Читать книгу Ongenooide gaste op Keurboslaan #11 - Theunis Krogh - Страница 4

2

Оглавление

KUIERMENSE

Die hoof stap na sy huis. Toe hy by die stoep kom, verander die uitdrukking op sy gesig effens, want sy vrou kom met die Italiaanse buitetrap van die boonste verdieping af. Haar hare wat nog diepgoud is, is in ’n kroon van vlegsels bo-op haar kop gebind, soos sy dit gewoonlik bedags kam. Sy dra ’n groen rok wat by haar oë pas. Sy is skraal en buitengewoon lank vir ’n vrou. Wanneer sy soos nou vir haar man glimlag, lyk sy besonder mooi.

“Goeiemôre,” sê hy.

“Goeiemôre, my man,” antwoord sy skertsend. “Was jy die hele nag weg?”

Hulle staan nou by mekaar. Hy neem haar hand en soen die vingers lig. Voor hy die teerheid in haar oë kan sien, is dit weg en sy glimlag weer vir hom.

“Kom hou my geselskap gedurende ontbyt,” sê sy, “anders is ek alleen. Ek weet jy sal net swart koffie drink, maar nogtans.”

“Waar is Fräulein dan?”

“Sy is reeds vroeg na die Loggenbergs toe. Sy gaan die vrou help met reëlings vir haar huishouding, en om vir haar dogters rokke te maak. Ek is maar te bly as iets haar besig hou. Ek kan my ons huis nie sonder haar voorstel nie, maar vandat Lavrans op skool is, huil sy gedurig omdat sy voel sy doen niks meer vir ons nie. Sy sê sy behoort liewer weg te gaan, maar sy help eintlik baie hier. Die bediendes hou van Fräulein en luister na haar, en wanneer die hele gesin tuis is, sal ek nie sonder haar kan klaarkom nie.”

Doktor en mevrou Serfontein gaan sit by die tafel.

“Ek hoop nie jy gaan dié naweek weer skryf nie,” sê sy. “Gun jouself ’n ruskans, Roelof. Met al ons kinders hier sal jy tog nie kan konsentreer nie. Dan word jy net rasend, en dit krap weer alles om.”

’n Rukkie gelede was hulle as gevolg van so ’n “omgekraptheid” byna uitmekaar, maar hulle praat nie daaroor nie.

“Ek sal my in toom probeer hou,” sê hy, maar stoot sy pomelo met ’n gespanne beweging opsy en praat tot ná ete nie weer nie.

“Josef bring Amanda vir die naweek huis toe,” sê sy vrou later versigtig waar hulle op die stoep staan.

Hy frons gevaarlik. “Hierdie verlowing is lastig en onnodig.”

“Ag komaan! Die arme kind het haar ouers se jammerlike klein erfporsie gebruik om mee Engeland toe te gaan en ballet te studeer. Dankie tog Josef was oorsee met die rugbyspan en het haar in ’n dansklub ontmoet toe haar geld op was. Dis reg dat hy haar gehelp het om huis toe te kom.”

“Dit was nie nodig om by die lughawe te sê hulle is verloof nie. As Suid-Afrikaner het sy tog ’n reg om hier te wees.”

“Jy weet goed dit was nodig! Toe die beamptes op haar paspoort sien sy is maar net sewentien wou hulle haar onder sorg plaas. Net Josef se versekering dat hy haar na ons toe bring, het dit verhoed. Onthou net, jy is die een wat hom geleer het om ander te help. Maar ná dit alles het sy haar skaars aan hom gesteur, want nes ons almal is sy verlief op jou.”

“Onsin,” sê hy kil. “Dis bloot heldeverering – iets wat een of ander tyd met enige onderwyser gebeur. Gelukkig kry so iets gou end. Ons het haar skool toe gestuur om verder te studeer, en sy vaar goed in haar kursus. Sy bly by my ouers saam met ander jongmense. Ek dink sy behoort baie dankbaar te wees.”

