Читать книгу Die rooikop van Sonnerus - Susanna M Lingua - Страница 5

3

Оглавление

“Is jy al gereed, ousus?” bulder Hennie se diep stem voor haar kamerdeur.

“Ek kom, boetie!” roep sy terug, raap haar handsak op en verlaat die vertrek. “Waarom jaag jy my so aan, jou ongeduldige mansmens? Dis mos nog vroeg!” raas sy.

“Kyk, ousus, ek wil nou nie snaaks wees nie. Maar ek meen te sê, ’n ou wil darem nog sy nooi ook gaan oplaai!”

“So! Is dit nog steeds Estelle Meyer?” glimlag sy tergend.

“Reg geraai, oor ’n rukkie Estelle Veldman.”

“H’m, jy is glad nie haastig nie, nè?” spot sy weer.

“Luister, ousus, jou broer is nie ’n man wat hom met ’n jare lange vryery ophou nie. Maar kom ons gaan groet eers vir Ma en Pa. Ek vermoed hulle sit maar weer op die stoep soos gewoonlik.”

Met ’n “Tot siens, Ma! Tot siens, Pa!” draai Hennie om en stap uit na waar sy motor voor die deur geparkeer staan.

Elise, egter, gee albei ’n vlugtige soentjie en volg Hennie dan.

“Ousus, ek wil jou nie vlei nie, want soos jy self weet, pas vleitaal my nie,” sê hy en hou vir haar die motordeur oop. “Dink jy nie daardie geel rokkie wat jy aanhet, is ’n bietjie deftig nie? Begryp my mooi, ek hou daarvan om voor ander ouens met my ousus te spog, maar jy weet ons is maar ’n eenvoudige spul in hierdie kontrei en glad nie so geleerd en wêreldwys soos jy, Armand en ’n paar ander nie.”

“Boetie, loop, jy spot nou,” lag sy hom uit. “As jy weet hoe min lus ek vir vanaand se doenigheid het, sal jy nie nog spot nie! En wat my rok betref, kan jy jouself maar gerusstel, dis glad nie te deftig nie. Inteendeel, dis bedoel vir sulke informele partytjies.”

Hy klap die deur langs haar toe, dan stap hy voor om die motor en klim self in.

In stilte spoed hulle voort en etlike minute later hou hulle voor die Meyers se huis stil.

Hennie klim uit die motor en stap haastig in die rigting van die voordeur. Hy gee twee harde kloppe, draai die deurknop en stap binne. Estelle moes klaarblyklik al op hom gewag het, want dit duur nie lank voordat hulle te voorskyn kom en na die motor aangestap kom nie. Elise groet haar vriendelik en weldra is hulle, laggend en geselsend, op pad na De Wilgers.

Hoe nader hulle aan De Wilgers kom, hoe teësinniger raak Elise vir die hele gedoente. Sy weet die moontlikheid is groot dat die vent wat haar vanmôre by die rivier so diep beledig het, ook teenwoordig mag wees. En daardie gedagte stem haar glad nie gelukkig nie. Dit bederf die hele vooruitsig vir ’n aangename aand.

As hy egter dan nou moet teenwoordig wees, kan sy niks daaraan doen nie. Hy moet net sorg dat hy uit haar pad bly en nie opdringerig raak nie, besluit sy later toe Hennie tussen die ander voertuie stilhou en die motor afskakel.

Terwyl Hennie en Estelle liggies met mekaar skerts, stap die drie stadig in die rigting van die voordeur wat wawyd oop staan. Ook die sitkamer se vensters staan oop, en Elise merk dat daar al groepies binne rondstaan.

Die gasheer moes blykbaar die harde geklap van hul motordeure gehoor het, want toe die drie die ruim, helder verligte stoep bereik, staan hy hulle alreeds en inwag.

Oombliklik herken Elise sy gesig en sy lang, breedgeskouerde gestalte wat nou in ’n sportbaadjie en sajetbroek geklee is, en terstond voel sy weer hoe die wrewel teenoor hierdie man in haar begin oplaai.

