Читать книгу Ver bo korale - Susanna M Lingua - Страница 5
2
ОглавлениеElaine is nog bitter ontstoke toe sy by Prins se stal aankom. Dat haar pa Boskloof moet verkoop, is al erg genoeg, maar dat hy die ou familieplaas aan ’n Durandt wil verkoop . . .!
“Ek wonder of jy saam met Boskloof verkoop gaan word, Prins?” gesels sy met die vurige, bruin hings terwyl sy liefdevol met haar hand oor sy satyngladde nek streel. “Ek sal jou baie mis wanneer ek op die dorp woon . . .”
Die geklop van perdepote laat haar vlugtig in die rigting van die huis kyk, net betyds om te sien hoe Niel en sy pa in die rigting van Bordeaux verdwyn.
Hierna saal sy Prins op en ry op ’n stywe galop na die plantasie toe wat soos ’n groen woud lyk. Die gekwetter van voëls is vir Elaine soos strelende musiek. Dis haar wêreld, hierdie wêreld met sy wye, oop vlaktes, sy groen heuwels, blou berge en kronkelende riviere. Dit was nog altyd haar wêreld en dit sal altyd haar wêreld bly . . . al sal daar ook nie meer vir haar ’n Boskloof wees nie . . .
Elaine kom pas voor middagete tuis. Haar ma is reeds besig om op te skep, dus het sy net tyd om haar hande te was, en dan sit hulle aan vir ete.
Aan tafel word daar nie weer ’n woord oor die verkoop van Boskloof gerep nie. Daan en Gerda gesels oor die bure en vra Elaine uit na haar werksaamhede die afgelope jaar in Johannesburg se hospitaal.
Die volgende oggend is Elaine vroeg uit die vere. Sy besef dat haar verblyf op Boskloof vinnig ten einde loop, daarom wil sy soveel van die plaaslewe geniet as wat sy moontlik kan.Wanneer sy haar op die dorp, op Leeudrif gevestig het, sal sy altyd kan terugdink aan hierdie laaste paar dae op haar geboorteplaas.
Sy stap na die beeskraal toe waar Jafta besig is om ’n paar brandmaer koeie te melk en sy kyk die maer diere met ’n weemoedige blik aan. Dis ’n sonde om sulke diere te melk, dink sy, maar sy besef ook dat haar pa weet wat hy doen . . . Hy moes net nie die plaas aan Niel Durandt verkoop het nie.
Haar pa se vriendelike stem maak meteens ’n einde aan haar getob.
“Jy is vroeg uit die vere, ounooi,” sê hy. “Gaan jy nog vanmôre vir oom Dirk en tant Truia dagsê?”
“Dis die plan, Pappa. Maar kyk, daar staan Mamma in die agterdeur en dit lyk asof sy ons nader wink.”
“O, kragtie, sy het my gestuur om jou te kom roep vir koffie, en byna vergeet ek,” sê Daan half verleë. “Kom, laat ons liewer gaan voordat jou ma ons albei netnou uittrap.”
“Is Mamma dan vanmôre in ’n slegte bui?” vra sy.
“Wel . . . ek sou nie juis sê dat sy in ’n slegte bui is nie,” antwoord Daan versigtig. “Ek sou eerder sê sy is bekommerd oor jou.”
“Oor my! Waarom sou sy oor my bekommerd voel, Pappa? Ek het geen skuld nie en ek verkeer in blakende gesondheid . . .”
Daan bars saggies uit van die lag. Elaine kyk hom geamuseerd aan.
“Jou ma voel onrustig omdat jy op die dorp wil gaan bly, kleintjie. Sy sê enige onheil kan jou tref, en dan is ons nie eens daar om jou by te staan nie.”
Elaine kyk haar vader skepties aan, want sy weet waartoe hierdie gesprek gaan lei.
“Mamma het niks te vrees nie, Pappa,” antwoord sy goedig. “Ek het sewe jaar lank in Johannesburg vir myself gesorg, en soos Pappa self kan sien, het geen onheil my getref nie.”
“Ag, nou toe dan maar,” gee Daan die saak gewonne. “Ek het vir jou ma gesê dit sal niks help om met jou te redeneer nie. Jy is soos jou oorlede oupa.”
Elaine begin saggies lag en kyk haar pa ondeund aan. Sy is baie lief vir haar ouers en sy sou graag op Boskloof wou bly, maar dan moet Boskloof nie aan ’n Durandt behoort nie.
“Kom drink julle koffie, die ontbyt is amper gereed,” sê
Gerda.
“Hm, ja, ontbyt sal baie welkom wees. Ek voel al juis uitgeteer van die honger,” sê Elaine gemoedelik en maak asof sy nie die vraag in haar ma se oë sien nie.
Na ontbyt gaan verklee Elaine in ’n langbroek en bloes en sit ’n breërandhoed op. Dan gaan sy kombuis toe om vir haar ouers tot siens te sê.
“Waar gaan jy nou heen, Elaine?” wil haar ma weet. “Na oom Dirk en tant Truia toe, Mamma.”
“O ja, jy het mos gister gesê jy wil vandag vir hulle gaan dagsê. In elk geval, jy kan gerus vir hulle ’n paar stukkies beskuit saamneem,” doen Gerda aan die hand, want sy weet dat tant Truia se kwale haar nie toelaat om so dikwels beskuit te bak soos voorheen nie.
“Waarin gaan Mamma die beskuit sit?” wil Elaine dadelik weet, want sy het nie so iets soos ’n saalsak nie.
“Ek het ’n skoon meelsakkie,” sê haar ma. “Ek sal dit daarin sit. Waarom kyk jy my só aan, kind?”
Elaine se glimlag verbreed.
“Ek wonder maar net hoe daardie pragtige bruin hings van my gaan lyk met ’n wit meelsakkie vol beskuit aan sy stert vasgebind, Mamma!”
“Aan sy stert?”
