Читать книгу Blom van Venesië - Susanna M Lingua - Страница 4

Оглавление

2

“Marco, die graaf De Castellano, het ons vroeër by die begraafplaas vir namiddagtee genooi, Terri,” kondig Lana aan terwyl sy en Terri hul handsakke en handskoene in een van die hotel se slaapkamers neersit en hul grimering opknap. “Hy sê daar is ’n belangrike saak wat hy met my wil bespreek, en hy sal sy gondel stuur om ons te kom haal.”

“Ek glo nie ek is ingesluit in die graaf se uitnodiging nie, Lana,” help Terri haar bedagsaam reg. “Ek het die edelman nog nooit ontmoet nie en hy wil in elk geval sake met jou bespreek. Sy uitnodiging was bepaald net aan jou en die kinders gerig.

“Terwyl jy en die kinders die graaf besoek, sal ek ’n deeltjie van die stad gaan besigtig; veral die Sint Markusplein, waar ek sommer ook by die een of ander restaurant ’n koppie tee sal geniet.”

“Ek is seker Marco het jou by sy uitnodiging ingesluit, Terri,” weerspreek Lana haar terwyl sy haar lang, blonde hare kam.

“Ek merk nou eers dat ek en jy dieselfde kleur hare het –”

“Ek praat nie nou oor ons hare nie, Terri,” val Lana haar be­daard in die rede. “Ek praat van Marco, die graaf, se uitnodiging.”

“Ek het jou reeds gesê die man wil sake met jou bespreek, Lana . . . sake wat my glad nie aangaan nie. Trouens, ek sal dit ook baie meer geniet om die stad te verken as om met jul graaf kennis te maak.”

Lana sit die haarborsel versigtig neer en kyk Terri effens verward aan toe sy sê: “Ek verstaan nou glad nie wat jy bedoel nie, kleinsus. Jy het Marco nog nooit eens gesien nie, en tog klink jy half vyandig teenoor hom.”

Terri gaan staan voor die venster. Met haar rug na Lana gekeer, erken sy prontuit: “Jy het gelyk, ousus, ek hou niks van jul graaf nie. Ek dink hy is ’n eiegeregtige, dominerende en baasspelerige vent, en ek koester hoegenaamd geen begeerte om met hom kennis te maak nie.”

“Ek begryp glad nie waarom jy sulke nare dinge van Marco sê nie, Terri,” sê Lana effens verward. “Jy ken hom dan nie eens nie!”

“Dis waar, ek ken hom nie. Maar ons telefoongesprek eergister het my baie duidelik laat besef dat hy die soort mens is wat hom verbeel hy het die eerste en laaste sê oor almal.” Sy vertel Lana van haar en die graaf se telefoongesprek en sluit af: “Maar ek het hom baie goed laat verstaan dat ek niemand toelaat om vir my te besluit nie.”

“Dit is nogal jammer dat julle sommer uit die staanspoor haaks is,” merk Lana half verontskuldigend op. “Marco is in werklikheid ’n baie aangename en behulpsame man, Terri. Hy het my al oneindig baie gehelp en bygestaan sedert Roberto se heengaan. Ek is seker jy sal van hom hou sodra jy hom beter ken. Almal hier in Italië koester groot respek, eerbied en agting vir hom en sy broer –”

“Ek verkies nogtans om die stad te gaan verken, eerder as om met jul voortreflike graaf kennis te maak,” val Terri haar suster met ’n besliste stem in die rede. “Hy mag vir jou en sy mense iemand wees na wie met groot eerbied, respek en agting opgesien moet word, maar vir my is hy net ’n doodgewone man soos elke ander man.”

“O, nou goed, gaan verken dan maar die stad. Moet net nie verdwaal nie, my sussie,” waarsku Lana besorg.

“Toemaar, jong,” stel Terri haar laggend gerus, “as ek so onnosel is om te verdwaal, sal ek die eerste gondel wat ek sien, nader wink en die gondelier vra om my na die Albergo Grande te bring.”

Ná die middagete gaan rus Lana, haar tante en die twee kinders. Terri trek haar baadjie uit en gaan sit in die hotel se sitkamer waar sy ’n mooi uitsig het oor die kanaal en sy bedrywighede van gondels en lang, smal afleweringsbote wat kom en gaan, almal groot genoeg om onder die brûe deur te vaar.

Toe die graaf se gondel later die middag voor die hotel vasmeer om Lana en die kinders na sy kasteel, die castello De Castellano, te neem, gaan haal Terri haar handsak en stap tydsaam in die rigting van die Sint Markusplein, waar sy later by ’n restaurant instap en tee drink.

Die graaf en sy weduweetante, Francesca Villani, en dié se weduweedogter, Carla Albereto, is al drie in die kasteel se klein sitkamer toe die butler Lana en die kinders se aankoms aankondig en die sitkamer se deur vir hulle oophou om binne te gaan.

Lana groet die graaf en sy familie – wat vir ’n onbepaalde tyd by hom kuier – en neem op sy uitnodiging plaas.

“Het jy en die kinders alleen gekom, Lana?” hoor sy die graaf merkbaar gesteurd vra, nadat hy op die stoel langs hare gaan sit het.

“Ja, ons het alleen gekom,” sê Lana sag en half verwese. “Terri, my suster, wou nie saamkom nie. Sy meen dat jou uitnodiging net aan my en die kinders gerig is, omdat jy my oor die een of ander saak wil spreek.”

“Waar is jou suster nou?” wil die graaf met ’n ligte frons weet.

“Sy het ’n ent gaan stap om ’n deel van die stad te besigtig. Sy het gesê sy wil graag die Sint Markusplein besigtig en sal middagete sommer in ’n restaurant geniet,” vertel Lana.

“Jy moes haar nooit toegelaat het om die stad alleen te besigtig nie,” laat die graaf besorg hoor.

