Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 7 - Tryna du Toit - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 3

Voor hy die Saterdagoggend weg is, het Andries na Ouma Joubert se huis in die oudorp gery. Hy het nie geweet wat om te verwag nie en het nie baie op sy gemak gevoel nie.

Sy het hom koel maar hoflik ontvang.

“Ek het al begin dink jy het nie my boodskap gekry nie, Andries.”

Andries maak verskoning en vra wat hy vir haar kan doen.

“Ek het niks nodig nie, dankie. Ek wil maar net van jou hoor wat tussen jou en Cathy gebeur het.”

“Het Cathy u nie vertel nie?”

“Sy het, maar ek wil jou kant van die saak ook hoor.”

“Dit kan ek in ’n paar woorde sê: Cathy het besluit sy wil nie meer met my trou nie en het my ring vir my teruggegee.”

“Ek sien. En was jy so iets te wagte?”

“Glad nie. Ek was onder die indruk dat Cathy heeltemal gelukkig is en verdiep is in troureëlings.”

“Waarom wil sy nie met jou trou nie?”

“Sy sê sy het my nie lief nie.”

“Toe julle aan die begin van die jaar verloof geraak het, het niemand getwyfel dat sy jou liefhet nie. Wat het intussen gebeur?”

“Ek wens ek het geweet. Dit was ’n besige en moeilike jaar vir my – ek kon nie die tyd en aandag aan Cathy gee wat sy wou hê nie. Nou beskuldig sy my dat ek haar nie liefhet nie en dat ek my werk bo haar stel.”

“Is dit nie wat gebeur het nie?”

“Ek het nie so gedink nie. Ek het gedink sy besef dat dit vir ons albei is wat ek so hard werk. Ek wil volgende jaar oorsee gaan en wou haar natuurlik saamneem. As ek ’n beurs kon kry, sou dit nie vir ons ouers nodig wees om ons finansieel te help nie.”

“En het jy toe die beurs gekry?”

“Dit word eers later bekend gemaak.”

“Jy sal dit definitief kry. Ek hoor jy het jou graad met onderskeiding in twee vakke geslaag. Ek wil jou graag gelukwens, dokter Andries de Wet!”

Hy kyk haar verbaas aan.

“Waar hoor u dit? Ek het self maar nou net eers gehoor.”

Sy glimlag effens.

“Dit maak nie saak waar ek gehoor het nie. Dis ’n mooi prestasie en ons is almal trots op jou. Wat gebeur nou?”

“U bedoel met Cathy en my? Ek sal haar seker af en toe in die Kaap sien – ons is nog vriende ten spyte van wat gebeur het.”

“Vriende? En jy is tevrede om dit daar te laat?”

“Ek is nie van plan om Cathy lastig te val of my geselskap aan haar op te dring nie. Sy is vry om te doen wat sy wil.”

Ouma Joubert kyk hom fronsend aan.

“Het jy my kleindogter lief, Andries?”

Hy aarsel en daar is ’n frons tussen sy wenkbroue.

“Ek het eens op ’n tyd so gedink, maar miskien is Cathy reg – miskien het ons maar net gewoond geraak aan mekaar en het ons vriendskap met liefde verwar.”

“Ek weet nie van jou nie, maar by Cathy was dit baie meer as net vriendskap. Maar ’n meisie hou nie daarvan om as vanselfsprekend aanvaar te word nie, veral nie as sy jonk, verlief en verloof is nie. Al werk ’n man hoe hard, kan hy nog altyd tyd maak om sy vrou of verloofde te laat voel dat hy haar liefhet, dat sy belangrik is vir hom.”

Andries antwoord nie, maar sy gesig is strak en ongelukkig.

“Nou ja,” vervolg sy uiteindelik, “dit help seker nie om nou met jóú rusie te maak nie. En as jy nie meer in my kleindogter belang stel nie, is dit ook tot daarnatoe. Ken jy dié Jos de Lange?”

Hy aarsel, onseker wat nou kom. Dan sê hy versigtig: “Ek ken hom maar sleg. Ons paaie het nie dikwels gekruis nie.”

“Tog het jy toegelaat dat Cathy saam met hom uitgaan?”

