Читать книгу Sag ruis die nagwind - Susanna M Lingua - Страница 5

2

Оглавление

Vyf jaar het verstryk sedert Alta die gewigtige besluit geneem het om verpleegster te word; vyf lange jare wat haar getoon het waartoe sy in staat is en wat van haar ’n ander mens gemaak het. Sy is nou byna vier-en-twintig, en van die agttienjarige, plesierlustige Alta is daar geen teken meer te bespeur nie. Uiterlik is sy nog die mooi, fyn swartkop van vyf jaar gelede, maar innerlik is sy ’n ernstige jong meisie wat rigting het in die lewe.

Hier waar Alta nou besig is om haar persoonlike besittings in te pak, voel dit amper vreemd om te dink dat sy die hospitaal eindelik gaan verlaat.

“Ek sal jou mis, Alta,” sê Erna Bester, wat op die voetenent van Alta se bed sit. “Ek en jy is die enigste twee wat oorgebly het van die groep wat vyf jaar gelede saam as leerling-verpleegsters hier begin het, en nou gaan jy ook weg.”

“Ek sal jou ook mis, Erna,” glimlag Alta, “maar jy weet tog lankal dat ek my kom bekwaam het as verpleegsuster sodat ek privaat verpleging kan doen en oral kan help waar my hulp dringend nodig is.”

“Wat sê matrone? Het jy haar al gegroet?”

“Ek het haar nou net gaan groet,” antwoord Alta. “Sy sê hier is baie beter vooruitsigte vir my in die hospitaal, maar dit is nie waarin ek belangstel nie. Ek het haar toe vertel waarom ek my as verpleegsuster bekwaam het.” Alta begin meteens saggies lag. “Ek dink nou aan die eerste dag toe ek hier in die hospitaal begin werk het. Onthou jy nog hoe onnosel ek was en hoe baie flaters ek begaan het?”

“Ja,” lag Erna saam, “jy kon sowaar nie eens tee maak nie, en die melk het jy altyd laat oorkook. Van jou toebroodjies praat ek nie eens nie!”

“Ek het my eerste praktiese eksamen ook maar naelskraap geslaag.”

“O, maar jy het daarna vinnig geleer,” kom dit vriendelik van Erna. “Na ses maande kon daardie suurknol van ’n suster Weyer nie meer jou werk kritiseer nie. Sy was darem ’n regte ou heks.”

“Ja, ek dink meer as een verpleegster was bly toe sy bedank het. In elk geval, ek was bly,” erken Alta. “Sy het my bitter swaar laat leef. Ek hoop jy betoon meer genade aan die eerstejaartjies as sy, Erna.”

“Toemaar, ek sal meer geduld aan die dag lê as Weyer. Ek het in elk geval nie haar probleme nie,” glimlag Erna.

“O ja, sy het probleme met haar man gehad. Hy was mos die soort wat oor die draad loer. Was hy nie met een van die derdejaars deurmekaar nie?”

“Ja, hy was, en die arme ding het nie eens geweet hy is suster Weyer se man nie. Die vent het hom mos as geskeide man voorgedoen,” vertel Erna.

“Tog, op die oog af het hy nogal glad nie onaardig voorgekom nie,” sê Alta en knip die laaste tas toe.

“Dit wys jou net hoe onbetroubaar die ou nasie is,” sê Erna ongeërg.

“En wat van jou geliefde Pieter?” terg Alta laggend.

“O, hy is die enigste mansmens wat betroubaar is,” sê Erna en kom stadig orent. “Het jy nou klaar ingepak?”

“Dit lyk so. As ek iets vergeet het, moet jy dit maar vir jou neem . . . Stap jy saam? Ek wil gaan bel en ’n taxi ontbied.”

“Ja dankie, ek sal saamstap. Maar vertel eers vir my, Alta, waar gaan jy aansoek doen om ’n privaat betrekking?”

“In Pretoria, by die Sonskyn-buro vir privaat verpleegsters,” antwoord Alta.

“Gaan jy vandag nog aansoek doen?” wil Erna weer weet terwyl hulle tydsaam met die gang afstap in die rigting van die telefoonhokkie.

“Nee, ek gaan eers ’n paar dae by my pa op die plaas kuier. Ek het hom lanklaas gesien, en jy weet self hy is nie te gesond nie.” Nadat Alta ’n taxi ontbied het, gaan haal hulle haar bagasie in die kamer en neem dit na die ingangsportaal, waar hulle saam op die koms van die taxi wag.

Dis byna elfuur toe die taxi voor die motorhuis stilhou waar Alta se motor reeds die afgelope vyf jaar gehuisves word. Sy bedank die taxibestuurder, vereffen die reiskoste, en etlike minute later is sy onderweg na Die Wilgers, die Van Edens se weelderige plaas in die Laeveld.

Dis lente, en die wêreld is groen net waar ’n mens kyk. Alta se hart sing saam met die motor se buitebande op die lang, vaal pad.

Vyf jaar lank het sy hard gewerk om haar ideaal te verwesenlik, en nou kan sy eindelik sê sy is gereed vir die taak wat op haar wag.

Sy dink aan die hospitaal, die pasiënte en die verpleegsters. Sy dink aan al die dinge wat haar lewe die afgelope vyf jaar verryk het. Vandag voel sy bly oor die besluit wat sy destyds in Groendal se hospitaal geneem het, want dit was daardie besluit wat rigting aan haar lewe begin gee het.

