Читать книгу Die bruid van Blouberg - Susanna M Lingua - Страница 4

2

Оглавление

Soos tant Emma belowe het, het sy al Lecia se sake in verband met haar vertrek Blouberg toe bevredigend in orde gebring. Nadat sy die prokureur daarop gewys het dat Lecia onmoontlik op Blouberg kan gaan woon as Wouter nog ongetroud is, het die prokureur met Wouter in verbinding getree en kon hy tant Emma gerusstel met die nuus dat daar ’n bejaarde huishoudster in Wouter se diens is.

Hierna snel die weke vir Lecia gans te gou verby. Haar naderende vertrek begin al swaarder op haar gemoed rus. Sy kan maar nie begryp waarom sy nou juis op die plaas moet gaan woon nie. Haar lewe is so rustig en egalig hier saam met die liewe tant Emma, maar wat wag vir haar op Blouberg? Sal sy haar ooit by die plaaslewe kan aanpas? En hoe ’n soort man is Wouter? Sy hoop hy is nie so vermetel en agterbaks soos daardie ou skelm van ’n oom Isak nie, want dan gaan die vonke sommer baie gou op Blouberg spat.

Maar die tyd staan nie stil nie, en eindelik het die uur van vertrek vir Lecia aangebreek. Tant Emma is behoorlik tot trane bewoë toe sy die meisie vir oulaas groet. Maar na ’n reeks tranerige vermanings van die besorgde ou tante droog albei hul trane af en kan Lecia eindelik vertrek.

Op Aliwal-Noord oornag sy en val weer vroeg die volgende oggend in die pad. Sy het die afstand van Aliwal-Noord af mooi uitgewerk en gereken dat sy teen twee-uur op Blouberg behoort te wees.

Die pad is lank en vervelig. Die son is skroeiend warm, en Lecia voel moeg en ongeduldig. Die motor se horlosie wys dat dit al byna twee-uur is. Sy wonder wrewelrig hoeveel hekke sy vandag nog oop en toe moet maak. Dit lyk vir haar of daar geen einde is aan al die hekke nie, want sedert sy van die snelweg afgedraai het, moet sy telkens by ’n hek stilhou.

By die laaste vulstasie, op ’n verlate, dooierige dorpie, het die petroljoggie haar verseker dat Blouberg net agter die bult lê. Maar sy kan byna sweer dat sy al tien bulte oor is, en nog steeds sien sy geen teken van Blouberg nie.

Vervlaks, al weer ’n ellendige hek! dink sy wrewelrig toe sy om nog ’n draai gaan. Sy skop die voertuig se remme so gevaarlik vas dat ’n yslike stofwolk agter die geel sportmotor opslaan. Die hek is met ’n stuk bloudraad vasgewoel, en Lecia sukkel haar oor ’n mik om die draad los te kry. Sy kry warm en haar humeur word nou net so warm, maar na ’n groot gesukkel is die hek eindelik oop en kan sy deurry.

Nou sukkel sy weer om die draad vasgedraai te kry.

Verduiwels, dat ’n mens so moet sukkel, dink sy, nou behoorlik ontstoke. Ek los die ellendige ding sommer oop . . . Verbeel jou, ’n stuk draad van alle dinge! Maar ’n swak boer wat sy hek met ’n stuk draad vasdraai.

Sy klim in die motor, klap die deur ongeduldig toe en trek weg.

Sowaar, storm haar gedagtes voort, as ek nog een hek teëkom, kry ek ’n oorval. Dis warm en dit was malligheid om haar ore aan tant Emma uit te leen. Al die vermoeienis van die lang reis is sowaar nie die helfte van Blouberg werd nie.

Sy trap die brandstofpedaal diep weg en die geel vuurwa seil teen die lang bult uit. O, dankie tog, ek is byna bo, dink sy verlig. Ek wonder nou net wat agter hierdie bult lê. Ek hoop van harte daar is nie nog ’n bult nie, want ek voel al klaar of ek kan slange vang as ek net aan ’n ellendige bult en ’n hek dink!

’n Lang stofstreep lê agter haar in die pad, en eindelik is sy op die kruin van die bult. Maar die volgende oomblik staar sy vas teen ’n reuseberg wat ’n paar kilometer vorentoe die bloutes inskiet. Lecia se moed sak sommer dadelik tot laagwatermerk.

O, giftig, en daardie berg? dink sy moedeloos terwyl die voertuig met die reguit pad agter die bult afdaal. As ek daardie berg ook nog moet oorsteek, kry ek sowaar die piep. Genade, dis net berge, bulte en hekke.

Sy verloor byna haar humeur van skone misnoeë toe sy weer eens op ’n hek afkom. Sy weet nie of sy moet skreeu of huil of sommer albei moet doen nie. Sy voel op die oomblik heeltemal in staat tot albei.

Nee, kyk, dis nou eenmaal te erg. Ek hoop tant Emma kry so ’n kramp dat sy nie kan sit, staan of lê nie, vaar sy ontstoke in haar gedagtes uit terwyl sy uitklim en na die hek toe stap. Ek moes haar na haar peetjie gestuur het met Blouberg en al. En daardie agterbakse oom Isak . . .

