Читать книгу Hartstog op Hartenbos - Trish Goosen - Страница 4

2

Оглавление

Karien word uit haar droom geruk toe die vliegtuig sy wiele op George se beknopte aanloopbaan neersit. ’n Mengelmoes van voorwerpe en kleure flits verby haar venster, en dan word die vliegtuig se remme aangeslaan. Die grensdraad net duskant die landingstrook pyl hopeloos te vinnig op haar af, en sy maak haar oë liewers toe. Sy het gelees van ’n passasiersvliegtuig wat in nat weer dwarsdeur daardie draad is en in die pad aan die ander kant beland het.

Die vliegtuig se remme ruk meteens tot stilstand.

Karien voel naar en duiselig. Skielik is die binneruim hopeloos te beknop en warm namate die mense opstaan en hul handbagasie soek. Sy spring op. Sy moet hier uit. ’n Middeljarige vroutjie wat ietwat knorrig lyk, versper die smal gangetjie. Die mense loop heeltemal te stadig na haar sin. Toe sy haar kop uiteindelik by die vliegtuig se deur uitsteek, en die verfrissende briesie haar klam nek koel blaas, begin sy effens beter voel. Sy klim haastig by die trap af, rig haar blik op die gebou voor haar en mik na die deur. Sy wil eerste by die bagasieband uitkom.

Vyftien minute later sit sy haar tas in die kattebak van haar gehuurde motor, ’n silwer Toyota Fortuner wat Shaun bespreek het. Sy skuif agter die stuur in en sit haar handsak op die passasiersitplek neer. Shaun glo ’n groter voertuig is altyd veiliger. Ai, hy is tog so besorg oor haar. Was dit nou regtig vroeër nodig om so gemeen met hom te wees?

En daardie droom? Malan Hugo is lankal nie meer haar tipe ou nie. Sy sal hom nie eens raaksien as sy verby hom in die straat loop nie. Ag, nee wat. Been there, done that. Het beslis ’n T-hemp met: Vlam loves Malan forever xoxo. Gmf. Forever nogal? Wat weet ’n sewentienjarige in elk geval van forever af? Genadiglik bly niemand vir ewig ’n tiener nie.

Maar hoekom voel sy steeds skuldig oor die droom? Die warm, intieme gevoel teenoor Malan is niks anders as verraad nie.

Nee, stop die bus. Sy skud haar kop. Komaan, jy is nou simpel, Karien. Ontspan. Jou verbeelding hardloop met jou weg. Dis tog net ’n paar betekenlose beelde uit jou verlede. Vergeet daarvan.

Karien dwing haar gedagtes terug na die taak op hande. Sy wil op Hartenbos kom nog voor dit heeltemal donker is en dit is ’n goeie vyftig kilometer, of dalk meer.

Sy probeer die slierte hare geïrriteerd uit haar gesig blaas. Dalk sal sy môre kyk of sy ’n afspraak by ’n haarsalon kan kry. Sy draai die sleutel net ver genoeg sodat al die liggies op die paneelbord aankom. Sy wil darem eers vertroud raak met die instrumentepaneel van ’n Toyota. Sy vroetel met die rathefboom tot sy weet presies hoe die trurat werk. Dan soek sy die ligte. Aha, hét dit. Sy wil die enjin net aanskakel toe haar foon lui. Seker Shaun.

“Liefie?” Sy is seker hy kan die skuldgevoel in haar stem hoor.

“Nee, dis ongelukkig nie jou liefie nie. Dis eintlik maar net ek. Dit is Lize.”

“Lize wie?”

“Nou maak jy my gevoelens so ’n bietjie seer. Ken jy dan baie Lizes?”

Toe snap Karien. In haar verbeelding sien sy twee skoolmeisies pouse onder ’n boom sit en Cream Soda drink. Lekker tye, onskuldige tye. Hoe toevallig dat sý nou bel. Sy het nie in jare met Lize gepraat nie.

“Lize, genade! Jammer, ek was nou effe onkant gevang. Hoe gaan dit met jou?”

“Goed, goed. Kan regtig nie kla nie, maar wil jy nie vanaand by my kom koffie drink nie, dan vertel ek jou al die nuus? Dit wil nou sê … as jy nie reeds planne het nie.”

Karien is verstom. Weet Lize miskien sy het pas op George geland?

“So, is jy lus om te kom?” vra Lize weer, vriendelik maar doodernstig. Karien voel hoe haar mond van verbasing oopval. Lize weet so wragtiewaar sy is op George.

“Hoe op dees aarde het jy geweet ek’s hier?”

“Big Brother is watching yooouuuu …” fluister sy in ’n bangmaakstem. Dan begin sy ongemaklik lag asof sy skaam oor haar grappie geraak het.

“Ha-ha! Baie snaaks. Nee, komaan, sê nou, asseblief.”