“Hy het haar ’n paar keer na konserte en opvoerings toe geneem toe ek dit self nie kon doen nie. Maar ek weet sy het hom dikwels gesien. Hulle is albei geïnteresseerd in kuns en musiek en het saam in komitees gedien. Maar Cathy het ander vriende ook – en sy het in elk geval mos die reg om haar eie vriende te kies.”

“In ons dae het ons anders oor die saak gedink. Maar genoeg daarvan. Dink jy sy is verlief op hom?”

Weer aarsel Andries, dan sê hy styf: “Ek dink dis ’n vraag wat Cathy beter as ek kan beantwoord.”

Ouma Joubert knik ingedagte.

“Ek verstaan hy is ’n knap en talentvolle jong man, maar dat hy as jong student taamlik wild en onverantwoordelik was.”

Andries kyk haar reguit aan. “Ek het ook as jong student dinge gedoen waarop ek vandag nie baie trots is nie.”

’n Onverwagte glimlaggie versag haar streng gesig.

“Niemand hou van ’n dooierige perd nie – veral nie ’n jong dooierige perd nie! En ’n student word baie dinge vergewe, solank dit onskuldige studentepret is.”

Sy kyk ’n paar oomblikke voor haar uit, haar gedagtes baie ver weg, dan sê sy: “Nou ja, as my kleindogter daarop aandring, moet ons haar seker maar vrye teuels gee. Ek het dikwels gevoel dat sy miskien ’n bietjie jonk en onvoorbereid is vir die verantwoordelikhede van ’n huwelik. Maar omdat niemand na my sou geluister het nie, en omdat ons almal so tevrede met haar keuse was, het ek maar stilgebly. Dit was nie baie bedagsaam van haar om so tot op die tippie te wag nie, maar dit kon erger gewees het. ’n Kleinniggie van my moes eenkeer by die kerkdeur omdraai omdat die bruidegom nooit opgedaag het nie. In ieder geval, ek is baie bly julle is nog goeie vriende en ek hoop en vertrou jy sal help om ’n ogie oor Cathy te hou.”

“Ek maak liewer geen beloftes nie,” sê Andries versigtig.

“Nie eens om ’n bekommerde ou vrou ’n bietjie gemoedsrus te gee nie? Ek weet ek is ’n selfsugtige, bemoeisieke oumens – die kinders vertel dit heeldag vir my. Maar Cathy is my lieflingskleindogter en ek sal baie meer gerus voel as ek weet jy sal af en toe by haar inloer, net om seker te maak dit gaan goed met haar. Of vra ek te veel?”

“As u dit so stel, doen ek dit graag. Maar as ek uitvind dat sy my nie nodig het nie, of dat ek net in die pad is . . .”

“Natuurlik. Dit sal dan al wees, dankie – tensy ek jou ’n koppie tee kan aanbied?”

“Nee dankie,” sê Andries. “Ek gaan môre met vakansie en ek het nog heelwat om te doen.”

Hy neem die hand wat sy hom aanbied en kyk ’n oomblik af na haar. Dan buig hy sy kop, soen vlugtig die hand wat in syne rus, en draai om en stap uit. Roerloos kyk Ouma Joubert hom agterna, haar gesig stil en uitdrukkingloos. Sy het gedoen wat sy kon. Die res is in die hande van die gode.

’n Bietjie bedruk en ongelukkig ry Andries daar weg. Die gesprek met Cathy se ouma het hom opnuut ontstel. Die vae hoop wat hy gehad het dat Cathy miskien tog van plan sal verander, is vinnig besig om te verdwyn. Sy is glad nie van plan om weer terug te kom na hom toe nie. En volgens haar ouma het hy dit alles net aan sy eie lamlendigheid te danke.

Dokter Andries de Wet! Agt lange jare het hy gewerk om dié ideaal te bereik. Eers die b.sc.-graad, daarna die veeleisende jare aan die mediese skool en in die hospitaal. Maar hoe anders is dit vandag as wat hy hom dit voorgestel het. Hy is verlig dat alles so goed afgeloop het, maar sy blydskap en opwinding sou groter gewees het as Cathy daarin kon deel. Sy was so lank deel van sy drome dat hy hom kwalik ’n toekoms sonder haar kan voorstel.

Wel, hy sal maar net moet leer om sonder haar klaar te kom. As hy eers begin werk, sal daar nuwe gesigte en belangstellings wees, en mettertyd sal die gevoel van gemis seker ook verdwyn. Daar is baie oulike meisies in die wêreld, en hy is beslis nie van plan om hom lewenslank te verknies oor iemand wat hom nie wil hê nie!

