Читать книгу Ongenooide gaste op Keurboslaan #11 - Theunis Krogh - Страница 5

3

Оглавление

DIE BOOMKLIMMER

Toe die gasheer in die salon opdaag, geniet almal reeds ’n ligte skemerkelkie. Die hoof het goeie rede om trots te wees op sy gesin en hulle vriende.

Josef en Richard is altyd onder die aantreklikste jongmans in enige geselskap. Die lenige Ruyssenaer met sy breë skouers en ligbruin hare wat altyd half deurmekaar lyk, is op sy eie manier ook heel aansienlik. Die spot lê van kleins af altyd vlak in sy oë. Willemse se rooi hare is byna in sy kopvel in gekam. Enigiemand kan aan sy forse bou sien hy speel rugby, maar hy is ook ’n uitstekende violis wat later ’n professionele musikant wil word.

Dian is te skugter om uit te blink, maar sy het haar pa se gelaatstrekke en die hare met die ligte kartel daarin geërf, en dit maak haar ’n besonder mooi meisie. Sy stap hom nou tegemoet, en hy streel haar voorkop met sy lippe voor hy aandag aan die ander skenk.

Die twaalfjarige Laetitia kom groet hom met ’n handdruk. Sy lyk vanaand deftig in haar wit rok en haar golwende rooibruin hare is netjies geborsel.

“Goeienaand,” sê haar pa.

“Goeienaand,” antwoord sy.

Hy knik goedkeurend. Hulle sal die naweek waarskynlik nie meer as dit met mekaar praat nie. Sy vrou glimlag. Sy geniet altyd die verhouding tussen haar man en Laetitia.

Berrie het sy donkerblou pak aan en lyk verbasend baie na Josef. Hy is nie heeltemal so lank nie, maar is darem ook nog nie sewentien nie.

Lavrans se oë is ook swart soos sy pa en Richard s’n, maar sy hare is goudgeel. Die gesin se baba wou so graag na Keurboslaan se kosskool toe kom dat hy die private skooltjie in die dorp op horings geneem en verskeie pakke by sy streng ma gekry het. Uiteindelik is daar besluit om hom liewer sy sin te gee. Almal by die groot skool het gou geleer die sewejarige Lavrans is taamlik vindingryk. Maar vanaand is hy alles wat ’n ouerhart kan begeer: pragtig skoon, bedees en beleef.

Ruyssenaer en Willemse groet die hoof met ’n eenvoudige “Goeienaand, doktor”. Hulle hou te veel van hom om te kere te gaan oor hoe wonderlik dit is om hom weer te sien. Soos almal wat die Serfonteins goed ken, weet hulle hy het genoeg sonde met die teatrale Amanda. Omdat hy haar reeds vroeër gegroet het, maak die hoof glad nie oogkontak met haar nie. Sy vrou frons lig en smeek hom met haar oë om meer genaakbaar teenoor Amanda te wees, maar hy kom eerder na waar sy sit en bied sy arm aan.

Helen Serfontein staan op en stap saam met haar man en die res van hulle gaste na die eetkamer. Toe hulle daar kom, is sy nie verras om te sien Amanda het agtergebly nie. Die gasvrou het egter nou genoeg van hierdie onsin gehad.

“Josef,” beveel sy, “gaan sê vir Amanda haar sop word koud.”

Doktor Serfontein gedra hom baie goed aan tafel. Hy sit oorkant sy vrou, en al eet hy min, gesels hy wanneer nodig. Hy aanvaar dit ewe kalm dat Amanda as enigste vroulike gas wat nie familie is nie, langs hom moet sit. Fräulein sit aan sy linkerkant. Hy kan met haar gesels omdat sy ’n intelligente vrou is wat al baie lank deel van die gesin is. Sy gewone afgetrokkenheid kwets haar soms, maar nie vanaand nie.

Uiteindelik is die maaltyd verby, en die geselskap bevind hulle weer in die salon.

“Sal almal my verskoon?” vra die hoof terwyl hy net na sy vrou kyk.

“Alte seker,” antwoord sy. “Millie, Geer en Bertrand kom oor, dan gaan ons musiek luister. Jy sal dit kan hoor terwyl jy langsaan werk.”

