Читать книгу Die bruid van Blouberg - Susanna M Lingua - Страница 3
1
ОглавлениеDie vier en twintigjarige Lecia Brank sug diep en hardop van verligting.
Ai, hoe heerlik tog om ’n volle naweek lank van ’n klomp onmoontlike, sieltergende musiekleerlinge ontslae te wees! My senuwees voel sommer kapot uitgerafel. Om te dink dat ek nege maande gelede nog sorgeloos aan die konservatorium vir musiek in Rome gestudeer het, en nou sit ek hier met ’n hele wavrag ellende opgesaal. Ek moes in Rome gebly het . . . lekker ou stad. Daar het ek geen probleme geken nie, gesels Lecia met haarself onderwyl sy met haar luukse geel sportmotor behendig deur die Johannesburgse verkeer vleg op pad na haar tante, Emma Reyneke, se huis in een van die gegoede voorstede.
Drie jaar gelede het Lecia albei haar ouers in ’n motorongeluk verloor. Haar enigste familielid is tant Emma by wie sy inwoon. Dan is daar natuurlik ook haar oorlede pa se oudste en enigste broer, Isak Brank. Maar van oom Isak praat sy glad nie. Niemand praat ooit van hom nie. Trouens, Lecia beskou hom nie eens as lid van die familie nie. Wat haar betref, kon hy net sowel nie bestaan het nie. Sy wil hom nie ken nie, en sy dink nie eens aan hom nie.
Wat Lecia alles van oom Isak Brank van Blouberg gehoor het, het haar tot die slotsom laat kom dat hy vol duiwelstreke is. Nie dat haar oorlede pa, advokaat Gerrit Brank, juis ’n engel was nie. Inteendeel, hy was ook maar ’n uitgesproke en kortgebakerde man. Maar sy is ook so. Dis ’n eienskap van die Branks van Blouberg. Hulle laat nie met hulle speel nie, en hulle laat ook niemand toe om op hul kop te sit nie.
Oom Isak is nie net uitgesproke en kortgebaker nie; hy is trouens ook die grootste ou skelm en heiden wat leef. Dis nou alles dinge wat sy van haar oorlede pa en ma gehoor het. En haar pa behoort te weet, want hy en oom Isak is albei op die familieplaas, Blouberg, gebore en het saam daar grootgeword. Ja-nee, as iemand oom Isak geken het, was dit beslis haar pa. Oom Isak se vrou, tant Breggie, was glo nie onaardig nie, maar sy is lankal oorlede.
Sy het oom Isak maar een keer in haar lewe gesien, en dit was toe hulle op pad na Kaapstad vir ’n dag by Blouberg aangedoen het. Sy was toe maar vyf jaar oud en sy kan feitlik niks van hul besoek onthou nie. Sy onthou net vir Wouter, tant Breggie se broerskind, wat by haar en oom Isak gewoon het. Wouter was toe vyftien, en hy het haar daardie dag soos ’n ouer broer beskerm en vertroetel.
Waarom sy Wouter so goed onthou, is omdat hy haar so tydig gered het toe sy aan die kant van die rivier in die vlak water gespeel en ’n yslike krap haar aan die groottoon beetgekry het. Daarna het hy haar huis toe gedra en met haar geloop en gesels totdat sy opgehou huil het en heeltemal van die aaklige krap vergeet het.
Die vervreemding tussen die twee Brank-broers het glo ontstaan toe Gerrit besluit het dat hy nie vir ’n plaasboer uitgeknip was nie en liewer in die regte wou studeer.
Maar Gerrit was ook ’n Brank. Dus het die vonke dae lank op Blouberg gespat, en Gerrit het sak en pak Johannesburg toe verhuis. ’n Paar jaar later is sy pa oorlede en Isak is as die enigste erfgenaam van Blouberg benoem, maar Gerrit was heeltemal bewus daarvan dat dit deur Isak se slinkse toedoen geskied het.
Wat daardie dag, negentien jaar gelede, tussen Isak en Gerrit gebeur het, weet net hulle twee. Sedert daardie dag is Isak se naam nooit weer in Gerrit se huis of selfs in sy teenwoordigheid genoem nie. Nie eens sy vrou, Mara, het dit gewaag om Isak se naam in sy teenwoordigheid te noem nie.
Gerrit was daardie dag woedend, en toe hulle van Blouberg af vertrek, het hy bitter gesê: “So ’n satanskind! Hy is die grootste ou heiden, skelm en onderkruiper wat leef. Ek sê jou nou, Mara, ek erken hom nie meer as my broer nie, en ek wil sy naam nooit weer hoor nie. Die skobbejak was bepaald onder die indruk dat ons van armoede en ellende krepeer en dat ons net by Blouberg aangedoen het om van hom geldelike hulp te vra. Ek moes die ellendeling met die vuis bygedam en hom ’n paar goeie opstoppers gegee het oor sy vermetelheid. Net die duiwel sal weet waarom ek dit nie gedoen het nie.”
Mara wou nog haar man probeer kalmeer, maar Gerrit was briesend en het nog talle ander dinge in sy drif kwytgeraak. Sedert daardie dag was daar nie meer net ’n vervreemding tussen die twee broers nie, maar openlike vyandskap.
