Читать книгу Staan op, my beminde - Susanna M Lingua - Страница 3

1

Оглавление

Henk de Swart knip sy tas toe en staan van die stoel af op. Elke trek op die prokureur se gesig toon dat hy bitter teleurgesteld voel met die bepalings van wyle Nicholaas Zeltmann se testament, wat pas voor sy dood deur die firma se jongste vennoot opgestel is terwyl Henk met verlof was.

Hermien Zeltmann, die sewe-en-twintigjarige weduwee, is sigbaar bleek. Sy het heeltyd geswyg terwyl die prokureur haar vyf-en-vyftigjarige oorlede man se testament gelees het, maar nou kan sy die stroom van woorde nie ’n oomblik langer keer nie. Iewers, voel sy, moet daar ’n groot fout wees.

“Is dit al wat my man nagelaat het?” begin sy ontsteld en met ’n onheilige frons, terwyl sy die prokureur beskuldigend aankyk. “Net hierdie huis en ’n miserabele vyftigduisend rand kontant? Toe ek vyf jaar gelede met hom in die huwelik getree het –”

“Was hy ’n ryk man,” vul die regsgeleerde nadruklik aan, “maar u en u oorlede man het te uitspattig gelewe, mevrou. Oorsese vakansies, swaar verliese op die renbane en by die oorsese dobbeltafels, swierige onthale en luukse sportmotors –”

“Ja, toemaar, ek weet,” val sy hom platweg en duidelik ontstoke in die rede, “maar as hy so skatryk was soos wat hy destyds aan my te kenne gegee het, sou hy al daardie uitgawes nie eens gevoel het nie.”

“U behoort dankbaar te wees, mevrou,” sê die prokureur ongevoelig. “U het die huis plus vyftig duisend rand geërf, terwyl juffrou Natasha Zeltmann nie ’n sent van haar pa geërf het nie.”

Die een-en-twintigjarige Natasha, klein en fyn met raafswart hare en groot, sagte bruin oë, kyk haar jong stiefma met ’n koue, afkeurende blik aan. Sy kon nog nooit begryp wat haar pa besiel het om met hierdie koue, onopgevoede vroumens te trou nie. Dit was vir haar uit die staanspoor duidelik dat haar stiefma, net ses jaar ouer as sy, glad nie oor die fyn opvoeding en die goeie agtergrond van haar eie ma beskik nie. Ook nou is dit baie duidelik dat haar pa se dood sy jong weduwee nie juis diep raak nie, ondanks haar deftige, swart pakkie. Dis of die skyn van ’n lieftallige eggenote met die dood van haar man soos ’n kleed van haar afgeval het en sy nou hier in haar ware kleure sit – vir almal om te sien.

“Jy sê dankbaar? Dankbaar omdat ek die beste jare van my jong lewe aan ’n ou man vir ’n huis en ’n miserabele bedraggie verkwansel het?” roep Hermien onbeskaamd uit. Sy lag kortaf en bitter. Haar groot, blou oë blits beskuldigend op die regsgeleerde asof dit sy skuld is dat sy nie meer geërf het nie.

“U persoonlike lewe, asook die rede waarom u met die oorledene getrou het, gaan my nie in die minste aan nie, mevrou,” sê hy kil. “Ek het bloot die testament kom lees.” Hy tel sy tas op en draai na Natasha. “Kom spreek my asseblief op kantoor sodra dit vir u geleë is, juffrou.”

Natasha knik instemmend.

Hierna groet hy die twee vroue beleef en keer haastig terug na sy kantoor toe. In geen vrou het hy nog ooit so ’n renons gekry soos in Hermien Zeltmann nie. Wat Natasha se pa besiel het om hom aan so … so ’n skepsel te verbind, gaan sy verstand te bowe.

“Ek hoop nie die ou jakkals het my ingeloop nie,” sê Hermien nadruklik met ’n ontsierende frons tussen haar mooi wenkbroue.

“Daar gaan groot moeilikheid wees as hy vir jou iets gee wat my toekom. Laat ek net –”

“Wat laat jou so iets dink?” val Natasha haar stiefma met ’n onverskillige houding in die rede.

“Omdat dit vir my na ’n gekonkel klink – hierdie storie dat hy jou môre in sy kantoor wil spreek. As dit iets is wat hy met jou wil uitklaar, kon hy dit mos vanmiddag hier in die huis afgehandel het,” sê Hermien met ’n kil, agterdogtige blik op Natasha. “Die ou mannetjie moet versigtig wees en in sy spoor trap. Hy moenie kom –”

“Watter ou mannetjie?” val Natasha die ouer vrou met ’n verwarde frons in die rede.

“Die skynheilige ou prokureurtjie met sy skelm oë,” kom dit steeds ontstoke van Hermien. “Ek sal hom hof toe neem as hy hom nie by die testamentêre bepalings hou nie. Volgens die testament is ek die enigste erfgenaam. Daarom behoort alles aan my.”

