Читать книгу Staan op, my beminde - Susanna M Lingua - Страница 4

2

Оглавление

Dit is ’n nat wintersdag. Die wind dryf die reën in vlae voor die motor verby tot daar gunter oor die vlaktes. In die voertuig is dit stil. Net die sagte geskraap van die reënveërs is hoorbaar. Deur Natasha se verstand maal baie gedagtes.

Sedert haar gesprek met Irene en oubaas Lafras het sy al dikwels gewonder of sy die regte ding doen deur vir Dewalt te gaan werk. Daar is so baie dinge wat teen hom tel. Dit wil vir haar al voorkom of hy die soort werkgewer is van wie al wat werknemer is op die lange duur wegvlug. Boonop woon hy nog in die Drakensberge en, vir al wat sy weet, ver en afgesonder van al wat ’n lewende wese is.

’n Ongelukkige trek verskyn meteens om haar mond en in haar oë. Sy besef dat sy nou geen ander keuse het as om vir Dewalt te gaan werk nie. Sy het geen ondervinding van kantoorwerk nie en kan nie juis bekostig om kieskeurig te wees nie.

Dis waar, oubaas Lafras het haar nou wel werk in sy kantoor aangebied, maar dit was vir haar ook baie duidelik dat Irene nie daarvan sou hou as sy Dewalt se betrekking nou van die hand moet wys nie.

O wel, as ek nie met Dewalt oor die weg kom nie, kan ek altyd bedank en by oubaas Lafras gaan werk, besluit sy. Hierdie gedagte laat haar heelwat gelukkiger voel.

Sy nader die Drakensberge en merk dat dit nou opgehou het met reën – maar die wind sny steeds koud oor die vlaktes.

Natasha se hande is ietwat lomp, met die dik wolhandskoene aan, toe sy die padkaart op die sitplek langs haar opneem en so in die ry kyk of sy darem nog die regte pad volg. Sy bereken die afstand wat sy nog moet ry om Die Arendsnes te bereik, en besef dan dat sy oor anderhalf uur haar bestemming sal bereik.

Dit sal inderdaad ’n seën wees om uit hierdie wind en weer te kom, gesels Natasha in haar enigheid met haarself. ’n Kaggel waarin ’n gesellige vuur brand en ’n koppie stomende koffie is al waarna sy op die oomblik uitsien. Maar die heer Dewalt sal bepaald verwarmers gebruik …

Die reis is lank en eentonig en die pad kronkel gevaarlik teen die berg uit. Eindelik hou sy stil voor ’n indrukwekkende dubbelverdiepinghuis wat lyk of dit uit die rots, waarop dit staan, gekap is. Aan die een kant van die huis toring die rotsagtige berg die bloute in, en aan die ander kant daarvan lê ’n duiselingwekkende afgrond.

Natasha kyk na die gevaarlike afgrond en ril merkbaar. Sy voel skielik bang vir hierdie huis. Dit lyk of dit die elemente al baie eeue hier teen die berg trotseer … Ja, dit lyk vir haar glad nie na ’n vriendelike huis nie.

Nou ja, of dit ’n vriendelike huis is of nie, sy het ’n lang reis agter die rug en sal noodgedwonge die beste van ’n slegte saak moet maak.

Natasha knoop haar pelsjassie versigtig toe, trek haar wolmus styf oor haar kop, neem dan haar handsak en klim haastig uit die motor. ’n Oomblik lank voel dit of die wind haar oor die afgrond gaan waai. Sy hou aan die motordeur vas en bid saggies dat die wind tog net ’n oomblik moet gaan lê.

Natasha weet nie of dit is omdat sy gebid het nie, maar die rukwind begin beslis bedaar. Sy neem egter die geleentheid waar en draf haastig met die trap op wat na die voordeur toe lei. Sy lig haar hand op om te klop, maar die deur gaan skielik oop. Sy kyk vlugtig op, vas in die helderblou oë van ’n lang, blonde man.

“Ek neem aan jy is my nuwe assistente, juffrou Natasha Zeltmann,” sê hy. Natasha wil iets sê, maar hy gee haar nie eintlik kans om te antwoord nie. “Ek is Dewalt de Meyer – maar waarom ek jou eintlik hier by die deur voorkeer, is om vir jou te sê dat jy jou motor asseblief op ’n ander plek moet parkeer; nie hier in my voordeur nie.”

Natasha kyk die man stil aan, tel dan tot by tien en vra versigtig: “Mag ek vra waar ek my motor moet parkeer, meneer De Meyer?”

Hy kyk haar aan asof ’n skroef êrens by haar los is. “Maar vervlaks, juffrou, parkeer die motor enige plek; net nie in my voordeur nie!” sê hy onthuts. “Trek die motor daar langs die krans.” Hy dui die plek met sy vinger aan.

“Is hier iemand wat my bagasie na my kamer toe kan neem, of moet ek dit self doen?” vra sy met ’n koue, sarkastiese stem. Sover dit haar aangaan, het sy nou heeltemal genoeg van Dewalt de Meyer se onvriendelikheid. Hy moenie met haar praat asof sy iets is wat die kat van buite af ingebring het nie; hy sal sy rieme met haar styfloop.