“Jong, ek het mos ’n informant op die lughawe. My sussie werk daar. Sy’t jou gesien verbystap. Ek kon dit amper nie glo nie, maar ek vat toe maar die kans en kyk of jou ou nommer nog werk. En sowaar!”

“Jy sê daai ding! Hoe toevallig. En Inge? Is sy regtig al oud genoeg om te werk?”

“Jip. Sy’s al negentien. Maar die madam het deesdae nogals ’n humeurtjie.”

Karien kan amper nie glo die oulike klein Inge-kind van destyds is al negentien nie. Die skuldgevoel tref haar asof sy teen ’n baksteenmuur vasgeloop het. Haar ma het altyd gesê ’n mens moet die paadjie van vriendskap gereeld loop, anders groei onkruid oor die pad. Sy voel sleg dat sy toegelaat het dat dit gebeur. Maar dalk moet Lize ook verduidelik. Vriendskap kom tog van twee kante af. Sy is mos ewe skuldig. Nee wat, hoekom moet sý sleg voel? Lize kon ook maar die moeite gedoen het om af en toe te bel.

Karien is pootuit. Hopeloos te veel negatiewe emosie vir een dag. Dis presies die rede waarom sy nie kans gesien het vir haar ou pêlle nie. Sy is hier om te werk en dit is presies wat sy gaan doen. Sy wil nou net by haar gastehuis kom en die aand rustig deurbring.

“Karien? Is jy nog daar?”

“Ek’s hier.”

“So kan ek vir jou my adres gee?”

“Weet jy, Lize, ek sal maar ’n reëntjekkie moet neem. Ek is eintlik vir besigheid hier en het heelwat huiswerk wat ek vanaand moet klaarmaak.”

“Ag, kom, asseblief. Ons het mekaar só lanklaas gesien. Ek is seker jou werk kan tot môre wag.”

“Regtig, ek kan nie vanaand nie. Maar moenie stres nie, ek gaan ’n hele paar dae hier wees. Ons kan dit môre of oormôre, whatever, ook mos doen.”

“Ja, oukei, maar Inge wil jou ook sien en sy ry môreoggend vroeg Jeffreys toe vir ’n week saam met haar vriende. Kom maak net ’n vinnige draai. Ek sal jou nie lank hier hou nie. Ek belowe.” Sy gee haar adres.

Karien sug oordrewe. “Oukei, maar net ’n uur. Gee my tog net ’n kans om in te boek by die gastehuis en my neus te poeier, of iets. Dan kom ek.”

“Great. Moet ek jou gou verduidelik waar die woonstel is?”

“Nee, ek weet presies waar dit is. Sal dit kry.”

“Onthou net, jy moet langs die huis by die tuinhekkie ingaan. My landlord is baie kwaai, so moet tog asseblief nie aan sý deur klop nie.”

“Hét dit. Tarra, sien jou netnou.”

Karien lui af en bel dadelik vir Shaun. Snaaks, sy foon is afgeskakel. Sy los ’n boodskap en gooi die foon ietwat geïrriteerd in die kompartementjie voor die rathefboom.

Sy sug weer en skud haar kuif uit haar oë. Wat ’n dag. Een vinnige polsbeweging en die Fortuner se kragtige dieselenjin begin saggies brul.

Sy is skaars uit George toe sy ’n dik misbank inry. Sy het geweet die son gaan al onder wees teen die tyd dat sy vanaand teen dié bergpas af kom, maar die maan is amper vol en as dit nie vir die dekselse mis was nie, kon sy die natuurskoon en die fantastiese uitsig langs die pad bewonder het. Nou lyk dit só buite …

Daar’s amper niks oor van die mooi prentjie waarmee sy vanoggend in haar kop wakker geword het nie. Absoluut niks het vandag uitgewerk soos sy dit beplan het nie. Sy het daar op die vliegtuig so hard probeer om haarself moed in te praat oor die naweek so alleen, maar noudat die moegheid haar pak, voel sy van voor af broos.

En nou moet sy nog gaan koffie drink ook. Regtig? Sy is sat. Miskien moet sy maar in die bed klim en vir Lize laat weet sy voel siek. Verkoue? Dalk het sy iets op die vliegtuig geëet wat haar maag ontstel het. Ag, nee wat, sy’s nie ’n aktrise se dinges werd nie. Lize sal nóóit daarvoor val nie. Sy sal maar moet gaan kuier, maar net ’n uur, niks langer nie. Dan gaan sy eenvoudig in die bed klim. Boggher die werk vanaand. Hopelik staan sy môreoggend met nuwe perspektief op.

“Alles Shaun se skuld,” fluister sy ingedagte en vererg haar van voor af.