Met ’n vriendelike “Welkom, mense!” groet hy die drie, en Elise hoor byna onmiddellik daarna haar broer se stem: “Armand, ontmoet my ousus. Haar naam is Elise. Ousus, dis Armand van Rijn. Noem hom maar sommer op sy voornaam. Dis mos ons gewoonte in hierdie kontrei, ingeval jy miskien vergeet het.”

Vinnig en skerp trek sy haar asem in, dan voel sy hoe die bloed vinnig uit haar gesig sypel. Haar hart klop snel en dis asof sy gaan flou word.

Maar van haar ontsteltenis merk Hennie niks nie, want byna onmiddellik nadat hy haar aan hul gasheer bekendgestel het, neem hy Estelle se arm en stap na binne.

“Aangename kennis, juffrou Veldman,” hoor sy Armand onverstoord sê, maar om sy sterk, aantreklike mond speel daar ’n openlik geamuseerde glimlaggie. Hy reik haar sy hand, maar hierdie gebaar ignoreer sy totaal.

“Jy!” hyg sy toe sy eindelik tot verhaal kom. Dan ontmoet hul oë vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Hare blits groen vonke van diep verontwaardiging en syne vonkel van pure pretlus.

“Ja, ék, juffrou Elise,” laat hy geamuseerd hoor. “Jy het natuurlik nie verwag dat ek vanaand die gasheer gaan wees nie, nè?” Sy oë fynkam haar bekoorlike gestalte.

“As ek dit geweet het, sou ek beslis nie nou hier op jou stoep gestaan het nie, meneer Van Rijn!” werp sy bitsig terug. “Dis ongelukkig dat ek die pret vir ’n paar minute kom bederf het, maar ek gaan nou dadelik. Maak asseblief vir my verskoning by my broer. Jy kan maar die ou resep gebruik – hoofpyn.”

Met hierdie woorde draai sy vinnig om en wil net wegstap toe sy die ferm greep van ’n hand op haar arm voel, wat haar in haar vaart stuit en haar half terugdwing.

Sy kyk op, en weer is dit in daardie onverstoorde bruin oë wat haar soos ’n onvolwasse kind laat voel.

“Nie so haastig nie, juffroutjie,” hoor sy Armand sag sê, en nou klink sy stem geensins geamuseerd nie, maar duidelik onheilspellend. “Kom, as jy ’n bietjie buitelug wil skep, sal ek jou vergesel.” Met haar arm nog steeds in sy sterk vingers vasgeklem, lei hy haar om die hoek van die huis totdat hulle buite hoorafstand is.

Sonder om sy greep op haar arm te versag, vervolg hy streng: “Luister, as jy dink ek gaan dit duld dat jy ander se pret verongeluk deur nou op die vlug te slaan, begaan jy ’n geweldige fout. Ek weet natuurlik jy is ’n rissie, maar ek het nie geweet jy is ook lafhartig en selfsugtig nie. Ek sê jou nou en hier – vir die ontwil van Hennie en Estelle sal jy nou saam met my na binne gaan en hier bly totdat hulle besluit om huis toe te gaan.”

“Jy magtig jouself danig baie aan om my so aan te spreek!” voeg sy hom sarkasties toe.

“Dis jy wat my daartoe dwing met jou lafhartigheid, om soos ’n verslane soldaat op die vlug te wil slaan! Dus, as jy enigsins my agting wil verkry, moet jy na my luister en nou saam met my na binne gaan. Jy behoort jou werklik te skaam oor jou selfsugtigheid, Elise. Jou broer aanbid jou. Vir hom is jy die volmaakte onder alle vroue, en nou wil jy sy plesier bederf deur huis toe te vlug!”

“Ek kan nie juis sien hoe ek sy plesier daardeur sal bederf nie,” antwoord sy hom met duidelike wrewel in haar stem.

“Nee, natuurlik sal jy nie. Jy was mos nie vanmôre teenwoordig toe ek met hom oor die foon gepraat het nie. Natuurlik sal jy nie weet hoe opgewonde hy was omdat hy vanaand met sy ousus kan kom spog nie! Maar kom, ek merk daar het al weer gaste opgedaag.”

