Читать книгу Jong Doktor Serfontein #1 - Theunis Krogh - Страница 3

1

Оглавление

DIE VREEMDELING

Nege-uur op ’n koue, reënerige aand kom ’n bejaarde man met ’n voetpaadjie teen een van Keurboslaan se heuwels afgestap. Hy was by ’n ou Swazi en het gehoop om meer van ’n oorspronklike Swazi-legende uit te vind, maar tevergeefs.

Ten spyte van sy vyf en sewentig jaar loop meneer Schoonbee vinnig die steilte af.

Toe hy ’n lang figuur teen ’n boomstam sien leun, skakel hy sy flits aan.

“Dis soos ’n droomgesig!” sê hy vrolik.

Die jong man wat in die gietende reën staan, antwoord nie. Hy kyk reg in die flits se ligstraal asof hy dit nie sien nie.

“Jy daar so in die reën en mis laat my dink aan die verhaal van Lodi die Gees en die Bergkoning,” sê meneer Schoonbee.

“Dis die Sweedse weergawe,” antwoord ’n aantreklike, diep stem. “Maar die een in Bulgaars is byna dieselfde.”

“Merkwaardig hoe eenders verskillende nasies se ou verhale is. Dis wat ek in my boek probeer bewys.”

Meneer Schoonbee sien die gesig nou duideliker. Die man se oë is donker; hy is duidelik nie gesond nie.

“Kom saam met my huis toe. Ek kan dalk vir jou ’n hoofstuk uit my manuskrip voorlees,” sê meneer Schoonbee.

Dit lyk nie of die jong man sy uitnodiging gaan aanvaar nie, maar toe meneer Schoonbee verder loop, hoor hy voetstappe agter hom aankom.

Ná ’n rukkie kom hulle by ’n hek wat los aan ’n paal hang. Links en regs is hout- en sinkgeboue. Agter is ’n groot wit huis met ’n paar dofverligte vensters.

Die vreemdeling volg die ou man na binne.

Daar kom ’n gelag van die eerste verdieping af, maar hy registreer dit skaars. Hy wag in ’n donker vertrek terwyl meneer Schoonbee ’n olielamp aansteek. Die lamp is op ’n tafel met ’n hoop papiere en potlode en ander skryfgoed, en twee gemaklike ou leunstoele staan voor ’n kaggel.

Meneer Schoonbee gaan terug na die gang en lui ’n klokkie. Die geluid weerklink deur die donker.

“Wienand!” roep hy gedemp.

’n Groot seun van omtrent sestien verskyn op die trap. “O hallo, meneer!” sê hy vrolik.

“Kom bietjie hier, seun.”

Oscar Wienand hardloop die trappe twee-twee af. “Ja, meneer?” vra hy opgewek.

Dan gaap die seun die vreemdeling verbaas aan.

Die man staan in ’n plas water. Sy klere is sopnat. Sy gesig is bleek. Maar ten spyte daarvan lyk hy na iemand besonders, besluit Wienand.

“Ek dink net jóú klere sal groot genoeg vir ons gas wees,” sê meneer Schoonbee. “Leen asseblief vir hom slaapklere en ’n kamerjas.”

“Reg so, meneer. Maar dit sal bietjie kort wees, en die kamerjas is nie watwonders nie.”

“Solank dit net heel en warm is. En vra asseblief vir mevrou Mostert om hierheen te kom.”

Die klap van die deur agter Wienand ruk die vreemdeling uit sy effense beswyming, en hy sien hoe meneer Schoonbee sukkel om ’n vuur in die kaggel aan die gang te kry.

“Laat ek dit doen,” sê hy.

Meneer Schoonbee gaan sit en kyk ingedagte na die lang, skraal jong man wat kniel om die vuur aan te steek. Hy lyk suf en tot die dood toe moeg. Daar is swart skaduwees onder sy oë en ’n hartseer trek om sy mond.

Die gesig lyk bekend. Het hy onlangs ’n foto daarvan in ’n koerant gesien? Hy dink so.

“Is jy van die stad af?” vra meneer Schoombee.

“Johannesburg, ja.”

“Meneer het my geroep,” sê ’n vrouestem skielik.

Ria Mostert, die skool se oorwerkte matrone, is nog jonk en vol lewe en lyk of sy vir alles kans sien.

