulke wonderwerke gebeur gewoonlik net in storieboeke, nie in die werklike lewe nie. Vergeet die man en vertel my liewer wat ek met myself kan aanvang in hierdie … hierdie … donker wêreld waarin ek my tans bevind.”
“My liewe Verena, jy praat asof die lewe vir jou tot stilstand gekom het,” vermaan Alice haar vriendelik. “Wel, dit het nie, want solank as wat jy asemhaal, kan jy nie agterbly nie. Ek weet jy voel op die oomblik of die lewe jou ’n uitklophou toegedien het. Maar jy sal weer opstaan en rigting kry – dit is hoe die mens gemaak is. Jy staan altyd weer op, al slaan die lewe jou ook hoe plat.”
“Ek hoop jou voorspelling van opstaan en rigting kry word bewaarheid,” laat Verena met effense bitterheid in haar stem hoor, “want wat mý betref, het die lewe werklik vir my tot stilstand gekom …”
“Jy voel maar net swartgallig omdat jy hier op jou rug met een gebreekte en een beseerde arm lê,” val Alice haar vriendin met ’n goedige glimlaggie in die rede. “Sodra jy weer heel en in een stuk is, sal jy sommer weer lus voel vir die lewe.”
“Jy bedoel die lewe sal weer wonderlik wees sodra ek oral met ’n wit kierie kan rondloop? Wel, laat ek jou dit vertel: Ek weier beslis om ooit ’n kierie in my hand te vat. Ek mag blind wees, maar ek weier volstrek om dit met ’n kierie aan die wêreld te verkondig. Ek sal liewer vir my ’n hond …”
Die gedagte dat ’n hond haar moet lei, dat sy volkome van ’n hond afhanklik moet wees, laat haar geskok swyg. Alice merk dadelik hoe bleek Verena is en stuur die gesprek terstond in ’n ander rigting deur haar van die eiland, sy mense en die hertog se villa te vertel.
“Dis ’n fabelagtige villa, spierwit en drie verdiepings hoog,” sê Alice. “Die gebou pryk langs die strand op die hoogste punt van die eiland en kyk ver uit oor die see. Van die see se kant af lyk dit of die villa op ’n massiewe rots gebou is. Die veranda beslaan drie kante van die gebou en tussen die pilare is net boë te sien …”
Alice sit by Verena en gesels totdat die verpleegster die vertrek met die pasiënt se middagete binnekom. Met die belofte dat sy Verena weer na ete sal besoek, sê sy tot siens en vertrek.
Op haar ouers se vraag hoe Verena op dokter De Reuda se diagnose reageer, kan Alice ongelukkig nie positief antwoord nie, want aanvanklik het dit vir haar gelyk of Verena haar versoen het met die feit dat sy haar sig tydelik verloor het, maar later het ’n effense bitterheid onverhoeds in haar stem deurgeskemer. Dit het Alice laat besef dat Verena se stille gelatenheid net ’n dun lagie vernis is waaronder sy al haar hartseer, teleurstelling en bitterheid verberg.
Maar die tyd staan nie stil nie. Ses weke na die motorongeluk kondig dokter De Almeida aan dat Verena so mooi herstel het dat sy die volgende dag uit die hospitaal ontslaan mag word. Ook haar gebreekte arm het mooi aangegroei en die gips kan ook die volgende dag verwyder word.
“Ek dink u ontslaan my gans te gou uit die hospitaal, dokter,” sê Verena. Haar skielike bleekheid getuig dat sy aankondiging haar bitter ontstel het.
Met ’n teer gebaar vou hy haar regterhand met sy een hand toe en vra sag, vertroulik: “Waarom is jy bang om die hospitaal te verlaat, señorita ?”
Verena bly etlike sekondes stil terwyl sy sukkel om die onkeerbare opstand in haar tot bedaring te bring. Toe vra sy eindelik met ’n hartseer trekkie om haar mond: “Waar moet ek heen, dokter? Is dit abnormaal dat ek bang is vir die wêreld buitekant die hospitaal? Dis so donker, ek voel verdwaal en … so vreeslik alleen.”
“Jy het nie nodig om bang te wees nie, señorita. Dit is ’n vriendelike wêreld wat buite op jou wag,” troos die dokter. “Al die eilandbewoners gaan van môre af vir jou as oë dien. Ja, selfs die jong Clare Stratton sê dat sy jou hand sal vat en jou oral sal neem waar jy wil wees. Almal hier op die eiland is jou vriende, señorita Verena.”
Hierdie vriendelike, simpatieke woorde van die dokter laat Verena onverwags in trane uitbars. Met haar gesig in die kussing verberg, snik sy al haar leed uit. Daar is ’n vreemde stilte in haar toe sy eindelik haar trane afdroog en weer die donker bril opsit.
Na hierdie tranebui is dit of al Verena se bitterheid weggespoel het, asof sy haar oplaas met die onvermydelike feit versoen het, die feit dat sy haar sig tydelik verloor het en geduldig sal moet wag vir die dag dat sy die gebruik van haar oë terugkry. Dat sy straks nooit weer sal kan sien nie – daaraan wil sy liewer nie dink nie. Albei dokters het haar verseker dat sy haar sig net tydelik verloor het. Intussen sal sy probeer om geduldig te wag. Verder as dit wil sy voorlopig nie dink nie.