“Ek vrees ek het geen seggenskap oor Terri nie, Marco,” weerspreek Lana hom. “My suster was twee jaar gelede al mondig. Met haar volgende verjaardag sal sy vier en twintig wees.”

Die graaf se gesig helder merkbaar op toe hy verras sê: “Bedoel jy dat sy drie en twintig jaar oud is?”

Lana knik haar kop. “Terri is oor ses maande vier en twintig, Marco, en baas van haar eie lewe. Terloops, Terri is sommer ’n bynaam, ’n verkorting van Teresa, haar doopnaam.”

“Ek het jou suster vanoggend in die begraafplaas tussen die twee kinders gesien staan. Sy het my aangenaam beïndruk en ek wou baie graag vanmiddag met haar kennis gemaak het,” hoor die drie vroue hom sê.

Carla frons onderlangs en ook haar ma lyk duidelik gesteurd omdat Marco so teleurgesteld is oor Terri se afwesigheid. Trouens, Carla en haar ma het Marco uitsluitlik besoek met die hoop dat hy ’n gevoel van liefde vir Carla sal ontwikkel en met haar in die huwelik sal tree. Hulle verwelkom dus glad nie sy belangstelling in die pragtige Suid-Afrikaanse meisie nie, wat hulle glo ’n bedreiging vir Carla se geluk inhou.

Lana is nog so hartseer en afgetrokke dat sy nie eens bewus is van die graaf se teleurstelling nie.

“Is jou suster ook ’n model, Lana?” hoor hulle die graaf ná ’n paar sekondes belangstellend vra.

Lana skud haar kop en verduidelik sag: “My suster het ’n graad in landbou en het ook baie praktiese ondervinding in veeartseny. Sy het my gister vertel dat sy planne het om ná haar tuiskoms vir haar ’n plaas te koop wat sy self sal bestuur, asook om ’n deel van die boerdery self waar te neem.”

Die edelman lyk duidelik geskok. Daardie pragtige, fyn meisietjie ’n plaasboer en veearts!

“Haar planne is ongehoord, absoluut ongehoord!” roep die graaf onverbiddelik uit.

’n Diensmeisie verskyn in die oop deur met die dienwaentjie, en die graaf is verplig om sy skok en ergernis te beteuel en met gedwonge bedaardheid te sê: “Ek sal jou môreoggend op die eiland besoek, Lana, en dan sommer ook die sakeonderhandeling wat ek in gedagte het met jou bespreek.”

Nadat die diensmeisie die vertrek verlaat het, sê die graaf weer: “Ek stel voor dat jy by jou suster aandring om haar tuiste hier by jou en die kinders te maak, aangesien albei jul ouers oorlede is en daar tog niks is wat haar in Suid-Afrika bind nie.”

’n Glimlaggie waarin al die hartseer van die wêreld opgesluit lê, verskyn om Lana se mond toe sy probeer om vir Terri in die bres te tree. “Ek sal Terri vandag nog vra of sy permanent by my sal kom woon, Marco. Maar ek vrees niemand kan haar dwing om haar tuiste hier te maak nie. Jy sê daar is niks wat haar in Suid-Afrika bind nie. Maar hoe weet jy of daar nie ’n verloofde of ’n geliefde vir haar in Suid-Afrika wag nie?”

“Sy dra nie ’n verloofring nie, dus kan sy nie verloof wees nie,” sê die graaf beslis.

“Hoe weet jy Lana se suster dra nie ’n verloofring nie, Marco?” wil Carla met bedekte afguns weet. Sy hou glad nie van sy skielike besorgdheid oor die vreemde meisie nie.

“Ek het vroeër vandag geen ring aan haar vinger gesien nie, sy kan dus nie verloof wees nie,” hou die edelman vol. “Die enigste juwele wat sy gedra het, was goue oorkrabbetjies en haar polshorlosie.”

Hierdie woorde van die graaf lewer afdoende bewys dat hy Terri baie noukeurig moet dopgehou het, om selfs te kan weet watter juwele sy gedra het. Dit laat Carla duideliker as ooit besef dat Terri ’n groot bedreiging vir haar toekomsplanne inhou; daarom sal sy ’n plan moet maak om die meisie so gou moont­lik terug te laat gaan na haar eie land toe. En om daarmee te begin, sal sy Marco môre na die eiland moet vergesel . . . Ja, sy sal die Suid-Afrikaanse indringer goed moet laat verstaan dat sy onwelkom is in Italië.

“Ek sal vir seker met Terri praat, Marco,” belowe Lana. “Ek sal self ook bly wees as sy haar hier wil kom vestig. Maar ek kan nie belowe dat sy my voorstel sal aanvaar nie. Jy ken Terri nog nie. Sy het ’n selfstandige wil en laat niemand toe om vir haar te besluit nie. Ek vrees sy is soms pynlik reguit en uitgesproke en stuit vir niks en niemand as dinge haar nie geval nie.”

“Jy het nie nodig om my dit te vertel nie. Ek het reeds met haar uitgesprokenheid kennis gemaak . . . al was dit ook telefonies,” kom dit ongeërg van die edelman.

Lana se stem is opvallend bekommerd toe sy verontskuldigend sê: “Ek is jammer daaroor. Ek hoop nie sy het jou ernstig beledig nie, Marco.”

“O nee, sy het net vir my gesê dit is baie voorbarig van my om vir haar te besluit en al die reëlings vir haar reis hierheen te tref,” vertel die graaf met ’n geslote gesig waaruit niemand iets wys kan word nie. “Daarna het sy hardop gewonder hoe dit moontlik is dat jy gelukkig kan wees op so ’n eensame, afgesonderde eiland. Sy verkies om op ’n plek te bly waar sy net in ’n motor hoef te klim om te ry waar sy wil wees.”