Die sarkastiese toon in haar stem laat Dewalt vlugtig en met opgetrekte wenkbroue na haar kyk. Sy klink beslis omgekrap.

“ ’n Huishulp sal jou bagasie na jou kamer toe neem, juffrou Zeltmann,” sê die man nou effens vriendeliker. “Trek solank jou motor daar langs die krans, ek sal die huishoudster, mevrou Hugo, intussen sê om ’n huishulp te stuur om jou bagasie te bring.”

Dewalt verdwyn in die huis en Natasha het geen ander keuse as om haar motor voor die deur te verwyder nie.

Die ongevoelige bees, kners sy vererg deur haar tande. Hy kon my ten minste eers binnegenooi het vir ’n koppie warm koffie; hy het tog gesien ek is blou van die koue! Maar vir hom is dit bepaald belangriker dat ek my motor nou dadelik voor sy deur verwyder. Waarom sal hy hom dan ook oor ’n doodgewone ou salaristrekkertjie se gerief bekommer? Dié soort nasie is mos volop!

Natasha is so bitter ontstoke dat die gevaarlike afgrond haar glad nie afskrik nie. Dewalt se koue, onvriendelike oë bly haar knaend by. Die man is skoon gek om sy lewe so te vergal oor ’n gewetenlose fortuinsoekster.

“Mevrou het gesê ek moet juffrou se tasse kom haal,” kondig ’n huishulp haar teenwoordigheid aan toe Natasha in die voertuig wil klim.

“Wat is jou naam?” vra sy belangstellend.

“My naam is Truia, maar die mense noem my sommer Truitjie,” sê sy.

“Gaaf, my naam is Natasha en hier is my bagasie in die motor.”

Met haar motor uit die pad stap Natasha haastig na die voordeur wat Truitjie vir haar oopgelaat het. Sy wonder of die huishoudster ook so onvriendelik soos hul werkgewer is. As dit die geval is, sien sy donker dae vir haarself.

Natasha sug byna hoorbaar van verligting toe ’n vriendelike, middeljarige vrou haar in die portaal groet.

“Ek is mevrou Rina Hugo, die huishoudster,” sê sy vriendelik, “en u moet juffrou Zeltmann wees.”

“Dis reg, mevrou. Ek is Natasha Zeltmann. En los gerus die u – dis darem te formeel!”

’n Wedersydse kennismaking volg. Toe word Natasha na ’n knus sitkamertjie geneem waar ’n vuur in die kaggel brand en twee koppies stomende koffie op ’n skinkbord staan.

Natasha gaan op die ouer vrou se uitnodiging op ’n stoel voor die kaggel sit en geniet dan uiteindelik die koppie koffie waarna sy die hele middag al uitsien.

“Ek hoop jy gaan langer vir meneer De Meyer werk as die vorige twee meisies, juffrou Zeltmann,” glimlag die ouer vrou gemoedelik. “Ek vind dit verwarrend as die mense in die huis so vinnig kom en gaan.”

“Ja, ek kan dink dat dit probleme skep, mevrou,” stem Natasha saam. “Maar in my geval hang dit uitsluitlik van meneer De Meyer se humeur af of ek lank hier gaan bly of nie. Want sien, ek is nie bereid om vir ’n ander vrou se sondes te boet nie. Dus sal ek dit baie beslis nie duld dat meneer De Meyer sy wrok teenoor ’n ander vrou op my uithaal nie.”

“Wat laat jou dink dat meneer De Meyer so iets sal doen, juffrou?” vra die huishoudster versigtig.

“Ek het uit ’n baie betroubare bron verneem dat meneer De Meyer deesdae nie ’n maklike mens is om mee oor die weg te kom nie, mevrou Hugo,” lig Natasha haar saaklik in. “Sy liefdeslewe is ook geen geheim vir my nie. Trouens, ek is bewus daarvan dat Esna le Clus hom vir ’n ryker man laat staan het. En ek –”

“Verskoon my, juffrou,” val sy die meisie ontsteld in die rede, “maar meneer De Meyer het ons ten strengste verbied om Esna le Clus se naam ooit in sy huis te noem.”

“Wel, in daardie geval sal ons maar seker sy wens moet eerbiedig,” laat Natasha met ’n ligte skouerophaling hoor terwyl sy terselfdertyd orent kom. “As mevrou my sal verskoon, sal ek nou graag na my kamer toe wil gaan.”

Ook mevrou Hugo staan op en vergesel Natasha na haar slaapkamer op die tweede verdieping. Natasha gaan voor die venster staan om na die uitsig te kyk, maar dan voel sy skielik hoe ’n nare gevoel op haar maag vasskop. Voor haar kamervenster val die aarde weg in ’n duiselingwekkende afgrond.

Sy draai vinnig van die venster af weg en voel skoon siek van vrees. Sy is egter vaagweg bewus van die huishoudster wat verduidelik waar sy die badkamer sal vind.

