Читать книгу Hoofseun Richard #7 - Theunis Krogh - Страница 3
1
ОглавлениеDIE NUWELING
Jurie Verryne word persoonlik deur meneer Pretorius, die proefbeampte, na die stasie geneem. Al is hy reeds veertien jaar oud en kom hy uit ’n verbeteringskool, gaan doktor Serfontein hom nou by Keurboslaan Seunskool inneem. Hoekom die hoof dit doen, is nog ’n raaisel, maar Jurie stap in die skool se amptelike drag by die stasiegebou in. Hy het ’n tas vol nuwe klere en ’n bietjie sakgeld.
“Sien jy die seuns wat ook roos-en-grys kleurbaadjies dra? Volg hulle maar net,” sê meneer Pretorius. “Jou trommel is vooruit gestuur. Tot siens, Jurie, en laat ons net die beste van jou hoor. Die lewe lê oop voor jou.”
Jurie weet nie hoe om te antwoord nie. Dan vang sy oë ’n foto op die voorblad van die koerant in meneer Pretorius se hand.
Die onderskrif sê die polisie soek na ene David Glennis. Die foto is van ’n jong man wat hom aan diefstal, inbraak en poging tot moord skuldig gemaak het. Die skuldige is heel aantreklik, met fyn gelaatstrekke. Net sy oë staar effens abnormaal na die kamera.
Jurie kom agter meneer Pretorius sien waarna hy kyk en lyk baie ernstig. “Dis waarheen onverantwoordelikheid lei,” sê die proefbeampte.
“Ja, meneer.”
Meneer Pretorius stap weg sonder om weer te praat, en Jurie volg ’n klompie seuns wat voor hom stap. Hulle gaan by ’n trap af en weer by ’n ander een op na die perron vanwaar die trein na Breyten sal vertrek.
Hier hardloop, roep en stoei die seuns. Laggende stemme klink oral op.
“Haai, Ryno!” hoor Jurie.
Hy sal later leer hierdie lid van die groot Serfontein-familie se naam is eintlik Rynault.
Rynault is ’n seun van die hoof se broer Edward, ’n mediese dokter. Hy het donker hare en swart oë wat soms regdeur ’n mens kan kyk.
“Haai, Theo!” sê hy. “Het jy dalk my ellendige boetie gesien?”
“Daardie Denys-mannetjie?” vra Theo Killian, wat soos so baie Keurboslaners ’n voormalige leerling se seun is. “Nee. Ek het genoeg moeite met my eie ellendige boetie.”
“Van Rensburg is darem al twaalf. Denys is maar net nege en ek moet heeltyd agter hom aan hardloop terwyl ouboet Jan hom regmaak om volgende jaar hoofseun te wees.”
“Dis ’n mooi grap met julle Serfonteins,” spot Killian. “Kyk net hoe kies doktor sy eie seuns die een ná die ander as hoofseun.”
“My oom kan maak soos hy wil. Hy besit elke korreltjie sand om daardie skool en niemand kan hom rondbeveel nie.”
“Nee, en as die inspekteurs kom, is dit gewoonlik oudleerlinge van hom, so al wat hulle sê is: ‘Ja, doktor’ en ‘Reg, doktor.’ Niemand waag dit ooit om ‘Nee, doktor’ te sê nie!”
Beyers Serfontein, die beroemde snydokter Martin Serfontein se seun, kom aangedraf. “Haai! Was die tweeling hier by julle?” vra hy.
“Nee. Hier kom hulle nou uiteindelik.”
Ben en Klaas Serfontein, veertien jaar oud soos die ander van hulle groep, is die hoof se tweelingbroers, die bekende wiskundiges Frans en Emil, se seuns. Die pa’s het met susters getrou. Dit was ’n dubbele bruilof en die seuns is ’n jaar later byna op dieselfde datum gebore. Hulle lyk so verbasend baie na mekaar met hulle ligte hare en blou oë – wat nie kenmerkend van die Serfonteins is nie – dat hulle “die tweeling” genoem word. Die neefs gee nie om nie, want hulle is in elk geval omtrent altyd by mekaar.
Jurie staan eenkant en bekyk al die seuns. Hulle het nog nooit enigiets kortgekom nie. Hulle moes hulle oë nog nooit vinnig laat sak as iemand vir hulle kyk nie. Wat sal hulle dink van sy tuiste wat so armoedig is, van sy pa wat kort-kort werkloos is en sy ma wat haar so vir al hulle kinders afsloof?