“Jy raak al weer omgekrap. Ek gaan nie toelaat dat jy jou van my afsny nie.”

Hy neem albei haar hande en kyk half skaam na hulle. “Wees asseblief geduldig,” sê hy sag. “Die afgelope tyd was so rustig met net ons twee, en Fräulein wat weet wanneer om pad te gee. Ek is lugtig vir die hele bevolking se inval.”

Die hoof wys selde indien ooit enige teken van swakheid, daarom steek sy vrou weg dat sy geroer is. Hy is mos versigtig vir sentimentaliteit.

“Dis jou kinders en hulle vriende wat kom,” sê sy. “Jy moet dit maar net verdra.”

“Ek sal my bes doen. Daar is egter ook ander probleme in die omgewing.”

Sy vra hom nie daaroor uit nie.

Hy gaan na die studeerkamer en sy keer terug na haar huishoudelike pligte.

Die hoof is besig om klaswerk na te gaan toe meneer Spaulding by die oop stoepdeur opdaag.

“Kom binne,” word hy genooi. “Sit solank.”

Ná ’n rukkie sug meneer Spaulding lank en diep. “Wat makeer? Hoekom klink jy so moedeloos?”

“Want doktor laat my soos ’n miskruier voel. Ek is ontbied omdat doktor my kop wil was, maar die affêre met die magasyn was nie my skuld nie,” kla die onderwyser.

“Ek weet. Ek verkwalik jou nie daarvoor nie.”

“Dankie tog … Maar ek voel buitendien bedruk. Ek weet nie hoekom nie.”

Uiteindelik sit die hoof sy pen neer. “Dis omdat jou dae as vrygesel binnekort verby is. Maar jy en Barbara ken mekaar goed. Julle het lank genoeg gewag.”

“Sy was nog altyd huiwerig omdat sy so graag as doktor se sekretaresse wil aanbly. Noudat jy gesê het sy mag maar, kan ons trou.”

“Wel, sy het goeie helpers op kantoor, dus sal sy nie haar huishouding verwaarloos nie … Ek het jou laat roep om te sê Joubert is hier, Lourens Joubert.”

“Tog nie Hartseer nie!” vra meneer Spaulding, wat dié naam vir Lourens gegee het toe hy as erg verwaande skoolseun na Keurboslaan toe gekom het.

“Ja, hy beweer die Dresden-operahuis skat hom nie na waarde nie.”

“Genugtig! Hoe gaan ek die bestuur weer in die oë kyk? Doktor het geen idee hoe moeilik dit was om hom daar in te kry nie. Ek gaan juis ’n week voor die skool sluit weer daar dirigeer.”

“Toemaar, hy sê hy het verlof gekry omdat sy pa siek is, en ook weens die plötzliche Heiserkeit wat soms vir sangers van soveel nut is.”

“Is sy pa werklik siek?”

“Nee. Jy moet probeer om hom saam te neem wanneer jy gaan. Die wêreld mag daardie stem nie verloor nie. Hy sê hy het dit verloor, maar dis alles net sielkundig.”

“O hemel, al weer daai storie! Kan doktor niks met hom uitrig nie?”

“Nie nou nie. Laat hom voorlopig hier op skool inwoon en net uitrus. Ek onthou uit my jongdae in Dresden hoe die jonger sangers nag ná nag in die Prager Strasse se kafees gesit en mekaar slegte moed ingepraat het. Die ervare ou sangers wil kwansuis nooit padgee nie. Joubert kort vir eers slaap, en dan goeie kos en oefening. Moenie toelaat dat hy wegloop nie. Hy kom jou netnou sien.”

“Helen sal hom kan help.”

“Ja, maar nie nou nie. Eers later. Stuur Brian en Loggenberg asseblief hierheen met die magasyn se sleutel.”

“Hier is dit.”

“Dankie, maar stuur hulle in elk geval asseblief. Ek sal jou nie langer ophou nie.”

Toe die seniors inkom, is die hoof besig om te skryf.

Hulle staan voor die lessenaar en wag tot hy opkyk.