“Kom binne, Ria. Ek wil ons gas aan jou voorstel, maar ek ken hom net as Lodi die Gees op wie se aankoms en hulp die Berg-koning so lank gewag het, en ek weet jy hou nie van daardie ou verhale nie.”

Sy kyk geduldig na die oubaas en draai dan na die vreemdeling.

“Ek is Ria Mostert. Sover ek kan, pas ek meneer Schoonbee en sy skool op.”

“Aangename kennis, mevrou,” sê die jong man asof hy vir ’n oomblik niks makeer nie.

Hy staan op van waar die vuur nou lekker brand en stof sy hande teen mekaar af.

“En jy is?” vra sy.

“Roelof Serfontein.”

“Kan ons iets warms kry om te drink?” vra meneer Schoonbee.

“Ja, seker, maar eers moet meneer Serfontein in ’n warm bad kom. Wienand, vat hom na die onderwysers se badkamer.”

Die groot seun het intussen met slaapklere en ’n kamerjas verskyn.

“Wag daar by hom,” sê meneer Schoonbee, “en bring sy nat klere saam sodat dit drooggemaak en gestryk kan word.”

Wienand gaan uit en die gas volg hom gedwee.

Daar is nie elektrisiteit nie en die gebou is koud en neerdrukkend. In die gang brand olielampe op muurrakkies.

Op die eerste verdieping weerklink daar weer ’n gelag en gestamp agter ’n toe deur.

Wienand slaan met sy vuis teen die deur en die geraas bedaar effens.

“So, dis ’n skool hierdie?” vra die gas.

“Keurboslaan Seunskool, kamma.”

Die seun frons. Hierdie man is anders as enigiemand wat hy ken, selfs al lyk hy so deur die wind.

In die badkamer steek Wienand ’n kers aan, draai die kraan oop, gaan sit op die rand van die bad en kyk na die man wat so stil daar staan.

“Ek het pantoffels gebring. Hulle sal koerante in jou skoene moet stop, anders sal jy hulle nooit weer kan dra nie.”

Die man antwoord nie. Sy lyf bewe van die koue.

“Die bad is nou reg,” sê Wienand. “Ek kan darem een ding van dié plek sê: hier is altyd baie warm water, want die klein outjies wil nooit bad nie!”

“Dankie . . .”

“Wag! Ek gaan haal gou asyn. My ma sê altyd dit help vir verkoue.”

Toe die seun ’n rukkie later met ’n groot bottel terugkom, staan die man nog op dieselfde plek.

“As jy nou uittrek,” sê Wienand terwyl hy asyn in die stomende water gooi, “sal ek jou klere kombuis toe vat. Daar is mense wat dit kan was en stryk.”

Die swart oë kyk deur hom.

Wienand probeer die baadjie van die vreemdeling se skouers aftrek. Dit laat die half bewustelose man uiteindelik beweeg en hy begin hom nou self uittrek.

Wienand gaan bêre die asyn in die spens en toe hy terugkom, sit die man in die bad.

Die seun bekyk sy gespierde skouers en bolyf bewonderend. “Ek kan sien jy hou van sport.”

“Ja.”

Dit lyk of die warmte help om die vreemdeling ’n bietjie by sy positiewe te kry.

“In hierdie simpel plek ken ons nie iets soos sport nie,” sê Wienand.

“Is jy nie trots op jou skool nie?”

“Hoe kan ek wees? Dit gaan net agteruit. Dit was altyd ’n soort privaat skool vir die plaaslike mense se kinders, maar met die nuwe pad Mosambiek toe het meer mense hier kom woon, en toe hulle ’n provinsiale skool op die dorp oopmaak, het meneer Schoonbee dié plek gekoop. Maar Ou Skooltjie is ’n dromer en my pa sê hy’t dit aangepak sonder ’n benul van wat dit kos om so iets aan die gang te hou. Hy kan nie eens opgeleide onderwysers bekostig nie. Dit was van die begin af ’n groot gemors.”

“Hoekom is jy dan hier?”

“My ouers voel dis alles vir ’n goeie doel. Maar as ons hier klaarmaak, moet hulle weer betaal om ons ’n behoorlike matriek te laat kry. Hulle moes dit met my broer doen.”