“Hier’s die uitverkorenes!” skree iemand bo die geraas.
Ongeveer elf jong mans het met die trap opgekom.
’n Mens moet ’n paar keer kyk om seker te maak hulle is nie onderwysers nie. Net die skooldasse wys hulle is leerlinge. Almal is groot en sterk ná al die jare op Keurboslaan waar soveel klem op liggaamlike opvoeding gelê word. Die groep het reeds ’n kwartaal se diens agter die rug, en word as die beste span prefekte in baie jare beskou.
Die grootste van almal sou in enige geselskap aandag trek. Richard Serfontein, die sewentienjarige hoofseun, is besonder lank, nes sy pa. Hy het sy pa se klassieke gelaatstrekke en die Serfonteins se swart oë. Maar hy het sy ma se goudgeel hare geërf. Dis ’n besondere kleur wat in helder lig soos gepoleerde metaal skyn. By al hierdie uitsonderlike eienskappe is daar egter ook tekens van stille skugterheid in Richard se houding.
Jurie kyk na hom en kan nie ophou staar nie. Dis die eerste keer dat hy so iemand teëkom.
Die trein beweeg stadig in en ’n gestoei ontstaan om by maats uit te kom. ’n Prefek wat amper so lank soos Richard is, maar met ’n effense slap houding wat iets van sy lengte afneem, blaas op ’n fluitjie en kry ’n mate van orde totdat die trein stil staan.
“Volgens graad,” sê Richard met ’n besonder diep manlike stem. Hy het nie nodig om hard of kwaai te praat nie. “Klim van die voorkant af in die waens.”
Buitengewoon ordelik gehoorsaam almal totdat net die prefekte, Jurie en drie ander seuns op die perron oorbly.
“Ruys, gaan kyk of die ander passasiers darem plek kry,” sê Richard. “Daar is nooit baie op dié nagtrein nie, maar nogtans. Daan, gaan jy saam.”
Ruyssenaer knik sy kop en klim in die trein saam met Daniël Krynauw, ’n blonde sewentienjarige wie se oom, dokter Eugene Krynauw, die hoof se aangetroude neef en intiemste vriend is – as doktor Serfontein ooit met enigeen intiem kan raak.
“Stil! Hier kom hy!” hoor Jurie van die vensters waar ’n klomp seunskoppe uitsteek.
Keurboslaan se hoof lyk nog net soos altyd: groot, sterk, lenig en tot in die kleinste besonderheid korrek aangetrek. Sy gesig is baie aantreklik, al is die uitdrukking streng.
Die prefekte staan beskeie voor hom en sê bedees: “Goeienaand, doktor.”
“Goeienaand,” sê hy met ’n diep stem net soos Richard s’n. “Alles in die haak?”
“Ja, doktor,” sê Richard.
“Is die vyf nuwe seuns hier?”
“Net vier, doktor. Lourens Joubert het nie opgedaag nie. Dominee Borneman het Logan self gebring.”
Jurie sien die ander nuwe seuns nou eers raak.
Hulle is anders as dié wat by die vensters uitleun. Hulle kyk niemand in die oë nie.
Jurie kyk maar weer na die hoof. Hy weet nie hy skep ’n goeie indruk met sy gesonde kleur en reguit blik nie.
Hierdie man is doktor Roelof Serfontein!
Jurie het baie oor hom gelees in die brosjures wat doktor André Smit vir hom gestuur het sodat hy ’n blik op sy nuwe lewe kon kry. Smit het hom ondersoek om seker te maak die seun sal sy groot kans ten volle kan benut. Hierdie doktor Serfontein was in sy jong dae ’n bekende sportman. Hy is nou wêreldbekend as skrywer en het ’n fortuin by sy peetpa in Amerika geërf. Nogtans staan hy hier op die stasie en kyk die vier onbekende seuns aan asof hulle werklik van belang is.
“Wie is Verryne?” vra hy.
“Ek, doktor,” kom dit byna fluisterend van Jurie.
Die hoof weet alles van sy verlede. Wat dink hy van iemand soos ek, wonder Jurie. Hy weet nie hoe dit gebeur nie, maar skielik vang Jurie Richard se blik, en sonder om te verstaan hoe, weet hy wat Richard vir hom probeer sê.