“Waar het die juniors die sleutel gekry?” vra hy.

“Kommandant Bierman het sy reënjas gistermiddag in die seniors se kleedkamer opgehang toe hy ná ons oefening van die skietbaan terugkom,” sê Brian. “Die kleintjies het hom dopgehou en gesien hy sit die sleutel in sy sak. Terwyl hy by meneer Dempers gaan koffie drink het, het hulle die sleutel toe ‘geleen’ soos Felix dit stel.”

“Vreemd dat kommandant dit nie gemis het nie,” sê Loggenberg.

“Hy is weg Swaziland toe vir die skietwedstryde by Hlatikulu,” sê die hoof wat ook frons. “Ek gaan nie nou oor julle nalatigheid praat nie. Dit kan wag tot Dinsdagaand. Ek wil ook nie nou die juniors spreek nie. Skryf hulle name neer.”

“Dis nie nodig nie, doktor,” sê Brian. “Dis die Bende.”

Die hoof verslap ’n bietjie. “Hoekom het hierdie skool altyd ’n bende?” vra hy. “Jare gelede was dit jou oom s’n, toe joune, en nou begin heelwat jonger seuns al daarmee … Nou maar goed. Dis genoeg.”

Josef en Amanda daag die aand voor die ander op en gaan groet die hoof dadelik. Hy ontvang hulle met ’n “Goeiemiddag”, maar groet hulle nie met die hand nie en kyk so gou moontlik weg van Amanda se smekende oë af.

“Sal Pa miskien later vir my tyd hê?” vra Josef. Hy probeer kliphard om nie verwytend te klink nie.

“Sekerlik. Kom gerus ná ete, dan rook ons ’n sigaar.”

“Dankie. Waar is al die ander?”

“Het jy jou ma al gaan groet?”

“Nee, ons het dadelik hierlangs gekom.”

“Jy behoort haar eers te gaan groet.” Die hoof glimlag effens. “Sy sal jou kan sê waar Bernard en Lavrans hulle bevind. Jy moet Lavrans tog ordentlike rugbyreëls leer. Hy wil die seuns hier laat sokker speel nadat hy dit op televisie gesien het. Dit kan sy lewe kos.”

Josef lag. “Goed, maar hy luister eerder na Riek as na my. Ek sal nogtans probeer. Is Riek al hier?”

“Nee, hy en sy maats en die meisies is nog op pad. Hy het van Carolina af gebel.”

Sonder dat die hoof dit sê, weet Josef en Amanda hy verwag van hulle om nou te gaan.

“Ek moes nie gekom het nie!” hoor hy Amanda sê nog voor sy en Josef op die stoep is.

Toe Richard ’n rukkie later alleen in die studeerkamer aankom, kry hy ’n handdruk. Die hoof kyk ondersoekend na sy ewebeeld. Hy is nie tevrede met wat hy sien nie. Richard se swart oë lyk moeg, en daar is ’n nuwe strengheid op sy gesig.

“Die meisie is by Mamma, en Ruys en Wim ook,” sê Richard. Hy klink baie ouer as een-en-twintig. “Ek het maar al ouma se boodskappe vir Mamma gegee.”

“Dis goed. Ek is dankbaar julle oupa het toegelaat dat ons die rondawels daar in sy tuin bou. Nou het julle almal huisvesting. Bring Laetitia weer moeilikheid huis toe?”

“Nie sover ek weet nie, Pa. Het sy dan nie mooi om verskoning gevra toe sy laas terug is ná sy geskors was nie?”

“Of dit mooi was, is ’n ope vraag,” sê die hoof. “Oom Eugene het haar teruggeneem en bygestaan, en volgens hom het sy so ’n produksie daarvan gemaak dat hy bang was sy word weer geskors.”

“Sy is ’n regte rakker. Ek kan nie dink sy is net twaalf nie. Ruys en Wim wil Pa graag kom groet wanneer dit geleë is.”

“Ek groet almal eerder gelyk net voor die aandete. Ek sal eers gaan verklee.”