Sy voel bly en opgewonde toe sy voor die groot, sierlike dubbelverdiepinghuis op Die Wilgers stilhou. Die twee Duitse herdershonde wat weerskante van haar pa se stoel lê, daar waar hy op die systoep sit, lig hul groot koppe op toe hulle die motor voor die deur hoor stilhou. Marius streel gerusstellend met sy hand oor die diere se groot koppe.

“Toe ek die motor hoor, het ek geweet dis jy, ounooi,” glimlag die oubaas nadat Alta hom gegroet het.

Sy neem op die stoel teenoor hom plaas en vra belangstellend: “Gaan dit nog goed, Pappa?”

“Redelik, soos altyd, my kind. Hoe gaan dit met jou? Jy sien goed daaruit.”

“Ek voel goed, Pappa, so goed dat ek sommer die wêreld kan versit. Ek is mos nou ’n opgeleide verpleegsuster en nie meer ’n nuttelose sosiale vlinder nie. Maar ek gaan eers ’n paar dae hier by Pappa kuier voordat ek aansoek doen om ’n privaat pos.”

“Het jy nog nie ’n man raakgeloop in wie jy sin het nie, ounooi?” vra die oubaas met ’n ondeunde uitdrukking in sy donker oë.

“O, daar was ’n jong huisdoktertjie, Pappa,” antwoord sy met ’n vonkel in haar oë. “Ek het nogal van hom gehou totdat hy my vertel het wat sy een groot strewe in die lewe is. Daarna het ek belangstelling in hom verloor.”

“En waarna streef die man, ounooi?” Die oubaas kyk haar met belangstelling aan.

“Na rykdom en aansien, Pappa; net asof daardie dinge sy pasiënte sal gesond maak of van hom ’n beter dokter sal maak. Ek het vir hom gesê dat hy na die verkeerde dinge hunker, dat hy liewer daarna moet streef om ’n bekwame en toegewyde dokter te wees. Die ander dinge sal wel eendag vanself kom.”

“My kind, elke mens streef bepaald na rykdom en aansien.”

“Nee, nie almal nie, Pappa,” val sy hom ernstig in die rede. “Daar is ander huisdokters wat hul plig teenoor hul medemens besef en wat ernstig daarna streef om hulle te bekwaam om dood en siekte te bestry. Vir hulle is die mediese professie nie net ’n pad wat na rykdom en aansien kan lei nie.”

Die huishoudster, Sarie Nel, se verskyning met die teegerei op die systoep, maak ineens ’n einde aan die twee se gesprek. Sy groet Alta en vra of haar bagasie nog in die motor is.

“Ek sal bly wees as een van die huishulpe my tasse na my kamer toe sal neem, mevrou. Sy kan die tasse gerus uitpak, want môre wil ek my klerekas deursoek en ontslae raak van alles waarvan ek nie meer hou nie.” Sy kyk haar pa aan en vervolg: “Daar is klere wat ek nog gekoop het toe ek agttien was en nooit eens sal droom om weer te dra nie. Mevrou Nel kan dit maar onder die huishulpe uitdeel.”

Marius kyk sy dogter met goedkeuring aan en sê met ’n stil glimlag: “Heeltemal reg, jy is nou ’n volwasse meisietjie; jy behoort alles nuut aan te koop. Terloops, ek het vir jou ’n nuwe motor gekoop; so ’n rooi Jaguar.”

Alta kyk haar pa met ’n breë glimlag en ’n sagte blik aan. Toe kom sy orent, sit haar arms om sy nek en bedank hom met ’n liefdevolle soen.

“Pappa bederf my gans te veel,” laat sy opgewonde hoor. “Ek was self van plan om later vir my ’n nuwe motor aan te skaf, maar ek sou natuurlik nie so ’n duur motor kon bekostig nie.”

Terwyl hulle tee geniet, gesels hulle oor die hospitaal en oor die bedrywighede op Die Wilgers. Later gaan bekyk Alta haar nuwe motor in die motorhuis. En toe die ergste hitte begin afneem, glip sy in haar swemklere en spring in die swembad. Hier baljaar sy in die water totdat die skaduwees van die bome lank begin rek. Sy klim uit die swembad en laat haar blik behaaglik oor die pragtige tuin gaan. Dit lyk kompleet asof die huis in die middel van ’n weelderige, groot park gebou is. Aan weerskante van die pad wat van die groot hek af na die huis toe lei, is daar netjiese grasperke, blombeddings, sierbome en struike.

Meneer Els is inderdaad ’n wonderlike tuinier, dink sy terwyl sy haar verlustig in die skoonheid van die natuur wat haar omring. Die Wilgers is ’n ware lushof.

Daardie aand na ete sit sy tot laat by haar pa op die systoep wat heeltemal met gaasdraad teen slange en insekte beskut is. ’n Reuse-dubbelskuifdeur van glas wat die hele een muur van die ontvangsvertrek beslaan, is die enigste uitgang na die systoep. Al die vensters van die huis is ook met gaasdraad beskut, en voor elke buitedeur is ’n gaasdeur aangebring.

Die volgende dag ruim Alta haar kleedkamer op. Sy gooi al die klere waarvan sy nie meer hou nie uit en merk dat die inhoud van haar klerekas nou baie skraal is, maar dit pla haar glad nie. Terwyl sy in Pretoria op ’n betrekking wag, sal sy sommer haar klerekas ook aanvul.

Die volgende vier dae hou sy haar pa geselskap en wanneer hy rus, kuier sy op die plaas rond. Sy sit ure langs die rivier na die voëlgesang in die hoë wilgerbome en luister. Sy lê besoek af by die tuinier en die plaasbestuurder se huise en geniet dikwels tee saam met hul middeljarige vroue.

