Читать книгу Jong Doktor Serfontein #1 - Theunis Krogh - Страница 4
2
ОглавлениеKEURBOSLAAN SE NUWE VISEHOOF
Omtrent ’n week later bring Oscar Wienand ’n stapel boeke na meneer Schoonbee se kantoor. Toe hy omdraai om te loop, sê die skoolhoof op sy vae manier: “O ja, gaan sê tog vir mevrou Mostert doktor Serfontein arriveer vandag. Ons het hom eers môre verwag, maar hy het laat weet hy kom met vandag se bus.”
“Lekker! Kom hy weer kuier, meneer?”
“Hy kom hier onderwys gee.”
“Hier by ons?” vra Wienand verbaas.
“Ja.” Meneer Schoonbee praat altyd met die seuns asof hulle sy gelyke is. “Hy was ernstig siek en is nog lank nie gesond nie. As hy nie hier kon bly nie, sou hy ’n tyd lank na ’n verpleeginrigting moes gaan.”
Wienand frons. “Hy’s dan ’n dokter.”
“Nie ’n mediese dokter nie; ’n doktor in geleerdheid: in die regte en filologie.”
“Hoekom dink meneer dit sal ’n siek man gesond maak om hier te kom skoolhou? En dit nogal iemand met sulke grade?”
Meneer Schoonbee stoot sy bril hoog op sy voorkop terwyl sy oë wat so vol vreemde wysheid is die vraende seunsgesig bekyk.
“Ek weet net hy hoort hier. Ek probeer julle altyd laat verstaan hoe belangrik die wêreld se legendes en fabels is. Byvoorbeeld, toe Lodi die Gees – let wel, nie ’n spook nie – na die aarde gekom het en daar op die bergkruin . . .”
“Jammer, meneer, maar nou . . . Verskoon my asseblief, ek moet waai.”
Wienand hou nie van die manier waarop die skoolhoof sag by homself grinnik nie en maak haastig spore.
Hy vat die boodskap vir mevrou Mostert en probeer haar uitvra, maar sy vertel hom niks nie.
“Vra vir meneer Schoonbee,” sê sy. “Dis hy wat dit gereël het.”
“Ek het, en al wat ek uit hom kry, is nonsens van ’n gees wat nie ’n spook is nie. Hy en sy sprokies.”
“Ek het geleer om respek te hê vir sy stories. Mens kan nogal baie daaruit leer.”
Sy gaan rustig aan om ’n dik kous te stop.
Wienand loop vererg daar weg.
Rossouw, sy beste vriend, sit en lees toe Wienand by hom opdaag.
“Wat byt?” vra hy.
Hy is rustig van geaardheid en Wienand se eindelose energie irriteer hom soms.
“Ons kry ’n nuwe onderwyser. Daai ou wat ’n ruk terug so siek hier was, jy weet mos.”
“Niemand het hom gesien nie.”
“Wel, ek het.”
“Hoekom lyk jy so suur daaroor?”
“Hy’s nie soos ander mense nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Hy het ’n gesig soos ’n Griekse god en ’n lyf soos Mercurius,” spot Wienand.
Rossouw gryns geamuseerd. “Ou Skooltjie het jou aangesteek met sy stories. Nou-nou vertel jy ook sprokies.”
“Vir wat kom sit ’n man met die wêreld se grade op ’n plek soos dié as hy tonne geld met sy talente kan maak?”
“Dalk is hy nie so erg oor pitte soos jy nie.”
“Dis die enigste regtig belangrike ding op aarde.”
“Jy mors dan so lekker met joune!”
“Mens moet geld in sirkulasie hou. As jy X rand spaar, het jy net X rand. As jy dit laat sirkuleer, kom dit dubbeld na jou toe terug. Geld maak – nie verdien nie, maak! – en geld uitgee, is die lekkerste ding in die wêreld.”
