Читать книгу Skemeruur - Susanna M Lingua - Страница 3

1

Оглавление

’n Neerdrukkende stilte hang in die huis sedert die drie en twintigjarige Lynne Steenberg die tyding ontvang het dat albei haar ouers tydens ’n sakebesoek in Kaapstad in ’n motorongeluk omgekom het.

Stella en Justin Steenberg is die vorige dag begrawe en vir Lynne, ’n nagraadse student in ’n wetenskaplike rigting en die enigste kind van haar ouers, voel dit nog steeds asof sy haar in ’n lugleegte bevind. Sy kan dit nog nie aanvaar dat sy haar ouers nooit weer sal sien nie. Hulle drie het so na aan mekaar gelewe, dit is net ondenkbaar dat sy hul stemme nooit weer sal hoor nie.

Dit voel vir Lynne asof sy nie meer ’n enkele traan het om te stort nie. Sy het twee uur gelede ontbyt genuttig, en waar sy nou deur die woonkamer se ruim venster na die kleurryke tuin staar, dink sy daaraan dat haar ouers se testament nog nie eens gelees is nie.

Die volgende oomblik sien sy hoe haar oom, Nico Steenberg, haar pa se enigste broer, se motor deur die groot hek ry en langs die huis stilhou. Hy is nie alleen nie. Sy vrou, Esther, en hul twee dogters, Janet en Marie, is by hom in die motor.

’n Oomblik lank wonder Lynne waarom die hele gesin hier is. Haar tante en Marie, wat saam met haar op die skoolbanke gesit het, was haar nog nooit juis goedgesind nie – nie dat sy weet waarom nie, want haar oom en die vyf en twintigjarige Janet was nog altyd baie vriendelik teenoor haar.

Lynne staan nog diep ingedagte voor die venster toe haar vier gaste die vertrek binnekom. Sy groet hulle afgetrokke, nooi hulle om te sit en neem self op die naaste stoel plaas.

“Het die prokureur jou al laat weet wanneer hy jou ouers se testament gaan lees, Lynne?” vra haar oom belangstellend.

Lynne skud haar kop en sê hartseer: “Ek het nog niks van meneer Yssel gehoor nie. Ek dink oom Nico moet hom bel en hoor of hy die testament hier in die huis of in sy kantoor wil lees.”

“Vra die prokureur sommer ook wie almal teenwoordig moet wees by die lees van die testament, Nico,” doen Esther aan die hand. Justin was skatryk en sy is daarvan oortuig dat haar twee dogters ook as erfgename in die testament benoem is, aangesien Nico en sy twee dogters die enigste bloedverwante is. Stella het lankal geen oorlewende familie meer gehad nie.

Nico keer na ’n rukkie terug na die woonkamer. Esther kyk hom vraend aan toe hy gaan sit.

“Meneer Yssel sal elfuur die testament kom lees,” stel Nico sy vrou in kennis. “Hy sê net ek en Lynne hoef teenwoordig te wees, aangesien ons die enigste erfgename is –”

“Jy bedoel . . . Marie en Janet is glad nie as erfgename benoem nie?” val Esther hom met ’n ergerlike frons in die rede.

“Jy het gehoor ek sê net ek en Lynne is as erfgename benoem, Esther,” herhaal Nico vererg. “Ek weet nie wat jou die gedagte gegee het dat my broer ons dogters in sy testament sou begunstig terwyl hulle self ’n dogter het vir wie hy voorsiening moes maak nie.”

Lynne wou net die woonkamer binnegaan toe haar tante hard en bitter uitroep: “Wat? Noem jy daardie . . . optelkind Justin en Stella se dogter? Ek dink dit is skandelik dat sy saam met jou moet erf, Nico. Jou broer se besittings kom jou en jou dogters toe, nie daardie vreemde optelkind wat hulle aangeneem en grootgemaak het nie.”

Janet en Marie is net so geskok soos Lynne, wat half in die deur bly staan toe sy Janet verontwaardig hoor sê: “Ma sal nog in die moeilikheid beland met sulke lasterlike aantygings. Ek weet Ma en Marie kon Lynne nog nooit verdra nie omdat sy op skool beter as Marie gepresteer het en omdat Carl Human – dié Carl Human – Lynne bo Marie verkies het en aan haar verloof is . . .”