Gerda kyk haar dogter aan asof sy ’n skroef êrens los het, maar Elaine se groen oë vonkel net meer ondeund.
“Ja, ek vrees dit sal aan sy stert moet wees, Mamma,” sê sy, “want sien, ek sal albei my hande nodig hê om die lewenslustige Prins in toom te hou.”
“Laat staan dan maar die beskuit, kind. Dra maar net my groete aan die twee oumense oor,” sê Gerda en ’n glimlaggie pluk aan die een hoek van haar mond. Daan bars hartlik uit van die lag.
“Dan sê ek maar tot siens, Mamma . . . Pappa! Sien julle met middagete!”
Ook Daan en Gerda sê tot siens, dan kyk hulle Elaine se fyn gestaltetjie agterna totdat sy om die hoek van die stal verdwyn. Na ’n rukkie hoor hulle hoe Prins oor die werf galop.
O, dis wonderlik om so sorgloos deur die veld te ry, mymer Elaine terwyl die wind by haar gesig verbywaai. Hoe dikwels het ek tog in Johannesburg na die oop veld en die skoon lug van Boskloof verlang, na die geur van dennenaalde en die geroep van ’n nagvoël. Maar al hierdie wonderlike dinge sal een van die dae net ’n aangename herinnering wees. Ja, selfs Prins sal aan iemand anders behoort en ek . . . ek sal net my bromponie en ’n gejaagde lewe hê, ’n woonstelletjie op die dorp en ’n telefoon wat my snags sal wakker lui. Ek sal nog baie na hierdie mooi dae, na Boskloof en na Prins verlang . . . Maar wag, ek moet liewer nie daaraan dink nie, dit stem my net mistroostig en . . . A, daar sit oom Dirk en tant Truia, soos gewoonlik, op die voorstoep!
Elaine trek Prins voor die deur in die skaduwee van ’n groot ou seringboom in en gly liggies uit die saal. Behendig maak sy die teuels aan ’n boomtak vas en stap in die rigting van die voorstoep waar die twee oumense sit.
Elaine groet hulle hartlik en dra dan haar ouers se groete aan hulle oor.
“Ons het jou lanklaas gesien, meisie,” kom dit van oom Dirk.
“Presies ’n jaar gelede, oom,” antwoord Elaine en neem langs tant Truia op die riempiesbank plaas.
Tant Truia kyk die jong meisie goedkeurend aan en sê vriendelik: “Jou pa vertel gister nog vir ons dat jy nou klaar geleer het, kindjie, maar ek sien al daardie boekgeleerdheid het jou darem nie verander nie.”
“Heeltemal reg, tante, ek het niks verander nie,” sê Elaine glimlaggend. “Ek is nog steeds dieselfde plaasdogter van weleer. Gaan dit nog goed met tante en oom Dirk?”
“Ag, kindjie, die rumatiek keil my op en die ou bene wil maar nie,” begin tant Truia. Sy hou daarvan om oor haar kwaal te gesels. “Ek smeer my natuurlik elke dag met daardie salf wat dokter Swanepoel vir oom Dirk gegee het toe hy sy nek verlê het, maar dit help ook nie. Nou’t Hessie Kromdraai vir my die raat van harmansdrup en duiwelsdrek gegee; nie om te drink nie, verstaan jy? Ek moet dit met terpentyn meng en my daarmee smeer.”
“Enne . . . wanneer moet daar met die goed gesmeer word, tante?” wil Elaine met lagduiweltjies in haar oë weet.
“Saans, kindjie, net voordat ek gaan lê,” verduidelik die ou tante.
“En oom Dirk?” vra Elaine laggerig. “Hoe gaan hy dit uithou met al daardie reuke in die kamer, tante?”
“Kindjie, jy spot nou,” vermaan tant Truia goedig. “Julle jong mense weet nog nie wat rumatiek is nie.”
“Maar,Truitjie,” val oom Dirk haar teregwysend in die rede, “hoe kan jy nou sê die kind weet nie wat rumatiek is nie? Sy’s dan ’n dokter!” Hy wend hom sonder meer na Elaine. “Weet jy, nooientjie,” vervolg hy geselserig, “toe ek nog jonk was, het ek ’n meisie gehad wat amper ’n dokter was. Sy’t als van boererate geweet en al wat ’n siekte was gesond gemaak. As sy ou Truitjie onder hande gehad het, was sy lankal gesond, want jy moet weet rumatiek was vir haar sommer kinderspeletjies om gesond te maak.”
“Die dame klink interessant, oom,” kan Elaine nie help om met ’n geamuseerde glimlag te sê nie. “Waar woon die . . . e . . . voortreflike dame?”
“Nee, sy’s lankal dood, meisie.”
“Kindjie, jy moenie als glo wat oom Dirk jou vertel nie,” help tant Truia die jong meisie haastig reg, so asof sy oom Dirk glad nie ken nie. “Hy sal netnou vir jou vertel dat sy oorle’ pa die een of ander koning se neef was . . .”
“Maar Truitjie, skaam jy jou nie om so vir die kind te staan en jok nie?” vermaan oom Dirk sy ou wederhelf met ’n goedige glimlag. “Netnou glo die kind jou, en dan is al haar respek vir my daarmee heen.”
Tant Truia kyk die oubaas met ’n glimlaggie aan en sê gerusstellend: “Toemaar, Dirk, almal ken jou. Maar wag, laat ek eers vir ons gaan koffie maak. Die kind is seker al dood van die dors.”
Elaine wil net aanbied om self vir hulle te gaan koffie maak, maar dan sê die oubaas weer: “Jy weet, meisie, ou Truia praat nou so, maar my oupa was ’n groot generaal in die Engelse oorlog. Ag, hy’t die kakies by die hope doodgeskiet . . . ”
“Oom bedoel hy het die oorlog so te sê alleen gevoer,” sê Elaine geamuseerd. Haar pa het heeltemal gelyk gehad, oom Dirk skiet nie meer spek nie; hy gooi nou sommer met die hele vark.
