Читать книгу Skemeruur - Susanna M Lingua - Страница 4

2

Оглавление

Nadat Carl van Lynne af weg is, het hy na die klub gery, waar hy ’n paar drankies gedrink en ’n paar potjies snoeker saam met vriende gespeel het in ’n poging om van sy gedagtes te ontvlug. Toe eers het hy huis toe gegaan.

Die huis is stil en donker toe Carl eindelik tuiskom. Maar toe hy later in sy bed lê, spoel die inhoud van die ontslape Stella se brief weer soos ’n verpletterende golf oor hom en hy raak eers in die vroeë oggendure aan die slaap.

Carl is stil en merkbaar bleek toe hy die volgende oggend saam met sy huismense vir ontbyt aansit.

“Ek veronderstel jy het toe Marie se ongehoorde telefoonoproep met Lynne bespreek, Carl?” vra sy ma toe die maal eindelik verby is en sy almal met koffie bedien.

“Ja, ek het met haar gepraat,” sê Carl met ’n ongeduldige stem. “Dit is waar. Ek het die brief self gelees waarin tant Stella sê dat Lynne haar nooit vir haar eie ma hoef te skaam nie.”

Carl vertel hulle alles wat in die brief staan, en toe is dit met­eens onnatuurlik stil om die tafel. Sy ouers lyk duidelik geskok, maar Jenny, sy suster, steur haar nie in die minste daaraan nie.

“Lynne se onbekende herkoms hinder my glad nie,” verklaar Jenny onomwonde. “Ek hou van haar en sy sal altyd my beste vriendin bly. ’n Mens is myns insiens wat jy self is en nie wat jou ouers is nie. Maar indien ’n mens dieselfde as jou ouers sou wees, behoort Lynne wonderlike ouers te hê, want sy is in elke opsig my, Marie, Janet en Carl se meerdere. Nie een van ons het haar intelligensie nie en nie een van ons het ’n loopbaan gekies wat ses jaar universiteitsopleiding verg nie. Marie het in elk geval nog nooit in haar lewe die binnekant van ’n universiteit se lesingsaal gesien nie.”

“Vir jou mag dit alles goed en wel wees, Jenny, maar nie vir ons nie,” vermaan haar ma haar bekommerd. “Ek dring daarop aan dat Carl sy verlowing met Lynne beëindig. Ek is seker Lynne sal verstaan dat hy nie meer met haar kan trou nie. Dat sy deur die Steenbergs aangeneem is, maak nie saak nie – as sy maar net binne die eg gebore was. Maar soos sake nou staan, weet niemand wie en wat haar ouers is en van wie haar kinders moontlik ongewenste eienskappe kan oorerf nie. Ek vrees ons vriende sal haar na dese ook nie meer in ons kring aanvaar nie.”

“Dis waar,” kom dit van Armand terwyl hy sy servet ingedagte opvou, “ek voel ook dat dit uiters gewaag sal wees om Lynne nou in ons gesin op te neem. Haar ouers kan dalk agterlike of oneerlike mense wees wat net wag totdat sy en Carl getroud is om hul verskyning op die toneel te maak en ons sodoende in groot verleentheid te stel . . .”

Die binnekoms van die huishulp om vir Marlene te sê dat daar vir haar ’n telefoonoproep in haar privaat sitkamer is, maak ineens ’n einde aan Armand se betoog.

Marlene begeef haar onverwyld na haar sitkamertjie, tel die gehoorbuis op en sê versigtig, uit vrees dat dit moontlik een van hul vriende is wat reeds van Lynne se buite-egtelike geboorte gehoor het: “Marlene Human hier.”

“Goeiemôre! Esther Steenberg wat praat,” hoor Marlene die stem sê wat dan verontskuldigend vervolg: “Ek hoop nie ek het te vroeg gebel nie, mevrou Human. Ek het gistermiddag gebel, maar geen antwoord gekry nie, daarom het ek besluit om vandag vroeër te probeer. Ek wil graag om ver­skoning vra omdat ek jou en meneer Human nie jare gelede al van Lynne se buite-egtelike geboorte verwittig het nie. Ek en my man het destyds ’n belofte gemaak dat ons altyd oor Lynne se onbekende herkoms sou swyg. Maar noudat my swaer en skoonsuster oorlede is, voel ek dit is my plig om vir julle te vertel dat Lynne ’n buite-egtelike kind is wat deur Stella en Justin aangeneem is toe sy tien dae oud was.”

“Ons weet dit reeds, mevrou Steenberg,” help Marlene haar reg. “Carl was gisteraand by Lynne en het selfs ook die brief gelees wat Stella vir Lynne geskryf en vir bewaring by hul prokureur gelaat het. Ek vrees ons bevind ons in ’n baie netelige situasie.”