Die ruitveërs beweeg ritmies heen en weer om die fyn sproei van die voorruit af te hou. Sy ry maar versigtig, want sy kan nie veel voor haar in die pad sien nie. Haar skouers pyn skoon van die spanning, en sy voel die begin van ’n hoofpyn tussen haar oë ontwikkel.

Malan Hugo …

Wat sou hy deesdae doen? Sy skuif ongemaklik op haar sitplek rond. Sy is steeds ontsteld ná die droom.

Die pad maak ’n wye draai, en dis vir Karien geen verrassing dat die kom waarin Groot-Brakrivier lê ook toe onder die mis is nie. Die pad voel eindeloos lank, maar uiteindelik sien sy Tergniet, Fraai Uitsig en Rheebok se liggies vaagweg agter die mis teen die hoogte aan haar linkerkant, dan Klein-Brakrivier en net so ’n bietjie verder ry sy onder die mis uit. Aha! Sy’s uiteindelik by haar bestemming. Hartenbos Heuwels se koppie lê voor haar. Die woonbuurt het heelwat uitgebrei vandat sy elf jaar gelede hier uit die Tuinroete weg is. Sy kan nie onthou dat die plek só toegebou was nie.

Die nag lê skielik oop en skoon voor haar. Bo die helder verligte kop hang ’n enorme amper-volmaan, met net so ’n happie aan die een kant uit. Sy verkyk haar aan die Melkweg se wasige spoor oor die oneindige swart hemeltrans terwyl sy by die verkeerslig in Louis Fourieweg wag. Sy was nog nooit iemand wat belang gestel het in sterrewiggelary nie, maar soms wonder sy tog. Miskien is haar toekoms, haar lot, haar geluk regtig in die sterre opgeskryf. As hulle maar net kon praat … as hulle maar net vir haar kon sê dat sy oukei gaan wees …

Die verkeerslig word groen en sy draai links in Kaap de Goede Hooplaan, ou Hartenbos se kant toe.

Amper daar.

Karien is dankbaar toe sy voor die imposante hek en die hoë mure in Bloedrivierstraat stilhou. Die gastehuis is ongelukkig nie by die see nie, maar Shaun het verlede jaar hier gebly toe hy die grond kom koop het. Hy was baie beïndruk met die diens en fasiliteite.

Sy bekyk die plek. Die kenmerkende spits dakkies en komvensters wat sy in die donker so effens bokant die ringmuur kan uitmaak, herinner haar aan ’n Victoriaanse huis. Tog kan mens sien die argitek het ’n moderne benadering tot dié tipe boustyl. Die gastehuis lyk nie soos die ander tipiese Hartenboshuise in die straat nie, seker een van die ouer huise wat die mense laat restoureer het. Stunning!

Hmm … Miskien moet sy haar Marokkaans geïnspireerde konsep vir die hotel heroorweeg.

Karien voel hoe haar mondhoek aan die een kant begin opkrul. Dis nou só tipies van die Engelsman om dié gastehuis tussen al die ander beskeie plekkies te kom uitsnuffel.

Sy kan nou nog nie kleinkry wat hom besiel het om grond op hierdie dorpie te kom koop nie. Sy het gedink Shaun sal Hartenbos hopeloos te plebejies vind. Sy kan hom nie regtig by die plaaslike mense sien inpas nie. Verbeel jou, Shaun skoffel in een van die ATKV se sale saam met plesierige Afrikaners! Sy slaan die stuurwiel toe ’n senuweeagtige laggie ontsnap. Genade, gaan die Hartenbosstorie ooit werk? Dalk moet Shaun eerder die grond verkoop.

Sy is lankal ook nie meer die meisie wat hier saam met haar ma in ’n tuinwoonstelletjie agter op iemand se erf oorleef het nie. Daardie plekkie was so groot soos die instapkas in haar huis in Kampsbaai. Sy gaan mos nie hier aard nie, en Shaun nog minder.

Mosselbaai se woonbuurte waar old money fluister, is dalk eerder sy spreekwoordelike hoogs Engelse koppie tee. Knysna self, beslis. Maar Hartenbos? Hy is ’n ou wat hou van weelde, vyfsterrestaurante met fyn kos, en rondcruise deur Kampsbaai in sy rooi Porsche Boxster, kappie afgeslaan, wind in sy pragtige dik haardos met die sonstrepies.

As dit nie vir daardie hare van hom was nie, was hulle dalk nie vandag saam nie. Sy onthou hulle eerste gesprek of dit gister was. Sy hare het haar aandag getrek en die ys gebreek. Sy moes hom eenvoudig net vra waar hy sy sonstrepies laat insit, en hy het haar na Ciska verwys. Karien raak weer bewus van die kuif wat in haar oë hang. Blêddie Ciska! Die hare word weer met mening uit haar gesig gevee terwyl sy die knoppie druk om haar ruit te laat sak.