“Pa wil in die kamer wegkruip,” beskuldig Richard hom skertsend. “Hier kom pla hulle Pa te maklik.”

“Wel, ek het tog alles daarbo, selfs apparaat vir oefeninge, wat so noodsaaklik is wanneer ’n mens ure lank agter ’n lessenaar moet sit.”

“Ja,” sê Richard effens onseker.

Hy weet sy vriende wat hy huis toe bring, vind dit vreemd dat die gesinshoof vir hom ’n aparte woonstel bo die nuwe besoekersvleuel laat bou het. ’n Klein buitetrap lei van die huis se boonste balkon af soontoe. Danster sorg daar vir die hoof.

“Pa kom tog eet?” vra Richard.

“O ja, vra die ander solank om my te verskoon. Dian en Laetitia sal verstaan, en hopelik my oudskoliere ook. Bernard en Lavrans is glo nou tuis.”

“Ruys en Dian loop met swaar ooglede rond,” sê Richard. “Hulle was gisteraand by ’n partytjie.”

Die hoof weet Richard wil iets onder sy aandag bring, miskien selfs op Ruyssenaer se aandrang. Hy gaan saam met sy seun uit na die stoep en hulle bewonder Keurboslaan se asemrowende mooi blou en pers berge en silwer strome.

“Gaan hulle dikwels saam uit?” vra hy.

“Ja. Sy is baie skaam, soos Pa weet, maar sy’s gewoond aan Ruys ná al sy jare hier. Miskien beteken dit vir hom meer, maar hy sê altyd sy is ’n baba, en dis hoe hy haar behandel.”

“Ek dink jy weet wat ek van hom dink. Ek is bly Dian is met so iemand bevriend … Wie neem jy uit? Jy hoef my nie te antwoord nie.”

“Nee, dis goed. Soms neem ek Amanda uit. Almal dink sy en Josef is verloof, so niemand nooi haar ooit nie. Ek en sy en Ruys en Dian gaan baie saam uit, maar wanneer Monica by die hospitaal afkry, skeur ons Wim van sy viooloefening af weg en hy speel derdemannetjie.”

Die hoof reageer nie op die naam Monica Betts nie. Sy studeer tans verpleegkunde en hy keur sy seun se vriendskap met haar goed.

Richard en Monica was albei maar vier jaar oud toe hulle saam in die kleuterskool op die dorp was. Mevrou Serfontein het besef die tingerige meisie met haar blou oë en stringetjies geel hare sou swaarkry. Die dorp se elegante dames sou nooit vergeet wie en wat Monica is nie. ’n Paar dae ná haar geboorte op ’n eensame plaas in Swaziland het haar pa haar ma doodgeskiet en toe selfmoord gepleeg.

Olga Betts het ’n baie slegte reputasie hier in Keurboslaan gehad. Bitter teleurstellings in haar jeug het haar heeltemal van stryk gebring, maar doktor en mevrou Serfontein het haar gehelp en haar later aangestel as huismoeder by hulle tehuis vir behoeftige meisies op Greylingsdrift hier naby. Sy verstaan hoe om streng, maar nogtans met genade op te tree. Danksy doktor Serfontein is sy toegelaat om die kindjie wat ook ’n verstoteling soos sy sou word, aan te neem.

“Monica, jy is twee maande ouer as Riekie. Pas hom asseblief op,” het mevrou Serfontein daardie oggend buite die kleuterskool gesê om die dames wat soveel respek vir haar het, te laat sien die meisie is haar beskermling.

Maar dis Richard, al was hy ook so klein, wat vir Monica opgepas het – en so het dit deur die jare aangehou. Hulle was albei omtrent dertien toe sy vir die eerste keer die waarheid gehoor het. Haar aangenome ma het Monica geleidelik daarop voorberei, en hulle liefde vir mekaar het verhoed dat die kind heeltemal ineenstort, maar dit was Richard se rustige: “Ek het dit altyd geweet” wat haar moed gegee het om aan te gaan en die wêreld in die oë te kyk. Die feit dat Riekie dit altyd geweet het en nogtans haar vriend was, het vir Monica geweldig baie beteken.

