Читать книгу Die Serfontein-kinders #6 - Theunis Krogh - Страница 4

2

Оглавление

WAT TE ERG IS

Vroeg die volgende oggend toe Karl uit sy kajuit kom, stap doktor Serfontein alreeds om en om die dek soos hy altyd soggens en saans doen.

Karl leun teen die relings met sy rug na die see om die hoof te kan groet wanneer hy verbyloop.

“Môre, doktor,” sê hy skaam, maar vriendelik.

“Goeiemôre. Jy is vroeg buite. Wag jy vir my lui seuns?”

“Nee, ek weet hulle staan nie so vroeg op nie. Ek kan nie laat slaap nie.”

“Kom hou my dan geselskap.”

Doktor Serfontein moet effens stadiger stap, maar Karl hou goed by.

“Waar gaan jy skool?” kom die vraag skielik.

“Ek leer deesdae by die huis, doktor.”

“Is daar nie ’n skool by julle op die dorp nie?”

“Ja, daar is, maar …”

Die skoolhoof besef die seun is seker as gevolg van diefstal geskors, of die dominee het besluit dis beter om hom tuis te hou sodat hy nie op skool kan steel nie.

Hy vra nie verder uit nie.

Na nog ’n paar draaie sluit dominee Goosen by hulle aan. Die seun kry ’n nors uitdrukking, heeltemal anders as sy gewone glimlag, en hy groet sy pa nie.

“Ek hoop nie hy val jou lastig nie, doktor,” sê die predikant.

“Ek het hom gevra om my geselskap te hou. Wil jy ook saamstap?”

“Nee, ek sal julle ophou. Ek kan onmoontlik so vinnig loop.”

’n Kelner verskyn met ’n boodskap. Mevrou Goosen wil haar seun onmiddellik in haar kajuit sien.

Karl se uitdrukking van vrees laat doktor Serfontein wonder. Die dominee lyk ook onrustig.

Karl versuim egter nie. Hy gaan dadelik met ’n trappie af na onder.

Doktor Serfontein maak haastig verskoning en gaan ook af, maar met ’n ander trap sodat die dominee nie moet sien hy volg die seun nie. Toe hy in die onderste kajuitgang kom, sien hy Karl en stap ongemerk agter hom aan.

Mevrou Goosen se deur staan oop en daar kom ’n hoë, histeriese stem uit toe Karl ingaan.

“Jy kom my nie eers môre sê nie. Jy het die maniere van ’n …”

Doktor Serfontein kan skaars glo ’n predikantsvrou het die laaste woord gesê.

“Moenie vergeet waar ons jou uitgehaal het nie! Wie weet waar het die welsyn jou uitgekrap? Jy’s gemors! ’n Optelding van een of ander stink vullishoop!”

Doktor Serfontein staan stil en luister terwyl die vernietigende woorde genadeloos voortvloei.

’n Kelner wat verbykom, kyk veelseggend na die skip se belangrikste passasier. Hy verstaan nie Afrikaans nie, maar kan die rou haat in die stem aanvoel.

“Die galg is te goed vir daardie vrou, doktor,” sê hy in Engels. “Daai kind gaan eendag selfmoord pleeg. Ek weet nie hoekom hy nie lankal oorboord gespring het nie. Kan doktor nie miskien …”

“Ja,” sê doktor Serfontein. “Ek kan.”

Die kelner stap verby. Hy weet hierdie man se maatskappy het aandele in die skeepsredery en wens hy wil sy invloed gebruik om die vrou vir die haaie te laat gooi.

Doktor Serfontein is bleker as gewoonlik toe Karl uitgestorm kom met sy hande oor sy ore gedruk.

Karl sien hom daar staan terwyl die bitter woorde nog uit die kajuit stroom. Hierdie man wat hy so bewonder, het alles gehoor!

Karl moet teen die afskorting leun om regop te bly staan. Sy oë is wydgerek. Hy sien in doktor Serfontein se swart kykers die onmenslike stil, koue woede wat selfs die dapperstes laat krul wanneer dit op hulle gerig word. Hy is natuurlik so kwaad omdat ’n uitvaagsel soos Karl dit gewaag het om met sy seuns vriende te maak.