Die vogtige naglug is yskoud teen haar vel toe sy uitleun om die interkom se knoppie te druk. Die swaar hek kreun en skuif moeisaam oop.

’n Halfuur later ry Karien weer by die hek uit. Sy voel stukke beter nadat sy onder die stort was. Haar gemoed het ook so ’n bietjie oopgetrek. Bay View is glad nie ver nie. As sy nie so ’n sissie was wat die koue betref nie, het sy sommer soontoe gestap. Sy ry weer terug soos sy gekom het en draai see se kant toe in Kaap de Goedehooplaan.

Aan die ander kant van die Fortuner se ruite lê die vreemde en tog bekende dorp. Hier en daar is ’n huis gemoderniseer, ’n woonstelblok oorgeverf, maar meestal lyk Hartenbos soos sy dit kan onthou. Hoe nader sy aan die water kom, hoe bedrywiger raak die straat. Paartjies stap hand aan hand, kinders jaag mekaar op die sypaadjie rond, tieners staan en gesels met handdoeke oor hulle skouers, seker op pad na die warm swembad toe.

Daardie ysige winter toe hulle in matriek was, het sy en Malan omtrent elke aand kamma by mekaar gaan huiswerk doen, maar eintlik het hulle skelmpies gaan swem. In die louwarm water het hulle gelê tot hulle verrimpelde oumensvingers gekry het, tót die kwaai ou opsigter gedreig het om hulle toe te sluit as hulle nie nóú dadelik uitklim nie.

Sy was smoorverlief … Die passie tussen haar en Malan was onblusbaar. Daardie einste koue aand, ná hulle swemsessie, het sy haar op die strand vir Malan gegee. Dit was hulle albei se eerste ervaring. Haar hart was alreeds volkome syne, maar in daardie vurige oomblik het nié net haar lyf aan hom behoort nie, maar haar siel het ook heeltemal verstrengel geraak met syne. Die ervaring was op ’n manier onskuldig, so ongelooflik opreg en bitter mooi. Sy onthou nog so goed hoe hulle onseker na mekaar in die donker getas het, sy deinsende borskas teen haar lyf, sy hart wat jaag asof vir ’n prys. Sý was die prys. Sjoe, wat ’n mooi herinnering.

Maar wat het skeefgeloop? Sy het miskien maar net grootgeword. Malan wou nie dieselfde dinge as sy hê nie. Hy sou in die pad van haar toekomsplanne staan. En net só was alles verby. Fluit-fluit, hulle kys was uit. Dit was in elk geval ’n skoolliefde, en almal weet tog skoolliefdes hou nie.

Haar oog vang vir ’n oomblik die swembad se gebou langs die stampvol parkeerterrein. Sy sug en trek haar skouers op voor sy regs draai in Paardekraallaan wat haar na Nooitgedagtlaan neem. Dan is sy in Bay View, ’n heelwat nuwer woonbuurt met groter huise.

Karien vind die groot wit dubbelverdiepinghuis sonder moeite en parkeer die Fortuner in die breë, geplaveide oprit. Sy slaan haar baadjie se kraag op om haar nek teen die koue te beskerm en draf fyntjies op haar ontwerpershakke na die tuinhek regs van die huis. ’n Ouerige vrou loer vanuit die venster op die boonste verdieping en pluk die gordyn dan toe. Die hek langs die huis is nie op knip nie. Sy laat haar in en klop saggies aan die glasskuifdeur. Sy kan ’n televisie binne-in die woonstel hoor raas – klink soos die nuus – maar hoor nie vir Lize aankom nie.

Sy klop heelwat harder.

“Ek kom,” kom Lize se diep stem gedemp van agter die glas.

“Maak gou, ek kry koud!”

Voetstappe.

Lize trek die pienk gordyn weg, vroetel aan die slot en sleep die skuifdeur met moeite oop. Selle ou Lize van ouds, net ’n paar kurwes bygekry. En die bril is ook nuut. Haar donker hare is lossies in ’n bolla op haar kop vasgemaak, en sy het ’n swart kamerjas aan wat styf om haar middel geknoop is.

“ ‘Skuus man, ek was net gou in die klein kamertjie, en Inge vry seker weer met die boyfriend op die foon. Kom in, kom in.”

Karien gaan binne. Hulle gee mekaar ’n onbeholpe druk met stywe arms voor Lize die deur weer toetrek.

“Kom sit. Ek sal vir ons iets kry om te drink.” Lize tik liggies teen die gestoffeerde rugleuning van ’n pragtige donkerbruin rusbank.