“Dankie, dit sal mooi wees. Maar voor ek begin skryf, wil Josef eers ’n paar minute kom gesels. Kom, Josef. Goeienag, almal.”

Amanda se oë swem in trane. Sy kyk na die hoof se vrou, maar Helen lyk heeltemal ongeërg. Hoe is so iets moontlik?

Wanneer hulle in die studeerkamer kom, bied doktor Serfontein vir Josef ’n sigaar aan.

“’n Hollandse een – lekker!”

“Oom Eugene bring dit altyd … So wat is nuus?”

“Pa vra nog. Groot dinge!”

“Ek weet die owerheid wil jou in die Veiligheidspolisie gebruik. ’n Lektorskap is ’n goeie dekmantel daarvoor. Jy kan as wiskundige oorsee gaan sonder dat daar enige vrae gevra word. As sportman natuurlik ook.”

Josef vergeet van sy goeie sigaar. “Het hulle dan met Pa gepraat?”

Die hoof knik sy kop.

“Zum Donnerwetter nochmal!” sê Josef.

Hy staan op van waar hy gaan sit het.

“Hoekom moet ek nou by hierdie James Bond-besigheid betrokke raak?” vra hy. “Ek wou by die Lugmag aansluit … en nou dit! Hoekom?”

“Want jy beskik oor die nodige eienskappe. Jy moet net leer om stil te bly.”

“Wat sal gebeur as ek iets verklap of verbrou? Skiet hulle ’n mens?”

“Nee, dis ’n werk soos enige ander. As jy bewys jy het nie ’n aanleg daarvoor nie, word daardie dienste nie weer van jou verlang nie, dis al. En jy sal die lektorskap behou omdat jy die kwalifikasies het.”

“Ek verstaan nou dat Pa ook al lankal …”

“Jy het nie nodig om enigiets te verstaan nie. Doen jou eie werk,” val doktor Serfontein hom in die rede.

“So dis in orde met Pa?”

“Het ek ’n keuse? Maar nie jou ma of enigiemand anders mag daarvan te hore kom nie. Dit weet jy.”

“Ja … Dis nogal vreemd, die hele ding.”

“Dis hoe die wêreld deesdae is. Jy het self so gesê, onlangs toe jy met jou graad teruggekom het. Moet net nie die fout begaan om te veel te dink nie. Doen net wat van jou gevra word – wanneer die dag kom. Intussen moet jy jou werk aan die universiteit met oorgawe aanpak, nes ons hier op skool doen. Dit gaan oor jongmense se toekoms, en jy is daar om hulle te help.”

“Dis baie gevra van een mens.”

“Miskien, maar julle Keurboslaners is goed gebrei daarvoor.”

“Ja. Werk tot jy nie meer kan nie, doen meer as wat een mens kan, en doen dan nog dubbeld soveel,” sê Josef met sy gewone glimlag.

“Dis reg.”

“Mag ek minstens soms met Pa daaroor praat?”

“Nee, tensy dit jou opdrag is.”

“Dis maar goed Amanda wil niks van my weet nie. Hoe kan ek trou as ek weet ek gaan gevaarlike goed aanvang? Dis nie reg teenoor ’n vrou nie.”

“’n Mynbestuurder se werk is gevaarliker … Sy sal moet uithou, soos alle getroude vrouens. Sy mag buitendien niks daarvan weet nie.”

“Hoekom maak Pa altyd of ek en Amanda gaan trou? Pa weet mos ons is nie regtig verloof nie. Sy wil my nie hê nie.”

“Jy het die verlowing openbaar gemaak, wat ook al jou bedoelings was. Julle kan in elk geval nie gou trou nie. Moenie dink jy en die ander kinders gaan ’n fortuin erf nie. Behalwe die geld wat op jou ma se naam geplaas is, word alles vir liefdadigheid belê.”

“Ek weet nie so mooi nie. Oom Oscar sê hy belê Pa se privaatgeld uit die boeke hier in Suid-Afrika, en dat Pa nou in eie reg ’n miljoenêr is, afgesien van wat Pa by meneer Maxim geërf het.”

Josef glimlag. Die dae dat hulle oor geld gestry het, is verby.

