Читать книгу Winde van herinnering - Susanna M Lingua - Страница 3
1
ОглавлениеDaar is ’n ligte frons tussen Thea Strassheim se ligbruin wenkbroue toe sy van die werk af kom en die voordeur gesluit vind. Sy loop om die huis en tref hul bejaarde weduwee-buurvrou, tant Rina Botha, in die kombuis aan, besig om vir Thea aandete voor te berei.
Sy groet die ouer vrou en sê besorg: “As tannie hier so doenig is in ons kombuis, beteken dit natuurlik dat my ma ongesteld is.”
“Jou ma is ’n halfuur gelede hospitaal toe, Thea,” lig die buurvrou haar ontsteld in. “Ek het na jou werk toe gebel, maar jy was reeds op pad huis toe. Sy was besig om blomme voor die huis nat te spuit toe sy sonder waarskuwing inmekaarsak. Ek het die dokter hier onder op die hoek ontbied en hy sê jou ma het ’n aanval van beroerte gehad – dit oorval ’n mens glo soms so onverhoeds. Hy het toe dadelik die ambulans ontbied om jou ma hospitaal toe te bring.”
“Dan sal ek nou dadelik hospitaal toe moet gaan –” begin Thea geskok en diep bekommerd.
“Nee wat, wag maar eers,” val die ander vrou haar in die rede. “Hulle sal jou in elk geval nie toelaat om jou ma voor besoektyd te sien nie.”
“Dit is baie vriendelik van jou, tannie Rina, om al hierdie moeite vir my en my ma te doen,” bedank Thea haar met ’n stem wat wil-wil breek.
“Ek doen dit uitsluitlik vir jóú, Thea, nie vir jou ma nie,” help die buurvrou haar dadelik reg. “Jou ma verdien dit nie om so ’n liewe dogter soos jy te hê nie, my kind. Ons weet almal hoe liefdeloos en stief sy jou behandel . . .” Dit tref haar meteens hoe seer haar woorde die meisie moet maak. “Ek is jammer,” sê sy boetvaardig, “ek moes dit nie gesê het nie. Maar eerlikwaar, ons wonder almal waarom jy nog by haar bly.”
“Sy is my ma en ek is lief vir haar, tannie Rina,” sê Thea met trane in haar stem. Sy weet dit is alles waar wat die dierbare vrou sê en sy het ook geen verskoning vir haar ma nie, daarom vervolg sy haastig: “Verskoon my, asseblief, ek wil net . . . net gou my hande gaan was.”
Dit duur etlike minute voordat Thea haar hartseer en trane so beheers dat sy weer haar verskyning in die kombuis kan maak. Sy nooi tant Rina om saam met haar te eet. ’n Rukkie later gaan pluk sy blomme in die tuin en maak vir haar ma ’n pragtige ruiker.
Dit is stil in die motor terwyl hulle op pad is na die hospitaal. Thea se hart is vol kommer oor haar ma en tant Rina dink weer vanuit ’n ander perspektief aan Lena Strassheim. Die vrou het haar al die jare van haar bure afgesonder sodat sy vandag nie ’n enkele vriend in die ganse Durban het nie.
Rina Botha voel heimlik verlig toe hulle die pasiënt aan die slaap vind. Thea voel egter diep bekommerd, want haar ma lyk vir haar meteens baie ouer as vyftig en boonop duidelik moeg en uitgeput.
Thea staan nog met die blomme in haar hande toe ’n verpleegster die saal binnekom en haar ma se polsslag neem. Sy sit die ruiker versigtig op die bedkassie neer en wag totdat die verpleegster haar taak afgehandel het voordat sy met ’n bekommerde stem vra: “Kan jy my asseblief sê hoe dit met my ma gaan, juffrou?”
“In die omstandighede goed, juffrou Strassheim,” hoor sy die verpleegster sê. “Haar polsslag is bevredigend.” Sy sê vir Thea vriendelik nag en verlaat die saal voordat die meisie nog vrae kan vra.
Thea kyk die jong verpleegster met ’n ligte frons agterna en sê ietwat verward aan hul buurvrou: “Die verpleegster gee so haastig uit die saal pad, dit lyk byna of sy bang is om my vrae te beantwoord, tannie Rina.”