“Koffie, asseblief. Melk, geen suiker nie,” bestel Karien. Sy hoor Lize se pantoffels oor die teëls na die kombuisie slof toe sy haar sitvlak fyntjies op die bank neersit. Sy vou haar bene netjies oormekaar en laat haar vingers oor die gladde materiaal van die armleuning gly. Nes sy vermoed het. Dis kunsleer, daardie gemors wat hulle pleather noem. Sy het nogal gedink ’n meisie wat in só piepklein plekkie bly, sal vir seker nie ’n leerbank kan bekostig nie. Dis nou regtig jammer, want die bank sit lekker, en as dit the real thing was, sou sy Lize gevra het waar sy dit gekoop het. Sou mooi gelyk het in die hotelkamers.

Lize verskyn met twee wynglase, amper vol gegooi. Die goudgeel vloeistof stort amper oor die rand toe sy ’n glas na Karien uithou.

“Dè! Dit is iets teen die koue.”

“Wat issit dié? Waar’s die koffie?” Karien staar verstom na die reuseglas soetwyn toe sy dit uit Lize se hand neem.

Lize val neer in ’n ou swart leunstoel wat glad nie by die mooi rusbank pas nie. Sy vat ’n groot sluk en kyk stip na Karien.

“Ek het nie koffie in die huis nie, net hanepoot. Ek gaan eers môre weer shopping doen.”

“Genade, Lize, mens gooi hanepoot mos nie só nie. Dit moet mos net ’n skeutjie wees, in ’n klein glasie.”

“Wie sê?”

“Etiket sê.”

Lize kyk haar emosieloos aan. Sy sê niks. Dan vat sy nog ’n sluk en klap haar lippe aspris van lekkerte. Die voetstoel skiet uit toe sy haar rug teen die rugleuning teruggooi. Dan skop sy haar pantoffels uit en wriemel haar tone in gestreepte blou sokkies voor sy antwoord.

“Etiket, sê jy? Wie’s hy? Hy bly seker nie op Hartenbos nie, want ek ken hom nie. En glo my, ek ken álmal hier. En ás hy hier gebly het, sou hy not a tiekie vir my vertel het hoe ek my wyn moet drink nie.”

Karien voel hoe haar lagspiere begin kielie, en trek dan los. Dit is nie lank voor Lize aansteek en saam begin lag nie. Die ys is gebreek. Dankie tog. Sy het al vergeet hoe snaaks Lize kan wees.

Karien bedaar en vat uiteindelik ’n sluk van haar hanepoot. Nektar uit die hemel. Nog ’n sluk. Haar koue lyf voel sommer al klaar warmer.

“Jammer ek lag so, maar ek is eintlik maar vrek senuweeagtig,” erken Karien.

“Waaroor nogal?”

“Oor jou?”

“Wat bedoel jy?”

“Wel, ek het nie gedink ek gaan ná al die jare iets hê om vir jou te sê nie.”

“Wraggies? Die socialite van Kampsbaai kan ook senuweeagtig raak. En dít nogal in my ou kommin plekkie. Wie sou dit nou kon dink?”

Lize lyk in haar noppies. Daar is ’n onhebbelike glimlag op haar gesig.

“Dis darem nou nie nodig om só lekker te kry nie,” sê Karien kamma verontwaardig.

“Ek kry net ’n bietjie lekker. Ek is bly om te sien onder al daai makeup en fancy klere is jy darem nog mens.”

“Nou wat het jy miskien gedink, is ek? ’n Robot?”

“As die skoen pas?” Lize knipoog vir haar en bring die glas weer na haar lippe. Dan sê sy ernstig: “Wel, ek het eintlik ’n teorie oor ruimtewesens en supermodelle. G’n mens kan van nature só beeldskoon en maer wees nie. Is jy dalk een van hulle?”

Karien is nie seker of dit ’n kompliment of ’n belediging is nie. Tog maak dit so effens seer. “Sies, jy’s lelik met my. Ek het ook ’n hart,” skerts sy onseker terug.

Lize kyk haar deur. “Jy het lekker maer geraak vandat ek jou laas gesien het. Wat’s jou geheim?”

“Ag, ek leef maar net gesond en gaan stap so af en toe. Niks ernstigs nie,” lieg Karien. Twee ure se bloedsweet in die gim elke dag, bokkos, liters water, gestoomde groente en soms ’n stukkie hoender as sy haar gedra het. In die sosiale sirkels waarin sy beweeg, praat mens nooit die waarheid oor wat jy doen om die vetjies weg te hou nie.

Lize knik haar kop stadig op en af, skeptiese vraagtekens in haar groot donker oë.

“Hmm, jy’s lucky. Ek moet my doodwerk om gewig te verloor. So ek het besluit: life’s too short. As ’n man my nie wil hê soos ek is nie … good riddance!”

“Dis die regte houding daai. Kom ons drink daarop!” sê Karien en leun oor die rusbank se armleuning met haar glas na Lize, wat verbaas lyk toe sy haar wynglas teen Karien s’n klink.

“Is dit ’n stukkie van Vlam wat ek nou net bespeur het?” Lize trek haar oë op skrefies van die lekkerkry.