Nou styg die vrou se stem tot ’n geskree omdat die seun ontsnap het. Die kelner verskyn weer en kyk onrustig na die ander kajuite in die gang se deure.

“Sy gaan altyd so te kere,” sê hy suur. “Netnou het sy die hele skip op horings.”

Doktor Serfontein stap by die kajuit in.

Die vrou wat in die bed sit en skree en skel, swyg soos ’n kraan wat toegedraai word.

“Ek is tot jou diens as jy iets wil hê, mevrou,” sê ’n yskoue stem.

“O, nee dankie,” sê sy, skielik verbasend beskaafd. “Ek was net ’n bietjie kwaad vir my seun. Hy het ons harte moedswillig gebreek en ek begin dink hy kan nie gehelp word nie. As ek jou alles moet vertel …”

“Dankie. Ek het genoeg van die saak gehoor om self daaroor te oordeel. As jy dan geen versoeke het nie, sal ek ’n kelner stuur om jou man te roep.”

Die hoof stap haastig uit.

Karl staan nog daar. Doktor Serfontein het nog selde sulke radeloosheid in ’n kind se oë gesien.

“Kom,” sê hy saaklik.

Hy loop vooruit en Karl volg.

Karl bevind hom daarna in ’n kajuit wat heeltemal anders as sy ouers s’n is. Hy staan net binne die deur en kyk nog steeds met wydgerekte oë terwyl doktor Serfontein op en af stap asof dit die enigste manier is om af te koel. Toe hy ’n keer weer omdraai, sien hy in watter toestand die seun is.

In die jare toe Krynauw nog sy leerling was, moes hy alleen daarmee worstel, maar nou is daar hulp waarop hy kan reken.

Hy klop sag aan die deur tussen sy en sy vrou se kajuit.

Sy is klaar aangetrek en glimlag vriendelik vir hom.

“Wie het jou kwaad gemaak?” vra sy. “Was een van jou kinders stout?”

“Nee. Ek het mevrou Goosen leer ken.”

Hy vertel kortliks wat hy gehoor het.

Helen se glimlag verdwyn. Die besliste lyn van haar ken en lippe verklaar hoekom haar kinders ten spyte van haar gemaklike houding teenoor hulle meestal onberispelik optree.

Sy loop by haar man verby en gaan sit op ’n leunstoel. “Kom hier, Karl,” sê sy sag.

Sy neem albei sy hande in hare asof hy een van haar eie seuns is.

“Ek dink jy het in jou kort lewe al baie deurgemaak,” sê sy.

Hy sak inmekaar met sy kop op haar skoot en gee die lang stryd gewonne. Hulle kan nie veel uitmaak van wat hy sê, maar dis duidelik dat hy een ding gedurig herhaal: “Ek kan nie meer nie!”

Na wat soos ’n ewigheid voel, bevind Karl hom op ’n rusbank. Hy kry koud en sy tande klap op mekaar. Mevrou Serfontein sit langs hom en vryf sy hande. Iemand wat hy nie kan sien nie het ’n hand onder sy kop en hou ’n glasie medisyne teen sy lippe.

“Drink dit,” sê doktor Serfontein. “Jy het dit nodig.”

Hy doen dit dadelik, al wil die sterk reuk van die vloeistof hom laat verstik.

Dis ook doktor Serfontein wat ’n deken om hom vou en ’n klokkie lui om by die kelner ’n warmwatersak te bestel.

Toe Karl uiteindelik gemaklik en lomerig is, sê doktor Serfontein vir sy vrou: “Sal jy by hom bly terwyl ek dominee Goosen gaan opsoek?”

Die dreigende sagtheid in sy stem voorspel groot probleme vir die predikant.

“Nee, laat daardie takie aan my oor,” keer sy. “Speel jy verpleër. Jy kan selfs skryf. Hy sal nou slaap.”

“Waar is die kinders dan, as Fräulein ongesteld is?”

“O, sy’s vanoggend perdfris. Dit was net Tiesjie se stoutigheid wat haar omgekrap het, maar ek wou jou nie gisteraand daarmee pla nie.”

“Laetitia het my self kom pla. Maar dit kan wag tot later … Gaan jy. Jy sal baie fermer optree as wat ek myself sou toelaat.”