“Ons eet gewoonlik sesuur. Ontbyt is agtuur,” hoor sy mevrou Hugo voorts verduidelik. “Die sitkamertjie hier is vir ons gebruik en daar brand altyd ’n vuur in die kaggel …”

Natasha is bly toe die huishoudster eindelik die vertrek verlaat. Sy kyk na die venster, en besef dat sy onverwyld aan hierdie gevaarlike huis gewoond sal moet raak. Sy kan met die beste wil ter wêreld nie begryp waarom mense nou juis ’n huis op die rand van ’n afgrond moet bou nie.

Natasha haal haar wolmus af en bêre dit saam met haar handsak en handskoene. Sy neem een van haar tasse en begin haar klere uitpak. Kort voor aandete is al haar tasse uitgepak en kan sy weer in die knus sitkamertjie voor die vuur gaan sit.

Natasha is verbaas toe sy hoor dat sy en die huishoudster hul maaltye saam met Dewalt in die eetkamer moet eet. Omdat hulle ’n aparte, kleiner sitkamer gebruik, het sy die indruk gekry dat meneer Dewalt de Meyer te verhewe is om hom met sy werknemers te meng en dat hulle ook in ’n afsonderlike vertrek sal moet eet.

Die res van die middag sien Natasha haar werkgewer nie met ’n oog nie. Sy wou mevrou Hugo vra wat van die man geword het, maar het wyslik besluit om dit liewer nie te doen nie. Netnou dink sy die nuwe meisie stel ook in die vent belang.

Dis waar, sy skroom nie om aan haarself te erken dat Dewalt ’n baie aantreklike man is nie, maar sy weier om te glo dat hy haar beïndruk. Hy is na haar sin gans te bot en onvriendelik.

Natasha het haar net heerlik begin koester in die hitte van die gloeiende vuur toe die etensklokkie lui. Ek hoop die baas van die huis is vanaand in ’n beter luim, dink sy terwyl sy na die eetkamer toe stap.

“Juffrou Zeltmann,” sê hy duidelik ongeduldig toe sy die eetkamer binnestap, “ek sal dit waardeer as jy in die toekoms betyds is vir ete.”

“Maar die klokkie het dan nou eers –”

“Ons eet sesuur; so moet asseblief nie op die klokkie wag nie,” val hy haar in die rede. “Die huishulp is soms geneig om die klokkie laat te lui.”

“Ek … ek is jammer,” is al wat sy in haar verwardheid kan uitkry, want sy merk dat haar werkgewer ongeduldig wag dat sy moet aansit.

Hulle eet ’n rukkie in stilte. “Ons begin nege-uur in die oggend werk tot vyfuur in die middag,” sê Dewalt. “Jy kry ’n uur vry vir middagete; en onthou, asseblief, ek verwag stiptheid van jou. As ek sê ons begin nege-uur werk, dan bedoel ek nege-uur en nie vyf oor nege nie.”

Natasha hou haar blik met groot moeite op haar bord gevestig. Sy is rooi van verontwaardiging oor die man se vermetelheid. Sy is nie ’n onverantwoordelike kind nie. Sy weet as sy haar mond oopmaak, sal sy hom padlangs die waarheid vertel – en dan sal dit ook die einde wees van haar verblyf hier in Die Arendsnes. Daarom swyg sy liewer en bewaar voorlopig die vrede – maar sy weet nie of sy altyd ’n wag voor haar mond sal kan plaas nie.

Die res van die maaltyd verloop in stilte. Natasha is maar te bly toe Dewalt eindelik van die tafel af opstaan en na sy studeerkamer toe gaan.

Sy wag totdat Dewalt buite hoorafstand is en vra dan versigtig: “Eet julle altyd in … in so ’n ongemaklike stilte, mevrou Hugo?”

“Meneer De Meyer is nie die soort man wat baie praat nie,” antwoord sy ontwykend, sonder om na Natasha te kyk.

Hm, ja, hy is natuurlik die soort man wat net praat wanneer hy iemand uitskel, verkleineer of bevele uitdeel, flits dit deur Natasha se gedagtes. “Dit voel of ek in ’n klooster beland het,” sê sy hardop.

“Jy sal mettertyd daaraan gewoond raak,” verseker die huishoudster haar plegtig. “Ek het ook die eerste paar weke gevoel of ek in ’n grafkelder beland het, maar die mens beskik oor ’n wonderlike aanpassingsvermoë. In elk geval, ons kan nou maar in ons sitkamertjie voor die vuur gaan ontspan. Die huishulp sal hier kom opruim.”

Terwyl Natasha later voor die kaggel sit, hoor sy hoe die wind om die hoeke van die huis jaag en deur die sleutelgat fluit. Die gedagte aan die koue, woeste nag buite laat haar merkbaar ril. Sy besef dat sy iets sal moet vind om haar saans besig te hou – boeke, breiwerk of iets.

Natasha gaan daardie aand vroeg slaap. Iets sê vir haar dat Dewalt ’n veeleisende werkgewer is. Môre wil sy behoorlik uitgerus wees.