Lana kan egter nie help nie om met ’n weemoedige glimlaggie te sê: “Ja, dit is baie beslis my kleinsus van wie jy praat. Net sý sal so iets vir ’n vreemdeling sê. Ek sal haar probeer oorreed om jou om verskoning te vra, Marco . . .”

“Nee, moet dit asseblief nie doen nie,” keer hy haastig en vervolg met ’n sweem van ’n glimlaggie: “Sy het reeds oor die telefoon gesê dat sy my voorbarigheid maar sal verskoon omdat die omstandighede ietwat ongewoon is.”

Lana glimlag onderlangs, want só ken sy vir Terri.

Die son hang laag in die weste toe die graaf se boot Lana, Terri en die kinders na die eiland terugneem.

“Jy is stil, Lana. Is dit as gevolg van die graaf se sakegesprek met jou?” wil Terri weet toe hulle die eiland nader.

“Nee, Marco het toe glad nie sake met my bespreek nie. Hy kom my glo môre op die eiland besoek . . . Maar daar is iets waaroor ek met jóú wil gesels, Terri,” sê Lana. “Dis eintlik ’n guns wat ek jou wil vra.”

Die son is besig om te sak, en terwyl die vier passasiers in die boot met bewondering toekyk hoe die westelike horison in ’n geel, rooi en karmosyn sprokieswêreld verander, sê Terri belangstellend: “Jy maak my nou nuuskierig, ousus. Wat is die guns?”

“Ek wil jou vra om permanent by my en die kinders te kom woon, om jou tuiste hier by ons te maak, Terri.”

Die son verdwyn agter die Adriatiese See en verander die horison in ’n karmosyn vlam wat selfs die paar wolkies pienk kleur.

Terri draai haar gesig weg van die rooi nagloed in die weste, kyk Lana peinsend aan en verklaar ernstig: “Net op een voorwaarde, Lana: as jy my sal toelaat om jou boerdery te behartig. Ek sal nooit toelaat dat jy my onderhou nie. Jy het twee kinders wat opgevoed moet word . . . of gaan jy die landgoed van die hand sit?”

Lana skud haar kop stadig en sê hartseer: “Ek sal graag die plaas vir Armando wil behou, kleinsus. Maar ek sal jou voorstel eers met Marco moet bespreek en –”

“Waarom met hom? Wat het hy met die saak te doen?”val Terri haar met ’n ligte frons in die rede.

“Roberto het Marco in sy testament aangestel as eksekuteur van sy boedel. Ek kan dus niks doen sonder sy goedkeuring nie,” verduidelik Lana.

“O, nou goed. Bespreek dit dan met hom. Maar onthou, dit is die enigste voorwaarde waarop ek by jou en die kinders sal kom woon.”

Met hul tuiskoms word Lana deur haar huishoudster, signora Maria, verwittig dat twee van die plaaswerkers ongesteld is. Die een het ’n spier in sy rug verrek en die ander een het longontsteking.

“Moenie jou daaroor kwel nie,” stel Terri haar suster dadelik gerus. “Ek sal die dinge doen waarvoor hulle gewoonlik verantwoordelik is. Jy moet my net sê wat dit alles behels. Het jy ’n voorman?”

“Roberto het gewoonlik self toesig gehou oor die werkers,” sê Lana met kommer in haar stem. “Die plaaswerkers is al baie jare lank in ons diens en weet presies hoe en wanneer dinge gedoen moet word.”

“Nou goed, moenie jou langer oor dié dinge kwel nie. Ek sal van môre af vir alles sorg; tensy daar iets is wat vanaand nog gedoen moet word,” belowe Terri.

“Die huishoudster sê daar is nog nie gemelk nie,” lig Lana haar in.

“Ek gaan my nou dadelik verklee; daarna sal ek gaan melk en kyk wat nog alles gedoen moet word,” verseker Terri haar en gaan onverwyld na haar slaapkamer om haar ligblou oorpak aan te trek.

Nadat Terri die drie koeie gemelk en versorg het, vra die huishoudster vir haar of sy nie een van die diensmeisies sal wys hoe die roomafskeier werk nie, want die helfte van die melk word gewoonlik afgeroom vir botter en huishoudelike gebruik.

“Laat die diensmeisie gerus maar aangaan met haar eie werk, signora Maria. Ek kan al hierdie dinge self doen,” stel Terri haar vriendelik in kennis. “Stuur net iemand om die melk en die room te kom haal en om die roomafskeier weer skoon te maak. Ek sal al die stukke wat gewas moet word, afhaal en vir haar op die tafel neersit.”

Terwyl Terri en Lana later aandete nuttig, vra Lana haar suster om verskoning omdat sy met die melkery moes help. Sy verseker Terri dat sy môreoggend sonder versuim twee tydelike plaaswerkers in diens sal neem, want sy verneem dat die een besig was om ’n land te ploeg.

“Ek dink jy moet dit liewer laat staan,” raai Terri haar aan. “Ek sal alles van môre af self waarneem. Dit is mos my werk, ousus. Dit is waarvoor ek opgelei is. Ek sal môre die land vir jou klaar ploeg en by jou ander plaashulp verneem wat daarop gesaai of geplant moet word.”

“Ek sal dit alles môre met Marco bespreek en hoor wat hy van jou aanbod te sê het, Terri. Maar ek waarsku jou om nie te optimisties te wees nie, want Marco kan soms onverbiddelik wees as iets hom nie geval nie. En ek is ook nie so seker dat hy jou aanbod sal goedkeur nie. Hy het al juis vanmiddag byna ’n oorval gekry toe hy hoor jy is ’n landboukundige.”

“Wel, gelukkig het hy geen seggenskap oor my nie, dus sal ek my glad nie aan hom steur nie. En as hy ’n oorval kry, kan hy dit met my komplimente kry.”

Lana begin meteens saggies lag – die eerste keer dat Terri haar hoor lag sedert sy gister op die eiland aangekom het.

