Читать книгу Die Serfontein-kinders #6 - Theunis Krogh - Страница 3
1
ОглавлениеAGTER DIE GLIMLAG
Soos altyd halftien in die oggend staan die vyf Serfontein-kinders saam op die dek.
Rondom die skip is die see helderblou, nou dat hulle nader aan die Kaap en verder van die tropiese hitte af is.
Baie kinders en grootmense hou hulle met dekspeletjies besig, maar nie die Serfonteins nie.
Van die mense wat nie speel nie bekyk die vyf kinders. Eintlik is hulle net doodgewone jongmense, maar hulle is doktor Roelof Serfontein se kinders, en hy is beslis nie “doodgewoon” nie. Almal wil hom leer ken, en bitter min mense kry dit reg.
Hy is een van Suid-Afrika se rykste en mees invloedryke mense. Hy het ’n onbekende plattelandse skooltjie tot ’n uiters sukses-volle kosskool opgebou, en is in Europa en Amerika bekend as ’n skrywer van formaat. Sy romans is al vertaal in Engels, Frans, Duits en Italiaans.
Die veertienjarige Josef is ’n aantreklike, stewige seun met kort, bruin krulhare en sy ma se groen oë en effens Romeinse neus.
Die agtjarige Berrie lyk of hy eendag baie soos Josef sal lyk, kompleet met groen oë en sproete, maar nou is sy gesig nog sag en rond. Hy is die enigste van die kinders wat sy pa sover kry om te wys hy is lief vir hom.
Dis juis vir hulle pa wat die kinders nou wag. Hulle het hulle ma vroeg vanoggend reeds gesien. Haar deur is nooit vir hulle gesluit nie en voor sesuur was hulle in haar kajuit. Hulle het oor haar en mekaar gerol en gespeel terwyl sy nog in die bed gesit het.
Hulle het geweet hulle pa skryf in sy eie kajuit langsaan aan sy twaalfde groot roman. Wanneer moontlik kom hy per boot terug van sy sakereise oorsee sodat hy ’n ruk lank kan skryf en behoorlik rus voor hy ’n nuwe skooljaar aanpak.
Sy verskyning op die dek is vir die vyf kinders die belangrikste oomblik van die dag.
Dian, nou nege jaar oud, staan effens eenkant. Sy het haar pa se perfek gevormde gesig en donker oë, maar anders as met hom, moet ’n mens haar eers leer ken voor jy besef hoe aantreklik sy is. Dian blom net vir dié vir wie sy lief is en wat haar verstaan.
Tiesjie is vier. Haar hare is krullerig soos haar ma s’n, maar dit het meer van die rooi as die goud daaruit geneem. Haar oë is ’n mengsel van groen en bruin. ’n Mens kan in hierdie stadium niks van haar gesiggie sê nie, behalwe dat dit baie beslis lyk.
Maar dis Richard, of Riekie soos almal hom noem, wat dadelik mense se oë vang. Hy is net twaalf jaar oud en baie skaam, so die aandag is vir hom ’n marteling. Maar dit kan nie anders nie. Saam met sy ma se goue hare het hy sy pa se gesig, met die mond nou alreeds ferm. Hy is sterk en slank gebou; sy pa se eie seun. Juis daarom is hy die kind wat die moeilikste met sy pa klaarkom, en vir wie doktor Serfontein die minste te sê het.
Al die ander kinders het ’n stokperdjie. Josef s’n is houtwerk. ’n Tuinhuisie van hout en sinkplaat in die agterplaas van die groot huis naby die skool se ingangshekke waar die gesin woon, is sy werkswinkel. Die Serfonteins word nie soos rykmanskinders grootgemaak nie. Hulle kry min sakgeld, en moet werk en spaar vir goed wat hulle nie daarmee kan koop nie. Josef gee elke sent wat hy in die hande kry uit op goeie hout en gereedskap.
Dian is miskien skaam, maar sy sal sing so lank as wat haar ma bereid is om haar te begelei.
Berrie is die hele mensdom se vriend – en dit hou hom besig.
Tiesjie maak die pragtigste kleidiertjies, wat haar ma laat dink sy gaan eendag ’n beroemde beeldhouer wees.