“Nee, man, ek is maar net iemand wat die onafhanklikheid van vroue aanmoedig. En, asseblief, ek haat daai naam.” Karien voel hoe haar wange begin gloei. Van skaamte of van die wyn? Genade, sy sal moet hokaai met die hanepoot. Haar gewone glasie merlot saans doen niks aan haar nie. Dié soetgoed gaan sommer direk kop toe. As Vlam regtig haar verskyning wil maak … Dit sal ’n ramp wees.

Haar voete jeuk skielik, asof hulle lus is vir dans. Dis ’n slegte teken. Ag, nee man, gaan lê, Vlam. Gaan lê.

Sy moet huis toe te gaan. Haar liggaam is nie gewoond aan hanepoot nie, veral nie ’n onbeskofte groot glas vol nie.

“Waaraan dink jy so diep?” vra Lize toe Karien nie verder praat nie.

“Ag, ek wonder sommer maar oor iets.”

“Hmm?” Lize se ondersoekende blik verlaat haar nie. Dan verander sy die onderwerp. “So, ek verstaan jy is deesdae ’n big shot, ’n hotelbaas daar in Kampsbaai. Wat issit nou weer wat jy presies doen?”

“Wel, ek het my mos maar in die gasvryheidsbedryf opgewerk en deesdae is ek die bestuurder van die Abalone Box-boetiekhotel, my verloofde se plek. Hy besit ’n ander hotel in Mosambiek ook.”

Lize frons effens.

“Ek weet wat jy dink, maar nee, ek was al ’n jaar bestuurder voor ons begin uitgaan het. Voorheen het ek by ’n hotel in Port Elizabeth gewerk.”

“Nee, is reg. Ek glo jou. Maar vertel my nou eers van jou liefie. Ek hoor hy is aangewys as die mees eligible bachelor in Kaapstad. Dit moet awesome wees.”

Karien se bors swel van die trots. “Ja, dit was so twee jaar gelede. Sedertdien moes ek die vroumense van sy lyf af weghou,” terg Karien.

“Dis nie goed nie,” merk Lize op.

“Ag, ek spot sommer. Hy is getrou aan my.”

’n Ongemaklike stilte. Toe vra Karien: “En jy? Wat maak jy deesdae met jouself?”

“Ek swot.”

“O, rêrig? Wat swot jy?”

“Onderwys, grondslagfase. As alles volgens plan verloop, maak ek uiteindelik dié jaar klaar.”

“Unisa?”

“Ja.”

“En dan is jy ’n juffrou?”

“Jip. Ek kan nou nog nie glo ek het só ver gekom nie.”

“Baie geluk. Ek weet sommer jy gaan ’n oulike onderwyseres wees.”

“Dankie.”

Lize leun vooroor uit haar stoel en neem ’n sliert van Karien se blonde hare tussen haar vingers. “Jy lyk nogal mooi as ’n blondine,” sê sy. “Maar ek moet bieg ek was ’n groter fan van jou mooi, rooi krulle. Sjoe, maar daai bos hare van jou was darem benydenswaardig. Of wat sê ek?”

“Dankie, maar ek is lankal nie meer ’n rooikop nie. Jy weet mos wat hulle sê: blondes have more fun.”

“Seker maar. Tog het ek altyd gedink jy was superpret met daai rooi kop van jou. Vlam was on fire.” Sy byt haar lip, en haar oë flits vir ’n oomblik opwaarts toe sy die naam sê. “ ’Skuus, sal nie weer nie. In elk geval wou ons almal soos jy wees: bang vir niks; sê nooit nee vir ’n dare nie. Beeldskoon, slim, die wêreld aan jou voete. Jy was darem lekker stout op jou dag, maar dis waarom ek so lief was vir jou en nog steeds is. En ek het altyd geweet jy gaan iets van jou lewe maak, jy is bestem vir groot dinge. En hier is jy nou in lewende lywe. You did it. Ek is trots op jou.”

Regtig? Is dit hoe Lize haar sien? Dat sy ’n groot sukses van haar lewe gemaak het? Dis nou alles goed en wel, maar Karien is op verre na nie tevrede nie. Daar is nog so baie wat sy wil vermag voordat sy vir haarself sal kan sê: I did it!

Tog maak Lize se verklaring haar skoon betraand en krapperig in die keel. Nou voel sy éérs skuldig. “Ek’s jammer, Lize.”

“Waarom nogal?”

“Jy weet waarom. Ek was die afgelope ruk nie ’n goeie vriendin nie. Ek verdien jou nie.”

“Moenie sleg voel nie, want ek voel nie sleg nie. Daar het baie water in die see geloop.” Lize staar na haar gestreepte voete.