“Ek wonder net waarom ek … niks geërf het nie,” wonder Natasha hardop met hartseer in haar oë en in haar stem. “Ek is tog my pa se enigste kind –”

“O, ek het jou pa half belowe dat ek na sy dood vir jou sal sorg,” val Hermien haar met ’n ongevoelige stem in die rede. “Maar toe ek daardie belofte gemaak het, het ek natuurlik nie geweet dat daar kwalik genoeg geld sal wees om myself aan die lewe te hou nie. In elk geval, ek sal jou so ’n ietsie gee. Dit behoort jou deur te help totdat jy werk gekry het. Intussen moet jy maar hier aanbly totdat die huis verkoop is, maar daarna sal jy op jou eie bene moet staan en vir jouself moet sorg.”

Meteens gaan daar vir Natasha ’n lig op. Nou verstaan sy waarom haar pa vir haar niks nagelaat het nie. Deur haar skok en verslaentheid kan sy dit steeds nie kleinkry dat ’n intelligente man soos haar pa hom so maklik deur ’n fortuinsoekster kon laat mislei nie. Haar held het meteens voete van klei en die voetstuk waarop sy hom van kindsbeen af geplaas het, lê voor haar in skerwe.

Natasha se trots dwing haar om die aalmoes wat Hermien so halfhartig aanbied summier van die hand te wys. Dan skiet dit haar te binne dat dit in elk geval háár pa se geld is wat Hermien haar nou so halfhartig staan en aanbied; geld wat háár in alle regverdigheid toekom.

Dis waar, sy weet nie hoe op aarde haar pa nie deur Hermien se slinksheid kon sien nie. Sy het nog nooit geglo dat die liefde ’n mens kan verblind nie, maar nou lyk dit vir haar asof die ou gesegde heelwat waarheid bevat.

Wel, as die liefde die lewe vir ’n mens so ongemaklik maak en jou verblind vir belangrike dinge, besluit Natasha toe sy langsaam van die stoel af opstaan, is dit maar beter om jou hart liewer vir die liefde gesluit te hou.

Dan maak sy verskoning en verlaat die weelderige vertrek wat ’n paar dae gelede nog haar pa se studeerkamer was. Sy hou haar kop trots en regop, maar diep in haar is ’n eensame verlatenheid wat sy vir almal rondom haar probeer wegsteek. Ja, ook ’n groot seer oor haar pa se onregverdigheid wat haar nou van Hermien afhanklik maak.

Sy stap byna werktuiglik in die rigting van die tuin, verby die spuitfontein, die somerhuisie en die swembad, totdat sy ’n enkele wilgerboom bereik waarvan die takke byna op die grond hang. Hier vly sy haar neer op die bankie wat om die boom se stam strek. Met haar elmboë op haar knieë gestut, neem sy haar benarde posisie in oënskou. Sy sal sonder versuim werk moet soek. Hoewel sy haar nie juis vir ’n besondere beroep bekwaam het nie, het sy darem handelsvakke op skool geneem. Dit behoort nie vir haar te moeilik te wees om êrens werk te kry nie.

Maar hoe en waar begin ’n mens nou eintlik om werk te soek? wonder Natasha met ’n loodswaar gemoed, want dit was nog nooit vir haar nodig om ’n vinger te verroer nie. Die afgelope drie jaar, sedert sy matriek geslaag het, was sy meer saam met haar pa en Hermien oorsee as wat sy in haar eie land tuis was. Sy ken net die lewe van ’n rykmansdogter – ’n kommerlose lewe van gemak.

Natasha dink aan Hermien se woede vroeër vanmiddag toe die testament gelees is. Dan besef sy opnuut dat die lewe saam met haar jong stiefma van nou af onuithoudbaar sal wees. Hermien sal nou knaend daarop hamer dat sy haar jong lewe op ’n ou man vermors het en sy sal gedurig na die gesanik moet luister.

Hierdie gedagte laat haar meteens besluit om so gou moontlik aansoek om ’n betrekking te doen. Hoe gouer sy werk kry, hoe gouer kan sy Hermien se huis verlaat. Sy weet nog nie hoe en waar sy moet begin nie, maar haar goeie vriendin, Rita Grové, sal haar seker hiermee kan raad gee.

Hierna kom Natasha haastig regop en stap na die luukse sportmotor wat langs die huis staan – ’n geskenk van haar pa op haar een-en-twintigste verjaardag.

Terwyl Natasha van Waterkloof na Groenkloof ry, dink sy aan Rita, een van die bekende Johannesburgse nyweraar Lafras de Meyer se sekretaresses, al is haar eie pa ’n ryk en gesiene Pretorianer. Maar dit is hoe Rita nog altyd was. Sy laat haar nie deur iets soos status bind as sy dinge anders wil doen nie.

Die bome begin al lang skaduwees gooi toe Natasha voor die Grové’s se luukse woning stilhou. Sy klim uit die motor en draf haastig met ’n menigte treetjies op na die voorstoep. Sy druk die klokkie en na ’n paar oomblikke stap sy by die voordeur in.

Natasha tref dit gelukkig. Rita het die dag vry en is tuis. Die huishulp, wat haar al goed ken, neem haar na Rita se eie knus sitkamertjie en na ’n rukkie sit die twee meisies gesellig op die rusbank.