Maar Riekie het nie ’n stokperdjie nie. Sy gedagtes is net by sy pa. Alles wat hy doen, is ter wille van sy pa se goedkeuring. Hy kry egter min uiterlike bewys daarvan, al is hy slim en hardwerkend, en presteer hy in alles.
Doktor en mevrou Serfontein daag uiteindelik op. Riekie kan ontspan. Die aandag wat hom so kriewelrig maak, is nou op sy ouers.
Vreemdelinge is altyd verstom dat hierdie twee mense mekaar kon vind. Dit is te veel soos ’n feëverhaal. Hy is te aantreklik en sy is te mooi.
“Goeiste, Roelof!” sê sy tergend terwyl hulle oor die dek na hulle kinders toe loop. “Moet ons altyd almal se nekke so laat draai? Ek gaan een van die dae nes die koningin van Engeland begin wuif.”
“Die aandag, as dit wel bestaan, is net omdat jy so mooi is,” sê hy op sy hoflike, teruggetrokke manier.
“O nee! In die vyftien jaar wat ons getroud is, kry ek net hierdie soort aandag as jy langs my staan.”
“Dan is daar seker fout met my gesig.”
“Hier kom my kinders!” sê sy.
“As hulle jóú kinders is, is almal vanoggend soet,” sê hy rustig.
Vyf stralende gesigte kyk op na hom toe. Dian lyk op hierdie oomblik pragtig.
Vyf stemme groet op hulle verskillende maniere, van Josef se “Môre, Pa!” en Riekie se skugter gemompel, tot Berrie se vrolike “Morge, Pa!”
Hy trotseer ’n goedige gespot deur dapper nog verder te bry. “Pa se tgrui is nes ons s’n met die grolnek, net Pa s’n is grys!”
Doktor Serfontein is vir al sy kinders “Pa”. Nie een van hulle wil hom “Pappa” noem nie. Hulle ma is “Mamma”, maar wanneer hulle pa met hulle van haar praat, sê hy formeel “jou ma”.
“Hoe laat swem ons, Pa?” vra Josef.
“Elfuur, as dit julle almal pas.”
“Lekker!”
“Wat gaan Pa nou maak?” vra Berrie.
“Lees, as jy dit sal toelaat.”
“Nee, maarg …”
“Tot siens, dan.”
Berrie is vanoggend lus om te gesels, maar hy weet hoe min sy pa by die skool tyd kry om net vir ontspanning te lees. Dis hoekom hy daarvan hou om te reis. Berrie gee sugtend pad.
“Mag ek hier bly en ook lees?” vra Dian.
“Ja, seker. Ek bestel vir jou ’n stoel.”
“Sy kan myne deel,” sê mevrou Serfontein. “Sit hier op my voetbankie, Dian. Het jy ’n boek by jou?”
“Ja, Mamma.”
“Wat is jou planne vir die oggend, Laetitia?” vra doktor Serfontein vir sy jongste dogter.
“Die kaptein het mos gesê ek mag na die brug toe gaan en help om die boot te bestuur,” antwoord die vierjarige so vlot soos iemand wat baie ouer is.
“O, liewe tyd!” sê haar ma onrustig. “Wat makeer die kaptein? Pa se skool open vandag oor ’n week!”
“As ek kan, sal ek die skip laat omdraai. Ek hou van New York en Londen en Dresden, en ek’s nie lus vir daardie skool op ons dorp nie. Ek wil liewer in ons eie skool leer.”
“Jy is nog te klein,” sê mevrou Serfontein. “Die jongste seun in die kosskool is agt of nege.”
Tiesjie skud haar skouers ongeduldig en stap weg. Haar pa se wenkbroue lig terwyl hy haar agterna kyk.
“Jou dogter is te hardkoppig,” sê die hoof. “Maak tog werk daarvan, of geen man sal haar ooit by ons wil oorneem nie.”
“Jou dogter is pure Serfontein,” antwoord Helen.
Hy gryns, soek dan na iets in sy sakke en frons. “My pyp lê al weer in die kajuit,” sê hy.
Riekie wat heeltyd eenkant gestaan het, bied blosend aan: “Kan ek dit vir Pa gaan haal?”