Na etlike jare, toe Lecia oud genoeg was om dinge in die regte perspektief te sien, het haar ma haar die hele onaangename geskiedenis van haar pa en oom Isak vertel. Gevolglik het sy net so ’n diep hekel aan haar oom Isak, want die onreg wat hy haar pa aangedoen het, raak haar ook.
Ná die motorongeluk het sy hom nie eens van haar ouers se afsterwe in kennis gestel nie. Gevolglik is Gerrit Brank nie in Blouberg se kerkhof begrawe waar al sy voorsate van die afgelope driehonderd jaar rus nie.
Die verkeerslig word rooi, en Lecia hou stil. ’n Lawwe motorryer agter haar druk sy voertuig se toeter lank en hard. Sy vererg haar oombliklik vir die vent en draai in die sitplek om. Woes beduie sy met haar vuis hoe sy hom disnis gaan slaan as hy nie dadelik sy ongeskiktheid staak nie.
Die verkeerslig word groen, en die geel sportmotor trek met ’n vaart weg.
A, eindelik tuis, dink Lecia toe sy langs haar tante se dubbelverdiepinghuis stilhou. Salige rus en vrede ’n hele naweek lank.
Sy klim uit die motor, draf die huis soos ’n sestienjarige binne en loop haar tante byna onderstebo waar die ouer vrou in die voorportaal vir haar staan en wag.
“Genugtig, kind, gaan jy dan nooit grootword nie?” vra tant Emma glimlaggend, glad nie verbaas of verskrik nie. Sy ken mos darem al die emosionele Branks.
“Haai, middag, tant Emma!” Lecia lag vrolik en omhels die vrou liefderik. Sy kyk haar opgewek aan. “Maar hoe praat tant Emma dan nou van nooit grootword nie? Ek was dan net verlede week vier en twintig!”
“Toemaar, jy hou jou verniet onnosel,” glimlag die ouer vrou goedig. “Ek weet werklik nie waarom ek my nog moeg maak om jou te vermaan nie. Julle Branks laat julle tog van g’n mens leer, voorskryf of vermaan nie. Maar kom, ek wag al die afgelope halfuur in spanning op jou tuiskoms.”
Lecia kyk haar dierbare tante laggend aan.
“Waarom al die spanning, tant Emma?” vra sy terglustig. “Is iemand dood, of het tant Emma en daardie lastige ou wewenaar vanoggend skelmpies voor die landdros getrou?”
“Jy moenie nog spot nie, kind,” vermaan die ouer vrou haar ernstig. “As jy weet wat ék weet, sal jy glad nie so vrolik daar uitsien nie. Maar sê eers vir my: Het jy al weer iemand met daardie windmakerige motor van jou raak gery, of het jou vinnige humeur al weer gemaak dat jy iemand beledig het?”
Lecia lag saggies. Sy plaas haar een arm liefdevol om die mollige vroutjie se lyf en vra gemaak vroom: “My liewe tant Emma, waarvan praat tante nou? Hierdie nuwe vuurwa van my het tot dusver nog niemand raak gery nie, en ek kan tante verseker dat ek die afgelope twee maande ook niemand beledig het nie. Maar vertel my, waarom verdink tante my van sulke nare dinge?”
Tant Emma meet die jong meisie ’n oomblik met ’n skeptiese blik, maar verduidelik dan met groot erns: “Omdat hier vandag vir jou ’n brief van ’n prokureur af gekom het, en ’n prokureursbrief wat aan jou geadresseer is, voorspel gewoonlik net een ding – moeilikheid met hoofletters. Maar as jy niks onwettigs aangevang het nie –”
“O, giftig,” val sy haar tante met ’n sweem van ’n glimlag in die rede, “dit klink werklik of iemand my in die tronk wil stop! Laat ek net eers dink teenoor wie ek laas my humeur verloor het. Dis sweerlik daardie konstabeltjie wat ek nou die môre byna raak gery het. Maar, nee, dit kan nie hy wees nie . . .”
Tant Emma frons effens, maar swyg wyslik.
“Natuurlik is dit hy!” sê Lecia gerusstellend. “Hy sal my nie aankla nie, nie ná daardie stroopsoet glimlaggie waarmee ek hom vereer het nie. Hy het dan selfs vir my geglimlag met sy hand op sy hart . . .”
“Ag, loop, kind,” bestraf tant Emma haar goedig, “jy is vandag weer vol duiwelstreke. Kom lees liewer die brief. Ek moet weet wat jy al weer teen die gereg gesondig het, sodat ek onverwyld met ’n prokureur in verbinding kan tree in verband met jou verdediging. Kom, die brief is in jou kamer.”
Dit is vir Lecia baie duidelik dat haar ou tante bitter bekommerd voel oor die onbekende prokureur se brief. Nie dat sy self ’n benul het waarom ’n prokureur nou juis aan haar sou skryf nie, tensy hy straks ’n kind van hom by haar as musiekleerling wou inskryf. Maar in daardie geval sou hy tog seker telefonies met haar in verbinding getree het, meen sy.
Die arme tant Emma het dit ook al so op haar senuwees. Omdat Lecia per ongeluk al ’n waaghalsige motorfietsryer en ’n dronk boemelaar raak gery en ook ’n paar voorbarige jong mans beledig het, meen sy stellig dat dit ’n gewoonte van die meisie is om haar aan sulke dinge skuldig te maak.