Hierdie besoekies van Alta waardeer hulle baie, want by haar is daar geen aanstellerigheid te bespeur nie. Sy is ’n vriendelike en minsame meisie.

Alta vertoef net ses dae op Die Wilgers, toe pak sy weer in en vertrek die volgende oggend. Sy kom elfuur die oggend in Pretoria aan en ry na die naaste hotel toe om ’n kamer te huur. Dan gaan sy na die Sonskyn-buro in die middestad.

Die kantoor is op die grondvlak van die groot, nuwe gebou; dus ondervind sy geen moeite om die plek te kry nie. Sy stap by die kantoor in en tref ’n bejaarde, gryskopvrou in ’n verpleegstersuniform agter ’n lessenaar aan. Alta groet die vrou beleef en stel haarself voor.

“Aangename kennis, suster Van Eden,” sê die vrou ewe vriendelik. “Ek is suster Cloete. Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”

“Wel, ek wil graag aansoek doen om ’n privaat betrekking, suster Cloete,” antwoord Alta.

“Suster, ek verseker jou, jou diens sal baie gewaardeer word,” laat die ouer vrou hoor. “Sit, asseblief. Kan ek jou sertifikate en getuigskrifte sien?”

Alta lê die gevraagde dokumente aan haar voor en merk op dat sy elkeen met aandag lees.

Na ’n rukkie sê suster Cloete weer: “Ek merk jy is nog ongetroud, dus sal dit aan jou seker geen verskil maak waar die pasiënt woon nie.”

“Nee, dit maak nie saak nie,” antwoord Alta. “Ek wil graag help waar my diens dringend nodig is.”

Suster Cloete kyk haar met ’n goedkeurende blik aan en vervolg: “Op my waglys is ’n pasiënt wat sorg dringend nodig het, suster. Dis die agt-en-sestigjarige meneer Petrus Conradie. Hy is ’n hartlyer en albei bene is verlam. Die pasiënt woon op Saaiplaas, etlike kilometers anderkant die Vaalrivier. Sy geneesheer, dokter Malan, het maande gelede al aansoek gedoen om ’n verpleegster, maar privaat susters is skaars.”

Alta luister die ene aandag, haar belangstelling dadelik geprikkel deur die inligting dat die pasiënt ’n hartlyer is.

“In elk geval, die pasiënt is welgesteld en daar is genoeg huishulpe in die huis. Die plaasbestuurder en sy vrou woon ook by die oubaas in, en die vrou neem die huishouding waar.”

“Wanneer moet ek my vir diens op Saaiplaas aanmeld, suster?” wil Alta weet.

“Ek sal uitvind wanneer die eerste trein daarheen vertrek en dan met dokter Malan in verbinding tree sodat hy jou op Doringspruit se stasie kan gaan haal. Terloops, Doringspruit is die dorp naaste aan Saaiplaas, die dorp waar dokter Malan praktiseer.”

“Verskoon my,” val Alta haar in die rede, “maar ek het my eie motor. As jy aan my kan verduidelik hoe ek moet ry om daar te kom, kan ek môreoggend vertrek.”

“O, dokter Malan hét ons van ’n padkaart voorsien.” Uit die boonste laai van haar lessenaar haal sy ’n opgevoude padkaart. Versigtig vou sy dit oop en wys vir Alta waar Doringspruit en Saaiplaas geleë is. “Dokter Malan sal baie bly wees om te hoor dat jy môreoggend Saaiplaas toe gaan. Jy kan die padkaart maar saamneem, suster.”

“Wel,” sê Alta en kyk op haar duur polshorlosie, “as ek môre wil vertrek, sal ek nou moet aanstaltes maak om te gaan.”

“Jy weet natuurlik dat jy per dag betaal word,” herinner sy Alta. Sy kyk vlugtig af na die lêer voor haar en noem ’n bedrag.

Alta knik instemmend, tel haar handsak op wat voor haar op die lessenaar lê, en kom orent. Hulle gesels nog ’n rukkie, dan groet en vertrek Alta.

Sy keer eers terug hotel toe vir middagete, daarna gaan doen sy inkope om haar skraal voorraad klere aan te vul. Voordat sy daardie aand gaan slaap, bel sy eers haar pa om hom die goeie nuus mee te deel.

Die volgende oggend vertrek Alta net na ontbyt. Sy maak eers ’n draai by Johannesburg se Algemene Hospitaal om haar vriendin, Erna Bester, van Saaiplaas en die nuwe verwikkelinge te vertel. Hier kom sy nie weg voor twaalfuur nie. Sy besluit om maar eers middagete in Johannesburg te nuttig voordat sy die reis voortsit.

Eers toe sy later deur die buitewyke van Johannesburg ry, merk Alta op dat die weer donker en dreigend in die suide opsteek.

Ek hoop nie die reën oorval my langs die pad nie, gesels sy met haarself. Dit sal beslis nie aangenaam wees om ’n string plaashekke in ’n stortbui reën oop te maak nie. En dan is daar dalk nog probleme met die pad ook. Ek hoop die pad is ten minste geteer tot op Doringspruit; wat ’n eienaardige naam vir ’n dorp. Dit sal ’n vreeslike wonderwerk wees as die pad van Doringspruit af geteer is tot by Saaiplaas, maar ek verwag dit nie.

Die pad is lank en eentonig, en die ure sleep traag verby.

Die eerste weerligstraal kronkel soos ’n blink slang teen die grys wolkemassa wat nou byna reg bokant haar hang. Sy wonder of sy nie maar vinniger moet ry nie. Die motor is nog nie ingery nie, en sy wil nie die enjin beskadig deur te vinnig te ry nie. Sy hoop egter daardie grys wolke voorspel reën, want as dit hael is, gaan dit ’n groot lollery afgee.