Karien merk op dit is die eerste keer dat sy nie oogkontak maak nie. “Waar’s Inge? Gaan sy nie kom groet nie?” vra sy in ’n poging om oor iets anders te praat.

“Inge, Karien is hier! Los nou daai selfoon ’n slag en kom groet.”

“Dis oukei, sy kan maar eers klaarmaak. Moenie haar pla nie,” keer Karien.

Lize stoot haar byderwetse, pers brilraam verontwaardig op haar neus terug. “Nee, die kind het mos nie ore wanneer ek met haar praat nie. Voel ek praat met die muur.”

“Ag, man, los haar eers. Dalk is sy maar net …”

“Inge, ek praat nie weer nie. Kom nou!”

“Ja, Má,” roep Inge van anderkant die toe kamerdeur. Die oordrewe toon drup van sarkasme. Karien kan nie anders as om te wonder oor die een deur nie. Is daar dan nie nog ’n slaapkamer in die woonstel nie? Wie slaap waar?

“Ma? Sy noem jou ma?”

Lize sug en gooi haar hande moedeloos omhoog. “Ja, sy noem my ma wanneer, en ek haal aan, ‘ek aangaan soos ’n ou vrou met ’n nat broek’.”

Karien proes saggies agter haar hand. Dan kom die lag los. Lize lag ook, steek ’n arm uit en druk Karien styf teen haar vas, baie meer opreg as met die eerste druk.

“Inge? Ek praat nie weer nie!”

Die deur gaan met mening oop, en die meisie wat sleepvoet uit die kamer kom, lyk soos ’n jonger weergawe van Lize. Sy is net ’n bietjie langer en skraler en lyk glad nie meer soos die dogtertjie van elf jaar gelede nie.

Inge frons van konsentrasie, haar blou oë – ook agter ’n bril –steeds op die selfoon in haar hande gerig. Haar vingers tik verwoed terwyl sy tydsaam nader stap.

“Het ek nie mooi gevra dat jy die selfoon asseblief nou bêre nie?”

Inge loer verontwaardig oor haar bril na haar ouer suster.

“Nee, jy’t nie mooi gevra nie. Jy’t al weer op my gegil.”

“Ek het nie geskree nie.”

“Ja, jy het.” Dan glip Inge die selfoon in haar uitgewaste jeans se sak en knipoog vir Karien. “Haai. Hoe gaan dit nog met jou?” vra sy vriendelik, knik haar kop ’n aks eenkant toe, ’n duim in elke broeksak.

“Goed, jong. Ek kan nie glo jy het my daar op die lughawe herken nie.”

Inge stap kombuis toe, haar treetjies nou meer doelgerig. Sy haal ’n langsteelglas uit die kas bo die wasbak en skink vir haar ook van die hanepoot in.

“Maar natuurlik het ek jou herken. Jy loop en praat so met jouself, ek kon jou nie miskyk nie.” Die soetwyn stort amper oor die rand van die glas toe sy haar langs Karien op die rusbank neerplak.

“Moenie so val op die meubels nie. Jy breek die goed,” raas Lize.

Mens kan sien dié twee is sussies. Lize het nie juis ’n voorbeeld gestel toe sy haar ook vroeër op haar stoel neergevel het nie. Sy is ongeduldig met Inge, maar dis tog seker te verstane. Karien onthou so goed die dag toe Lize haar vertel het hoe kanker hulle pa gevat het. Hy het hulle alleen grootgemaak. Arme Lize, sy was maar elf toe hy oorlede is. Sy moes bitter vinnig haar grootmensskoentjies aantrek en stap. Dis vreeslik onregverdig dat sy ’n ma vir haar sussie moes wees, terwyl sy self nog pure kind was. Ai, hoekom gebeur sulke slegte dinge altyd met goeie mense?

En daardie pleeghuis waar hulle moes bly, was darem wraggies erger as ’n tronk. Die kwaai tannie het die huis met haar Pietie Peper-slaanding geregeer, en baie van die houe het onnodig geval. Daar was ten minste slaapplek en kos, maar luukshede en liefde was skaars. Ai, dit moes seker maar moeilik gewees het. Wie is sy om te oordeel? Tog is dit nie lekker om te sien hoe onnodig kwaai Lize met haar sussie is nie.

Inge rol haar oë so effentjies in Lize se rigting en rig haar astrante blik weer op Karien. Sy wag seker vir kommentaar op die stelling dat sy met haarself geloop en praat het.

“So? Praat jy gereeld met jouself?” vra sy uiteindelik en kyk Karien net so goed deur soos Lize ’n paar minute gelede gedoen het. Uit dieselfde lappie gesny, dié twee De Lange-meisiekinders.

“Inge, mens vra nie sulke vrae vir mense nie. Dit is onbeskof.” Lize klink soos ’n ref op die kantlyn.

