Читать книгу Winde van herinnering - Susanna M Lingua - Страница 4

2

Оглавление

Thea lyk klein en eensaam waar sy op die perron staan en kyk hoe die Johannesburgse trein vertrek. Sy waai vir haar ouma totdat die trein buite sig is en keer dan terug na die leë, stil huis.

Haar ma is ’n week gelede begrawe en Thea het haar diens by die skeepsmaatskappy opgesê. Nou moet sy nog net die paar artikels uit die huis verwyder wat sy graag wil hou, dan kan sy haar tydelike intrek by die buurvrou neem en die huis se sleutel aan die prokureur oorhandig.

Vir Thea gaan die tyd nou vinnig verby en die dag van hul vertrek kom ook al nader. Almal gesels net oor die naderende seiljagvaart en die twee Harding-broers bring nou meer tyd by die kaai deur waar hulle die toerusting nagaan.

Die son is nog nie uit nie toe die vier jong mense die oggend van hul vertrek by die kaai aankom. Alles word in die jag gelaai en die reisigers voel opgewonde, want die weerburo voorspel geen stormwind die volgende vier en twintig uur nie. Alles is later ingelaai en die Seagull, met die seile nog vasgebind, wieg saggies op die water.

“Julle kan maar aan boord kom,” roep Ron die twee meisies.

Hulle groet Ester se ouers wat pas na hulle by die kaai aangekom het. Dan gaan al vier aan boord. Na ’n rukkie span die seile in die wind. Die ankertou word losgemaak en die Seagull seil statig uit die hawe in ’n suidelike rigting. Na etlike minute is die groot toringseil net ’n wit vlek teen die blou oseaan.

Hulle vaar met die weskus langs. Vir die twee meisies is die vaart ’n ware belewenis. Hulle help waar hulle kan en geniet dit baie om die vreemde hawens waar hulle vir brandstof, vars water en proviand aandoen, van die boot af te besigtig.

Walvisbaai is die laaste hawe waar die twee meisies aan wal gaan totdat hulle die Kanariese Eilande bereik. Daarna gaan hulle weer ’n paar uur by Madeira aan wal. Die weer is steeds in hul guns en die Seagull seil soos ’n swaan oor die golwe.

Maar toe hulle na sewe weke eindelik die Scilly-eilande naby Land’s End bereik, juig hulle van blydskap, want die Hardings se landgoed, Green Hill, is naby Dartmouth.

“Ek voel soos Columbus moes gevoel het toe hy Amerika se kuslyn in sig gekry het,” skerts Thea, maar neem haar heimlik voor om nooit weer so ’n lang seereis met ’n seiljag aan te durf nie. Sy smag na vaste land onder haar voete en na die geriewe waaraan sy gewoond is.

“H’m, jy sê jy voel soos Columbus. Wel, laat ek julle dit vertel, ek voel soos Jona moes gevoel het toe die walvis hom op droë grond uitgespoeg het,” lag Ester. “Die reis was aangenaam, maar net te lank.”

“In elk geval, julle meisies het ons geweldig baie gehelp,” laat Ron dankbaar hoor.

Die ouerpaar, David en Hilda Harding, is merkbaar verlig toe die vier jong mense eindelik veilig tuis is.

“Ron en Peter sal nog ons senuwees gedaan maak met daardie seiljag,” kla Hilda toe hulle later ’n ligte ete in die eetkamer nuttig. “Dit verbaas my dat jul ouers julle toegelaat het om saam te seil.”

“My ouers het eers seker gemaak dat Ron en Peter ervare seiljagvaarders is, tannie Hilda, en Thea se ouers is albei oorlede,” verduidelik Ester. “Ons het darem altyd binne sigafstand van Afrika se kus probeer bly.”

“Ons het ook baie vissersbote en plesierbote teëgekom,” vertel Thea. “En toe ons van Madeira af vertrek het, het ’n paar motorbote ons ’n hele ent vergesel.”

“Dis waar, die mense van Madeira het ons baie vriendelik ontvang,” glimlag Peter ondeund. “Trouens, hulle was so vriendelik, Ron wou eintlik een Portugese man se nek breek omdat hy vir Thea ogies gemaak het.”