Alta kyk op die horlosie teen die paneelbord en merk op dat dit al byna vieruur is. Die rooi Jaguar dreun teen die bult uit. Eindelik is sy bo-op die bult, en daaronder lê ’n dorp soos ’n oase in ’n woestyn.

Dit moet beslis Doringspruit wees, flits dit deur haar gedagtes. Weer kartel ’n weerligstraal teen die hemelgewelf, gevolg deur ’n diep dreuning.

Sy wonder of sy Saaiplaas sal bereik voordat die storm losbars. Volgens dokter Malan se tekening en nota aan die agterkant van die padkaart, is Saaiplaas sestig kilometer van Doringspruit af. Dus sal sy nog bykans ’n uur op die pad wees.

Sy ry langs die dorp verby, oor ’n lae betonbruggie, en merk dat dit nou grondpad is. Alta, ou kind, vermaan sy haarself, jy moet nou jou oë oophou vir slote en gate. Dis ’n plaaspad dié.

’n Weerligstraal klief af en toe deur die wolkemassa, en die weer dreun in die suide, maar Alta kan hoor dat die dreuning vinnig nader kom. Ook die wind steek nou blitsig op. Sy sien hoe die wolke maal en donkerder word. ’n Halfuur later lyk dit asof ’n ontydige skemering oor die aarde toegesak het, en sy is verplig om die motor se ligte aan te skakel.

Sy is nog dertien kilometer van Saaiplaas af toe die storm losbars. Verblindende weerligstrale en oorverdowende donderslae volg mekaar snel op. Groot reëndruppels kletter soos haelkorrels op die motor se dak, en die wind dreig met geweld om die voertuig van die pad af te ruk. Die ruitveërs, wat op hul vinnigste gestel is, is kwalik in staat om haar die nodige uitsig te gee.

Binne etlike minute lyk die pad soos ’n rivier, maar Alta hou nie stil nie. Teen ’n slakkegang ploeg die rooi Jaguar deur die bruin modderwater, en eindelik maak die pad ’n draai. Nou het sy die storm van agter en kan sy darem beter deur die voorruit sien, ofskoon nie baie ver nie.

Die minute voel vir Alta soos ure, en eindelik doem ’n groot plaashek voor haar op. Sy ry stadig nader totdat sy die naam op die bordjie kan lees: Saaiplaas – P. Conradie. Wel, dank die hemel, sug sy saggies en hou stil. Maar hoe op aarde gaan ek daardie hek in hierdie storm oopmaak? My reënjas is ingepak, en ek het nie eens ’n sambreel nie.

Met ’n berekenende blik beskou sy die grys lug en besluit dat dit nog lank sal duur voordat hierdie storm bedaar. Sy skakel die motor se enjin af en haal haar reënjas uit die tas waarin dit gepak is.

Vinnig glip sy die reënjas aan en trek haar skoene en kouse uit. Sy maak die motordeur oop en klim vinnig uit. Die wind slaan byna haar asem weg. Maar die afgelope vyf jaar het sy aan baie dinge gewoond geraak; aan wind en weer ook.

Nadat sy die hek weer sorgvuldig toegemaak het, trek sy net haar skoene aan en val dan maar weer in die pad. Die pad lyk nog soos ’n rivier, maar na tien minute kry sy eindelik Saaiplaas se groot, wit opstal in sig.

Die plaashuis is aan die voet van ’n hoë, rotsagtige koppie geleë, en aan die noordekant van die huis staan etlike hoë seringbome. Sy sien hoe die kruine van die bome buig onder die aanslag van die wind, hoe die water in strome oor die huis se geute stort. Alles lyk so eensaam en verlate in die storm dat dit vir Alta byna voel asof sy die enigste lewende wese hier op Saaiplaas is.

Sy hou voor die deur stil, skakel die motor af en sug hardop van verligting omdat hierdie nagmerrierit eindelik agter die rug is.

Haar blik dwaal weer na die huis en oor die werf, maar sy merk geen teken van lewe nie. Sy wonder of sy moet uitklim of liewer hier in die motor moet wag totdat die storm bedaar het. Dis duidelik dat niemand die motor hoor stilhou het nie, want die voordeur bly toe.

Na ’n rukkie besluit sy om maar liewer uit te klim. Te oordeel na die lug, lyk dit asof hierdie storm beslis nie gou sal bedaar nie. Sy trek die kappie van haar reënjas sorgvuldig oor haar kop, neem haar handsak en skoene en klim uit. Omdat al haar bagasie in die motor is, sluit sy eers die voertuig voordat sy haar na die beskutting van die ruim voorstoep haas.

Op die stoep trek sy eers haar skoene aan voordat sy aanklop. Sy moet egter twee keer klop voordat die deur eindelik vir haar oopgemaak word. ’n Lang, blonde man, niks ouer as vyf en dertig nie, verskyn in die oop deur en kyk haar verbaas aan.

“Goeiemiddag,” sê sy, “ek is suster Alta van Eden, meneer Conradie se verpleegster.”

Die man se gesig helder meteens op. “Aangename kennis, suster. Maggies, kom binne,” nooi hy met ’n vriendelike glimlag en groet haar met die hand. “Ek is Gert Strydom, oom Petrus se plaasbestuurder. Dokter Malan het ons gister gebel en gesê dat ons jou vandag kan verwag, maar ons het gedink dat jy op Doringspruit sou vertoef totdat die pad weer gangbaar is. Dit was seker nie ’n aangename rit nie, suster.”