“Wat makeer, Natasha?” vra Rita sag terwyl sy die jonger meisie besorg aankyk. “Ek wil nou nie nuuskierig wees nie, jong, maar jy lyk vir my so bekommerd en ontsteld. Is … e … was daar iets in die testament wat jou ontstel het? Die prokureur sou mos vanmiddag jou pa se testament gelees het.”

Natasha sug diep. “Jy stel dit te sag, Rita,” antwoord sy met ’n moeë stem. “Ek is nie ontsteld nie, ek is geskok en bitter teleurgesteld. Hermien het alles geërf. Alles, sê ek jou, en ek niks, nie ’n dooie sent nie. Sy het my darem goedgunstiglik ’n aalmoes aangebied. Dié moet glo in al my behoeftes voorsien totdat ek ’n betrekking gevind het en vir myself kan sorg.”

Rita kan nie woorde vind om haar gevoel uit te druk nie. “So ’n hekseketel!” sê sy verslae. Sy raak bewus van die verwese glimlaggie om Natasha se sagte, kwesbare mond. Dan vervolg sy haastig: “Nee, regtig, sy is ’n gierige, inhalige feeks. As ek in jou skoene gestaan het, sou ek die testament in die hof nietig laat verklaar het!”

“Nee, wag ’n bietjie,” keer Natasha haastig, “ek koester hoegenaamd geen planne om die geldigheid van my pa se testament in die hof te bestry nie. Dit is beslis nie waarom ek hierheen gekom het nie.”

“Nou goed,” sê Rita en skuif vertroulik nader aan haar vriendin, “as dit dan nie oor die onregverdigheid van jou pa se testament is nie, wil jy hê ek moet Hermien vir jou van kant maak? Dit sal nogal maklik wees om haar te verdrink, of dink jy ek moet haar liewer met die motor doodry?”

“Nee, wag nou eers, jy is heeltemal op die verkeerde spoor,” demp Natasha dadelik Rita se gewaande moordlus. “Laat Hermien gerus maar begaan. Ek het nog altyd daaraan geglo dat reg en geregtigheid sal seëvier, en ek glo nog steeds daaraan. Haar valse beloftes aan my pa sal haar geen geluk bring nie. Trouens, ek het jou hulp en raad nodig, maar nie om van Hermien ontslae te raak nie. Hoe kan ek werk kry? Wat moet ek doen en waar begin ek soek? Jy besef seker dat dit vir my dringend noodsaaklik is om so gou moontlik ’n eie inkomste te verdien. Ek sal natuurlik ook moet leer om met minder klaar te kom …” Haar stem breek meteens en sy draai vinnig weg sodat Rita nie die hartseer, kommer en radeloosheid op haar gesig moet merk nie.

“Jy hoef nie werk te soek nie, Natasha,” stel Rita haar dadelik gerus. “Ek weet toevallig van iets wat dalk net nommerpas vir jou is. My werkgewer se seun soek glo ’n algemene assistente. Maar ek sal môre vir jou meer in verband met die werk en die salaris vasstel.”

“Is die seun in ’n vennootskap met sy pa?” vra Natasha belangstellend. Sy sal graag naby Rita wil werk.

Rita skud egter haar kop ontkennend. “Nee, hy is nie. Trouens, ek het hom drie jaar laas gesien. Ek verstaan hy en oubaas Lafras kom nie juis goed met mekaar oor die weg nie. Daarom het hy sy ouerhuis verlaat en elders gaan woon. Maar ek sal môre al die besonderhede by sy suster kry. Irene, dit is nou sy suster, is baie geheg aan hom.”

“Werk die suster saam met jou in die kantoor, of is sy ook van haar pa vervreem?” vra Natasha effens agterdogtig. Dit klink vir haar of onmin iets algemeens is in die De Meyers se huis. Miskien moet sy eerder nie vir een van dié spul gaan werk nie. En wat sou die werk behels?

“Die hele gesin is nie van mekaar vervreem nie, my hartjie. Dis net Dewalt wat sy bande met sy pa verbreek het,” lag Rita. “Maar om tot jou vraag terug te keer … Irene werk nie, daarom kom drink sy dikwels saam met my tee. Ons twee ken mekaar van kindsbeen af. Een van haar neefs is met my niggie getroud. Maar om tot jou eie sake terug te keer, my liewe Natasha. Jy het gelyk, jy sal beslis moet leer om goedkoper te lewe, anders sal ’n salaris nooit in al jou behoeftes voorsien nie. Om mee te begin, jy sal daardie duur motor van jou moet verkoop. Skaf ’n ligter een, wat minder brandstof gebruik, aan. Jy sal ook jou perd en jou motorboot moet verkoop. Trouens, jy sal van alles wat ’n onnodige uitgawe is ontslae moet raak.”

Die son is reeds onder toe Natasha begin aanstaltes maak om te vertrek. Rita stap saam met haar tot by die motor. Die twee meisies sê tot siens en dan vertrek Natasha.

