Читать книгу 'n Lang, vreemde pad - Susanna M Lingua - Страница 4

Оглавление

2

Elise voel skoon pootuit en sy kry ellendig warm toe sy uit die bus klim en in die rigting van die losieshuis stap. ’n Saterdagoggend in die stad was nog nooit vir haar ’n aangename ondervinding nie. Trouens, sy probeer altyd om die stad dan te vermy. Dit is net wanneer sy iets dringends nodig het dat sy die stad op so ’n besige dag aandurf.

Met elke tree wat sy gee, word haar pakkies nou ook swaarder, maar eindelik bereik sy die losieshuis en bestyg die treetjies wat na die voorstoep lei.

“Wel, dis ’n verrassing!” sê sy met ’n vriendelike glimlag toe sy Estelle en Marie op die stoep sien sit. Sy sit al haar pakkies op ’n rottangtafeltjie neer, sak moeg op ’n stoel neer en skop haar skoene uit. “Sê ’n mens môre, of is dit al middag?”

Estelle kyk na haar horlosie. “Dis byna halftwee, maar vergeet van die groetery, ou kammie. Vertel liewer vir ons, het jy al iets van die Santiago-brouery gehoor?”

Elise skud haar kop. “Moes ek dan al iets van hulle gehoor het?”

“Wel, die finaliste is gister aangewys,” herinner Marie haar, “en ek is seker jy is een van die finaliste.”

“En wat van julle?” vra Elise.

Marie skud haar kop. “Nee wat, ons het nêrens gekom nie, maar ek is seker die beoordelaars het gekierang. Een van ons twee moes baie beslis in aanmerking gekom het. Maggies, as ek dink hoe mooi ek vir die kamera se lens geglimlag het, en ek kom sowaar nêrens nie.”

“Toemaar, ’n volgende keer kom jy straks in aanmerking,” troos Estelle met ’n guitige glimlaggie en draai weer na Elise. “Het jy al vanoggend gekyk of daar vir jou pos is?”

“Nee, ek het nie. Maar hoe lyk dit vir my julle weet iets? Om die waarheid te sê, ek het twee dae laas na ons posrak gekyk,” bieg Elise. “Ek het al heeltemal van die skoonheidswedstryd vergeet.”

’n Terglustige glimlaggie verskyn om haar mond. “In elk geval, ek het julle gewaarsku dat die Portugese meisies aantreklik is en ek behoort te weet, want ek het saam met ’n paar skoolgegaan.”

“Onsin! Dié wat ek al in my lewe gesien het, was glad nie watwonders nie,” kap Marie verontwaardig terug.

“Werklik? En dink jy miskien ons drie is watwonders –”

“Luister, julle twee,” val Estelle haar gewese kamermaat bedaard in die rede, “dit sal ons niks baat om nou al ’n mening te lug nie. Ek stel voor dat Elise eers gaan kyk of daar vir haar pos is. As sy ook nie vir ’n prys in aanmerking gekom het nie, sal ek saam met Marie stem, want dan het die beoordelaars beslis gekierang en voorkeur aan die Portugese meisies gegee. Toe, Elise, gaan kyk of jy pos gekry het!”

“Vervlaks, maar jy is lastig, Estelle,” maak Elise dadelik beswaar. “Jy gee my nie eens kans om ’n rukkie te rus nie. Nee, jong, jy kan jou nuuskierigheid nog ’n paar minute bedwing of anders self gaan kyk of daar pos is.”

“Ek sal gaan kyk,” bied Marie aan. Sy kom orent, verdwyn haastig deur die voordeur en keer ná ’n rukkie terug met ’n brief wat sy uitgelate bokant haar kop in die lug rondswaai. “Ek het mos gesê jy sal ’n prys verower!” roep sy uit. “Hier is die brief waarin hulle jou laat weet dat jy een van die finaliste is.”

“Toemaar, dit is nie ’n brief van die brouery nie,” sê Elise en hou haar hand uit. “Dis ’n brief van matrone af.”

“Dis wat jý dink. Agterop die koevert staan baie duidelik Santiago-brouery Eiendoms Beperk,” sê Marie toe sy die brief vir Elise gee.

Ook Estelle is nou die ene opgewondenheid.

“Lees die brief tog gou, ou kammie,” spoor sy Elise aan. “Ek en Marie het mos in die koerant gesien dat jy een van die finaliste is, maar lees jy dan nie die koerant nie?”

Elise skud haar kop.

“Ek het die afgelope tyd min koerant gelees. Dis alles net ongelukke en moord en . . .” Haar stem raak skielik weg en ’n ligte frons verskyn tussen haar mooi geboogde wenkbroue. “Ek . . . is een van die finaliste,” sê sy ongelowig. “Die beoordeling vind Saterdagaand plaas, en ek moet daar wees.”

Estelle en Marie is totaal uitgelate van blydskap. Hulle wens Elise hartlik geluk, maar vir die pligsgetroue Elise het daar nou ’n yslike probleem opgeduik. Sê nou sy wen? Sy kan mos nie nou oorsee gaan nie! Die skole het maar pas ná die Aprilvakansie heropen.

“Wel, dit is darem gerusstellend om te weet dat die beoordelaars nie gekierang het nie,” sê Elise ietwat droog. “Ek sal hulle vanaand per brief bedank en sommer ook verduidelik waarom ek nie verder kan deelneem nie.”

“O, duiwels en distels! Nou ja, nou praat ek nie ’n woord meer nie,” lug Marie haar misnoeë.