Jurie lig sy kop en kyk reguit, maar nie voorbarig nie, in die hoof se oë.
Doktor Serfontein se wenkbrou flikker effens en daar kom ’n sweempie van ’n glimlag oor sy gesig.
Jurie sal nog leer hierdie twee dinge gebeur selde gelyktydig, maar nou laat dit hom kalmer voel. Die hoof weet wie en wat hy is, maar het nogtans hoop vir hom.
“Loggenberg.”
Die seun wat vorentoe kom, is verbasend groot. Hy het reeds skouers soos ’n man s’n en sy arms is buitengewoon lank. Sy kop is geboë en hy loer stuurs onder sy wenkbroue uit. Sy hele voorkoms laat ’n mens aan ’n bobbejaan dink. Dis snaaks dat so ’n ou uit ’n bevoorregte huis kom, dink Jurie.
“Welkom, Loggenberg,” sê die hoof streng, maar vriendelik.
Die klein ogies kyk skuins op en dan dadelik weer af. “Dankie, doktor,” sê ’n skor stem.
“Logan.”
’n Tingerige seun tree huiwerig en doodsbleek vorentoe.
“Goeienaand,” sê die hoof.
Dit lyk eers of Logan so lam van vrees is dat hy nie gaan antwoord nie, maar hy kry darem ’n geluid uit.
Nou kyk die hoof na die vierde seun. “Jy is dus Alberts?”
Hierdie seun is lenig en fyn gebou. Hy het ’n gesig wat aantreklik kon wees, maar nie is nie, besluit Jurie wat onverwags ’n sterk weersin vir hom voel. Alberts se ligte blou oë is groot en wakker. Hulle knip skaars, asof hy nie kan bekostig om vir ’n oogwenk nie te weet wat aangaan nie. Hy is glad nie skaam nie. ’n Mens weet sommer dis nie skugterheid wat hom nie hoër as die hoof se boonste baadjieknoop laat kyk nie.
“Goeienaand, doktor,” sê hy ewe dapper.
“Goeienaand,” sê die hoof. “Klim maar op.”
“Julle ry in my kompartement,” sê Richard.
Jurie se oë straal, al voel hy ongemaklik.
Dis die eerste keer dat hy in ’n trein ry en hy weet nie presies wat om te doen nie.
In die kompartement is die ses beddens reeds opgemaak.
“Daar is nie nou plek om te sit nie,” sê Richard. “Dis buitendien laat en slapenstyd. Die badkamer is aan die punt van die gang.”
Toe hy weg is, kyk die nuwe seuns mekaar in stilte aan.
“Wel,” sê Alberts tevrede, “sover lyk alles goed.”
Die blou oë som die ander op.
“Julle lyk verniet so verskrik,” sê hy dan. “Ek sal ons al vier oppas.”
Niemand antwoord nie.
Jurie verstaan nie hoekom hierdie seun wat seker so bevoorreg soos al die ander Keurboslaners is, hom so ’n koue krieweling laat voel nie.
“Wat draai julle so?” vra Ruyssenaer se verveelde stem skielik by die oop deur. “Hoe kan grootmense slaap terwyl speenvarkies nog ronddrentel? Trek uit en kom vir die nag uit die pad.”
“Moet ons regtig uittrek?” vra Alberts.
“As jy môre nie heeltemal verkreukel wil lyk nie.”
Ruyssenaer leun gemaklik teen die deur totdat die nuwe seuns gereed is vir bed.
“Boonste banke, julle,” sê hy dan. “Een enkele woord tot môre-oggend en ek hamer julle harsings met my skoen se hak uit.”
Al dreig Ruyssenaer hulle, verander sy gesigsuitdrukking en verveelde stem nie in die minste nie, en Jurie lag onverwags hardop.
’n Slaperige oog bekyk hom van onder ’n swaar ooglid. “Wat’s jou naam nou weer?”
“Verryne.”
“Wel, daar was eenkeer ’n Verryne wat vir my gelag het. En waar dink jy is hy nou?”
“Ek … weet nie …”
“Nee, en baie ander mense weet ook nie. Vra maar gerus vir die nagwind wat oor sy hopie verbleikte bene suis …”
“Oefen jy vir ’n toneelstuk?” vra Richard se kalm stem agter hom.
“Daardie vent lag vir my. Dis sleg vir my kompleks.”