Terwyl hulle daar staan en mymer, steek die hoof ’n sigaret aan en kyk na die profiel langs hom. Die seun is ongelukkig. Maar wat pla hom?

“Ek het gewonder,” sê Richard skielik huiwerig, “het Pa mevrou Seegers al ontmoet.”

Die hoof gooi sy sigaret weg omdat hy dit deurgebyt het.

“Thea Seegers, die Nederlandse dame by wie party van julle spraakklasse neem? Nee, ek ken haar nie persoonlik nie … Sy is ’n knap kunstenaar. Ons woon soms haar opvoerings by as ons in die stad is.”

“Dis vreemd dat Pa en Ma haar nie ken nie.”

Die hoof kon geantwoord het dat hulle nouer kennismaking opsetlik vermy, maar hy is op sy hoede. Hy is bo alles ’n skrywer en mensekenner, en hy vermoed waaroor dit gaan.

“As ons nie oorsee is nie, woon ons hier taamlik afgesonder van die stadslewe,” sê hy. “Toe mevrou Seegers van Holland gekom het, het ons die seniors per bus na ’n paar opvoerings gestuur, veral toe sy dele uit groot werke voorgedra het. Was jy nie self in jou laaste kwartaal op skool by een nie?”

“Ja, maar toe het ek haar nie persoonlik geken nie.”

“En nou ken jy haar goed?”

“Ja, ek het by haar begin klas neem omdat dit vir my so moeilik is om voor ’n gehoor te praat. Iemand wat Teologie studeer, moet daardie swakheid oorwin. Louis neem by haar klas omdat hy hou van toneelspeel, en Jan omdat hy ook vir predikant wil studeer.”

“O ja?” sê die hoof net.

“Ek het gewonder of Mamma nie vir mevrou Seegers hiernatoe wil nooi nie.”

“Om voor te dra?”

“Nee, eintlik as huisgas, as …”

Doktor Serfontein besef hierdie selfbeheerste seun van hom is desperaat.

“Bespreek dit met jou ma,” antwoord die hoof. “Ek moet nou gou maak.”

Met ’n knik van die kop is hy weg.

Amanda kom by die salon uit. Sy staan aan die voet van die buitetrap en kyk hom agterna.

“Hy is so alleen,” fluister sy verlangend.

“Wie? Tog nie Pa nie,” sê Richard.

“Ja. Hy is so afgesonder van die hele mensdom.”

“Nee wat. Almal hang aan hom en kyk in sy oë tot ek soms wonder hoe hy dit uithou.”

“Jy verstaan nie!”

“Dis waar. Kom ons gaan maak reg vir aandete.”

Die hoof is dankbaar toe hy by sy woonstel se balkon kom sonder dat iemand hom voorkeer. Hy is baie bekommerd oor Richard, maar sal tot later wag om met sy vrou daaroor te praat. Hy het sy dogters se vrolike stemme uit haar kamer gehoor toe hy daar verbyloop. Hulle het altyd baie om vir hulle ma te vertel.

Hy wil ’n uur se strawwe oefening doen, dan bad en aantrek.

Maar net toe hy by sy sitkamer wil ingaan, groet iemand hom vanuit ’n onverwagte rigting. Naby hierdie vleuel van die huis groei daar ’n besonder groot wildevyeboom. Een tak strek tot by die balkon, maar nie naby genoeg dat iemand daarvandaan kan oorklim nie. Vanaf hierdie tak kom daar weer ’n seunstem.

“Hoesit, broer!”

Doktor Serfontein kyk met sy gewone erns na die jong man in die vyeboom. “Goeiemiddag,” sê hy en gaan by die sitkamer in.

“Hoe’s dinge nou?” wil Carolus weet.