Haar blik val meteens op ’n staalplaat wat aan die hek vasgeheg is en waarop daar in groot, swart letters geskryf staan: Blouberg.

O, dankie tog, dink sy verlig, eindelik het ek my bestemming bereik. Maar laat ek sien wat staan nog alles op die plaat geskryf . . . Blouberg – Maak asseblief die hek toe . . . So ’n ou hekseketel! vaar sy nou weer ontstoke teen wyle oom Isak uit. ’n Mens sou sê ek het nog nie vandag genoeg hekke toegemaak nie! O, dis sy geluk dat hy dood is, anders het ek hom vandag eiehandig van die gras gemaak . . . Ja, en nog ’n geluk vir hom is dat sy ou hek maklik oopmaak.

Die hek neem gelukkig nie veel tyd in beslag nie, en na ’n rukkie is sy weer onderweg na haar bestemming. Sy dink nog aan wyle oom Isak se skelm gekonkel wat haar pa destyds van sy erfdeel beroof het, toe val haar blik meteens op ’n groot wit gewelhuis wat aan die voet van die berg pryk, en die nare oom Isak is voorlopig vergete.

Sy nader die rivier wat sy as kind laas gesien het en ry oor die lae bruggie. Die pad kronkel tussen bosse en bome deur, maar eindelik nader sy die woonhuis. Met ’n behendige draai hou sy onder ’n groot seringboom stil en kyk belangstellend na die wêreld om haar.

Dis eienaardig stil, flits dit deur haar gedagtes. Is hier dan geen mense nie?

Die volgende oomblik kom twee bulhonde met ’n vaart om die huis se hoek en storm reg op haar motor af. Die honde grom onaards, en Lecia vererg haar op die plek vir die twee lelike diere met hul gevaarlike uitstaantande wat haar nou doelbewus in die motor vasgekeer hou.

“Voertsek, julle liederlike goed!” snou sy die grommende diere toe. “Het julle nog nooit ’n mens of ’n motor gesien nie, mensvretergediertes?”

Sy hoor meteens hoe iemand vir die honde fluit, en na ’n rukkie sien sy ’n man tydsaam om die hoek van die huis aangestap kom asof hy die wêreld se tyd tot sy beskikking het. Hy het ’n paar yslike stewels aan wat lyk asof hulle gans te swaar vir hom is en op sy kop pryk ’n olierige vilthoed wat lankal op die ashoop moes gelê het. Sy vererg haar nog meer omdat die vent so tydsaam is, kompleet asof hy haar uittart, haar geduld op die proef stel . . . en laasgenoemde is sy lankal kwyt, by die voorlaaste hek al.

“Klim maar uit, juffrou, die honde sal jou nie byt nie,” hoor sy hom half geamuseer sê, en dit laat haar bloeddruk nog ’n paar grade styg. Tog kan sy nie help om die man se mooi, diep stem op te merk nie.

“En wie de drommel is jy?” vra sy met ’n frons. Haar blik dwaal weer na sy gevaarlike stewels, en sy gee hom nie kans om te antwoord nie. Hy kan in elk geval net ’n plaaswerker wees. “Hm, met sulke vreeslike stewels aan is dit geen wonder dat dit jou ’n ewigheid geneem het om tot hier te vorder nie,” sê sy bitsig. “Neem asseblief daardie afskuwelike ongediertes weg. Netnou besluit hulle dat my motor se buitebande goed genoeg is vir ’n maaltyd. En sê asseblief vir meneer Fouché dat juffrou Brank van Johannesburg hier is. Is meneer Fouché tuis?”

Die man begin meteens saggies lag en kyk die ontstoke meisie met sy ondeunde blou oë aan.

“O, hy is tuis, juffrou Brank,” antwoord hy glimlaggend. “Sy vreeslike stewels het hom darem gou genoeg by jou motor gebring om vir jou die deur oop te maak.”

“Wat!” roep sy verbaas uit. “Moenie vir my sê jý is Wouter Fouché nie. Ek glo dit nie. Haal jou hoed af sodat ek kan sien of jy die waarheid praat.”

’n Glimlag pluk aan die een hoek van Wouter se mond toe hy beleef sy olierige hoed afhaal. Lecia snak half na asem van verbasing.

“Sowaar,” kry sy dit verslae uit, “jy ís Wouter. Ek herken jou nou aan jou blou oë en donkerbruin krulhare. O gonna, en al die tyd verkeer ek onder die indruk dat jy een van Blouberg se plaaswerkers is. Maar dis jou eie skuld dat ’n mens jou vir ’n werknemer aansien. Waarom jy sulke nare velskoene en so ’n olierige hoed dra, gaan my verstand te bowe.”

“Lecia,” sê hy met ’n geamuseerde glimlag, “jy is sowaar nog dieselfde klein vuurvreter van negentien jaar gelede. Gits, jy het my daardie dag ’n vreeslike lewe gely. Ek hoop jy het dit ontgroei, meisiekind, anders gaan ek een van die dae grys wees. Klim uit, die honde sal jou nie byt nie. Hulle het nogal groot respek vir ’n mooi meisie.”