Toe sy tuis kom, tref dit Natasha dat die huis vreemd stil is. Sy wonder waar Hermien is, want gewoonlik is sy teen hierdie tyd van die aand in die sitkamer met ’n skemerkelkie in die hand. Maar noudat sy daaraan dink, val dit haar op dat sy Hermien nog selde sonder ’n glas wyn of sterker drank in die hand gesien het.

Sy is bepaald besig om haar vir aandete te verklee, besluit Natasha, en haas haar dan na haar kamer om self ook ander klere te gaan aantrek.

Hermien is vreemd stil en afgetrokke aan tafel. Vir Natasha lyk sy half bekommerd en diep ingedagte. Dit laat haar wonder wat sy op die hart het, want sy ken Hermien nie so nie.

Natasha hoef nie lank te wonder nie. “Ek het besluit om môreoggend saam met jou na die prokureur se kantoor te gaan,” sê Hermien so ewe uit die bloute. Dit is vir Natasha so duidelik soos daglig dat Hermien nog steeds bekommerd voel dat die prokureur straks iets waardevols vir haar stiefdogter kan gee – iets wat haar, Hermien, eintlik toekom.

Natasha wil die ouer vrou eers ’n skerp antwoord gee, want noudat haar pa oorlede is, voel sy dat daar geen verwantskap meer tussen haar en hierdie inhalige vrou bestaan nie. Maar sy bedink haar gelukkig betyds. “In daardie geval sal jy jou vroeg moet roer, want ek ry kwart voor nege.”

Hermien kyk haar verontwaardig aan en frons. “Die wêreld sal nie vergaan as jy later ry nie,” laat sy skerp hoor. “Dit sal jou ook niks baat om met my astrant te wees nie. Jy is op die oomblik van my afhanklik; dus sal jy ry wanneer dit my pas – en nie ’n minuut voor daardie tyd nie.”

As Natasha nog daaraan getwyfel het of sy vir die betrekking waarvan Rita haar vroeër vanmiddag vertel het moet aansoek doen, is sy nou vasbeslote om so gou moontlik werk daarvan te maak. Sy besef dat sy en Hermien nie veel langer onder een dak sal kan woon nie.

Wat Hermien egter nie weet nie, is dat Natasha se bankrekening vir haar doeleindes heeltemal gesond is. Sy hoef nie beledigings van Hermien te duld nie. Maar hieroor swyg sy wyslik. Die geld in haar bankrekening is haar jaarlikse toelaag wat twee weke gelede in haar rekening inbetaal is.

Die maaltyd verloop in stilte. Hermien weet dat Natasha nog nooit juis vir haar tyd gehad het nie en dat sy haar al die jare bloot om haar pa se ontwil geduld het. Ook van haar kant af het sy geen moeite gedoen, of selfs uit haar pad gegaan om Natasha se vertroue te wen nie. Daarom was daar nog nooit ’n gevoel van kameraadskap tussen hulle nie.

Na ete maak Natasha verskoning en gaan sonder meer na haar privaat sitkamer – of dan trouens die sitkamertjie wat altyd hare was, maar nou Hermien se eiendom is.

Sy stap haar eertydse sitkamertjie binne sonder om die lig aan te skakel. Die straatlig val dof deur die dubbelglasdeur wat op die balkon oopmaak. Sy maak die deur saggies oop en stap uit op die balkon wat ’n ruim uitsig oor die stad bied. Terwyl sy teen die balkonmuurtjie aanleun, dink sy aan Hermien se oorheersende houding vroeër aan tafel.

As sy dink sy kan my hiet en gebied omdat ek nog haar gasvryheid geniet, maak sy ’n baie groot fout, mymer Natasha terwyl sy na die sterbesaaide hemelruim tuur. Ek kan dit nog nie aanvaar dat my ouerhuis en alles wat eergister nog aan my pa behoort het, nou skielik Hermien se eiendom is nie. Dit gaan vir my bitter moeilik wees om aan hierdie nuwe omstandighede gewoond te raak. Daarom moet ek maar liewer so gou moontlik vir my ’n ander blyplek vind. Ja, dit sal inderdaad die beste uitweg wees … ’n Nuwe omgewing, werk wat my bedags aan die gang hou, nuwe vriende om my aandag af te lei.

Natasha staan ’n lang ruk en peins oor hierdie onbenydenswaardige situasie waarin sy haar bevind. Dan stap sy na binne. Sy het klaar besluit om sommer môre al vir haar ander verblyf te vind.

Daardie aand raak Natasha nie maklik aan die slaap nie. Die wete dat sy hierdie huis, waarin sy as kind grootgeword het, môre gaan verlaat, is ’n gedagte wat haar tot laat in die nag wakker hou.

Ofskoon sy die vorige aand laat aan die slaap geraak het, is Natasha die volgende oggend vroeg wakker en uit die bed. Toe sy kwart voor nege gereed is om na die prokureur se kantoor te vertrek, deel een van die huishulpe haar mee dat Hermien nog slaap. Sy wag tot nege-uur, maar toe Hermien nog geen teken toon dat sy enigsins van plan is om op te staan nie, klim Natasha in haar motor en vertrek stad toe.