“Hierdie skool kan nogtans baie beteken.”

Dis die gas se laaste nugter opmerking vir ’n hele ruk.

Terwyl die vreemdeling bad, verruil meneer Schoonbee sy nat stewels vir warm pantoffels. Hy haal sy viool uit die kas, stem dit, en gaan sit gemaklik in die leunstoel.

Die ou man is ’n uitstekende violis, en jare later sal sy skoliere nog steeds onthou hoe hy altyd laataand die meesterwerke gespeel het.

Hy praat nou tussen die speel deur met homself.

“Serfontein . . . Roelof . . . ja! Natuurlik!”

Meneer Schoonbee het ’n passie vir ou verhale en legendes, en al is hy ’n geleerde man, woon hy nog gereeld kursusse by om sy kennis uit te brei.

Die een deskundige wie se lesings in logika en filosofie hy altyd stimulerend vind, is professor Serfontein. Die man se briljante brein en goeie sin vir humor maak sy lesings baie gewild.

Omdat meneer Schoonbee die professor ken, het hy ’n berig in die koerant gelees waarna hy normaalweg nie sou kyk nie.

Dit lui dat doktor Roelof Serfontein, die oudste van professor Serfontein se ses seuns, nou teruggekeer het ná ’n paar jaar in die buiteland. Daar word gewys op sy prestasies as Springbok rugby- en krieketspeler, en genoem dat hy as student ’n dubbele beurs ontvang het om aan die Universiteit van Cambridge te gaan studeer. Daar het hy doktorsgrade in sowel die regte as filologie behaal. Omdat hy geglo het hy is nog te jonk om self ’n dosent te wees, het hy ’n pos as joernalis aanvaar en op dié gebied heelwat sukses behaal. Nou wil hy in Suid-Afrika kom werk, vermoedelik aan ’n universiteit.

“Interessant,” sê meneer Schoonbee by homself terwyl hy sy viool bêre. “Wat maak hy dan hier, en in só ’n toestand?” Die oubaas stap met die trap op badkamer toe en gaan klop aan die deur.

“Mag ek inkom? . . . O, jy’s nog steeds hier, Wienand?”

“Ek moes bly, meneer. Ek was bang hy verdrink. Hy wil net omval en al is die water kokend warm, bewe hy nog steeds van die koue.”

“Ja, ek sien. Hy moet iets warms in sy lyf kry. Gaan jy nou maar bed toe, seun.”

“Ek sal die klere eers kombuis toe vat. Nag, meneer.”

Die ou man knik en die vreemdeling sê flou: “Dankie.”

Meneer Schoonbee kry dit reg om die man uit die bad te laat klim, homself af te droog en Oscar Wienand se klere aan te trek.

Soos ’n slaapwandelaar volg hy die oubaas af ondertoe.

Mevrou Mostert wag hulle in. Sy kyk hoe die man onbeheerbaar bibber en kondig aan: “Hy is siek. Ons moet vir dokter bel.”

“Nee, wag eers,” keer meneer Schoonbee. “Wat het jy daar?”

“Gemmer in warm water, met suurlemoen en suiker. Pille ook. Gee dit vir hom in.”

“Dis goed so, mevrou. Gaan slaap nou maar. Ek belowe ek sal jou roep as dit nodig is.”

Toe sy onwillig loop, sit meneer Schoonbee ’n hand onder die jong man se nat kop.

“Drink, en sluk hierdie pille.”

Die pasiënt gehoorsaam sonder om sy oë oop te maak.

Meneer Schoonbee gooi nog hout op die vuur en gaan sit om ook van die warm drankie te drink.

“Verskoon my!” sê die man skielik in Duits, wat meneer Schoonbee baie goed verstaan. Voor hy kan antwoord, gaan die diep stem angstig voort: “Is madame Svoboda nie in vanaand se opera nie?”

En toe: “Maar dis onmoontlik! Ek het ’n afspraak . . . Makeer sy iets?”

Stilte. Dan, asof die woorde sy hart breek: “Getroud! Met Herr Arthur Spaulding!”

Die man bewe nou nog meer. Meneer Schoonbee haal weer sy viool uit die kas en speel ’n sagte, gerusstellende deuntjie.

