Читать книгу Die rooikop van Sonnerus - Susanna M Lingua - Страница 4
2
ОглавлениеGeklee in ’n vrolik geblomde rokkie, lyk Elise die bekoorlikheid self. Net soos haar moeder skiet sy effens tekort aan lengte, maar aan haar sjarme en aanvalligheid doen dit geen afbreuk nie.
Met ’n kritiese oog betrag sy haar fynbesnede beeld in die handspieëltjie, dan plaas sy dit bo-op in die gepakte tas en klap die deksel toe. Op dieselfde oomblik stap Piet die vertrek binne.
“Laat ek die tas vir jou dra, Elise,” bied hy aan. Hy tel die tas op, dan gly sy blik waarnemend oor haar. “Jy lyk weer pure perd, Elise,” glimlag hy goedkeurend. “Maar kom ons loop. Tant Irma en oom Hendrik hou seker al die pad dop. Hulle het juis vanoggend teenoor my gekla omdat jy meer as twee maande laas tuis was.”
Hy lei haar met die lang, breë gang af, en eindelik stap hulle by die hoofingang uit.
“Ja, toe, kapittel my maar,” antwoord sy goedig. “Was jy al ooit tuis gedurende die drie maande wat jy nou al hier op Sonnerus praktiseer?”
“Met my is dit totaal anders gesteld.” Hy hou vir haar die motordeur oop, plaas die tas op die agterste sitplek en gaan klim dan self in. “Ek is ’n hardwerkende man,” laat hy weer bedaard hoor, skakel die motor aan en trek weg. “As julle mense nie so vol piep en ipekonders is nie, sal ek ook soms ’n tydjie kan afknyp om my ouers te gaan besoek. Ek kan jou verseker dis vir my glad nie so aangenaam om te weet hulle woon net hier agter die tweede bult en nogtans kan ek hulle nie gaan besoek wanneer ek wil nie!”
“Jy praat asof jy almal se piep en ipekonders alleen moet behandel,” glimlag sy. Dan gly haar blik stadig oor die karaktervolle lyne van sy gesig, oor sy blonde hare wat glad na agter gekam is, na sy lang kunstenaarshande wat ferm op die stuur rus, en eindelik sy atletiese skouers.
Wat Elise hier langs haar sien, dra beslis haar goedkeuring weg, hoewel sy darem ook nie daaroor in vervoering sal raak nie. Piet is geensins ’n figuur wat ’n nooi se asem wegslaan en haar drome laat droom nie. Hy is ’n doodgewone, alledaagse man wat op sy stil manier aantreklik is. Eintlik is dit ’n innerlike aantreklikheid wat uit sy hele wese straal en ’n mens teen wil en dank boei.
“Dis presies hoe sake staan. Almal se piep en ipekonders moet ek omtrent alleen behandel, want bedags is ou dokter Uys nie juis ’n groot hulp nie, en snags verseg hy ten ene male om ’n voet uit sy huis te versit. Ek weet nie wat sal gebeur as hier ’n epidemie moet uitbreek nie. In elk geval, ons gaan nie nou al die moeilikheid agter die bult haal nie. Vertel my liewer of my besoeke aan jou voortaan welkom gaan wees of nie.”
“Piet, jy gaan nou regtig aan asof jy ’n vreemdeling is,” lag sy saggies. “Natuurlik sal jou besoeke welkom wees, jy is dan een van ons, een van die groot familie!”
“Dankie, ek sal dit onthou,” antwoord hy stil en tuur diep ingedagte voor hom uit na die pad wat soos ’n vaal streep oor die bult lê.
Al geselsend spoed hulle voort en binne ’n uur hou hulle voor die ruim woning op Vergesig, die erfplaas van die Veldmans, stil.
Op die voorstoep wag tant Irma, oom Hendrik en die twintigjarige Hennie hulle reeds in, en Elise en Piet word hartlik gegroet.
“Kom, kinders, die koffie wag al vir julle,” nooi tant Irma gul en lei hulle na die sitkamer.
“Elise, maar jy het maer geword, my kind,” vervolg die moeder later besorg toe elkeen met ’n koppie stomende koffie en ’n heerlike stuk melktert in die hand sit.
“Ja, raas met haar, tante,” gee Piet antwoord en vervolg met fyn spot: “Hulle leuse is mos deesdae: liewer dood as uit die mode. En glo my, hulle sal hemel en aarde verskuif as hulle maar net ’n dun middellyf kan hê.”