Met haar arm nog steeds om haar tante se mollige lyfie, stap Lecia by haar slaapkamer in, en haar blik val dadelik op die brief wat die ouer vrou vir haar op die kleedtafel gelaat het.
Ietwat nuuskierig tel sy die brief op, skeur die koevert oop en laat haar blik vlugtig oor die geskrewe reëls gly.
Sy het reeds die helfte van die brief gelees toe sy verbaas, maar met ’n frons tussen haar oë uitroep: “My wêreld, tant Emma, raai wat? Dit is glad nie ’n aanmaning van ’n prokureur nie, dit lyk dan nou vir my of ek iets geërf het . . .”
“Maar lees hardop, kind, ek wil mos ook weet wat aangaan!” spoor haar tante haar ongeduldig aan en neem op die voetenent van die bed plaas. Haar nuuskierigheid is nou behoorlik gaande, want van wie sal Lecia tog erf? Die kind vergis haar bepaald.
“Ag, hier aan die begin van die brief sê die man maar net dat hy baie moeite ondervind het om my op te spoor, ensovoorts,” vertel Lecia kortliks. “Luister net . . .”
U oom, meneer Isak Brank, is ’n maand gelede oorlede, en u word in die oorledene se testament as mede-erfgenaam van sy plaas, Blouberg, benoem. Die testamentêre bepaling lui egter dat u binne twee weke van die datum van hierdie kennisgewing u op bogenoemde plaas moet gaan vestig.
Indien u in gebreke bly om aan hierdie bepaling te voldoen, verbeur u alle aanspraak op u erfenis en sal meneer Wouter Fouché as die enigste erfgenaam benoem word.
“So ’n vermetele ou . . . ou addertand!” roep Lecia verontwaardig uit. “Selfs uit sy graf probeer hy nog gemeen wees deur so ’n onmoontlike voorwaarde te stel.”
“Haai, kind,” vermaan tant Emma sag. “ ’n Mens praat nie so lelik van die dooies nie.”
Lecia se groen oë vlam gevaarlik toe sy die ouer vrou stip aankyk en onthuts sê: “Sulke agterbakse en onregverdige mense soos oom Isak gaan nooit heeltemal dood nie, tant Emma, wees verseker daarvan. Oom Isak en sy skynheiligheid leef nog steeds in sy testament. Deur hom is my pa destyds onterf omdat hy in die regte gaan studeer het in plaas van om te boer, en nou stel hy dieselfde eis aan my. Verbeel jou, ek moet my op Blouberg gaan vestig! Hy kan maan toe vlieg!”
“Hy kan nie, Lecia. Die man is dood, my hartjie,” help tant Emma haar ongeërg reg. “Laat die ou satanskind tog maar rus. Hy het genoeg sonde en ergernis in sy lewe veroorsaak. Vertel my liewer van daardie man . . . wat is sy naam nou weer? O ja, nou onthou ek . . . Wouter Fouché. Hoe oud is dié knaap, en hoe lyk hy, hartjie?”
Lecia voel nog so ontstoke dat sy nie dadelik kan antwoord nie. Maar soos gewoonlik kry sy haar vurige humeur gou onder beheer en verduidelik sonder veel geesdrif: “Wouter is tien jaar ouer as ek, tante, dus moet hy nou vier en dertig wees. Maar ek ken hom nie juis nie. Ek het hom net een keer in my lewe gesien en toe was ek maar ’n snuiter van vyf. Ek onthou hom net as ’n langbeenseun met digte, donkerbruin krulhare en viooltjieblou oë. Hy is tant Breggie se broerskind. Sy en oom Isak het mos nooit kinders gehad nie, daarom het hulle Wouter aangeneem en grootgemaak toe sy ouers oorlede is. Ek dink hy was vyf jaar oud toe sy ouers oorlede is. Maar soos ek reeds gesê het, ek het hom maar een keer in my lewe gesien. Vandag is hy stellig net so ’n harde, skynheilige en selfsugtige man soos oom Isak wat hom opgevoed het. Ek kan nie eens meer onthou hoe die plaas lyk nie. Dis soveel jare gelede dat ons daar was. Al wat ek kan onthou, is dat daar ’n rivier naby die huis verbyvloei.”
Tant Emma sug swaarmoedig en kyk stil voor haar uit. Sy het nooit kon droom dat sy op haar oudag alleen in hierdie groot huis sal moet woon nie. Sy het altyd gehoop dat Lecia by haar sal bly totdat sy die dag nie meer daar is nie, maar nou sal sy natuurlik alleen hier moet woon, want Lecia durf nie haar erfenis verbeur nie.
Sy kyk weer na die jong meisie wat nog steeds met die brief in haar hande staan en sê ietwat weemoedig: “So, dan gaan ek jou nou ook oor twee weke verloor.”
Lecia kyk die ouer vrou verbaas aan. “En waarom, as ek mag vra, gaan tante my verloor? Ek koester hoegenaamd geen planne om nou al dood te gaan nie, my liewe tant Emma!”
“Maar jy gaan mos plaas toe, Leciatjie –” begin tant Emma, maar Lecia help haar sommer dadelik reg voordat sy nog meer kan sê.