“Jy is soos ’n tonikum vir ’n seer gemoed, Terri,” sê Lana nadat haar lagbui bedaar het. “Ek hoop van harte dat jy jou tuiste hier by ons gaan maak.”

“Dit, my ou sussie, hang uitsluitlik daarvan af of jy my gaan toelaat om jou plaasbestuurder te wees.”

Dit is byna elfuur toe Lana en Terri aanstaltes maak om te gaan slaap.

Terri staan die volgende dag vroeg op om voor ontbyt te melk en die paar hoenders te versorg, want ná ontbyt wil sy eers na die skuur toe stap om te kyk of die plaasgereedskap darem in ’n goeie toestand is voordat sy die halfgeploegde land klaar ploeg. Dan word die graaf ook nog vanoggend hier op die eiland verwag.

Die gedagte aan die graaf se besoek stoot Terri terstond uit haar gedagtes. Sy besoek is gelukkig aan Lana en het niks met haar te doen nie. Sy is ook glad nie gretig om met hom kennis te maak nie, net nuuskierig om te sien hoe hy lyk.

Aangesien die edelman vanoggend verwag word en Terri nie graag haar suster in ’n verleentheid wil stel nie, trek sy haar oorpak uit nadat sy die hoenders versorg het en verklee haar in ’n swart langbroek en knalrooi langmoubloes waarvan die twee punte voor op haar smal middeltjie geknoop word. Haar skoene is swart leerhofskoene met plat hakke. Haar lang, goudblonde hare, wat gewoonlik op haar skouers golf en krul, is nou in ’n netjiese poniestert vasgebind. Haar gesig is liggies gegrimeer en Terri besluit dat sy goed genoeg lyk om voor die graaf te ver­skyn, indien hy met haar wil kennis maak – iets waarna sy glad nie uitsien nie, want op die oomblik stel sy net belang in die plaasgereedskap wat sy ná ontbyt wil bekyk.

“Mag ek saam met jou na die skuur toe stap, zia Terri?” vra Armando in ’n mengsel van Engels en Italiaans toe hulle ná ontbyt van die tafel af opstaan.

Dit is egter Lana wat sy vraag beantwoord: “Jy mag saamgaan, Armando, maar hou jou asseblief skoon. Ek wil my nie voor zio Marco vir jou skaam nie.”

“Toemaar, ek sal sorg dat hy hom nie vuil smeer nie,” belowe Terri. Sy neem die seuntjie se hand en laat hom toe om haar na die skuur te lei.

Terri is nog besig om een van die skuur se groot deure oop te maak, toe ’n pragtige rooi Ferrari oor die werf aangery kom en voor Lana se huis stilhou.

“Zio Marco!” roep Armando opgewonde uit en nael so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra na die rooi vuurwa en die man en meisie wat nou uit die voertuig klim.

Terri kry die groot, swaar deur eindelik oop en stap die groot skuur binne. Dit is taamlik donker in die skuur, gevolglik maak sy ook die ander deur oop.

Nou kan sy darem beter sien wat om haar aangaan en sy besluit om maar eers die trekker se enjin na te sien. Sy skakel dit aan en dan verdwyn haar kop onder die enjinkap in.

Daar is ’n donker frons op die graaf se gelaat terwyl hy kyk hoe Terri die swaar deur oopmaak. As hy nog getwyfel het oor sy besluit, is hy nou vasbeslote om dit deur te voer. Hy besef dat dit sy plig is om Terri van die boerdery af weg te hou, want dit lyk nie juis asof Lana haar daaraan steur nie.

Die graaf en sy niggie Carla wag vir Armando wat na hulle aangehardloop kom. Hy groet die seuntjie met ’n vriendelike glimlag, neem sy handjie en beweeg na die voordeur wat oopstaan.

“Ek sien jou suster is besig om die skuur se deur oop te maak,” sê die edelman toe hy, sy niggie en Lana sitkamer se kant toe stap.

“Sy het vroeër vanoggend gesê sy wil gaan kyk of die plaasgereedskap darem in ’n goeie toestand is,” verduidelik Lana.

Die graaf lyk weer dadelik onthuts, maar kry dit tog reg om bedaard te vra: “Het jy jou suster al gevra om haar tuiste hier by jou en die kinders te maak, Lana?”

“Ek het Terri gistermiddag op die boot gevra, terwyl sy die pragtige sonsondergang bewonder het,” sê Lana half verwese. “Sy het my verseker dat sy net op een voorwaarde by my sal bly: as sy my boerdery kan waarneem. En ek vrees niemand sal haar van besluit kan laat verander nie, Marco.”

“Ek dink jy het nie hard genoeg geprobeer om haar van besluit te laat verander nie,” beskuldig Marco haar. “Ek verstaan nie watse soort suster jy is wat sal toelaat dat jou jonger suster die boerdery vir jou behartig nie. Besef jy watter harde werk dit is?”

“Terri het haar hulp self aangebied, Marco,” verdedig Lana haarself. “Dit is die soort werk waarvan sy hou; daarom het sy in die landbou gaan studeer. Maar sê jy vir my watter verskil gaan dit maak as sy vir my, vir haarself of vir iemand anders boer? Ek verseker jou dit is die enigste manier hoe ek haar hier sal kan hou, as ek haar toelaat om my boerdery te bestuur.”

“Ek kan glad nie verstaan waarom jul ouers toegelaat het dat sy in die landbou, van alle dinge, gaan studeer het nie. Sy is so . . . e . . . klein en fyn; ek kan my haar glad nie op ’n trekker voorstel nie. Ek dink ek moet haar self oor hierdie onsinnige besluit gaan spreek,” laat die edelman vasbeslote en onverbiddelik hoor.

“Ek vrees dit gaan nie so maklik wees om Terri van besluit te laat verander nie, Marco,” probeer Lana hom reghelp. “Ek herhaal: Terri laat haar deur niemand vertel wat sy moet doen nie en sy laat haar ook deur niemand intimideer nie. Maar ek sal Armando stuur om haar te gaan roep.”