Hy weet dat hy nou ’n besonder teer snaar aangeroer het, want sy en Hennie is baie geheg aan mekaar. Hy wil haar ook graag self beter leer ken, dus tree hy beslis nie net vir Hennie as kampvegter op nie, maar ook vir eie gewin.

“Goed, ek sal bly,” sê sy stuurs. “Vir Hennie se ontwil, maar geensins om jou agting te verkry nie. Wat jy van my dink, kan my bitter min skeel, meneer Van Rijn!”

Hy verslap sy greep op haar arm en lei haar na die sitkamer waar die gaste reeds in gesellige groepies gesels.

Met tevredenheid kyk hy na sy gaste. Dan kyk hy weer af na Elise hier langs hom en sê: “Ek neem aan jy ken al die gaste teenwoordig.”

Sy antwoord hom met slegs ’n knik van haar kop, toe word sy met groot lawaai en geskerts van alkante gegroet, want almal is opreg bly om die bekoorlike nooientjie weer in hul midde te hê.

“Mense, ek glo glad nie dit sal te veel gevra wees as ek voorstel dat Elise elkeen met ’n soen groet nie!” doen Herman van oom Gert Rooibult aan die hand, tot groot vermaak van almal teenwoordig.

Met ’n geamuseerde glimlaggie om sy sterk mond, staan Armand die vrolike geskerts vanaf die sitkamerdeur en aanhoor terwyl sy oë elke beweging van Elise met heimlike bewondering volg.

“Sies vir jou, ek gaan dit sowaar nie duld dat julle Elise aan so ’n pyniging onderwerp nie!” tree Anette as kampvegter vir haar vriendin op.

“Ja, en wat meer is,” werp Marie ook haar stuiwer in die armbeurs, “as Piet van oom Lang-Hans Beukes van Bloukrans julle so hoor praat, slaan hy sowaar tonnels deur julle!”

“Ai, ek sien al hoe lekker karnuffel Piet Beukes julle!” skater Bettie van die lag. “Boeties, na julle elkeen ’n soen van Elise gesteel het, sal julle nooit kan waag om siek te word nie. Ek sien al met watter behae sny hy julle oop en hoe vleg hy sy lang vingers deur julle ou deurmekaar draadwerk!”

’n Lagbui bars weer tussen die jongklomp los en ook Elise lag nou dat daar trane in haar oë kom.

“Maar hoe is dit moontlik dat ek die gevaarlike Piet Beukes nog nie ontmoet het nie, of het ek al?” verneem Armand nadat almal se gelag weer bedaar het.

“Nee, jy het ons beroemde dokter Piet Beukes nog nie ontmoet nie,” kom dit weer ewe bedaard van Neels. “Sien, hy is al byna ’n vreemdeling onder ons ou spul weens die feit dat hy sewe jaar weg was vir sy mediese studie en toe weer twee jaar in die buiteland was. Hy het maar drie maande gelede hier op ons dorpie kom praktiseer. Jy sal hom nog ontmoet. Hy is ’n besonder gawe ou … miskien effens te besadig vir ons klomp, maar jy sal in elk geval van hom hou.”

Toe die gaste later voltallig is, word daar aan elkeen ’n drankie bedien.

Die lede van die orkes, wat uit ’n trekklavier en twee kitare bestaan, neem hul plekke in op die ruim stoep.

Eers word die snaarinstrumente ingestel, en dis ’n pyniging om aan te hoor. Later gaan dit beter, en eindelik hef die trekklavier die eerste note van ’n bekende liedjie aan.

“Toe, toe, Armand, skraap vir jou ’n nooi,” roep Jan Verster vrolik uit en dam daar en dan die vroom Christel Duvenhage by wat nog nooit in haar lewe so ’n wilde dans probeer het nie.