“O nee, ek gaan nie, tante,” sê sy onomwonde en baie ernstig. “Lyk ek vir tante of ek van my wysie af is om my op so ’n verlate plek aan die einde van nêrens te gaan vestig? Blouberg . . . inderdaad! Dit klink vir my bra na ’n bergagtige wildernis, soos daardie een waardeur die Israeliete destyds getrek het. Nee, ek is nog lank nie ’n bobbejaan om my in die berge te gaan vestig nie. Ek sal nooit daar aard nie, my liewe tante. Ek is immers ’n beskaafde Brank.”
“Inderdaad – baie beskaaf solank jy nie jou humeur verloor nie,” stem die ouer vrou glimlaggend saam. Sy ken Lecia vandat sy mens is en weet baie goed hoe kort van draad en uitgesproke sy kan wees; presies soos al die Branks van Blouberg maar is – ’n omgekrapte ou nasie.
Lecia kyk haar tante gemaak verontwaardig aan, maar haar oë lag die ouer vrou openlik uit. Dis waar, haar tannie ken die Brank-familie baie goed.
“Skaam tante om my so te verkleineer,” maak sy dik van die lag beswaar, ofskoon daar nie ’n beduidenis van ’n glimlag op haar gesig te sien is nie.
“Ag, toemaar,” verdedig die ouer vrou haarself, “moet nou nie maak of jy ’n engel is net omdat jy soos een lyk nie, my hartjie. Ons weet tog almal dat jy in ’n rissiepit en ’n vuurvreter verander sodra jy kwaad is. Aard blykbaar na jou oom Isak. Jy lyk mos net soos hy met jou rooi hare en groen oë.”
“Oom Isak!” roep Lecia verontwaardig uit. “Nee, kyk, ek wil nie onbeleef wees teenoor die ontslapene nie, tant Emma, maar dáár was nou regtig vir jou ’n onmoontlike en befoeterde man. My pa het altyd gesê hy weet nie hoe tant Breggie met hom huishou nie. Hy wou altyd net maak en breek, en almal moes na sy pype dans. Maar ek is ’n mensliewende en vredeliewende Brank, sonder pretensies en fiemies. O, ek weet ek is ’n bietjie reguit van geaardheid en ’n ding is vir my óf wit óf swart. Maar ek glo nie ek aard na oom Isak nie, al het ons dieselfde kleur hare en oë. My rooi hare en groen oë het niks met oom Isak te doen nie; dis in die familie. Ons ou stamvader het glo rooi hare en groen oë gehad, en my pa het gesê hy en die duiwel was een mens. Pappie het gesê ons het slegte bloed van ons stamvader geërf . . . Nee, my hare en oë het niks met oom Isak te doen nie.”
“Ja, die arme ou Isak,” sug tant Emma asof sy swaar laste op die hart dra. “Jou ma het my destyds vertel hoe ’n onmoontlike ou hardekop hy was. Maar wat jou erfenis betref . . .”
“Vergeet asseblief van die erfenis, tant Emma,” keer Lecia haastig. “Ek sal die prokureur Maandag bel en vir hom sê dat ek nie in my oom se onsinnige testament belangstel nie.”
Sy begin ’n opgewekte deuntjie fluit terwyl sy die brief terug in die koevert steek, kompleet asof die onderwerp finaal afgehandel is. Maar tant Emma het haar eie mening oor hierdie saak en beskou die onderwerp glad nie as afgehandel nie. Wat haar betref, het hulle die onderwerp nog nie eens aangeroer nie. O nee, vandag is die dag wat hierdie hardekop na haar gaan luister, en sy weet net hoe om hierdie jongste spruit van die befoeterde spul Branks te hanteer.
Tant Emma kyk Lecia ’n oomblik stil, ondersoekend aan asof die meisie ietwat vertraag is en sy dit nou eers besef. Dan glimlag sy stilweg en skud haar kop ongelowig.
“Maar, my liewe kind,” sê sy na ’n rukkie, “jy kan mos nie ’n halwe plaas sommerso goedsmoeds prysgee nie! Soos jou ma my vertel het, is dit een van die grootste plase in die Oos-Kaap. En nog ’n ding: dit is ’n familieplaas wat reeds bykans driehonderd jaar aan die Branks behoort. Jy mag in geen omstandighede toelaat dat dit nou in vreemde hande val nie. Ek wonder of jy besef dat dit jou oorlede pa se regmatige erfenis is wat jy so goedsmoeds van die hand wil wys. Dan ook: dis jou dure plig om te sorg dat Blouberg in die hande van die Branks bly. Glo my, dis baie beslis nie nou die tyd om aan daardie ou skelm oom van jou te dink nie. Hy is dood en begrawe, my hartjie. Jy moet nou aan die dinge dink wat jou pa toegekom het. Jy gaan tog seker nie jou pa se erfenis vir daardie Fouché present gee nie, gaan jy?”
Lecia frons gesteurd.
“Dis blykbaar wat oom Isak en Wouter verwag het ek moet doen, tante. Daarom die lawwe bepaling dat ek my op die plaas moet gaan vestig. Oom Isak het goed geweet dat ek in die stad grootgeword het en my nooit daar in die gramadoelas sal gaan vestig nie.”