“Nou praat jy, broer,” gee die terglustige Hennie antwoord. “Ek sweer as ’n kêrel my ousus so ’n rapsie te hard druk, is die ou lyfie morsaf.”
“Luister, boetie,” glimlag Elise liefies. “Met daardie bonkige arms van jou sal jy selfs die frisste nooi middeldeur druk, weet jy?”
“Boet, jy moenie Elise so sit en versondig nie. Ek sien sy klap jou netnou,” merk die oubaas laggend op, want ken hy dan nie hierdie rooikopdogter van hom nie!
Vir Piet voel dit of hy na ’n lang omswerwing eindelik tuisgekom het hier saam met die opgeruimde Veldmans. Oom Hendrik is net so vrolik en terglustig soos sy twee spruite. Wanneer hulle drie bymekaar is, is daar geen einde aan hulle dinge nie. Daarom dat tant Irma ook altyd sê dat daar met hulle geen huis te hou is nie. Maar wanneer een van die drie afwesig is, kla sy weer steen en been dat die huis te stil is.
Tot laat die middag kuier Piet op Vergesig, en Elise moet omtrent die hele middag vir hom klavier speel. Teen sesuur maak hy egter aanstaltes om te ry. Met die belofte om weer te kom kuier sodra hy ’n middag vry het, vertrek hy.
Die voëls het alreeds lustig in die boomtoppe tekere gegaan en die son het ook al ver op die baan gevorder, toe Elise die volgende môre ontwaak.
’n Rukkie lê sy deur die oop venster na die sonneweelde en kyk, toe klim sy haastig uit die bed en draf met haar kaal voete na die badkamer om haar gesig te gaan afspoel. Toe sy later geklee is, stap sy na die kombuis om vir haar ’n koppie koffie te skink.
Met ’n liefdevolle blik op haar oudste, groet tant Irma die meisie en vervolg: “Wat knyp jy daar onder jou arm vas, Elise?”
“My swemklere, Mammie!” sê sy. “Ek wil darem eers ’n koppie koffie drink voor ek gaan swem. Nee, wag, Mammie, ek sal dit self skink,” maak sy beswaar toe haar moeder met ’n koppie en piering begin doenig raak. “Gaan gerus aan met Mammie se werkies. Ek is mos nie meer ’n baba om so deur Mammie bedien te word nie.”
“Maar, Elise, dink jy nie dis te gou na jou operasie om nou al te gaan swem nie, my kind?” vermaan die moeder besorg.
“Nee wat, Mammie. Die afgelope twee dae al het ek glad nie meer in die bed gelê nie. Ek het so ’n suspisie dat Piet my die laaste twee dae slegs daar gehou het vir geselskap, want siek was ek beslis nie.”
’n Glimlag plooi om die ouer vrou se mond.
“Toe maar, my kind, Piet het geweet wat goed is vir jou. Ek hou nogal besonder baie van die seun,” laat sy stil hoor.
“H’m, ja, hy is glad nie onaardig nie,” beaam sy en doop ’n stukkie droë beskuit in die koffie. “Hy sê hy kom my een van die dae regsien, Mammie,” vervolg sy met ’n geamuseerde laggie, en die moeder kan nie anders as om saam te glimlag oor Elise se ongeërgde uitlating nie. Sy wonder hoe sal Piet voel as hy moet weet dat Elise daardie een sin van hom met haar moeder bespreek het, want dit was blykbaar nie vir ander se ore bedoel nie. Maar hiervan sê sy niks, want tussen haar en Elise was daar nog nooit enige geheime nie.
“Hy bedoel dit goed met jou, Elise,” laat sy weer hoor.
“Ek weet, Mammie,” sê sy en plaas haar leë koppie op die kombuistafel. “Wel, ek gaan nou swem,” kondig sy aan. Met hierdie woorde stap sy by die agterdeur uit na waar Pronk voor die stalle opgesaal staan.
Binne enkele minute galop die groot wit hings oor die werf en kies koers in die rigting van die rivier wat deur albei plase, Vergesig en De Wilgers, vloei.