“As jy ’n kompleks het, vat hom na die skool se sielkunde-afdeling toe,” raai Richard hom aan terwyl hy iets uit sy tas haal. “Sal jy hier bly tot ek terugkom?”
“Natuurlik. Ek wil mos slaap, hier op my gemaklike bank. Wie is dié kwartaal in bevel van die sielkunde-afdeling? Nog steeds Spaulding?”
“Blykbaar, ja.”
Uit die omgewing van Ruyssenaer se skoene styg ’n diep bas-gelag, so dreigend soos dié van ’n monster in ’n fliek.
“Agtermekaar!” sê hy.
’n Paar minute later kyk die hoof op van die tydskrif waarin hy lees.
Richard staan in sy koepee se oop deur met ’n termosfles en ’n koppie.
“Het Pa iets nodig?” vra hy.
“Niks nie, dankie.”
“Ek het Mamma belowe om te sorg Pa gaan slaap, maar ek het nie die hart nie. Ek weet hoe geniet Pa dit om trein te ry en te kan lees sonder dat iemand kom pla.”
“Behalwe my hoofseun.”
Nie een van hulle glimlag nie, maar dis onnodig. Hierdie twee sê baie met hulle swart oë.
“Is iemand by die nuwe seuns?”
“Ruys is daar.”
“Dis beter as Alberts voorlopig niemand alleen onder oë kry nie.”
“Reg so … Mag ek vir ’n oomblik inkom? Ek het Mamma oor die foon belowe om vir Pa hierdie warm drankie te gee. Sy vergeet nooit Pa was eenkeer baie siek nie, en dit het met spysvertering te doen gehad.”
“Dit was voor Josef se geboorte, en hy is nou al negentien.”
“Nogtans. Kom, dis nie sleg nie.”
“Nou ja,” sug die hoof en sluk die warm vloeistof soos medisyne weg. “Ek is jammer julle prefekte gaan bo en behalwe julle gewone pligte nog hierdie nuwe seuns ook moet bystaan.”
“Ons sal regkom … Ruys weet, niemand anders nie.”
“Elkeen is ’n spesiale probleem. Joubert wat eers môre sal opdaag, is net ’n bedorwe brokkie … Maar Verryne is weens ’n tekort aan geld en ruimte, met soveel jonger kinders, feitlik op straat uitgestoot. Daar het hy allerhande klein misdade gepleeg … Logan se grootouers het hom so gruwelik mishandel dat hy kleptomanie ontwikkel het. Ons het dit destyds met Karl Goosen ook ondervind en hy het uitstekend herstel, maar hy was liggaamlik veel sterker as hierdie seun.
“Loggenberg gebruik sy abnormale krag om gedurig gewelddadig op te tree. Sy ouers is goeie mense, maar baie arm. Die pa is effens geestelik minderwaardig … En Alberts was die jongste lid van die Glennis-bende wat nou opgebreek is. Die leier het in dieselfde weeshuis as Alberts grootgeword en hy het die jonger seun altyd opgepas. Hy het hom daar kom wegsteel. Gelukkig het een van die bendelede na die polisie gegaan, en Alberts is toe gevang. Hierdie vier is almal besonder intelligent. Ons wil sien wat ’n goeie geleerdheid en opvoeding vir hulle kan doen.”
“Pa het darem nou baie gepraat,” terg Richard.
“Dis omdat ek dit nie alles weer wil herhaal nie. Gaan slaap nou.”
Van Breyten-stasie af ry die skoolseuns nog ’n hele ent pad per bus.
Jurie verkyk hom aan die landskap toe hy uitklim. Berge verrys rondom hom. Die slapende reuse ontplooi die een ná die ander, pers op die voorgrond, verder weg blou en uiteindelik ligpers. Oral kabbel bergstroompies, en ’n rivier krul by die skool verby en vorm ’n paar swemkuile. Daar is ook ’n pragtige swembad.
Die skool staan op ’n rant. Die afgelope vyf jaar is hier heelwat aangebou. Die gebou bestaan nou uit ’n groot vierkant met ’n oop binnehof en pilaregang. Verder weg steek ander dakke bokant die lower uit. Dis onder meer die hoof se huis en die een waar die ongetroude onderwysers bly.
Binne die gebou stap die vier nuwe seuns haastig agter Richard aan, deur wye gange waar jy jou eie voetstappe hoor eggo, en dan met ’n breë trap na bo.
Die hoofseun maak ’n deur oop. “Dis julle slaapkamer,” sê hy.