Wouter hou die motordeur vir haar oop terwyl sy styf en stram uitklim. Toe sy langs hom staan, bekyk hy haar belangstellend van kop tot tone en vervolg bedaard: “Maggies, maar jy het ’n oulike meisie geword. Dagsê, niggie.”

Hulle groet mekaar met die hand. Lecia se fyn handjie word behoorlik toegevou in sy groot hand met die lang vingers.

“Middag, Wouter,” glimlag sy goedig. “Jong, jy moenie met my spot nie, ek waarsku jou. Al jul ou hekke, bulte en berge het my senuwees uitgerafel en my geduld is op. Ek voel moeg, vuil en sommer uitgeteer van die honger. Ek hoop julle het darem vir ’n mens iets om te eet. Weet jy, ek het vanoggend op Aliwal-Noord laas geëet.” Sy kyk na haar polshorlosie. “Dis sowaar al byna halfdrie. Geen wonder ek vergaan van die honger nie.”

“Kom binne, tant Elsa sal vir jou iets te ete voorberei. Intussen kan ons ’n bietjie gesels,” stel Wouter bedaard voor. Hy merk haar vraende blik en verduidelik: “Mevrou Muller is al jare lank die huishoudster hier op Blouberg, maar ons noem haar sommer tant Elsa. Sy is al betreklik bejaard en nog van die ouderwetse soort wat Johannesburg as ’n hedendaagse Sodom en Gomorra beskou. Volgens haar broei al wat sleg en onheilig is in Johannesburg uit. Dis glo ’n nes van moordenaars, rowers en kwaaddoeners.”

Hulle stap die huis binne. Wouter neem haar na ’n netjiese sitkamer toe en albei neem op die rusbank plaas. Lecia kyk hom met ’n glimlag aan en sê met ondeunde pret in haar stem: “Jou vrome tant Elsa beskou my dus as ’n Sodomiet.”

“O, dis niks om jou oor te verontrus nie,” antwoord hy gerusstellend. “Tant Elsa ken die Branks van Blouberg al baie jare.”

“En daarmee bedoel jy . . . ?”

“Dat ’n mens enigiets van hulle kan verwag,” sê hy goedig, kompleet asof dit ’n alombekende feit is dat die Branks van Blouberg anders as ander mense is. “Terloops, ek het vir jou ’n musiekkamer laat inrig, die vertrek net langs jou slaapkamer. Maar laat ek eers vir tant Elsa gaan sê om vir jou iets te ete te maak.”

Hy kom sonder meer orent en verlaat die vertrek. Lecia kyk sy lang gestalte met die breë skouers krities agterna – asof sy hom opsom, meet en weeg. Sy ken mans, en sy het nog altyd daarin geslaag om hulle na haar pype te laat dans. Maar hierdie man, hierdie plaasjapie met die groot, uitgetrapte velskoene en olierige hoed, is vir haar ’n vreemde verskynsel. Sy afskuwelike hoed en stewels pas glad nie by sy gladgeskeerde gesig en skoon, netjiese kakiehemp en kakielangbroek nie.

So, dan is dít nou Wouter Fouché, gesels sy in haar gedagtes met haarself. Hy het nogal ’n groot man geword sedert ek hom laas gesien het . . . Hy is so lank dat hy net-net by die deur kan uitgaan, en hy het omtrent ’n paar breë skouers.

Haar blik dwaal stadig deur die ruim vertrek en neem elke meubelstuk, familieportret en ornament waar. Hy is nogal nie onaardig nie, met sy eweredige gelaatstrekke, sterk ken en karaktervolle mond, kuier haar gedagtes nog steeds by Wouter. Jammer dat hy ’n plaasjapie is en moontlik nog ongeletterd daarby. In elk geval, ek gaan nie toelaat dat die man se voorkoms my beïndruk nie. Hy lyk nou wel vriendelik en gemoedelik, maar daar is ’n trek om sy mond en in sy oë wat duidelik toon dat hy ’n duiwel kan wees as hy kwaad is . . . En hy lyk erg agterlik met daardie onooglike stewels en olierige hoed. Arme man, weet natuurlik nie van beter nie.

Haar blik dwaal na die rooibruin mat op die vloer. Wel, hulle lewe darem nie agterlik nie en . . . hm, nogal elektrisiteit ook. Hierdie vertrek se meubels is nou wel nie luuks nie, maar dit is skaflik. Net daardie ou klomp familieportrette val nie in haar smaak nie.

Haar blik val op Wouter se hoed wat langs die rusbank op die vloer lê. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om die hoed deur die venster te gooi. As die honde nie te kieskeurig is nie, kan hulle ’n maaltyd daarvan maak en hoef sy nie langer teen so ’n olierige hooftooisel vas te kyk nie.

Sy onderdruk die gedagte, en op hierdie oomblik kom Wouter en ’n lang, skraal, bejaarde vrou die sitkamer binne.

“Tant Elsa, dit is nou Lecia Brank, wyle oom Isak se broerskind,” sê Wouter. “En dit is tant Elsa, ons huishoudster, Lecia.”

“Aangename kennismaking, tant Elsa,” sê Lecia vriendelik en groet die ouer vrou met die hand.