“Moet jy altyd stuitig wees, Peter?” bestraf Ester hom kwaai toe sy merk hoe verleë Thea lyk. “Vertel liewer vir tannie Hilda hoe jy vir die Portugese señoritas ogies gemaak het en dat een se broer jóú nek wou omdraai.”

Die vier jong mense is vol grappies en kwinkslae, maar die ouerpaar kan sien dat hulle moeg is van die lang reis en al die ontberinge. Al vier kruip daardie aand baie vroeg in die bed.

Die twee meisies slaap tot elfuur die volgende oggend en sou bepaald nog later geslaap het as Peter en Ron nie opsetlik voor hul kamervensters kom skyfskiet het nie.

“Thea, hoor jy wat ek hoor?” dring Ester se stem tot Thea se slaapbenewelde verstand deur.

“Ja, dit klink asof iemand oorlog maak,” laat Thea met ’n slaperige stem hoor. Sy gaap lank en hartlik, kyk op haar polshorlosie en vervolg duidelik ontsteld terwyl sy haar bene van die bed afstoot: “O, kriek, ons moes lankal uit die vere gewees het. Weet jy dit is al oor elf?”

“Ek weier beslis om na ’n horlosie te kyk terwyl ek met vakansie is, my liewe Thea, en moet my asseblief nie weer aan die tyd herinner nie,” kla Ester met ’n slaperige stem.

“Nee, staan op, jong,” spoor Thea haar aan. “Ons kan onmoontlik hier in die bed lê terwyl jou tante al die werk moet doen –”

“Dit is presies waar jy ’n fout begaan,” val Ester haar in die rede en wikkel haar nog dieper onder die komberse in. “Hier woon ’n gesin op die landgoed wat met die huiswerk en die boerdery help. My oom is nogal taamlik welgesteld.”

“O, wel, ek gaan nou bad en aantrek,” sê Thea. “Ek is seker daar is die een of ander werkie waarmee ons jou tante kan help.”

“O, liewe tyd, ek het skoon vergeet my neefs wou vandag vir ons ’n paar ruïnes van ou kastele gaan wys het,” roep Ester ontsteld uit, nou helder wakker.

“Wel, as jy nie dieper in hul onguns wil kom nie, sal jy jou moet roer,” voeg Thea haar vriendin oor haar skouer toe terwyl sy in die rigting van die badkamer verdwyn.

Na ’n stortbad voel Thea heeltemal gereed vir die uitstappie wat die twee jong mans in gedagte het. Sy tref Ester, gebad en aangetrek, in die kamer aan, besig om haar gesig te grimeer.

“Ek sal solank gaan hoor of ’n mens darem nog hierdie tyd van die oggend ontbyt kan kry,” stel Ester voor. “Kom eetkamer toe sodra jy gereed is, Thea.”

Na ’n haastige ontbyt vertrek die vier jong mense met Ron se motor na die binneland.

Hulle ry verby talle klein plasies, etlike klein dorpies, elkeen met sy klipkerkie waarvan die spitstoring van ver af gesien kan word.

Dit is al byna vieruur toe hulle die ruïne van ’n kasteel bereik wat aan die begin van die vyftiende eeu gebou is en gedurende die Tweede Wêreldoorlog byna heeltemal vernietig is.

Terwyl die twee meisies in die bouval rondstap, gaan haal Ron en Peter die piekniekmandjie en reisdeken uit die motor en neem alles na die skaduryke boom wat ’n paar treë van die ruïne af staan.

“Ek sal die meisies gaan aansê om eers te kom eet voordat ons die ruïne besigtig,” bied Ron aan.

“Nou goed, gaan roep hulle maar,” glimlag Peter ondeund. “Moet net nie jou hart onherroeplik in Thea se pragtige blou oë verloor nie, my broer, want ek het ’n nare gevoel dat sy nie jou liefde gaan beantwoord nie.”

“So, en wat gee jou daardie nare gevoel, of moet ek glo dat jy nou ook aan vroulike intuïsie ly?” spot Ron liggies terwyl hy gemaklik teen die boom se skurwe stam leun.

“Nee, dit het niks met intuïsie te doen nie,” sê Peter nou ernstig. “Maar ek het haar goed dopgehou tydens ons seiljagvaart en ek kan jou verseker dat daar geen gevoel van liefde in haar hart is vir een van ons twee nie. Sy sluimer nog, my broer, en net die regte man sal haar uit haar sluimering wek, maar dit is nie ek of jy nie.”