Maar dan hoor sy hom weer sê: “Ja, meisie, hy’t omtrent al die Boere onder hom gehad. Weet jy, hy staan nog eendag so agter ’n kliprantjie en kyk hoe die Engelse daar onder kamp opslaan, toe hoor hy hoe ’n kakie skielik agter hom sê hy moet hensop. Kind, dit was vir jou ’n bodderasie, want daar staan die kakie en hier staan die groot generaal met sy roer en bandelier nog oor sy skouer. Maar ’n Boer het almelewe ’n plan, meisie. Die kakie vat mos toe so na my oupa se roer, toe trek Boer se kind met ’n plat hand los en klap die kakie dat hy soos ’n tolbossie teen die rantjie afrol tot by sy kamp.”
Elaine bars hartlik uit van die lag. “Wat was die groot generaal se naam, oom Dirk?” vra sy.
“Sy naam was ook Dirk Human, meisie,” sê die oubaas sedig.
“Vreemd dat ek nog nooit van hom in die Geskiedenisklas geleer het nie,” sê sy.
Maar oom Dirk laat hom nie so maklik van stryk bring nie.
“Jy’t te veel van medisyne en te min Geskiedenis geleer, meisie, dis hoekom.”
“Ja, dis nooit anders nie, oom,” sê sy vol lag. “Ek weet van generaal De Wet en . . . ”
“Ag, hulle was niks, meisie; niks, sê ek jou . . . ”
Tant Truia maak terstond ’n einde aan oom Dirk se diskoers toe sy op die stoep verskyn en vriendelik sê: “Ek het maar sommer self vir jou suiker in die koffie gegooi en geroer ook, kindjie. Ek weet darem nog hoeveel suiker jy drink.”
“Dankie, tante, dit sal lekker smaak,” sê sy en vervolg met ’n ondeunde blik in haar oë: “Oom Dirk vertel my nou dat sy oupa . . . ” Die oubaas maak betekenisvol keel skoon en verander die onderwerp dadelik deur Elaine haastig in die rede te val.
“Ek hoor ou Jaak Derant se seun gaan julle uitkoop, meisie?”
Elaine knik.
“Ja, dit is ongelukkig waar, oom,” sê sy sag.
“Dis jou oorle’ oupa se skuld,” lig oom Dirk haar so tussen monde vol koffie in. “Laat kom toe mos vir hom diere van oorkant die water af, en toe vrek die hele duur spul . . . Ja, dis ’n nare storie, meisie. Nou moet jou pa vir ’n ander man werk, en dit omdat jou oupa so ’n korrelkop was. Wou mos na g’n mens luister nie.”
“Ja, dis tragies, maar sulke dinge gebeur soms met ’n mens, oom Dirk.”
“Reken, ou Jaak wou mos mý plasie ook koop,” sê Dirk. “Maar ek het vir hom gesê hy kan Avondrus koop wanneer ek en ou Truitjie dood is.”
“Die ou grondwolf sal dit doen, oom,” sê Elaine verontwaardig. “Bordeaux, Boskloof en Avondrus grens mos in die vorm van ’n driehoek aan mekaar, oom, en as hy die bakens tussen die drie plase verwyder, sal hy die grootste plaas in die hele omgewing besit . . . ”
Elaine kuier die hele oggend by die twee oumense. Met die belofte dat sy weer op ’n ander dag sal kom kuier en dan sommer vir tant Truia iets vir die rumatiek sal saambring, groet en vertrek sy weer.
Prins runnik saggies toe hy Elaine na hom toe aangestap sien kom. Die jong meisie kyk hom aan en glimlag. Sy weet dat hy al ongeduldig is vir ’n bietjie oefening in die oop veld.
Elaine lig haar rats in die saal, waai vir die twee oumense en dan dawer Prins se hoefslae oor die werf. Haar hoed skuif stadig agtertoe en hang later op haar rug met die linte om haar nek. Nou geniet sy die rit meer. Sy hou van die son op haar gesig en die wind in haar hare.
Elaine was egter nie bestem om hierdie rit lank te geniet nie, want toe sy die punt van die berg nader, kom ’n perderuiter om die bergpunt gejaag en snel met donderende hoefslae op haar en Prins af. Elaine wonder by haarself wie die ruiter kan wees. Dit is ’n lang, breed geskouerde man, en ook die groot swart perd is vir haar vreemd.
Eers toe ruiter en perd haar nader, merk sy dat dit haar aartsvyand, Niel Durandt, is. Sy wou net wegjaag en maak asof sy hom nie herken het nie, maar Niel trek Radja, die swart hings, langs Prins, steek sy hand uit en neem die teuels onverwags uit Elaine se hand.
“Môre, Elaine!” groet hy haar glimlaggend terwyl hy albei perde tot stilstand dwing.
“Mag ek vra wie jou die reg gegee het om die teuels sommer . . . sommer uit my hand te neem, meneer Durandt?” snou sy hom toe.
“Ek het eiereg gebruik, ou kleintjie,” sê hy ongeërg. “En jy hou jou verniet so kwaai met my. Kom ons gaan sit op daardie rots. Ek wil met jou praat.” Hy beduie met sy karwats in die rigting van die rots.
Elaine werp hom ’n onthutste blik toe. “Ek glo nie ons het iets meer vir mekaar te sê nie, meneer Durandt. Ek het niks vir jóú te sê nie.”
“Miskien nie, maar ek het heelwat vir jóú te sê. Gaan jy nou afklim, of moet ek jou afhelp?” vra hy met ’n ondeunde trek in sy donker oë.
Elaine ken sy soort. Sulke groot, bedaarde mans is gewoonlik die soort wat net een maal praat, en om deur hom uit die saal getel te word . . . ! Nee, sy sal maar liewer self afklim.
Met albei perde se teuels in een hand lei Niel die meisie na ’n groot, plat rots toe aan die voet van die berg.