Van ver af sien hy die wit gewelhuis met die ringmuur wat so rustig in die lenteson droom, en hy dink weer aan sy en Cathy se gesprek ’n paar oggende gelede. Hy onthou nog goed hoe sy gestraal het toe hulle aan die begin van die jaar verloof geraak het. Toe wou sy niks meer hê as om die res van haar lewe by hom te wees nie. ’n Oomblik is die versoeking groot om by Mon Désir aan te ry, om nog een keer met Cathy te praat en haar weer van sy liefde te verseker. Maar toe hy by sy eie indraaipad kom, neem hy dit sonder aarseling.

Hy en sy vriend het nog dieselfde middag vertrek. Toe Cathy later die middag bel om hom geluk te wens, was hy reeds weg. Tannie Magda kon of wou haar ook nie sy adres gee sodat sy vir hom ’n telegram kon stuur nie, en ’n bietjie bekaf het Cathy die telefoon neergesit. Sy dink darem Andries kon self vir haar kom vertel het hoe goed hy gedoen het. Al is hulle nie meer verloof nie, is hulle mos darem nog vriende!

Die paar weke voor Cathy se ouers sou vertrek, het verbygevlieg. Cathy was nog besig met eksamen en haar ma en die huishulpe het die huis, wat vir die jaar verhuur is, van vloer tot solder skoon- en reggemaak. Cathy en haar ma en Wilna was ’n paar keer Kaap toe om na ’n woonstel te soek, en uiteindelik het hulle gekry net wat hulle gesoek het: ’n eenkamerwoonstel met ’n balkonnetjie, nie te ver uit die stad nie en gerieflik naby ’n bushalte. Hulle kon die berg deur die kombuisvenster sien en ’n stukkie van die hawe was van die balkon af sigbaar.

Dit was ’n bietjie beknop vir twee mense en Elsabé Joubert het gewonder hoe Cathy, wat gewoond was aan haar eie kamer en Mon Désir se ruim vertrekke, haar by die nuwe omstandighede sou aanpas. Te oordeel aan die sterre in haar dogter se oë, sou sy Mon Désir met al sy geriewe egter ge-redelik verruil vir die voorreg om hier te bak en te brou soos sy wil.

Cathy moes intussen ook haar eie klere, boeke en besittings sorteer en inpak, en met al die bedrywigheid was daar skaars tyd om te dink. Dit was egter met ’n vreemde gewaarwording dat sy een oggend haar oë oopmaak en besef dat dit haar troudag sou gewees het. Haar ma het ook later daarvan melding gemaak, gelukkig sonder bitterheid of verwyt.

Laat die middag het Cathy vir ou Boel geneem en ’n ent gaan stap. Die wit gewelhuis met die persblou berge daaragter het in die skaduwees van die groot ou eike gedroom, die vroeë skemering het ’n sagte gloed oor die aarde gesprei en daar het nie ’n windjie geroer nie. Met ’n skielike knop in haar keel dink sy dat dit ’n volmaakte troudag sou gewees het. Wat doen Andries? wonder sy. Het hy ook daaraan gedink dat dit vandag hulle troudag sou gewees het?

Terwyl sy en Boel deur die wingerd stap, neem sy in haar hart afskeid van Mon Désir. Vreemdes sal ’n jaar lank hier woon, en hoewel sy later seker dikwels na die huis sal terugkom, sal dit nooit weer dieselfde wees nie. Haar lewe wag daar buite die wit ringmuur.

Met steeds versnellende tempo het die laaste dae gekom en gegaan en Cathy het effens uitasem gevoel toe sy die middag saam met haar ouers by die skip aankom.

Daar was ’n menigte familie en vriende om hulle af te sien en die kajuit was vol telegramme, blomme en geskenke. Ouma was daar, deftig en regop in ’n grys rok en ’n pers hoed met blommetjies, tannie Blanche-hulle het spesiaal van die Paarl af gekom, en June het soos ’n model gelyk in ’n splinternuwe uitrusting. Sophie het ook die middag verlof gevra by die hospitaal waar sy haar opleiding as verpleegster kry om vir haar oom en tannie tot siens te sê. Almal het gelyk gesels, en tussen al die baie mense en opwinding wat op die skip heers, het Cathy skielik ’n bietjie eensaam en alleen gevoel. Vir die eerste keer het die besef dat sy haar ouers ’n jaar lank nie sal sien nie, werklik tot haar deurgedring. Nog nooit vantevore was sy langer as ’n week of twee weg van hulle nie.