Die skone Hermien gaan natuurlik woedend wees wanneer sy wakker word en hoor dat ek reeds vertrek het, dink Natasha met ’n ingenome glimlaggie toe sy langs ’n parkeermeter stilhou en uitklim. In elk geval, sy moet maar ontplof as sy wil. Sy sal baie gou haar fout agterkom as sy dink sy kan my hiet en gebied asof ek haar persoonlike diensmeisie is!

’n Rukkie later stap sy Henk de Swart se ontvangsvertrek binne, groet die sekretaresse vriendelik en sê verontskuldigend: “Ek weet nie of ek te vroeg of te laat is nie, maar meneer De Swart verwag my vanoggend.”

“Gaan gerus binne, juffrou Zeltmann,” sê die meisie net so vriendelik. “Jy is eintlik net mooi betyds, want meneer De Swart het ook maar pas hier aangekom.”

Natasha bedank haar en stap die prokureur se kantoor binne. Sy groet hom beleef en gaan op sy uitnodiging sit.

“Het u alleen gekom, juffrou Zeltmann?” vra hy taktvol en versigtig.

Sy knik, ’n geamuseerde glimlaggie om haar mondhoeke. “Hermien … e … mevrou Zeltmann was gisteraand vas van plan om my vanoggend hierheen te vergesel, maar sy het nog vas geslaap toe ek vroeër van die huis af weg is.”

“Pragtig,” sê die man tevrede. “Ek is bevrees mevrou Zeltmann is ’n … e … moeilike mens om mee sake te doen. Ek is seker u wil graag u pa se brief in privaatheid lees.” Hy tel ’n brief van sy lessenaar af op en hou dit na haar uit. “Daar is ’n paar sakies wat ek met my sekretaresse wil bespreek. Lees gerus u pa se brief hier in my kantoor. Moontlik is daar iets waarmee ek kan help.”

Natasha bedank hom. Hierna skeur sy die koevert oop, neem die enkele vel uit en vou dit versigtig oop. Die volgende oomblik val ’n papierstrokie uit die brief. Dit lyk soos ’n kwitansie. Sy bekyk dit van nader, merk dan dat dit ’n kwitansie is van ’n bank wat ’n pakkie vir haar in bewaring hou.

My liefste Natashatjie, begin sy lees. Hoe verduidelik ’n ouer aan sy enigste kind waarom hy niks in sy testament aan haar nalaat nie? Ek besit nie meer veel nie, daarom laat ek alles aan Hermien na. Ek voel dit kom haar toe, omdat sy die beste jare van haar jong lewe aan my afgestaan het. Ek is net bitter jammer dat ek nie meer vir haar kan nalaat nie, aangesien sy gewillig is om vir jou ook te sorg. Jy het seker al dikwels gewonder wat van jou oorlede ma se juwele geword het? Om die een of ander rede kon ek dit nie oor my hart kry om al jou ma se juwele vir Hermien te gee nie. Haar diamanthalssnoer en bypassende oorkrabbertjies word vir jou by die bank in bewaring gehou …

Natasha lees die brief klaar, dan staar sy met nikssiende oë deur die kantoor se venster wat ’n mooi uitsig oor die stadsplein bied. Haar groot, hartseer oë rus stil op die kunstige spuitfontein wat sy in werklikheid nie eens waarneem nie. Deur haar gemoed maal baie uiteenlopende gedagtes. Sy besef egter met ’n gevoel van verligting en blydskap dat haar pa haar darem nie heeltemal vergeet het nie. Sy ken haar oorlede ma se juwele en weet dat daardie besondere stel ’n fortuin werd is. Haar pa het haar dus tog iets waardevols nagelaat.

Sy vou die brief sorgvuldig op en plaas dit terug in die koevert. ’n Sweem van ’n glimlaggie verskyn meteens om haar mooi, sagte mond toe sy aan Hermien dink.

Sy gaan sonder twyfel ’n aanval van beroerte kry wanneer sy van die juwele hoor, flits dit deur haar gedagtes. Sy sal haar maar liewer nie van die brief en die juwele vertel nie, en sy sal meneer De Swart vra om ook hieroor stil te bly.

Toe Natasha later met die prokureur oor haar erfenis gesels, wil hy dadelik weet of hy vir haar ’n koper vir die juwele moet vind.

Natasha skud egter haar kop. “Ek verkies om die juwele te hou as ’n aandenking aan my ma. Dis trouens al wat ek van haar het en … e … sy was baie lief vir daardie halssnoer en oorkrabbertjies.”

“As u die juwele wil hou, is dit in orde. Maar as u eendag geld dringend nodig kry –”

“Ek hoop om gou werk te kry, meneer De Swart,” val sy die prokureur vinnig in die rede. “Ek sal vanmiddag weet of ek geskik sal wees vir die betrekking wat ek in die oog het. Maar baie dankie vir die vriendelike aanbod. Ek sal dit in gedagte hou wanneer die lewe my eendag volkome stief behandel en ek dalk verplig voel om my erfenis van die hand te sit.”

Natasha voel asof sy op die wolke sweef toe sy later voor die deur van haar ouerhuis stilhou. Haar verligting is nie te wyte aan die klein fortuin wat die bank vir haar in bewaring hou nie, maar omdat haar pa haar tog nie vergeet het nie.