Carla het nog nie ’n woord gesê nie, maar van binne word sy verteer deur jaloesie omdat die graaf so begaan is oor die vreemde indringer. Sy is nou wel nie so mooi, fyn en blond soos Lana se suster nie, maar sy is ook nie onaantreklik nie, al is sy lank en donker. Mans het haar nog altyd aantreklik gevind en sy is seker dat sy Marco se liefde sal kan wen as Lana se suster maar net wil teruggaan na haar eie land toe.

Carla is nog vas van plan om Terri te laat verstaan dat sy benede hul stand is en ook glad nie welkom in Italië nie.

“Zia Terri, Mamma het gesê ek moet jou kom roep,” hoor die fyn meisie Armando skielik agter haar sê terwyl sy die groenvoersaad ondersoek. “Ek dink zio Marco wil met jou praat.”

“Goed, ou grootman, gaan sê vir jou mamma ek kom nou-nou,” belowe Terri en stap ná ’n rukkie huis toe. Sy gaan was eers haar hande en stap dan na die sitkamer waar sy Lana en haar gaste hoor praat.

“Terri, laat my toe om jou voor te stel aan signora Carla Albereto en conte Marco de Castellano . . . My suster, Teresa Massyn,” sê Lana toe Terri haar in die sitkamer by hulle aansluit.

Terri erken die bekendstelling beleef. Dan tref dit haar dat sy die twee mense die vorige dag in die begraafplaas opgemerk het. Hulle het regoor haar gestaan, en sy het selfs een keer vas in die graaf se oë gekyk ook.

Terri se blik gaan vlugtig, opmerksaam oor die graaf se geslote gesig nadat hy en sy niggie die bekendstelling erken het, dan verskuif haar blik na Carla, wat haar trots, neus in die lug en uit die hoogte aankyk asof sy iets slymerigs is wat in ’n vullis­blik hoort.

Die uitgesproke blondekop vererg haar op die plek vir die hooghartige, aanstellerige vroumens. Sy kyk Carla met smeulende blou oë aan en sê diep onthuts: “Ek weet nie wie jy so danig is nie, of jou verbéél jy is nie, mevrou Albereto, dat jy so hooghartig op my neerkyk asof ek iets onaangenaams is wat die see uitgespoel het. Maar laat ek jou dít vertel: op dié oomblik het ek ’n baie laer dunk van jou as wat jy ooit van my kan hê.”

Ná hierdie streng teregwysing neem Terri ongeërg langs Lana op die rusbank plaas en steur haar nie verder aan Carla nie, wat nou met ’n blosende gesig luister na wat haar adellike neef driftig op Italiaans vir haar sê – ’n taal wat Terri glad nie verstaan nie.

Terwyl Terri aan die woord was, het die graaf sy niggie met ’n donker frons aangekyk. Hy en Lana het albei gesien hoe neerhalend Carla die jonger meisie aangekyk het. Nou blits sy oë woedend op Carla terwyl hy haar driftig aanspreek.

Terri weet nie wat die graaf vir sy niggie gesê het nie, maar sy is nog steeds rooi tot in haar nek toe sy opstaan, haastig uitstap en buite in die motor gaan sit.

Carla is nog nie eens by die deur uit nie, toe vra die graaf Terri beleef om verskoning vir sy niggie se onvriendelike gedrag.

Maar Carla is bitter omdat Terri haar nou by die graaf in onguns gebring het. Sedert haar man se afsterwe koester sy al die begeerte om met Marco te trou en sy gravin te wees – die gravin De Castellano, wat respek en agting van almal sal geniet.

Carla wou Terri met haar meerderwaardige houding goed laat verstaan het dat sy onwelkom is in hul geledere, maar sy het nooit kon droom dat die Afrikaanse meisie so ’n rissie is wat nie met haar laat speel nie. Lana het nou wel gesê haar suster is pynlik reguit en uitgesproke, maar sy het vergeet om te sê dat sy so ’n klein vuurvreter is.

Carla is woedend omdat Terri die oorsaak is dat die graaf haar voor Lana moes vra om hier buite in die motor vir hom te kom wag. Sy was nog nooit in haar lewe so diep verneder nie.

Terwyl Carla buite in die motor voel asof sy slange kan vang, gesels die graaf met Terri oor die nadele van haar ooreenkoms met Lana.

“So ’n fyn en tenger meisietjie soos jy as plaasbestuurder is absoluut ongehoord, signorina Teresa. So iets is nog nooit in Italië toegelaat nie,” verseker die graaf haar ernstig op Engels.

Maar Terri laat haar nie so maklik ’n rat voor die oë draai nie.

“Dit verbaas my dat jy so iets kan sê, meneer die graaf,” laat Terri ewe ernstig hoor. “Ek het van Italiaanse mense gehoor dat die vroue hul mans hier in Italië op die lande en met die boerdery help. Wil jy vir my sê dat die mense vir my leuens vertel het?”

“O, nee, hulle het nie vir jou leuens vertel nie, signorina,” help die graaf haar dadelik reg. “Die mense het net versuim om vir jou te vertel dat dit die gebruik is onder die arm boere wat nie plaaswerkers kan bekostig nie.”

“Wel, in daardie geval is dit nie ongehoord vir my om my suster se boerdery te bestuur nie. Ek verseker jou ek is glad nie so tengerig as wat ek lyk nie, meneer die graaf,” kap Terri ongeërg terug.

“Jou suster is nie een van daardie arm boere wat nie plaaswerkers kan bekostig nie, signorina Teresa. Lana is ’n skatryk weduwee wat oorgenoeg werkers in diens kan neem.”