“Maar sy is tog baie vriendelik . . .” begin Ron.

“O ja, sy is vriendelik. Maar vriendskap is nie liefde nie,” help Peter hom ernstig reg. “Ek wil nie hê jy moet seerkry nie, Ron. Ek en jy het daardie soort seerkry nog altyd vrygespring. Daarom herhaal ek: die pragtige, vlinderfyne Thea is nog nie gereed vir ’n man se liefde nie. Moet dus nie haar vriendskap met liefde verwar nie, want jy gaan bedroë daarvan afkom.”

“Nou goed, aangesien jy so ’n deskundige op die gebied van liefde en vroue is, moet jý hulle maar gaan roep. Ek wil so ’n bietjie dink oor dié dinge,” laat Ron merkbaar teleurgesteld hoor. Hy het so gehoop om Thea eendag sy vrou te maak. Sy het die weke tydens hul seiljagvaart baie diep in sy hart gekruip met haar mooi karakter, inherente rustigheid en besadigdheid. Sy is die ideale vrou vir hom en hy wil uit haar eie mond hoor wat haar gevoel vir hom is.

Hy hoor hoe hulle al geselsend nader kom. Dan skuif hy sy gedagtes op die agtergrond en sprei die reisdeken op die gras oop.

“’n Piekniek? Fantasties!” roep Ester uitbundig uit en vlei haar sorgeloos op die reisdeken neer. “Dis al wat ek nou nodig het – iets om my maag te vul. Hy skreeu al van die honger.”

“Ek dink ons voel almal honger genoeg om ’n bees te kan verslind,” laat Peter ook van hom hoor.

Terwyl hulle heerlik smul aan koue hoender, frikkadelle, vars broodrolletjies, plaasbotter en tuisgemaakte kaas, vertel Ron vir die twee meisies die geskiedenis van die kasteel wat nou nog net ’n ruïne is.

“Dit spook hier natuurlik ook vir die vale,” meen Ester tot almal se vermaak.

“Ja, ek hoor die mense sê dit spook hier partymaal sommer helder oordag,” laat Peter met ’n ondeunde glimlaggie hoor.

“Wel, ek het nog nooit ’n spook gesien nie en ek is ook nie begerig om een te sien nie. Dus kan ons maar weer ry sodra almal klaar geëet het,” stel Ester voor.

“Ek dink Peter steek nou sommer die draak met ons,” lag Thea. Sy het nog nooit gehoor van ’n spook wat helder oordag rondloop nie en sy ken Peter al as ’n terggees.

Nadat hulle klaar geëet het, pak hulle alles sorgvuldig in die motor en keer dan terug na die ruïne van die ou kasteel. Ron neem Thea se arm en lei haar na die ander kant van die bouval. Hy wys vir haar waar elke vertrek op die grondvlak nog duidelik herkenbaar is.

Thea is so ingedagte dat sy oor ’n los klip struikel en die volgende oomblik bevind sy haar in Ron se arms. Sy voel hoe onstuimig sy hart teen haar bors klop, hoe styf hy haar teen hom vasdruk. Sy kyk op, reg in Ron se grys oë wat haar met soveel teerheid aankyk dat sy oombliklik bewus is van sy liefde vir haar.

Sy weet dat hy iets gaan sê, sy liefde vir haar gaan verklaar. Daarom skud sy haar kop stadig, verward, en sê sag: “Nee, moet asseblief nie, Ron.”

“Maar ek het jou lief, Thea . . .” begin hy byna wanhopig.

Maar Thea druk die punte van haar vingers teen sy mond en skud haar kop met ’n trek van hartseer op haar pragtige gesig. “Ek durf geen man se liefde aanvaar nie, Ron. Ek mag nooit in my lewe trou nie,” vertel sy met weemoed in haar stem.

Die jong man kyk haar verslae aan en sê: “Ek verstaan nie. Waarom mag jy nie trou nie, Thea?”

“Wel . . . e . . . ek het ’n hartklep wat lek en my niere is so ernstig beskadig as gevolg van etlike kindersiektes dat die dokter my onlangs weer verseker het ek sal nooit die geboorte van ’n baba oorleef nie –”

“Baie getroude pare het nie kinders nie, my liewe Thea,” val hy haar ernstig in die rede.