Lank voordat die ontbytklokkie die volgende môre lui, is Natasha al in die eetkamer. Vanmôre wil sy vir Dewalt wys dat sy nie ’n onverantwoordelike kind is nie, maar dat sy stiptelik volgens die horlosie kan lewe as sy moet.

Sy staan voor die eetkamer se venster en raak so verdiep in die berge, waarvan die klowe in diep voue lê, dat sy nie eens bewus is van Dewalt en mevrou Hugo se binnekoms nie.

Sy ruk soos sy skrik toe hy skielik van die tafel se kant af praat: “Dit baat nie veel dat jy betyds in die eetkamer is, en dan ons tyd verkwis deur voor die venster te staan en droom nie, juffrou Zeltmann. Kom sit asseblief aan sodat ons met die ete kan begin.”

Natasha is rooi van ergernis toe sy vir ontbyt aansit. Sy het nog nooit so lus soos nou gevoel om ’n man te verongeluk nie.

Ellendige mansmens! skel sy hom in haar gedagtes uit. Nou is al haar goeie voornemens vir die dag na die maan. Wel, sy moet sê hy is die mees sarkastiese vent wat sy nog ooit teëgekom het. Maar hy moet haar nie te ver dryf nie, want dan sit hy gou-gou weer sonder ’n assistente …

Die maaltyd verloop weer eens in stilte. Natasha is egter voor Dewalt klaar en sy kyk na die skilderye teen die mure.

“Ek verwag jou nege-uur in my studeerkamer, juffrou Zeltmann,” hoor sy hom kortaf sê toe hy van die tafel af opstaan.

Sy wil nog vir hom sê dat sy nie aan ’n swak geheue ly en dat haar geheue haar ook nog nooit in die steek gelaat het nie, maar hy het reeds deur die eetkamerdeur verdwyn.

Ondanks Dewalt se sarkasme voor ontbyt verloop die dag vir Natasha sonder haakplekke. Dewalt het nou wel nie haar werk aangeprys nie, maar darem ook geen fout daarmee gevind nie. Sy voel dat sy haar dag se loon in alle eerlikheid verdien het.

Dis Saterdag en reeds ’n week dat Natasha haar intrek in Die Arendsnes geneem het. Dewalt het al vroeg na Leliesvlei, die naaste dorp, op ’n sakebesoek vertrek. Nou weet Natasha weer nie wat om met haarself aan te vang nie. Sy besluit egter om ’n entjie te gaan ry en die wêreld hierlangs te verken.

Sy wou net haar motorsleutels gaan haal toe mevrou Hugo haar kom sê dat daar vir haar ’n telefoonoproep van Pretoria af is.

Sy bedank die ouer vrou en haas haar dan na die telefoon in Dewalt se studeerkamer. Haar hand bewe liggies toe sy die gehoorbuis optel en effens uitasem sê: “Natasha Zeltmann hier!”

“Natasha, jou stouterd! Waarom het jy my nog nie gebel nie?” hoor sy Rita se stem.

“Genade, jy vra nog!” lag sy vrolik. “Hier is net een telefoon in die huis; om die kroon te span, is dit in meneer De Meyer se studeerkamer. Hy is op die oomblik nie tuis nie. Dus, ons kan lekker gesels sonder om iemand te steur.”

“Sal ons gesprek hom dan hinder as hy die slag tuis is wanneer ek bel?” vra Rita met ’n sagte laggie.

“Jy sê hinder! My liewe Rita, jy het nog nooit so ’n suurknol in jou lewe gesien nie. En praat van sarkasties! Hy lê hom daarop toe; hy blink daarin uit.”

Daar is nou ’n duidelike toon van kommer in Rita se stem. “Ek wonder of dit die regte ding was om jou vir Dewalt te laat werk. Die lewe het hom nou wel stief behandel, maar ek het nie kon dink hy sal toelaat dat dit hom so beïnvloed nie. Regtig, as ek dit geweet het, sou ek jou dadelik afgeraai het om vir hom te gaan werk … Jy sê hy is pynlik sarkasties? Ek dink jy moet liewer by oubaas Lafras kom werk, Natasha.”

“Ek glo nie Irene sal daarvan hou as ek so gou hier bedank om vir haar pa te gaan werk nie,” meen Natasha. “In elk geval, hy sal bepaald die een of ander tyd ophou om ’n gek van homself oor die Esna-vroumens te maak.”

“Dis waar, hy kan nie altyd oor haar treur nie. Die een of ander tyd moet hy besef dat sy hom ’n guns bewys het toe sy hom so goedsmoeds die trekpas gegee het. Waaraan werk hy nou?”

“Ek verstaan dis ’n draaiboek vir ’n Amerikaanse filmbaas,” vertel Natasha. “Die mense het glo een van sy boeke gelees en was so beïndruk met sy werk dat hulle hom dadelik genader het om vir hulle ’n draaiboek te skryf. Maar hou dit asseblief vir jouself; hy wil nie hê die hele wêreld moet daarvan weet nie.”

“Goed, ek sal. Maar sê vir my, nou buiten Dewalt se onaangenaamheid, hoe hou jy van die werk?”