“Dit mag wees. Oom Oscar speel met geld soos ander mense kaart speel. Maar tussen julle ses verdeel, sal dit in elk geval nie ’n fortuin wees nie, indien geld dan nog enige waarde het. Julle moet elkeen maar hard werk, en deesdae moet ’n vrou haarself ook kan onderhou. Niks is meer veilig nie. Amanda moet haar eers kwalifiseer soos Tessa gedoen het, en soos Dian ook gaan doen.”

“Amanda het allerhande snaakse idees,” mompel Josef skielik verleë.

“Sy sal mettertyd daarvan moet vergeet. Sê asseblief vir jou ma ek gaan liewer nou boontoe.”

Josef bestudeer die kalm gesig en besef opnuut hoeveel mense-kennis agter die streng voorkoms skuil.

“Goed,” sê Josef en gaap soos ’n regte skoolseun.

Strelende musiek kom van langsaan terwyl die hoof na sy woonstel gaan.

Daar leun hy oor die tralies en roep na Wotan. Hy kry ’n sagte geknor as antwoord.

“Bravo!” sê hy.

Toe hy by die sitkamer se deur ingaan, hoor hy: “Hei, broer …”

Die hoof ignoreer die stem.

Hy skakel die sitkamerlig bo die klein lessenaar aan. Van waar Carolus baie ongerieflik in die boom sit, kan hy by die vertrek in sien. Die hoof verdwyn vir ’n oomblik en toe hy terugkom, het hy ’n baadjie aan. Hy gaan sit agter die lessenaar en begin werk. Daar is altyd iets wat sy aandag verg. Hy steek ’n sigaret aan en hou dit in sy linkerhand terwyl sy regterhand die pen om en om draai terwyl hy hard oor iets nadink.

“Hei, broer!” kom dit weer dringend van buite af.

Hy antwoord nie.

“Jy rook lekker,” gaan die jong stem verder. “Ek wil van ons soort goed rook. Ek is nou al te lank daarsonder … Ek voel … goor.”

Maar hy kry nog steeds geen reaksie nie.

Carolus kan nie meer helder dink nie. Dit voel vir hom of hy al dae lank so hulpeloos hier sit. Hy begin skel en vloek.

“Ek gaan hier afklim en as die honde my verskeur, is jy ’n moordenaar!” skree hy ná ’n string uitroepe.

Maar hy kon net sowel met ’n sfinks gepraat het.

Hy weet nie die hoof voel ook sleg nie. Dis ’n wonder die pen in sy stywe regterhand breek nie.

Carolus kyk hom desperaat aan. Hoekom het hy vandag hierheen gekom? Hy moes hom weer sien, van naby – maar hoekom? Carolus maak sy kitaar los en begin afklim. Hy gaan dit as wapen teen die honde gebruik.

Siegfried is verveeld. Dis net sy pa se geknor en een keer ’n hap wat maak dat hy so lank stil lê. Toe Carolus begin afklim, bestorm die hond die boom en blaf wild. Wotan vang Siegfried se nekhare in sy tande en knor soos ’n tier. Carolus skrik so groot dat hy die kitaar laat val. Hy klouter weer boontoe.

Die hoof hoor hulpelose snikke.

Hy staan op en gaan skakel al die ligte af, behalwe een. Op die balkon gaan sit hy in ’n leunstoel naby Carolus. Richard wat onder kom staan het, sien sy sigaret se kooltjie.“Gedra Siegfried hom sleg?” roep hy op boontoe terwyl hy die hond se ore streel. “Hinder hy Pa?”

“Nee,” sê die hoof. “Ons het ’n ongenooide gas in die boom en hy wou afklim.”

“O! Kan ek nie help nie? Pa wil tog seker werk.”

“Nee, ek sal maar vannag waghou.”

“Die honde sal hom daar hou as Pa wil.”

“Hy moet geselskap hê. Hy is nie gewoond daaraan om alleen te wees nie. Hy is nog maar ’n kind.”

Carolus is stil, byna gesus deur die musiek van die twee stemme.

“Goeienag dan,” sê Richard.

“Goeienag. Kyk, daar iewers lê ’n instrument. Vat dit saam met jou.”

Arme ou, dink Richard toe hy met die kitaar wegstap.

Dis lank stil. Carolus sluimer effens in, maar skrik elke nou en dan wakker. Dis glad nie ’n gemaklike posisie om in te slaap nie. As hy sy oë met moeite oopmaak, sien hy nog steeds die sigaret se kooltjie.