“Ja, ek glo jou,” stem Esther saam. “Maar weet jy, sy erf toe mos ’n astronomiese bedrag geld en een van daardie luukse duplekswoonstelle wat Justin in die mooi nuwe voorstad laat bou het, en boonop mag sy nog kies watter woonstel sy wil hê. Ek sê vir jou, Lynne is vandag ’n baie ryk meisie, maar al haar rykdom kan niks aan haar onseker herkoms verander nie.”

“Dit is baie jammer dat sy buite die eg gebore is,” laat Marlene diep teleurgesteld hoor. “Ek het absoluut niks teen Lynne as mens nie, maar Carl kan werklik nie met haar trou voordat ons weet wie haar regte ouers is nie.”

“Het Carl die verlowing verbreek?” wil Esther met innerlike genoegdoening weet. Sy onthou Marie se bittere teleurstelling nog baie goed toe Carl en Lynne destyds verloof geraak het.

“Nee, nog nie, maar my man meen ook dat ’n huwelik met Lynne vir Carl en ons almal nou ’n groot verleentheid sal wees . . .”

Hulle gesels nog ’n rukkie en lui dan af.

Armand is besig met sy tweede koppie koffie toe Marlene haar weer by hulle aan tafel aansluit.

“Dit was Esther Steenberg wat gebel het,” verduidelik Marlene en skink vir haarself ook nog ’n koppie koffie. “Sy het nie geweet dat ons reeds bewus is van die feit omtrent Lynne nie.”

“Ek vind Esther Steenberg net so ’n onaangename mens soos Marie, haar dogter,” sê Jenny wrewelrig. “Ek dink dit is skandelik dat almal Lynne nou skielik die rug toekeer net omdat hulle nie weet wie haar werklike ouers is nie. Haar pleegma se brief sê tog baie duidelik dat Lynne nie nodig het om haar vir haar eie ma te skaam nie, dat sy opgevoed is en beslis uit ’n gegoede huis kom. Haar onbekende ma was dus nie ’n slet nie. Trouens, alles in verband met Lynne toon dat sy van goeie herkoms is. Daar is hoegenaamd niks agterliks in Lynne se hele samestelling nie, en enigeen kan sien dat sy ’n gebore wetenskaplike is. Ek voorspel dat sy nog groot hoogtes in die wetenskap gaan bereik.”

Jenny stoot haar leë koffiekoppie agteruit en vervolg half aan haarself: “Marie en haar ma verlustig hulle natuurlik in Lynne se leed, want albei weet dat Marie nooit Lynne se standaard kan bereik nie. Hulle was trouens nog altyd jaloers op Lynne omdat sy so mooi en besonder intelligent is. Hulle sal nou bepaald alles vir die wêreld gaan uitbasuin.”

“Weet jy, alles wat jy daar sê, is waar, Jenny,” stem Carl diep ongelukkig saam. “As almal dit maar so wil insien, sal dit nie vir my nodig wees om ons verlowing te verbreek nie –”

“Wat? Gaan jy jul verlowing verbreek om ander mense gelukkig te maak?” val Jenny hom geskok in die rede.

“Carl het gelyk,” tree sy ma vir hom in die bres. “Ons voel natuurlik baie jammer vir Lynne, maar ons kan ook nie toelaat dat ons jammerte vir haar ons openbare lewe beïnvloed nie. Ek vrees ek dien in te veel komitees om ons naam selfs aan die geringste . . . e . . . onreëlmatigheid te koppel.”

Armand Human knik instemmend en Jenny besef dat dit haar niks sal baat om langer vir haar vriendin te pleit nie.

“Wel, ek weier om my vriendskap met Lynne te beëindig. As ons vriende my om daardie rede oor die hoof wil sien, kan hulle dit met my komplimente doen,” laat Jenny verontwaardig hoor. Sy vra verskoning om die tafel te verlaat, kom orent en kyk haar broer verwytend aan toe sy beskuldigend sê: “Ek hoop nie jy berou dit later omdat jy jul verlowing verbreek het nie. Ek glo ook nie Lynne sal jou daarna ooit terugneem nie. Ek glo ook nie Lynne het plek in haar lewe vir ’n klomp mooiweersvriende nie.” Met hierdie laaste verwyt verlaat Jenny die eetkamer.

Lynne het reeds ontbyt genuttig en wag al byna ’n uur op haar oom Nico se beloofde besoek toe hy hom eindelik by haar op die patio aansluit.