“O, daar skort niks met die werk nie; die fout lê by die baas,” verseker sy Rita. “En so tussen jou en my gesê, hierdie draaiboek gaan ’n wonderlike rolprent maak.”

“Wel, ek hoop vir Dewalt se ontwil dat dit ’n groot sukses gaan wees. Maar sê vir my, is Dewalt nog so aantreklik?”

“Wel … ja, hy is nie te onaardig nie,” laat Natasha met ’n sagte laggie hoor. “Hy sal natuurlik baie aantrekliker wees as hy af en toe ’n bietjie glimlag – maar om ’n glimlag uit hom te kry, is sekerlik ’n groot kuns …”

Hulle gesels nog ’n rukkie, dan moet hulle tot siens sê, want Rita het ’n afspraak met ’n vriend.

Nadat Natasha met Rita gesels het, voel sy baie beter. Sy begin sommer om ’n heel opgewekte deuntjie te neurie toe sy die studeerkamer verlaat en na die sitkamer toe stap. Trouens, sy is nie eens bewus van Dewalt wat saam met ’n vlaag wind by die voordeur ingestap kom nie. Haar gedagtes is net by Rita en haar onverwagte oproep.

“Wel, ek moet sê jy klink vanoggend taamlik opgeruimd, juffrou Zeltmann,” hoor sy Dewalt meteens agter haar sê. “Het jy miskien ’n lotery gewen, of is dit die eerste prys in ’n skoonheidswedstryd?”

Natasha se opgewekte geneurie droog dadelik op. Sy draai vinnig om, kyk die lang, blonde man ietwat gesteurd aan en sê effens uit die hoogte: “Ek is van nature ’n opgewekte mens, meneer De Meyer, ek het nie ’n lotery of skoonheidswedstryd nodig om my op te beur nie.”

“Ek het jou nog nie voorheen hoor sing nie,” hou Dewalt vol. “Of sing jy net wanneer ek nie tuis is nie?”

Natasha se wenkbroue lig vraend op. “Nou waarom sal ek dit doen, meneer De Meyer?” wil sy weet. “Ek het al dikwels in my kamer en ook in die sitkamer gesing –”

“Ek het jou nog nooit in die sitkamer gesien nie,” val hy haar met ’n onpersoonlike stem in die rede.

“Ek praat van die klein sitkamer, meneer De Meyer. Mevrou Hugo het my al die eerste dag gewaarsku dat die groot sitkamer vir ons verbode terrein is.”

’n Onheilige frons verskyn meteens op sy voorkop. Hy wil iets sê, maar dan begin die telefoon skielik lui. Die volgende oomblik draai hy om en stap haastig in die rigting van sy studeerkamer, sonder om ’n enkele woord verder te sê.

Selfsugtige ding! snou sy hom in haar gedagtes toe. Hy het nou waarlik nie die menslikheid in hom om hulle te nooi om af en toe van sy televisiestel gebruik te maak nie … Natuurlik te verhewe om sy televisie met sy werknemers te deel! Wag, laat sy liewer gaan ry en van die ellendige man vergeet. Hy is in elk geval nie so belangrik dat sy haar oor hom moet ontstel nie!

Na hierdie besluit gaan sy vir mevrou Hugo sê dat sy nie vir middagete tuis sal wees nie. Sy neem haar handsak en na ’n rukkie dreun haar kragtige sportmotor met die bergpad af.

Natasha herwin langsamerhand haar kalmte. Sy kan glad nie begryp waarom sy haar so vir Dewalt vervies nie. As sy nog van die man gehou het …

Is jy baie seker dat jy glad nie van die man hou nie? vra ’n knaende stemmetjie in haar.

Natuurlik is ek seker! verdedig sy haarself in haar gedagtes, en doen haar bes om die onverklaarbare gevoel van onsekerheid in haar te verontagsaam. Hoe kan ek van ’n man hou wat dag en nag oor ’n meisie treur wat hom so ’n vuil streep getrek het? Dit lyk of hy glad nie ’n poging aanwend om homself reg te ruk nie, en dan is hy nog boonop sarkasties ook … Altans, hy is soms nog wanneer ek ’n fout maak.

Jy probeer gans te veel om die teendeel te bewys, hoor sy weer die stemmetjie in haar neul. Erken maar dat jy meer van die man hou as wat goed is vir jou!

Daar is ’n ernstige frons op Natasha se voorkop toe sy ietwat huiwerig aan haarself erken: Wel, ek sal nie sê dat ek glad niks van hom hou nie. Ek … wel … miskien hou ek meer van hom as wat ek graag wil. Dalk is dit waarom sy getreur oor Esna my so die herrie in maak. In elk geval, ek gaan nie toelaat dat hierdie gevoel vir hom my van koers gooi nie. Ek moet net van nou af elke oomblik onthou dat ek bloot Dewalt se assistente is. Sy verlede en deurmekaar hart het niks met my te doen nie …

Natasha se gemoed is so vol botsende gedagtes dat sy Leliesvlei binnery sonder dat sy daarvan bewus is. Eers toe sy verby die park ry, besef sy dat sy haar nou in die strate van ’n dorp bevind.