“My aantygings was glad nie lasterlik nie,” bestraf Esther haar oudste spruit. “Jou oom en tante het Lynne aangeneem toe sy tien dae oud was. Haar regte ma was ’n ongehude meisie wat nie haar kind wou hê nie –”

“Wel, ek stem saam met Pappie,” val Janet haar ontstoke ma in die rede. “Elke mens het die reg om met sy geld en besittings te maak wat hy wil. Vir oom Justin en tant Stella was Lynne nie ’n aangenome kind nie; hulle het haar liefgehad soos ’n eie kind.”

“So, dan is Lynne glad nie eens ons niggie nie,” sê Marie snedig, maar ook met innerlike genoegdoening, want sy kan al raai wat die trotse en hooghartige Humans en hul ewe hooghartige vriende van hierdie nuwe verwikkelinge gaan sê.

Lynne is hartseer en diep geskok waar sy nog steeds onopgemerk half in die deur staan en alles hoor. Die wete dat sy ’n aangenome kind is, breek soos ’n verpletterende golf oor haar en laat haar wanhopig rondtas na vastigheid wat weer rigting aan haar denke kan gee. Maar al waaraan sy kan dink, is dat sy haar tante dadelik sal moet konfronteer as sy ooit die waarheid wil weet.

Marie is nog besig om haar in Lynne se diepste leed te verheug, toe sy haar pa bars hoor sê: “Genoeg! Ek wil nie weer ’n enkele verkleinerende woord van Lynne by een van julle hoor nie . . .”

Lynne se verskyning in die vertrek laat Nico meteens stilbly. Terwyl Marie en haar ma Lynne uitdagend aankyk, is Janet en haar pa se oë verontskuldigend en vol innerlike meegevoel. Hulle kan aan Lynne se gesig, aan die verdwaaldheid in haar mooi groen oë sien dat sy haar tante se neerhalende woorde gehoor het.

Lynne se gesig is wasbleek toe sy met ’n onvaste stem sê: “Is dit waar wat jy so pas gesê het, dat ek . . . dat ek nie my ouers se eie kind is nie, tannie Esther?”

“Moet jou nie aan jou tante steur nie, Lynne, kindjie,” gooi Nico dadelik wal, maar Esther is vasbeslote dat Lynne die waarheid moet weet.

“Natuurlik is dit waar,” sê sy snedig. “Stella en Justin kon nooit ’n eie kind gehad het nie. Jy was tien dae oud toe hulle jou aangeneem het.”

Lynne vra gespanne: “Weet jy wie my regte ouers is, tannie Esther?”

“Dit is nou genoeg, Esther. Jy het reeds te veel gesê,” lê Nico sy vrou verontwaardig die swye op.

Maar Esther laat haar nie keer nie en sê openlik aggressief en uitdagend: “In daardie geval kan sy maar ewe goed weet wie en wat haar ma is . . .”

Nico swyg etlike sekondes en sê dan met meegevoel: “Ek vrees ons ken jou ouers glad nie, Lynne. Al wat ons weet, is dat jou ma ’n ongehude meisie was en aan die vermaaklikheidswêreld verbonde is. Ek weet nie of sy ’n sangeres, ’n danseres of aktrise is nie, maar dit is iets in daardie rigting.”

“Het my aanneemouers my eie ouers geken, oom Nico?” Hartseer en verslaenheid spreek uit elke gebaar van Lynne. Dit ruk aan Nico se hart, want hy ken haar as ’n vriendelike en besadigde meisie, buitengewoon intelligent en ’n ywerige en toegewyde student. Inderdaad ’n dogter om op trots te wees!

Nico klink self neerslagtig toe hy sê: “Nee, ek glo nie hulle het jou ouers geken nie, Lynne. Ek weet hulle het jou ma een keer gesien toe sy die hospitaal verlaat het waar jy gebore is, maar sy het hulle nie ontmoet nie. Jy sien, jou aanneemouers het jou by die hospitaal gaan haal waar jy gebore is.”

“Dan weet jy in watter hospitaal ek gebore is, oom Nico?” Sy kyk hom met soveel hoop en afwagting aan dat Nico wens hy kon haar op elke vraag ’n positiewe antwoord gee wat al die raaisels oor haar herkoms vir haar sal opklaar. Maar hy weet in dié verband eintlik baie min.

“O, ja, ons weet waar jy gebore is, Lynne,” verseker Nico haar. “Jy is in die hospitaal op Katbos gebore. Katbos is ’n afgeleë dorpie in Wes-Kaapland wat nie juis deur vreemdes besoek word nie –”

“Wel, aangesien ek en my dogters nie by die lees van die testament teenwoordig hoef te wees nie,” val Esther haar wederhelf in die rede, “sal ons solank ’n paar inkopies gaan doen. Ek hoop jy gee nie om dat ons sommer van die stad af huis toe gaan nie, Nico. Ek is seker Janet sal jou motor vir jou terugbesorg.”