“Ek wil jou vanoggend neem sodat jy vir jou ’n woonstel kan gaan uitsoek, Lynne,” stel Nico haar in kennis nadat hy haar môregroet beantwoord het en op haar uitnodiging plaasneem. “Ek hou nie daarvan dat jy so alleen in hierdie groot huis woon nie. Sien jy kans om oormôre, dit wil sê Maandag, na jou nuwe tuiste te verhuis?”

“As dit moontlik is, sal ek verkies om liewer môre te verhuis, oom Nico. Ek weet dit is môre Sondag, maar ek kan dit nie bekostig om Maandag se lesings mis te loop nie,” verduidelik Lynne.

“Moet jou nie bekommer nie, ek sal alles vir jou reël,” ver­seker Nico haar. “Ons kan nou dadelik gaan sodat jy vir my kan wys watter woonstel jy verkies. Dan sal ek vandag nog reël dat jy môre kan intrek. Ek sal later vir jou die sleutels bring, dan kan die werkers solank die vensters en die kaste vir jou skoonmaak.”

Lynne bedank hom vir sy vriendelike hulp en bystand, dan vertrek hulle na die nuwe gebou wat Justin die vorige jaar langs die pragtige Wilgerspruit laat oprig het. Sy kies vir haar ’n woonstel met twee slaapkamers en ’n noordelike aansig. Die een slaapkamer, besluit sy, sal sy in ’n studeerkamer omskep.

“Ek vrees jy gaan vandag baie besig wees, meisie,” verklaar Nico toe hy later weer voor Lynne se ouerhuis stilhou. “Maak solank alles gereed, ek gaan haal gou vir jou die sleutels. Ek sal ook met ’n vervoermaatskappy reël om jou meubels en ander los goed om elfuur môreoggend te vervoer. Aangesien ek ook besluit het om hierdie huis met meubels en al te verkoop, raai ek jou aan dat jy van alles wat jy nodig het om jou woonstel te meubileer, net die beste neem wat hier in die huis is.”

Lynne bedank Nico weer eens vir al sy hulp en bystand. Dan vertrek hy om vir haar die woonstel se sleutels te gaan haal.

Twee werkers is reeds besig om al die skoonmaakbenodigdhede in Lynne se motor te laai, toe Jenny agter Lynne se motor stilhou.

“Hallo!” roep Jenny vriendelik uit toe sy Lynne na haar motor toe sien aankom. Sy klim haastig uit en sê-vra: “My wêreld, maar jy lyk vreeslik besig. Is daar iets waarmee ek kan help?”

“Wat? Help?” Lynne kyk haar aan met ’n vriendelike, hulpelose glimlaggie. “Jy kom asof jy geroep is, ou sussie. Ek verhuis môreoggend na my nuwe duplekswoonstel en jy kan my gerus help besluit wat ek alles nodig sal hê om huis op te sit.”

“Man, dit is die maklikste ding ter wêreld,” sê Jenny opgeruimd. “Ek gaan dit terdeë geniet om jou woonstel te help meubileer. Moet jy vandag nog die meubels gaan koop?”

Lynne skud haar kop en verduidelik dat sy alles wat sy vir haar nuwe woonstel nodig het, uit haar ouerhuis moet neem.

“As ek jy is, Lynne, neem ek van alles net die beste,” stel Jenny voor.

“Dit is wat oom Nico ook gesê het en ek hoop jy gaan my daarmee help, want sonder jou hulp sal ek hopeloos verlore wees,” verseker Lynne haar ernstig.

“Nou goed, laat ons na jou woonstel toe gaan en kyk wat jy alles sal nodig hê,” doen Jenny aan die hand. “Ry voor, ek sal jou volg.”

Met Jenny se hulp neem dit gelukkig nie lank om te besluit wat Lynne alles vir haar nuwe tuiste nodig sal hê nie. Daarna keer die twee terug huis toe om die regte meubels uit te soek.

Lynne kies van alles net die beste – van ’n teelepel tot ’n kombers. Een huishulp pak al die breekware vir haar in kartondose, ’n ander een besorg weer die skilderye, gordyne en linneware in haar motor, aangesien die gordyne en skilderye nog daardie middag gehang moet word.

Na die middagete vervoer Lynne en Jenny al die los ware en ook Lynne se persoonlike besittings met hul motors na die woonstel, terwyl die twee huishulpe die gordyne ophang en al die breekware en kombuisgereedskap versorg.

Vir Jenny is dit groot pret om Lynne se nuwe tuiste te help meubileer. Sy wens sy kan vir haarself ook ’n eie tuiste skep, maar sy weet dat haar pa dit nooit sal toelaat nie. In daardie opsig is hy baie konserwatief.