Terwyl sy nog besig is om hierdie heerlike gevoel in haar te vertroetel, loop sy Hermien in die eetkamer raak waar sy besig is om ontbyt te eet. Haar groet is ietwat afgetrokke. Daaraan steur Natasha haar min. Sy besef dat haar pa se dood ook vir Hermien probleme geskep het.

“Ons kan oor ’n halfuur na die prokureur toe ry,” sê Hermien, nog steeds afgetrokke, sonder om haar blik van haar bord af weg te neem.

“Ek was reeds by die prokureur. Trouens, ek kom nou net van meneer De Swart af,” laat Natasha kalm hoor.

“Wat sê jy? Jy was al daar!” roep Hermien woedend uit – ’n uitbarsting waaraan Natasha haar nie in die minste steur nie. Sy besef dat hul paaie die een of ander tyd moet skei.

“Jy het reg gehoor, Hermien, dit is presies wat ek gesê het,” sê Natasha nog steeds doodbedaard.

“Maar ek het dan gister nog vir jou gesê ek wil saamgaan –” begin Hermien en sy stoot haar bord spek en eiers woedend opsy. Natasha gee haar egter nie kans om meer te sê nie.

“Ek onthou baie goed wat jy gister gesê het, Hermien,” val sy die ouer vrou sag in die rede, “maar jy het nog geslaap toe ek wou ry. En die saak wat die prokureur met my wou bespreek … wel, dit gaan jou hoegenaamd nie aan nie.”

Hermien vlieg van die tafel af op en gaan dreigend voor Natasha staan. Op die oog af lyk dit werklik of sy die jonger meisie te lyf wil gaan.

“Hiervoor sal jy boet!” roep sy ontstoke uit. Haar stem bewe van woede. “Gaan pak nou dadelik jou klere in en trap uit my huis uit! Jy en daardie agterbakse prokureurtjie is natuurlik kop in een mus om my van my erfenis te beroof! Maar julle sal dit nie regkry nie. Ek sal julle voor die hof daag …”

“Dis nie nodig om op my te skreeu nie, Hermien,” probeer Natasha haar stilmaak. Maar Hermien is nou behoorlik doof van woede.

“Wat sê jy? Ek moenie op jou skreeu nie!” vaar Hermien weer onbeheers uit. “Ek voel baie lus en doen jou iets meer aan …”

“In daardie geval sal ek dan maar my persoonlike besittings gaan inpak,” stuit Natasha die ouer vrou se vloed van woorde.

Sy draai om en terwyl sy wegstap, hoor sy Hermien nog eens agter haar aangil: “Ja, loop en gaan pak jou klere in sodat jy kan trap!”

Dit was vir Natasha nie moeilik om verblyfplek te kry nie. Sy het besluit om voorlopig in ’n hotel te bly totdat sy weet of sy in Pretoria of Johannesburg gaan werk.

Daardie aand na ete besluit sy om eers weer te gaan hoor wat Rita vir haar kon vasstel oor die betrekking waarvan sy die vorige dag gepraat het. Sy hoop van harte dat dit haar geval en dat haar kwalifikasies aan die werkgewer se vereistes voldoen.

Rita sit reeds in haar privaat sitkamer op Natasha en wag toe sy voor die Grové’s se huis stilhou.

“Ek het jou al vroeër verwag, jong,” groet Rita haar vriendelik. “Ek het goeie nuus vir jou. Kom sit hier langs my, dan vertel ek jou,” en sy beduie na die sitplek langs haar op die rusbank.

“Ek het ook baie om jou te vertel,” sê Natasha toe sy langs haar vriendin plaasneem.

“Ek kan raai wat dit is,” glimlag Rita ondeund. “Jy en daardie Hermien-vroumens het vasgesit en nou het jy uit die huis padgegee.”

“Ja, dit ook,” knik Natasha bevestigend, “maar ek was vanoggend by die prokureur – sonder Hermien, natuurlik. Sy het nog geslaap toe ek gery het, en dit was juis daaroor dat sy my uit die huis gejaag het. Maar wat ek jou eintlik wil vertel, is die goeie nuus wat ek by meneer De Swart gekry het.” Sy vertel Rita van die brief en die juwele. “Ek sit dus darem nie heeltemal op straat nie, Rita. Noudat ek jou al my nuus vertel het, kan jy gerus met joune wegval. Ek verseker jou, ek is die ene ore.”

“Wag ’n bietjie, jong. Voordat ek met my nuus begin, wil ek net eers dit sê: ek hoop nie jy het ’n woonstel gaan staan en huur nie, want dan sal jy die huur dadelik moet opsê.”

Natasha kyk haar vriendin vraend en met opgetrekte wenkbroue aan.

“Ek verstaan nou glad nie wat jy bedoel nie, jong,” sê sy sag, “ek woon tydelik in ’n hotel.” ’n Uitdrukking van verligting flits oor Rita se gesig. “Maar sê vir my, waarom is ’n woonstel vir my op die oomblik van die baan af?” vra Natasha nuuskierig.