“Dit was ’n nagmerrierit, meneer Strydom,” verseker sy hom met ’n sweem van ’n glimlag. “Ongelukkig het die storm my tussen Doringspruit en Saaiplaas oorval, anders sou ek beslis op die dorp vertoef het totdat die storm oorgewaai het.”

Hulle stap ’n ruim sitkamer binne wat met swaar, outydse meubels gemeubileer is. Alles is baie netjies en die meubels blink soos spieëls.

“Sit asseblief, suster, ek gaan net my vrou roep,” sê hy.

Toe Gert deur die sitkamerdeur verdwyn, knoop sy haar reënjas los. Voordat sy die nat reënjas kan uittrek, keer hy terug met sy vrou; ’n vyf-en-twintigjarige vroutjie met bruin hare wat baie duidelik swanger is.

“Suster Van Eden, dis nou my vrou, Annie,” stel Gert hulle voor.

Alta en Annie erken die bekendstelling, dan vra Annie: “Sal jy asseblief saam met my kom, dan neem ek jou na jou kamer toe? As jy die nat reënjas uittrek, kan Gert dit vir Sara gee om in die kombuis voor die stoof droog te maak. Jou skoene is seker ook nat.”

“Nee, my skoene is gelukkig nie nat nie,” sê Alta terwyl sy die reënjas uittrek. “Ek het kaalvoet deur die water geloop. Ek hoop die storm bedaar sodat ek darem vanaand nog my bagasie in die motor kan gaan haal.”

“Gert kan die sambreel neem en dit vir jou gaan haal, suster,” stel Annie voor. Sy neem die reënjas by Alta en gee dit vir haar wederhelf.

“Dan sal meneer Strydom die sleutels moet neem, want ek het my motor gesluit. Terloops, is hier ’n motorhuis of ’n afdak wat ek vir my motor kan gebruik?”

“Saaiplaas se voertuie word gewoonlik in die waenhuis gebêre, suster, en daar is genoeg plek vir jou motor ook,” lig Gert haar in.

Sy bedank die man, hou die motorsleutels na hom uit en stap dan saam met Annie na die kamer wat vir haar gereedgemaak is.

“Waar is my pasiënt, mevrou Strydom?” vra sy belangstellend toe hulle haar kamer binnestap.

“Oom Petrus is in die bed, suster. Hy het gisteroggend weer ’n ernstige hartaanval gekry. Ek en Gert het groot geskrik, want nie een van ons weet wat om in so ’n geval te doen nie. Glo my, ons is net so bly soos dokter Malan dat jy nou hier is. Gert sal die dokter moet bel. Hy het gesê ons moet hom laat weet sodra jy hier is.”

“Ek sal graag met hom wil kennis maak sodra ek my voorkoms effens opgeknap het, want ek het so ’n vae vermoede dat ek soos ’n natgereënde hoender lyk,” glimlag Alta. Sy neem ’n kam uit haar handsak en trek dit ’n paar keer deur haar kort swart hare.

“Verskoon my, suster, maar jy lyk nog baie jonk,” sê Annie. “En noem my gerus Annie.”

“Ek is darem nie meer ’n tienderjarige nie,” antwoord Alta. “Ek is een van die dae vier-en-twintig, en ek is ’n opgeleide verpleegsuster. Trouens, ek het my in kraamverpleging ook bekwaam.”

“O, ek betwis nie jou bekwaamheid nie, suster,” sê Annie verontskuldigend. “Dokter Malan het vir oom Petrus gesê dat jy goed gekwalifiseer is. Ek bedoel maar net dat jy baie jonger as vier-en-twintig lyk. Ek het gedink jy is negentien.”

“Op daardie ouderdom was ek al amper ’n tweedejaartjie,” glimlag Alta, neem haar lipstiffie uit haar handsak en gaan staan voor die kleedtafel se spieël.

Sy het ook net haar gesig klaar gegrimeer, toe verskyn Gert in die kamerdeur met haar twee wit leertasse. Sy bedank hom vriendelik en neem die motorsleutels wat hy aan haar oorhandig.

“Ek was van plan om jou motor in die waenhuis te gaan trek,” sê hy hulpvaardig, “maar my skoene is te nat en vol modder om in daardie duur motor van jou te klim. Toe het ek maar net die deur weer gesluit.”

“Dankie, dit was baie vriendelik van jou, meneer Strydom.”

“Suster, ek dink dit sal beter wees as jy my en my vrou sommer op ons name noem,” val Gert haar vriendelik in die rede. “Almal in hierdie geweste noem ons Gert en Annie. Oom Petrus sal ook nie daarvan hou dat jy hom meneer Conradie noem nie. Noem hom maar liewer uit die staanspoor oom Petrus. Hy voel juis nie te gelukkig oor die feit dat ’n vreemde vrou hom moet versorg nie. Hy het vir dokter Malan gevra om vir hom ’n verpleër te kry, maar hy het hom uitgelag en gevra waar dink hy gaan hy so ’n man in die hande kry. Dis al moeilik genoeg om ’n privaat verpleegster te kry, want niemand wil op ’n plaas verpleeg en by die pasiënt inwoon nie.”

“Wel, ek is jammer om te hoor dat die oubaas teen ’n vrou gekant is. Hy sal maar net aan my gewoond moet raak. Ek is in elk geval gewoond daaraan om mans te verpleeg.” Haar donker oë begin meteens ondeund vonkel. “Ek dink ek sal eers my uniform aantrek voordat ek met die oubaas gaan kennis maak.”

“Ek dink dit is ’n goeie plan,” glimlag Gert sameswerend. “Jy lyk gans te jonk in daardie rokkie. Oom Petrus sal sê hy laat nie ’n kind aan hom vat nie.”