“En toe?” sê ’n stem langs haar. “Waarom so eenkant?”

Cathy kyk verras op in Andries se gesig. Sy het nie verwag om hom hier te sien nie. Hy het ’n mooi grys pak aan en onder sy arm dra hy ’n pakkie wat in veelkleurige papier toegedraai is. Sy bruin oë is helder en sy gesig is ’n bietjie voller en bruin getint deur die son en wind. Dis nie nodig om te vra of hy sy vakansie geniet het nie.

“Ek besef nou vir die eerste keer dat my ma-hulle regtig weggaan en dat ek stoksielalleen agterbly.”

“Dit is tog wat jy wou gehad het, is dit nie?” vra hy. “Om op jou eie voete te staan en vry te wees om jou eie lewe te lei?”

Sy stem is lig, maar sy glimlaggie is begrypend, en daar is skielik ’n warm, gelukkige gevoel om haar hart. Dit is gaaf van Andries om ten spyte van wat gebeur het, haar ouers te kom groet.

“Kom sê hallo vir my ma en pa,” sê sy. “Hulle sal bly wees om jou te sien.”

Die professor en sy vrou is albei verras om hom te sien en groet hom vriendelik. Hy wissel ’n paar woordjies met Ouma, dan sak June en Sophie op hom toe. Hulle vra hom uit oor sy vakansie en Cathy hoor hoe June vra of hy vanjaar Hermanus toe kom. As sy ma-hulle nie kom nie, kan hy gerus vir hulle kom kuier. Haar pa het ’n nuwe boot gekoop en hy sal na hartelus kan hengel.

“Dit klink baie aanloklik, dankie,” glimlag Andries. “Ongelukkig het ek reeds my vakansie gehad.”

“Jy is darem seker af en toe ’n naweek los,” sê June. “Ons verwag jou, hoor.”

Cathy se ma het haar stilletjies nader getrek en sy het digby hulle bly staan totdat dit tyd was om te begin groet. Sy het by die oomblik meer miserabel gevoel, en sy hoop maar net dat sy nie nog soos ’n skoolmeisie gaan huil nie.

“Waar kan ek die pakkie sit?” vra Andries weer langs haar. Sy kyk op na hom en hy sien die skielike glinstering van trane op haar donker wimpers.

“Kom, ek sal jou gou hulle kajuit gaan wys,” sê sy en gryp hom aan die hand. Saam stap hulle na die kajuit wat nie ver daarvandaan is nie. Hy sit sy pakkie neer, dan kyk hy na Cathy wat by die patryspoort staan met haar rug na hom gekeer. Hy gaan nader en soos hy verwag, is haar oë vol trane, maar sy veg moedig om haar selfbeheersing te herwin.

“Moenie verspot wees nie,” sê hy sag. “Jy wil nie jou ma ontstel nie, wil jy?”

Hy neem sy sakdoek en droog haar trane af. Ongeërg sê hy: “June stel voor dat ons vier vanaand êrens gaan eet. Wat dink jy van die plan?”

“June weet baie goed dat ek saam met Ouma terug Stellenbosch toe moet gaan,” sê Cathy koud. Sy vererg haar sommer vir June se agterbaksheid. “Maar daar is geen rede waarom jy nie kan gaan nie.”

“Het jy lus om te bly? Ek is vanaand af en kan jou later terugneem Stellenbosch toe.”

Cathy kyk onseker na hom. Sy wil baie graag bly. Ouma gaan altyd vroeg slaap en sy is nie vanaand lus vir haar eie geselskap nie. Andries sien die weifeling in haar oë en glimlag.

“Wel?”

“Ek twyfel of Ouma ja sal sê.”

Die glimlaggie is nog daar.

“Sal ek haar vra?”

“Sal dit nie te veel moeite wees om my die hele ent terug Stellenbosch toe te neem nie?” vra sy skamerig.

“Ek sal my ma bel en sê ek kom vanaand daar slaap. Ek is eers môreoggend weer aan diens.”