Jurie se mond val oop.
Daar is agt beddens in die kamer. By die een bed is daar ’n skerm en ’n tafellamp.
“Dis my bed,” sê Richard toe hy Jurie daarna sien kyk. “As julle iets wil weet, vra vir my. Nadat die ligte af is, mag julle met niemand anders praat nie.”
“Ja … e …” stotter Jurie.
Richard help hom reg.
“Jy spreek prefekte op hulle vanne aan.”
Alberts is nie op sy mond geval nie.
“Baie gerieflik,” sê hy uit die hoogte. “Dit lyk net bietjie koud met al die wit verf en die ligte kleure. ’n Mens sien buitendien te maklik as dit vuil is.”
“Dis juis hoekom dit so is,” sê Richard. “As daar iets vuil is, is dit goed om dit dadelik te sien en skoon te maak.”
Alberts se oë word kliphard, maar Richard lyk hoflik en byna onmenslik aantreklik met sy blonde kop bokant die rugbyspan se serp.
“Julle name is bokant julle beddens opgeplak,” sê hy.
’n Bruinkopseun wat sy jas reeds uitgetrek het en baie netjies in sy kleurbaadjie lyk, kom by die kamer in.
“A, hier’s jy, Jan,” sê Richard. “Sorg dat hierdie nuwe kêrels regkom.”
“Maar waar is die ou wat ek kastig moet help?”
“Nie opgedaag nie. Hy kom glo eers môre.”
“Is hy watwonders dat hy nie soos al die ander moet maak nie?”
“Dis juis sy probleem – en joune.”
Vir die nuwe seuns sê Richard: “Dis my neef, Jan Serfontein. Julle koppe sal nog draai van al die Serfonteins. Hier kom nog een. Oppas, Berrie!”
Die hoofseun gryp sy dertienjarige broer aan die arms, tel hom op en hou hom met sy voete ’n entjie bokant die vloer.
“Maarg hoekom het jy nie huis toe gekom nie? Waarg is Pa?” vra die hoof se derde seun met die gebry wat hy van sy babadae af nooit ontgroei het nie.
Berrie het nog nie soos sy twee broers lengte gekry nie. Sy lyf en gesig is ewe rond. Maar die sproetgesig het sy ma se oë wat soos twee grasgroen juwele skitter.
“Pa het met die kar van Breyten af gekom. Hy moes eers by een van die plase aangaan. Hou solank die fort hier, Jan,” sê Richard en loop saam met Berrie uit.
Jan, nog ’n seun van dokter Edward, sug. “Jy’s die baas!” roep hy agter die hoofseun aan.
Dan draai hy na die nuwelinge en sê: “Luister nou mooi, julle. Daardie wit hokke is julle klerekaste, en die wit porseleinbakke met die silwer krane is waarin julle julle handjies moet was voor julle gaan eet, of julle kry nie kos nie. Wat makeer jou, boet?”
Jan kyk na Loggenberg wat binnensmonds met homself praat terwyl hy Alberts beloer.
“Moenie met my sukkel nie. Ek sukkel nog nie met jou nie,” brom Loggenberg stuurs.
“Eienaardige tipe om hier raak te loop,” sê Alberts snedig. “Wonder waar hy vandaan kom.”
Voordat hy weet wat hom getref het, is Alberts plat op die vloer aan die ander kant van die kamer. Loggenberg wil nou net verniel. Alberts ken die lewe en dis nie die eerste keer dat hy met so iemand kennis maak nie. Hy verwag nou die groot seun se swaar skoen teen sy slaap.
Logan sak op sy bed neer asof dit hy is wat wag om vernietig te word.
Jurie staan hulpeloos en toekyk.
“Liewe land,” sê Jan min gepla. “Wat pla jou? Jou senuwees?”
Loggenberg is gewoond dat almal, selfs die polisie, hom as gevaarlik beskou. Jan se verveelde houding bring hom van stryk af. Hy vlieg op met ’n sprong soos ’n groot bobbejaan.
“Hallo, Tarzan!” sê Jan asof hy die situasie nou begin geniet.
Hy aap die bobbejaanbeweging na en lag hardop. Daarna uiter hy ’n oorverdowende Tarzan-kreet.
“Goeie hemel!” sê Ruyssenaer wat in die deur staan. “Wat makeer jou, Jan?”