“Landbou is my werk, meneer die graaf, dit is waarvoor ek opgelei is. As my suster dan nie my hulp en kennis nodig het nie, sal ek oor twee weke moet huis toe gaan om vir ’n soortgelyke betrekking aansoek te doen, of anders my eie plaas te koop en dit tot ’n lonende onderneming te omskep. Maar ek sou verkies het om my suster te help.”

“Ek wil graag hierdie grond by jou suster koop, aangesien die res van Santa Teresa reeds aan my behoort,” lig die graaf hulle in.

“Lana durf nie haar seun se erfenis verkoop nie,” kom dit half verontwaardig van Terri. “Ek verstaan hierdie grond is al baie geslagte in die Contarno-familie?”

“Nie baie geslagte nie,” help die edelman haar reg. “Roberto se oupa het sy familieplaas op die vasteland aan my oupa verruil vir hierdie stukkie grond op die eiland. Die Contarno-familieplaas, Verde Valle, grens tans aan my plaas, Bella Vista, ’n paar kilometer buite Venesië.”

“Ek voel nog Lana behoort die grond in die familie te hou vir Armando. Ek glo nie Roberto sou dit goedgekeur het as sy dit nou van die hand sit nie,” hou Terri vol.

Die edelman se donker oë vernou opmerklik toe hy Terri agterdogtig aankyk en reguit vra: “Veg jy nou vir jou suster en haar kinders se toekoms, of vir jou eie voordeel, signorina?”

Terri se blou oë begin weer dadelik smeul toe sy vra: “Wat presies probeer jy insinueer, meneer die graaf?”

“Dit is tog duidelik dat jy tuis nie ’n betrekking het nie en dus hoop om hier vir jou suster te werk. Waarom laat jy jou suster nie self oor haar en haar kinders se toekoms besluit nie, signorina?” voeg die edelman haar skerp toe. Sy mag nou wel die mooiste meisie wees wat hy nog ooit ontmoet het, maar hy weier beslis om haar in hierdie saak haar sin te gee. Sy sake is ook nie met haar nie, maar met haar suster.

Terri vererg haar bloedig vir die graaf se valse beskuldiging. Haar gesig is opvallend bleek toe sy sê: “Verskoon my. Ek wou net my suster help, nie myself op haar koste verryk nie. Vir jou inligting, meneer die graaf: my diens aan my suster sou gratis gewees het, omdat ek geen sinnigheid koester om op haar te teer nie. Maar dit maak nie meer saak nie, want ek het nou finaal besluit om oor twee weke huis toe te gaan. Ek is nog nooit so deur vreemdes beledig soos deur jou en jou niggie nie. Ek glo nie ek hou van hierdie land se mense nie.”

Met hierdie woorde staan Terri op en gaan haastig na haar slaapkamer, voordat die edelman haar nog om verskoning kan vra. Van hom en sy niggie het sy genoeg gehad vir ’n leeftyd.

Nadat Terri haar in haar oorpak verklee het, stap sy na die skuur toe om die trekker te gaan haal. Sy besluit om maar gou die land klaar te ploeg, ingeval Lana nié die plaas aan die graaf verkoop nie.

Toe Terri ná ’n rukkie op die trekker verby die graaf se duur motor ry, draai Carla haar gesig haastig weg. Sy is nog steeds woedend omdat Terri die oorsaak is dat Marco vir haar kwaad is en haar versoek het om in die motor vir hom te gaan wag. Maar sy besef ook dat sy baie lig sal moet loop vir Terri, want so klein en fyn as wat sy is, sal sy bepaald ook nie skroom om Marco in te vlieg nie. Lana het gelyk gehad. Wanneer haar suster kwaad is, stuit sy vir niemand nie.

Terri is ook net verby die graaf se motor, toe keer Armando haar voor.

“Zia Terri!” roep Armando uit nadat Terri die trekker tot stilstand gebring het. “Zio Marco wil met jou praat!”

“My liewe kind, sê vir jou zio Marco ek sê hy kan met my komplimente in sy peetjie vlieg. Ek het niks vir hom te sê nie en ek wil ook nie weet wat hý te sê het nie,” voeg Terri die seun toe. Toe ignoreer sy die kind se verbaasde gesiggie, skakel die trekker aan en ry in die rigting van die halfgeploegde land.

Sy het byna klaar geploeg, toe hou die graaf se motor langs die land stil. Hy klim haastig uit, stap na die punt waar die trekker nou enige oomblik gaan draai en beduie met ’n handgebaar aan Terri om stil te hou. Sy doen dit egter teen haar sin, maar bly op die trekker sit en wag dat hy na haar toe moet kom.

Daar is ’n ergerlike trek op die graaf se skraal, fynbesnede gesig toe hy hom by Terri aansluit en sy blik op haar oorpak val. Maar dan val dit hom weer by dat hy haar om verskoning wil vra omdat hy haar vroeër onwetend beledig het. Haar koppigheid jaag ’n mens ook so die harnas in dat jy dinge sê wat jy andersins nooit sou gesê het nie, dink die edelman en stap nader totdat hy langs die trekker staan.

“Ek wil jou graag om verskoning vra omdat ek jou vroeër beledig het, signorina,” hoor Terri hom sê. “Ek het geen ver­skoning vir my gedrag nie, dus kan ek net sê ek is jammer.”

“Nou goed, ek aanvaar jou verskoning, meneer die graaf. Maar nou moet jy my asseblief verskoon,” sê Terri met ’n geslote gesig waaruit die man niks wys kan word nie. “Ek wil graag die land klaar ploeg en die saad insit . . .”

“Moet asseblief nie verder met die ploeëry aangaan nie, signorina. Ek –”

“Verskoon my, meneer, maar ek aanvaar nooit bevele van ander nie,” val Terri hom opstandig in die rede. “Dit is my suster se plaas . . .”