Inge gryp een van die sierkussings op die bank langs haar en gooi haar suster daarmee. Lize koes en lag vermakerig toe die kussing haar mis en die muur tref.

“Jy gooi soos ’n meisie!”

Karien glimlag met deernis. Albei sussies is ewe uitgesproke en vooraan.

“Ek maak net ’n grappie met haar,” verdedig Inge haar verontwaardig.

“Dit is oukei,” keer Karien voor Lize weer iets kan terugsê. “Ek hét met myself geloop en redeneer.” Die warm gloed wat oor haar wange kruip, vang haar onkant. Sy het nie gedink dat om dit hardop te erken haar só skaam sal laat voel nie. Shaun het haar herhaaldelik daarop gewys dat sy geneig is om in haar eie kop weg te raak. Sy begin dink oor dinge en wanneer sy haar kom kry, is sy weer besig om iets met haarself te bespreek.

Shaun verpes dit. Sy sal dié gewoonte sommer vinnig moet afleer.

“Maar dis nie noodwendig ’n slegte ding nie,” sê Inge wat moes gesien het sy voel verleë.

Lize frons. Dit lyk of sy ook nie weet waarop Inge afstuur nie.

“Issit nié ’n slegte ding nie? Hoe so?” vra Karien. Sy is effe skrikkerig vir die antwoord. Sy is amper seker sy gaan nie daarvan hou nie.

“Wel, ons voel tuis by mense wat met hulleself praat. Dan weet ons daar is darem ander mense op aarde wat net so weird en eksentriek soos ons is, nè, Sus?” Inge kyk na Lize vir goedkeuring, maar Lize gaap haar verbaas aan.

Jip, ek was reg, dink Karien. Ek hou glad nie van die antwoord nie.

“Nee, Inge, moenie vir mý kyk nie. Jy is op jou self aangewese. Jy kan mos nie sulke goed sê nie. Karien sal nooit weer hier kom kuier nie.”

Karien wil al die warm emosies van die afgelope halfuur net in ’n tassie pak en van die De Lange-sussies af wegloop. Maar sy forseer ’n laggie, terwyl sy voel hoe haar rug in teësin reguit raak.

Dié mense moenie vir ’n oomblik dink sy is soos hulle nie. Sy is nie weird nie. Karien van Tonder is ’n gesiene en gerespekteerde sakevrou van Kampsbaai wat hanepoot beslis nie by die emmer drink nie.

Nadat die sussies Karien uitgevra het oor die nuwe hotel, voel sy darem bietjie beter oor Inge se kras uitlating. Dit was ’n simpel ding om te sê, maar Inge is nog jonk en onervare. Seker maar gedink sy help haar sus om die ou verwaarloosde vriendskapsband met haar beste ekspêl te heg. Eks? Dalk beskou Lize haar regtig as ’n eksvriendin. Tog is dit sý wat na al dié verlore tyd weer ’n hand van vriendskap uitgesteek het. Lize was na alles die een wat die moeite gedoen het om te bel.

Inge drink haar wyn klaar en verskoon haar. Sy moet gaan slaap, want môreoggend moet sy baie vroeg opstaan.

Karien laat die laaste spoegie hanepoot ’n paar keer om die bodem van die glas tol.

Ekspêl. Ekskêrel. Malan Hugo …

Sal Lize weet of hy nog in die omgewing woon? Sy is só nuuskierig dat sy iets wil oorkom, maar miskien moet sy maar eerder nie uitvra nie.

Die uur wat sy sou gekuier het, het al amper dertig minute langer gerek. Karien voel glad nie meer haastig om nou al gastehuis toe te gaan nie. Die geselskap is nie sleg nie, en sy gaan in elk geval tog net stres oor Shaun wat nog nie van hom laat hoor het nie.

Shaun?

Dalk hét hy al teruggebel, en het sy nie haar foon gehoor lui nie. Sy sluk die laaste soetwyn weg en trek haar handsak nader. Sy haal haar selfoon uit die kantsakkie en sien sommer dadelik daar is geen boodskappe of oproepe wat sy gemis het nie. Sy klap haar tong ergerlik en laat gly die foon weer in die sakkie terug. Sy gaan hom nie weer probeer bel nie. Sy weier.

“So waarheen gaan ons nou? Is daar nie ’n plek waar ons ’n nightcap kan gaan drink nie?” vra Karien oënskynlik uit die bloute.

“Het ek reg gehoor? Jy wil uitgaan? Ek dog dan jy wil gaan slaap.” Lize lyk verbaas.

“Wel, ek het net gedink ek is lus vir nog gesels en ons gaan vir Inge wakker hou as ons hier bly.”

“Nóú praat jy! Jy weet mos ek’s ’n bok vir sports. Gee my net gou tien minute om aan te trek, dan gaan ons.”

Hartstog op Hartenbos

Подняться наверх