“Ek hoop jou . . . onbekende herkoms maak geen verskil aan jou en Carl se verlowing nie, Lynne,” laat Nico hoor nadat Esther-hulle vertrek het. “Dit sal natuurlik wensdenkery wees om te hoop dat dit nie Carl en sy ouers se ore sal bereik nie, noudat jou tante dit so gevoelloos uitbasuin het.”

Lynne knik, haar kastaiingbruin kop glansend in die son wat deur die venster skyn, en sê merkbaar bekommerd: “Carl se ouers is trotse mense wat in hoë kringe beweeg. Hulle sal nooit ’n buite-egtelike meisie in hul gesin toelaat nie, oom Nico, al is die meisie ook Stella en Justin Steenberg se aangenome dogter.”

“Jy het gelyk,” beaam oom Nico haar vrese. “Carl se ouers is baie trots en hooghartig, maar hulle was darem nog altyd baie lief vir jou.”

Hierop het Lynne niks te sê nie, want net soos Nico weet sy dat die Humans se liefde vir haar nooit bestand sal wees teen die kwaadwillige praatjies oor haar onseker herkoms nie. En dan is daar ook nog die universiteit . . . haar medestudente.

Hierdie ontstellende gedagte laat Lynne eintlik ineenkrimp van vernedering en magteloosheid. Maar sy weet ook dat sy al hierdie dinge sal moet verwerk voordat sy oor drie dae terugkeer na die universiteit.

Die prokureur se aankoms onderbreek meteens Lynne en Nico se somber gedagtes. Sy nooi die man om te sit, dan knoop Nico ’n ligte geselsie met hom aan terwyl hy die oorledenes se testament uit sy aktetas haal.

Alles geskied baie formeel en van die ingewikkeldheid van die testament verstaan Lynne slegs dat sy ’n aansienlike som geld, wat haar lewenslank onafhanklik sal maak, geërf het, asook een van die luukse duplekswoonstelle wat ’n paar maande gelede voltooi is. Dan moet sy ook al die meubels en ander benodighede om haar woonstel gerieflik en leefbaar te maak uit haar ouerhuis neem. Haar oom Nico erf die res, met slegs ’n paar klein bemakings aan werkers wat al baie jare in die oorledenes se diens was.

Lynne besef dat haar aanneemouers haar baie goed versorg agtergelaat het en dat sy nooit in haar lewe gebrek sal ly nie.

Meneer Yssel sit die testament terug in die aktetas, haal ’n verseëlde koevert uit wat aan Lynne geadresseer is en kom orent. “Die ontslape mevrou Steenberg het hierdie brief ’n paar jaar gelede by my gelaat om vir jou in veilige bewaring te hou tot ná haar dood, juffrou Steenberg,” sê hy en gee die brief vir Lynne.

Na die prokureur se vertrek spreek Nico sy blydskap uit oor Lynne se aansienlike erfenis. “Jy begryp dus dat jou aanneemouers jou baie liefgehad het,” sê Nico.

Lynne knik bevestigend en sê met intense weemoed in haar stem: “Ek vrees ek kan nog nie aan hulle dink as my aanneem­ouers nie, oom Nico. Ons was altyd so . . . so na aan mekaar en ek was so lief vir hulle en trots op hulle . . .” Hartseer oorweldig haar en haar stem sterf weg.

“Jou ouers was net so lief vir jou, Lynne,” verseker Nico haar met deernis in sy stem. “Jou pa was altyd so trots op jou uitstekende prestasie op universiteit en het dikwels gewonder van wie jy regtig jou voorliefde vir die wetenskap geërf het.”

“Ek mis my ma en pa oneindig baie, oom Nico,” sê Lynne bitter hartseer.

Een van die huishulpe verskyn in die woonkamer se deur en kondig aan dat daar ’n telefoonoproep in die studeer­kamer vir meneer Steenberg is.

Na ’n rukkie keer Nico terug en sê verontskuldigend: “Ek vrees ek moet dringend terug kantoor toe.”

“Ek sal oom Nico gou neem,” bied Lynne behulpsaam aan. Sy gaan haal haar motor se sleutels en na ’n rukkie is hulle onderweg stad toe.