“Nie meer nie,” help hy haar dadelik reg. “Die grond behoort nou aan my. Trouens, die hele eiland behoort nou aan my. Jy kan jou dus nou soos die dame gedra wat jy is, en die boerdery aan die mans oorlaat.”

“In daardie geval sal ek my so gou moontlik van jou eiendom verwyder, meneer,” belowe Terri, nog steeds met ’n geslote gesig.

“Hoe gaan jy die eiland verlaat, signorina?” wil die graaf weet. Vir Terri klink dit asof daar iets soos ’n uitdaging in die man se stem is. Maar dan gaan hy ter verduideliking voort: “Al my bote is in Venesië. Ek het met die helikopter hierheen gevlieg.”

“O, ek sal wel ’n plan maak, al moet ek ook ’n vissersbootjie huur . . .”

“Ek sal jou aanraai om liewer jou suster te gaan help inpak om na die vasteland te verhuis,” versoek hy Terri met oë wat smeul van ergernis oor haar halsstarrigheid.

“Gaan gee bevele aan jou onderhoriges, meneer,” raai Terri hom met ’n ongenaakbare houding aan.

Hierna ignoreer sy die graaf openlik. Sy skakel die trekker aan en neem dit terug na die skuur, sonder om eens vir hom tot siens te sê. Vir Carla sal sy eerder met die trekker uit haar pad ry as om vir haar tot siens te sê.

Met vernoude oë kyk die edelman die pragtige, uitgesproke meisie agterna. Dan gaan sy blik stadig oor die halfgeploegde land, en dit is vir hom duidelik dat sy baie goed opgelei is. Maar onder sy mense het elke vrou haar plek – en Terri se plek is by haar suster in die huis.

Daar is ’n ongelukkige trek op die graaf se aantreklike gelaat toe hy in sy motor klim en na sy herehuis toe ry wat op die hoogste punt van die eiland staan. Vandat hy Terri gister in die begraafplaas gesien het, so beeldmooi, fyn en vroulik, het hy gehoop dat hulle vriende kon wees, mekaar goed sou leer ken, en later . . .

“Lana se suster is absoluut ongemanierd om jou so af te jak, Marco,” maak Carla met ’n ligte frons ’n einde aan sy gedagtes.

“Nee, dit is nie juffrou Teresa wat ongemanierd is nie, Carla, dit is jý wat jóú maniere iewers verloor het,” wys die graaf haar streng tereg. “Wie het jou die reg gegee om juffrou Teresa aan te kyk asof sy iets onaangenaams en benede jou is? Ek blameer haar glad nie dat sy jou op jou plek gesit het. Dus, moet nooit dink jy is beter as sy nie, Carla, want jy is nie en jy sal dit nooit wees nie. Maar vir jou inligting: juffrou Teresa het ’n rede waarom sy my afgejak het, en jou belediging is deel van daardie rede.”

Hy vertel Carla egter nie dat hy Terri ook vroeër onwetend beledig het nie, en dat dit lyk asof die pragtige witkop nou glad nie van Italië en sy mense hou nie. Hy voel bitter teleurgesteld hieroor en hy kan maar net hoop dat Lana haar sal kan oorreed om wel haar tuiste hier in Venesië te maak. Hy hoop nog steeds om haar vriendskap en vertroue te wen, ten spyte van haar afjak.

Carla voel op die oomblik platgeslaan en baie bitter omdat Marco so openlik kant kies vir daardie parmantige witkop. Sy erken dat haar optrede aanstoot gegee het, maar dit was bedoel om die klein snip af te stoot sodat sy huis toe kan gaan en nie dalk by Lana haar intrek sal kom neem nie. Sy hoop egter dat sy in haar doel geslaag het, anders het sy haar Marco se gram­skap verniet op die hals gehaal.

Carla is diep bewus van Marco se afsydigheid teenoor haar, maar sy maak asof daar niks tussen hulle gebeur het nie. Sy sal dit alles en nog meer van hom verduur, as sy maar net eendag die geëerde posisie as sy vrou, die gravin De Castellano, kan beklee.

Ná haar tuiskoms gaan Terri dadelik bad en verklee haar in ’n bruin langbroek en blompienk bloes. Daarna lui die klok vir middagete en moet sy haar dadelik na die eetkamer haas.

Terwyl hulle die maaltyd nuttig, gesels Terri oor gemeen­skaplike vriende in Suid-Afrika wat Lana jare laas gesien het. Sy meld egter nie ’n woord van die graaf se aankondiging dat Lana na die vasteland gaan verhuis nie. Sy het reeds besluit om haar liewer uit Lana se sake te hou, voordat haar goeie bedoelings dalk weer verkeerd vertolk word.

Ná die ete kondig Terri aan dat sy ’n entjie langs die strand wil gaan stap. Maar dan hoor sy Lana sag en vriendelik sê: “Kom sit eers ’n rukkie by my in die sitkamer, kleinsus. Daar is iets belangriks wat ek jou wil vertel.”

Hulle neem in die sitkamer op ’n rusbank plaas, en toe Terri niks sê nie, laat Lana met ’n sweem van ’n glimlaggie hoor: “Dit lyk asof jy nie belangstel in wat ek jou wil vertel nie.”

“O, nee, ek stel belang, ousus. Ek wag maar net dat jy my moet vertel,” sê Terri en kyk Lana afwagtend aan.

“Ons gaan na die vasteland verhuis, waar jy in ’n motor sal kan klim en ry net waar jy wil wees. Ek is seker jy sal gelukkig wees op die vasteland –”

“Jy verhuis tog seker nie om mý onthalwe nie, Lana,” val Terri haar in die rede terwyl sy haar ousus ernstig en reguit aankyk.

“Wel, Marco meen dat jy meer tevrede op die vasteland sal wees . . .”