“Ek stel voor dat jy môreoggend die saalsuster by die hospitaal bel en vra om met die dokter te praat wat jou ma behandel,” doen die ander vrou aan die hand. “Net hy of die saalsuster sal jou presies kan sê hoe dit met jou ma gesteld is.”
“Dankie, ek sal sommer môreoggend van die kantoor af bel,” sê Thea. “Ek sal seker my ouma Strassheim ook in kennis moet stel dat my ma in die hospitaal is.”
Hulle vertoef langs die slapende pasiënt se bed totdat die besoektyd verstryk. Thea is merkbaar stil toe hulle huis toe ry en tant Rina besluit om haar vir eers alleen te laat met haar gedagtes. Sy voel baie bekommerd oor die jong meisie wat nou heeltemal alleen is en besluit dat Thea liewer saans by haar in die huis moet kom slaap totdat haar ma weer tuis is.
Dit is vir Thea egter nie nodig om langer as een nag by tannie Rina te gaan slaap nie, want toe haar ouma die volgende oggend hoor dat Lena haar in die hospitaal bevind, haas sy haar na haar kleindogter toe.
Daar is ’n ligte frons tussen Thea se mooi geboogde wenkbroue toe sy die aand haar ma se bed nader en merk dat daar nie ’n teken is van die blomme wat sy die vorige aand vir haar gebring het, of van die vrugtemandjie wat sy laat aflewer het nie. Sy sit die tas langs die bed neer en merk dat haar ma wakker is.
Thea groet haar ma besorg. “Hoe gaan dit vandag, Ma?”
“Ek glo nie jy stel werklik belang nie. Het jy vir my skoon slaapklere gebring?” vra die ander vrou kortaf en onverskillig sonder om eens na Thea te kyk.
Thea is al gewoond daaraan om voortdurend deur haar ma afgejak te word en tog maak haar onverskilligheid haar diep seer. As sy maar net weet waarom haar ma haar so stief behandel – al van kindsbeen af – sal sy moontlik verstaan en haar daarin kan berus. Maar haar ma se gevoellose afsydigheid kon sy nog nooit verstaan nie en daarom het sy ook nog nooit opgehou om by haar moederliefde te soek nie.
Thea sit die tas op die stoel langs die bed neer. Sy kyk die siek vrou met hartseer oë aan en sê sag: “Ek is en was nog altyd lief vir jou, Mammie, daarom stel ek opreg belang in jou gesondheid –”
“Toemaar, ek het nie nou lus vir ’n gesanik nie,” val sy Thea effens ongeduldig in die rede. “Sit maar die slaapklere wat jy gebring het in die bedkassie en moet asseblief nie weer vir my blomme, vrugte of enigiets stuur nie.”
Thea kyk haar ma ’n paar sekondes hartseer en verslae aan. Dan gaan sit sy gehurk voor die bedkassie en pak haar ma se slaapklere weg. Haar oë brand van trane wat vlak lê. Haar ma het intussen aan die slaap geraak.
Thea tuur lank na die mooi, slapende gesig van haar ma. Haar blik dwaal deur die vertrek en sy merk dat die blomme en vrugte wat sy vir haar ma laat aflewer het, voor ’n ander pasiënt se bed pryk. Sy voel meteens weer diep seergemaak omdat haar liefdesblyke so onverskillig en harteloos van die hand gewys word. Sy kan nie onthou dat haar ma al ooit ’n liefdesblykie van haar gewaardeer of verwelkom het nie.
Die gelui van ’n klokkie dring meteens deur Thea se ongelukkige gedagtes en sy besef dat besoektyd verstryk het. Sy soen die slapende vrou op die wang en verlaat die hospitaal stil, afgetrokke en diep ongelukkig.
Thea is bly om haar ouma met haar tuiskoms nog wakker te vind. Sy het haar ouma Strassheim so lanklaas gesien dat sy al vergeet het wat ’n lieftallige mens sy is.