Na haar tuiskoms onttrek Lynne haar na die privaatheid van haar eie studeerkamer om haar ma se brief ongesteurd te lees.

Terwyl Lynne die verseëlde koevert met haar briewemessie oopmaak, swem haar oë weer in trane by die aanskoue van haar ma se netjiese handskrif. Sy vee die trane uit haar oë, vou die twee handgeskrewe velle oop en begin lees.

My liewe dogtertjie . . . my pragtige klein Lynne

Wanneer jy hierdie brief lees, sal ek nie meer met julle wees nie. Wat ek jou nou gaan vertel, weet ek, gaan jou skok en miskien nog seermaak ook. Maar ek wil hê jy moet weet dat jy vir ons deur die jare baie dierbaar was. Ek kan nie onthou dat jy ooit iets anders as ’n sonstraaltjie in ons lewe was nie.

Ek en jou pappa was drie jaar getroud toe ons meegedeel is dat ons nooit ons eie kindjie sou hê nie. Dit was vir ons albei ’n verpletterende slag, want ons wou so graag ’n paar kinders gehad het. Om ’n kindjie aan te neem het my aanvanklik teen die bors gestuit. Ek was bevrees dat ek dalk nie ’n aangenome kind sou kon liefhê nie.

In elk geval, ek het later begin gewoond raak aan die gedagte dat ons ’n kindjie sal moet aanneem. Ek en jou pappa was so opgewonde toe ons die tyding ontvang dat ons ons dogtertjie op Katbos in die hospitaal kon gaan haal. Aangesien ons destyds in Kaapstad gewoon het, het dit ons nie lank geneem om daar te kom nie.

Dit was vir ons die wonderlikste oomblik in ons lewe toe die verpleegsuster die pragtige tien dae oue baba in my arms neerlê en ons besef dat ons eindelik ons eie ou dogtertjie het. Jy het by die dag pragtiger geword met jou rooibruin haartjies en ernstige groen oë, en jy het ook elke dag dieper in ons harte gekruip. Ons hele lewe en toekoms het net om jou gedraai, Lynne, kindjie.

Jy was ses maande oud toe jou pappa besluit het dat ons na Johannesburg toe moet verhuis. Jou oom Nico en tant Esther is egter die enigste mense hier in Johannesburg wat weet dat jy nie van ons eie vlees en bloed is nie – nie dat ons vir jou liewer sou gewees het as jy van ons eie vlees en bloed was nie. Vir my en jou pappa is jy alles wat goed, mooi en dierbaar is.

Nou sal jy bepaald wil weet wie jou regte ouers is. Ek vrees ek kan jou in hierdie geval nie help nie, kindjie. Ek kan jou egter verseker dat jy nie nodig het om vir jou eie ma te skaam nie. Ons het haar vlugtig gesien toe sy die hospitaal verlaat het en dit was vir my en jou pappa genoeg om te weet dat sy uit ’n welgestelde familie kom. Die verpleegsuster het ons vertel dat sy ’n aangename en opgevoede meisie is, maar ook baie verwen. Sy het glo een keer gaan kyk toe die verpleegster jou gebad het en na die geboortevlek op jou arm verwys as ’n familietrek wat jy van jou pa geërf het. Sy het glo hardop gewonder of jy eendag gaan sing, of dalk ’n droë stoppel soos jou pa gaan wees. Sy wou glo operasangeres word.

Nog iets wat jy miskien interessant sal vind, is dat jy jou eie ma se ewebeeld is, en ek het altyd gedink jy is die mooiste meisie wat ek nog ooit gesien het. Selfs die kleur van jul hare en oë is dieselfde. Ek het nog nooit twee mense gesien wat so eenders lyk soos julle twee nie.

Ek hoop jy sal die skok dat jy buite die eg gebore is maklik verwerk. Jy was nog altyd prakties, standvastig en groothartig, daarom het ek besluit om jou al hierdie dinge te vertel. Maar indien jy ooit ’n probleem het, raai ek jou aan om dit met jou oom Nico te bespreek – dis te sê as jou pappa ook nie meer daar is nie. Verder wens ek jou alles toe wat mooi en goed is, my dierbare kind.

Baie liefde

Mamma

Hartseer oorweldig die jong meisie. Sy druk haar gesig in haar hande en ruk soos sy snik.

Esther, Marie en Janet kom van die stad af tuis. Marie het ook net haar handsak en pakkies in haar slaapkamer neergesit, toe haas sy haar na die telefoon in die voorportaal om die Humans te bel en die nuus te vertel.