“Wag ’n bietjie,” keer Terri met ’n gesteurde frons. “Sê asseblief vir daardie Marco-vent om nie my lewe te probeer reël en vir my te besluit nie. Dit gaan my nie aan waar jy en jou kinders woon nie, Lana. My tuiste is Suid-Afrika, nie hier in Italië nie. En waar jy die volgende twee weke bly, terwyl ek by jou en die kinders kuier, maak aan my geen verskil nie. Moet dus asseblief nie dink jy moet jou grond op die eiland om my onthalwe van die hand sit nie.”

“Ek verkoop nie hierdie landgoed nie, Terri, ek verruil dit vir die Contarno-familie se oorspronklike familieplaas, Verde Valle, wat aan Marco se familieplaas grens,” vertel Lana. “Die ruil van plase pas my baie goed, want Armando moet volgende jaar skool toe gaan en dit sou baie ongerieflik gewees het om hom elke dag by die skool op die vasteland te besorg.

“Die plaas Verde Valle is natuurlik ook baie groter as hierdie een op die eiland. Marco het ook gesê hy sal vir my ’n baie bekwame plaasbestuurder bring, wat sal sorg dat alles glad verloop.”

“In daardie geval het jy dan nie my hulp nodig nie. Maar ek sal jou eers help om na die nuwe plaas te verhuis en gevestig te raak, voordat ek huis toe gaan om my eie sake in orde te gaan bring,” belowe Terri.

“Ek wens jy wil liewer by my en die kinders bly, Terri. Waarom wil jy alleen op ’n plaas gaan sukkel, of miskien vreemde mense met jou kennis verryk? Die kinders is lief vir jou en ons wil jou baie graag hier by ons hê,” soebat Lana. “Sal jy nie maar jou besluit heroorweeg nie?”

“Ek vrees dit is vir my heeltemal onmoontlik om van besluit te verander, ousus. Met ’n bekwame plaasbestuurder in jou diens sal daar vir mý niks te doen wees nie. Ek is ook nie van plan om my studiegeld in die water te gooi deur nou met gevoude hande te sit en niks doen nie. Ek het feitlik die helfte van my erfgeld gebruik om my in die landbou te bekwaam. In Suid-Afrika is baie werk, ás ek dalk nie ’n lening kry om my eie plaas te koop nie.

“Ek sal ook nooit gratis by jou kan bly nie, ousus, al is jy ook hoe ryk. Om by jou te bly, moet ek ’n verdienste hê om vir my verblyf te kan betaal, en die enigste werk waarvoor ek opgelei is, is nie hier vir my beskikbaar nie,” verduidelik Terri. “Vergeet dus nou alles en vertel my wanneer en hoe jy na die vasteland gaan verhuis.”

“Ons vertrek oor ’n week met Marco se vragboot,” laat Lana teleurgesteld hoor. “Maar ek sal aanhou neul totdat jy instem om by ons te kom intrek.”

“Dit sal jou niks help om aan te hou soebat nie, ousus,” verseker Terri haar met ’n gemoedelike glimlaggie. “Jy sal elke keer maar net dieselfde antwoord kry.”

Hierna sê Terri dat sy ’n entjie langs die strand wil gaan stap en sy nooi Lana saam. Maar Lana wys haar uitnodiging vriendelik van die hand met die verskoning dat sy heelwat sake met haar huishoudster moet bespreek. In werklikheid wil sy Marco dringend spreek voordat hy die eiland verlaat. Sy wil hê hy moet weet dat hul verhuising na die vasteland niks verander het aan Terri se plan om oor twee weke na Suid-Afrika terug te keer nie.

Lana se motor het ook pas voor Marco se drieverdiepingwoning stilgehou, toe hy en Carla op die voorstoep verskyn, onderweg na die helikopter om na Venesië terug te keer. Sy klim haastig uit die voertuig terwyl die edelman haar tegemoetloop.

“Jy lyk so haastig, dit wil my al lyk asof jy probleme het, Lana,” begroet hy haar.

“Ja, ek vrees daar het iets opgeduik waaroor ek jou dringend moet spreek,” kondig Lana onomwonde aan.

Die graaf nooi haar binne en nadat hulle al drie gaan sit het, vertel Lana hom van haar en Terri se gesprek ’n rukkie tevore.

Marco lyk weer dadelik kil en ongenaakbaar. Hy kan met die beste wil ter wêreld nie verstaan waarom die pragtige Terri, so fyn en vroulik, haar met ’n man se werk wil bemoei nie . . . en dit nogal plaaswerk, van alle dinge!

Ook sy stem is kil en ongenaakbaar toe hy met ’n donker frons sê: “Ek kan nie verstaan waarom jou suster so koppig en eiesinnig moet wees nie, Lana. Waarom kan sy nie by jou bly en jou geselskap hou nie?”

“Terri was van kindsbeen af baie lief vir die grond en die natuur, Marco,” tree Lana vir haar kleinsus in die bres. “Sy sal nooit verander nie en ek verstaan haar siening. Sy het boonop baie geld aan haar geleerdheid bestee en kan dit nie bekostig om al daardie geld in die water te gooi deur nou met gevoude hande te gaan sit nie. Sy is ook te trots om gratis by my te woon.”

Die edelman kyk haar stil aan en knik dan, asof baie dinge vir hom duidelik is.

“Ek stel voor dat jy jou nie langer hieroor bekommer nie, Lana. Ek sal wel iets bedink wat ons klein vuurvreter hier sal hou,” laat Marco nou weer gemoedelik hoor. “Al moet ons nou ook vir haar ’n pos op Verde Valle skep. Ek moet ongelukkig oor ’n uur ’n vergadering bywoon, dus sal ons weer later hieroor gesels.”

Daar is ’n vreemde blinkheid in die graaf se oë toe hy van die stoel af opstaan, wat duidelik sê dat daar meer as een manier is om ’n mens se doel te bereik, en dat Terri dit nog wel sal leer. Hierna groet en vertrek hy en Carla.

Blom van Venesië

Подняться наверх