“Maar ek is nie meer ’n kind nie, Gert,” maak sy dadelik kapsie. “Ek het nou net vir Annie gesê dat ek een van die dae vier-en-twintig is.”

“Ek het vir suster gesê sy lyk negentien,” lag Annie.

“Jy het gelyk, vrou, sy lyk nog ’n skone kind. In elk geval, laat ons gaan sodat suster haar kan verklee. Ek sal solank vir oom Petrus gaan sê dat sy verpleegster hier is en dat sy hom aanstons sal kom groet.”

“My ou man, bel tog eers vir dokter Malan voordat jy enigiets anders doen. Hy wonder seker al wat van suster geword het.”

“Nou goed, laat ons gaan.”

Met hierdie woorde verlaat Gert en Annie die vertrek en is Alta eindelik alleen in haar kamer. Dis ’n ruim kamer met ’n groot venster en ’n wasbak in die een hoek. Die kamerstel is ongeveer veertig jaar oud, maar dit is blink gepoets en alles is baie skoon en netjies.

Nadat Alta haar hande gewas het, pak sy slegs die nodigste uit. Sy is sommer gou gereed in haar uniform, want die vyf jaar in die hospitaal het haar geleer om haar vinnig te verklee.

Die wit uniform laat haar heelwat ouer lyk as wat sy werklik is, dink sy. Haar blik skuif na die breë, wit gordel om haar dun middeltjie en dan weer na haar netjiese, wit plathakskoene. Sy besluit dat sy goed genoeg lyk om met haar pasiënt te gaan kennis maak.

Alta verlaat haar kamer en tref Annie en Gert albei in die kombuis aan.

“O, maar dis lekker warm hier in die kombuis,” kondig sy haar teenwoordigheid aan. Sy kan ’n glimlag nie bedwing toe sy opmerk hoe verbaas Gert en Annie haar aanstaar nie. Selfs die twee huishulpe kyk haar met eerbied aan. Sy draai na Gert en vervolg: “Ek is gereed om my pasiënt te gaan groet. Sal jy my asseblief gaan wys waar sy kamer is?”

“Suster, ek doen dit met graagte,” antwoord Gert. “Glo my, ons is maar te bly dat jy oom Petrus kom versorg. Hy was gisteroggend byna dood en dit net omdat hier niemand was wat hom die nodige inspuiting kon gee nie.”

“Ek hoop nie my koms het oom Petrus ontstel nie,” sê sy toe hulle deur die eetkamer stap.

“Dit lyk darem nie asof hy ontsteld is nie,” antwoord Gert.

“Hy is nou wel ’n ou korrelkop, maar hy besef darem dat hy ’n verpleegster se sorg dringend nodig het as hy hier op Saaiplaas wil bly.”

“Dokter Malan wou hom dus hospitaal toe gestuur het?” vra sy.

“Ja, hy het gisteroggend so gesê. Maar noudat jy hier is, sal dit nie meer nodig wees nie, suster.” Gert stoot die deur oop en volg haar na binne. “Oom Petrus,” sê hy, “dit is nou suster Alta van Eden.” Hy draai na die jong meisie en vervolg: “Oom Petrus Conradie, suster.”

Sy groet die oubaas met die hand. “Hoe gaan dit, oom Petrus?” vra sy en kyk hom ondersoekend aan. Hy is ’n lang, skraal man met yl, grys hare.

“Ek voel ’n bietjie moeg na gisteroggend se aanval, maar dit is natuurlik te verstane. In elk geval, ek sal môre weer beter voel,” antwoord hy.

“Hm, ja, dit is te verstane,” beaam sy en neem sy pols tussen haar vingers.

Met ’n veraf blik tuur sy deur die venster na die reën wat nou sagter val. Dis duidelik dat die storm uitgewoed is. Sy kyk op haar polshorlosie, en na ’n rukkie los sy die oubaas se pols.

“Ek veronderstel dokter Malan het vir oom medisyne voorgeskryf? Waar is dit?” vra sy.

“Alles is op die bedtafeltjie langs oom Petrus se bed, suster,” antwoord Gert.

Sy neem ’n koorspen, skud dit ’n paar keer en plaas dit onder die oubaas se tong. Weer kyk sy op haar polshorlosie en bepaal dan haar aandag by die medisyne wat op die bedkassie staan. Na ’n rukkie kyk sy weer op haar polshorlosie, neem die koorspen uit die oubaas se mond en bekyk die kwik in die buisie aandagtig. Sy spoel die koorspen onder die kraan by die wasbak af en plaas dit terug in haar sak.

“Jy moet mooi verstaan,” sê oom Petrus skielik, “ek laat nie so ’n jong meisiekind soos jy aan my liggaam raak nie. Ek is oud genoeg om jou pa te wees.”

“Ek weet, oom Petrus,” paai sy sag. “U is dertien jaar ouer as my pa. Maar dit het niks met die saak te doen nie. Ek is ’n verpleegsuster. Ek het al baie mans verpleeg, oud sowel as jonk.”

“Wel, ek laat nie toe dat so ’n kind soos jy my was en my met persoonlike dinge help nie. As ’n vroumens my dan moet versorg, kan dokter Malan vir my ’n ouer verpleegster kry.”

“U kan gerus daarvan vergeet, oom Petrus,” val sy hom vriendelik in die rede. “Ouer verpleegsters is gewoonlik getroud en het ’n eie gesin wat hul aandag vereis. Om daardie rede kan hulle nie by ’n pasiënt inwoon nie, want die gesin verwag dat die ma saans tuis moet wees.”