Langs ’n rondaweltjie op die oewer van die rivier hou Elise later stil en gly grasieus uit die saal. Sorgvuldig haak sy die teuels aan die naaste mik, dan draf sy die rondawel binne en verskyn enkele oomblikke later geklee in ’n groen swempak. Sy gooi die handdoek in ’n bondeltjie op die gras neer, dan verdwyn sy met ’n sierlike boog in die water.
Met lang, kragtige hale swem sy met die sterk stroom af na waar ’n enkele smal rots soos ’n vinger bo die oppervlakte van die water uitsteek. In haar kinderjare het sy hierdie rots altyd Vinger genoem. En dis op hierdie einste rots waar sy gewoonlik haar dinkwerk kom doen het en ook vele gewigtige besluite geneem het.
Sy klouter teen die gladde rots op en eindelik sit sy met haar opgetrekte knieë soos ’n dassie in die son en bak.
Met haar arms om haar knieë geslaan, sit sy haar op haar gemak en verlustig in die weelde van die natuur om haar. ’n Paar meter van haar af wieg dosyne vinknessies soos miniatuurmandjies oor die stilvloeiende water. Tussen die welige groen wilgers roep ’n paar bosduiwe hul maats, en om haar is die mistieke refrein van kabbelende water. Toe neem haar gedagtes wye vlugte na die twee maande wat sy in Durban vertoef het, en daarna die ses dae in die hospitaal.
Die sonnetjie maak haar later lomerig en sy laat haar kop gemaklik op haar knieë rus. Hierdie stille rustigheid duur egter nie lank nie, want ’n kwaai stem vanaf die wal ruk haar uit haar salige mymeringe.
“Haai daar, dogtertjie!” hoor sy die stem. “Met wie se toestemming het jy hier in die rivier kom swem? Weet jou ouers dan nie dat die stroom hier ontsettend sterk is nie, of handel jy sonder hulle wete?”
Vir ’n enkele sekonde lig Elise haar kop effens op en met haar oë op skrefies getrek, bekyk sy die vreemdeling wat daar soos ’n vors op sy swart perd sit. Dan laat sy haar kop terugsak op haar knieë en steur haar nie verder aan die vreemdeling nie.
So ’n verwaande en opdringerige vent! Wat het dit met hom te doen as sy hier in die rivier swem? dink sy vies, want sy hou niks van mense wat hul neuse in ander se sake steek nie. En hierdie kêrel moet ook nie met haar praat asof hy met ’n kind te doen het nie!
Sy wonder nietemin wie die aanmatigende vent is, want die eienaar van De Wilgers kan dit beslis nie wees nie. Hierdie man is gans te gestewel en gespoor om ’n plaasboer te wees. In ’n omtrek van negentig kilometer is daar ook nie een boer wat hierdie tyd van die môre so fyn uitgedos in sporthemp, rybroek en kamaste sal rondry nie.
Sy besluit dat hy ’n besoeker aan De Wilgers moet wees.
“Haai! Het jy nie ore as ’n mens met jou praat nie, of wil jy hê ek moet jou die loesing gee wat jy verdien?” hoor sy die kwaai stem weer en nou vervies sy haar sommer behoorlik vir die vreemdeling.
Langsaam kom sy orent. En toe sy eindelik in haar volle lengte van een komma ses meter op die rots staan, gee sy hom ’n giftige kyk en skree bitsig: “Haai jouself en loop na die hoenders, man! Gaan help liewer jou gasheer en gee vir die varke kos!”
Sonder om verder ag op hom te slaan, duik sy van die rots af en begin met lang hale terugswem na die rondawel, onbewus van ruiter en perd wat haar al met die rivier langs volg.
So ’n verbrande klein snip! dink Armand van Rijn gebelg terwyl hy en sy perd haar op ’n slakkepas volg. Sy is die parmantigste entjie mens wat hy nog ooit teëgekom het! Te groot vir haar skoene! Maar so gaan dit deesdae. Die goedjies is nog nie eens droog agter hul ore nie, dan verbeel hulle hul ook dat hulle die wêreld se wysheid in pag het. Hy wens net hy kon weet wie se dogter sy is. Verbeel jou, sy is seker maar kwalik veertien jaar oud en sy praat sowaar met hom asof hy haar maat is! Sy oë is donker van verontwaardiging.
Eindelik bereik Elise die plek waar sy flussies ingeduik het en klouter rats teen die wal uit. Vinnig en skerp trek sy haar asem in, want nie vyf meter voor haar nie staan die swart perd en sy ruiter soos ’n standbeeld.