Na die afsterwe van Thea se pa kon ouma Strassheim en haar skoondogter, Lena, nooit weer langs een vuur sit nie. Lena het die driejarige Thea aanspreeklik gehou vir haar pa se dood en haar summier aan die kind onttrek. Almal het aanvanklik gemeen dat Lena se hartelose optrede slegs aan skok te wyte was, maar namate die weke maande geword het, moes die ou dame tot die ontnugterende besef kom dat Lena gevoelloos geword het en geen liefde meer vir haar kind koester nie. En nou, na al die jare, merk sy aan die hartseer in Thea se oë dat Lena nog niks verander het ten opsigte van haar kind nie.
“Gaan dit darem beter met jou ma?” vra Thea se ouma terwyl sy vir haar tee skink.
“Die verpleegster sê dit gaan goed en Ma se polsslag is glo bevredigend. Maar ek dink hulle sê dit maar net om my tevrede te stel, want vir my lyk dit glad nie of haar toestand verbeter het nie, Oumie.”
Thea se gedagtes is die volgende dag beurtelings by haar werk en by haar ma. Sy het reeds besluit om haar ma se wens te eerbiedig, dus gaan sy en haar ouma daardie aand met leë hande hospitaal toe.
“Ek hoop my ma is wakker sodat Ouma haar kan groet, want sy het gister- en eergisteraand feitlik heeltyd geslaap toe ek haar besoek het,” sê Thea toe hulle die hospitaal binnestap. Hierop sê die ouer vrou niks nie, maar sy wonder in haar enigheid of Lena regtig geslaap het of net gemaak het asof sy slaap.
Lena lê afgetrokke na die plafon en staar toe Thea en ouma Strassheim hul opwagting maak. Sy groet hulle net kortaf, sluit haar oë en sê nie weer ’n woord nie.
Die ouer vrou merk die kommer en hartseer op Thea se gesig toe sy met ’n sagte stem sê: “Mamma is natuurlik uiters swak. Daarom dat sy so baie slaap.”
Daar is meteens ’n harde trek om haar ouma se mond toe sy met ingehoue ergernis sê: “Jou ma slaap nie, my kind. Sy maak maar of sy slaap in die hoop dat ons huis toe sal gaan.”
Die jong meisie kyk haar ouma verward aan en vra effens verwese: “Waarom sal my ma wil hê ons moet huis toe gaan, Oumie?”
“Omdat sy ’n verbitterde mens is – galbitter omdat die lewe haar in ’n vorm gedruk het waarmee sy haar nie kon vereenselwig nie. Laat ons liewer gaan, ek sal jou alles by die huis vertel,” stel haar ouma voor.
“Maar die besoektyd is nog nie verstreke nie, Oumie . . .” begin Thea, duidelik onwillig om haar ma nou al te verlaat.
Ouma Strassheim se stem is egter vol simpatie toe sy Thea saggies reghelp: “Ek sien geen sin daarin om na ’n sieke te staan en kyk wat met haar toe oë lê en ons besoek opsetlik ignoreer nie, my kind. Jou ma het jou nie eens kans gegee om te vra hoe dit met haar gaan nie. Dit wys jou net hoe min sy jou besoeke waardeer. Sê vir haar tot siens en laat ons loop.”
Thea merk dat sy vasberade is om te gaan, daarom soen sy haar ma haastig op die voorkop en volg haar ouma wat reeds die siekesaal verlaat het.
Albei is stil terwyl hulle huis toe ry. Die ouer vrou se hart is vol liefde en medelye vir haar kleindogter wat die afgelope twintig jaar nog geen liefde van haar ma ontvang het nie, en Thea wonder weer wat haar ouma haar van haar ma wil vertel. Noudat sy daaraan dink, tref dit haar dat sy inderdaad baie min van haar ouers af weet. Al wat sy weet, is dat haar pa oorlede is toe sy nog baie klein was. Maar waaraan, weet sy nie, want haar ma het haar nooit die geleentheid gegee om vrae oor sy dood te vra nie. Trouens, sy kan nie onthou dat haar ma al ooit ’n vriendelike gesprek met haar gevoer het nie.
Met hul tuiskoms maak Thea gou vir hulle tee, en toe hulle eindelik die tee rustig in die sitkamer geniet, vra sy met ’n kalmte wat sy glad nie voel nie: “Wat is dit wat Oumie my nie in die hospitaal kon vertel nie? Ek veronderstel dit het betrekking op my ma.”