Albei meisies is doodmoeg toe Jenny die middag groet en vertrek, met die belofte om die volgende dag weer te kom help.

Na ’n koue stortbad voel Lynne sommer baie beter, maar sy sien nie uit na nog ’n stil en eensame aand met haar eie, ongelukkige gedagtes nie. Sy besluit dus om na die aandete maar weer Vrydag se lesings wat ’n medestudent vir haar afgeskryf het, deur te lees. Sy sien daarna uit dat dit al Maandag moet wees sodat sy elke lesing weer self kan bywoon.

Lynne is effens verbaas toe Carl haar kort na die aandete besoek. Sy weet nie wat sy verwag het nie, maar beslis nie om hom so gou na die vorige aand se skokkende nuus te sien nie. Hy was veronderstel om eers die skok te verwerk en dan oor hul verlowing te besluit.

Die somber uitdrukking op Carl se gesig toon duidelik dat sy besluit nie gunstig kan wees nie. Hierdie wete behoort Lynne te ontstel, maar sy het die afgelope paar dae al soveel skokke beleef dat sy nou ongevoelig is vir nog ’n ontnugtering. Sy weet dat wat Carl ook al besluit het, miskien eers later tot haar sal deurdring en betekenis kry.

Vir Carl is die doel van hierdie besoek nog veel moeiliker as wat hy hom dit voorgestel het. Hy weet nie hoe om sy besluit aan Lynne oor te dra sonder om haar seer te maak nie.

Vanoggend aan die ontbyttafel het Carl besef dat hy sy ver­lowing om sy ouers se onthalwe sal moet verbreek. Maar noudat die oomblik daarvoor aangebreek het, weet hy met ’n onwrikbare sekerheid dat hy nie kans sien om van sy pragtige, stemmige Lynne af te sien nie. Dit sal sy hart breek as hy haar nooit weer sou sien nie, nooit weer in sy arms kan neem en die sagtheid van haar lippe teen syne kan voel nie. Dit sal van sy lewe net ’n leë bestaan maak.

Lynne maak ineens ’n einde aan Carl se besluiteloosheid. “Ek veronderstel jy het vanaand hierheen gekom om vir my te sê wat jy besluit het, Carl?” spoor sy hom aan met ’n geslote gesig waaruit hy niks oor haar gevoelens kan wys word nie.

“Ek wil jou nie graag seermaak nie, Lynne,” sê Carl halfhartig. “Jy het die afgelope paar dae reeds te veel skokke beleef –”

“Sê maar gerus wat jy wil sê, Carl,” val sy hom met geforseerde bedaardheid in die rede. “Op die oomblik is ek ietwat ongevoelig vir skokke. Laat ek dus maar die ergste hoor . . . Ek veronderstel jy wil ons verlowing beëindig en nou het jy nie genoeg moed om dit vir my te sê nie, of hoe?”

“Dis waar,” sê hy na ’n rukkie, “ek het nie die moed om ons verlowing te verbreek nie, maar om ’n ander rede as wat jy dink . . . Ek het jou lief, Lynne. Aan my maak dit hoegenaamd geen verskil wie en wat jou ouers is nie. Maar my ouers dink ongelukkig anders oor die saak en om hul onthalwe is ek verplig om ons verlowing te verbreek.” Hy kom stadig orent en kyk haar aan met somber, hartseer oë. “Jy is die mooiste en liefste meisie wat ek ken en ek sal jou altyd bemin, Lynne. Eendag, wanneer jou onbekende herkoms nie meer vir my ouers saak maak nie, sal ek jou weer kom vra om met my te trou.”

Lynne haal Carl se ring van haar vinger af, kom self orent en laat die ring in sy baadjie se sak val. “Ek sal jou nie aanraai om vir my te wag nie, Carl,” verseker sy hom baie ernstig. “My vriende sal van nou af bestaan uit mense wat my vriende wil wees oor wie ek is en nie oor wie my ouers is nie. In my lewe sal daar nooit weer plek wees vir mooiweersvriende nie, dit verseker ek jou. Aangesien jy op die punt staan om te vertrek en ek nog baie werk het om af te handel, sê ek dan maar tot siens, Carl . . . Soek gerus vir jou ’n ander lewensmaat.”

Sy wag totdat hy die voordeur agter hom toetrek, begeef haar dan na haar slaapkamer en wil haar net oorgee aan moedelose, hartseer trane toe die huishulp vir haar kom sê dat sy besoekers het. Sy besef dat sy nog baie na Carl sal verlang, maar sy weet ook dat harde werk uitstekende terapie vir ’n seer gemoed is.