Estelle gee haar egter nie die geleentheid om meer te sê nie, want sy voel Marie gaan nou te veel sê.

“Wag nou, Marie,” keer sy, “jy kan later stoom afblaas as jy nog so voel. Laat ons eers hoor waarom Elise nie verder wil deelneem nie.” Sy draai na Elise. “Jy sal ’n baie goeie verduideliking moet hê, ou kammie, anders gaan ek my ook liederlik vir jou vererg . . . Toe, jong, ons wag op ’n verduideliking.”

Daar is ’n ondeunde glimlaggie om Elise se mond toe sy na haar vriendinne kyk. Sy kan duidelik in hul oë lees dat hulle dink sy is van haar wysie af. Maar wat hulle blykbaar vergeet, is dat sy ander verpligtinge het wat nagekom moet word.

“Ek weet werklik nie waarom ek die situasie breedvoerig aan julle moet verduidelik nie,” sê sy en steek die brief terug in die koevert. “Julle is albei onderwyseresse en weet net so goed soos ek dat dit vir my onmoontlik is om my werk net so te los en af te sit Portugal toe. My leuse was nog altyd dat plig voor plesier kom.”

“Nie hierdie keer nie,” maak Marie dadelik beswaar. “Hierdie keer, ou sussie, gaan jy plesier eerste stel al . . . Wel, al bars die bottel ook. Ek verseker jou, die skool sal nie vergaan omdat jy nie daar is om dit in een stuk te hou nie. Die skool kan sonder jou klaarkom.”

“Dis waar, Marie het gelyk,” laat Estelle nou ook van haar hoor. “Dis nie elke dag dat ’n mens so ’n kans kry nie. Reken, ’n hele maand in Portugal met oorgenoeg sakgeld . . . Marie, ons sal iemand moet opspoor wat Elise by die skool kan aflos.”

“O, baie beslis, anders sal ons haar nie met ’n span osse hier weggesleep kry tot by die . . . Ag, dit sal seker maar die lughawe wees. Mense reis mos deesdae per vliegtuig na hul bestemming en keer dikwels per boot terug. In elk geval, ek weet wie ons in dié verband kan nader, en ek weet ook dat sy beskikbaar is . . .”

“Stadig, julle,” lag Elise. “Ek het nog nie –”

“Van wie praat jy nou, Marie?” val Estelle haar half ongeduldig in die rede.

“Ek praat van Linda,” antwoord Marie. Sy draai na Elise. “Jy kan nou maar van al jou besware vergeet en op jou reis begin fokus, my hartjie. Linda en haar man kom die einde van die maand in Pretoria woon, en sy soek juis ’n afloswerkie. Ek dink ons moet haar nou dadelik gaan bel, voordat sy straks iets anders in die hande kry en ons nie kan help nie.”

Elise lag. “Miskien wen ek nie eens nie.”

Marie en Estelle gaan bel egter vir Linda, en sy stem dadelik in om Elise af te los as dit dalk nodig raak.

Daar breek vir Elise ’n baie bedrywige week aan. Etlike koerantfotograwe daag op om haar foto te neem en haar uit te vra, en haar foto verskyn saam met dié van die ander finaliste in die koerante.

Toe die Saterdagaand waarop die finale beoordeling plaasvind eindelik aanbreek, is sy en haar twee vriendinne baie opgewonde, veral toe die groot oomblik aanbreek en die finaliste voor die beoordelaars verskyn. Elise voel baie senuweeagtig toe sy ’n paar keer saam met die ander finaliste voor die beoordelaars verbystap . . .

Toe sy ’n rukkie later as die wenner aangewys word, kan sy haar ore nie glo nie. Van die ander meisies is baie mooier as sy, reken Elise. Die toejuiging is oorverdowend toe sy alleen op die verhoog verskyn, en kameras flits aanhoudend.

Die wenner van die tweede prys is ’n twintigjarige Portugese meisie, Maria Caspera, en Elise moet weer saam met Maria poseer vir nog meer foto’s.

Toe sy eindelik by haar vriendinne uitkom, voel dit vir haar asof sy in ’n warrelwind beland het.

“Veels geluk, ou kammie!” sê Estelle.

“Ek het sommer geweet jy sal wen!” kom dit opgewonde van Marie.

“Ag, dankie, julle,” sê Elise, nog steeds in ’n dwaal, “maar ek kan dit nog nie heeltemal glo nie.”

Die Santiago-brouery kondig aan dat haar reis soos volg gereël is: twee weke in Lissabon, een week in Oporto en die laaste week sal sy weer in Lissabon vertoef. Haar reiskaartjie na Oporto sal sy by die hotel in Lissabon kry.

Die rukkie voor Elise se vertrek gaan dit dol. Sy moet allerlei funksies bywoon ter wille van die publisiteit wat daaraan verbonde is vir die borge, en sy moet talle koerantmanne, tydskrifjoernaliste en radio- en televisiemense te woord staan. Saans gaan sy uitgeput slaap, maar sy vind dit nietemin opwindend.

Eindelik breek die dag van haar vertrek aan. Maria Caspera is reeds op die lughawe en is omring van familie en vriende toe Elise saam met Marie en Estelle daar aankom. Sy stel Maria aan haar vriendinne voor. Die pragtige meisie is in Suid-Afrika gebore, en is Engelssprekend.