“Ja, dit het, en dit gaan ook oor jou pa se dood,” sê die ouer vrou met haar kenmerkende bedaardheid.
Thea neem die leë teekoppie by haar ouma en sit dit langs haar op ’n tafeltjie neer.
“Dit het alles begin toe jy drie jaar oud was, my kind. Jou oupa het nog geleef en julle het vir ons op die plaas kom kuier. Jy was baie lief vir die plaasdiere en het gewoonlik deur die kraalhek gekruip om met die lammertjies te speel. As ons maar geweet het waartoe dit sou lei, sou jou oupa nooit sy stoetbul daardie middag in die skaapkraal laat jaag het nie.”
Thea staar haar grootoog aan.
“Maar nou ja, nie een het daaraan gedink dat jy deur die kraalhek sou kruip om die bul van naderby te beskou nie. Ons het almal langs die kraalmuur gestaan om jou oupa se nuwe bul te bewonder. Die bul was boosaardig en rusteloos en jou oupa het besef dat hy die dier agter stewige doringdraad sou moes hou, want dit sou te gevaarlik gewees het om hom in die veld te laat loop.” Haar ouma bly ’n oomblik stil, asof die herinnering meteens vir haar te intens raak.
“En toe, Ouma?” vra Thea sag.
“In elk geval, jou oupa was nog besig om die nuwe bul se deugde te besing toe ons jou skielik in die kraal gewaar en sien hoe die verwoede dier gereed maak om jou te bestorm. Jou ma het begin gil en so deur die skok en verwardheid het ek gesien hoe jou oupa huis toe hardloop om sy geweer te gaan haal en hoe jou pa oor die kraalmuur spring, jou voor die verwoede bul opraap en veilig op die kraalmuur neersit. Maar daar was nie tyd vir jou pa om self veiligheid te bereik nie.”
“O nee . . .” sug Thea, asof die versugting die verloop van die tragedie kan omkeer.
“Alles het so vinnig gebeur. Toe jou oupa na ’n paar minute met sy geweer daar aankom, was jou pa reeds dood. Jou ma was skoon histeries en het so onbeheers teen jou uitgevaar dat ek later verplig was om haar ’n paar harde klappe te gee. Daarna het sy tot besinning gekom, maar haar heeltemal aan jou onttrek en soos ’n vreemdeling teenoor jou opgetree. Jou oupa het die bul summier doodgeskiet, maar hy het homself voortdurend verwyt omdat hy so ’n boosaardige dier aangekoop het. Jou ma het daarna nooit weer haar voete op die plaas gesit nie en na jou oupa se dood het ek jou neef gevra om die boerdery oor te neem.”
“My ma hou my dus aanspreeklik vir my pa se dood. Sy verwyt my dus al die jare vir iets wat as gevolg van my kinderlike onskuld plaasgevind het,” sê Thea meer tot haarself.
“Ja, my kind, sy kon jou van daardie oomblik af nie verdra nie. Jou oupa, ek en jou tante het alles gedoen om haar te laat besef dat dit bloot ’n ongeluk was en nie jou skuld nie. Maar al ons verduidelikings het op dowe ore geval en ons moes magteloos toekyk hoe jy na moederliefde smag terwyl sy verder en verder van jou af wegdryf. Ek het jou ’n rukkie by ons op die plaas gehou, maar jy het so baie na jou ma verlang, jy was later heeltemal troosteloos. Toe moes ek jou maar terugneem.”
“Dit klink vir my asof die skok van my pa se dood my ma geestelik versteur het, Oumie,” kan Thea nie help om te sê nie, al maak dit haar bitter seer om so iets van haar ma te sê.
Maar die ouer vrou skud haar kop beslis. “Ons het ook eers so gedink, my kind. Jou oupa het selfs aangebied om haar na ’n sielkundige te neem. Maar sy het reguit vir ons gesê sy is nie mal nie, wat moet sy by ’n sielkundige gaan maak? In elk geval, dit is ’n lang storie, maar ons het wel later bevestiging gekry dat daar niks met haar verstand skort nie. Sy het jou uit die staanspoor beskuldig dat jy verantwoordelik was vir jou pa se dood en sy voel vandag nog steeds so oor daardie tragiese ongeluk. Nou weet jy waarom sy jou die afgelope twintig jaar so stief behandel het – en nog steeds gevoelloos teenoor haar eie kind staan.”