Lynne is aangenaam verras toe sy Janet en dié se verloofde, Thys, in die groot sitkamer aantref. Sy groet haar twee vriende en dan neem hulle plaas in ’n gesellige hoekie op sagte leunstoele om ’n lae, ronde tafel.

“Carl het nou net vertrek,” vertel Lynne. “Hy het ons verlowing beëindig, glo om sy ouers se onthalwe.”

“As hy so ’n lamsak is om jul verlowing om sy ouers se onthalwe te verbreek, is jy baie beslis beter daaraan toe sonder hom, Lynne,” verseker Thys haar baie ernstig. “Die keuse van ’n man se lewensmaat berus myns insiens uitsluitlik by homself en nie by sy ouers nie. Dis hý wat saam met haar moet leef, nie sy ouers nie.”

“Ek stem volkome saam met Thys,” kom dit van Janet. “Ek sou nooit kon droom dat die Humans hul rug op jou sou keer nie, Lynne. Goeiste, na al die jare wat hulle jou ken, behoort hulle te weet dat jy in alle opsigte ’n edel mens is . . .”

“Ek vrees dit beteken niks nie,” help Lynne haar verleë reg. “Die Humans, benewens Jenny natuurlik, meen dat ek nie meer van dieselfde stand as hulle is nie en dus nie meer by hulle inpas nie. Ek is bly dat ek darem nog vir julle twee, oom Nico en Jenny as vriende het,” sê Lynne met opregte waardering. “Ek weet nog nie wat Maandag op die kampus vir my wag nie. Maar een ding is seker: ek sal nie toelaat dat ’n klomp snobs my lewe versuur of my lewensideaal in die wiele ry nie. Ek is vasbeslote om die eindeksamens met lof te slaag, want volgende jaar is my laaste jaar op universiteit.”

Hierna gesels hulle oor Lynne se erfenis, haar nuwe tuiste en die meubels waarmee sy haar woonstel gaan meubileer, totdat dit tyd is vir Janet en Thys om te vertrek.

Toe Lynne later, gereed om te gaan slaap, haar blink rooibruin hare voor die spieël sit en borsel, staar sy diep ingedagte na haar eie gesig wat glo die ewebeeld van haar onbekende ma is. Sy wonder wie haar onverantwoordelike ma werklik is; of sy uit swakheid oor die tou getrap het of moontlik ’n vrou van losse sedes is. Sy wonder ook of haar onbekende ma nog lewe en of sy toe ’n operasangeres geword het. En indien wel, wat en waar sing sy?

Lynne voel op die oomblik soos ’n lewende vraagteken, maar sy is vasbeslote om antwoorde op al haar vrae te vind.

Lynne is ’n wetenskapmens en dra nie eintlik kennis van sangers nie. Tog het sy nog nooit gehoor van ’n Suid-Afrikaanse sangers met rooibruin hare en groen oë wat soos sy lyk nie. Sy het trouens ook nog nooit so ’n sangeres op televisie gesien nie.

’n Lang ruk sit sy daar voor die spieël oor hierdie vrae en peins, toe besluit sy eindelik om gedurende die Desember­vakansie na Katbos te gaan. Miskien kan sy daar leidrade oor haar ma opspoor. Daar is tog seker mense wat die meisie na drie en twintig jaar sal onthou, dink Lynne, en ’n lang gaap oorval haar.

Sy staan van die bankie af op en gaan klim in die bed, want die dag wat voorlê, gaan beslis weer bedrywig wees.

Nico en Jenny is reeds by die woonstel toe Lynne die volgende oggend saam met die vragmotor daar opdaag. Sy is baie lief vir haar oom Nico en is bly toe sy hom en Jenny daar aantref.

“Ek en Jenny het kom kyk of ons jou met iets kan help, my kind,” groet Nico haar terwyl hy haar ondersoekend aankyk. Hy het ’n baie teer, vaderlike gevoel vir die mooi, stil Lynne en wens hy kan haar help om haar eie ouers op te spoor. Hy is daarvan oortuig dat daar iewers in haar familie ’n weten­skaplike moet wees, of was, van wie sy haar voorliefde vir die wetenskap geërf het.

“O, dankie tog! Ek sal vreeslik bly wees as oom Nico toesig sal hou terwyl hulle die meubels aflaai. Ek is so bang hulle krap of beskadig dit. Ek en Jenny sal binnekant toesig hou en sommer ook seker maak dat elke meubelstuk na die regte plek geneem word,” sê Lynne dankbaar.

Met Nico, Jenny en die twee huishulpe se hulp vorder alles baie fluks en kort voor middagete is al die meubels afgelaai en kan die vragmotor vertrek.