“Was jy gister ernstig toe jy gesê net jy gaan op die dorp woon?” vra hy toe hulle albei gemaklik op die rots sit.
Sy kyk hom skeef aan. “Ek kan regtig nie sien wat dit met jou te doen het nie . . . ”
“Dit sal jou niks baat om my so kwaai aan te gluur nie,” sê hy goedig. “My vraag is tog baie eenvoudig. Was jy ernstig?”
“Jy is ’n haatlike mansmens . . . Ja, ek was ernstig as jy dan moet weet,” snou sy hom weer toe.
“Gaaf, nou vorder ons,” sê Niel tevrede. “Maar sê vir my eerlik; waarom wil jy op die dorp gaan woon?”
“Jy ken die antwoord op daardie vraag, meneer Durandt,” antwoord Elaine kortaf, onvriendelik.
Niel laat egter nie toe dat haar onvriendelikheid hom van stryk bring nie.
“Nee, ek ken nie die antwoord nie, want ek glo nie vir een oomblik dat jy gister die ware rede verstrek het nie,” sê hy.
“Wel, of jy dit glo of nie, ek verseker jou ek het elke woord bedoel, meneer Durandt . . . ”
“My naam is Niel, Elaine. En moenie weer vir my sê jy verkies om nie familiêr met my te wees nie, want ek gaan my eenvoudig nie daaraan steur nie. Wat is die ware rede waarom jy op die dorp wil gaan woon?”
“Ek kan dit nie help as jy my nie wil glo nie, meneer Durandt,” laat sy nou ’n klein bietjie vriendeliker hoor.
Daar is ’n ligte frons op Niel se breë voorkop toe hy ernstig sê: “Maar die rede wat jy gister aangevoer het, is heeltemal ongegrond, Elaine! Jy weet net so goed soos ek dat jou ouers hulle nie vir my en my pa gaan afsloof nie en dat jou ma geen bevele van my sal ontvang nie. Dit sal ook nie vir jou ma nodig wees om haar oor my en my pa te ontferm nie. Ons twee lewe al agt jaar sonder ’n vrou in die huis.” Daar is tergduiweltjies in sy oë. “Maar as jý so af en toe lus voel om vir ons op ’n Sondag te kom kook en saam met ons te eet.”
Elaine werp hom ’n vernietigende blik toe en val hom met ’n kil stem in die rede: “Jy is van jou wysie af of . . . of anders voel jy nie gesond nie.”
“Wat laat jou dink ek voel nie gesond nie?” vra Niel met ’n sagte laggie en oë wat blink van terglustigheid.
“Omdat ’n gesonde mens nie yl nie,” is haar kortaf antwoord.
“Yl?” Hy begin weer saggies lag. “Maggies, nee, ek het nog nooit in my lewe so gesond gevoel soos op hierdie oomblik nie. Maar sê my, wat is daarmee verkeerd as ek jou vir Sondagete na Bordeaux toe nooi?”
“Alles,” antwoord sy bedaard, haar gramskap nou onder beheer. “Jy weet hoe ek oor julle Durandts voel.”
“Ja, ek weet hoe jy oor ons voel, kleinding,” erken Niel, “maar as ek Boskloof nie koop nie, sal iemand anders dit tog koop, en teen ’n veel laer prys. Verkies jy dat jou pa sy plaas vir ’n appel en ’n ei moet weggee eerder as om dit teen ’n redelike prys aan mý te verkoop?” Hy kyk haar vraend aan.
“Ek sou verkies dat my pa Boskloof verkoop op voorwaarde dat die koper die plaas oor tien jaar weer aan ons terug sal verkoop.”
“Niemand sal Boskloof op daardie voorwaarde koop nie, Elaine, behalwe ’n spekulant,” help hy haar sag reg, “en daardie soort koper sal nie tien jaar wag om sy wins te maak nie. Hy sal Boskloof binne ’n jaar of twee weer van die hand sit . . . Moenie so terneergedruk lyk nie, nooientjie. Die verkoop van Boskloof beteken nog lank nie die einde van alles nie. Daar is hoegenaamd geen rede waarom die lewe nie kan voortgaan soos wat jy en jou ouers dit aanvanklik beplan het nie.”
Sy skud haar kop stadig. “Dit sal nooit weer dieselfde wees nie,” sê sy, nou met hartseer in haar stem.
“In watter opsig sal dit nie meer dieselfde wees nie?” vra Niel.
Daar is nog steeds hartseer in haar stem toe sy verduidelik: “Wel, die plaas, die huis . . . alles sal jóú eiendom wees . . . selfs hierdie perd waarop ek ry, sal nie eens meer myne wees nie.”
“Maar alles sal nog steeds tot jou beskikking wees soos voorheen, Elaine,” probeer hy haar tot ander insigte bring. “Gaan jy jou trots toelaat om jou van Boskloof af weg te dryf, of gaan jy jou trots vir ’n verandering vergeet en jou ouers gelukkig maak?”
Elaine is afgetrokke toe sy weer praat.
“Ek . . . ek verkies om hierdie saak nie verder te bespreek nie, meneer Durandt. Ek dink ek moet liewer nou gaan.” Sy kom orent en neem Prins se teuels uit sy hand. “Tot siens, meneer Durandt.”
Ook Niel staan van die rots af op.
“Tot siens, groenoog! Sien jou weer die een of ander tyd!” Sy klim in die saal, kyk hom met ’n geslote blik aan en sê onpersoonlik: “Ek hoop ek sien jou nooit weer nie, meneer Durandt.” Die volgende oomblik trek sy op ’n stywe galop weg.
“Rissie!” roep Niel haar agterna. Hy klim rats in die saal en stuur Radja in die rigting van Avondrus. “Jy gaan my gou weer sien, meisie,” gesels hy met homself. “Ja, jy gaan my nog baie dikwels sien!”