Thea bly ’n lang ruk stil terwyl sy afgetrokke in haar leë teekoppie staar. Toe sê sy eindelik met ’n stem wat moeg en hartseer klink: “Ek verstaan nou waarom sy die ruiker en vrugte wat ek vir haar gestuur het, vir die pasiënt langsaan gegee het . . . waarom sy niks van my wil hê en ook nie my besoeke kan veel nie. Maar ek het haar lief en ek sal haar aanhou besoek, Oumie, al wil sy my nie sien nie.”
“Dit staan jou vry om haar elke dag te besoek, my kind. Moet net nie verwag dat ek dieselfde moet doen nie. Ek is oud en sien nie kans om my tyd met besoeke aan so ’n ondankbare mens te verspil nie.”
Thea het die volgende oggend pas op kantoor gekom toe een van die hospitaalpersoneel haar in kennis stel dat haar ma ’n tweede aanval van beroerte gekry het en dat haar toestand sorgwekkend is. Met haar werkgewer se toestemming haas sy haar na die hospitaal. Maar sy is te laat, haar ma het pas voor haar aankoms gesterf.
’n Eindelose hartseer oorval die jong meisie terwyl sy na haar ma se mooi, stil gelaat kyk wat so kalm en rustig lyk in hierdie laaste slaap. Dit lyk vir haar asof die ontslapene eindelik rus gevind het vir haar vermoeide gees.
Warm trane stroom oor Thea se wange. Sy huil nie net omdat sy so bitter hartseer en eensaam voel nie, maar ook omdat sy nooit liefde van haar ma ontvang het nie.
Thea is so bleek, hartseer en uitgeput toe sy van die hospitaal af tuiskom dat haar ouma haar dadelik in die bed stop en hul huisdokter ontbied. Sy voel te moeg en geestelik uitgeput om teë te stribbel, dus laat sy haar ouma maar begaan. Miskien gee die dokter haar ’n slaapmiddel wat haar sal laat slaap en vergeet, want op dié oomblik is dit al wat sy begeer – rus en vergetelheid.
Thea lê met geslote oë toe die dokter die vertrek binnekom.
“Jy lyk vandag self soos ’n pasiënt, dokter,” hoor sy haar ouma besorg sê.
“Dis waar, tannie Strassheim, ek werk my oor ’n mik. Ek sal baie beslis vir my ’n vennoot moet kry.”
Die meisie is ineens daarvan bewus dat die dokter langs haar op die kant van die bed plaasneem en haar sorgvuldig ondersoek.
Na ’n rukkie hoor sy die geneesheer met verligting in sy stem sê: “In die omstandighede gedra jou hart hom gelukkig nie te sleg nie, maar ek sal graag weer jou nierfunksie wil toets, Thea.”
Die meisie se oë gaan traag oop. “Waarom wil jy my niere toets, dokter? Is daar fout met hulle, of is jy maar net oorbesorg?” wil sy met ’n effens onvaste stem weet.
Hul huisdokter kyk haar verbaas aan en lyk merkbaar ontsteld toe hy vra: “Het jou ma jou dan nooit vertel nie? Jy het ’n presistoliese geruis in die hart en chroniese glomerulonefritis van die niere. Swangerskap is dus taboe vir jou. Jy mag net doodeenvoudig nooit ’n baba hê nie.”
Thea skud haar kop hartseer en sê met ’n gebroke stem: “Ek weet nie wat al daardie groot woorde beteken nie, dokter, maar my ma het my nooit van hierdie dinge vertel nie. Ook nie van die feit dat ek nooit swanger mag word nie. Wat beteken dit alles en waarom mag ek nooit kinders hê nie, dokter?”
“’n Presistoliese geruis in die hart,” sê die lewenservare man voor haar met deernis in sy stem, “beteken dat daar ’n klep is wat lek, en dit het jy opgedoen weens rumatiekkoors toe jy ses jaar oud was. Die glomerulonefritis van die niere het jy opgedoen as gevolg van septiese mangels op vierjarige ouderdom, daarna die rumatiekkoors en toe weer ’n ernstige geval van masels twee jaar na die rumatiekkoors. Al hierdie kindersiektes het jou hart en niere so erg aangetas dat jy nooit die geboorte van ’n baba sal oorleef nie, Thea.”