Na die ontmoeting in die laan kon hy nie rus voor hy na die Serfonteins se huis kom kyk het nie. Hy weet self nie hoekom nie. Hy het net gekom, en toe sien hy die boom. Hy het nie geweet wie bly in hierdie deel van die groot huis nie.

Binnekant praat doktor Serfontein oor die huistelefoon.

“Ja, Roelof?” antwoord sy vrou dadelik.

“Weet jy waar Richard is?”

“Hy is hier by my. Riekie, dis Pa.”

“Ja, Pa?”

“Sal jy Wotan en Siegfried vir my leen?”

“Maar hulle is mos nou Pa se honde vandat ek so min hier is.”

“Bring hulle dan dadelik na die vyeboom hier onder my balkon, asseblief.”

Richard vra nie vrae nie.

Intussen maak die hoof hom reg vir oefeninge en trek sy kamerjas aan. Hy kom weer uit net toe Richard opdaag met sy twee Duitse wolfhonde, die taamlike ou Wotan en sy seun Siegfried. Albei honde en twee tefies en hulle nakomelinge behoort aan Richard. Net lede van die gesin en Danster kan naby hulle kom. Deur die digter blare sien Richard iemand in die boomtakke skuil. Hy besef dadelik sy pa wil die persoon vaskeer.

“Achtung!” beveel hy die honde. “Aufpassen!” Dan sê hy op balkon toe: “Pa moet Siegfried kortvat. Praat maar skerp, want hy’s nog baie jonk en verskeur enigiets wat voorkom … Lausejunge!” sê Richard verwytend vir die jong hond.

“Dis goed, dankie. Danster moet hulle kos en water hiernatoe bring. Hulle gaan lank moet waghou.”

“Geen probleem nie. Hulle sal nie weer vannag eet nie, net water drink.”

“Reg so. Hulle is gehoorsaam aan my as jy weg is, maar wanneer hulle regte baas hier is, moet ek sy toestemming vra.”

Richard groet met ’n handgebaar en stap terug huis toe.

Die hoof leun nog steeds oor die tralies.

“Wotan! Siegfried!” sê hy asof hy met twee vriende praat. Albei honde kyk op. Hy wys na die boom. “Schau nach oben! Nicht absteigen lassen.”

Albei honde antwoord knorrend.

“Groovy!” sê Carolus in ’n poging om te spot. “Dit lyk of jy hulle hipnotiseer. Hoe kry jy dit reg?”

“’n Dier of mens kan net op dié manier beheer word as jy van hom hou.”

“Hoekom praat jy Duits met hulle? Dit is mos Duits?”

“Niemand weet hoekom reageer diere beter op Duits as ander tale nie. In enige sirkus ter wêreld, of dit nou ’n Engelse of Franse of selfs ’n Russiese een is, sal jy hoor die bevele word dikwels in Duits gegee.”

Ná doktor Serfontein se verduideliking voel Carolus gemakliker. “Sal hulle my byt as ek afklim?” vra hy heel vrolik.

“Beslis.”

“Hoekom wil jy my hier hou?”

“Ek het jou nie genooi om te kom nie. Klim gerus af wanneer jy wil.”

“Maar wat van die honde?”

“Hulle hoort mos hier.” Met hierdie woorde gaan die hoof binnetoe.

Carolus probeer versigtig afklim, maar met sy eerste beweging knor die honde onder die boom. Hulle geel oë staar na hom uit die toenemende donker asof hulle hóm wil hipnotiseer.

“Nou ja,” sê hy effens bewerig, “kom ons kyk wie word eerste moeg.”

Dit voel vir hom na baie lank voor die hoof weer op die balkon verskyn, aangetrek en op pad ondertoe.

“Ek sê … broer!” roep hy uit.

“Ek is en was en sal ook nooit jou broer wees nie.”

“Ons noem almal so. Ons is mos broers – almal is gelyk. Ons is wêreldburgers en vry om te doen wat- …”

“Verskoon my.”

Die hoof is weg voor Carolus kans kry om asem te skep.

Ongenooide gaste op Keurboslaan #11

Подняться наверх