Die aandlug is koud en almal het warm jasse aan. Toe Elise se vlug aangekondig word, groet haar twee vriendinne haar en wens haar ’n voorspoedige reis en ’n aangename vakansie toe. Dan sluit sy haar by die stroom passasiers aan en beweeg saam met hulle na die doeanetoonbank.

Elise is aangenaam verras toe die lugwaardin die sitplek langs Maria Caspera vir haar aanwys. Kort voor lank gesels hulle soos ou vriendinne wat mekaar reeds jare lank ken. Maria vertel Elise van haar familie tuis, haar getroude suster en ander familie wat in Lissabon woon. Elise vertel weer van haar ouers wat oorlede is, haar werk as onderwyseres en die hegte vriend­skapsband tussen haar, Marie en Estelle.

Dis die eerste keer dat die twee meisies per vliegtuig reis. Vir albei is dit ’n heerlike, nuwe ondervinding. Tog is hulle bly toe hulle Lissabon die volgende oggend nader en eindelik op die Portela-lughawe neerstryk.

“O, maar dit is goed om weer vaste grond onder ’n mens se voete te voel,” sug Maria verlig toe hulle saam met die stroom mense na die doeanetoonbank beweeg. “Ek het nog nooit in my lewe so lank op een plek stilgesit nie.”

“Dis waar,” stem Elise saam. “Ek het die vlug baie geniet, maar nou sien ek daarna uit om Lissabon te verken.”

Nadat al die formaliteite afgehandel is, verlaat die twee meisies die gebou. Voor die gebou tref hulle die hotel se motor en bestuurder aan, wat hulle by die lughawe kom haal het. Maria voel baie teleurgesteld omdat haar swaer en suster, Pedro en Rita Mendes, haar nie by die lughawe kom groet het nie. Toe sy hulle egter later in die voorportaal van die Tagus-hotel aantref, helder haar gelaat soos met ’n towerslag op.

Elise word vriendelik aan Rita en Pedro voorgestel. Dit val haar dadelik op dat Rita vloeiend Engels praat. Pedro vind die taal egter maar moeilik. Hierna teken sy en Maria die hotel se register en volg die kruier met hul bagasie na hul kamers op die vierde verdieping.

“My suster het ons genooi om saam met hulle by die huis te gaan koffie drink,” sê Maria toe hulle in die hysbak is. “Sy wil natuurlik al die nuus hoor in verband met ons ouers, broers en susters wat sy ses jaar laas gesien het.”

“Dit is heeltemal verstaanbaar dat sy nuuskierig sal wees om al die nuus te hoor,” sê Elise begrypend. “Ek waardeer haar vriendelike uitnodiging, maar ek dink tog dit sal beter wees dat jy vandag liewer alleen by jou suster gaan koffie drink. Ek veronderstel daar is vertroulike dingetjies waaroor julle graag wil gesels, dinge wat nie vir ander se ore bedoel is nie.”

Maria kyk haar met ’n vriendelike glimlaggie aan en sê goedig: “Ek kan sommer sien jy ken ons Portugese nog swak, Elise, maar jy sal ons hopelik nou beter leer ken. In elk geval, my suster sal in die gesig gevat voel as jy haar uitnodiging om daardie rede van die hand wys. Daar is niks vertrouliks om oor te gesels nie. Dit is maar sommer net die gewone, alledaagse nuus wat sy wil hoor.”

Hulle stap uit die hysbak en volg die kruier na hul kamers wat langs mekaar is. Ná ’n rukkie sluit hulle hulle weer by Pedro en Rita aan, en etlike minute later vertrek hulle na die Mendes-woning.

Maria en Elise sit agter in Pedro se motor. Nie een van die twee sê ’n woord nie, want albei verkyk hulle aan die eeue oue geboue en die kerke met hul menigte hoë, sierlike torings. Hulle ry om die plein wat met ’n hoë gedenknaald spog.

Elke belangrike of historiese gebou of plek word aan die twee meisies uitgewys, en eindelik hou hulle voor Pedro-hulle se huis stil. Vir Elise lyk dit na ’n woonstelgebou wat van ’n ander eeu dateer. Daar is geen blomtuine of grasperke voor die talle deure nie, want elke huis se voordeur loop met twee treetjies op die sypaadjie uit.

Die twee meisies kuier tot ná die middagete by Rita. Dit is reeds byna twee-uur en tyd vir die Portugese se gebruiklike siësta toe Pedro en Rita hulle weer voor hul hotel aflaai. Rita belowe dat sy en haar skoonma die twee die volgende dag sal neem om die stad te besigtig. Daarna groet hulle en vertrek.

Hier waar Elise voor haar kamervenster staan, besef sy nou eers waarom die hotel Tagus heet. Dit is bepaald omdat dit so naby die oewer van die Tagusrivier is en ’n mens van hier af selfs die hawehoof kan sien. Sy staan ’n lang ruk en kyk na die skepe wat in die hawe vasgemeer lê en besluit dan om maar eers haar reistas uit te pak, haar in ’n broekpak te verklee en dan vir haar drie vriendinne in Pretoria te skryf. Voor haar vertrek na Oporto sal sy vir elkeen ’n poskaart stuur.

Die strate was tydens die siësta baie stil, maar nou is dit asof die stad weer lewe kry. Ook die ergste hitte het afgeneem, en die twee meisies besluit om na die hawe te gaan kyk. Vir hulle, wat in die binneland woon, is ’n hawe vol skepe, bote en seiljagte iets uit ’n sprokieswêreld.

