Читать книгу Raaiselklip - Troula Goosen - Страница 6
◊ 3 ◊
ОглавлениеDie seun wat uit die tekening na Gabriel kyk, is seker omtrent so oud soos hyself. Geelbuin vel. Kort, wollerige hare. Oor sy voorkop diep merke wat soos ’n ou litteken lyk. Sy vingers klem onnatuurlik koud om Gabriel se boarm. “Ek’t geweet jy sal kom, Gabriel,” sê hy heel verstaanbaar, al klink dit anders as die Hollands wat Gabriel praat.
Help! weergalm dit in Gabriel se kop, maar hy kry nie ’n geluid uit nie. Tot sy verbasing lyk dit of die seun hom hoor en skrik. Die houtskoolmerke word tranerig. Dit spat op die vloer en die gesig verdwyn tussen die houtplanke, tot die muur weer leeg is soos vantevore.
Gabriel sukkel nog om tot verhaal te kom toe ’n geluid deur elke vesel van sy lyf sny. Fluitmusiek! En as hy dit nie mis het nie, is wie ook al besig is om te speel ongemaklik naby, op die verhoog net buite die kleedkamer. Dis seker niemand anders as Jan Fluit nie, die dwaalgees waarteen Elian hom gewaarsku het. Die hele mislike ou teater is natuurlik vol spoke.
Paniek stoot in sy keel op. Hy moet wegkom, maar hoe? Die enigste pad uit is verby die musikant, maar ’n mal dwaalgees is die laaste ding waarvoor hy nou lus is. Miskien moet hy net onder die drie akteurs se jasse inkruip, sy oë toeknyp en laat spaander wanneer die dag breek. So lank kan dit tog nie meer wees nie.
Nee, al onthou hy byna niks van homself nie, weet hy dat hy nie ’n bangbroek is nie. Bewerig stoot hy die jasse opsy. Sy nekvel prik terwyl hy tot by die deur van die kleedkamer sluip. Aarde, hy het nooit geweet spoke ruik na roosmaryn nie. Hy maak sy rug reguit en loer om die kosyn.
Hy glo dit nie! Op die rand van die verhoog, met haar lang geblomde sisromp wat soos ’n waterval oor die kant hang, sit ’n meisie. In die lig van ’n kort vetkers wat in ’n blaker langs haar brand, gloei haar donker vel soos fyn sy. Sy hou ’n rietfluit teen haar lippe en toor ’n vreemde, hartseer deuntjie daaruit op.
Betowerd staar hy.
Die meisie het seker agtergekom sy is nie alleen nie, want sy hou op met speel en kyk om. ’n Gilletjie glip uit haar mond. Met een hand raap sy haar romp bymekaar, vlieg op en wip van die verhoog af. Iets wat soos klompe klink, klap op die vloer terwyl sy met die paadjie afhardloop.
“Wag!” skree Gabriel, maar sy hou haar doof en hardloop vinniger. Hy sit haar agterna. Plof! land hy onder die verhoog. Die meisie kyk verskrik om. Met dié pootjie haar lang romp haar en terwyl sy rondtrap om haar balans te kry, gly haar linkervoet uit haar sandaal. Gabriel duik vorentoe en raap dit op.
“Gee hier!” Sy gryp daarna.
“Hokaai!” Hy hou die sandaal in die lug. “Belowe eers jy sal nie weghardloop nie.”
’n Swart haarsliert het van onder haar kopdoek ontsnap en sy druk dit terug terwyl sy hom bekommerd bekyk. “Is jy Jan Fluit?” Sy het ’n vreemde aksent.
“Jan Fluit?” Gabriel gooi sy kop agteroor en lag. “Nee, ek het gedink jý is hy. Kan ons maar vrede maak?”
“Gee eers my kaparring.” Sy hou haar hand uit.
“O, dit?” Gabriel bekyk die snaakse houtsandaal. Dan gee hy dit vir haar aan. “My naam is Gabriel,” stel hy homself voor.
Die meisie glip die sandaal aan haar voet. “Wat soek jy in die Komediehuis? Het sy jou gestuur? Ek’s dood as jy haar vertel ek het hier kom oefen.”
“Van wie praat jy? En hoekom noem jy dit die Komediehuis? Ek dog dis Di Schouwburg?”
’n Frons verskyn tussen haar fyn wenkbroue. “Jy is nie van hier nie, nè?”
Gabriel skud sy kop. “Jammer om te sê, ek weet nie waar ek is of wat ek hier doen nie. Maar ek is nie van plan om op enigiemand te klik nie. Veral nie op jou nie.”
Die meisie se skouers ontspan effens. “Ek moet gaan.”
“Nie voor ek weet wat jou naam is nie. Asseblief?”
Sy byt haar onderlip vas. Uiteindelik antwoord sy nogtans. “Zytia. My naam is Zytia.”
“Dis ’n mooi naam. Soos jou musiek.”
Haar mondhoeke pluk. “Jy ken nie die slawe se naam vir die teater nie, maar jy hou van slawemusiek? Regtig?”
“Is dit sláwemusiek?” Dit voel vir Gabriel asof ’n hand sy keel toedruk. “Maar jy’s tog nie … ?”
’n Skaduwee vee oor Zytia se gesig, maar voor sy kan antwoord, klink daar ’n geluid buite op. Perdepote. Die gerammel van koetswiele. Dit dreun voor die teater verby en verdwyn dan weer straataf.
Zytia gee ’n benoude gilletjie. “Jy hét haar gesê!” fluister sy. Toe vlieg sy om en hardloop na die voordeur.
“Zytia, nee!” Gabriel sit haar agterna en gryp haar aan die pols, maar sy buig haar kop en sink haar tande weg in die rugkant van sy hand.
“Au! Vir wat doen jy dit?” Hy pluk sy hand terug. “Ek sal jou niks maak nie. Ek wil net …”
Zytia hardloop na die voordeur. Teen die tyd dat Gabriel daar kom, het die maanlignag haar ingesluk. Hy staan nog so met sy hand teen sy lippe en die ystersmaak van sy eie bloed in sy mond, toe hy weer die geluid van perdepote hoor. Vinnig duik hy in die skaduwees weg, net betyds om te sien hoe kom ’n swart koets getrek deur vier silwerwit perde om die hoek. Die koets gooi ’n draai oor die verlate plein. Klippies spat. Die perde word ingetrek en die koets kom tot stilstand.
Gabriel hou sy asem op. Dit voel amper asof wie ook al daar binne is besig is om die teater te bekyk. Maar hoekom? En wie is dit?
’n Sweep klap, een van die perde runnik en die koets begin weer beweeg. Dit draai straataf, maar nie voor ’n maanstraal agter die wolke uitkruip nie. Vlugtig gewaar Gabriel ’n gesig agter die ruit. Dis die gesluierde gesig van ’n vrou.