“As jy so gaaf wil wees. Dit lê op die lessenaar. Die tabak en vuurhoutjies is ook daarby.”
Doktor Serfontein se oë ontmoet Riekie s’n en dwaal dan amper dadelik weer weg. Net sy vrou weet hy het ’n sterker gevoel vir hierdie kind as die ander en is daarom so styf teenoor hom. Mevrou Serfontein sug en glimlag gelyk toe sy Riekie sien wegstap.
“Julle twee gee my hoofbrekens …” sê sy en bly dan om Dian se ontwil stil.
“Jammer. Maar jy bekommer jou verniet,” antwoord haar man terwyl hy sy boek oopmaak.
In die skip se grootste en beste kajuit staan Riekie ’n rukkie stil tussen sy pa se persoonlike besittings. Hier is sy tikmasjien met die stapels papier langsaan; links die bladsye wat vol getik is en regs die skoon velle. Die kajuit is pynlik netjies soos enige plek waar doktor Serfontein bly. Hier aan boord is dit ook sy slaapkamer.
By die huis word die kinders selde in sy kamer toegelaat. Buite sy slaapkamer is daar ’n slaapstoep, byna in die takke van ’n groot ou boom. Daar is net ’n smal divan. Die hoof het ook sy eie badkamer.
Riekie se tannie Coralie – die vrou van sy oom Adolf, sy pa se broer en ’n senior onderwyser by Keurboslaan Seunskool – het eendag vir hom ’n skuins, half spottende vraag gevra oor waarom hy verkies om alleen te slaap. Hy het dit nie heeltemal verstaan nie en ongemaklik gevoel, maar dis nou eenmaal hoe tannie Coralie is. Daarna wonder hy soms oor die vreemde bestaan wat sy ouers saam voer.
Hy trek sy skouers nou op, skud die gedagtes af en stap vinnig terug met die pyp en ander rookgoed.
“Baie dankie,” sê sy pa.
Riekie wil die pyp graag vir hom stop, maar hy waag nie om dit aan te bied nie. Hy staan nog vir ’n oomblik, dan stap hy weg na waar Josef en ’n paar ander seuns gesels.
Een van hulle, ’n seun met wakker bruin oë en ’n glimlag wat byna nooit verdwyn nie, roep na hom.
“Haai, Riekie! Gaan vra jou pa om saam met ons te kom dektennis speel.”
Doktor Serfontein speel soms teen twee seuns tegelyk en hulle geniet dit terdeë. Hulle voel nie net geëerd nie, maar sy ratsheid en berekende houe maak die spel opwindend.
“Nee,” sê Riekie.
“Gaan jy dan, Josef.”
“Aikôna! Hy lees en hy het nou net sy pyp opgesteek. Ek gaan hom nie pla nie.”
“Wag, Berrie is nie bang nie. Berrie!” roep die seun.
Berrie kom aangehardloop. “Wat makeerg?” vra hy.
“Gaan vra jou pa om te kom tennis speel.”
Berrie se kort bene hardloop na sy ouers se stoele. “Pa!” roep hy van ver af. “Die kêrgels sê Pa moet kom tennis speel!”
Dis gewoonlik maklik om met doktor Serfontein oor die weg te kom as ’n mens natuurlik en beslis optree. Hy sug effens terwyl hy die boek toemaak, maar staan op, trek sy baadjie uit, en gaan na waar die groepie seuns hom bewonderend staan en aankyk.
Die een met die glimlag kom hom tegemoet. “Baie dankie, doktor!”
“Wie’s eerste aan die beurt?”
Niemand antwoord nie en die hoof kies self twee uit, speel hulle gedaan, en kies dan nog twee.
Die seun met die bruin oë verdedig die beste. Hy is lank en rats en entoesiasties. Terwyl hulle speel, kyk doktor Serfontein hom ondersoekend aan. Net iemand met sy soort ervaring kan agterkom die seun steek iets agter sy glimlag weg en sy oë knip te ongereeld.
Hy bêre sy eie twee seuns vir heel laaste en speel hulle sonder genade ook kapot.
Toe almal genoeg het en uitmekaar gaan, vra hy vir Josef: “Wie is daardie seun?”
Josef volg die rigting waarin sy pa kyk. “Dis Karl Goosen.”