“As my familie hier in Portugal ons twee nou kon sien,” sê Maria met ’n sagte laggie toe hulle later in die rigting van die hawehoof stap, “sou hulle seker iets oorkom. Jy weet dit blykbaar nog nie, maar hier in Portugal word geen ordentlike meisie of jong vrou toegelaat om sonder ’n duenna op straat te gaan nie.”

“En wat, as ek mag vra, is ’n duenna?” wil Elise belangstellend weet.

“O, dit is ’n metgesel, ’n ouer vrou wat ’n wakende oog oor jou hou en vrypostige mans op hul plek sit,” vertel Maria. “ ’n Welopgevoede jong meisie word hier nie eens toegelaat om alleen saam met ’n kêrel uit te gaan nie. Trouens, die meeste families, en veral hoëlui, het glo nog die gewoonte om self vir hul kinders huwelike te reël – dit wil sê om self lewensmaats vir hul kinders te kies.”

“Wel, ek moet sê dit klink vir my glad nie . . . e . . . opwindend nie,” kan Elise nie help om te sê nie. “Ek is bly ek is nie ’n Portugese meisie nie, want ek sal net met ’n man van my eie keuse trou en met niemand anders nie. Maar vertel vir my, hoe voel die meisies hier in Portugal oor hierdie . . . e . . . wel, die manier waarop huwelike vir hulle gereël word en die feit dat hulle nie eens alleen met ’n kêrel mag uitgaan nie?”

“Ek weet self nie, Elise, maar Rita sê dit is vir hulle iets doodnatuurliks omdat hulle met die gewoonte grootword. ’n Mens mis tog nie iets waaraan jy nie gewoond is nie. Met jou en my sal dit natuurlik ’n perd van ’n ander kleur wees. Ons is gewoond aan ’n vry, ongebonde lewe.”

“Wel, ek beny hulle hoegenaamd nie. Trouens, ek dink jy is gelukkig dat jy in Suid-Afrika grootgeword het waar die lewe nie so ingewikkeld is nie,” sê Elise. “Ons land mag nou wel ’n baie jong landjie wees in vergelyking met Portugal, maar ons meisies is ten minste vry om vir hulself te dink en te besluit.”

So onder die gesels het hulle tot by die groot hek gestap wat ingang tot die hawehoof verleen, maar hier bly Maria meteens staan.

“Ek glo nie dit sal raadsaam wees om hier in te gaan nie,” sê sy met ’n gesteurde trek op haar gesig. “Kyk hoe staar die ellendige mans ons aan, kompleet asof ons twee goedkoop meisies is.”

“Gits, ja, hulle dink bepaald ons is, want volgens hul eng leefwyse oortree ons stellig ’n maatskaplike wet,” meen Elise, en vervolg met ’n geamuseerde glimlaggie en ’n ondeunde trek in haar oë: “Ons sal beslis ’n duenna moet aanskaf om ons na al die besienswaardige plekke te neem. Kan jy aan iemand dink?”

“Nee, ek kan nie,” sê Maria. “My ma is in Suid-Afrika en my ouma is al vyf en tagtig. Ons kan haar nie met ons saampiekel nie.”

“Nee, ons kan nie, sy is te oud,” stem Elise saam. “Maar ek moet sê, dit is vervlaks ergerlik om so . . . so gestrem te word deur hierdie mense se nougesetheid. Die brouery moes ons liewer saam met ’n toergeselskap gestuur het, dan het ons nie nou met hierdie probleem te kampe gehad nie.”

“Toemaar, Rita en haar skoonma sal sorg dat ons die hele stad besigtig sonder om ons aan onplesierigheid bloot te stel,” troos Maria. “Ek dink ons moet liewer nou teruggaan.”

Terwyl hulle terug na die hotel stap, besluit Elise dat dit werklik onsin is om haar lewe so aan bande te lê ter wille van hierdie mense se preutsheid. Sy is nie ’n Portugese meisie nie en is dus nie aan hul gewoontes gebonde nie.

“Ek stel voor dat ons eers koffie drink,” doen Elise aan die hand toe hulle die restaurant oorkant die hotel nader. “En moet asseblief nie weer sê die mans sal ons snaaks aanstaar omdat ons alleen is nie. Ek gee nie ’n flenter om wie ons aanstaar nie, en ek gaan ook nie toelaat dat hul preutsheid my vakansie bederf nie. Sal ons by een van die tafeltjies hier op die sypaadjie sit, of wil jy liewer daar binne gaan sit?”

“Wel . . . e . . . ek glo nie my swaer sal dit goedkeur dat ons alleen hier in ’n openbare restaurant kom koffie drink nie . . .” begin Maria, maar Elise gee haar nie kans om meer te sê nie.

“As dit oor ’n duenna is wat jy jou bekommer, kan jy my gerus as een beskou,” sê Elise met ’n terglustige glimlaggie, onbewus van die lang, donker man en meisie by die tweede tafeltjie wat haar en Maria waarnemend beskou.

Maria bars uit van die lag.

“Wat, jý ’n duenna?” sê-vra sy nadat haar lagbui bedaar het. “My liewe Elise, jy is maar net een jaar ouer as ek en self nie eens getroud nie . . . Nee, jy lyk allermins soos ’n duenna, maar laat ons tog maar gaan sit en koffie drink. Het jy Portugese geld?”

Hulle neem by die tafeltjie langs die belangstellende man en meisie plaas.

“Ek het reisigerstjeks saamgebring, dus kan ons die inwendige mens behoorlik versterk,” sê Elise. “Wat sal jy saam met die koffie geniet? Ek verkies roomkoekies met baie room . . . lekker vars room.”