Niemand is by die bushalte voor die stasie om doktor Serfontein te ontmoet nie. Hy los sy swaar tas by die stasiemeester wat belowe om dit agterna te stuur en neem net sy handbagasie saam.
Hy dra vandag ’n deftige grys pak en alles – sy hemp, das en skoene – pas daarby. Toe hy met die laan op na die skool stap, lyk hy soos ’n diplomaat op pad na ’n paleis en allesbehalwe na die verwese, siek man wat ’n week of wat gelede uit sy ouers se huis gestorm het en toe ná ’n reis waarvan hy niks onthou nie, met net ’n honderd rand in sy sak, op Keurboslaan beland het.
Hy is nou in beheer. Net iemand wat mense goed kan lees, sal in sy oë kan sien hy bedwing sy emosies, want sy toestand het nie eintlik veel verbeter nie.
Toe hy by die kosskool aankom, drink die kinders tee en die speelgrond is stil en leeg.
Hy stap reguit na meneer Schoonbee se kantoor. Die glasdeur staan oop; die skool se eienaar en hoof sit by sy lessenaar. Hy glimlag toe hy opkyk.
“Goeiemiddag,” sê die nuwe onderwyser.
Meneer Schoonbee staan op.
“Jy lyk aansienlik beter!” sê hy. “Het alles toe goed afgeloop?”
“Ja dankie.”
Doktor Serfontein kom binne en haal sy beursie uit.
“Ek moet eers die geld betaal wat ek geleen het vir my kaartjie terug huis toe.”
“Daar is geen haas nie.”
“Dis alles reg. Ek het gister geld uit Europa gekry vir ’n reeks artikels.”
“Dan is dit goed.”
Meneer Schoonbee kyk stip na hom en sien nog die tekens van spanning om die mond en oë.
“Hoe het jou familie daarop gereageer dat jy hier gaan kom werk?”
“Hulle was verras.”
Dis ’n baie afgewaterde beskrywing van sy ma se trane en sy pa se wilde Serfontein-bui nadat hy vir hulle die nuus gegee het.
“Dis altyd goed om so iets agter die rug te kry,” sê meneer Schoonbee. “Jy hoef nie voor môreoggend met jou werk te begin nie.”
“Ek begin liewer dadelik, as dit reg is so.”
“Nou maar goed. Jy is my plaasvervanger. Noem jouself maar die visehoof. Ek het ’n vertrek langs jou slaapkamer laat skoonmaak en ’n paar meubels laat indra. Dis jou kantoor. Maak soos jy wil. Die skool is nou joune.”
Die nuwe onderwyser staan geskok terug.
“Maar . . . jy kan die skool nie sommer net so aan ’n vreemdeling oorgee nie.” Die oë agter meneer Schoonbee se bril blink wakker.
“Jy is vir my geen vreemdeling nie, seun.”
Die jong man onthou die nagte waarin die bejaarde man hom versorg en verpleeg het en lyk half verleë.
“Maar ek weet niks van skoolhou af nie,” sê hy.
“Jy sal die regte pad vind. Jy hoort hier.” Dis asof meneer Schoonbee met ’n ander stem praat.
Doktor Serfontein oordink eers sy woorde.
“Hoeveel onderwysers is daar op die personeel?” vra hy dan.
“Ses, behalwe ek en jy, en jy neem nou my pligte oor. Daar is natuurlik ook mevrou Mostert. Ria is ’n goeie mens. Sy het ’n lat waarop sy baie vertrou. Dit skrik die kinders nie af nie, maar sy hou daarvan om te dink sy handhaaf die dissipline.”
“Dis hoe dit hoort in ’n seunskool,” sê die nuwe visehoof streng.
Die skoolhoof knik glimlaggend en kyk dan verlangend na sy lessenaar; hy wil na sy sprokies terugkeer. Doktor Serfontein sien dit en besef hy sal sy kamer self moet gaan soek en hom alleen aan die res van die personeel voorstel.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd trek ’n glimlag aan sy lippe terwyl hy sy handbagasie vat en by die kantoor uitstap.