“Baie beslis!”

Op die dek loop mevrou Serfontein met afgemete treë na waar die dominee langs sy vrou sit. Ná die toneel tussen haar en Karl het mevrou Goosen skielik besluit om aan te trek en haar man se geselskap op te soek. Doktor Serfontein het vergeet om die predikant te laat roep. Hy weet dus nog niks van wat gebeur het nie en dink Karl is iewers by die ander seuns.

Helen tree nie vriendelik op nie. Sy kyk nie na die vrou nie. “Dominee Goosen,” sê sy. Sy praat sag, maar iets in haar stem maak hom effens bekommerd.

“Ja?”

“My man wil ’n voorstel maak in verband met Karl.”

“Wat het hy nou weer aangevang?” vra die predikantsvrou skril, gereed om weer van voor af beheer te verloor.

Helen ignoreer haar nog steeds. “My man sal hom by ons skool inneem en kosteloos daar hou tot hy matriek geslaag het. Dan kan hy ’n rigting inslaan waarvoor hy aangelê is.”

“Nooit!” sis mevrou Goosen. “Hy gaan nie van ons af weg om iewers anders lekker te lewe nie. Buitendien, hy sal julle rot en kaal besteel en …”

Dis asof Helen die vrou nie hoor nie. “Dit gaan gebeur soos ek gesê het,” sê sy met ’n beslistheid so ferm soos haar man s’n.

“Nee maar … as my vrou nie saamstem nie …”

Dit lyk of die predikant doodbang is om haar teë te gaan. Sy vrou kan maklik sommer hier voor almal histeries word.

“Van vandag af,” sê Helen rustig, “deel Karl my seuns se kajuit, en wanneer ons aan land gaan, kom hy saam met ons. As jy wil, kan hy glo jy het alles vir hom betaal en stuur hom na ons skool toe om hom ’n nuwe kans te gee. Hy sal in elk geval daar geleer word om dankbaar te wees vir enige goedheid wat hy in die verlede van julle ontvang het.”

“Wie dink jy is jy?” vra die vrou venynig.

Helen weier nog steeds om met haar te praat.

“As ons enige probleme het, sal ons die hele saak aan die welsyn rapporteer,” sê sy vir die predikant. “My man het ’n uitstekende geheue. As hy wil, kan hy woordeliks neerskryf presies wat jou vrou vanoggend vir die seun gesê het. Hy sal die welsyn dan aanraai om jou vrou onder observasie te plaas vir moontlike kranksinnigheid.”

Die vrou se vuur is geblus. “Ek is nie mal nie!” fluister sy.

“Ek weet,” kry sy die eerste keer ’n direkte antwoord. “Maar wie sal dit glo as hulle hoor wat die arme kind se stiefma hom alles toegesnou het?”

“Dis koelbloedige afpersing!” neul ’n flou stem.

“Presies.”

Dominee Goosen probeer iets sê, maar die woorde wil nie kom nie.

“Dit help nie om langer te praat nie,” is al troos wat hy kry. “My swaer, dokter Martin Serfontein, weier om ’n versteurde kind te sien voor hy die ouers ontmoet het.”

“Maar ek weet nie wat vanoggend gebeur het nie,” kla die predikant.

“Jy behoort te kan raai. Jy het seker al meer as een van daardie uitbarstings beleef. Sien jy regtig geen verband tussen jou vrou se toenemende gebrek aan selfbeheersing en die seun se kleptomanie nie?”

“Nee … Nee … Ek weet my vrou ly aan ’n senuweekwaal en raak soms oorstuur, maar hoekom sou Karl daaroor begin steel het?”

“Alle kinders is nie onbeheerbaar as gevolg van grootmense wat hulle sleg behandel nie, maar soms is dit wel die geval. Jy het Karl by jou huis ingebring. Jy het hom jou eie seun genoem en hom aanvanklik op die hande gedra … Toe word jou vrou neuroties. Aanvanklik was sy miskien net ongeduldig, en dit het Karl moontlik verbouereerd gemaak en haar geïrriteer. Irritasie is iets onredelik en byna onmoontlik om te beheer; ek weet dit self.”

Die predikant en sy vrou lyk albei so verskrik dat Helen intuïtief weet sy is na aan die waarheid.