“Dis nie nodig dat die verpleegster hier moet inwoon nie,” sê hy, en sy weet dadelik dat sy ’n opdraande stryd met hom gaan hê. Sy weet nie waarom ’n ou mens so moeilik moet wees nie. Sy wys hom vriendelik tereg.

“U verwag dus dat die verpleegster elke oggend van Johannesburg of Pretoria af hierheen moet ry en saans weer terug? Dit is gans onmoontlik, oom Petrus, en in u toestand is dit veiliger om ook snags ’n opgeleide verpleegster byderhand te hê.”

“So, jy het ’n antwoord vir alles,” snou hy haar ergerlik toe. “Maar ek sê jou nou, jy kan maar oppak en weer môre teruggaan na waar jy vandaan kom. As ek nie ’n ouer verpleegster kan kry nie, verkies ek om sonder een te bly. Ek sal Malan dit sê ook. Ek laat nie so ’n jong kind aan my vat nie.”

Die oubaas is nog besig om sy griewe te lug toe Annie die vertrek met sy aandete binnekom. Alta se wenkbroue vorm ’n duidelike vraagteken toe sy na die bord kos kyk. Soveel ryk voedsel is beslis nie wenslik vir ’n hartlyer nie.

“Oom Petrus,” vra sy versigtig, “het dokter Malan nie vir u ’n dieet voorgeskryf nie?”

Hy kyk haar met ’n kil blik aan en antwoord openlik sarkasties: “Hy het, maar ek kan nie sien wat dit met jou te doen het nie, suster. Wat dokter Malan vir my voorskryf, is sy saak, en wat ek daaromtrent doen, is my saak. En ek sal eet wat ek wil . . . ”

“Daardie vet skaapribbetjie is gif vir ’n hartlyer, en daardie klomp room oor die nagereg ook,” sê sy met ’n glimlag, sonder om haar aan sy kil blik te steur.

“Ek het jou gesê . . . ” begin die oubaas, maar Alta onderbreek hom ferm.

“Ek weet wat u gesê het, oom Petrus,” sê sy kalm, “maar dit is my plig om u te vertel dat daardie kos glad nie bevorderlik is vir u gesondheid nie. My pa is ook ’n hartlyer, weet u?”

“Nou waarom gaan verpleeg jy nie jou pa nie?”

“Hy het nie ’n verpleegster nodig nie, oom Petrus. Hy bepaal hom streng by die hartspesialis se bevele en as u dieselfde sou doen . . . ”

“Sustertjie, ek dink jou kos word koud, jy moet liewer gaan eet. Annie, vat die meisiekind saam met jou sodat ek in vrede kan eet.”

“Oom Petrus, oom se halsstarrigheid sal u niks baat nie,” voeg Alta hom met ’n geamuseerde glimlaggie toe. “Ek het vandag baie ver gery om u te kom verpleeg, en ek is vasbeslote om hier te bly en my taak uit te voer.”

“So, jy is vasbeslote om hier te bly!” Hy meet haar met ’n streng blik. “En as ek weier om jou vir jou ongevraagde diens te betaal, wat gaan jy dan doen?”

“U betaal my nie direk nie, oom. U sal ’n rekening van die verplegingsburo kry. Anders sou ek u in so ’n geval gratis verpleeg het. Om die waarheid te sê, ek het nie geld nodig nie.”

“Jy verwag tog seker nie dat ek dit moet glo nie? Waarom verpleeg jy dan as jy nie die salaris nodig het nie?”

“Omdat ek graag my medemens wil dien,” antwoord sy sag. “In elk geval, ek gaan ook nou eet. Ek sal oom later kom gereedmaak vir die nag, en stadig asseblief met daardie vet skaapribbetjie. Die nagereg moet oom maar liewer nie eet nie.”

“Suster, ek laat my nie voorskryf nie.”

“Ek ook nie, oom Petrus, in elk geval nie deur ’n pasiënt nie,” roep sy hom met ’n glimlaggie toe.

“Vroumens, bewys my asseblief ’n guns en gaan eet nou.”

Alta begin meteens vrolik lag. “Ek gaan nou, oom Petrus,” sê sy. “Tot later.” Hierna verlaat sy die siekekamer saam met ’n swygsame Gert en Annie. Toe hulle buite hoorafstand is, sê sy sag: “Hy is baie koppig. Maar hy sal my maar net moet aanvaar, of hy daarvan hou of nie. Ek ken sy soort, ons het baie van hulle in die hospitaal verpleeg.”

“Dis waar, hy ís koppig. Maar aan die ander kant kan ’n mens hom ook nie blameer nie, suster,” tree Gert vir sy werkgewer in die bres. “Dit is nie maklik vir ’n man om ’n vreemde jong meisie toe te laat om hom met persoonlike dinge te help nie, ek bedoel nou . . . ”

“O, ek besef dit, Gert,” antwoord sy bedaard. “Ek sal sy gevoelens in ag neem en sagkens met hom werk, maar ek gaan darem ook nie aan al sy nukke toegee nie. Ek dink jy moet dokter Malan bel en hom vertel hoe die oubaas op my teenwoordigheid gereageer het. Dit is noodsaaklik dat hy sy pasiënt môreoggend onder vier oë moet kom spreek, anders gaan ek ’n lang ruk ’n opdraande stryd met die oubaas hê, en dit gaan my taak aansienlik bemoeilik. Hy moet besef dat ek hier is om hom te help, nie om met hom te argumenteer nie.”

“Ek sal dokter Malan na ete bel, suster,” belowe Gert.

Hulle nuttig ’n gesellige maal terwyl die reën nou sag op die huis se dak neersif.