“Laat ek jou voorstel aan Bimbo, die halfmens. Doen dit weer, boet! Spring gou weer soos nou net.”
Loggenberg bekruip Jan en mompel verwoed: “Ek gaan jou kop van jou skouers afskeur.”
“Dit sal die dag wees,” sê Ruyssenaer geamuseerd. “Net ek en meneer Burger doen sulke dinge hier.”
“M- … maar ek …” Loggenberg is verward. Hoekom besef hierdie ouens nie hy is gevaarlik nie?
“Ekskuus?” vra Ruyssenaer koggelend met sy hand bak agter sy oor.
“Ek gaan julle almal doodmaak!”
“Ja, maar later, nè? Dis nou koffietyd,” sê Ruyssenaer. “Jy, Alberts, staan op daar. Kyk hoe lyk jou hemp.”
“Dis bloed!” sê Alberts.
“Jy bedoel vullis. Vullis is enigiets wat iewers is waar dit nie behoort te wees nie. Trek gou ’n skoon hemp aan en steek daardie een in koue water, anders kom die vlek nie uit nie. En jy, meneer wat’s-jou-naam … Poggenpoel …”
“Loggenberg!” skree die seun desperaat.
“Nes jy verkies. Persoonlik sien ek min verskil. Jy verskyn vanaand voor die prefekteraad. Sulke bakleiery word nie toegelaat nie.”
“Wie gaan my voor hierdie raad van jou sleep?”
“Die hele eerste rugbyspan en as dit moet, die reserwes ook. So kom liewer op jou eie pote. Jan sal vir jou sê waar en wanneer.”
“Ek is nie bang vir julle spul prefekte nie!”
“Heeltemal reg. Ons is onskadelike besies. Jy het net één vyand vir wie jy bang moet wees. Jouself. Eendag vermoor jy iemand dalk, en dan sluit hulle jou lewenslank op. Komaan, eetsaal toe!”
In die pragtige groot vertrek word die vier nuwe seuns almal by dieselfde tafel geplaas.
Aan die hoof van elke tafel sit ’n prefek. By Jurie se tafel is dit Richard. Jurie is honger en hy sien sowel Alberts met sy geswelde ken as Loggenberg lê weg aan die koffie, beskuit en koek. Net Logan se hande bewe só dat hy kort-kort ’n stukkie brood of koek op sy bord laat val en dit dan maar daar laat bly lê.
Richard eet min. Dis rugbyseisoen en die eerste span se manne moenie te veel stysel eet nie.
Wanneer almal klaar geëet het, lui Richard ’n klokkie en sê die dankgebed. Dan stap almal ordelik uit.
Buite die eetsaal se deur is daar ’n groot kennisgewingbord. ’n Skare seuns vergader hier om te sien wie het die verskillende rugbyspanne gehaal en wie nie.
“Ha!” roep Brian Spaulding, ’n seun met vreemde, donker oë en hare wat byna wit is. “Wie’s hierdie Loggenberg wat al vanaand voor die raad moet verskyn?”
Hy praat uitstekend Afrikaans, maar iets aan hom laat ’n mens vermoed hy is miskien anderstalig.
“O, dis Bimbo, die nuwe Tarzan,” sê Jan in die verbygaan.
Almal lag, maar Jurie kry die groot seun jammer.
Loggenberg se rooi ogies staar soos ’n gekweste dier s’n voor hom uit, maar hy reageer hierdie keer nie.
Logan staan vas teen Jurie se arm asof hy wegkruipplek soek. Dit laat Jurie sterk voel.
“Loggenberg! Kom!” roep Jan uit.
Loggenberg se kop draai asof hy ’n wegkomkans tussen die massa seuns deur soek. Dan sien hy Jan glimlag bemoedigend vir hom, eerder as spottend.
Hierdie vier seuns wat soveel gebreke het, is op grond van hulle buitengewone intelligensie uitgesoek deur die bestuurder van die hoof se Johannesburgse jeugkliniek, doktor Smit. Iemand wat intelligent is, is gewoonlik ook fyngevoelig, al probeer hy dit wegsteek. Loggenberg is ten spyte van sy voorkoms die slimste van die vier.
Hy kyk ondersoekend na Jan en gaan dan sonder ’n woord saam.
Die prefekte kom nou uit die eetsaal en loop met die gange af na hulle eie sitkamer. In die verbygaan praat Richard ’n paar woorde met Rynault.