“Middag, kind,” sê die vrou met ’n effens temerige stem. “Ek is bly jy het darem veilig hier aangekom. Ek sê net vanmôre nog vir Wouter, dis darem vreeslik gevaarlik vir ’n meisie om alleen van Johannesburg af met ’n motor te ry. ’n Mens lees vandag van sulke vreeslike dinge in die koerante. Ag, kind, ons is bly dat jy darem nog lewe en als. Ek gaan nou dadelik vir jou kos maak en sommer ook vir Arrie roep om jou tasse na jou kamer toe te bring . . . Nou ja, ek sal jou laat roep sodra die kos op die tafel is, Lissie . . . Lesie . . .”

“Lecia, tante,” help Wouter haar vriendelik reg.

“Ag, Wouter, ek sal nooit daardie vreemde naam onthou nie,” kla die ou tannie. “Nee, ek sal die kind maar Lesie noem . . .Nou ja, dan loop ek maar. Ek stuur nou-nou vir julle koffie.”

Lecia kyk die ouer vrou met ’n geamuseerde glimlaggie agterna. “Nogal ’n gawe ou tannie, al is sy van die ouderwetse soort,” sê sy. “Ek weet nie waarom dit so is nie, maar ’n mens voel vir haar jammer. Iets in haar wek die indruk dat die lewe baie swaar op haar skouers druk.”

“Dis waar,” beaam Wouter, “maar sy het ’n hart van goud. Almal wat haar ken, is lief vir haar. Maar onthou, hierdie huis is nou ook jóú eiendom en tuiste. As jy iets wil verander, staan dit jou vry om dinge volgens jou smaak in te rig. In elk geval, daar is ’n ander sakie wat ek met jou wil bespreek. Dit staan in verband met oom Isak se testament, en ek vrees dit raak jou in ’n groot mate –”

“Natuurlik nog meer van sy onsinnige, onmoontlike bepalings,” val sy Wouter onverskillig in die rede.

Laasgenoemde staar haar openlik verbaas aan. “Ek begryp nou glad nie wat jy bedoel nie,” sê hy. “Wat is so onsinnig en onmoontlik aan oom Isak se testament?”

Lecia kan sweer die man yl, of anders hou hy hom opsetlik onnosel, en met onnosele mense het sy geen geduld nie.

“Jy vra nog!” roep sy met ’n ergerlike frons uit. “Wat het die ou satanskind . . . e . . . ek bedoel, die ou man tog besiel om my mede-erfgenaam van Blouberg te maak en my op so ’n subtiele wyse na hierdie verlate uithoek te dwing? Weet jy, ek wou die prokureur met oom Isak se lawwe testament en al na sy peetjie stuur, maar tant Emma het my gekeer. Ja, dis net aan haar te danke dat ek vandag hier is. Ek het my vandag al bitterlik verwens omdat ek my aan haar gesteur het, en nou kom vertel jy my dat ek nog lank nie die einde van die ou heiden se verspotte testamentêre bepalings gehoor het nie. Was die ou kinds, of was hy stapelgek?”

Dis vir Wouter baie duidelik dat Lecia nou die herrie in is, daarom bly hy geduldig. “Oom Isak het redes gehad waarom hy sy testament so . . . e . . . ietwat buitengewoon opgestel het, Lecia. Kyk, ’n meisie kan nie die helfte van ’n pronkplaas soos Blouberg erf en ’n stadsjapie bly nie. Die rede waarom jy jou hier moet kom vestig, is om iets van die boerdery en die lewe van ’n boervrou te leer.”

“Genugtig, moet ek leer om te boer!” Dis eerder ’n uitroep as ’n vraag. Die verbystering in haar stem ontgaan Wouter nie.

Haar geskokte gesiggie laat hom stilweg glimlag, maar hy kry dit tog reg om bedaard te antwoord.

“Ja, ek vrees jy sal moet leer om te boer. Jy moet goed begryp, as iets met my gebeur, sal dit moeilik met jou gaan indien jy geen benul van die boerdery het nie. En moenie dink jy mag verkoop nie. Die testament bepaal dat nie een van ons ’n sentimeter van Blouberg mag verkoop nie. Die plaas mag nooit verkoop word nie. As jy na ’n jaar hier op Blouberg nog voel dat jy nooit hier sal aard nie, mag ek jou deel koop – maar nie voordat ’n volle jaar verstryk het nie. Intussen moet ek jou iets van die boerdery leer, en tant Elsa moet jou leer om ’n uitmuntende boervrou te wees. Dan is daar nog ’n klousule in die testament wat jou ook raak . . .”

“Wat, nóg ’n klousule?” Lecia stik byna van ergernis, maar sy ruk haar gou reg. “Maar verduiwels, uit hoeveel volumes bestaan daardie ou satanskind se ellendige testament? Ek glo glad nie hy was by sy volle verstand nie. Maar gaan voort, Wouter, ek kan maar net sowel nou die ergste hoor. Ek voel al klaar of ek kan slange vang, moet dus nie probeer om my gevoelens te spaar nie.”