“Dankie, ek sal dan graag bly. Mits Ouma ja sê.”

Tot haar verbasing het Ouma blykbaar sonder teëstribbeling haar toestemming gegee, en June het gemaak of sy baie bly is dat Cathy saam met hulle kon gaan. Die familie is almal saam na tannie Mona se huis toe, waar Cathy gehelp het om tee en koffie te skink. Andries sou hulle seweuur daar kom haal.

Nadat Ouma Joubert en June se ouers weg is, is die drie meisies na June se slaapkamer om gereed te maak. Terwyl hulle besig is, vra June terloops vir Cathy of sy al enige losiesreëlings vir die volgende jaar getref het.

Voor Cathy kan antwoord, vervolg sy: “Ek het met tannie Mona gepraat en sy het geen beswaar dat jy ook hier kom bly nie. Jy kan dié kamer met my deel, maar as jy liewer alleen wil wees, kan jy die klein kamertjie onder in die gang kry.”

Cathy kyk na die ou kaserne van ’n kamer – die hoë plafon, die gordyne met die pienk rose, die outydse wasbeker en kom, alles so styf en ongesellig. Dan dink sy aan tannie Mona, bemoeisiek en eng, en sy ril effens.

“Dankie, June,” sê sy sag. “Dis baie gaaf van jou, maar Wilna Durand en ek gaan ’n woonstel deel.”

“’n Woonstel?” June kyk haar ongelowig aan. “Jou ma sal dit nooit toelaat nie.”

“My ma het ons gehelp om die woonstel uit te soek.”

June se blik is skerp, agterdogtig.

“Wat sê Ouma?”

“Ek het Ouma nie gevra nie,” sê Cathy koel. “Ek is mondig en oud genoeg om na myself te kyk.”

June tel haar poeierkwas op met ’n hand wat effens bewe, en Cathy weet wat sy dink. Sy is ouer as Cathy, maar ’n woonstel was nog altyd vir haar taboe. Sy moet hier bly waar tannie Mona ’n ogie oor haar kan hou. Arme June! Ook sy het agter die ringmuur grootgeword, maar sy het nooit die moed gehad om weg te breek nie. Sy het dus nooit geleer het om vir haarself te dink nie en kan vandag nog geen besluit neem sonder om haar ma te raadpleeg nie.

Sophie is anders. Sophie het altyd geweet wat sy wil hê en ten spyte van haar onskuldige gesiggie het sy geweet hoe om dit te kry. Toe sy weier om universiteit toe te gaan en volhou dat verpleging al is wat sy wil doen, het almal geweet dat dit net ’n kwessie van tyd is voor sy haar sin sal kry. Aan die begin van verlede jaar het sy met haar opleiding by die Volkshospitaal begin – dieselfde hospitaal waar Andries sy aanstelling gekry het.

Toe Andries seweuur daar aankom, was hulle gereed. Cathy en Sophie het natuurlik nie verklee nie, maar June het ’n blou kantrok aangetrek waarin sy baie elegant gelyk het. June was lief vir mooi klere en het goeie smaak gehad, maar haar trotse, effens harde gesig het mense afgestoot.

Hulle het seekos by die hawekafee gaan eet en Andries het ’n bottel witwyn saamgebring. Hulle het op die reisigers se goeie gesondheid gedrink en gesels oor die lekker vakansies wat hulle saam op Hermanus gehou het, en die aand het gesellig verloop. June het voorgestel dat Cathy die aand by haar slaap en die volgende oggend met die trein Stellenbosch toe gaan, maar Cathy en haar ouma sou reeds die volgende dag Hermanus toe gaan en sy was bly toe Andries sê dat sy ma hom verwag en hy in elk geval nog die aand Stellenbosch toe gaan.

Hulle het June en Sophie by tannie Mona se huis afgelaai, maar in plaas daarvan om die pad Stellenbosch toe te kies, het Andries teen Vlaeberg opgery. Daar het Cathy ’n lang ruk stil langs hom gesit terwyl sy in bewondering na Kaapstad se see van liggies kyk.

“Hoe wonderlik,” sug sy later saggies. “Ek kan nie dink dat daar in die hele wêreld iets mooiers kan wees nie. Dis heerlik om te dink dat ek hier in Kaapstad kom woon en werk – daar is so baie dinge wat ek wil doen en plekke waarnatoe ek wil gaan.”