Laasgenoemde voel innerlik vies dat die stuitige Jan nou juis vir haar moes kies vir die dans. Sy sou veel eerder met Armand wou dans. Haar volgende woorde stel haar wrewel ook duidelik ten toon.

“Kyk, as jy soos ’n barbaar wil dans, doen jy dit asseblief nie met my nie, Jan Verster! Jy weet ek hou my nie met sulke stuitigheid op nie!” trap sy hom uit toe hy ’n paar ingewikkelde draaie en passies met haar wil uithaal.

Hy bars net heerlik uit van die lag en verklaar met ligte spot: “Dis so tipies van jou, Christel, my hart. Ek meen te sê, dis nou maar van jou: as jy jou sin nie kry nie, word jy beslis so effe katterig!”

’n Giftige blik van haar snoer sy mond, oombliklik, maar in sy oë huiwer daar nietemin ’n glimlaggie.

Op die maat van die musiek vergeet die lewenslustige Elise totaal dat sy onlangs ’n operasie ondergaan het. Heen en weer word sy deur Neels oor die dansvloer gepluk, en dis duidelik dat hulle dit baie geniet. Uit die hoek van haar oog merk sy dat Armand haar en Neels se bewegings met lewendige belangstelling volg, maar op sy gesig is daar ’n vae trek van kommer wat sy nie kan peil nie.

Op die oomblik is sy weer die laggende, opgeruimde Elise van weleer wat so diep in elkeen se hart gekruip het; veral in die harte van hierdie klomp gewese skoolmaats van haar.

Toe die musiek eindelik ten einde loop, gloei haar wange en haar lewendige groen oë van skone pretlus.

Die nommer volg byna onmiddellik op die eerste, en haar dansmaat is Jan Verster. Ook hierdie dans geniet sy ten volle, want Jan is ’n vaardige danser, ’n man wat ingewikkelde passies met gemak uitvoer. Sy, wat goed geskool is in die danskuns, vind dit besonder prettig en aangenaam.

Die derde en vierde danse het Elise verkies om uit te sit, want dit het eindelik tot haar deurgedring dat sy nog lank nie sterk genoeg is om so aanhoudend op die dansvloer te bly nie.

Stil verdwyn sy van die stoep af, menende dat niemand haar afwesigheid sal merk nie. Maar een persoon het gesien hoe sy stilletjies in die swart skaduwees van die sierbome verdwyn, en dit het hom laat wonder.

Toe sy na ’n hele paar danse nog nie terug is nie, begin Armand bekommerd raak oor Elise se lang afwesigheid, te meer omdat sy alleen daar buite in die donker tuin is. Hy besluit om na haar te gaan soek, en stil verdwyn hy ook in die donker skaduwees van die bome wat aan die voorkant van die huis pryk.

Nadat hy omtrent vyf meter gevorder het, merk hy ineens iets op die bankie aan die verste punt van die tuin en intuïtief weet hy dat dit Elise moet wees.

Met lang treë stap hy op die wit voorwerp af. Toe hy eindelik die bankie bereik, merk hy dat dit wel sy is wat op die naat van haar rug uitgestrek op die bankie lê.

Sonder meer gaan hy voor haar op sy hurke sit en verneem merkbaar besorg: “Wat makeer, Elise? Het jy jou seergemaak met daardie wilde danse? Ek het my die hele aand al daaroor bekommer …”

“Nee, ongelukkig nie, meneer Van Rijn,” onderbreek sy hom smalend. “Dus is daar hoegenaamd niks om jou oor te verheug nie. Ek voel ’n bietjie moeg.”

Hy ignoreer egter haar sarkasme en gaan voort: “As jy moeg voel, wat wel te verstane is, waarom gaan rus jy nie op my bed nie? Waarom hier in die donker op die harde bankie?”

“Dit pas my beter en ek verkies dit so,” antwoord sy kortaf en vervolg ’n oomblik later: “Gestel jy laat my nou met rus, noudat jy alles weet.”