Sy praat asof die hele aangeleentheid haar nie in die minste aangaan nie, so sonder belangstelling. Sy is in elk geval ’n moderne stadsmeisie en het geen trek vir die plaaslewe nie. Allermins wil sy haar daar tussen die berge en bobbejane gaan vestig!
Maar tant Emma is self ’n eiewyse ou dame wat nie maklik kopgee nie. Sy glo aan reg en geregtigheid, en dit is niks minder as reg nie dat die helfte van Blouberg Lecia toekom. Daarom sê sy op taktvolle wyse: “Ou Isak wou jou maar net met daardie bepaling in sy testament uitdaag, kind. Hy het jou pa as ’n lamsak beskou omdat hy nie wou boer nie, en hy wou seker vasstel of jý ’n lafaard is of nie. Gaan jy hom en daardie Fouché hul sin gee deur hulle te wys dat jy werklik so lafhartig is soos wat hulle dink?”
Lecia kyk haar tante etlike sekondes lank met ’n peinsende blik aan, dan verskuif sy haar blik na die venster en staar diep ingedagte na die mossies wat ywerig besig is om in die ou groot jakaranda voor die venster nes te maak. Die plaaslewe is vir haar heeltemal onbekend, maar soos al die Branks van Blouberg hou sy nie daarvan om as ’n lafaard bestempel te word nie, en as die uitdaging nog van ’n ou skelm soos oom Isak kom . . .
“Ek weet regtig nie wat my te doen staan nie, tante,” sê sy na ’n rukkie. Sy sit die brief ingedagte op die kleedtafel neer en neem langs die ouer vrou plaas.
“Daar is net een ding wat jy kan doen, Lecia-kind,” kom dit ernstig van tant Emma. “Neem jou erfenis in ontvangs en sorg dat dit in jou hande bly.”
Lecia kyk haar tante nadenkend aan, dan sê sy met ’n stem asof sy die geskiedenis van musiek aan ’n nuwe leerling verduidelik: “Tante sê ek moet my erfenis in ontvangs neem, maar wat weet ek van ’n plaas af, en wat presies moet ek daar gaan maak? Ek kan nie eens ’n ete voorberei nie, om die eenvoudige rede dat ek nog nooit in huishoudkunde belanggestel het nie. My ouers het nou wel hoog geleef, maar hulle het darem vir my iets nagelaat. Al is dit nie veel nie, is dit nogtans ’n neseier vir ’n dag van nood, en dan het ek nog my musiekleerlinge wat my ’n taamlike inkomste besorg . . . Nee, ek glo nie ek sal van honger omkom as ek my erfenis van die hand wys nie, al is ek nie welgesteld nie.”
“Om ’n ete voor te berei is niks om jou oor te kwel nie,” verseker tant Emma haar. “Dis dinge wat jy met die hulp van ’n goeie kookboek gou onder die knie sal kry. Die belangrikste is dat jy ’n oog oor jou belange moet gaan hou, en toesien dat daardie Fouché jou nie met ’n sent verkul nie. Onthou, die volle helfte van die plaas se opbrengs behoort aan jou. Wat maak dit saak of jy dit nodig het of nie? Jou kinders sal dit eendag kan gebruik.”
Lecia sug radeloos. Tant Emma kan so knaend met ’n ding aanhou. Sy weet werklik nie waarom sy die ou tante so liefhet nie. Sy het ’n nare manier om ’n mens in ’n ding te dwing waarin jy nie wil wees nie, en die slegste van alles is dat ’n mens dit nie oor jou hart kan kry om vir haar nee te sê nie.
Sy draai na die ouer vrou en sê ietwat ontwykend: “Ek weet eerlikwaar nie of dit sal deug nie, tante. Ek sal eers daaroor moet slaap.”
“Daar is absoluut niks om oor te slaap nie,” hoor sy die ouer vrou beslis sê. “Jy het ’n plig teenoor jou ontslape pa, en ook teenoor jou ongebore kinders, wat jy moet nakom, en ek sal persoonlik toesien dat jy jou plig nakom.”
“Maar tante, sê nou net ek en Wouter kom nie met mekaar oor die weg nie, wat dan? Ons ken hom van geen kant nie en weet glad nie hoe ’n soort mens hy is nie. Bes moontlik is hy ’n tweede oom Isak!”
Tant Emma lag geamuseer. “Ek wil nog die man sien wat soos ’n stoomroller oor jóú gaan vaar, Lecia . . . Nee, jy ken te veel maniere om dié ou nasie te hanteer. Net een van daardie glimlaggies wat jy nou die dag vir daardie konstabeltjie gegee het, sal sy hart hopeloos vermurwe.”
“My liewe tante,” stribbel die rooikop half moedeloos teë, “daardie tegniek het nie dieselfde uitwerking op elke man nie. Wouter is moontlik ’n ou suurknol op wie ’n glimlag geen indruk sal maak nie –”
“Ag, onsin met die plaasjapie,” knip sy Lecia se relaas terstond kort. “Hy het nog nooit in sy lewe so ’n beeld van ’n mens soos jy gesien nie. Daardie kastaiingbruin hare en smaraggroen oë van jou sal die man so sag soos klei in jou hande maak. Luister nou wat jou ou tante vandag vir jou sê. Jy sal sy hart so gou vermurwe, die man sal nie weet wat hom getref het nie.”