“Hoekom is my soort rookgoed soveel sterker as joune?” vra hy moeg nadat dit ’n lang ruk stil was.

Uiteindelik kry hy ’n antwoord. “Jy sien self wat joune aan jou doen. Dit lyk my jy is nog nie verslaaf nie, anders sou jy nie so goed daar in die boom uitgehou het nie. Wil jy graag verslaaf raak?”

“Wat traak dit jou? Moet almal soos jy lewe? ’n Mens moet gelukkig wees. En die goed wat ons rook, laat jou droom van die lewe soos dit kan wees.”

“En is jy gelukkig?”

“Partykeer, ja – tot ek te veel begin dink …” Carolus besef hy verraai nou sy innerlike twyfel. “Ons sal gelukkig wees wanneer almal vry is, wanneer die mensdom erken almal van ons, die hele wêreld, is broers en susters.”

“Jy het ’n ma en susters. Wat doen jy vir hulle?”

“Hulle is gewone mense wat dit nie kan vat dat ek vry wil wees nie. Ek haat hulle.”

“As jy jou ma verag, waarom vat jy dan haar geld en kos?”

“Dis goed wat aan almal behoort!”

“Vir ’n intelligente seun praat jy in twee sinne meer snert as wat ’n mens in die loop van ’n maand by dom mense hoor.” Die hoof se stem bly rustig. “Iemand moet vir geld werk om te kan kos koop. Neem nou maar byvoorbeeld die geld wat julle wie ook al vir dagga en ander dwelms betaal. Iemand het daardie geld verdien voor julle daarvoor gebedel het. Dis nou eenmaal hoe dit gaan. Maar wag, dit was nou genoeg van sigarette. Ek gaan my pyp haal.”

Die hoof is gou terug en stop sy pyp.

“Deksels!” hoor hy, maar antwoord nie.

Carolus sug asof hy gebreek is.

“Laat my asseblief afklim, doktor!”

“Nee, ons wag die nag saam uit.”

“Hoekom? Ek belowe ek sal nooit weer hiernatoe kom nie.”

Net die nagbesies en die honde se asemhaling is hoorbaar. Daar kom skielik ’n vreemde spanning in die stilte. Dit klink asof Carolus bang is, en sonder dat hy dit besef, praat hy met doktor Serfontein soos hy van sy kinderdae af nog nooit met iemand gepraat het nie.

“Ek kan nie wegbly nie … Maar ek wil weggaan … Ek wil vry wees!”

Hy is nie die enigste een hier wat hom van kettings wil bevry en dit nie kan doen nie. Die hoof is self so iemand.

“Jy wil vry wees om die wêreld na jou sin te verander,” kom dit kalm en tydsaam van die balkon af, “maar jou spiere is te pap en te slap. Die wêreld bestaan nie uit blommekranse en krale nie. Dis ’n oerwoud.”

“Ja, maar dis die ding. Ons wil alles anders maak!”

“Met jou liggaamlike en geestelike vermoëns kan jy nie eens ’n sjokoladepoeding maak nie. Jy het iets baie belangriks vergeet: die tyd vlieg, en dan is jou jeug daarmee heen. ’n Jong leeu het sy eie besondere skoonheid, met sy gladde vel en helder oë. Maar hoe lyk ’n afgeleefde ou leeu, brandsiek en halfblind? ’n Leegloper van vyftien kan homself nog oortuig hy lei ’n romantiese lewe. Maar wat van ’n ou hippie sonder tande? Hy kan nie kunstande bekostig nie, want hy het nooit gewerk nie, en buitendien is sy klere en alles aan hom so vuil dat geen tandarts hom in sy spreekkamer sal toelaat nie. Is dit nog steeds romanties?”

“Hou op; dis alles leuens! Ons is gewaarsku julle mense sal sulke goed sê om ons te beïnvloed!”

Maar die hoof het reeds meer as genoeg gesê en hy swyg. Later hou die seun se aanhoudende gemor ook op.

Toe dagbreek se rooi blos agter die berge begin verskyn, staan die hoof op en klop sy pyp uit. Carolus lê in ’n bondel opgetrek teen die boomstam. Hy is wakker, maar gedaan.