“Sulke kinderagtigheid kan jy gerus maar staak, Elise,” antwoord hy kalm. “Ek is nie in die minste geïnteresseerd in jou kinderagtigheid of jou sarkasme nie. Kom, as jy moeg voel, is daar ’n beter plek waar jy kan rus.”

“Ek het jou alreeds gesê ek verkies dit om hier te bly.”

“En ek het jou gesê dat ek nie van jou kinderagtigheid hou nie. Dus, as jy nie uit vrye wil met my wil saamkom nie, sal ek verplig wees om jou huis toe te dra!”

“As jy weer ’n klap van my verlang, meneer Van Rijn, doen dit gerus!” sê sy kwaai en kyk hom koel aan.

“In daardie geval laat jy my geen keuse as om met Hennie te gaan praat …”

“Laat staan jy vir Hennie,” val sy hom vinnig in die rede. “My broer het niks hiermee te doen nie. Gaan gerus na jou gaste toe, meneer Van Rijn, ek sal aanstons kom.”

“O nee, so maklik laat ek my nie deur jou om die bos lei nie. Kom, jy stap nou saam met my huis toe.”

Vir Elise is daar nou geen ander uitweg as om Armand te gehoorsaam nie, want wat sal Hennie en die ander daarvan dink as hulle die rede moet weet waarom sy hul gasheer so bitter vyandiggesind is? Nee, daardie vernederende episode langs die rivier mag nooit rugbaar word nie! Sy skaam haar dood as hierdie klomp dit moet weet.

Sonder ’n enkele woord kom sy orent, en saam stap hulle in die rigting van die stoep.

Die orkes het net ’n tango begin speel toe hulle die stoeptrappie opklim, en sonder meer neem Armand haar in sy arms en stuur haar behendig tussen die dansende pare deur.

Sy donker oë vonkel van pretlus en oorwinnaarstrots, maar hy sê niks nie. Hy kan merk dat sy bitter ontsteld is omdat hy nog telkens vanaand die oorwinning oor haar behaal het. Maar hy weet ook dat sy te fyn opgevoed is om hom voor al hierdie jongmense in te vlieg oor sy vermetelheid om haar nie eens te vra vir die dans nie.

’n Oomblik kyk hy af in haar kwaai gesiggie, dan sê hy sag: “Jammer oor my onhoflikheid, nooientjie. Maar indien ek jou wel gevra het, soos dit ’n opgevoede jongman betaam, sou jy gewis die een of ander verskoning uitgedink het om nie met my te dans nie. Ek vrees met jou sal ek maar voortdurend eie reg moet gebruik, totdat jy my nie meer so vyandiggesind is nie.”

“Jy praat asof ons mekaar voortaan baie dikwels gaan sien!” laat sy op ’n sarkastiese toon hoor.

“Dis glad nie onmoontlik nie; ons is bure,” glimlag hy half spottend en geniet haar magteloosheid terdeë.

“Ek kan jou die versekering gee, meneer Van Rijn, dat daar nooit weer ’n ontmoeting tussen jou en my sal plaasvind wat jou die geleentheid sal bied om my so te verneder soos vandag nie. Ek verlang ook geen ontmoeting ooit weer met jou nie, meneer …”

“My naam is Armand, Elise,” onderbreek hy haar woordevloed glimlaggend en dit lyk nie juis of al haar versekerings en wense wat sy pas uitgespreek het, hom enigsins beïndruk nie. Andersins amuseer dit hom net geweldig.

“Dis ’n gewoonte van my om vreemdelinge formeel aan te spreek, meneer Van Rijn,” sê sy vies.

“Ek kan natuurlik nie ’n uitsondering op die reël wees nie, nè?” Hy kyk haar aan en ’n glimlaggie speel om sy mond.

“Nee, beslis nie,” kom dit nou baie kortaf.

“Jy is my voorwaar baie vyandiggesind, nooientjie, maar ek sal jou nog mak maak.”

Voordat Armand verder kan praat, hou die orkes op met speel. Die betekenisvolle blik wat hy na Elise werp, sê duidelik: Toe maar, nooientjie, die orkes het my nou wel onderbreek, maar glo my, ek is nog lank nie klaar met jou nie. Jy ken Armand van Rijn nog nie!