Maar sy skud haar kop baie beslis. “Ek ken etlike getroude pare wat nooit ’n eie kind sal hê nie, Ron, en ek weet dat hulle glad nie so gelukkig is as wat ander mense dink nie.” Sy maak haar saggies los uit sy arms. “Ek het jou ook nie lief genoeg om met jou te trou nie. Ek hou baie van jou as vriend, maar nie as lewensmaat nie.”

Ron buk af en soen haar teer op haar voorkop. Dan sê hy met iets soos verdwaaldheid in sy stem: “Ek sal jou altyd liefhê, Thea, en ook altyd bly hoop dat jy my eendag lief genoeg sal hê om met my te trou.”

O, sy wens dat sy hom ook kan liefhê. Hy is so goed en vriendelik en bedagsaam en teer en . . . sommer net alles wat mooi is. Maar sy weet ook dat hierdie wensdenkery van haar sommer net ’n illusie is wat nooit werklikheid sal word nie. ’n Mens se hart is sy eie meester wat hom nie laat voorsê nie.

Na hierdie ongelukkige voorval is Thea en Ron so opvallend stil dat Ester later wil weet of hulle gestry het.

“Ek en Thea is nie die soort wat op argumente gedy soos jy nie, my liewe niggie,” antwoord Ron goedig. “Ons is maar net beïndruk deur die kasteel en die mense wat daarin gewoon het se geskiedenis.”

Ester kyk hom skepties aan, maar swyg wyslik. Sy kan sien dat daar iets tussen hom en Thea plaasgevind het, al probeer hy dit ook hoe goed verbloem.

“Ek dink ons het hierdie besigtigingstoer nou ver genoeg gevoer,” sê Ester na ’n paar minute beslis. “Die donker gaan ons netnou inhaal en ek wil nie in hierdie ou murasie wees as dit donker word nie. Ek begin al klaar kriewelrig voel as ek net daaraan dink.”

“Toemaar, ons gaan nou ry,” stel Peter haar gerus en beduie vir Ron met ’n beweging van sy kop dat hulle liewer moet gaan.

Toe Thea en Ester daardie aand alleen in hul slaapkamer is, wil Ester weet wat daardie middag tussen Thea en Ron plaasgevind het. “Ek glo glad nie Ron se verduideliking dat julle maar net beïndruk was deur die kasteel en sy mense se geskiedenis nie,” verseker sy Thea.

“Jy het gelyk,” glimlag die meisie goedig. “Maar ons het ook nie gestry nie. Ron het sy gevoel aan my verklaar en ek moes sy liefde van die hand wys.”

“Jy het hom dus nie lief nie,” sê Ester terwyl sy in haar bed klim en die laken tot onder haar ken trek.

“Ja, dit ook. Maar ek het sy liefde hoofsaaklik van die hand gewys omdat ek nooit ’n baba mag hê nie en dus nooit sal kan trou nie,” verduidelik Thea met geveinsde kalmte, want vir haar is dit ’n ontsettende gedagte dat sy haar lewe as eensame oujongnooi sal moet slyt.

Daar is ’n verwarde frons tussen Ester se bruin wenkbroue. “Ek verstaan glad nie wat jy bedoel nie. Waarom mag jy nooit ’n baba hê nie?”

Dit neem Thea etlike minute om die saak breedvoerig aan Ester te verduidelik. “My ma het nooit eens die moeite gedoen om my dit te vertel nie. As ons huisdokter my nie gesê het van die doodsgevaar wat kindergeboorte vir my inhou nie, sou ek dit seker nooit geweet het voordat dit te laat was nie,” vervolg sy met ’n hartseer stem.

“Jou ma is oorlede, en ek is jammer om dit te sê, maar haar optrede teenoor jou was onmenslik, Thea,” kan Ester nie help om te sê nie. “Ek dink jou pa se dood het haar geestelik versteur.”

Hierop sê Thea niks nie, want ook sy het aanvanklik so gedink totdat haar ouma haar die waarheid vertel het. Maar sy is nie van plan om Ester reg te help nie. Ter wille van haar ma en haar nagedagtenis kan die mense gerus maar dink sy was geestelik versteur.

Ron en Peter hou die twee meisies so besig dat die dae behoorlik verbyvlieg. En eindelik is dit al weer tyd vir die twee om na Southampton te vertrek waar hulle ’n passasiersboot na Durban sal haal.