Rynault trek sy skouers op, maar stap dan na Jurie.
“Komaan, julle drie,” sê hy. “Ek en my maats sal julle wys waar alles is. Julle kan julle vriend die sukkelaar later alles vertel, as hy nog lewe.”
’n Hele optog volg Rynault en die nuwelinge.
Toe Jurie uiteindelik in die konsertsaal opdaag om sy eerste Aand-godsdiens by te woon, draai sy kop met alles wat hy gesien het – die gimnasium, die laboratorium en ’n sterrewag, verbeel jou!
Nou staan hy tussen die seuns van sy eie ouderdom en luister na die orrelmusiek van die galery daar bo. Hy wonder of die ander drie nuwelinge ook soos hy voel, besiel deur soveel mooi dinge, maar nogtans bang omdat hulle nie inpas nie.
Logan is bleek genoeg om te kan omdop. Alberts kyk selfbewus rond en Loggenberg staan met sy kop tussen sy skouers ingetrek. Jurie wonder wat die uitslag by die prefekteraad se vergadering was.
Lede van die personeel begin op die verhoog verskyn. Die eerste een is meneer Adolf Serfontein. Hy trek baie op sy broer, maar al is hy ’n paar jaar jonger, lyk hy heelwat ouer. Sy hare is grys en daar is lyne op sy gesig wat sy broer s’n nie het nie. Saam met hom stap ’n man met ligte hare en ’n bril.
“Dempers,” fluister Rynault. “’n Goeie ou.”
Nou kom ’n gesette meneer in. Hy is nie so netjies soos sy kollegas nie en sy bril sit skeef, maar hy glimlag vir die seuns onder in die saal en almal glimlag terug.
“Burger,” sê Rynault. “’n Doring. Hy’s al eeue hier … Nou kom almal. Daardie een met die ligte hare is Denys – musiek, veral klavier. Spaulding, die senior musiekman, speel die orrel. Daar’s Venter en Geer – gawe ouens! Geer gee sport en Venter meestal Wiskunde, maar ook ’n bietjie van alles. Daai twee is vriendelik, maar vrek streng. En daardie maer, donker man is Lambrecht, die visehoof, ook van toeka se dae af al hier. Die een by hom is nuut. So dis natuurlik Brink. Hy’s nog lekker jonk.”
Nou kom mevrou Mostert, die huismoeder, en saam met haar ’n aantreklike donkerkopmeisie van so ongeveer twintig.
“Barbara Venter, ou Venter se suster,” sê Rynault. “Oulik. Sy is die skool se sekretaresse in die plek van ou juffrou Stobbs wat afgetree het en nou op die dorp bly.”
Twee dogters verskyn en kom staan langs mevrou Mostert. Die veertienjarige is sag en beskeie en kruip ’n bietjie agter haar donker hare weg. Die negejarige het rooibruin hare wat om haar kop golf. Haar gesiggie is stroef en beslis.
“Dis Dian en Tiesjie, my niggies,” fluister Rynault. “En hier kom tannie Helen en Lavrans. Ek dink hy’s vier.”
Mevrou Serfontein dra ’n swart fluweelrok sonder enige juweliersware. Net aan haar linkerhand is daar ’n trouring en ’n ander ring met ’n groot smarag wat selfs van ver af soos ’n groen ligvonk blink. Dis die eerste maal in Jurie se lewe dat hy ’n vrou met so ’n kroon goue hare in lewende lywe sien. Die pragtige gouekopseuntjie se hand is vas in hare.
Nou daag die hoof op en neem sy plek op die verhoog in. Hy woon selde ’n partytjie by, maar hierdie keer het sy vrou hom blykbaar vasgekeer, want hy dra ’n aandpak. Om hom so daar te sien, is die hoogtepunt van Jurie se dag.
Die koor op die galery begin met die eerste gesang. Dit is vir Jurie ’n nuwe ervaring. Is dit seuns of engele daar bo? Hy het nog nooit ’n seun met so ’n soet sopraanstem hoor sing nie, wat nog van ’n hele koor?
Jurie voel trane in sy oë opwel. Hy kyk gou rond om te sien of iemand hom dalk dophou en kry nog ’n verrassing. Alberts se oë is nie vol trane nie, maar hulle skyn met ’n kinderlike verwondering en verbasing wat ongewoon vir die parmantige Alberts is.
Is dit die musiek wat hom so meevoer?