Elaine se gemoedsrus is nou weer heeltemal versteur. Sy het haar reeds in ’n mate vereenselwig met die gedagte dat Boskloof verkoop moet word, en nou het Niel haar weer opnuut opstandig laat voel en haar laat besef wat sy alles saam met Boskloof gaan verloor. Die man het inderdaad ’n gawe om haar opstandig te maak. Ja-nee, sy moet hom liewer nooit weer sien nie.
Op die oomblik is Elaine heeltemal blind vir die skoonheid van die natuur wat haar omring; die berg, die veld met sy doringbome, die treurwilgers langs die rivier.
As ek jou oor ’n honderd jaar weer sien, Niel Durandt, sal dit nog te gou wees, dink sy wrewelrig.
Daan en Gerda is al besig om te eet toe Elaine tuis kom. Sy groet haar ouers, gaan was haar hande en kom sit ook aan.
“Gaan dit nog goed op Avondrus, ounooi?” wil Daan weet. Elaine vou eers haar servet oop voordat sy antwoord.
“Dit lyk so, Pappa. Oom Dirk sien daar gesond uit, en tant Truia, lyk dit my, kla meer uit gewoonte. Sy het nie vir my juis siek gelyk toe sy vir ons gaan koffie maak het nie. Ek het Niel Durandt ook gesien, teen my sin, natuurlik.”
“So! En wat gesels hy alles?” wil Gerda belangstellend weet.
“Sommerso oor alles en nog wat, Mamma,” antwoord Elaine ongeërg. “Hy wou my onder andere wysmaak dat die lewe hier op Boskloof nog dieselfde sal wees nadat hy die plaas oorgeneem het.”
“Niel is reg, Elaine,” sê Gerda. “Die verkoop van die plaas gaan ons lewe nie in die minste ontwrig nie. Alles gaan dieselfde bly.”
“Vir my sal die lewe hier op Boskloof nie meer dieselfde wees nie, Mamma,” sê Elaine met ’n gesteurde frons. “Terloops, ek het finaal besluit om maar vir my ’n woonstelletjie op die dorp te huur. Dit sal vir my geriefliker wees . . . ek bedoel wat my werk betref.”
Daan sit sy mes en vurk saggies, versigtig op sy bord neer en kyk Elaine teleurgesteld aan.
“Gaan jy ons nou sommerso weggooi, ounooi?” vra hy sag. Elaine merk die teleurstelling in sy oë en in sy stem, maar sy staal haar teen die weekheid wat van haar besit wil neem. Sy weet dat Boskloof gans te klein is om haar en Niel saam te huisves, en sy weet ook dat hulle botsings en struwelings haar ouers bitter ongelukkig sal maak, daarom is dit veel beter dat sy liewer op die dorp gaan woon.
“Ek sal julle tweetjies nooit weggooi nie, Pappa,” antwoord sy met liefde en teerheid in haar stem. “Trouens, ek gaan oor tien jaar vir Pappa weer ’n eie plasie koop, al moet ek dag en nag werk om dit te kan doen. Ek gaan baie beslis nie toelaat dat my ou paps op sy oudag vir ’n Durandt werk nie . . . ”
Die gelui van die telefoon maak meteens ’n einde aan Elaine se woordevloed.
“Dis seker die prokureurtjie wat bel,” meen Daan. “Ek sal gaan antwoord,” bied hy aan en staan haastig op.
Terwyl Daan oor die telefoon praat, staan Gerda en Elaine ook op en gaan na die voorstoep toe.
“Dis so lekker koel hier op die stoep . . . ” begin Elaine toe haar pa van die oop voordeur af praat.
“Dis Niel wat gebel het, ounooi,” sê hy ernstig, “en jy sal sonder versuim na Bordeaux toe moet gaan. Een van die boswerkers is glo ernstig beseer, met ’n mes in die arm gesteek. Niel sê dis ’n lang sny. Jy sal die wond moet toewerk. Jy kan sommer met my bakkie ry, kleintjie, dan is jy gouer . . . ”
“Pappa, Niel is van sy wysie af as hy dink dat ek ’n voet op Bordeaux sal sit,” val Elaine haar pa verontwaardig in die rede. “Pappa moes die vent maan toe gestuur het. Verbeel jou, ek moet my nogal sonder versuim daarheen haas!”
“Ounooi, Niel is nie van sy wysie af nie,” bestraf Daan sy opstandige dogter, “die mense het jou hulp dringend nodig. Niel sê die man se hele voorarm is oopgesny.”
“Nou, waarom bel hy hierheen? Waarom ontbied hy nie vir dokter Swanepoel nie, Pappa?”
“Dokter Swanepoel is nie tuis nie. Hy is glo na die een of ander plaas toe,” verduidelik Daan geduldig, dan glimlag hy onderlangs. “Niel het gesê ek moet jou ’n stywe dop brandewyn injaag, jou ’n naald en ’n tolletjie gare in die hand stop en jou na Bordeaux toe stuur.”
Elaine ruk haar dadelik op.
“ ’n Stywe dop brandewyn!” Sy kyk haar pa met ’n frons aan. “En waarom die brandewyn, as ek mag vra?”
“Seker maar omdat ’n vrou altyd dreig om flou te word as sy ’n lelike wond sien, kleintjie,” terg Daan nou openlik.
“Wel, ek is nie een van daardie soort vroue nie, Pappa,” verdedig sy haarself. “Ek is daaraan gewoond om na wonde te kyk en daarmee te werk, Niel moenie dink . . . ”
“Elaine, my kind,” val Gerda haar in die rede, “as die man ernstig beseer is, is hy straks besig om hom dood te bloei!”
“Nee, ek glo nie hy sal hom doodbloei nie, vrou,” stel Daan haar gou gerus. “Niel sê hulle het die bloed darem op ’n manier gestop, maar die wond lyk sleg.”