In die flou lig sien hy Danster met ’n skinkbord by die trap opkom. Hy dra die skinkbord binnetoe en sit dit op die tafel neer. Wanneer hy uitkom, kyk hy na die hoof se gesig wat skaars sigbaar is in die skemerte.

“Ai,” sê hy verwytend. “Dink doktor dis die moeite werd?”

“Ek hoop so. Neem die honde weg. Hulle moet rus en eet.”

“Doktor moet liewer self met hulle praat, anders raak hulle deurmekaar.”

“Dis goed. Gaan jy solank soontoe.”

Dit duur ’n rukkie voor Danster by die trap af is en om die huis na die boom geloop het.

“Wotan! Siegfried!” roep die hoof. Die honde staan op en kyk omhoog. “Fein! Bravo! Geh’ nun mit Danster. Wiedersehen!”

Sagte hondgeluide word gehoor. Dan loop die groot diere agter Danster aan.

“Wat moet ek nou doen?” vra Carolus soos ’n bang kind.

“Jy kan maak soos jy wil, maar jy kom nie weer hiernatoe nie, en jy val nie weer jou familie of jou broer lastig nie. Jou kitaar sal ek by die polisiekantoor ingee. Ek sal sorg dat hulle dit vir jou gee as jy daarna gaan vra.”

“Ek gaan nie na die pote toe nie!”

“Dan moet dit maar daar bly. Loop nou,” sê die hoof.

Op pad om te gaan swem kyk hy by sy vrou se deur in. “O, jy is wakker,” sê hy. “Het ek en my gas jou gepla?”

“Nee, ek is bekommerd oor Riekie. Daar skort iets met hom.”

“Ja, hy wil hê ons moet Thea Seegers hierheen oornooi.”

“Nee, nie Riekie nie! Hemel!”

Die hoof kyk af na haar hand wat hy vashou. Dink hy miskien nou aan ’n ander vrou, een wat hom bedrieg het? Haar hare was net so vlamrooi soos Thea Seegers s’n.

’n Groot skildery van Wanda Svoboda hang nog steeds in die groot ingang tot die Operahuis in Dresden. Wanneer die Serfonteins daar is, gaan hulle so dikwels moontlik na opera-uitvoerings toe. Mevrou Serfontein kyk altyd na die pragtige voorstelling van Wanda as Carmen. Of haar man ook kyk, weet sy nie.

Wanda en die jong Roelof Serfontein was verloof, maar terwyl hy ’n tyd lank weg was, is sy met sy vriend, die pianis Arthur Spaulding, getroud. Dit was egter nie die einde van die mans se vriendskap nie, moontlik omdat Roelof hom nie heeltemal van die vrou kon losmaak nie.

Die Spauldings het lank swaargekry. Ná hulle twee seuns se geboorte kon Wanda nie meer haar beroep beoefen nie. Roelof Serfontein was self arm, maar hy het die gesin sewe jaar lank onderhou, totdat Arthur uiteindelik roem in konsertsale regoor die wêreld verwerf het. Kort daarna is Wanda dood aan longontsteking. Sy was heelwat ouer as haar man. Haar dood het die jong doktor Serfontein erg ontwrig, en dis in daardie toestand wat hy hier op Keurboslaan aangekom het.

Watter snaakse mense is kunstenaars nie, dink Helen Serfontein. Sy ken Arthur goed. Hy lyk nie na iemand wat ’n vriend sommer sal bedrieg nie. Sy kan nie verstaan hoe hy daarna nog finansiële hulp van sy vriend kon aanvaar nie. En dan het hy ook nog sy twee seuns hier by Roelof laat skoolgaan. Iemand wat nie self ’n kunstenaar is nie, sal dit nooit kan verstaan nie.

“Riekie het my niks hiervan gesê nie,” vervolg sy. “Hy ken my natuurlik te goed. Hoekom word die kinders so skielik groot?”

“Dis nie skielik nie. Onthou, Richard het al sy militêre diens gedoen.”

“Ook weer waar. ’n Mens vergeet dit. In elk geval, as hy met so ’n versoek na my toe gekom het, sou ek beslis nee gesê het.”

Ongenooide gaste op Keurboslaan #11

Подняться наверх