“En sy ouers?”
“Sy pa is glo ’n dominee. Dis daardie oom daar met die wit hare. Ek dink sy ma is sieklik. Sy kom byna nooit op die dek nie.”
“Ek sien.”
Doktor Serfontein lees eers weer ’n rukkie, dan praat hy met sy vrou as hy sien Dian slaap met haar kop op haar ma se skoot. “Het jy daardie seun al goed bekyk?”
Hy maak ’n kopbeweging, en sy kyk op na Josef waar hy en Karl teen die relings leun en gesels.
“Ja, natuurlik,” sê Helen. “Josef en Riekie is heeldag in sy geselskap, en ek hou hulle vriende altyd dop, sonder om hulle dit te laat agterkom.”
“Hoe som jy hom op?”
“Daar is iets verkeerd. Ek dink hy is ongelukkig agter daardie glimlag van hom. Baie ongelukkig.”
“Ken jy sy ouers?”
“Die ma glad nie. Ek het al ’n paar woorde met die pa gesels. Hy is ’n predikant iewers in Natal.”
“Praat hy van die seun?”
“Nee. Wil jy hê ek moet hom bietjie pols?”
“As jy nie omgee nie.”
“Goed.”
Dian word nou wakker en sy en haar ma stap weg om swemklere te gaan aantrek. Doktor Serfontein bly nog ’n rukkie sit om verder te lees, maar word byna dadelik deur Berrie onderbreek.
Hy kom sit op sy ma se stoel en spreek sy pa versigtig aan. “Hallo, Pa!”
“Hallo, Bernard.”
“Wat lees Pa daarg?”
“Op die oomblik niks nie. Wou jy iets gehad het?”
“Ek wou net bietjie gesels.”
Doktor Serfontein sit sy boek neer en suig aan sy pyp.
“Gesels dan maar.”
Berrie krul sy lyf soos ’n akkedis.
“Dis net … iets wat ek gedink het … Ek wou vrga … Is Pa lief vir ons?”
“Is ek lief vir wie?”
“Ons almal … Al Pa se kindergs … en Mamma.
“Jou ma het nog nie gekla nie. En wat jou en jou broers en susters betref … Elke pa moet ’n sekere gevoel vir sy kinders koester. Die wet vereis dit.”
Berrie krul anderkant om.
“Nee, maarg … Pa is lief vir oom Gene, ek weet dit!”
Hierdie man wat so geweldig privaat is, is gelukkig al gewoond aan sy derde seun se vrae.
“As jy dit weet,” sê hy, “is dit minstens een ding waaroor jy nie vrae sal vra nie.”
Die hoof dink aan die kinders se geliefde oom Gene, die jong dokter Krynauw wat in sy kinderdae op hierdie gebied ook meer as ander gewaag het, en sy lippe verraai ’n effense glimlag.
“Daarg is dit!” sê Berrie.
“Waar is wat?”
“Pa lyk altyd só as oom Gene kom kuierg, of as iemand van hom prgaat! Dis hoe ek weet Pa is lief vir hom, en ek wil nou weet of Pa net so lief is virg ons!”
“Die omstandighede is anders. ’n Man se kinders is sy kinders. Maar ’n mens soek ’n vriend tussen ’n menigte uit, omdat hy vir jou iemand besonders is.”
Berrie se groen oë rek van verontwaardiging. “So Pa is liewerg virg oom Gene as virg ons!”
“Vra hom hoe hy daaroor voel. Hy het as kind nes jy van sulke filosofiese gesprekke gehou.”
Doktor Serfontein staan op en gaan na sy kajuit om sy swembroek aan te trek. Berrie volg hom diep ingedagte.
Baie later, net voor die formele aandete, praat mevrou Serfontein weer met haar man oor Karl Goosen.
Sy is deftig aangetrek en hy dra ook sy aandpak toe sy by sy kajuit inkom. Hy sit voor die tikmasjien, maar staan dadelik op om haar te groet.
“Steur ek?” vra sy.
“Nee. Dis tog byna tyd om na die eetsaal te gaan.”
“Ek het met dominee Goosen gepraat, soos jy gevra het. Ek gaan eerder niks sê tot jy hom ontmoet het nie. Ek’t hom genooi om ná ete saam met ons koffie te drink.”