“Ek hoop jy sal gelukkig wees hier,” sê hy sag.

Onverwags sê Cathy: “Ek moet jou nog gelukwens met jou uitslae, Andries. Ek het darem gedink jy sal self vir my kom vertel dat jy deur is – met twee onderskeidings daarby! Toe ek later die middag bel om jou geluk te wens, was jy reeds weg.”

“Ek wou eers by Mon Désir aanry, maar . . . Wel, dinge het ’n bietjie anders uitgedraai as wat ek my voorgestel het en toe het ek maar nie. Dankie in elk geval. Ek is verlig dit het so goed gegaan.”

Hulle ry in die koelte van die somernag Stellenbosch toe. Cathy vra hom uit na sy werk by die hospitaal en hulle gesels gemaklik, sonder stremming. Amper soos in die ou dae, dink sy. Maar in die ou dae sou hy haar hand in syne vasgehou het en sou sy digter teen hom vasgekruip het. Sy sou glad nie omgee as hy vanaand weer haar hand vashou nie, dink sy – net vir troos, natuurlik! Sy voel vanaand ’n bietjie bekaf en alleen.

Sy het Andries die afgelope tyd gemis, besef sy. Maar hulle was natuurlik altyd goeie vriende, lank voor sy sy meisie was. Dis die vriend wat sy mis, nie die verloofde nie. Vir Andries kon sy altyd dinge sê wat sy vir niemand anders kon sê nie. Miskien sou dit beter gewees het as hulle net vriende gebly het. En tog, as sy terugdink aan die ekstase van haar eerste verliefdheid, weet sy dat dit ’n ervaring is wat sy nie sou wou misgeloop het nie.

Langs haar sê Andries: “Onthou jy Annette Malherbe? Sy het verlede jaar klaargemaak? Lang, blonde meisie – baie aantreklik. Was twee keer joolkoningin.”

Annette Malherbe! Die meisie op wie Jos verlief was. Of sy haar onthou!

“Ek onthou haar baie goed. Wat van haar?”

“Sy is nou dieetkundige by die hospitaal. Ek loop haar so af en toe raak.”

Sy het geweet Annette werk in die Kaap en het gewonder hoe gou hulle paaie gaan kruis. En nou werk sy en Andries by dieselfde hospitaal. Hou Jos nog van haar?

Jos! Is dit omdat sy na Jos verlang dat sy vanaand so eensaam en ongelukkig voel? Waar is hy vanaand? wonder sy. Hy is al meer as ’n maand lank weg en sy het nog nie ’n woord van hom gehoor nie.

Hy sou vir haar ’n poskaart vir Kersfees stuur. Sal hy onthou?

“Wanneer sien ek jou weer?” vra sy vir Andries toe hy haar by haar ouma se huis aflaai.

“Ek weet nie. Miskien kom kuier ek vir julle op Hermanus – so nie volgende jaar wanneer jy in die Kaap is.”

“Sal jy vir my kom kuier?” vra sy.

Hy glimlag.

“Miskien. Dit hang af hoe besig ons albei is.” Hy sit sy hand onder haar ken en kyk af in haar gesig. “Moenie te veel oor jou ma en pa treur nie. Dis ’n wonderlike ervaring vir hulle en ek is seker hulle sal elke oomblik daarvan geniet. Dink liewer aan al die dinge wat jy wil doen. As jy jou weer kom kry, is die jaar verby. Tot siens, Cathy, ek sien jou weer.”

’n Oomblik dink sy hy gaan haar soen. Sy is onverklaarbaar teleurgesteld – en terselfdertyd vies vir haarself – toe hy omdraai en wegstap sonder om dit te doen.

Die mag van die gewoonte darem! Of is dit maar net omdat sy vanaand hunker na ’n bietjie troos en warmte dat sy moes veg teen die skielike begeerte om haarself in Andries se arms te werp, om sy arms sterk en beskermend om haar te voel vou?

Cathy se oom het haar en haar ouma die volgende dag Hermanus toe geneem sodat hulle die huis kon begin regkry. Tannie Blanche, haar man en June sou by hulle aansluit sodra die skole sluit. Sophie kry eers Kerstyd verlof, maar later sou Cathy se oudste broer, Charl, se twee seuns uit die Transvaal en ander verlangse familie ook kom kuier. Omdat nie een van haar broers vanjaar verlof kon kry nie, het Cathy se ouers hulle eie strandhuis verhuur.