“Wel, in daardie geval sien ek geen rede waarom ek na Bordeaux toe moet gaan nie,” laat Elaine weer van haar hoor. “As hulle daarin geslaag het om die bloed te stol, kan Niel die man netsowel hier na Boskloof toe bring. Hy weet baie goed hoe ek oor hom en sy hooghartige en uitgesproke ou pa voel. Ek onthou nog toe ek ’n skooldogter was, het hy altyd hooghartig na sy bure verwys as kleinboere . . . ”
“Die jare het hom verander, ounooi,” help haar pa haar dadelik reg. “Jacques is nie meer daardie hooghartige man wat jy as kind geken het nie. Sy lewe kring die afgelope agt jaar net om Niel . . . Niel en Bordeaux. Jy kan dus maar jou tassie en jou wit jassie gaan haal.” Hy neem die bakkie se sleutels uit sy sak en hou dit na haar uit. “Hier is die sleutels, neem die bakkie.”
Sy neem die sleutels.
“Goed, Pappa, ek sal gaan; maar glo my, ek haat dit om ’n voet op Bordeaux te sit. Ek gaan net omdat dit my plig is om die man se arm te probeer red.”
Na ’n rukkie sê sy vir haar ouers tot siens en stap na die bakkie toe wat voor die deur staan . . .
Onderwyl Elaine oor die ongelyke plaaspad ry, dink sy aan baie dinge. Sy dink aan die jare wat verstryk het sedert sy laas met hierdie pad gery het, die pad wat na haar aartsvyand se vesting toe lei . . .
Ek hoop oubaas Jacques slaap of . . . of doen iets wat hom onder my voete weghou, dink sy. Ek voel vandag glad nie in ’n goeie bui nie . . . Ja, Niel sal ook in sy spoor moet trap.Verbeel jou, dat ek agter hulle moet aanry! Nee kyk, noudat ek daaraan dink, word ek mos eers regtig kwaad! As daardie ellendige Niel enige manlikheid in hom gehad het, sou hy die beseerde man lankal Boskloof toe gebring het. Maar dit is hoe hy en sy ou pa is . . .
Sy hou voor die groot huis van Bordeaux stil. Haar groen oë smeul opstandig toe sy oubaas Jacques van die kombuis se kant af na haar toe aangestap sien kom. Sy neem haar tassie en klim uit die bakkie.
“So, dan het jy darem besluit om te kom?” begroet die oubaas haar. “Wel, ek moet sê dit het jou lank geneem om hier te kom, doktertjie!”
“O, nè?” Sy kyk hom kwaai aan. “En wat makeer daardie voortreflike seun van jou dat hy nie die pasiënt na Boskloof toe kon bring nie? Ek ry net agter ’n pasiënt aan wat te siek is om vervoer te word, en ek sien geen rede waarom ek in julle geval ’n uitsondering moes maak nie.”
“Kyk, doktertjie, jy word betaal om die man se arm te kom toewerk . . . ” begin die oubaas. Hy wil haar nog vertel dat hulle dokters gewoonlik ’n plaas se geld vra net om ’n wond toe te werk, maar Elaine gee hom nie die geleentheid om meer te sê nie, want wat haar betref, het hy reeds te veel gesê.
“Die pasiënt wat by die spreekkamer behandel word, betaal ook vir die geneesheer se diens. Hulle word nie gratis behandel nie, weet jy?” Sy meet hom met ’n kwaai blik. “ ’n Mens moet julle net ’n slag goed deur die nek laat betaal . . . ”
“Genade, stry julle twee tog nie al weer nie?” praat Niel onverwags agter Elaine. “Ek hoor sowaar daar in die kombuis hoe julle hier staan en stry. Kan julle nie ’n minuut met mekaar oor die weg kom sonder om mekaar in die hare te vlieg nie?”
Sy kyk Niel aan asof sy die welstand van sy verstand in twyfel trek.
“Ek wonder of hy aldag met homself oor die weg kan kom. Sê my liewer waar is die pasiënt, meneer Durandt?”
“Hy is in die kombuis. Kom laat ons binnetoe gaan, rooikop,” stel Niel voor. “Ek dink ons het alles vir jou gereed . . . ek bedoel nou skottels, warm water, ontsmettingsmiddel en verbande.” Hulle stap die kombuis binne. “Daar sit jou pasiënt op Fina se stoel.”
Sy kyk die man ondersoekend aan en sê ietwat droog: “Hm, hy lyk maar vaal. Ek sal net eers na die wond kyk. Daarna wil ek asseblief warm water hê om my hande te was, meneer Durandt. En jy, oubaas, kan asseblief vir my ’n skoon handdoek oor hierdie tafeltjie gooi waarop die pasiënt se arm rus.”
Elaine is net oorgehaal om die bebloede verband om die boswerker se arm te verwyder toe sy Niel besorg hoor sê: “Elaine, voordat jy na Amos se arm kyk, wil ek jou net eers waarsku dat dit ’n aaklige wond is. Wil jy nie eers ’n bietjie brandewyn wegslaan voordat jy die verband verwyder nie?”
“Meneer Durandt, ek verseker jou ek het nie ’n versterkmiddel nodig nie. Ek weet hoe ’n meswond lyk,” sê sy ergerlik en begin die verband ongeërg verwyder.
“O . . . nou goed, gaan jou gang; sê net waar ons jou kan help,” bied Niel vriendelik aan.
Met geoefende hande verwyder Elaine die verband. “Nogal ’n diep sny,” sê sy terwyl sy die wond effens ooptrek. “Gelukkig dat dit aan die buitekant van die arm is . . . ”
“Doktertjie, moenie die sny so staan en ooptrek nie!” vermaan die oubaas haar ernstig. “Netnou begin die ding weer bloei, en dan is dit weer ’n hele bodderasie van voor af.”
Elaine frons. “Wil jy nou my werk vir my leer, oubaas?” vra sy ietwat skerp.