Dit bring die jong man geleidelik terug na die werklikheid. Meneer Schoonbee kan nie help om te sidder as die jong man met ’n hartseer uitroep van “Wanda!” tot sy sinne kom nie.

“Lekker geslaap?” vra die oubaas so normaal moontlik.

Die operasangeres Wanda Svoboda is die grootste diva van die afgelope twintig jaar. Musiekliefhebbers regoor die wêreld ken haar stem, maar ’n mens het lanklaas iets van haar gehoor.

“Jy het ver gedwaal in jou drome,” sê meneer Schoonbee. “Jy het in ’n stadium ’n bekende naam genoem.”

Doktor Serfontein sien deur ’n waas ’n vriendelike gesig en oë onder ’n bos silwer hare. Die ou man hou ’n viool vas wat in die dowwe lig glinster.

Wie sou dit wees, en waar is hy?

“Het jy vir Wanda Svoboda geken?” vra die ou man versigtig. “Sy het ’n pragtige stem! Ek wens ek kon haar op die verhoog as Carmen gesien het.”

“Sy is dood.” Die woorde klink leeg en leweloos.

“Wanneer? Ek het dit nie in die koerant gesien nie.”

“Nou . . . ’n Paar dae gelede . . . Arthur het ’n boodskap gestuur uit Amerika. Hy sou daar meer suksesvol gewees het met sy konserte en . . . alles. Hulle het my nie meer nodig gehad nie . . .”

“’n Mens hoor deesdae niks van haar nie. Ek het al begin wonder,” sê meneer Schoonbee.

“Wat maak ek hier? Waar is ek?”

“Keurboslaan. Hoe het jy hier gekom?”

“Ek weet nie . . .” Die oë val weer toe.

Hy het seker met die bus en trein gekom, want in hierdie toestand sou hy nie ’n motor kon bestuur nie, besluit meneer Schoonbee.

Ná ’n lang stilte begin hy weer sag op sy viool speel; hierdie keer die stygende toonlere en vallende sesdes uit ’n Bach-konsert.

Die droomverlore man roep skielik hard uit en laat meneer Schoonbee vinnig regop kom. Dis die begin van die ineenstorting waarvoor hy gewag het.

Hy is nou verplig om mevrou Mostert te roep, maar sy het hierdie krisis ook verwag en het nie gaan slaap nie.

Sy het nooit vertel hoe hulle daardie nag moes bontstaan nie, maar toe die vreeslike koors en deurmekaar geyl uiteindelik in ’n diep slaap oorgaan, was sy en meneer Schoonbee albei gedaan.

Toe die onmiddellike gevaar van breinvliesontsteking verby is, dink meneer Schoonbee weer aan die Serfontein-gesin. As Roelof so onlangs van oorsee af teruggekom het, het hy seker by sy ouers gebly. Weet hulle ooit waar hy is? As hulle geweet het hy is siek en hy toe boonop verdwyn het, moet hulle nou al rasend van bekommernis wees.

Nadat hy goed daaroor nagedink het, skakel die oubaas vir professor Serfontein.

Die volgende dag daag ’n aantreklike jong man in Keurboslaan op. Hy het ’n swart snor en die blouste oë wat meneer Schoonbee nog ooit gesien het.

“Martin Serfontein!” blaf hy sy naam uit. “Waar de joos is my broer, en wat de duiwel gaan hier aan?”

Die nuweling is onbeskof en reguit, anders as sy ouer broer, maar almal neem aan dis van bekommernis.

Onder meneer Schoonbee se invloed bedaar Martin effens. Ook maar goed, want sy broer slaap nog diep, en mevrou Mostert sal niemand toelaat om hom te pla nie.

“Jy moet maar ’n nag of wat hier op Keurboslaan oorbly tot ek jou toestemming gee om jou broer huis toe te neem,” sê sy, en die plaaslike dokter stem saam.

Die rustelose Martin bestee soveel moontlik tyd in meneer Schoonbee se vertroostende geselskap en vertel vir hom meer as wat ’n Serfontein gewoonlik met enigiemand sal deel. Sy ma kla mos gedurig sy is met ’n bot familie opgeskeep.