Lecia luister, maar sy betwyfel hierdie voorspelling van haar tante baie sterk. Nie een van hulle ken vir Wouter nie, en dit is ook nie elke man wat hom deur ’n paar groen oë soos ’n lam ter slagting sal laat lei nie.
Maar hierdie dinge sê sy nie vir tant Emma nie. Sy weet by voorbaat dat die lewenservare vrou haar woorde ongeërg sal weglag en sê alle mans is eenders. Dus sê sy versigtig: “Wel, van die skoonheid weet ek nie so mooi nie. Tante ken nou dinge aan my toe waarvan ek glad nie bewus is nie. Trouens, my spieël het nog altyd gewys dat ek maar ’n gewone, alledaagse meisie is – nie te kort nie en nie te lank nie en regtig niks om oor huis toe te skryf nie. Ek sal dus eerder op my . . . e . . . intelligensie staatmaak. Nie dat ek oor veel intelligensie beskik nie, maar die bietjie wat ek wel het, sal ek ten beste moet gebruik.”
“Nou ja, ek gee nie om waarop jy staatmaak nie, kind,” kom dit nou weer gemoedelik van die ouer vrou, “maar laat ek jou dít vertel: selfs die mooiste filmster lyk vir my kompleet soos ’n uitgewaste lap in vergelyking met jou.”
Lecia moet hard veg om nie in die ouer vrou se gesig uit te bars van die lag nie. Sy ken tant Emma en weet dat sy enige taktiek onder die son sal gebruik om haar sin te kry. Tog kan sy nie ’n ligte spotlaggie bedwing nie toe sy sê: “Toemaar, tant Emma het nie nodig om die heuningkwas so kwistig te gebruik nie. Ek ken daardie tegniek baie goed. Maar wat my liewe tante blykbaar uit die oog verloor, is dat ek nie my musiekleerlinge op so ’n kort kennisgewing in die steek kan laat nie. Ek moet hulle minstens ’n maand voor die tyd in kennis stel dat my diens nie meer beskikbaar sal wees nie, en oom Isak se testament sê ek moet oor twee weke op Blouberg wees. My erflating en alles is dus van die baan . . .”
“O nee, dit is nie,” keer die ouer vrou vinnig. “Jou tant Emma is nie so onnosel soos wat sy lyk nie, my hartjie. Ek sal daardie prokureurtjie Maandagoggend persoonlik gaan spreek en hom sommer ook ’n paar dingetjies vertel wat hy nog glad nie weet nie. O nee, hy moenie ou Isak se streke by ons kom uithaal nie. Twee weke . . . verbeel jou!”
Lecia bars hardop uit van die lag en kyk haar tante ondeund aan. ’n Mens sou sê dis die prokureurtjie se skuld dat sy oor twee weke op Blouberg moet wees! Ai, dié tant Emma is ook maar ’n eiewyse ou mens. Sy sal nie rus voordat sy haar sin gekry het nie!
“Hoe klink dit vir my of tant Emma die arme prokureur wil gaan uittrap? Die man voer net opdragte uit, tante. Hy is nie verantwoordelik vir die bepalings van oom Isak se lawwe testament nie. Tante sê altyd ek is ’n rissiepit en ’n vuurvreter, maar ek dink tante is self ’n rissie –”
“Maar jy ís, Leciatjie,” val die ouer vrou haar ongeërg in die rede. “Jy is dit van die oomblik af toe jy jou oë in hierdie ou wêreld oopgemaak het. Daarom stuur ek jou met ’n geruste hart Blouberg toe. Ek weet mos daardie Wouter Fouché gaan sy moses in jou teëkom. Hy het seker nog nooit in sy lewe gesien hoe vinnig vonke kan spat nie, my kind. In elk geval, hy sal dit nog sien, sodra jy daar is.”
Lecia kyk die ouer vrou verbaas aan. Die dinge wat hierdie liewe ou tante van haar darem kan bedink, is net te onmoontlik vir woorde.
“Tant Emma,” sê sy met Job se geduld, “ek gaan nie Blouberg toe om met Wouter Fouché rusie te maak nie. As mense my net in vrede wil laat, sal ek nooit in my lewe met hulle rusie . . . e . . . ek bedoel, my vir hulle vervies nie. Vertel my liewer of ek my klavier en orrel per trein na Blouberg moet laat vervoer of met ’n vragmotor. Dis natuurlik, bygesê, as tante sake so gereël kan kry dat ek eers oor vyf weke hoef te vertrek. Dan sal tante ook met die prokureur moet reël dat Wouter my musiekinstrumente by die naaste stasie gaan haal, want ek sal eers ’n week daarna kan vertrek. Ek moet nog my bedanking as kerkorreliste ook indien.”
“Moet jou oor niks bekommer nie, my hartjie,” stel die ouer vrou haar dadelik gerus, “ek sal vir alles sorg. Jy kan maar sommer vanaand al die kennisgewing aan jou leerlinge se ouers begin skryf, my kind. Sê maar dit was vir jou ’n plesier om hul onhebbelike . . . e . . . ek bedoel, hul ou kindertjies te onderrig, al was dit nie. Ek kan regtig nie sien watter plesier dit is om ander mense se stout kinders te onderrig nie, maar sê maar dit was.”