Toe Nico merk dat sy hulp nie langer nodig is nie, belowe hy Lynne om dikwels in te loer totdat daar ’n telefoon geïnstalleer is. Met hierdie belofte groet en vertrek hy ook.

Lynne en Jenny werk die res van die dag fluks. En toe Lynne daardie aand in die bed klim, is haar tuiste netjies en aan die kant. Sara, wat ongeveer dertig jaar in haar aanneemouers se diens was, het ingestem om heeltyds in haar diens te tree. Sy sal dus van die volgende dag af weer die drade van haar lewe kan optel waar sy dit die dag met haar aanneemouers se heengaan laat lê het.

Met Lynne se aankoms by die universiteit die volgende oggend is sy dadelik bewus van die verandering by sommige van haar medestudente. Party ignoreer haar ooglopend, ander kyk haar weer kil en uit die hoogte aan. Maar ses van haar vriende toon openlik dat wat daar ook al van Lynne op die kampus gesê word, hulle altyd haar vriende sal bly.

Hierdie vriendelike houding van Maryna, Astrid, Chris, Kurt, Ewald en Johan is vir haar inderdaad ’n riem onder die hart. Die res ignoreer sy openlik en sy steur haar nie in die minste aan wat hulle agter haar rug fluister nie.

Jenny, Janet en Nico besoek Lynne gedurende die volgende maand baie gereeld. Toe word haar telefoon eindelik geïnstalleer en dit voel nie langer vir haar asof sy van die buitewêreld afgesny is nie. Nou kan sy haar oom darem bel indien ’n probleem sou opduik.

Dit is Saterdag en Lynne is net besig om haar elfuurtee te maak toe Jenny haar opwagting maak.

“Gaan sit solank, ek bring nou vir ons tee,” nooi Lynne en verdwyn in die rigting van die kombuis. “Kyk net na die mooi Persiese mat teen die muur wat oom Nico vir my gegee het,” sê sy deur die groot halfmaanvormige diensluik.

Jenny neem plaas en spreek haar bewondering oor die mat sonder veel entoesiasme uit.

’n Kort stilte heers in die woonkamer en dit dwing Lynne om te sê: “Dit voel vir my asof jy iets op die hart het, Jenny. Toe, uit daarmee. Ek luister.”

“Ek het nie iets op die hart nie, my ou maat, ek voel die duiwel én die hoenders in,” sê die blonde Jenny met die blou oë wat vuur spoeg. “Dis daardie Marie-skepsel,” gaan sy bitter verontwaardig voort. “Bid jou aan, sy het die vermetelheid om my gistermiddag op kantoor te skakel uitsluitlik om te hoor of Carl al jul verlowing verbreek het.”

“Ek veronderstel jy het vir haar gesê dat Carl ons verlowing al ’n maand gelede verbreek het . . .” sê Lynne.

“Nee, ek het nie,” help Jenny haar reg. “Ek het vir haar gesê ek is besig en ek weet niks nie. Sy moet vir jou of vir Carl vra.”

“Dit verbaas my dat sy dit nou nog nie weet nie,” sê Lynne.

“Niemand weet dit nie, behalwe jy en ons gesin, en ek glo nie sy sal dit waag om my ma oor jul verlowing uit te vra nie . . . of weet haar pa ook dat julle nie meer verloof is nie?”

“Oom Nico het my nog nooit daarna uitgevra nie, maar hy het bepaald al gemerk dat ek nie meer Carl se ring dra nie,” meen Lynne. “Janet weet, maar sy sal nooit vir Marie vertel nie.”

“Wel, dit is duidelik dat haar pa haar nie vertel het nie. Maar ek het jou nie vanoggend besoek om oor daardie hekse­ketel te gesels nie, Lynne. My kollegas gee vanaand ’n kaas-en-wyn-partytjie en ek mag vriende saamnooi. Ons moet net vir jou ’n maat vir die aand kry, want na die partytjie gaan ons almal skaats.” Jenny is op die redaksie van ’n gewilde vroue­tydskrif.

“Dit klink na aangename afleiding,” sê Lynne glimlaggend. “Ek hoop net nie die skaatsbaan is so vol dat ’n mens jou nie kan draai nie.”

“Ons hoop maar vir die beste,” sê Jenny, sit haar leë koppie op die tafeltjie langs haar neer, en wil dan belangstellend weet: “Wie gaan jou maat wees, Lynne?”

Lynne haal haar skouers liggies op. “Ek sal hoor of Kurt vanaand vry is. Hy is een van my medestudente en soos jy weet, is dit amper bloktyd vir die eindeksamen.”