Roelof, so vertel Martin, en sy vriend, die pianis Arthur Spaulding, was maar een en twintig toe die twee albei op daardie vervlakste Russiese sangeres verlief raak. Sy was heelwat ouer as hulle en boonop ’n katwyfie! Martin het haar en Spaulding eers twee jaar gelede leer ken toe hy oorsee gaan studeer het. Die Spauldings was toe al ’n goeie ruk getroud en hulle het twee stout seuns-kinders gehad wat net Russies kon praat.

Martin het ook met ander kunstenaars in die vriendekring kennis gemaak. Skoon gek, die hele spul! By hulle het hy gehoor dat Wanda eers aan Roelof verloof was. Hulle pa sou ’n hartaanval gekry het, maar gelukkig het die sangeres geweet ’n huwelik met Roelof en sy verhewe ideale sou haar baie gou verveel. Hy moes vir ’n paar weke weggaan vir werk, en sy het vinnig met Spaulding getrou.

Toe Martin, wat reeds ’n mediese dokter was en hom boonop as ’n sielkundige wou kwalifiseer, Wanda in Europa ontmoet, kon hy dadelik sien hoekom sy met Spaulding wou trou. Sy was nie meer jonk nie en was bang vir die dag wanneer sy nie meer sou kon sing nie. Geen ouer en verstandiger man as Roelof en Arthur sou eers twee keer na haar kyk nie!

En so vreemd as wat dit mag klink, het Roelof hom doodgewerk om hulle te help onderhou totdat Spaulding, ’n uitstekende pianis, so gelukkig was om ’n goeie kontrak in Amerika te kry. Daarna het Roelof teruggekom huis toe.

Maar toe gaan die vrou mooitjies dood! As sy nie op een manier aandag kan trek nie, dan doen sy dit op ’n ander! Arthur was skielik die kunstenaar en sy net sy vrou en ’n ma, en dít was nie genoeg vir die operaster nie. Nee, sy moes gaan staan en longontsteking kry!

Dit was Martin wat die boodskap ’n dag of wat gelede gekry het en toe vir Roelof die nuus moes gee.

Hy het sy broer net vertel en hom daarna alleen gelos.

Maar toe kom hulle pa by die huis en skop ’n bohaai op omdat Roelof in sy skok en hartseer vergeet het van ’n afspraak wat hy vir hom by die universiteit gereël het. Die professor was omgekrap en het gesê sy oudste seun sit net by die huis en word deur sy ma opgepiep terwyl ander mense werk. Hy het natuurlik nie geweet wat intussen gebeur het nie.

Martin het eers later van die hospitaal af teruggekom en by sy ontstelde ma en jonger suster gehoor Roelof het soos ’n groot speld verdwyn.

“Ek verstaan nie hoe hy so mal oor daardie ellendige vroumens kon wees nie. En ek’s veronderstel om ’n sielkundige te wees!” maak hy sy storie laat in die nag klaar. “Dit het nie vir hom saak gemaak dat sy met Spaulding getroud was nie. Solank Roelof haar net kon help as sy dit nodig gehad het, was dit vir hom genoeg!”

“Was jy nog nooit verlief nie?” vra meneer Schoonbee.

“Ek? Nee, ek het genoeg by Roelof gesien. Dan gaan spring ek liewer voor ’n trein in. Hy en Arthur was albei blind.”

“Weet jy hoekom hy juis hierheen gekom het?”

“Ek dink so. Toe ons jonk was, het my pa drie van ons seuns hierlangs Bosveld toe geneem. Ons het ’n rukkie in die omgewing gekampeer. Later het Roelof soms gesê – die min kere dat hy gepraat het – hy wens hy kon hier kom woon.

“Sien, daardie paar dae in die Bosveld was my pa nie so streng soos gewoonlik met hom nie. Roelof het hom altyd vreeslik geïrriteer omdat hy so stil is. My pa het gevoel hy is vol van homself omdat hy so abnormaal slim is en in alles uitblink.”

“O, so dink jy jou broer se onderbewussyn het hom gelei na waar hy as kind gelukkig was?”

“Dit mag wees. ’n Mens se onderbewuste haal snaakse streke uit.”

Baie laat daardie nag, net voor dagbreek, word meneer Schoonbee se pasiënt uiteindelik wakker. Hy en die oubaas gesels lank in die donker.

Die volgende dag ry doktor Serfontein saam met sy broer weg.

Jong Doktor Serfontein #1

Подняться наверх