“Toe jy boonop vir hom opkom, het jou vrou se irritasie geleidelik in haat verander. Kan jy nie verstaan hoe erg dit vir die kind moes wees nie? Hy is aanhoudend verwyt dat hy nie jou kind is nie, maar ’n optelding van wie-weet-waar. Volgens my man is dit waarvoor sy hom uitgekryt het. Ek weet nie of Karl ook liggaamlik mishandel is nie, maar dis hoogs waarskynlik, veral toe hy kleiner was. Verstaan jy nou?”

“Wat?” vra die verbouereerde man.

“Die kind het nie geld gesteel nie, maar sekuriteit. Hy was bang hy sou eendag uit die huis gegooi word en dan nie vir homself kan sorg nie. Dis hoekom hy die geld gespaar het. Hy is herhaaldelik gedreig hy gaan uitgeskop word. My man het jou vrou dit vanoggend ’n paar keer hoor sê.”

“Dis nie my skuld nie,” kerm die vrou. “Dis my gesondheid!”

Mevrou Serfontein steek haar hande in haar jas se sakke.

“Jy het ’n kind se lewe in jou hande gehad. Jy moes jou beteuel het, al was dit hoe moeilik. Die seun kry nou die kans wat hy verdien in die lewe. Dis die laaste woord daaroor.”

Sy draai weg. Haar kinders staan en wag op ’n afstand en kry die gewone sonnige glimlag by haar.

Dis mevrou Serfontein wat later vir Karl die groot nuus gee. Soos belowe, laat sy hom glo die dominee het alles self gereël. Mevrou Goosen se gesondheid het skielik baie versleg en dit sal geriefliker vir almal wees as hy van nou af by die Serfontein-seuns bly.

Helen praat met hom oor sy toestand en sonder om iemand te verwyt, verduidelik sy vir hom hoekom hy begin steel het. Haar nugter aanslag verdryf ’n groot deel van sy skaamte.

Josef en Riekie is bly die ou van wie hulle so baie hou, gaan saam skool toe. Hulle is nou ’n vrolike driemanskap. Riekie is stiller as die ander twee, maar Karl het ’n spesiale band met hom, al sê hy net af en toe ’n paar woorde terwyl Josef geesdriftig oor die skoollewe vertel.

Dit klink vir Karl of hy op pad is na ’n paradys. Hy sien al in sy verbeelding die groot rooisteengebou versier met klimop, al die ander geboue, die hoof se eie groot huis en die swembaddens en sportvelde. Josef vertel van die rivier met sy diep waterkuile wat deur die terrein loop, en hy beskryf Keurboslaan se pragtige berglandskap bokant die Komati-vallei. Dis koeler en klammer as ander landstreke en altyd groen.

Deur Josef leer ken Karl ook die onderwysers. Die adjunkhoof, meneer Holst, is gaaf en stil, maar ’n meester met sarkasme, wat dit vir hom moontlik maak om sonder strafmaatreëls dissipline te handhaaf. Hy gee moderne tale.

Dan is daar meneer Burger, nou ouer en gryser as toe oom Eugene op skool was, maar nog die gewildste man wat die vreeslikste dreigemente maak en dit nogtans nie kan verdra om aan iemand te slaan nie. Josef vertel ook van die stil meneer Dempers wat verrassend streng kan optree as hy wil, en van meneer Venter wat jonk is, maar by wie ’n mens liewer nie met nonsens moet aankom nie. Hy was as klein seuntjie op Keurboslaan en omdat hy doktor Serfontein aanbid het, het hy altyd gesê hy gaan eendag daar by hom kom skoolhou.

Meneer Venter maak nogal ’n groot sukses daarvan – en meneer Geer, die sportonderwyser, ook. Hulle is jonk in vergelyking met die res van die personeel, maar gewild onder die seuns. Nog ’n interessante persoonlikheid is meneer Spaulding, wat ook jonk is. Karl sal hom nie nou al leer ken nie, want die skool se senior musiekonderwyser het drie maande vakansie geneem om groot orkeste in Europa en Amerika te dirigeer. Hy maak groot naam, maar kom altyd weer terug na Keurboslaan. Niemand wil daar weggaan nie. Meneer Gerritson, die vorige sportonderwyser, moes omtrent weggejaag word toe hy ’n groot pos in Amerika aangebied is.