“Omdat jy iewers langs die Drakensberge gaan woon,” verduidelik Rita ingenome. “Jou toekomstige werkgewer, Dewalt de Meyer, het glo ’n pragtige plaas daar rond.”

“Wat op aarde wil ’n plaasboer met ’n assistente maak?” vra Natasha teleurgesteld. “Ek weet in elk geval niks van boerdery af nie.” Sy koester geen begeerte om vir ’n boer te werk nie. Maar as dit nie anders kan nie, sal sy seker maar moet. Dalk behels die werk allerlei administratiewe takies.

“Dewalt, my hartjie,” hoor sy Rita gerusstellend sê, “is nie ’n plaasboer nie; hy is ’n bekende skrywer van Afrikaanse en Engelse romans. Hy het ook al talle draaiboeke en radioverhale in albei tale geskryf. Hy werk nou aan ’n draaiboek vir een van Amerika se bekendste filmbase. Irene, sy suster, meen dat sy jongste draaiboek van hom ’n miljoenêr kan maak. Maar dit beteken natuurlik nie dat hy arm is nie. O nee, Dewalt het ryk geërf toe sy ma twee jaar gelede oorlede is.”

“Nou waarom is hy van sy pa vervreem?” wil Natasha weer weet. As sy dan vir die man moet werk, wil sy alles van hom weet.

“Ag, jong, dis ’n lang storie; maar dit kom eintlik daarop neer dat hy geweier het om saam met sy pa in die besigheid te gaan. Oubaas Lafras wou ’n vennootskap met hom aangaan, maar Dewalt wou nie sy skrywersloopbaan vir die sakewêreld prysgee nie. Hierdie hardkoppigheid van Dewalt het glo ’n hewige rusie veroorsaak en daartoe gelei dat hy sak en pak plaas toe verhuis het.”

“Hoe weet sy suster dat hy iemand in diens wil neem?” kom dit weer van Natasha.

“O, Irene bel en skryf gereeld om te hoor hoe dit met hom gaan,” vertel Rita. “Sy is baie geheg aan Dewalt. Maar om terug te keer tot die betrekking … Jy kan by Dewalt begin werk sodra dit vir jou geleë is. Irene verwag jou môreoggend in my kantoor. Daar is glo ’n paar dingetjies wat sy persoonlik met jou wil bespreek.”

“Laat ek eers hoor hoe sake staan in verband met die salaris. Sal dit my darem aan die lewe hou, of sal ek onder die broodlyn moet lewe?” wil Natasha belangstellend weet.

“O ja, die salaris,” glimlag Rita. “Nee, jong, dit sal gelukkig nie vir jou nodig wees om onder die broodlyn te lewe nie, want benewens die salaris,” en sy noem ’n aantreklike bedrag, “ontvang jy ook gratis inwoning. Jy sal dus jou vuurwa in stand kan hou, maar ek is bevrees jy sal nog steeds jou perd en motorboot van die hand moet sit. As werkende meisie sal jy in elk geval nie tyd kry om met jou boot op die see te gaan rondkerjakker nie. As jy wil perdry, kan jy maar van Dewalt se perde gebruik.”

Natasha sit tot laat by Rita en gesels en kom die aand byna twaalfuur eers tuis. Sy het nog nie veel oor haar toekomstige werkgewer gedink nie, maar toe sy later in die bed lê, wonder sy die eerste keer hoe Dewalt lyk en of hy darem gaaf is. Sy het nog nooit vir iemand gewerk nie en sy weet nie of sy met ’n buierige persoon oor die weg sal kom nie. Dit moet bitter onaangenaam wees om heeldag saam met ’n knorpot te werk. Sy hoop maar Dewalt het ’n aangename persoonlikheid.

Hoewel Natasha tot laat daardie nag oor Dewalt lê en bespiegel, is sy vroeg die volgende oggend uit die bed en betyds gereed om na Rita se kantoor te gaan.

Irene hou dadelik van die stil, minsame Natasha. Dat sy oor fyn smaak beskik en net aan die beste gewoond is, blyk duidelik uit haar klere.

“Ek dink jy sal goeie medisyne vir my ouboet wees, Natasha,” meen Irene en glimlag vertroulik.

Natasha kyk stip na Irene en vra dan belangstellend: “Waarom het hy medisyne nodig?”

“O, hy het ses maande gelede ’n ernstige liefdesteleurstelling gehad,” vertel Irene. “Trouens, vir hom was dit ’n geweldige skok toe Esna le Clus hom soos ’n warm patat gelos en haar aan ’n ryker man gaan staan en verloof het. Maar vir Pappa en vir my was dit ’n seën dat hy die kloue van so ’n gewetenlose fortuinsoekster vrygespring het.”

“Die naam Esna le Clus klink vir my bekend,” sê Natasha.

“Sy is ’n bekende model en haar naam en foto verskyn dikwels in die koerante. Maar ek moet sê dat sy my ouboet ’n lelike streep getrek het – en dit nadat hy haar met duur juwele behang het.”

“Die wêreld is vol van haar soort – vroue wat ’n man se waarde volgens die syfers van sy bankrekening bepaal,” meen Rita.