“Nou goed, bel hom eers sodat ek kan weet of hy vanaand vry is en of ek self vir jou ’n maat moet kry,” spoor Jenny haar aan. “Die drag is informeel.”

Kurt is gelukkig vry. Hy willig ook sommer dadelik in en voel gevlei om die pragtige rooikop na ’n partytjie te vergesel.

“Pragtig!” roep Jenny vrolik uit. “Julle twee moet net nie vanaand die wêreld se wetenskaplike probleme probeer oplos nie. Ek wil hê jy moet die aand geniet, Lynne.”

Hulle spreek af hoe laat Lynne en Kurt dié aand by hul bestemming moet wees, toe groet en vertrek Jenny.

Soos al die ander, is Lynne en Kurt daardie aand ook in slenterdrag geklee. Die partytjie is gesellig en informeel. Lynne en Kurt word aan almal voorgestel en die tydskrif se personeel lag en gesels met hulle asof hulle mekaar jare al ken.

Tienuur kondig iemand aan dat dit tyd is om na die skaatsbaan te vertrek. Almal stem hiermee saam en na ’n rukkie is die vrolike groepie onderweg na die skaatsbaan.

Daar is gelukkig nie baie mense op die baan toe Lynne-hulle daar opdaag nie. Met haar skraal hand in dié van Kurt, ’n lang swartkopman, skaats hulle een keer om die baan en sluit dan weer by Jenny en haar vriend, Ryno van Blerk, aan.

Marie het Lynne dadelik opgemerk met hul aankoms en haar heimlik daarin verlustig omdat sý vanaand Carl se maat is en nie meer Lynne nie. Sy is al van kindsbeen af smoorverlief op die aantreklike Carl en dit het haar hart gebreek toe hy haar destyds so doelbewus geïgnoreer en aan Lynne verloof geraak het.

Maar vanaand is die bordjies verhang. Van vanaand af gaan sy alles in die stryd werp om Carl vir haarself te wen. Nadat Jenny haar die vorige middag so kortaf oor die telefoon behandel het, het sy haar ma gesoebat om vir haar uit te vis of Carl nog aan Lynne verloof is. Daarna het sy Carl se kantoornommer geskakel en hom genooi om saam met haar en ’n paar vriende te kom skaats. Hy was aanvanklik baie onwillig, maar met ’n groot gesukkel en baie geduld het sy eindelik daarin geslaag om hom oor te haal. En nou kraai sy koning oor Lynne.

“Ek sien daardie addertand is ook hier en dit nogal saam met my broer,” hoor Lynne vir Jenny fluisterend en onthuts sê.

“Ek sal jou aanraai om liewer die hele aangeleentheid te vergeet, my ou maat,” keer Lynne haastig toe sy sien hoe doelbewus Carl en Marie in hul rigting skaats. “Jou broer het al die reg in die wêreld om saam met haar te kom skaats, ons is mos nie meer verloof nie.”

“Ek hoop hy bedoel dit nie ernstig met haar nie, want ek sal haar nooit as ’n skoonsuster aanvaar nie. Haar tong is gans te giftig.” Jenny draai na Ryno en Kurt en roep vrolik uit: “Kom ons jaag resies om die baan!”

’n Ergerlike frons verskyn tussen Carl se ligbruin wenkbroue toe hy sien hoe vrolik Lynne en die groot donkerkopman van hom af wegskaats. Hy kyk hulle agterna en dit voel asof sy hart wil breek. Hy besef dat hy ’n gek was om hul verlowing te verbreek net omdat sy ouers dit so wou hê. Dit is nou maar eers ’n maand sedert hy hul verlowing verbreek het en sy het al klaar ’n ander vriend in sy plek. Hy stuur Marie werktuiglik na die kant van die baan, waar hy saam met sy suster se vriende op die uitslag van die resies wag.

Marie merk die wrewelrige frons op Carl se voorkop, hoe sy blik op Lynne bly en elke beweging van haar en die lang, donker kêrel met misnoeë volg.

Onkeerbare jaloesie skroei deur Marie toe die besef tot haar deurdring dat Carl vir Lynne wag. Hy het wel hul verlowing verbreek, maar sy hart behoort nog steeds aan Lynne. Sy besef ook dat haar skinderveldtog teen Lynne haar nie juis veel gebaat het nie.

Ryno en Kurt klop die twee meisies, wat hulle skoon uitasem, maar ook vrolik en laggend by hul vriende aansluit.