Sy kyk na haar polshorlosie en merk dat dit al byna tyd is vir middagete. Sy kan maar net sowel middagete hier êrens eet, besluit sy. Sy hou langs die eerste voetganger stil en verneem waar die naaste hotel is.

Die hotel se eetkamer is vol gaste toe sy eindelik daar instap. Bepaald vakansiegangers wat nou onderweg huis toe is, meen sy. Sy kry gelukkig darem nog ’n onbesette tafel, en ’n kelnerin is dadelik by om haar bestelling te neem.

Natasha is ’n ruk later net besig om haar koffie te drink om die maaltyd af te rond, toe sy die vrou by die tafeltjie agter haar hoor sê: “Ek hoor Esna le Clus het vanoggend aan Leliesvlei se modeskou deelgeneem …”

Dan is dit die rede waarom Dewalt Leliesvlei so vroeg vanoggend besoek het, flits dit deur Natasha se gedagtes. Hy maak dit net vir homself moeilik deur oral te gaan waar sy optree, want op dié manier sal hy haar nooit vergeet nie.

Daar is ’n gesteurde frons op haar mooi voorkop en sy voel skielik nie meer lus vir die koffie nie. Sy staan van die tafel af op, vereffen haar rekening en stap langsaam deur die sakegebied van die dorp. Sy kyk na die winkelvensters om haar aandag af te lei. Langsamerhand word dit stil in haar.

Die son is al byna onder toe sy eindelik terugry huis toe. Sy besef dat sy langer in die dorp vertoef het as wat sy aanvanklik beplan het, want saam met die aandskemering het ook die wind sterker begin waai. Sy skakel haar motor se verwarmer aan en verwens haarself omdat sy so lank op Leliesfontein vertoef het.

Die voertuig brul later teen die berg uit. Die skerp kopligte klief deur die inkswart nag. Eindelik hou sy voor die deur langs die krans stil. Op dieselfde oomblik gaan die lig op die voorstoep aan.

Hoe gaaf van iemand, wie dit ook al is, om die lig vir my aan te skakel, dink Natasha. Natuurlik mevrou Hugo wat so vriendelik is.

Natasha knoop haar kort jassie voor styf toe, dan draf sy haastig na die voordeur toe om uit die ysige wind te kom. Toe sy haar hand uitsteek om die deur oop te maak, gaan dit meteens oop en die volgende oomblik staan Dewalt onthuts langs haar. Sy kyk hom verbaas aan, wil vra waarom hy so die joos in lyk, maar hy gee haar geen kans om ’n woord te sê nie.

“Kom asseblief na my studeerkamer toe, juffrou Zeltmann,” sê hy onvergenoeg. Sy wonder heimlik wat sy nou weer verbrou het, want die man lyk regtig of hy moord kan pleeg.

Sy hoor hoe hy die voordeur toemaak en haar na die studeerkamer toe volg. Wat sou sy nou weer gesondig het? Dalk ’n paragraaf of wat uitgelos in die nuwe hoofstuk waaraan hulle vandag gewerk het?

Maar dit kan nie die werk aan die nuwe hoofstuk wees nie, besluit sy en stap die studeerkamer binne. Ek let noukeurig op my spelling en die gebruik van leestekens. Dit kan ook nie tikfoute wees nie …

“Sit, asseblief, juffrou,” knip Dewalt haar gedagtegang kort.

Natasha neem woordeloos op ’n stoel plaas en steek haar koue hande in haar jas se sakke.

“Waarom het jy nie vanoggend vir my of vir mevrou Hugo gesê dat jy heeldag uithuisig sal wees nie, juffrou Zeltmann?” vra Dewalt onthuts. “Besef jy dat jy my verantwoordelikheid is solank as wat jy onder my dak verkeer?”

Natasha skud haar kop beslis. “Verskoon my, meneer De Meyer, maar ek is mondig en dus niemand se verantwoordelikheid nie,” weerspreek sy hom. “Die feit dat ek hier inwoon, verander niks aan die saak nie. En in elk geval, ek het vir mevrou Hugo gesê dat ek nie tuis sal wees vir middagete nie. Vra gerus –”

“Het jy vir haar gesê dat jy amper middernag tuis sal wees?” val hy haar bars in die rede.

Sy kyk af na haar polshorlosie. “Dit is nou eers agtuur, meneer De Meyer,” antwoord sy bedaard.

“Agtuur se voet,” weerspreek hy haar vererg. “Jou polshorlosie staan. Dis halfnege.”

“Wel, halfnege is baie ver van middernag af,” hou sy vol.

“Kyk, juffrou, of dit ver van middernag is of nie,” spreek hy haar skerp aan, “ek verbied jou om hierdie tyd van die nag hier aangesit te kom – tensy ek weet dat jy laat sal wees. In die toekoms kan jy asseblief vir mevrou Hugo in kennis stel wanneer jy besluit om laat uit te bly.”

