Читать книгу Trekkerswee - Totius - Страница 4

Uitgewersnota

Оглавление

NB-Uitgewers se digitaliseringsprojek het die maatskappy voor verskeie geleenthede en uitdagings te staan gebring. Die vryer toegang wat so ’n projek meebring, beteken dat literêre tekste uit verskeie eras nou vir enige leser met internet-toegang, binne en buite biblioteke en oor landsgrense heen maklik beskikbaar raak. Dit is ’n geleentheid wat waarskynlik vele uitkomste sal hê – sommige voorspelbaar, ander nie. Dit is egter ook ’n uitdaging, aangesien daar redelik verwag kan word dat die biblioteekleser, of die leser wat moeite doen om ’n bepaalde ouer teks in die hande te kry, ’n leser is wat historiese konteks en die veranderende norme van sosiopolitiese aanvaarbaarheid begryp.

Hierdie kwessie is al in ander kontekste aangepak, met wisselende sukses. ’n Bekende voorbeeld is die bowdlerisation van Mark Twain se Huckleberry Finn, wat handel oor die slawegeskiedenis in Amerika. In ’n land soos Suid-Afrika is dit veral belangrik om by die lees van ouer tekste die nodige begrip vir konteks te hê. Die betekenisse van woorde – en veral hul konnotasies – verander met tyd. Perspektiewe wat in vroeër eras aanvaarbaar of selfs progressief was, is dalk nou rassisties, diskriminerend, of neerbuigend. Sommige tekste kan dus maklik vanuit ’n hedendaagse perspektief onregverdig kritiek ontvang. Die leser moet natuurlik ook kennis neem dat die norme waarvolgens hy tans oordeel, binne ’n aantal dekades ook sal verander.

Die beginsel wat gevolg is in hierdie projek, is een van deursigtigheid en eerlikheid. Daar is dus geen poging aangewend om “sensitiewe woorde” te vervang of verouderde perspektiewe aan te pas nie. Buiten tipografiese korreksies en hier en daar modernisering van spelling (alhoewel ook dit meestal vermy word), is hierdie tekste digitaal gepubliseer soos hulle oorspronklik in boekvorm verskyn het. Dikwels is ook afwykende skryfwyses onveranderd gelaat – of dit drukfoute of aanvaarde vorme was, is moeilik te bepaal, en ter wille van die navorser word die oorspronklike vorm dan behou, tensy dit leesbaarheid beïnvloed.

Hierdie besluit is bewustelik geneem om getrou te bly aan die geskiedenis, en om standpunt in te neem teen die vervalsing daarvan. Die uitgangspunt is dat ’n etiese benadering vereis dat daar met nugter oë gekyk word na die maniere waarop denkwyses in die literatuur neerslag gevind het. Pogings om dit agteraf anders in te kleur, doen onreg aan die ernstige leser se behoefte om daaruit te leer, en begaan ’n dubbele sonde as dit die teks én die eietydse leser neerbuigend wil behandel. Elke leser sal sy eie oordeel bring. Die wonder van die digitale era is hoe maklik dit vir elke ander leser is om dieselfde te doen.

Trekkerswee

Подняться наверх