“Ons sal julle môre met die Seagull na Southampton neem,” stel Ron aan die ontbyttafel voor. “Dan kan ons julle help met die plekbesprekings en ander formaliteite.”

Thea geniet die laaste dag op die rotse langs die strand. En daardie aand gaan die vier jong mense vroeg slaap, want volgens Peter se berekening sal dit hulle twee dae en nagte neem om Southampton te bereik.

Thea het pas aan die slaap geraak toe sy wakker skrik van Ester se gekreun asof sy in pyn verkeer. Sy lê ’n paar sekondes en luister, net om seker te maak dat dit wel Ester is wat so kreun. Toe skakel sy haar bedlamp aan en klim haastig uit die bed. “Wat skort, Ester?” vra sy besorg en plaas haar hand op haar vriendin se koorsige voorkop.

“Dis ’n maagseer,” sê Ester moeisaam. “Ek sukkel al van kindsbeen af met maagkwale. Solank ek my medisyne drink, gee dit my nie las nie. Maar ek het dit twee weke gelede gedrink –”

“Waar hou jy die goed . . . die medisyne, bedoel ek?” val Thea haar besorg in die rede.

“In die klerekas,” sê Ester swakkies.

Thea vind die medisyne en draf haastig kombuis toe om ’n eetlepel te gaan haal. Sy krap in die laai rond waar tannie Hilda die eetgerei hou en hoor dan haar gasvrou onverwags agter haar vra: “Kan ek jou help, Thea?”

Sy vind die regte lepel, maak die laai toe en draai na haar gasvrou. “Ester het pyn, tannie Hilda, en ek wil vir haar medisyne gee om te drink. Sy sê sy het ’n maagseer, maar het die afgelope twee weke vergeet om haar medisyne te drink.”

“Kom, ek stap saam met jou. Miskien is daar iets wat ek vir Ester kan doen,” sê Hilda besorg.

“Jy moet liewer nou gaan slaap, Thea,” sê Ester na ’n rukkie, “anders kom jy nie môreoggend vroeg genoeg uit die bed nie.”

“Bedoel jy dat ons môre sonder jou moet vertrek?” Thea kyk haar vriendin ondersoekend aan, nie seker of Ester yl nie.

“Moenie bekommerd wees nie, ek sal betyds in Southampton wees om die boot te haal. Ek verkies dat jy môre saam met my neefs vertrek, dan kan julle solank ons reiskaartjies gaan kry,” verduidelik Ester. “Hierdie maagseer sal my net môre in die bed hou, dan is ek weer piekfyn.”

“O, nou goed,” stem Thea in. “Ons sal vir jou in Southampton wag. Sorg jy maar net dat jy betyds is om die boot te haal, want die boot sal nie vir jou wag nie.”

Hierna gaan klim Thea weer in die bed. Maar nou ontwyk die slaap haar en dit is byna twaalfuur toe sy eindelik aan die slaap raak.

Dit is hoogwater en die wind is net reg om hulle na die oop see te neem toe die jag die volgende oggend koers kry in ’n noordoostelike rigting.

Na twee weke geniet Thea dit om weer die sout van die see op haar lippe te proe en te voel hoe die wind met haar hare speel. Sy weet dat sy hierdie seiljagvaart altyd sal onthou.

Die weer is gunstig en dit is met ’n geruste hart dat Thea daardie aand vroeg gaan inkruip. Dit neem haar nie lank om aan die slaap te raak nie. Maar in die vroeë môre-ure word sy meteens wakker en is dadelik bewus van die jag se wilde gerol en gebokspring. Dit voel asof die vaartuig deur ’n reuse­hand rondgeslinger word. Dan hoor sy meteens hoe die see diep uit sy ingewande grom en sy besef met ongekende angs in haar hart dat hulle ’n storm op see beleef.

Dis met ’n groot gesukkel dat Thea haar aantrek. Maar eindelik is sy gereed en sy gaan met ewe groot moeite na die dek van die boot toe, waar Ron en Peter al hul vernuf moet inspan om die windstorm te trotseer.

Thea sien hoe die golwe rys tot ’n vreeswekkende hoogte, dan merk sy dat al die seile ingeneem is en dat die seiljag op die oomblik deur die brandstofmotor aangedryf word. Die volgende oomblik hoor sy Ron se stem deur die donderende geraas van die wind, see en branders opklink: “Ons het alles onder beheer, Thea, en behoort netnou die kus te bereik waar ons kan wag totdat die storm bedaar het. Gaan trek solank ’n warm trui aan.”