“Dis omdat hulle mans is. Hulle het meer stamina as ons,” som Lynne die twee mans se oorwinning op. Die volgende oomblik voel sy hoe ’n besitlike arm om haar skouers gaan en haar doelbewus na die middel van die baan toe stuur. Sy kyk glimlaggend op en dan verstar haar glimlag toe sy sien dat dit Carl is wat so eiegeregtig optree asof hulle nog steeds verloof is. Sy dink weer aan die rede waarom hy hul verlowing beëindig het en voel opnuut seergemaak.

“Ek glo nie dit is goed vir jul sosiale aansien om saam met my te skaats of gesien te word nie, Carl,” vermaan sy hom en verwyder sy arm summier van haar skouers af.

“Ek wil graag met jou praat,” begin Carl, maar Lynne gee hom nie kans om meer te sê nie.

“Daar is heeltemal niks wat ons vir mekaar kan sê nie, Carl,” verseker sy hom met ’n geslote gesig. “Die meeste van julle beskou my as ’n uitgeworpene, maar ek kom baie goed sonder jul sogenaamde vriendskap klaar. Jy moet liewer teruggaan na jou nuwe vriendin . . .”

“My . . . nuwe vriendin?” Hy kyk haar verward aan.

“Ja, Marie.” Sy maak ’n wye draai en keer alleen terug na waar Kurt vir haar wag.

Jenny en Ryno sluit hulle by Lynne en Kurt aan en saam skaats hulle om die baan.

Lynne ignoreer Carl en Marie die res van die aand asof hulle nie bestaan nie. Maar hiermee is Carl nie gediend nie en hy probeer die hele tyd om so na aan Lynne te bly as wat hy moontlik kan – ’n toedrag van sake wat Marie se afguns en jaloesie aanvuur en haar dryf om ’n einde aan die situasie te maak.

Marie besluit om ’n hoofpyn te veins, maar die noodlot besluit anders. Sy wou Carl net vra om haar liewer huis toe te neem, toe haar een voet swik en sy hard met die ys kennis maak. Lynne en Jenny steur hulle nie aan haar val nie, maar Carl help haar vinnig orent.

Lynne merk terloops op dat een van die kêrels wie se werk dit is om oor die toeskouers toesig te hou, reeds besig is om Marie se enkel te verbind en Carl daarna bystaan om haar na sy motor te neem.

“Ek wonder of Marie se enkel ernstig beseer is,” spreek Lynne ’n terloopse gedagte hardop uit.

“Ek sal my nie eens oor haar bekommer as ek jy is nie,” laat Jenny ongeërg hoor. “Sy het jou byna die hele aand met haat en afguns aangegluur. As haar oë swaarde was, sê ek jou, was jy lankal deurboor!”

“O, ek bekommer my hoegenaamd nie oor haar nie,” sê Lynne geamuseer. “Ek het haar en haar ma, en ook al die ander wat my nie meer wil ken nie, lankal afgesweer.”

Lynne geniet die aand se pret terdeë en is redelik moeg toe Kurt twaalfuur die aand by haar voordeur van haar afskeid neem.

Aangesien dit die volgende dag Sondag is, besluit Lynne om laat te slaap. Maar hierdie voorreg word haar ontsê toe die telefoon haar nege-uur die oggend wakker lui.

Met geslote oë tel sy die gehoorbuis op en sê met ’n slaapbenewelde stem: “Lynne Steenberg.”

“Esther Steenberg hier! Ek verstaan jy was ook gisteraand by die skaatsbaan toe Marie se enkel beseer is?” hoor Lynne haar tante met ’n kil stem sê-vra. Dit is die eerste keer dat sy met Lynne praat sedert die dag na haar aanneemouers se begrafnis.

“Ja, ek was saam met Jenny en ’n paar ander vriende –”

“So, dan was jy daar en jy het nie eens die ordentlikheid om my beseerde kind by te staan nie,” val Esther haar beskuldigend in die rede. “Sy kon dodelik beseer gewees het en jy sou natuurlik nie ’n vinger verroer het om haar te help nie.”

“Verskoon my, tant Esther, maar jy en jou liewe Marie gaan my nie in die minste aan nie,” kap Lynne nou verontwaardig terug. “Ná jou en Marie se skinderveldtog teen my is dit uiters vermetel en naïef van jou om nog te verwag dat ek haar moes bystaan. As dit Janet of oom Nico was, sou ek hulle met liefde bygestaan het. Maar dit sluit nie vir jou en Marie in nie. Onthou, ’n mens maai net wat jy saai. En moet my asseblief nie weer oor sulke onsin pla nie. Marie het nie my hulp nodig gehad nie . . . Tot siens, tant Esther.”

Lynne sit die gehoorbuis terug op die mikkie sonder om Esther die geleentheid te gee om meer te sê. Sy draai om en raak weer dadelik aan die slaap.

Skemeruur

Подняться наверх