Cathy het nie baie uitgesien na die vakansie nie. Sonder haar ouers en haar broers en Andries sou dit nie dieselfde as in ander jare wees nie, en sy sou veel liewer direk Kaap toe wou gegaan het om haar op haar nuwe lewe voor te berei. Maar haar ouers het daarop aangedring dat sy ten minste tot die einde van die jaar op Hermanus moet bly. En aangesien die woonstel eers van die begin van die jaar af beskikbaar is en haar ouers alreeds soveel toegewings gemaak het, het Cathy ingestem.

Op die ou end was die vakansie baie lekkerder as wat sy verwag het. Die eerste week was die weer koud en triesterig, en daar was nog min vakansiegangers. Cathy het help huis skoonmaak, baie gestap en gelees en geslaap, en dit selfs ’n paar keer gewaag om in die ysige water te swem.

Eers noudat sy tot stilstand kom, besef sy hoe moeg en gespanne sy was, hoeveel die afgelope weke en maande van haar geverg het. Dit sal haar goed doen om behoorlik uit te rus voordat sy begin werk.

Ouma was lief en gaaf teenoor haar en hulle verhouding was sonder spanning. Cathy het haar van al haar planne vertel en haar ouma het belangstellend geluister. Hulle het selfs oor Andries ook gesels, en tot Cathy se verbasing het haar ouma erken dat dit miskien ’n goeie ding is dat sy ’n bietjie meer ervaring van die lewe kry voor sy trou. Ouma het haar uitgevra oor Jos, en Cathy het haar vertel wat ’n interessante en dinamiese jong man hy is. Sy het haar verseker dat hulle net goeie vriende is en die feit dat sy die hele tyd dat hy weg was nooit van hom gehoor het nie, het haar ouma gerusgestel. Cathy moes egter belowe om Jos Stellenbosch toe te bring sodat haar ouma met hom kan kennis maak. Maar Ouma sal van Jos hou, daarvan is sy seker.

Cathy het die gesprekke met haar ouma geniet en was dikwels verbaas oor haar nugter uitkyk op die lewe. Sy sou glad nie omgegee het as hulle die hele vakansie alleen kon gekuier het nie.

Net van die tafeldoek het Ouma niks gesê nie!

Die volgende week het June-hulle gekom en die strandhuise het een vir een oopgegaan en tekens van lewe begin toon. Die weer het ook verbeter, en skielik was die dorpie vol vakansiegangers. Cathy en June was ’n paar keer saam met June se pa in die nuwe boot uit, maar die see was effens stormagtig en hulle was albei bly toe Pieter en Japie uit die Transvaal kom en hulle kon tuis bly.

Die Louws se huis het dig toegebly, en Cathy het gewonder of Andries se ouers vanjaar glad nie strand toe kom nie. Maar een oggend het daar ’n rokie uit die skoorsteen getrek en het die vensters wawyd oop vir die son en die heerlike seebries gestaan. Net die volgende dag het sy tannie Magda raakgeloop by die nuwe hawehoof, waar sy vis kom koop het.

Cathy het beleef gegroet, maar tannie Magda se groet was styf, sonder hartlikheid, en sy het teleurgesteld weggedraai. Sy het altyd gedink tannie Magda is so gaaf, sy het nooit verwag dat sy haar so sal behandel nie.

“Wanneer verwag tannie-hulle vir Andries?” vra June, wat by Cathy was. “Of kom hy glad nie kuier nie?”

“Ek weet nie, June. Moontlik sal hy vir ’n naweek kom,” antwoord tannie Magda en haar stem klink nou heelwat vriendeliker. Sy en June gesels ’n rukkie, maar Cathy wag nie om te hoor wat hulle sê nie. As tannie Magda so oor die saak voel, sal sy liewer uit haar pad bly.

Daar was ’n lekker klomp jong mense onder die vakansiegangers, en Cathy het haar saam met June by hulle bedrywighede laat insleep. Daar was ’n gedurige toeloop van jong mans, en tannie Blanche het hulle vriendelik ontvang en aangemoedig om weer te kom. Sy het elkeen se familie en agtergrond en vooruitsigte geken, en as sy nie geweet het nie, het sy gevra. Dit het vir Cathy gevoel of sy gedurig elkeen se bates as moontlike skoonseun opweeg. Sy self het meer as genoeg aandag gekry, maar die vakansie het nie die sprankel van vorige jare gehad nie. Is dit omdat Andries nie daar is nie – ná al die jare van saamwees het sy hom meer gemis as wat sy verwag het – of word sy sommer net te oud vir die gedurige gekuier?