Vinnig tel sy haar handdoek op en hang dit om haar skouers, dan blits haar groen oë in sy bruines wat nou byna swart vertoon.
“Presies wat verlang jy van my?” slinger sy hom met ’n kwaai stem toe en beweeg in sy rigting.
“Wat? Sou jy jou miskien met die gedagte vlei dat ek iets van jou verlang?” werp hy smalend terug. “Wel, jy begaan ’n fout, jou klein rissie. Ek is glad nie geïnteresseerd in so ’n jong snuiter soos jy wat te groot is vir haar skoene nie. Maar ek wil jou net dit sê: Gaan huis toe en gaan knap jou maniere op, sodat jy in die vervolg ’n volwassene met meer respek en agting …”
“Maniere! Wat praat jy tog van maniere? ’n Ongeskikte man soos jy!” val sy hom met ’n vernietigende blik in die rede en haar stem bewe van woede. “Wie is jy miskien om my hier te kom staan en hiet en gebied en te beledig soos jy wil? As jy maar net van daardie perd wil afklim, sal ek jou wys wat ek met sulke onbeskofte mans soos jy maak!”
Met een beweging wip hy uit die saal en kom reg voor haar staan. Sy donker oë boor in hare toe hy sag, onheilspellend sê: “Toe, hier is ek. Wys my nou wat jy my so graag wil wys. Maar ek verseker jou, vandag is die dag wat jy jou lewe lank gaan berou.”
Verder kom hy nie, want Elise se fyn handjie skiet uit en klap hom netjies deur sy mond. Soos blits sluit sy kragtige vingers om haar pols, en nou is hy bleek van woede.
“So, dan dink jy jy kan my klap en daarmee wegkom!” sis hy. “Jou klein vuurvreter! As jy ’n seun was, het ek jou nou hier uitgelooi dat jy vir dae nie kan sit nie. Maar nou is jy ’n meisiekind. Ek voel lus en skud jou dat jou tande klap!”
Maar in plaas van haar te skud, stoot hy haar van hom af weg. “As ek jou ooit weer voor my oë sien, breek ek jou dun nekkie in twee,” waarsku hy bars.
’n Oomblik lank dink Elise die man gaan haar oor sy skoot trek en haar ’n loesing gee. Maar noudat hy blykbaar nie sulke planne koester nie, voel sy dat sy haar vroulike geslag ’n bietjie meer kan laat geld. Sy pluk haar baaipet af en wou hom net ’n tweede oorveeg daarmee gee, toe sy merk hoe sy blik ineens op haar rooibruin krulle verstar.
“Ek … ek is jammer, juffrou,” stamel Armand opvallend verleë, want dis vir hom nou baie duidelik wie die nooientjie is. Daar is inderdaad net een meisie in die hele kontrei met sulke fraai kastaiingbruin hare. “Regtig, ek is baie jammer …”
“Jammer se voet,” val sy hom in die rede. “Maak liewer dat jy wegkom voor my oë, jou … jou …” Maar in haar woede kan sy geen geskikte benaming vir hom vind nie, dus draai sy plotseling om en stap driftig na die rondawel om haar te gaan verklee.
Toe Elise in die rondawel verdwyn, plooi daar ineens ’n glimlaggie om die jongman se mond. Hy dink nou daaraan dat hy Hennie en sy suster vanoggend per telefoon genooi het vir vanaand se partytjie, en hy wonder geamuseerd wat haar optrede sal wees as sy vanaand moet uitvind wie hy is. Sy glimlag verbreed toe hy op sy vurige swart hings klim en al langs die grenslyn terugry.
Minute later kom Elise by die rondawel uit en stap na die boom waar Pronk nog steeds geduldig op haar staan en wag. Sy gooi die teuels oor sy nek, plaas haar voet in die stiebeuel en hys haar met gemak in die saal.
Met donderende hoefslae stuur sy Pronk in die rigting van Vergesig se werf en voor die stalle gly sy liggies uit die saal. Op die voorstoep tref sy haar moeder aan waar sy besig is om die varings water te gee.
“Jy is net betyds vir tee, Elise,” merk haar moeder op. “Gaan vra tog Marja moet vir ons tee maak en dit hier na die stoep bring, my kind.”