Sy gehoorsaam Ron se bevel, bly om van hierdie angswekkende toneel af weg te kom. Sy hang die lang leerband van haar handsak werktuiglik oor haar skouer en trek dan ’n helderrooi trui aan. Versigtig en met groot moeite klim sy weer op na die dek waar Ron en Peter nog steeds veg om die kus veilig te haal.

Thea kan sien hoe die nag stadig plek maak vir die dag. ’n Grys skemering hang oor die see en sy kan die kuslyn al vaagweg in die verte onderskei wanneer die jag hom op die kruin van berghoë golwe bevind. Intussen klou sy om lewe en dood aan die maspaal om nie in die onstuimige see te beland nie.

“Gaan wag liewer onder in die kajuit,” hoor sy Ron se stem weer bo die geraas van die storm sê. “Ons behoort die strand oor tien minute te bereik, dan sal dit vir jou veiliger wees om na die dek toe te kom.”

Thea gehoorsaam dadelik en sukkel terug na die kajuit. Sy weet die twee mans moet doodmoeg, nat en koud wees, maar sy besef ook dat sy nie gedurende hierdie verskriklike storm die gasstofie sal kan aansteek nie. Sodra hulle die kus bereik het, sal sy vir hulle warm drankies maak.

Thea neem onrustig op die bank plaas, sluit haar oë en stuur ’n stille gebed op vir hul veiligheid. Sy weet nie of haar gebed verhoor sal word nie, want sy het jare gelede laas gebid. Maar sy weet dat sy haar lewe baie liefhet en graag ’n rype ouderdom sal wil bereik – al is dit dan ook as oujongnooi.

Sy maak haar oë oop, kyk op haar polshorlosie en merk dat tien minute al verstryk het sedert sy hier in die kajuit op die bank kom sit het. Dit laat haar besluit om weer na die dek te gaan, want Ron het gesê dat hulle die strand oor tien minute sal bereik en dit moet nou enige oomblik wees.

Dit is al heelwat ligter toe Thea die dek weer met groot gesukkel bereik. Die wind het nog nie eens begin bedaar nie en dit klink vir haar meer na ’n tornado as iets anders.

“Ons is nou naby die strand,” hoor sy Ron sê terwyl hy die roer stewig in sy hand vashou.

Peter, sien sy, sorg weer dat die motor nie gaan staan nie. Maar albei jong mans lyk moeg en uitgeput van die lang ure se geswoeg teen die wind en die stormagtige see.

“Ek hoop die strand is veilig vir die boot en nie dalk met rotse besaai nie,” sê Peter met kommer in sy stem.

“Ons moet maar die kans waag,” kom dit van Ron. “Eerder op die rotse beland as om in hierdie stormagtige see om te kom.”

Die twee mans is meteens doodstil. Dit is asof hulle albei besef dat hul enigste redding op die strand lê, want die wind toon geen teken van bedaring nie. Thea sien hoe die dag pêrelgrys in die ooste aanbreek en aan die noordekant sien sy hoe die strand nou vinnig nader kom. Sy weet nie of die twee mans dit opgemerk het nie, maar hulle stuur op ’n strand af wat die ene rotse is.

“Weet julle dalk waar ons ons nou bevind?” vra Thea terwyl die wind dreig om haar asem weg te waai.

“Wel, nie presies nie. Maar ons is iewers naby Weymouth,” sug Ron moedeloos.

Thea staan en kyk hoe die golwe met woeste vaart teen die rotse breek. Sy sien hoe die skuim hoog in die lug spat en soos sneeuvlokkies neersif. Hulle is ongeveer twee meter van die rotse af en sy sien hoe Peter die motor afskakel en orent kom. Die volgende oomblik is sy bewus van ’n reusegolf wat op hulle afstorm, die boot soos ’n vuurhoutjiedoos oplig en met geweld teen ’n hoë rots slinger. Thea voel hoe sy deur die lug trek en bo-oor die rots geslinger word. Sy voel ’n ontsettende pyn teen die kant van haar gesig en toe is alles donker om haar.

Winde van herinnering

Подняться наверх