“Dis nie nodig om jou so gou op te ruk nie, doktertjie,” kap oubaas Jacques terug. “Ek dink maar net aan al die sonde wat ons gehad het om die bloed te stop.”
“Nou ja, vergeet maar daardie sonde,” stel Elaine nou ’n bietjie vriendeliker voor. “Dink liewer aan al jou ander sondes; ek is seker daar is baie om oor na te dink.”
Oubaas Jacques voel dadelik geraak.
“Wil jy vir my vertel dat ek van die môre tot die aand net sondig?” Hy kyk haar streng aan.
Elaine kan nie help om te glimlag nie.“Dis nie nodig om so verontwaardig te klink nie, oubaas,” sê sy goedig en neem ’n botteltjie met ’n rubberprop uit haar tassie. “Ons sondig maar almal,” gaan sy weer voort. “Selfs op hierdie oomblik doen ek sonde deur te wonder hoe ek jou kan nek omdraai sonder om in die moeilikheid te beland.”
“Wat! Jy mý nek omdraai!” roep oubaas Jacques minagtend uit. “Ek daag jou uit om dit te doen.”
Elaine hou die botteltjie na die oubaas uit en sê bedaard: “Hou asseblief die botteltjie vir my vas, oubaas; jy kan nie hier so ledig staan nie.”
Hy neem die botteltjie by haar. Dan haal sy weer ’n spuitjie uit haar tas. Sy het besluit om ’n verdowingsmiddel in Amos se arm te spuit voordat sy die wond ontsmet en toewerk.
Elaine is net oorgehaal om die naald deur die bottel se rubberprop te druk toe die oubaas die bottel wegruk en ontsteld uitroep: “Doktertjie! A nee a, wat probeer jy nou doen? Jy sal mos die naald breek en die stukke in my oog laat spat!”
“Hou asseblief die bottel stil, oubaas; die naald sal glad nie breek nie!” raas sy streng. “Hoe op aarde kan ek die naald deur die prop druk as jy die bottel aanhou wegruk?”
“Luister, doktertjie, as jy nie weet hoe om ’n prop uit te haal nie, waarom sê jy nie so nie? Wag, laat ek my knipmes kry . . . ” “Oubaas Jacques, jy raak nie aan daardie prop met jou knipmes nie, is dit duidelik? ” Sy kyk hom bestraffend aan, neem die bottel uit sy hand en hou dit uit na Niel. “Meneer Durandt,” vervolg sy, “hou asseblief vir my die bottel so skuins vas. Jou pa is gans te kontant met sy kiembesmette knipmes . . . ”
“Wat! Kiembesmet!” roep die oubaas verontwaardig uit. “My mes het g’n kieme nie, verstaan jy?”
“Natuurlik het hy,” hou Elaine vol. “Jy dra die ding dan heeldag in jou sak rond, en vir al wat ek weet, maak jy dalk nog jou naels ook daarmee skoon . . . ”
Die oubaas kyk Elaine met ’n simpatieke blik aan, so asof hy dink sy moet nog baie leer. Ook sy stem is bedaard toe hy sê: “My liewe doktertjie, met hierdie mes word daar net biltong geëet, niks anders nie.”
Elaine trek ’n vies gesig vir die mes wat oubaas Jacques met liefde in sy hand vertroetel. “Wel, ek hoop jy was die mes telkens voordat jy biltong daarmee kerf, oubaas,” kan sy nie help om te sê nie, “want as jy dit nie doen nie, voorspel ek dat jy een van die dae infeksie in jou maag gaan kry. Nie dat dit my sal hinder nie, want wat gee ek om of jy infeksie in jou ou deurmekaar draadwerk kry of nie?”
Niel bars hartlik uit van die lag. “Pa,” sê hy toe sy lagbui bedaar het, “dit wil mos vir my lyk asof jy en die rooikop dit geniet om mekaar te treiter.”
“Het jy al ooit gehoor van twee vyande wat dit nie geniet om mekaar te treiter nie, ou seun?” sê oubaas Jacques droog. “O ja, ons geniet dit. Maar eendag is eendag wat ek haar nog goed op haar plek gaan sit.”
“Twee van jou soort sal moet probeer, oubaas,” lig Elaine hom in terwyl sy die tweede steek bind en die naald opneem om die volgende steek in die wond te sit. Sy kyk die oubaas sydelings aan en merk meteens op dat hy ontsettend bleek is.
“Jy is so bleek soos die dood, oubaas, voel jy sleg?” vra sy ietwat besorg en wend haar na die jong man nog voordat die oubaas haar vraag kan beantwoord. “Meneer Durandt, help asseblief jou pa. Ek kan nie nou hier los nie. Die wond moet toegewerk en verbind word.”
Niel help sy pa versigtig om op die naaste stoel te sit en sê dan besorg: “Sit doodstil, Pa, ek gaan net gou vir jou iets haal om te drink . . . ”
“Wag nou, moenie ’n gedoente hiervan maak nie, ou seun,” stribbel die oubaas teen. “Ek voel maar net ’n bietjie naar, dis al!”
“In daardie geval kan jy jou pa ’n bietjie flou brandewyn gee, meneer Durandt,” doen Elaine aan die hand. Nadat Niel die kombuis verlaat het, draai sy haar weer na die oubaas en vra sag, besorg: “Waarom het jy so skielik naar geword, oubaas? Is dit die hart wat nie aldag mooi wil klop nie?”
“Nee, ek het nie moeilikheid met my hart nie, doktertjie,” stel die oubaas haar dadelik gerus. “Vertel my liewer hoe jy dit regkry om ’n mens so lewendig toe te werk sonder om ’n oog te trek?”
’n Ondeunde glimlaggie verskyn ineens om Elaine se mond. “So, dan is dit die rede vir die skielike naarheid? Wel . . . ja, dit lyk miskien gevoelloos, maar ’n mens word daaraan gewoond, oubaas. Die wete dat ek die pasiënt baie pyn en ellende bespaar, maak dit vir my maklik om dit te doen. Maar ek moet sê, jy is sommer ’n ou sleg om so goedsmoeds te staan en naar word.”