“En sy vrou?”
“Sy kom byna nooit by hulle kajuit uit nie … Van ons kinders wil vir jou kom nagsê. Fräulein stuur groete. Sy lê weer.”
“Die see is so glad soos ’n spieël. Hoe kan sy al wéér sleg voel?”
“Party mense is maar so … Hier’s die dogters.”
Dian en Tiesjie kom in, albei mooi uitgevat in die fluweelrokkies wat hulle vir aandete gedra het. Omdat hulle jong dames is, staan die hoof nou weer op soos netnou vir hulle ma.
“Het julle die ete geniet?” vra hy.
“Ja dankie, Pa,” sê Dian.
“Ek het nie,” sê Tiesjie. “Fräulein sê ook ek moet skool toe gaan wanneer ons by die huis kom. Toe vra ek haar hoekom moet Pa haar so baie geld betaal as sy nie meer ons goewernante is nie, toe huil sy en nou lê sy.”
“O, Tiesjie!” sê Dian.
Sy waag dit nie om op te kyk na haar pa nie. Dis eintlik jammer, want dan sou sy dieselfde uitdrukking in sy oë gesien het as wat Tiesjie dadelik opmerk.
Hy praat egter heeltemal ernstig. Fräulein is al van voor Josef se geboorte af by ons. Sy praat Duits en Frans in die huis, en dis goed vir ons almal. Buitendien pas sy julle getrou op … Vir sulke astrantheid gaan julle ma jou beslis straf.”
“Sy het al,” sê Tiesjie. “En ek het nie gehuil nie.”
“Dis goed … Ek bedoel, dan was sy hierdie keer nie te streng nie. Ag jouself gelukkig en moenie jou geluk te veel beproef nie.”
“Ek wil saam met ons eie skool se seuns skoolgaan,” sê die vierjarige beslis, “nie by daardie aaklige kleuterskool op die dorp nie!”
“Jy is te jonk vir ons skool se klasse.”
“Tessa was daar, voor Pa haar aangeneem het.”
“Sy was toe al nege jaar oud. Dis nou genoeg van hierdie onderwerp. As jou ma sê jy gaan na juffrou Holland toe, dan gaan jy. Goeienag, meisies.”
Mevrou Serfontein knipoog vir die hoof en stap saam met hulle dogters uit.
By die deur kyk Tiesjie oor haar skouer na hom. “Ek sal daaroor dink. Ek weet nog nie wat ek gaan doen nie,” dreig sy sag.
“Laat weet my so gou moontlik as jy besluit om probleme te veroorsaak,” sê haar pa.
Hy gaan sit weer en wil net verder begin tik toe Berrie opdaag.
Berrie kom leun teen die lessenaar en trek met sy vinger patroontjies op die houtblad. Hy lyk afgehaal. “Nag, Pa,” sug hy. “Lekkerg slaap.”
“Dankie. Jy ook.”
Doktor Serfontein kyk vlugtig op en dan weer af na sy werk.
“Vorgder die boek goed?” vra die verlangende stem.
“Op die oomblik uitstekend, dankie.”
“Pa het nou die dag gesê dis oorg mense in die Balkan.”
“Ja.”
“Was ons ooit daarg?”
“Ek en jou ma was, kort ná ons troue. Nie julle kinders nie.”
“Dis snaaks dat daarg ’n tyd was toe Pa my nie geken het nie.” Berrie gee ’n hartverskeurende sug. “Het Pa toe dargem goed genoeg klaargekom?”
“Ek moes maar, aangesien jy toe nog nie bestaan het nie. Wou jy nog iets gehad het?”
“Nee … ja … Maarg dit maak nie saak nie.”
Berrie krul hom in ’n bondel op. Hy bloos effens.
Dan druk ’n sterk arm hom teen sy pa se skouer vas en hy kry ’n soen op sy voorkop.
“Was dít dalk wat jy wou gehad het?”
Berrie hou sy gesig nog vir ’n oomblik teen die skouer.
“Ja, Pa!” sê hy dan met ’n groot sug van verligting. “Ek voel nou baie beterg!”
“Dis gaaf.”