Gelukkig loop hy mevrou Mostert in die gang raak. Sy neem hom tot en met aandete onder haar vlerk.
Sy sien ’n wêreldse verskil tussen hierdie elegante, beheerste jong man en die verdwaasde vreemdeling van die vorige keer. Sy kom agter hy neem sy nuwe pligte ernstig op toe hulle by sy kantoortjie ingaan en hy haar begin uitvra.
Die vertrek is wit geverf. Die meubels bestaan net uit ’n groot tafel en twee stoele. Daar is nie eens ’n mat op die vloer nie. Maar daar is ’n groot venster met ’n pragtige uitsig oor die berge en vallei. Die nuweling kyk eers uit buitentoe voor hy vir Ria ’n stoel aanbied en self ook gaan sit.
Hy luister aandagtig terwyl sy praat, en vra net af en toe ’n vraag.
Toe doktor Serfontein alles wat nodig is van die skool se bedrywighede af weet, gaan hy bad en aantrek. Hy maak eers tydens aandete sy verskyning voor die skoliere.
Die eetsaal is groot. Aan ses lang tafels sit sestig seuns van alle ouderdomme, van heel kleintjies tot kêrels van sestien of sewentien. Ria Mostert en die onderwysers sit elkeen aan die kop van ’n tafel.
Vanaand is die eetsaal stiller as gewoonlik omdat almal die nuwe onderwyser so nuuskierig aankyk.
“Jy’s reg!” sê Rossouw vir Wienand. “Hy het ’n gesig soos ’n Griekse god!”
Wienand is besonder nors en antwoord nie. ’n Mens moet natuurlik met ’n nuwe onderwyser gek skeer. Dit is tradisie. Maar met hierdie een kan dit dalk gevaarlik raak, soos om met die leeu se snor te speel.
Bokhorst, ’n twaalfjarige met wakker oë en bruin hare wat agter op sy kop in ’n onbeheerbare kroontjie regop staan, sit aan doktor Serfontein se tafel. Hy loer onderlangs na die nuwe meneer, wat so afgetrokke sit en ’n stuk brood tussen sy vingers frommel terwyl hy by die venster uitkyk.
’n Bord dik groentesop word voor elkeen neergesit. Doktor Serfontein kry syne natuurlik eerste. Nog steeds ingedagte sit hy sy lepel in sy sop.
“Kyk, ouens!” sê Bokhorst skielik. ’n Grillerige dooie voorwerp lê op die rand van sy bord. “Daar was ’n wurm in my sop!”
“Ag, dis niks!” sê klein Gerritson, een van Bokhorst se maats. “Hier sit hulle altyd wurms in die sop! Dis om vleis te spaar.”
“Wat’s ’n wurm tussen vriende!” sê Willemse, nog ’n twaalfjarige met ’n bril en ’n intelligente gesig. “By die huis eet my klein boetie hulle vir poeding!”
“Hou op met julle nonsens!” beveel Lategan, wat al vyftien is en soms probeer om oor die jongeres baas te speel.
Maar die nuwe onderwyser reageer nie. Sy lepel bly in die bord lê, en sy sop word koud voordat dit saam met die leë borde weggevat word.
Bokhorst het nog wurms in sy sak en hy probeer weer, maar die swart oë staar afwesig by die venster uit.
Doktor Serfontein sien niks wat om hom gebeur nie. Hy is vasgevang in ’n diep depressie. Dit pak hom soms beet, en dan moet hy uithou totdat iets gebeur wat dit weer vir ’n rukkie laat verdwyn.
Hy kom eers tot sy sinne nadat Lategan hom drie keer geroep het.
“Meneer moet asseblief dank in meneer Schoonbee se plek. Almal wag.”
Dis iets wat die nuweling nie verwag het nie. Om nou hier voor almal op te staan en hardop te praat, is byna meer as waarvoor hy kans sien. Maar hy staan op, meer as ’n kop langer as al die ander in die saal, en sê met sy sagte stem die dankgebed op wat sy pa altyd gebruik.