“Ek dink ek sal dieselfde neem, dankie, maar met minder room.”

“Nou goed, dan sal dit koffie en roomkoekies wees. Maar jý sal die bestelling moet plaas, want ek glo nie die kelner sal my verstaan nie,” sê Elise.

Maria plaas die bestelling en draai dan weer na Elise. “Ek dink ek moet jou Portugees leer praat, anders gaan jy ná my vertrek hopeloos verlore hier in Lissabon wees.”

“Ja, nogal glad nie ’n slegte plan nie,” glimlag Elise. “In elk geval, hier in Lissabon sal dit nog gaan, want ná jou vertrek sal Rita en Pedro hulle bepaald oor my ontferm. Maar wat gaan ek in Oporto aanvang? Daar sal ek die spreekwoordelike vreemde­ling in Jerusalem wees.”

“Hm, ja, jy sal baie beslis vir jou ’n duenna moet aanskaf,” terg Maria met ’n sagte laggie.

Elise glimlag meteens ondeund toe sy sê: “Ek wonder wie sal op die ou end na wie moet kyk, die duenna na my, of ek na haar . . . Nee, jong, ek is nie bereid om my met so ’n verantwoordelikheid op te saal nie. Trouens, ek het nie ’n ou vrou se hulp nodig nie, ek is gewoond daaraan om vir myself te sorg. Dis net jul taal wat my oor is . . .”

Die kelner sit hul bestelling op die tafeltjie neer en Elise bring haar reisigerstjeks te voorskyn.

“O, griet, ek het nie ’n pen nie,” sê sy ietwat droog. “Jong, jy sal die kelner moet vra om vir my sy pen te leen sodat ek ’n tjek kan teken.”

Dit blyk egter dat die kelner ook nie ’n pen het nie, maar die lang, donker man by die tafel langsaan bied Elise sy pen aan – ’n duur vulpen met ’n goue dop.

“Hoe sê ’n mens dankie op Portugees, Maria?” vra Elise. “Miskien is dit beter dat jy hom namens my bedank – my Afrikaanse aksent slaan dalk te sterk deur.”

Haar blik gaan vlugtig na die lang, donker man toe hy ewe bedaard op Engels sê: “Ek verseker jou dit is ’n plesier om jou van diens te wees, señorita.”

Elise bloos liggies, maar kry dit tog reg om met ’n glimlag te sê: “Baie dankie vir die gebruik van jou pen, meneer. Dit is baie vriendelik van jou.”

“Die plesier is myne, señorita,” sê hy.

Terwyl sy en Maria die koffie en roomkoekies geniet, gesels hulle oor die volgende dag se uitstappie saam met Rita. Maar Elise bly deurentyd bewus van die lang, donker man se teenwoordigheid en van sy blik wat telkens op haar rus. Toe hulle later van die tafeltjie af opstaan, voel albei dat dit paslik sal wees om darem vir die hulpvaardige man tot siens te sê.

Die twee meisies stap geselsend terug na die hotel, albei onbewus van die man se blik wat Elise tot by die ingang van die hotel volg. Elise het reeds besluit dat hy óf getroud óf verloof is aan die meisie in wie se geselskap hy verkeer, dus probeer sy om maar liewer nie aan hom te dink nie.

Maar so maklik is dit nie, want toe sy daardie aand in die bed lê en luister na die polsende hartklop van die stad, dink sy onwillekeurig aan die mooi, lang man. Sy sien hom weer voor haar geestesoog. Sy donkerbruin oë is skerp en intelligent, maar dit is ook oë wat ’n mens met een blik sal kan laat voel asof jy al die sondes in die wêreld begaan het. Sy reguit, swart hare het ’n natuurlike glans, en die wyse waarop dit gekam is, dui daarop dat hy baie aandag daaraan gee. Sy ken is sterk en manlik en sy wangbene hoog. Sy gladgeskeerde vel getuig van ’n gesonde, ewewigtige lewe, en sy donkergrys pak se foutlose snit spreek van die hand van ’n deskundige snyer.

Die man se hele voorkoms wek die indruk dat hy ’n bekwame en welvarende sakeman met dryfkrag en diep insig is – presies die soort man oor wie Elise altyd gedroom het . . . Ja, sy kan dit maar ruiterlik aan haarself erken dat hy die aantreklikste man is wat sy nog ooit gesien het – die man van haar drome.

Die wete dat sy uiteindelik haar droomman ontmoet het, baat haar egter niks nie. Sy is baie seker daarvan dat sy hom nooit weer sal sien nie. Vir al wat sy weet, is hy ’n getroude of verloofde man. Buitendien, sy weet nie eens wie hy is nie . . .

Daardie nag droom sy van die lang, donker vreemdeling. Dit is ’n nare, onbevredigende droom, want alles is so vaag dat sy feitlik niks daarvan kan onthou nie, behalwe dat sy skerp, deurdringende oë haar met ongekende kilheid aangekyk het, asof sy hom met afsku vervul.

Maar hier waar sy nou haar vroeë oggendkoffie in die bed sit en drink, kan sy deur die venster sien hoe die eerste strale van die son ’n paar verdwaalde wolkies rooi tint. Sy voel nog steeds effens bedruk oor haar nare droom, maar dan troos sy haar met die wete dat dit net ’n droom was en werklik niks is om oor bedruk te voel nie.