“Wel, ek hoop nie jou broer laat mý vir die Esna-vroumens se sondes boet nie,” laat Natasha van haar hoor. Sy het al gehoor dat ’n liefdesteleurstelling sommige mense onredelik, koud en ongevoelig teenoor ander maak. Sy hoop maar dat Dewalt nie in so ’n skepsel verander het nie.

“My broer is nou ’n bitter ongelukkige man, Natasha,” sê Irene, “maar ek en Pappa is baie bly dat hy ’n lewe saam met Esna gespaar is. Jy sien, Esna het nog nooit ’n man liefgehad nie, net sy bankrekening. Toe sy hoor dat Dewalt iets besit, het sy dadelik aan hom verloof geraak. Maar toe sy ’n man ontmoet met meer aardse skatte as Dewalt, het sy my broer sonder meer die trekpas gegee en aan die ander man verloof geraak. Nou treur Dewalt oor hierdie gewetenlose vrou.”

“Ja, dit is presies hoe ’n mansmens is,” raak Rita ’n wysheid kwyt. “Ken nie ’n fortuinsoekster as hulle een sien nie.”

Oubaas Lafras stap die kantoor binne en Natasha word aan hom voorgestel.

“So, dan is jy die dametjie wat Irene vir Dewalt as assistente wil hê?” laat die oubaas vriendelik hoor terwyl hy haar ondersoekend aankyk. “Ek weet nie waarom Dewalt nou juis ’n helper moet hê nie. Die man is groot genoeg om sy storietjies self te tik en sy administratiewe take op sy eie te behartig. Jy kan liewer in een van my kantore kom werk, juffrou Zeltmann.”

“Nee, wag nou eers, Pappa,” keer Irene haastig, “ek het Dewalt reeds gebel en hom van Natasha vertel. Hy verwag haar nie later as Saterdag nie.”

“Hm, jy en Dewalt gee haar nie eens kans om self te besluit of sy vir hom wil werk nie,” laat die oubaas weer hoor. Hy draai na Natasha. “Hier sal altyd vir jou ’n pos wees. As jy voel jy kan glad nie met Dewalt oor die weg kom nie, moet jy net –”

“Wat laat Pappa só dink? Waarom sal Natasha nie met Dewalt oor die weg kom nie?” val Irene die oubaas in die rede.

“Wel, sedert daardie Le Clus-vroumens hom die trekpas gegee het, het hy al twee meisies in diens gehad. Juffrou Zeltmann sal die derde wees. Is dit nie genoeg bewys dat g’n beskaafde mens met hom oor die weg kan kom nie?”

Irene draai na Natasha en sê gerusstellend: “My pa probeer jou opsetlik afskrik omdat hy self nog iemand vir sy tikwerk en algemene administrasie nodig het. Ek stry nie; my broer is op die oomblik nie die maklikste mens om voor te werk nie. Maar dit is nie te sê dat hy sy vorige twee werknemers onredelik afgedank het nie. Dewalt is ’n baie aantreklike man, Natasha, en die twee meisies het glo meer in hom as in die werk belanggestel … Nou ja, soos ek my broer ken, sal hy dit nie duld dat hy iemand moet betaal net om sy werk te verwaarloos nie.”

“Ek probeer nie om die dametjie af te skrik nie, Irene,” maak die oubaas ernstig beswaar teen sy dogter se aantyging. “Ek wil maar net hê juffrou Zeltmann moet weet dat ek vir haar ’n heenkome het as sy glad nie met Dewalt oor die weg kan kom nie.”

“Natasha is nie die soort wat haar aan Dewalt sal opdring nie, Pappa. Ek sien dus geen rede waarom sy nie met hom oor die weg sal kom nie,” meen Irene.

“Ek stem saam met Irene, oom Lafras,” voeg Rita nou ook haar stuiwer in die armbeurs. “Natasha is die ideale assistente vir Dewalt. Hy sal nie sonde en ergernis met haar hê nie, want sy is te fyn opgevoed om haar aan ’n man op te dring.”

“Ek sal maar liewer loop, want ek sien julle is nou twee teen my,” glimlag die oubaas met ’n vriendelike knipoog toe hy die vertrek verlaat.

“Ek hoop nie my pa het jou nou afgeskrik nie, Natasha,” sê Irene.

“Toemaar, moenie bekommerd wees nie,” glimlag Natasha. “Ek het gisteraand al besluit dat ek die betrekking sal aanvaar. Jy moet my net beduie hoe ek moet ry om by jou broer se plaas uit te kom.”

“Ek sal vir jou op die padkaart wys, maar ek vrees dit is ’n bietjie moeilik om by die huis, wat hoog teen die berg geleë is, uit te kom.”

“Ag, verduidelik maar, ek sal wel die plek kry,” meen Natasha.

Hierna vertoef Natasha nie lank nie. Irene verduidelik die pad aan haar baie noukeurig, toe groet sy die twee meisies en vertrek. Sy besef dat daar nog baie dinge is wat sy moet doen voordat sy Saterdag sal kan vertrek.

Staan op, my beminde

Подняться наверх