Wanneer een van sy personeel ’n aanbod van ’n hoofskap of bevordering iewers anders kry, tree die hoof baie streng op. Hy het hulle gebrei om hulle talente ten volle te benut, en hulle moet dit doen! Die meeste is natuurlik oudleerlinge en hulle is gewoond om na hom te luister.

Wat die seuns betref, is daar ’n klomp Serfontein-neefs op skool. Almal dra dié naam behalwe die Thiessens, doktor Serfontein se oudste suster se seuns. Daar was vyf van hulle, maar almal behalwe Bart is nou weg. Die ses Serfontein-broers stuur almal hulle seuns na hul oudste broer se beroemde skool. Josef en Louis, Adolf Serfontein se eerste seun, is die oudste onder die neefs.

“Wat gebeur as ’n onderwyser ‘Serfontein!’ roep?” vra Karl. “Kom julle almal aangehardloop?”

Hy het reeds gehoor die hoof verkies dat sy leerlinge op hulle vanne aangespreek word.

“Nee, dan gebruik hulle maar jou naam,” sê Josef.

“Wat noem julle ouens julle pa op skool?”

“Doktor, natuurlik.”

“Dis snaaks.”

“Nee. Ons is gewoond daaraan.”

Karl weet hoe hy oor doktor Serfontein voel, maar besef eers wat die man vir die res van die wêreld beteken toe hulle in Kaapstad aankom en ’n horde joernaliste en fotograwe aan boord storm om foto’s van hom en sy gesin te neem en allerhande vrae te vra.

Doktor Serfontein is ’n skugter mens en haat te veel aandag, net soos Riekie. Maar hy was self in sy arm jongdae ’n joernalis en weet dié mense doen net hulle werk.

“Doktor … Hierdie kant toe!”

“Mevrou! Staan asseblief daar langs u man!”

“Jy wat so baie na jou pa lyk … staan nader aan hom … Toe, kom!”

“Doktor! Is dit waar dat u ’n samesmelting met Huytens oorweeg?”

Doktor Serfontein lewer nie kommentaar op enigiets nie, maar gedra hom só dat sy stilswye nie aanstoot gee nie. ’n Klein beweging van ’n wenkbrou en ’n effense glimlag help baie.

Gelukkig kom ontmoet dokter Krynauw die gesin. Die lang, skraal man met die liefdevolle glimlag en bril wurm hom tussen die persmense deur. Hy gee die vriend wat vir hom soveel beteken ’n stewige handdruk en groet mevrou Serfontein met ’n broederlike soen terwyl die kinders aan hom hang.

“Ek dag ek kom julle maar haal,” sê hy asof die rit van Johannesburg af niks was nie. “Ek het met my groot motor gekom en ’n vriend met Helen s’n. Danster is natuurlik ook hier met doktor se motor, soos wat hy aangesê is. Doktor, Helen en die twee meisietjies ry saam met my; Fräulein en die seuns gaan in doktor se motor, en al die bagasie in Helen s’n.”

“Uitstekend. Ek sou die bagasie per trein gestuur het, maar dis baie geriefliker só … Wie kyk na jou praktyk?”

“Dit is in goeie hande. Ek kon nie wag om julle te sien nie. Tessa en klein Felix is op Keurboslaan om huis te hou terwyl Danster weg is. Ek moes net keer of hulle het ook saamgery; doktor weet mos hoe kan daardie vrou van my raak! Ek sal doktor in Johannesburg aflaai om saam met die skoolseuns trein te ry.”

“Ja, dis hoe dit hoort.”

“Ek weet.”

Voor hulle die skip verlaat, stuur mevrou Serfontein Karl om dominee Goosen te gaan groet en bedank. Sy voel nie hy hoef met mevrou Goosen te praat nie. Sy het in elk geval in haar kajuit gaan wegkruip.

Karl los nogtans vir haar ’n beleefde briefie. Hy is so gelukkig dat hy hom voorlopig foutloos gedra. Josef het vir hom sy tweede kleurbaadjie geleen, so hy is nou reeds ’n Keurboslaner. Die koshuismoeder, mevrou Mostert, het uniforms in voorraad en Karl sal by haar nuwe skoolklere kry.