Ek sal hom in elk geval nooit weer sien nie, dink sy, dus is daar geen rede waarom ek oor die droom moet sleg voel nie. ’n Droom is tog maar net iets wat sy oorsprong het in die dinge in ’n mens se onderbewussyn. Die wetenskap het tog bewys dat drome geen waarheid of voorspellings inhou nie . . .

Met al hierdie gedagtes probeer sy haarself gerusstel, tot Maria aan haar kamerdeur klop en sê dat dit tyd is om gereed te maak vir hul uitstappie saam met Rita en haar skoonma – laasgenoemde vergesel die drie meisies sodat hulle in die eerbare teenwoordigheid van ’n duenna hul dag kan geniet.

Die volgende tien dae besigtig Elise en Maria alles in Lissabon wat besienswaardig is. Hulle gaan vaar met ’n motorboot op die Tagusrivier, besoek Sintra, ’n skilderagtige stranddorpie naby die mond van die Tagusvallei, asook al Maria se familie wat in Lissabon woon. Saans kuier hulle by Rita en Pedro, en soms neem Pedro hulle om na ’n fliek of ’n opera te gaan kyk. Hulle is elke aand uithuisig en kom soms baie laat eers tuis.

Vrydag, vier dae voor Maria se vertrek na Suid-Afrika en Elise se vertrek na Oporto, neem Pedro hulle vir ’n besoek aan Maria en Rita se oom, José Caspera, wat die plaasbestuurder is van die markies Germano Norberto Concalves de Nobrega.

Maria het nog nooit met hierdie broer van haar pa en sy gesin kennis gemaak nie, aangesien sy in Suid-Afrika gebore is en dit die eerste keer is dat sy Portugal besoek.

Onderweg na die plaas gesels Rita oor hul tant Ada se bedrywighede op die plaas, hul neef Raoul wat oom José met die boerdery help, en hul niggie Nella wat haar ma in die huis bystaan, want in die huis van die markies se plaaswerkers is geen huishulpe nie.

“Net in die señor marquis se quinta is daar dosyne huishulpe,” vul Pedro aan.

“Dan moet die markies bepaald ’n vermoënde man wees,” meen Elise.

“O, hy is een van Portugal se rykste edelmanne, señorita Elise,” sê Pedro met ontsag. “Jy moet sy fabelagtige castelo net buitekant Lissabon sien.”

“Vir my is die markies se kasteel die mooiste in die hele Portugal,” laat Rita met openlike bewondering hoor. “Dit lyk byna soos ’n Walt Disney-kasteel, net baie groter en dan het dit ook baie meer versiersels aan die menigte torings. Trouens, vir my is die castelo Nobrega ’n reusekunswerk.”

“Hoe lyk die markies se quinta, Rita?” vra Maria belangstellend.

“Baie mooi. Die gebou is drie verdiepings hoog en die óú styl daarvan is pragtig . . .”

Drie uur later hou hulle onder ’n groot akasiaboom voor oubaas Caspera se huis stil. Die hele gesin is tuis om die twee meisies uit die verre Suid-Afrika te verwelkom, maar ongelukkig kan nie een van hulle ’n woord Engels praat of verstaan nie. Tog laat hierdie mense nie toe dat ’n vreemde taal hulle in hul gasvryheid strem nie, want Rita en Maria word telkens ingespan om vir Elise te tolk.

Ná die middagete, terwyl die ouer mense die siësta geniet, gaan ontspan die vier jong mense voor die deur in die koel skaduwee van die akasiaboom. In die verte is die wit ringmuur wat die markies se quinta omring duidelik sigbaar, maar van die gebou is net die dak, wat tussen die hoë bome uitsteek, sigbaar. Die pad wat na die quinta toe lei, loop voor die Casperas se huis verby.

Elise lyk soos ’n prentjie uit ’n modeboek hier waar sy, geklee in ’n liggroen rok, ragfyn sykouse en wit hoëhakskoene, rustig agteroor op ’n tuinstoel sit. Dit is vir haar interessant om na Maria, Nella en Raoul se stemme te luister terwyl hulle op Portugees gesels.

Later die middag, toe die ergste hitte begin afneem, kom sit Rita, Pedro en oubaas Caspera ook by die jong mense onder die boom terwyl die ouer vrou gaan koffie maak. Nella kom dadelik orent en gaan help haar ma in die kombuis.

“Ons sal vieruur weer moet gaan,” sê Pedro toe die ouer vrou en Nella hulle daar onder die boom met koffie en beskuitjies bedien. “Dit is drie uur se ry stad toe en ek wil voor donker tuis wees . . .”

Terwyl Pedro nog praat, ry ’n lang silwergrys sportmotor met twee insittendes stadig voor die deur verby. Die man agter die stuur groet met ’n vriendelike glimlag en ’n ligte handgebaar. Sy blik gly vinnig oor die agt mense onder die boom. Toe verstar sy glimlag meteens. Hy skop die motor se rem vinnig vas, ry agteruit en hou ’n paar treë van die boom af stil.

Oubaas Caspera, wat regoor Elise sit, kom haastig orent toe hy die motor sien terugry. Elise kyk op, maar noudat die oubaas reg voor haar staan, kan sy nie eens sien wie die insittendes van die vaartbelynde motor is nie. Nie dat dit haar juis hinder nie, want sy ken tog nie veel mense hier in die vreemde nie.

Almal kom orent behalwe Elise en Maria, en nou kan hulle die motor nie eens meer sien nie. Hulle hoor net hoe die motordeur toeklap.