Die seuns storm ordeloos buitentoe. Die eerste ontmoeting is verby.
Meneer Dames, ’n man van so om en by veertig, nooi hom om in die personeelkamer te kom koffie drink.
Doktor Serfontein bedank hom met ’n kopknik en stap saam na die ruim, taamlik gerieflike vertrek waar die personeel ontspan, kaart speel en af en toe huiswerk nasien.
Die atmosfeer is nie juis gesellig nie.
Die dorpie Keurboslaan is baie klein en bied maar min afleiding vir ’n ongetroude man. Die onderwysers is te veel van mekaar se geselskap afhanklik en irriteer mekaar duidelik.
Doktor Serfontein wend ’n poging aan om sy nuwe kollegas te leer ken. Volgens mevrou Mostert is hulle almal mense wat weens gebrek aan geld en om verskeie ander redes nie hulle studies kon voltooi nie, en gevolglik net hier kon werk kry.
Meneer Dames en ’n baie jong onderwyser, meneer Lambrecht, is die beste onder die ses. Dames is intelligent en opgevoed, maar effens depressief. Die skraal, donker Lambrecht lyk ook maar moedeloos.
Menere Beunk en Meyer lyk te oud om nog onderwys te gee. Hulle lyk vanaand ook bang, asof hulle wonder wat hierdie nuweling se teenwoordigheid gaan beteken.
Die laaste twee onderwysers, menere Van As en Austin, maak nie ’n goeie indruk nie. Hulle is jonk, deel allerhande grappe met mekaar, gee aan alles wat die ander sê ’n lelike kinkel en skater dan van die lag daaroor. Dames en Lambrecht kyk verleë na die visehoof, skaam oor hulle kollegas se kinderagtige gedrag.
Doktor Serfontein praat min gedurende die lang aand. Hy luister net, terwyl hy die ander deur sy sigaretrook bestudeer.
Maar teen halfelf vra hy skielik: “Hoe laat gaan die seuns slaap?”
“Party agtuur, party sewe-uur,” sê meneer Dames.
“Wie was vanaand op diens?”
“O . . .” kom dit taamlik vaag, “Ria jaag hulle maar boontoe.”
“Sewe- en agtuur is baie vroeg vir seuns van twaalf tot sestien.”
“Ons doen dit maar so om hulle uit die pad te kry.”
“Raak hulle dan so vroeg aan die slaap?”
“Seker maar. Hulle woel natuurlik ’n bietjie, maar dan gaan klop Ria ’n paar keer aan die deure om stilte te kry.”
“Is ’n vrou die enigste persoon in hierdie skool wat haar oor dissipline bekommer?” vra die sagte stem, met iets onder die sagtheid wat die geselsery in die vertrek soos ’n kraan toedraai.
“Ja, sy is,” sê meneer Lambrecht bitter. Hy was self in ’n goeie skool en weet hoe dinge behoort te wees.
Doktor Serfontein tik die as aan sy sigaret stadig met sy pinkie af. Soos hy nou frons, vorm sy wenkbroue ’n reguit lyn.
Die seuns het ’n swaar aandete gehad. Daar was dik groentesop, bredie met aartappels en rys, en ’n ryk poeding. Byna onmiddellik daarna het die jonger kinders gaan slaap. Hulle kry deur die loop van die dag geen oefening en neem nie aan georganiseerde sport deel nie. Belangstelling in studies is maar min en hier is nie ’n biblioteek nie. Die enkele boeke wat ’n mens sien, kom van die seuns se huise af, maar nie een is eintlik ’n leser nie. Ria het hom dit alles vertel.
Wat probeer hierdie skool dan eintlik bereik?
Doktor Serfontein staan so skielik op dat sy nuwe kollegas skrik.
“Goeienag,” sê hy en verlaat die vertrek.