Lecia vou byna dubbel soos sy lag. As daar een mens is wat sy baie gaan mis, sal dit beslis haar dierbare, uitgesproke tant Emma wees.
“Jy moet maar gereeld vir my skryf, my kind,” sê tant Emma. “Onthou, jou ou tante staan bankvas agter jou. Ek sal altyd hier wees om jou met raad by te staan. Daar is net een ding waarvoor jy baie versigtig moet wees. Ek meen te sê, dis nou nie ’n bangpratery nie –”
“Toemaar, tante, ek skrik nie maklik nie. Maar vertel vir my, waarsku tante my nou teen leeus, tiers en slange?” val sy die ouer vrou met ’n gedempte laggie in die rede. Sy weet dis sonde, ’n mens lag nie vir ’n ou mens nie. Maar ai, tant Emma darem . . .
Nee, sy glo nie die liewe Heer sal haar straf nie. Hy ken mos darem ook vir tant Emma. Wie kan dan nou sy lag vir haar hou? Sy kom soms met die onmoontlikste of onsinnigste ding vorendag, soos nou weer hierdie ernstige waarskuwing dat daar minstens een ding is waarvoor sy, ’n Brank, baie versigtig moet wees.
Sy voel lus om hardop te lag. Sy is oortuig daarvan dat die plaasjapie Wouter Fouché so mak soos ’n lam sal wees en geen probleme sal oplewer nie . . . Nee, dis die ellendige plaaslewe wat vir haar probleme gaan skep. As sy haar sin kan kry, bly sy net hier in die beskawing, hier in Johannesburg waar sy gebore en getoë is. Hierdie erflating en die testamentêre bepaling steek haar dwars in die krop. Sy sou verkies het dat Wouter oom Isak se enigste erfgenaam moes wees. Maar sê dit nou vir tant Emma, dan kom sy weer met ’n lang relaas vorendag wat menige advokaat haar sal beny en . . . Nou ja, met tant Emma kan ’n mens ook nie elke dag redeneer nie, en vandag is ongelukkig een van daardie dae.
Nou wonder Lecia weer waaroor haar tante se ernstige waarskuwing gaan, maar sy het nie nodig om lank te wonder nie, want die ouer vrou is klaar aan die woord.
“Nee, kind, ek waarsku jou nie teen leeus, tiers en slange nie; daardie is sommer kleinighede. Jou ou tante waarsku jou nou teen groot dinge – dinge soos die liefde, want sien, dis nou nie iets waarteen ’n mens jou met ’n geweer kan verdedig nie. Nee, dáár het jy geen verweer nie. Glo my, die liefde slaan net so vinnig toe soos die Groot Griep in 1918, en as hy jou eers het, los hy jou nie. Jy moet dus maar versigtig wees vir daardie Wouter-kêrel. ’n Mens weet nou nie of hy dalk ’n aantreklike man is nie, en ’n vrou se hart bly maar ’n verraderlike ding. Ek meen te sê . . .”
“Tant Emma!” roep Lecia verontwaardig uit. “Sowaar, as ek nie nog ’n hartaanval kry nie, is my naam nie Lecia Brank nie! Dink tante ek is so laf om op ’n ongeletterde plaasjapie verlief te raak?”
Die ouer vrou se stem is sag, kalmerend toe sy weer praat. “Die liefde vra nie of jy stadsjapie of plaasjapie is nie, Lecia-kind. Dan ook: die boere is nie meer ongeletterde mense soos in die ou dae nie. Die meeste van die vooruitstrewende boere het deesdae ’n landbougraad of ’n ander graad of diploma. Maar waaroor het ons nou weer gepraat? O ja, die liefde en daardie Wouter-kêrel . . .”
“Asseblief, moet dit liewer nie sê nie, tante, want ek voel ek gaan my nou liederlik vererg,” waarsku Lecia met ’n gevaarlike uitdrukking in haar oë, ’n uitdrukking wat tant Emma maar alte goed ken. “Laat ons mekaar baie goed verstaan, tante,” gaan sy nadruklik voort. “Ek gaan nie Blouberg toe om ’n man te soek nie. Ek gaan uitsluitlik omdat tante my soos ’n tiran dwing om te gaan. Ek gee ook nie ’n flenter om vir die erfenis wat oom Isak aan my nagelaat het nie. Die hele affêre steek my dwars in die krop. Nou sit ek met al die ellende opgesaal, en tante sit heerlik hier in die beskawing. Dis genoeg om ’n . . . ’n . . . oorval van te kry.”
“Jy voel maar net moeg en honger, Leciatjie, daarom dat jy so uit jou humeur is,” paai tant Emma sag. Sy kan sien dat die meisie nou billik ontstoke is. “Jy het jou vandag natuurlik weer kapot gesukkel met ander mense se onnosele kinders. Kom eet liewer, my hartjie, anders vat jou humeur netnou regtig vlam. Jy sal nog sien dat die lewe op die plaas glad nie so onaangenaam is soos wat dit klink nie. Maandag gaan reël ek alles met die prokureur, en oor vyf weke gaan oortuig jy jouself dat jou tante reg was toe sy jou gedwing het om jou erfenis in ontvangs te neem.”