’n Geluid laat doktor Serfontein opkyk na die oop deur waar sy tweede seun op die drumpel staan. Die ongewone toneel van Berrie in hulle pa se arms laat hom ongemaklik en verleë lyk.
“Ja, Richard?” vra die hoof effens skerp.
“Ekskuus, Pa …”
“Kom in! Waarvoor vra jy verskoning?”
Berrie huppel doodgelukkig weg.
Die gemoedelike atmosfeer is skielik weg. Richard hoor net die skerp, ongeduldige stem. Hy weet nie dis omdat sy pa bekommerd is oor hierdie seun van hom se onnodige liggeraaktheid nie. Dit herinner die hoof aan die pynlike skugterheid van sy eie kinderdae. Hy weet wat dit hom gekos het om dit te oorwin, al is dit net uiterlik.
Hy kyk nou afkeurend na sy ewebeeld met die gekrenkte oë en stywe lippe.
“Wat is dit?” vra hy kortaf.
“Ek… wou kom nag sê.”
“Dis tog jou reg. Hoekom gedra jy jou asof jy skuldig is?”
Riekie se oë brand en hy kan nie antwoord nie.
“Goeienag dan,” sê sy pa ferm. “Dis tyd dat jy selfbeheersing leer. Jy sal dit regkry as jy minder aan jouself dink.”
Niemand wat doktor Serfontein oor die jare aanbid het, het ooit gesê dis maklik om met hom oor die weg te kom nie. Hy is allesbehalwe subtiel, en van al die seuns met wie hy te doen gehad het, is sy eie Richard die minste teen hierdie koue ongeduld bestand.
Toe hy by die kajuit uitgaan, is hy so verblind dat hy in die gang byna verby Josef loop.
Sy broer keer hom voor. “Wat makeer?” vra hy besorg.
“Niks,” sê Riekie op sy stil, trotse manier.
“Komaan, daar ís iets! Sê my.”
“Dis niks,” sê Riekie en gaan met ’n trap op na die dek.
Hy leun teen die relings en kyk uit oor die see wat nou donker met wit skuimstrepe onder hom lê.
Wat is verkeerd met hom? Hoekom bots hy altyd met die een mens wat vir hom die belangrikste op aarde is, selfs meer as sy ma? Wat is so afstootlik aan hom dat sy eie pa hom nie kan verdra nie?
Hy beleef ’n bitter halfuur totdat Berrie hom daar kry met die opdrag dat hy onmiddellik bed toe moet kom. Josef het lankal vir hulle pa nag gesê en slaap al.
Dominee Goosen wag reeds in die salon toe doktor en mevrou Serfontein van aandete af inkom. As die belangrikste passasiers op hierdie reis moet hulle aan die kaptein se tafel sit, en ’n formele dinee neem ’n hele rukkie.
Die predikant het al met Helen gepraat, maar dis nou die eerste keer dat hy die bekende skoolhoof ontmoet.
Hy voel nogtans verrassend tuis in die geselskap en is te onskuldig om agter te kom hoe die lui, halftoe oë hom ondersoek.
Die gesprek oor die seun begin – voor hy dit self besef – met ’n opmerking oor die beknopte lewe aan boord en jongmense se behoefte aan gereelde oefening, soos byvoorbeeld dektennis.
“Karl het ’n natuurlike aanleg daarvoor,” sê doktor Serfontein rustig.
“Ja … Hy hét ook goeie eienskappe,” sê die ouer man. “Hy was vroeër baie belowend. Maar nou is hy die grootste hartseer in my lewe.”
Doktor Serfontein kyk nie reguit na hom nie. Hy leun oor om sy vrou se koppie te neem.
“Ja?” sê-vra hy. “Ná die bietjie wat ek van hom gesien het, sou ek sê hy is ’n normale, gesonde seun.”
“Dis ongelukkig nie die geval nie,” antwoord die dominee. “Maar jy het soveel seuns onder jou sorg; jy wil seker nie van nog een se probleme hoor nie. Ek het jou vrou alreeds vandag daarmee lastig geval. My hart is so vol …”
Sulke openhartigheid is vir doktor Serfontein vreemd, want hy is totaal die teenoorgestelde. Nogtans weet hy geen twee mense is eenders nie.