“Is dit al waaroor jy my wou spreek, meneer De Meyer?” vra sy styf en staan terselfdertyd van die stoel af op.

“Ja, juffrou, dit is al waaroor ek jou wou spreek, en ek hoop dat jy in die toekoms meer bedagsaam teenoor die huismense sal optree. Mevrou Hugo het haar vanaand behoorlik siek oor jou veiligheid bekommer.”

“Mag ek nou maar gaan?” vra Natasha met ’n onpeilbare uitdrukking in haar oë wat soos twee donker poele lyk.

“Nee, wag eers, daar is nog iets wat ek met jou wou bespreek,” keer hy, nou ’n bietjie vriendeliker. “My suster en haar vriendin kom môre hierheen vir die dag. Hulle sal stellig môreaand hier slaap en Maandagoggend teruggaan. Nou hoor ek egter van mevrou Hugo dat die huishulp siek is. Ek het gewonder of jy haar nie môre in die kombuis sal bystaan nie.”

“Dis alles in orde, meneer De Meyer, ek gee nie om om mevrou Hugo môre in die kombuis te help nie. Verskoon my, asseblief, ek sal dit sommer nou met haar gaan bespreek.”

“Dankie, en … nag, juffrou!”

Natasha wens hom ook ’n goeie nagrus toe en verlaat die vertrek dadelik. Sy vind die huishoudster in die sitkamertjie. ’n Gesellige vuur brand in die kaggel en dit is baie duidelik dat die ouer vrou verlig is om haar veilig en ongedeerd tuis te sien.

“Ek het vir jou toebroodjies en vleisrolletjies gemaak – dit sal lekker smaak saam met die tee, juffrou. Jy het seker nog niks vanaand geëet nie,” sê sy.

Natasha bedank haar vir haar bedagsaamheid. Dan vertel sy haar van haar en Dewalt se gesprek pas in sy studeerkamer.

Mevrou Hugo sê dat sy Natasha se hulp baie sal waardeer.

Nadat sy die vleisrolletjies en toebroodjies geëet het, wens sy die ouer vrou ’n rustige nag toe en gaan slaapkamer toe.

Daardie aand lê Natasha lank oor haar gevoel vir haar werkgewer en tob. Voor haar geestesoog sien sy Dewalt se skraal, aantreklike gesig met die effens hoë wangbene, mooi gevormde neus, ernstige blou oë en karaktervolle mond. Sy besef dat hy nooit haar liefde sal kan beantwoord nie, want Esna sal stellig nog vir baie jare sy hart in die palm van haar hand hou.

Sy sug. Sy besef dat sy hierdie ongevraagde liefde uit haar gestel sal moet kry omdat sý die een gaan wees wat sal seerkry. Haar gedagtes dwaal nou weer na die gaste wat môre verwag word en sy wonder wie die vriendin is wat Irene saambring. Sy wonder nie te lank nie. Dan raak sy aan die slaap.

Natasha is die volgende oggend druk besig in die kombuis met boontjies kerf toe Irene se motor voor die deur stilhou. Hiervan is sy salig onbewus. As sy kon sien wie Irene se vriendin is, sou sy die boontjies net so laat lê het om eers vir Rita te gaan groet.

Die twee meisies is amper verkluim toe hulle die groot sitkamer binnestap en voor die kaggel gaan sit, want hulle is sedert vyfuur al in die pad.

“Jy sien daar besonder goed uit, my boetie,” kan Irene nie help om te sê nie. “Toe ek jou laas gesien het, het jy nog met ’n begrafnisgesig hier rondgeloop …”

Hy kyk haar met ’n onheilige frons aan wat haar dadelik laat swyg. “ ’n Begrafnisgesig?”

“Ja, man, so ’n uitdrukking op jou gesig wat sê die lewe is vrot sonder –”

“Verskoon my,” val hy haar gesteurd in die rede, “maar ek verstaan glad nie wat jy met só ’n uitdrukking bedoel nie. Trouens, ek het nog nooit iemand met só ’n uitdrukking op sy gesig gesien nie.”

“Ek ook nie, jy was die enigste,” laat Irene ongeërg hoor. “Maar soos ek reeds gesê het, ek is baie bly om te sien dat jy besig is om oor jou hartseer te kom. Dit lyk my Natasha is goeie medisyne vir jou …”

“En wie, as ek mag vra, is die voortreflike Natasha, my sussie?” hoor die twee meisies hom kalm en bedaard vra.

Rita kyk die man sprakeloos aan, dan hoor sy Irene met ’n onderdrukte lag sê: “Berge val op my, heuwels bedek my! Die man weet nie wie Natasha is nie!”

Dewalt meet sy suster met ’n kwaai blik. “Hou op om so melodramaties te wees, Irene. Ek het jou ’n vraag gevra en ek verwag ’n ordentlike antwoord.”

“Sy is jou nuwe assistente, Dewalt,” verduidelik Rita bedaard. “Haar naam is Natasha Zeltmann.”