“Laat ons liewer gaan eet, tante,” is egter al antwoord wat tant Emma van die jong meisie kry. Maar sy laat haar glad nie deur Lecia se opstandigheid van stryk bring nie. Die helfte van Blouberg behoort aan oorlede Gerrit se nageslag, en sy sal sorg dat reg en geregtigheid hierdie keer geskied. Laat Lecia maar beswaar maak soveel as wat sy wil. Sy wat Emma Reyneke is, is baie ouer en weet beter wat goed is vir die kind.
Soos al die Branks van Blouberg is ook Lecia ’n koppige en eiewyse mens. Maar haar kinders sal haar nie eendag bedank omdat sy hul regmatige erfenis van die hand gewys het nie, redeneer Emma met haarself. Dis ’n erfenis wat aan die Branks behoort, nie aan die Fouchés nie.
Ja-nee, laat sy maar ’n kabaal opskop, dink tant Emma terwyl hulle na die eetkamer toe stap. Ek sal persoonlik toesien dat sy oor vyf weke sak en pak Blouberg toe verhuis. Daardie plaas behoort aan haar nageslag, al hou sy haar so steeks soos ’n lui donkie. Buitendien, daar moet altyd ’n Brank op Blouberg wees.
Aan tafel is Lecia stil. Haar moed sak sommer tot in haar skoene as sy net aan Blouberg dink. Sy sal mos nooit daar tussen die berge aard nie! Wat makeer tant Emma tog om haar na daardie plek toe te dwing? En wat sal gebeur as Wouter straks nog ongetroud is? Sy kan mos nie saam met die man onder een dak woon nie! Sy wonder of tant Emma al ooit daaraan gedink het. Sy is op die oomblik so behep met Blouberg dat sy stellig nog nooit aan die moontlikheid gedink het dat die man dalk nog ongetroud is nie . . .
“Waarom frons jy so, kind?” vra tant Emma meteens. “So ’n gefrons sal maak dat jy voor jou tyd plooie tussen jou wenkbroue kry. Watter onaangename gedagtes broei nou weer in jou kop, my hartjie?”
“O, niks vreesliks nie, net die feit dat ek nie saam met Wouter in een huis sal kan bly as hy nog ongetroud is nie. Maar aan so ’n moontlikheid het tante natuurlik nie gedink nie. Tante is sommer dadelik gereed om my vir die honde te gooi. Wat gaan die mense daarvan sê as ek saam met ’n ongetroude man onder een dak woon?”
“My liewe kind, as daardie Wouter Fouché vier en dertig jaar oud is, behoort hy al pa te wees. Toe jou pa so oud was –”
“Toemaar, tante, ons praat nie nou van my pappie nie, ons praat nou van Wouter Fouché,” knip sy tant Emma se relaas onverskillig kort. “Veronderstel hy is ongetroud, wat dan?”
“Ja, dit sal nogal ’n lollery afgee,” erken die ouer vrou halfhartig. “Ek sal hierdie saak Maandag met die prokureur moet bespreek, want ek gaan jou baie beslis nie vir die honde gooi nie, my kind. As daardie ou skelm Isak dink hy gaan jou naam op so ’n manier deur die modder sleep, ken hy nog nie vir Emma Reyneke nie. As dit sy plan was, sal ek . . . Ek sal sy ou plaas gaan afbrand!”
Lecia knip haar oë en kyk tant Emma verbaas aan. Is dit dieselfde tant Emma wat sy al die jare ken wat so praat, of ken sy die ou tante nog nie goed genoeg nie?
“Gits, ek het nooit geweet tante kan so kwaai wees nie,” sê sy en begin onderlangs giggel. “Ek het gedink dis eienskappe wat ’n mens net by die Branks van Blouberg kry. Is tante seker daar is geen Brank-bloed in tante se are nie?”
“Nee, my hartjie, daar is geen Brank-bloed in my are nie, maar jy ken jou ou tante nog nie as sy kwaad is nie. In elk geval, moenie jou oor daardie Fouché bekommer nie. Ek sal Maandag alles met die prokureur reël. Ou Isak moenie vir hom verbeel ons is sonder beginsels net omdat ons in Johannesburg woon nie. Ons is eerbare en respektabele mense . . .”
“Presies, net totdat ons ons humeur verloor, nè, tante?” herinner sy die ouer vrou aan haar eie woorde.
Tant Emma glimlag geamuseer, en daar kom ’n ondeunde uitdrukking in haar oë. Dit sal beslis nie Lecia wees as sy jou nie in eie munt terugbetaal nie. Ja-nee, die kind is nie op haar mond geval nie. Dis ’n goeie ding, want sy sal haar op Blouberg moet laat geld, anders sal al wat asemhaal later op haar kop sit.
Die hele naweek praat Lecia en tant Emma nie weer ’n woord oor Blouberg en Wouter Fouché nie. Tog dwaal die meisie se gedagtes telkens terug na haar onverwagte erfenis, die testamentêre bepaling en die feit dat sy haar geboortestad en vriende moontlik eersdaags sal moet verlaat. Dit is vir haar beslis nie ’n aangename gedagte nie, maar sy het al geleer dat die lewe nie altyd aangenaam is nie.