Wouter kyk haar geamuseer aan en lag saggies. Dis hoe hy die Branks van Blouberg ken – kortgebaker en uitgesproke. Ja, as hulle eers kwaad is, stuit hulle nie vir die duiwel nie, en elkeen wat in die gedrang kom, moet dit ontgeld.

“Ek vrees jy gaan nou voel of jy slange, tiers en leeus kan vang, meisietjie,” sê hy met ’n glimlag. “Want oom Isak het my nie net as eksekuteur van die boedel aangestel nie; hy het my ook aangestel om ’n oog oor jou liefdesake te hou. Solank jy op Blouberg woon, mag jy nie met ’n man trou wat nie my goedkeuring wegdra nie. Dit is nou om jou erfenis teen fortuinsoekers te beskerm.”

Hierdie aankondiging van Wouter laat die trotse en selfstandige Lecia byna ’n oorval kry. Nog nooit, sedert sy mondig geword het, het iemand sy neus in haar sake gesteek nie. Waar kom Wouter vandaan om dit te wil doen?

Sy kyk hom grimmig aan.

“Jý vir my ’n lewensmaat kies! Jy kan na jou peetjie vlieg met oom Isak en sy simpel testament en al. Wie en wat presies dink julle is ek? Dink julle ek is onnosel of vertraag? Ek het nog nooit in my lewe van so ’n sotlike affêre gehoor nie. Ek is vier en twintig, en nou het ek ewe skielik hulp nodig om vir my ’n lewensmaat te kies. Nou ja, laat ek jou dit vertel, Wouter: ek het nie jou of enigiemand anders se hulp nodig om vir my ’n lewensmaat te kies nie. Verstaan jy? Ek laat my ook nie deur jou of enig­iemand anders regeer nie. Julle kan almal na die duiwel gaan met Blouberg en al. Daardie ou satanskind van ’n oom Isak is natuurlik dood van al sy bemoeisiekheid. Hy kon destyds nie sy sin met my pa kry nie, toe dink hy dit sal maklik wees om sy sin met my te kry. Maar laat ek jou sommer nou reghelp: oom Isak gaan glad nie sy sin met my kry nie – nie nou nie, ook nie môre nie . . .nooit nie. Julle kan elkeen met ’n enkelkaartjie maan toe vlieg. Net môre gaan ek terug Johannesburg toe.”

“Jy kan dit nie doen nie –” begin Wouter bedaard, maar Lecia gee hom nie kans om meer te sê nie.

“Kan ek nie?” val sy hom woedend in die rede. Haar oë blits soos twee groen vlamme. “Wie gaan my belet? Jy?” Sy bekyk hom grimmig van kop tot tone. “Jy is net so agterbaks en skynheilig soos wat daardie skelm oom Isak was. ’n Mens kan sommer sien hy het jou grootgemaak.”

“Waarom sê jy ek is skynheilig en agterbaks, Lecia?” vra Wouter kalm terwyl sy blik ondersoekend op haar rus.

“Jy vra nog!” sê sy bitter. “As jy nie skynheilig en agterbaks was nie, sou jy die prokureur in Johannesburg opdrag gegee het om my vooraf van al hierdie sotlike klousules in oom Isak se testament te verwittig, maar jy het dit opsetlik verswyg. Jy het gewag totdat ek eers hier is, en nou vertel jy my dit.”

“Jy het gelyk,” antwoord hy kalm, “ek het dit opsetlik ver­swyg omdat ek dit persoonlik vir jou wou sê. Dis ’n persoonlike saak, Lecia, maar dis darem jou eie skuld ook dat jy nie eerder daaroor ingelig is nie, weet jy? As jy vir die prokureur gevra het om die testament vir jou te lees, sou hy dit gedoen het. Oom Isak was ook nie skynheilig en agterbaks nie, meisietjie. Hy was ’n trotse en ’n baie reguit man, skatryk en gewild in ons gemeenskap. Almal het hoë agting vir hom gehad.”

“En dit het hom natuurlik verwaand gemaak,” kap sy onthuts terug. “Daarom dat hy hom die reg kon toe-eien om my lewe te wil regeer. Maar ek laat my van niemand voorskryf nie, Wouter. Ek is nie ryk nie, maar sonder Blouberg se opbrengs sal ek ook nie van honger omkom nie. My verdienste as musiek­onderwyseres voorsien in al my behoeftes . . .”

Toe die huishulp met twee koppies koffie inkom, staak hulle voorlopig die gesprek. Katrien verkyk haar behoorlik aan die moderne stadsjuffrou in die deftige, liggroen pakkie wat nou die vrou van Blouberg is.

Die ou huishulp het haar bedenkinge oor Lecia se vaardigheid as boervrou, maar sy sê beleef: “Die oumevrou sê die juffrou kan maar kom eet sodra die juffrou klaar koffie gedrink het. Arrie het die juffrou se tasse kamer toe gevat. Moet ek dit vir die juffrou gaan uitpak?”

“Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie,” antwoord Lecia terwyl sy haar koffie roer.

“Jy kan maar die juffrou se klere uitpak en in haar kas hang,” tree Wouter onverwags tussenbeide. “Die juffrou is moeg, sy het baie ver gery.”