“Gaan jy jou motor heelnag buite laat, suster?” vra Annie toe hulle van die tafel af opstaan.

“As hier nie kwaaddoeners is wat die voertuig sal beskadig nie, kan hy gerus maar buite slaap. Ek het regtig nie lus om weer nat te reën nie.” Sy kyk Annie vraend aan.

“Hier is nie kwaaddoeners nie,” verseker Annie haar, “maar as dit my motor was, sou ek dit nie heelnag in die reën laat staan het nie.”

“Ek ook nie,” kom dit van Gert. “In elk geval, ek sal die tuinier môreoggend aansê om jou motor te was en te poleer.”

“Dankie, Gert, dit is baie vriendelik van jou. Ek sal nie graag wil sien dat die motor iets oorkom nie, want dit was ’n geskenk van my pa. Maar as julle my sal verskoon, wil ek eers gaan kyk wat oom Petrus aanvang en of daar iets is wat ek vir hom kan doen.” Sy verlaat die eetkamer en stap na die siekekamer toe.

“Wat, is jy al weer hier?” begroet die oubaas haar, glad nie vriendelik nie.

“Maar ek het mos gesê ek sal oom later kom gereedmaak vir die nag,” antwoord sy met ’n soet stem en so onskuldig soos ’n kind.

Sy verwyder die leë borde van die bedkassie af en plaas dit op die dienwaentjie.

“Gert sal my kom regsien vir die nag,” sê oom Petrus.

“Gert is nie ’n verpleegster nie, oom Petrus,” herinner sy hom met Job se geduld, neem die bottel medisyne en beskou die etiket noukeurig.

“Ek het nie ’n verpleegster nodig nie,” kap die oubaas ergerlik terug.

“Dokter Malan is ’n ander mening toegedaan. Maar vertel vir my, het oom al vanaand medisyne gedrink?”

“Gert sal my later die goed kom injaag,” antwoord hy kortaf, maar Alta steur haar nie aan sy stuursheid nie. Sy vind die oubaas kostelik. Hy moet net sy giere en nukke laat staan, dan sal hulle baie goed met mekaar oor die weg kom.

“Ek het nie Gert se hulp nodig nie,” sê sy hardop. Sy skud die bottel, vul die lepel met die mengsel en vervolg bedaard: “Kom, drink u medisyne, oom, dis vir u eie beswil.”

Hierna gaan was sy die lepel onder die kraan en sit dit terug op die bedkassie. Haar blik val op die oubaas se Bybel wat ook op die bedkassie lê. Sy tel dit op, trek vir haar ’n stoel langs die bed en vra sag: “Kan ek vir oom Petrus ’n paar versies lees?”

“Jy kan maar lees as jy wil, suster,” antwoord hy nou opvallend afgetrokke.

“Goed, ek sal vir oom Psalm 91 lees . . . ”

Sy lees die hele psalm, en tot haar verbasing sê hy met ’n glimlag: “Dankie, sustertjie, dis ’n baie mooi psalm. Ek dink ek sal nou maar slaap.”

“Ek sal eers oom se rug ’n bietjie smeer. Daarna sal ek die beddegoed ’n bietjie regtrek en die kussings gemaklik maak. Dit sal oom baie lekker laat slaap.”

“Nee, laat staan maar die smeerdery,” keer hy haastig. “Skud maar net die kussings ’n bietjie reg.”

“Oom Petrus, jy maak my nou kwaad met jou koppigheid,” spreek sy hom effens streng aan sonder die gebruiklike u. “Besef jy dat jy bedsere kan ontwikkel as jou rug nie elke dag gesmeer word nie?”

“Ek wil nou slaap, suster,” is egter al antwoord wat sy kry.

Sy kyk hom etlike sekondes stil berekenend aan. Toe sê sy sag, nadruklik: “Nou goed, ek sal vanaand net die bed gemaklik maak. Maar van môre af neem ek in hierdie kamer oor, en dan sal ek geen koppigheid meer duld nie. Ek ken my werk, en ek weet presies wat goed is vir oom se gesondheid.”

“Ek het nie gesê jy ken nie jou werk nie, suster,” maak hy dadelik beswaar.

“Dis waar. Oom het dit nie gesê nie. Maar oom maak asof ek ’n onnosele, oningeligte kind is. Ek is nie ’n leerling-verpleegster nie; ek is ’n opgeleide verpleegsuster, en ek laat my nie deur ’n pasiënt vertel wat ek moet doen nie.”

“Ek het jou reeds gesê ek wil nie hê dat so ’n jong meisiekind aan my moet vat nie!”

“Ek is nie meer so jonk as wat oom dink nie,” antwoord sy bedaard. “Ek is een van die dae vier-en-twintig. En onthou, as oom môre nog weier om my hulp te aanvaar, gaan dokter Malan jou sonder versuim hospitaal toe stuur. En daar, my liewe oom, gaan die saalsuster jou nie was en met die pan help nie. Jong leerling-verpleegsters van agttien jaar sal oom met al daardie dinge help, want dit is hul werk. So, oom moet vannag besluit wat jy môre gaan doen. Ek wil nie langer met oom argumenteer nie.”

Hierna maak sy die oubaas se bed reg vir die nag, plaas die klokkie op die bedkassie binne sy bereik en wens hom ’n rustige nag toe. Van nou af, besluit sy, gaan sy hom heeltyd jy en jou sodat hy kan besef wie baas is. As sy hom u noem, gaan hy nog meer voel sy moet hom respekteer en sý wense en bevele uitvoer.

Sag ruis die nagwind

Подняться наверх