“Dit is Marie Steenberg wat praat, mevrou,” sê sy toe Carl se ma antwoord. “Ek bel net om jou iets te vertel wat vanoggend aan die lig gekom het in verband met Lynne se herkoms. Ek besef dit is my plig om jou in te lig –”

Daar is ’n frons tussen Marlene se salonversorgde wenkbroue toe sy Marie gesteurd in die rede val. “Ek begryp glad nie wat jy met Lynne se herkoms bedoel nie, juffrou Steenberg. Ons weet tog almal sy is die ontslape Stella en Justin Steenberg se dogter.”

“Presies, dit is wat ons almal gedink het,” sê Marie met ’n genoeglike laggie. “Maar my ma het ons vanoggend in Lynne se teenwoordigheid vertel dat sy ’n buite-egtelike kind is wat deur my oom en tante aangeneem is toe sy tien dae oud was.”

“Ek is seker daar is iewers ’n fout, juffrou Steenberg,” sê Marlene Human met ’n kil stem om haar skok en ontsteltenis te verbloem.

“Ek vrees daar is geen fout nie, mevrou,” hou Marie vol, ietwat verleë oor Marlene se kortaf houding. “My ma weet waarvan sy praat. Trouens, albei my ouers is vertroud met Lynne se aanneming destyds, hoewel my pa my ma streng belet het om ’n woord daaroor te sê. Maar ek voel dat Carl se ouers dit behoort te weet.”

“Dankie vir jou belangstelling, juffrou Steenberg,” hoor Marie die vrou afgetrokke sê. “Ek vrees jy sal my nou moet verskoon, my gesin wag reeds vir my om vir middagete aan te sit. Tot siens.”

Janet, wat Marie se telefoongesprek doelbewus afgeluister het, tree dadelik na vore en sê sag, minagtend: “Ek sou my oë uit my kop geskaam het as ek jy was, Marie, want met hierdie doelbewuste kwaadstokery het jy jou net ongewild by die Humans gemaak. Ek weet natuurlik wat jy daarmee beoog het, maar ek glo nie hulle sal jou na dese as aspirantskoondogter verwelkom nie. Carl se ouers mag trots en hooghartig wees, maar sy ma sal haar nooit so verneder deur iemand in die rug te steek of haar in ander se leed te verlustig nie –”

“Ag, moenie vir my ’n sedepreek afsteek nie,” val Marie haar suster vererg in die rede. “As jy nog steeds die wêreld van Lynne dink, moet jy asseblief nie dieselfde van my verwag nie . . .”

Nico se tuiskoms laat Marie meteens swyg. Sy weet dat haar pa, net soos Janet, nie ’n ongunstige woord oor Lynne sal duld nie.

In die Humans se woonkamer heers daar gemengde gevoelens. Marlene is merkbaar bleek toe sy na haar telefoongesprek met Marie haar verskyning by haar gesin in die woonkamer maak.

Haar man, Armand, is die eerste wat haar ontsteltenis opmerk en besorg vra: “Wat skort, my vrou? Jy lyk ontsteld.”

Marlene gaan sit eers voordat sy sê: “Dis Marie Steenberg . . . sy weet te vertel dat Lynne ’n buite-egtelike kind is wat deur Stella en Justin aangeneem is.”

“Wat? Marie Steenberg?” roep Jenny, Carl se suster, uit. “Mams, ek glo nie ’n woord daarvan nie. Ek, Marie en Lynne was van graad een af in dieselfde klas totdat ek en Lynne universiteit toe is, en ek weet hoe afgunstig Marie nog al die jare op Lynne was.”

“Ja, ek dink ook Marie praat sommer deur haar nek,” meen die sewe en twintigjarige Carl, ’n jong sakeman wat sy pa bystaan in hul groot meubel-en-mat-onderneming. “Ek sal vanaand by Lynne gaan hoor wat Marie se storie is.”

“Nou ja, dan kan ons seker gaan eet,” doen Armand aan die hand. “Ek moet na die ete ’n vergadering bywoon.” Almal kom orent. Armand kyk sy vrou besorg aan en sê voorts: “Jy moet jou nie langer aan Marie se praatjies steur nie, my vrou. Carl sal vanaand by Lynne gaan hoor of daar enigsins waarheid in steek.”

“Nou goed, ek sal voorlopig vergeet dat Marie gebel het,” belowe Marlene met ’n flou glimlaggie en stap dan saam met haar gesin eetkamer toe.