Met ’n “Goed, Mammie,” begeef sy haar na die kombuis om die opdrag te gaan uitvoer. Sy kom dadelik terug na waar haar moeder alreeds gemaklik op die bank sit.
“Kom sit hier langs my, Elise,” beduie sy. “Ek wil graag ’n rukkie met jou gesels. Jy was so lank weg … meer as twee maande. Ek het al so dikwels gewens jy wil die skoolhouery staak en huis toe kom, my kind.”
Sy neem langs haar moeder plaas en sê sag: “My ou moedertjie, wat sal ek tog met myself aanvang hier op Vergesig? Laat ek maar aanhou onderwys gee. Ek hou daarvan en dit hou my ten minste besig. Watse bouery is daar teen die koppie op ons buurman se plaas aan die gang?”
“Armand van Rijn laat vir hom ’n nuwe huis bou, Elise. Terloops, hy het Hennie vanmôre gebel en gevra of julle twee vanaand sy gaste sal wees. Daar gaan glo ’n informele partytjie wees.”
“Maar, Mams, ek het mos nie lus om nou al partytjies by te woon nie,” stribbel sy teë. “Hennie kan gerus maar alleen gaan. Ek het regtig nie lus vir sulke doenighede nie!”
Van haar ontmoeting met die vreemdeling onder by die rivier meld sy niks.
“Ek vrees jy kan nie nou uitdraai nie, Elise. Hennie het alreeds die uitnodiging namens julle albei aangeneem. En ek is seker ons buurman sal verstaan as jy nie wil deelneem aan die dansery nie. Almal weet tog dat jy gister eers uit die hospitaal ontslaan is.”
“Watter tipe persoon is hierdie buurman van ons nou eintlik, Mammie? Ek het die afgelope ruk al so baie van hom gehoor. Soos dat hy so ’n haan is onder die nooiens,” glimlag sy goedig. “Net gister is ek weer daarvan verwittig dat hy so ’n onweerstaanbare bekoring het.”
“Dit sal ’n ou vrou soos ek nie weet nie, Elise,” antwoord haar moeder met ’n spotlaggie. “Jy sal maar self vanaand moet gaan vasstel hoe onweerstaanbaar sy bekoring werklik is, my kind. Hy kom nogal dikwels met Hennie en jou pa gesels.”
“Waar het hy geboer voor hy De Wilgers gekoop het, Mammie?” wil sy verder weet.
“Nee, kind, hy het nie voorheen geboer nie. Sy vader boer glo in die Vrystaat, maar hy was ’n advokaat totdat sy gesondheid hom gedwing het om plaas toe te vlug.”
“Is hy dan ’n sieklike man?” verneem sy verbaas.
“Wel, nee, nie nou meer nie. Hy het glo voortdurend brongitis opgedoen totdat die een of ander dokter hom aangeraai het om Johannesburg te verlaat.”
“Hoe oud is hy, Mams?” hou sy aan uitvra.
“So twee en dertig, of drie en dertig jaar.”
“En was hy nog nooit getroud nie?”
“Nee, maar van sy praat het ek afgelei dat hy ’n nooientjie of ’n verloofde in die Vrystaat het.”
“En hy flankeer so rond met die meisies!” roep sy verontwaardig uit.
“Elise, laat Mammie nou vir jou die waarheid vertel. Hierdie dinge wat jy gehoor het van sy rondflankeerdery met die nooiens is nie waar nie. Hy, net soos enige jongman, soek slegs geselskap. Die fout lê by die nooientjies, my kind. Dis hulle wat sy vriendskap verkeerd vertolk, te ernstig opneem, en dan meer van hom verwag as wat hy bereid is om te gee. Sy vriendskap met die teenoorgestelde geslag is heeltemal onskuldig. Ek het al self gemerk dat daar by hom geen aansien des persoons is nie. Hy behandel almal met dieselfde hoflikheid en respek. Maar wag, hier kom jou pa en Hennie al. Ek sal moet gaan kyk of daar tee vir hulle is.”
Met hierdie woorde kom haar moeder orent en stap die huis binne. Langsaam volg Elise haar voorbeeld. As sy en Hennie dan vanaand ’n party moet gaan bywoon, sal sy beslis inspeksie moet gaan doen in haar hangkas om te sien wat geskik sal wees vir so ’n informele geleentheid.