Later die aand word daar verversings bedien. Almal staan op die stoep rond en gesels, maar Elise sorg dat sy die res van die aand buite Armand se bereik bly. Sy voel bitter spyt dat sy ooit hierheen gekom het. Aangesien sy egter wel hier is, moet sy maar probeer om nie Hennie en Estelle se plesier te bederf nie.

Die hele tyd wens sy egter dat dit al tyd is om huis toe te gaan.

Ongemerk staan sy Armand se fors, breedgeskouerde gestalte en betrag. Sy soepel liggaamskrag is bestem om oral indruk te maak. Sy hare is swart en effens krullerig. Sy oë is donkerbruin en lewendig. Sy neus is goed gevorm, byna aristokraties. Sy mond is sterk, maar het tog ’n sagte trek en lyk besonder sensitief. Sy ken is ferm en sy moet ruiterlik erken dat Armand besonder aantreklik is. Sy weier egter om vir ’n oomblik te dink dat hy haar belangstelling gaande gemaak het.

Elise is so ingedagte terwyl haar oë hom met stille konsentrasie opsom, dat sy nie eens bewus is van die geamuseerde glimlaggie om sy mond terwyl hy elke beweging van haar oë vanaf die ander punt van die stoep volg nie.

Dat sy besig is om ’n opsomming van hom te maak, is vir die jongman baie duidelik. Hoe graag hy ook al wil weet wat in haar gedagtes omgaan, amuseer haar waarnemende blik hom nietemin.

Vir etlike sekondes rus Elise se oë op sy breë bors, dan skuif sy haar blik weer na sy gesig asof sy wil seker maak dat sy nie ’n enkele deeltjie oorgeslaan het nie. Plotseling ontmoet hul oë oor die lengte van die stoep.

’n Stonde hou sy oë hare gevange, dan laat sy haar blik sak en sy voel hoe ’n warm blos van diep verleentheid en ook van verontwaardiging in haar nek opstoot.

So ’n verwaande vent! dink sy, en nou vervies sy haar sommer weer as sy aan die uitdrukking in sy oë dink. Dit was so ’n selfvoldane uitdrukking. So asof hy wou sê: Toe maar, dis nie nodig dat jy my so tersluiks bespied nie. Ek ken die resep. Binne ’n dag of twee is jy mak en eet jy uit my hand, juffroutjie!

Sy voel hoe die drif al weer in haar begin oplaai, en sy verwens haarself omdat sy die man so ingedagte staan en betrag het. Hy is beslis nou van mening dat sy in hom geïnteresseerd is en sy aandag wil trek! En dit is die laaste ding wat sy beoog het!

“Hoe staan jy so beteuterd hier eenkant, Elise?” onderbreek Herman van oom Gert Rooibult haar gedagtegang. “A, nee a, kom ons dans, jong! Kyk, daar staan Klasie ook al nader aan sy trekklavier. Maar intussen sal ek vir ons twee ’n tango fluit. Toe, kom, wat staan jy my so en bekyk asof ek iets uit die onbekende is en glad nie hier tussen julle tuishoort nie?”

Elise begin heerlik te lag en sonder meer baan hy vir hulle ’n weg na die dansbaan.

Presies om twaalfuur hou die orkes op met speel, want hoewel hulle almal besonder opgeruimd en plesierig van aard is, is hulle almal ook streng Christelik opgevoed en nie een sal ooit droom om die Sabbat te ontheilig deur na twaalf te dans nie.

Tot om eenuur staan hulle die volgende partytjie en bespreek, wat by Neels se ouerhuis sal plaasvind. Daar word ook besluit dat die besige dokter Piet Beukes sy bedrywighede vir daardie aand sal moet probeer staak sodat hy ook daar kan wees.

Dan begin almal aanstaltes maak om te vertrek en die groetery gee weer aanleiding tot ’n vrolike geskerts.

Die rooikop van Sonnerus

Подняться наверх