Dewalt kyk Rita met ’n sweem van ’n glimlaggie aan en sê verleë: “So, dan is dit waarom die naam vir my ietwat bekend geklink het. In elk geval, julle twee verwag tog seker nie dat ek elke liewe assistente se volle naam en geboortedatum moet onthou nie!”

“Nee, ons het maar net gedink dat jy moontlik Natasha s’n sal –” begin Rita, maar Dewalt gee haar nie kans om meer te sê nie.

“Goed, gee my een goeie rede waarom ek in juffrou Zeltmann se geval ’n uitsondering moet maak,” laat Dewalt ernstig hoor.

“Sê my eers, waar is sy op die oomblik?” vra sy hom.

“Sy help die huishoudster in die kombuis –”

“Wat, in die kombuis!” val Rita hom geskok in die rede.

“Ja, ek het haar gevra om mevrou Hugo in die kombuis te help, en ek sien geen rede waarom jy en Irene so geskok moet lyk nie.”

“En as ek vir jou vertel dat Natasha ’n dametjie is wat in Pretoria se hoogste sosiale kringe beweeg? Sien jy nog geen rede waarom ons so geskok lyk nie, my boetie?” laat Irene nou weer van haar hoor.

Dewalt kyk die twee meisies ’n oomblik stil aan, en vra dan agterdogtig: “Nou waarom het sy vir my kom werk as sy uit so ’n gesiene familie kom?”

“Haar pa is twee weke gelede oorlede,” verduidelik Rita, “en haar stiefma het alles geërf. Dit is vir Natasha dus noodsaaklik om te werk en ’n inkomste te hê.”

“O, so dis hoe die saak staan,” is al wat Dewalt hierop te sê het.

“Kom ons gaan sê eers vir Natasha hallo,” sê Irene.

Natasha is aangenaam verras toe sy sien wie Irene se vriendin is. Die drie meisies groet mekaar hartlik. Nadat Rita en Irene vir hulle stoele langs die kombuistafel getrek het, wil Natasha alles weet wat in haar afwesigheid in Pretoria en Johannesburg plaasgevind het.

“Daar het tot dusver niks belangriks gebeur nie, afgesien daarvan dat Hermien besig is om jul huis te verkoop,” vertel Rita.

“Jy bedoel, háár huis te verkoop,” help Natasha haar reg. “Sy het die huis geërf na my pappie se dood, dus is dit hare om daarmee te maak wat sy wil. Woon sy nog in Pretoria?”

Rita knik bevestigend. Dan gesels hulle oor hul gesamentlike vriende in Pretoria, totdat Dewalt later kom kyk wat van sy twee gaste geword het.

“Vat vir jou ’n stoel en sit, my boetie,” nooi Irene. “Ons gesels nog met Natasha.”

Mevrou Hugo stel voor dat Natasha die gaste sitkamer toe neem, maar sy wys die voorstel vriendelik van die hand. Sy het belowe om in die kombuis te help en sy gaan nie nou haar belofte verbreek nie.

Dewalt bekyk die bedrywigheid in die kombuis ’n paar oomblikke. Dan draai hy om en verlaat die vertrek. Rita en Irene sit egter nog ’n paar minute by Natasha en gesels voordat hulle sy voorbeeld volg.

Na middagete gaan help Natasha weer met die opwas van die skottelgoed. Dan gaan sy na die klein sitkamer toe. Die eerste keer daardie dag tref dit haar dat sy en Rita nie meer op dieselfde lewensvlak beweeg nie. In hierdie huis gebruik hulle nie eens dieselfde sitkamer nie. Hier is sy ’n werknemer en Rita ’n gas.

Natasha het haar net gemaklik voor die kaggel ingerig toe Rita se stem meteens van die oop deur se kant af opklink. “So, dan is dit hier waar jy wegkruip!”

“Ek kruip nie weg nie, jong. Kom binne en sit,” nooi Natasha haar met ’n breë glimlag. “In hierdie huis deel die werknemers nie dieselfde sitkamer met hul werkgewer nie, Rita. Hierdie vertrekkie is glo my en mevrou Hugo se sitkamer en –”

“Wie sê só?” val sy die swartkop vinnig in die rede.

“Mevrou Hugo het my hiervan vertel,” glimlag Natasha. “Meneer De Meyer het bepaald baie sonde en ergernis met die vorige meisies gehad, daarom dat hy hierdie huisreël ingestel het … of anders is hy die grootste snob wat leef. Maar dit hinder my nie. ’n Mens leer gou om jou by jou omstandighede aan te pas.”

“Wel, ek dink dit is iets uit die bose. Hy behoort in jou geval ’n uitsondering te maak,” hou Rita vol.

“Wel, ek hoop nie jy gaan met hom daaroor praat nie, Rita, want ek verkies dat dinge bly soos dit is,” sê Natasha bedaard.

Rita kyk haar ’n lang ruk ondersoekend aan. Dan belowe sy ietwat traag dat sy nie met Dewalt oor die afsonderlike sitkamers sal praat nie. Hierna gesels hulle weer oor gemeenskaplike vriende in Pretoria – totdat Irene en Dewalt hulle later by hulle aansluit.

Staan op, my beminde

Подняться наверх