Die middag het vir Lynne oneindig stadig verbygegaan. En nou, na die aandete, is die groot huis grafstil met net twee huishulpe nog in die kombuis.

Lynne gaan sit in haar oorlede ma se privaat sitkamertjie, dan gaan haar gedagtes terug na die oggend se gebeure, en veral na haar tante en Marie se vyandige houding. Toe haar aanneem­ouers nog gelewe het, sou Esther dit nooit gewaag het om haar vyandigheid teenoor Lynne so openlik te toon nie.

Lynne dink met hartseer aan Marie en haar ma se neerhalende woorde wat bedoel was om haar seer te maak. Sy behoort haar seker nie daaraan te steur nie, want Marie en haar ma was haar nog nooit juis goedgesind nie . . . Lynne onthou dat Marie byna ’n senuwee-ineenstorting gehad het toe sy en Carl drie jaar gelede verloof geraak het. Tant Esther was verplig om haar Durban toe te neem sodat sy haar teleurstelling daar kon verwerk.

Lynne is daarvan oortuig dat Marie, of haar ma, reeds die Humans van haar onbekende herkoms verwittig het.

Nou dwaal haar gedagtes weer na haar verloofde, sy ouers en sy suster, en sy wonder of sy ouers haar na dese nog as skoondogter sal verwelkom.

Die binnekoms van die huishulp om te sê dat Carl in die groot sitkamer wag, maak meteens ’n einde aan Lynne se ongelukkige gedagtes.

Carl is, soos gewoonlik, baie teer en liefdevol toe hy Lynne in sy arms neem en met ’n soen groet. Hy merk dat sy nog baie hartseer is, dus lei hy haar na die rusbank en neem langs haar plaas.

“Waarom frons jy so gevaarlik, Carl?” Lynne vee die frons tussen sy ligbruin wenkbroue met die punt van haar wysvinger weg.

“Ek het gedink aan Marie se kwaadwillige telefoonoproep vroeër vanmiddag.”

“So, dan het sy reeds die nuus versprei dat my ouers my aangeneem het,” val Lynne hom in die rede met iets soos weerloosheid in haar stem. “Ek moes dit seker verwag het.”

Carl kyk haar ’n oomblik stil en met ’n onpeilbare uitdrukking in sy blou oë aan. Toe sit hy ineens regop en nou is daar duidelik ’n trek van skok en ontnugtering op sy jong, aantreklike gesig.

“Dan is dit . . . waar?” kry hy die woorde sag en verslae uit.

Lynne knik bevestigend. Sy gaan haal die brief en gee dit vir Carl om te lees. Sy gesig is strak en uitdrukkingloos en sy kan niks daaruit wys raak nie.

Innerlik gespanne wag Lynne totdat Carl die brief klaar gelees het, toe vra sy met ’n onseker stem: “Noudat jy die brief gelees het, Carl . . . wat nou?”

Hy vou die brief op, steek dit terug in die koevert en sê dan self gespanne en onseker: “Ek . . . weet nie, Lynne. Ek weet eerlikwaar nie. Jy sal my eers kans moet gee om hierdie skok te verwerk. Daarna sal ek kan besluit. Jy verstaan, nè?”

“Ja, ek verstaan,” verseker sy hom met ’n stem wat sy voel nie aan haar behoort nie. Sy begryp maar alte goed dat hy hierdie saak eers met sy ouers wil bespreek om te hoor wat hulle van die situasie dink.

Carl vertoef nie lank nie. Toe hy etlike minute later groet om te vertrek, vergesel Lynne hom tot by die voordeur. Sy kyk hom stil agterna toe hy na sy motor toe stap en sy kry die vreemde gevoel dat dit die einde is van hul verlowing en hul jare lange vriendskap. Die onverskillige manier waarop hy haar gegroet het, het haar diep seergemaak, want dit het so duidelik getoon dat hy haar nou in ’n ander lig beskou . . . of voel hy maar net geskok en verward?

Nadat Lynne gebad en haar slaapklere aangetrek het, skakel sy die lig in haar slaapkamer af en gaan staan voor die venster, van waar sy ’n uitsig oor hul pragtige voorstad het. Sy kyk na die helder verligte huise, vol warm, huislike geluk en voel bitter eensaam en alleen. Dit voel asof sy haar in ’n eindelose, lang skemeruur bevind wat al die lig uit haar lewe geneem het.

Skemeruur

Подняться наверх