“Wat pla jou van die seun?” vra hy.
“Vertel gerus vir my man die hele verhaal, dominee,” sê Helen. “Hy kan miskien vir jou raad gee.”
Die predikant huiwer nog, maar doktor Serfontein vra sommer reguit: “Ly Karl aan ’n siekte?” vra hy.
“Dis ’n geestelike siekte,” kom dit moedeloos. “Hy steel!”
Die skoolhoof steek vir die soveelste keer ’n sigaret aan en lyk glad nie geskok nie.
“Hoekom moet dit ’n siekte wees?” vra hy.
“Watter ander rede kan daar wees as ’n kind nie kan of wil ophou steel nie?”
“Miskien wil hy doodeenvoudig geld hê. Of steel hy ander dinge as geld?”
“Nee, net geld. Hy kry net soveel sakgeld as enige ander kind van sy ouderdom, maar hy gee dit nie uit nie. Hy steek dit alles weg. En hy doen presies dieselfde met die geld wat hy steel.”
“Hoe lank gaan dit nou al so aan?”
“Vandat … Voor ek verder gaan – hy is nie ons eie kind nie.”
Mevrou Serfontein lyk verras. Dit het hy haar nie vertel nie.
“Nie?” vra haar man.
“Nee. Ons het hom grootgemaak asof hy ons eie is. Hy was so ’n wonderlike baba, en so pragtig. Julle kan sien, hy is nou nog ’n vriendelike en aantreklike seun.”
“Ja, hy’t ’n sonnige geaardheid.”
“Ons het gewag tot hy nege jaar oud was voor ons hom wettig aangeneem het. Tot op daardie stadium was hy altyd net ’n plesier in die huis en baie slim op skool.”
“Hoe oud was hy met die eerste diefstal?”
“Elf. Van die kerkgeld wat ek in die huis gehou het, was skielik weg. Ons het agtergekom Karl was die dief, maar hy kon nie verduidelik hoekom hy dit gedoen het nie. Daardie keer het hy allerhande lekkers en speelgoed gaan koop, al het hy oorgenoeg in sy kamer gehad. Ek het hom nie gestraf nie, net mooi gepraat. Hy het belowe om dit nooit weer te doen nie.”
“Maar hy het?”
“Keer op keer! Later het hy die geld nie meer uitgegee nie; hy het dit weggesteek en sommer dadelik erken hy is die skuldige.”
“Hoe het jy die saak gehanteer?”
“Op alle moontlik maniere … Straf, mooipraat … Alles tevergeefs.”
“Is hy opstandig? Ek bedoel, die kere met die diefstal?”
“Nee. Dis eerder asof hy dan in ’n beswyming is.”
Die predikant se stem breek en hy kan nie verder praat nie.
“Jy is deur diep waters, dominee … Het jy al oor die seun se toekoms besluit?”
“Hierdie reis oorsee was juis om Karl te probeer help. Ek het gedink die verandering sal hom goed doen. En ons het hom in Holland laat ondersoek. Dit het ’n fortuin gekos. Ek moes geld by die bank leen.”
“Wat was die uitslag van die ondersoek?”
“Hulle kry niks verkeerd met hom nie. Hulle sê ook hy steel seker maar net omdat hy die geld wil hê.”
“’n Ondersoek of twee is natuurlik nie altyd voldoende in so ’n geval nie.”
Doktor Serfontein staan op. Dis sy koninklike gewoonte wanneer ’n gesprek na sy mening verby is, en sy vriende en onderdane ken dit goed, al is hy onbewus daarvan.
“Die reis duur nog vyf dae,” sê hy. “Ek sal Karl ’n bietjie dophou. Ek belowe nie om sukses te behaal waar jy gefaal het nie, maar soms sien ’n vreemdeling meer as iemand wat te na aan ’n saak staan.”
“Ek is jou ewig dankbaar, al is dit net vir die bereidwilligheid om te help,” sê die predikant.
“Jou vrou verskyn nie dikwels op die dek nie.”
“Nee. Sy is nie gesond nie … Dis haar senuwees. Jy kan jou indink; Karl se gedrag is nie bevorderlik vir haar gesondheid nie.”
“Natuurlik.”