Etlike minute nadat die dokter haar kamer verlaat het, lê Thea met nikssiende oë na die plafon en staar. Sy is nog effens bleek, maar lyk tog rustig – soos iemand wat stil geword het omdat die pyn van die lewe haar nie meer kan raak nie. Dan raak sy eindelik aan die slaap van die inspuiting wat die dokter haar voor sy vertrek toegedien het.
Ouma Strassheim se hart ween saam met die moedige Thea oor al die hartseer in haar kleindogter se lewe en wat sy moontlik nog sal moet verduur.
“Ek het alles vir die begrafnis gereël en ook met ’n prokureur onderhandel om die boedel te beredder,” sê Thea se ouma die volgende oggend aan die ontbyttafel. “Ons moet nog net in jou ma se slaapkamer gaan kyk of sy miskien ’n nuwe testament opgestel het. Die prokureur sê hy het reeds ’n koper vir die huis, dus stel ek voor dat jy jou diens by die skeepsmaatskappy opsê en by ons op die plaas kom bly.”
“Ek sal later daaroor besluit, Oumie. ’n Vriendin het my onlangs genooi om saam met haar en haar tweelingneefs met hul seiljag na Engeland te reis en ek het haar uitnodiging aangeneem,” verduidelik Thea sonder veel belangstelling.
“Maar is dit nie gevaarlik om so ver met ’n seiljag te gaan staan en rondrits nie, my kind?” wil die ouer vrou onrustig weet. “Wat maak julle as daar nie wind is vir die seile nie of dalk ’n storm oor die see opkom?”
“Ek verstaan hulle neem brandstof en ’n motor saam vir ’n noodgeval. Ester, my vriendin, se neefs is ervare seiljagvaarders wat al baie seemyle afgelê het.”
“Wel, ek dink nog jy waag baie om saam met hulle te gaan seil,” spreek haar ouma haar eerlike mening uit. “Wat gaan so ’n lang vaart jou nogal kos?”
“Al wat ek moet betaal, is my reiskaartjie terug huis toe. Ons is genooi om by Peter en Ron Harding se ouers te bly solank ons in Engeland vertoef en dit sal stellig nie langer as twee weke wees nie.”
Na ete gaan kyk hulle of die oorledene ’n nuwe testament laat opstel het. Thea verwelkom hierdie voorstel, maar om heeltemal ’n ander rede. Sy is oortuig daarvan dat sy wel iets in haar ma se kamer sal vind wat sal toon dat dié haar tog liefgehad het. Maar hulle soek elke laai, handsak en tas deur en kry niks nie, afgesien van ’n baba-album waaruit elke foto verwyder en middeldeur geskeur is. Die geskeurde foto’s was saam met die leë album in ’n tas.
Oumie het dus nie aangedik nie – sy kon my nooit verdra nie, dink Thea met ’n hart wat loodswaar en bitter seer voel. Die gedagte dat haar ma haar gehaat het omdat haar pa sy lewe vir haar veiligheid gegee het, laat Thea nou sterk twyfel of haar ma geestelik gesond kon gewees het. Maar dan val dit haar weer by dat ’n sielkundige haar ma wel as normaal gesertifiseer het en sy moet eindelik erken dat daar geen verskoning is vir haar ma se hartelose optrede nie.
Dit voel vir Thea asof sy nooit weer sal kan glimlag nie toe sy die ontslapene se kamer verlaat en na ’n verlate deel van die strand vlug. Sy neem op ’n rots plaas en tuur ver oor die see waar ’n paar wolkies stil op die gesigseinder lê. Daar is geen ander geluid nie – net die geruis van die see. Sy is alleen, soos wat sy nog altyd was en stellig ook altyd sal wees. Sy besef dat sy hier langs die strand baie drome sal moet begrawe – mooi toekomsdrome wat elke jong meisie heimlik koester, drome oor liefde en geluk wat haar nooit beskore sal wees nie. Trane rol oor Thea se wange terwyl sy aan haar eensame verlede en die leë, doellose toekoms dink.