Lecia werp hom ’n onthutste blik toe. Dis op die punt van haar tong om vir hom te sê hy moet hom by sy eie sake bepaal, maar Katrien se teenwoordigheid laat haar voorlopig swyg.

Sy wag egter net totdat die huishulp die vertrek verlaat het, toe draai sy na hom en sê openlik vererg: “Jy matig jou gans te veel aan, Wouter. Wat gee jou die reg om die huishulp aan te sê om my tasse uit te pak? Ek het jou gesê ek gaan môre terug Johannesburg toe, en ek het dit bedoel.”

“As jy môre teruggaan, sal jy die eerste lafhartige Brank wees wat nog ooit ’n voet op Blouberg gesit het,” antwoord hy onverstoord. “En nog ’n ding: as jy môre teruggaan Johannesburg toe, verbeur jy jou erfenis, maar as jy ’n jaar lank op Blouberg vertoef en jou aan die testamentêre bepalings onderwerp, moet ek jou voor jou vertrek ’n groot bedrag as koopsom vir jou deel van Blouberg betaal. Daarna sal jy vry wees om te doen wat jy wil en te trou met wie jy wil. As jy reeds verloof is . . .”

“Moenie laf wees nie,” snou sy hom vererg toe. “Jy kan mos sien ek dra nie ’n verloofring nie. Blykbaar weet jy nie dat ek twee jaar lank oorsee was en eers nege maande gelede teruggekom het nie. Daar was nog geen tyd om ’n verloofde aan te skaf nie . . . nie dat ek weet wat ek met ’n man moet maak nie. My tant Emma sê die goed is net ’n ergernis en ’n oorlas, en ’n vrou is baie beter daaraan toe sonder ’n man. En laat ek jou dit vertel – ek is geneig om met haar saam te stem.”

Lecia voel nog steeds die hoenders in vir Wouter. Dit is vir haar nou baie duidelik dat hy net so vermetel en heerssugtig is soos wyle oom Isak, maar as hy dink hy gaan op haar kop sit, misgis hy hom. Sy laat nie mense toe om op haar kop te sit nie, net vir tant Emma . . . soms.

Wouter verras haar egter toe hy ewe ongeërg sê: “Ek en oom Isak het darem gereeld koerant gelees. Ons het geweet dat jou pa ’n gevierde advokaat was en dat jy twee jaar in Rome musiek gestudeer het. Trouens, ons het elke saak gevolg waarin jou pa opgetree het, dus het ons ook geweet dat hy nooit ’n saak verloor het nie. Omdat julle in hoë kringe beweeg het, was daar dikwels ’n foto of ’n berig in die koerant oor jul doen en late. Gevolglik was ons altyd op die hoogte van jul bewegings.”

“Ek het nie geweet julle mense lees ook koerant nie,” sê sy snipperig. Sy kyk minagtend na sy groot, uitgetrapte velskoene. Wouter se blik volg die sydelingse beweging van haar oë. Hy glimlag stilweg en stoot sy voete opsetlik ’n bietjie vorentoe.

“Ja, ons lees die koerant nogal gereeld,” glimlag hy geamuseer. “Ek kan jou selfs sê wat jou woorde in die hof was nadat jy daardie motorfietsryer raak gery het. ‘Edelagbare,’ het jy gesê, ‘ek laat nie ’n ellendige motorfietsryer my uitdaag nie. En as hy nog boonop so onnosel is om beheer oor sy motorfiets te verloor, is dit net sy eie skuld dat hy met ’n gebreekte been in die hospitaal beland het.’ Jou pa het jou boete betaal, en oom Isak het daar en dan besluit dat jy ’n Brank so na sy hart is. Want soos al die Branks van Blouberg is jy nie ’n lafaard nie. Jy is nie bang vir ’n uitdaging nie.”

Lecia gluur hom net aan en reageer nie op die openlike kompliment nie.

“Maar as jy jou koffie klaar gedrink het, kan jy gerus eers gaan eet,” vervolg Wouter doodluiters. “Ons sal weer later gesels. Kom, ek sal jou gaan wys waar die eetkamer is. Daarna sal jy my moet verskoon. Ek moet gaan kyk wat Arrie by die stalle aanvang. Hy is een van daardie mense wat lief is om lyf weg te steek.”

Geselsend stap hulle na die eetkamer – altans, Wouter gesels en Lecia luister net na die klank van sy diep stem. Hy gesels nogal verbasend beskaaf vir ’n ongeletterde plaasjapie. Sy hemp en broek is ook netjies en skoon, maar daardie hoed en skoene darem . . .

Sy sug. Hy was bepaald nog nooit by ’n ordentlike mansklerewinkel nie, flits dit deur haar gedagtes. Koop natuurlik sy klere by die een of ander koöperasie waar hy oor die prys kan kibbel en dit spotgoedkoop kan kry . . .

Terwyl Lecia ’n maal van gebraaide vleis en eiers nuttig, gesels tant Elsa onderhoudend met haar oor die bedrywighede op die plaas. Sy weet amper nie eens waarvan die ou tante praat nie, maar sy probeer nietemin om met aandag te luister en beleef op die ouer vrou se vrae te antwoord. Na ’n rukkie maak die ou tante verskoning en gaan kombuis toe.

