Читать книгу Rooiland - Tertius Kapp - Страница 3
Skrywersnota
ОглавлениеHierdie teks speel af in ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse gevangenis. Gedrag wat vir die leser moontlik vreemd sal voorkom, onnatuurlik en dalk ongemotiveerd, sal dikwels slegs sin hê as dit in die konteks van ’n gevangenis verstaan word. Wat traumaties is buite die tronk, is dikwels alledaags daarin. Aan die ander kant verkry alledaagse voorwerpe buitengewone waarde in die tronk. Humor kan dikwels donkerder as donker word, en oorbekende situasies aan die buitekant word met ’n ongeaffekteerde genot geparodieer.
Rituele in die tronk weerspieël dikwels gesagsrituele daarbuite. Die hiërargieë van owerhede – ook dié uit ’n vergange era soos 19de-eeuse Britse militêre range – word nageaap in bendestrukture. Die nukleêre gesin word geparodieer. Ideologie word in ’n gevangenis vir die buitestander sigbaar as mags- en/of oorlewingsmeganismes, terwyl baie gevangenes dit, onder wisselende mate van dwang, in ’n absolute vorm uitleef.
Die Nommers se verhale is ’n lewende mitologie. Daar is verskillende weergawes van dieselfde verhaal, en die onderskeie vertellers sal almal aanspraak maak op die absolute waarheid, met die wete dat dit slegs nóg ’n weergawe is. Aangesien die bendes se narratiewe mondelings oorgedra word, is dit maklik vir verskillende diskoerse om langs mekaar voort te leef. Terselfdertyd is daar baie ooreenkomste tussen die verskillende verhale wat jy in ’n tronk sal hoor.
Die dikwels poëtiese aard van karakters se taal vra uiteraard om ’n hoë mate van interpretasie deur die akteurs. Waar Chris en Adidas met hul selfversekerde machismo dalk meer voor die hand liggend is, vereis die onsekere Fransie en Pastoor (veral laasgenoemde met sy melodramatiese uitsprake) baie medewerking van die akteur om die karakter te vind. Die basiese handelinge word aangedui, maar dit word natuurlik van die regisseur verwag om verdere handelinge by te voeg na gelang van sy of haar interpretasie van die teks.
Verder moet ook genoem word dat dit in hierdie teks gaan oor die naasbestaan in Suid-Afrikaanse tronke van verskillende ideologieë en nie noodwendig oor die een se “oorwinning” oor die ander nie. Die kamp waarin ’n karakter hom ná die afloop van die stuk bevind, impliseer nie ’n morele sege oor sy teenpool nie.
Alhoewel baie van die gebeure of vertellings in die teks ooreenkomste met ware verhale toon, is hierdie drama per slot van rekening ’n gefiksionaliseerde situasie, gebaseer op uitgebreide navorsing.
Hierdie teks is geskryf as deel van Aardklop se teksontwikkelingsprogram. Die skrywer bedank graag vir Marguerite Robinson vir die geleentheid, en vir Rosa Keet vir raad en konstruktiewe terugvoering. Die skrywer wil ook navorsers bedank wie se werk in die teks gebruik is, veral Jonny Steinberg, Andries Petrus Weyers, Charles van Onselen, Nicholas Haysom, K.D.P. Makhudu, Heather Parker Lewis, asook informant C in Pollsmoor.