“Dit wys jou net, ek het meer menslikheid in my as jy . . . ”
“Nou waaroor stry julle twee nóú weer?” kom Niel se stem onverwags van die deur se kant af.
“Ons stry nie, ons vertel mekaar maar net die waarheid . . . so padlangs,” antwoord Elaine. “Het jy die brandewyn gekry?”
“Ja, ek het, en ek het reeds vir my pa ’n drankie geskink en dit met water verdun . . . Hier, Pa!” Die oubaas neem die glas, ledig die inhoud en trek ’n vies gesig.
Niel kyk sy pa besorg aan.
“Ek dink dokter Swanepoel moet Pa ’n slag deeglik ondersoek. Ek hou niks van hierdie skielike naarheid nie.”
“Jy ontstel jou verniet, meneer Durandt,” keer Elaine haastig. “Dis maar net die hitte hier in die kombuis, gepaard met die spanning, wat vir die oubaas ’n bietjie te veel geword het. Sodra ek hier klaar is, sal ek vir my ou aartsvyand iets te drinke gee wat hom gou beter sal laat voel.”
“Hm, dit lyk amper of jy begaan is oor jou aartsvyand se gesondheid, rooikop!” sê Niel ondeund.
Elaine haal haar skouers ongeërg op.
“Ag, ek wil maar net nie hê hy moet self staan en doodgaan en my die genot ontsê om hom self nek om te draai nie.”
Oubaas Jacques snork hard deur sy neus van skone verontwaardiging, maar besluit om liewer niks te sê nie. Die meisiekind was flussies darem bedagsaam genoeg om nie vir Niel te laat agterkom waarom hy werklik naar voel nie. Ja-nee, sy respek vir die meisiekind het sommer gestyg.
Nadat Elaine die wond verbind het, haal sy ’n paar tablette uit haar tas en verduidelik aan Amos dat hy een moet neem wanneer die arm baie pyn. Hierna bied sy die oubaas ’n kalmeermiddel aan en sê dat hy aanstons weer soos ’n mens sal voel.
Die oubaas, so mak soos ’n lam, neem die mengsel en drink dit sonder enige teenstribbeling. Niel kyk die twee met opgetrekte wenkbroue aan, skoon verbaas oor hierdie skynbare wapenstilstand.
“Amos kan oormôre na Boskloof toe kom sodat ek weer na die wond kan kyk,” sê Elaine terwyl sy haar tas toeknip. “Intussen moet hy die arm laat rus en nie met die verband peuter nie.” Sy neem haar tas op en wil net tot siens sê, maar dan is Niel weer aan die woord.
“Jy wil tog nie vir my sê dat jy nou al weer wil ry nie, Elaine? Jy moet nog vir jou diens vergoed word, en daarna gaan ons eers koffie drink,” stel Niel voor.
Elaine skud haar kop. “Jou pa kan die rekening vereffen nadat ek die steke uit Amos se arm verwyder het. Ek kan ook nie vir koffie bly nie, dankie.”
“Ek wens jy wil ophou om ons so vyandiggesind te wees, rooikop. Ons, ek en my pa . . . ”
Elaine maak hom terstond stil.
“Tot siens, meneer Durandt! Tot siens, oubaas!”
“Tot siens, doktertjie, en dankie vir alles wat jy gedoen het!” “Niks te danke nie, oubaas,” antwoord Elaine. “Sorg asseblief net dat hier nie weer siekte of ongelukke plaasvind nie, want ek is hopeloos allergies vir Bordeaux en sy mense.”
“Toemaar, jy het nie nodig om my dit te vertel nie, ek weet dit,” antwoord die oubaas. “Ek is weer allergies vir rooihaar vroumense . . . ”
“Kom, ek sal saam met jou na die bakkie toe stap,” maak Niel terstond ’n einde aan die twee se gesprek voordat dit weer in ’n argument ontaard.
“Dis nie nodig nie,” maak Elaine haastig beswaar, gretig om so gou moontlik van Bordeaux en sy mense af weg te kom.
Maar Niel is glad nie haastig om haar te sien vertrek nie. Trouens, hy sou haar graag elke dag hier op Bordeaux wou sien . . . in die rol van mevrou Niel Durandt, natuurlik . . . Ja, hy is hopeloos verlief op haar. Hy het al gisteroggend, nadat hy met haar kennis gemaak het, geweet dat sy die enigste vrou vir hom is.
Maar van sy liefde vir haar laat hy niks blyk nie.
“Ek stap graag saam met jou, Elaine,” sê hy, “en jy kan gerus maar aan my teenwoordigheid begin gewoond word. Jy gaan my in die toekoms nog baie te sien kry.” Hy neem haar arm en lei haar na buite waar die bakkie staan.
“So, en wat laat jou dink dat ek jou in die toekoms baie gaan sien, meneer Durandt?” vra sy effens snipperig.
“Wel, as jy dit in aanmerking neem dat ek Boskloof môre oorneem, moet jy tog erken dat dit ’n logiese stelling is.”
Hulle bereik die bakkie en Elaine bly meteens staan.
“So,” sê sy afgemete, “dan is die Enslins van môre af jou . . . jou bywoners! Jy verwag natuurlik nie dat ek daaroor in die wolke moet wees nie, nè?”
“Nee, soos wat ek jou reeds ken, verwag ek dit nie,” sê hy. “Jy het dit nou eenmaal in daardie rooi kop van jou gekry dat ek julle Enslins wil onderdruk, en niks wat ek sê, sal jou tog van gedagte laat verander nie. Maar ek herhaal: Jy gaan my van môre af dikwels sien . . . ja, sommer baie dikwels.”
“Tot siens, meneer Durandt,” sê Elaine.
Toe klim sy in die bakkie en ry vinnig weg.