“Ek hoor Rita en my tante praat van die markies, dus moet dit hy wees,” fluister Maria naby Elise se oor.

“Nou toe nou,” glimlag sy vir Maria. “Ons twee is nogal bevoorreg om die vername heer en meester van die plaas te sien. Nou sal ons darem vir ons vriende in Suid-Afrika kan vertel dat ons ’n ware edelman in lewende lywe gesien het.”

Maria stamp saggies aan Elise se arm en fluister onderlangs: “Elise, genugtig, kyk net wie is die vername markies!”

Elise kyk stadig op. Die volgende oomblik kyk sy vas in die skerp, deurdringende bruin oë van die vreemde man wat sy pen vir haar in die restaurant geleen het . . . die man van haar drome. Dit voel asof haar hart ’n gevaarlike ruk gee en dan teen ’n geweldige tempo begin klop. Haar bloed pols vinnig deur haar are en ’n ligte blos begin stadig teen haar nek opkruip. Toe laat sy haar blik stadig sak.

Ná etlike sekondes kyk sy weer op. Sy sien hoe die markies en Pedro in haar en Maria se rigting beweeg, hoe Maria beleef orent kom, en dan staan sy ook maar stadig van haar stoel af op.

Pedro stel die markies in sy eie taal aan Maria voor, daarna draai hy na Elise en sê in ’n mengsel van Engels en Portugees: “Laat my toe om die señor marquis Germano de Nobrega aan jou voor te stel, señorita Elise.”

Hy draai na die edelman en vervolg: “Señorita Elise Eybers van Suid-Afrika.”

’n Wedersydse aangename kennismaking volg. Pedro wissel ’n paar woorde op Portugees met die edelman, toe kyk die markies weer na Elise en sê op vloeiende Engels met ’n effense aksent: “Laat my toe om jou geluk te wens met die eerste prys wat jy in die skoonheidswedstryd verower het, señorita. Ek hoop jy geniet jou verblyf hier in Portugal.”

“Dankie, meneer die markies,” sê sy, “ek geniet dit terdeë.”

Die markies kyk na sy polshorlosie en sê dan saaklik: “Ek sal nou ongelukkig moet gaan.”

“Ja, ons sal ook nou moet ry,” kondig Pedro aan, “anders kom ons te laat tuis.”

Die markies kyk Pedro vraend aan. “Gaan slaap julle so vroeg, my vriend?”

“O nee,” sê Pedro met ’n sweem van ’n glimlag, “ek het gister­middag ’n bietjie werk van die kantoor af huis toe gebring. Ek moet dus die werk vanaand afhandel, anders sal ek nie my vrou en die twee jong meisies môreaand vir ete na die Costa do Sol kan neem nie.”

“Nou ja, ek hoop jy is môreaand vry om jul gaste vir ete te neem, my vriend,” kom dit bedaard van die edelman. Hierna sê hy tot siens en vertrek onverwyld.

Die silwergrys sportmotor het nog nie eens by die quinta se hek ingedraai nie, toe vertrek Pedro en sy geselskap ook.

Onderweg na Lissabon swyg Maria en Elise soos die graf oor die feit dat hulle die markies reeds by ’n vorige geleentheid gesien het, uit vrees dat hulle aan Pedro sal moet verduidelik waar dit was.

“Weet jy wie die meisie is wat saam met die aantreklike markies in sy motor was, Pedro?” vra Maria versigtig op Engels. Sy verswyg ook die feit dat sy en Elise die edelman elf dae gelede in dieselfde meisie se geselskap gesien het.

“Dis sy niggie, Rosanna Esterez,” antwoord Pedro. “Rosanna en haar ma kuier die afgelope maand al by die señor marquis.”

“Ek wonder of hy van plan is om met sy niggie te trou?” spreek Rita ’n gedagte hardop uit. “Sy lyk vir my nog baie jonk, trouens te jonk vir die markies se vier en dertig jaar.”

“Ek het nou die dag iemand hoor sê dat Rosanna agtien is,” lig Pedro hulle in. “Maar die verskil in ouderdom is vandag nie meer ’n probleem nie. In elk geval, die señor marquis het sy tante en niggie nie om dowe neute vir ’n besoek genooi nie, hy volg maar net die ou Portugese tradisie van die edelliede. Hierdie besoek is bedoel om vir Rosanna ’n huwelik te reël.”

“Bedoel jy dat Rosanna se ma met die spesifieke doel hierheen gekom het om vir haar ’n man te soek?” vra Maria met ’n geamuseerde uitdrukking in haar oë.

“Jy stel dit . . . e . . . ietwat grof, Maria,” betig Pedro haar. “Ek weet ons gebruike hier in Portugal is heelwat anders as julle s’n in Suid-Afrika, maar dit gee jou nog nie die reg om neerhalend na ons gebruike te verwys nie. Trouens, om ’n huwelik vir jou seun of dogter te reël, is besonder voortreflik. Ek het ook nie bedoel dat Rosanna se weduweema vir haar ’n man kom soek het nie. Ek het bedoel dat die señor marquis, wat die hoof van sy adellike familie is, óf besluit het om self met Rosanna te trou, óf ’n geskikte lewensmaat vir haar in gedagte het. In albei gevalle sou hy haar en haar ma genooi het om hom te besoek, sodat hy die reëlings met sy tante kan bespreek.”