Dis waar, tant Elsa hou sommer baie van Lecia Brank, al kom sy van daardie Sodom en Gomorra af waar die sonde en kwaad vir jou om elke hoek loer. Sy is ’n uitsonderlike mooi meisie, al is sy so klein en fyn. Tant Elsa ken die Branks van Blouberg as groot, fris mense, daarom verbaas dit haar dat Lecia so fyntjies is.

Waar Lecia nou alleen aan die tafel sit, bepeins sy haar gesprek met Wouter. Sy vererg haar opnuut toe sy aan wyle oom Isak se testament dink. Die vermetelheid daarvan om Wouter as ’n soort voog oor haar aan te stel, jaag haar bloeddruk weer dadelik op. Nee, net môre gee sy pad van Blouberg af . . . Toe val dit haar by dat Wouter gesê het sy sal die eerste lafhartige Brank wees as sy môre teruggaan Johannesburg toe.

Sy bepeins hierdie stelling baie ernstig. Niemand het haar nog ooit van lafhartigheid beskuldig nie, en sy gaan nie toelaat dat Wouter haar in haar eer krenk deur haar van so iets te be­skuldig nie. Nee, sy is nie lafhartig nie, en as Wouter net moet toesien dat sy die regte lewensmaat kies, sal sy en hy nie bots nie. Sy is volkome oortuig daarvan dat sy nie binne die volgende jaar in die huwelik sal tree nie. Sy gaan hierdie plaasjapie nie die geleentheid gee om agter haar rug vir haar te lag nie. Sy dink nog steeds oom Isak was hopeloos van sy verstand af toe hy daardie ellendige testament opgestel het, maar sy laat haar ook nie as ’n lafaard bestempel nie. Sy laat haar ook nie uitdaag nie – nie eens deur ’n ou skelm soos wyle oom Isak nie. Sy sal dus ’n jaar lank op Blouberg vertoef en leer wat daar te leer is. Daarna sal sy haar deel van die plaas aan Wouter verkoop en teruggaan Johannesburg toe. Hy moet net nie verwag dat sy ook ’n kakiehemp, kakielangbroek en ’n paar velskoene soos syne moet dra nie, want sy weier beslis om dit te doen.

Nadat sy hierdie besluit geneem het, gaan vra Lecia vir tant Elsa om haar te wys waar haar kamer en die badkamer is. Die ouer vrou is baie vriendelik en behulpsaam en wys haar ook waar haar nuwe musiekkamer is.

Nadat Lecia gebad en ’n vrolike somerrokkie aangetrek het, stap sy buitentoe om Blouberg behoorlik in oënskou te neem. Sy hoop net Wouter se aaklige brakke storm nie weer op haar af nie. Die goed is lelik genoeg om ’n mens nagmerries te gee.

Agter die huis toring die reuseberg die bloutes in. Tussen die huis en die berg lê die vrugteboord en dan die groentetuin wat met ogiesdraad omhein is. Aan die voet van die berg wei ’n spierwit bokram, en oor die werf kuier ’n verskeidenheid pluimvee en ’n paar speenvarkies. Lecia verkyk haar aan die diere wat so vry op die werf rondloop.

“En as jy jou so staan en verstom aan tant Elsa se gemengde boerdery?” hoor sy Wouter skielik agter haar praat. Sy kan sweer sy stem het geamuseer geklink, maar sy besluit om dit te ignoreer.

“Ek verstom my glad nie,” antwoord sy ietwat snipperig. “Ek wonder maar net waarom die goed hier so vry rondloop en nie in hokke gehou word nie.”

“Omdat hierdie plek Blouberg heet en nie Johannesburg nie, ou kinta,” glimlag hy gemoedelik en kom langs haar staan. “Jy sal nog aan hierdie dinge gewoond raak,” voorspel hy. “Wees net versigtig vir daardie ou bokram. Hy het hans grootgeword, maar noudat hy oud word, raak hy skoon befoeterd. Hy kry soms die gier om ’n mens te bestorm en met sy kop te stamp. Bly dus liewer uit sy pad, want hy kan nogal geniepsig hard stamp. Wat het jy toe besluit? Gaan jy hier bly, of is jy nog van plan om môre terug te gaan Johannesburg toe?”

“O, ek het besluit om ’n jaar te bly,” antwoord sy ongeërg, terwyl sy die kruin van die berg beskou. “Sodra die jaar verby is, kan jy my deel van Blouberg met plesier koop.”

Daar is goedkeuring in sy blik toe hy ernstig sê: “Na ’n jaar sal jy nie meer bereid wees om jou deel te verkoop nie, kleinding. Jy sal nog so lief word vir ou Blouberg dat ’n mens jou nie met ’n stok hier sal wegkry nie. Maar dit herinner my, jy sal van môre af moet leer perdry . . .”

“Wat!” roep sy verontwaardig uit. “Jy moet van jou sinne af wees as jy dink ek gaan leer perdry. Ek sal dit nie eens naby die dierasie waag nie en dan wil jy hê ek moet op sy rug klim! Nee wat, dankie, ek ry met my motor waar ek wil wees.”