Hy geniet die lang reis in die gerieflike motor, met Josef se vrolike geselskap, Riekie se stil simpatie en Berrie se kattekwaad wat aanhoudend ’n smekende “Sei doch artig!” by Fräulein ontlok. Hulle verblyf in duur hotelle en die atmosfeer van weelde wat deel van die Serfonteins se lewe is, laat Karl voel hy sal nooit ophou dankbaar en voorbeeldig wees nie.

Keurboslaan is vir Karl nog mooier as wat Josef vertel het. Die landstreek, hoewel minder bekend, is een van Suid-Afrika se mooistes, met groot, beskermende berge en silwerblink rivierstrome.

Karl is verstom oor die skool. Hy dwaal deur die groot saal wat soos ’n teater ingerig is, deur die talle gange na die kunssaal, die orkes se oefenvertrek, al die ruim klaskamers met volop vars lug en lig, en die luukse slaapkamers en badkamers. Hy verwonder hom elke oomblik meer.

Maar hy is ’n bietjie teleurgesteld toe hy uitvind nie een van die Serfontein-seuns is in sy slaapkamer nie. Karl het net aanvaar hulle sal saam wees; mevrou Mostert sê egter niks daarvan nie.

Die hoof het haar uit Johannesburg geskakel oor Karl se koms en sy moes hom inpas waar sy kon. Die skool het ’n lang waglys en daar is selde ’n vakature.

Karl voel verlate. Hy is alleen in die koshuismoeder se kantoor en weet nie waar Josef en Riekie is nie.

Maar dan kom daar ’n bietjie troos. Mevrou Mostert vertel hy is genooi om tot môre in die hoof se huis te bly, selfs om daar te slaap.

Josef kom om hom te haal.

Met groot geesdrif neem hy Karl na die huis waar hy en die ander kinders almal gebore is, en waar sy pa eers lank alleen gebly het voor hy getroud is. Toe was dit ’n klein plekkie. Daarna is ekstra vleuels en verdiepings oral aangebou sodat dit nou, volgens die arme bouer wat maar gemaak het soos doktor Serfontein wou hê, ’n argitek se nagmerrie is. Die studeerkamer is egter vandag nog net soos dit oorspronklik was.

Karl kan nie glo die kinders besef nie hoe gelukkig hulle is nie. Vir hulle is dit net hulle huis en hulle word nie bederf nie.

“’n Mens moet oppas vir my ma,” waarsku Josef. “Sy slaan eers en vra dán ’n verduideliking. En bewaar jou siel as jy nie luister selfs voor sy klaar gepraat het nie!”

Karl dink aan die vriendelike mevrou Serfontein en haar sagte stem wat so vertroostend is. Hy kom eers agter sy is streng toe hy sien hoe net een flikkering van haar oë haar kinders laat spaander. Nogtans is sy sag en lief teenoor hulle, solank die spulletjie hulle gedra.

“Wat van jou pa?” vra Karl vir Josef. “Is hy ook kwaai?”

“By die huis glad nie. Hy straf ons nooit nie. Nou dat ek nie meer ’n junior is nie, het ek al ’n paar keer by hom pak gekry, saam met die ander ouens. Maar dis amptelik; ons praat nie later daaroor nie.”

“Dit moet snaaks wees om ‘amptelik’ slae te kry,” sê Karl. “Hoe praat jy daarna met jou pa asof niks gebeur het nie?”

“Wel, dis maar net hoe dit is.”

Oor middagete ontmoet Karl die kinders se niggie Tessa, nou mevrou Krynauw, en haar vrolike driejarige seuntjie Felix.

Karl dink sy is baie mooi met haar swart lokke en groot, grys oë.

Tessa lyk vandag selfs mooier as gewoonlik. Sy is bly haar geliefde tannie Helen en die kinders is weer tuis. Haar man is ook opgewek; hulle voel albei effens verlore wanneer doktor en mevrou Serfontein oorsee is.

Almal aan tafel is tevrede met die lewe. Selfs Berrie en Tiesjie gee Fräulein nie rede om met hulle te raas nie.

Die Serfontein-kinders #6

Подняться наверх