“Pedro, bedoel jy dat die markies vir Rosanna ’n lewensmaat gaan kies?” vra Maria met ’n ligte frons tussen haar oë. Dit sal miskien – en sy bedoel ’n vreeslike groot miskien – nog gaan as ’n mens se ouers vir jou ’n lewensmaat kies. Hulle het jou ten minste lief en sal net die beste vir jou begeer. Maar die markies! Nee, hy kom vir haar gans te trots, koud en hooghartig voor om so ’n intieme, persoonlike saak te behartig.

Maar dan sê Pedro: “As Rosanna se pa nog gelewe het, sou die señor marquis slegs sy goedkeuring aan haar ouers se keuse van ’n lewensmaat vir haar moes heg, maar noudat sy nie meer ’n pa het nie, neem die señor marquis die plek van ’n pa in.”

“So, dan is dit daarom dat hy saam met haar kan rondrits sonder ’n duenna. In elk geval, ek is jammer om dit te sê, maar Rosanna se huwelik klink vir my glad te koud en saaklik om vir die bruid daardie een, wonderlike dag in haar lewe te wees,” kan Maria nie help om te sê nie. “Trouens, ek besef nou eers hoe gelukkig ek is dat my ouers jare gelede Suid-Afrika toe gegaan het. In Suid-Afrika is ek ten minste vry om my eie lewensmaat te kies, en ek is ook vry om die hele Pretoria plat te loop sonder om ’n duenna met my saam te piekel . . . Nee, ek sê nou vir jou, Pedro, ek sou nie graag met Rosanna wou ruil nie, al is sy skatryk en ek maar ’n doodgewone haarkapster. Genade, om met so ’n trotse ysberg te moet trou! ’n Mens voel nie juis op jou gemak in sy teenwoordigheid nie.”

“Dis waar, ’n mens voel nie juis op jou gemak in sy teenwoordigheid nie. Maar jy kan nie stry nie, die markies is ’n besonder aantreklike man, Maria,” laat Rita nou ook van haar hoor. “Die meisie wat met hom trou, is baie gelukkig en bevoorreg.”

“O, ek stry nie,” sê Maria, “uiterlik is hy ’n romantiese figuur. Maar, my ou sussie, hy het ’n innerlike ook om mee rekening te hou, en ek sê jou reguit, sy koue innerlike staan my glad nie aan nie. In sy oë skuil iets wat vir my sê dat hy ’n duiwel kan wees wanneer hy kwaad is . . . Nee, dankie, ek wil hom nie hê nie, laat Rosanna hom maar vat –”

“Dis vir my baie duidelik dat jy van ’n man hou wat jy om jou pinkie kan draai,” val Pedro haar met ’n geamuseerde glimlaggie in die rede. “Nou ja, ek wens jou by voorbaat geluk met jou ruggraatlose man, Maria. Maar om tot aangenamer dinge terug te keer . . . Jy, Rita en señorita Elise moet môreaand jul mooiste aandrokke aantrek. Ek wil julle na die Costa do Sol, ’n luukse restaurant, vir ete neem. Die plek word net deur die room van Lissabon ondersteun en ek is seker julle sal die aand baie geniet . . .”

Die drie meisies begin gesels oor klere en modes, en eindelik hou Pedro voor die Tagus-hotel stil.

“Ons sal julle môreaand halfagt kom oplaai,” herinner Pedro hulle aan die volgende aand se uitstappie.

“Dankie, Pedro, ons sal betyds gereed wees,” belowe Elise.

Toe groet en vertrek Pedro en Rita.

Tydens die terugreis van die plaas af het Elise byna niks gesê nie, maar hier waar sy nou in ’n geurige bad ontspan, dink sy weer aan die aantreklike markies.

Dis waar, sy het nog nooit so ’n aantreklike man soos hy gesien nie. Sy dink aan daardie oomblik toe sy drie sekondes lank in sy oë gekyk het. Dit het vir haar gevoel asof hy gewag het dat sy moet opkyk, want daar was iets in sy oë, iets wat daardie dag afwesig was toe sy hom die eerste keer in die restaurant gesien het. Dit wou vir haar al lyk asof hy bly . . . nee, nie bly nie, verras was om haar op sy plaas te sien. Miskien is dit maar wensdenkery van haar, maar daar was baie beslis iets vreemds in sy oë.

’n Lang ruk lê Elise daar in die bad aan die markies en dink, toe tref dit haar dat sy onherroeplik verlief is op die waardige edelman . . . ja, ’n wildvreemde man wat sy maar twee keer in haar lewe gesien het.

Is dit moontlik, wonder sy, dat ’n mens so plotseling op ’n vreemde man verlief kan raak? Is dit werklik liefde? Ek verstaan myself ook nie meer nie, want dit is nie in my aard om op ’n vreemde man verlief te raak nie . . . en tog het dit met my gebeur!

Sy dink aan Rosanna, die gelukkige meisie met wie die markies moontlik self gaan trou, en dan is sy meteens bly dat sy oor sewentien dae terugkeer na haar eie vaderland. In die verre Suid-Afrika sal sy hopelik vergeet dat sy die man van haar drome hier in die vreemde raakgeloop het . . . Maar sal dit werklik so maklik wees om te vergeet? Sal haar hart nie altyd na hom bly hunker nie?

Sy klim traag uit die bad en besluit om maar dadelik bed toe te gaan. Sy is moeg van al die getob en verlang na die slaap wat vergetelheid moet bring.

Ofskoon Elise eers laat daardie nag aan die slaap raak, is sy nogtans die volgende oggend vroeg wakker en uit die vere.

'n Lang, vreemde pad

Подняться наверх