Wouter skud sy kop beslis. “Ek vrees hier is kampe en weivelde wat jy nie met ’n motor kan bereik nie. Nee, jy sal maar net oor jou vrees moet kom, want môre gaan jy leer perdry, of jy nou wil of nie. Geen Brank was nog ooit bang vir ’n perd nie, en jy gaan sowaar nie die eerste een wees nie; nie as ek dit kan verhelp nie. Selfs jou ma was ’n goeie ruiter, en sy was nie eens ’n gebore Brank nie. Nee, jy sal maar net moet leer, want ’n boer moet kan perdry.”

“Verskoon my, ek is nie ’n boer nie . . .”

“Nie op die oomblik nie, maar ek gaan ’n boer van jou maak,” belowe hy. “Dit was oom Isak se begeerte dat jy hierdie plaas alleen moet kan bestuur as die nood dit vereis, want geen mens het sy lewe in sy hand nie.”

“Toemaar, Wouter, jy sal nie gou doodgaan nie,” verseker sy hom onthuts. “Jou oom Isak se dood was maar net ’n natuurfrats.”

“Jy moenie so haatdraend teenoor oom Isak wees nie, Lecia,” berispe Wouter haar. “Jy doen hom ’n onreg aan . . .”

“Onreg . . . inderdaad! Hy het my pa ’n groter onreg aangedoen as wat ek hom ooit kan aandoen,” sê sy ergerlik. “Ons Branks vergeet nie maklik nie, en wat hy my pa aangedoen het, sal ek nooit vergeet nie. Ek sê jou, hy was ’n selfsugtige, inhalige ou skelm.”

“En tog het hy vir jou ’n baie sagte plekkie in sy hart gehad,” sê Wouter bedaard. “Oom Isak het jou altyd as die dogter be­skou wat hy nooit gehad het nie. Hy was selfs trots daarop dat jy meer na hom as na jou pa lyk. Trouens, hy het ’n fotograaf gehuur om jou te fotografeer – sommer op straat – sodat hy ten minste ’n ordentlike foto van jou kon hê . . . Jou foto pryk nog steeds in die studeerkamer op sy lessenaar. Glo my, hy was trots op daardie foto.”

“Ek lyk glad nie na oom Isak nie,” kap sy heftig terug. “Ek het net rooi hare en groen oë, maar dis ’n kenmerk van ons Branks, iets soos die teken van Kain.”

“In elk geval, ek gaan nou vir Arrie sê om Lady môreoggend net na ontbyt vir jou op te saal. Stap jy saam stalle toe om vir Lady dag te sê?”

Sy werp Wouter ’n koue blik toe en antwoord kil: “Nee, ek stel nie in Lady belang nie.”

Met haar kop trots in die lug draai sy om en stap die huis binne. Sy stap reguit na haar kamer toe, waar sy met ’n bekommerde trek op haar gesig in ’n leunstoel neersak. Op hierdie oomblik is Lecia ’n baie bekommerde meisie, ’n meisie met groot probleme. Sy het die besliste klank in Wouter se stem gehoor, en sy weet dat niks hom sal laat afsien van sy voorneme om haar op ’n perd se rug te dwing nie.

Sy, wat aan groot stede en vinnige motors gewoond is, koester ’n ontsettende vrees vir perde en beeste. Ja, selfs tant Elsa se bokram met sy skerp horings gee haar die bewerasie . . .

Nee, sy weet nie so reg of sy ooit op die plaas sal aard nie. Hier is gans te veel steurende elemente. Dit is net haar trots wat haar daarvan weerhou om môre in haar motor te klim en in die pad te val, terug Johannesburg toe waar daar geen perde, beeste en ander vreesaanjaende diere los rondloop nie. Sy verwens haarself omdat sy ooit ’n voet op Blouberg gesit het. In Johannesburg was sy veel beter daaraan toe met haar musiekleerlinge, al het haar senuwees soms soos ’n gespanne snaar gevoel wat dreig om te breek. Maar hoe moes sy geweet het dat hierdie ellendige man haar om elke hoek en draai gaan uitdaag?

Sy voel sommer bitter omgekrap omdat oom Isak so ontydig gesterf het. Hy was nou wel ’n gewetenlose mens wat nooit ander se gevoelens in aanmerking geneem het nie, maar dis nogtans jammer dat hy nie meer lewe nie. As hy gelewe het, sou sy haar nie nou in hierdie verknorsing bevind het nie. Verbeel jou, sy moet leer perdry – sy wat vir ’n perd so bang is soos die duiwel vir ’n slypsteen!

Lecia se senuwees voel op dié oomblik behoorlik rou geskaaf, en nou wonder sy of die plaas regtig vir al haar ellende kan vergoed. Sy glo nie daar is nog ’n mens op aarde wat met soveel ellende soos sy te kampe het nie . . . en dit is alles net tant Emma se skuld. As tant Emma nie so aan haar getorring het nie, sou sy haar nie nou hier op Blouberg bevind het nie.

Ja, net môre gaan sy vir tant Emma bel en haar presies vertel wat sy van haar, wyle oom Isak én Wouter Fouché dink, want dis deur hulle dat die lewe nou al sy glans vir haar verloor het.

Die bruid van Blouberg

Подняться наверх