’n Rukkie voor Kersfees het sy die beloofde poskaart van Jos gekry. Dit is in Tanganjika gepos en hy skryf dat die reis ontsettend interessant maar ook baie warm en vermoeiend was en dat hulle bly sal wees om weer terug in die beskawing te kom.

Dan het Jos haar nie heeltemal vergeet nie, dink sy opgewonde. Hy was so lank weg, dis of sy heeltemal kontak met hom verloor het. Maar oor ’n paar weke is hulle albei in Kaapstad en dan sal sy hom seker dikwels sien.

Een aand, ’n dag of twee nadat Cathy Jos se poskaart gekry het, het June ’n klomp vriende genooi om die aand by hulle te kom vleis braai. Cathy het die middag saam met een van haar bewonderaars gholf gespeel en ’n bietjie laat tuis gekom. Sy is besig om aan te trek toe June die kamer binnegeswaai kom.

“Raai wie kom ook?” sê sy vir Cathy.

“Ek weet nie. Wie?”

“Andries! Hy het vanmiddag gekom.”

“So?” Cathy hou haar ongeërg, maar haar hart klop opgewonde. Dit sal gaaf wees om Andries weer te sien.

“Raai wie het hy saam met hom gebring?”

June met haar verspotte raaisels!

“Ek het nie die vaagste benul nie,” sê sy effens ongeduldig. “Sophie?”

“Jy weet goed Sophie kom Sondag. Nee, Annette Malherbe. Jy onthou haar tog seker.”

Annette! Dis soos ’n beker koue water in Cathy se gesig. Stel Andries in Annette belang? Maar waarom is sy ontsteld? wonder sy die volgende oomblik. Andries is ’n vry man, hy kan doen wat hy wil. Maar hulle vriendskap moet ver gevorder het as hy Annette saambring.

Die meeste gaste was reeds daar toe Andries en Annette met ’n mandjie vrugte aangestap kom. Andries het ’n kortbroek en sportbaadjie aan en lyk glad nie moeg of oorwerk nie. Inteendeel, hy lyk jonk en aantreklik. Maar dit was na Andries se maat wat almal gekyk het. In ’n wit rok met ’n blou serp, die mooi blou oë blink en glimlaggend, het Annette soos ’n prentjie gelyk.

Andries stel haar voor en Annette ontdek ’n paar ou bekendes onder die gaste. Terwyl sy met hulle gesels, stap Andries reguit na Cathy toe wat besig is om koeldrank in te skink. Sy is bewus van die nuuskierige blikke wat op hulle gerig is en haar glimlag is kalm en onverstoord.

“Hallo, dokter De Wet. Dis gaaf om jou weer te sien. Vakansie gekry?”

“Ek moet môreaand weer terug wees. Ek behoort ongelukkig tot die werkende klas.”

“Ek tel die dae tot ek kan begin.”

“Wat makeer? Verveeld? Of mis jy my so ’n bietjie?”

Sy stem is lig en tergend, maar sy waag dit nie om na hom te kyk nie.

“My liewe Andries, ek het die laaste tyd so min van jou gesien dat ek al geleer het om sonder jou klaar te kom. Maar moenie dat ons nou weer daarmee begin nie.” Tergend vervolg sy: “Jy het altyd gesê jy hou nie van skoonheidskoning-inne nie, onder wie jy joolkoninginne ook ingesluit het. Van plan verander?”

Hy glimlag.

“Ek besef ek was bevooroordeeld. Maar ek het toe nog nie een ontdek wat intelligensie en gesonde verstand sowel as skoonheid besit nie.”

Cathy loer versigtig na hom. Die bruin oë is blink en tergend. Andries de Wet is vanaand in ’n buitengewoon goeie bui.

Hy neem vir hom en Annette elkeen ’n drankie en die res van die aand het hy nie weer naby haar gekom nie.

Hulle was besig om koffie te drink toe Annette langs Cathy op die bank kom sit.

“Andries sê vir my jy kom ook volgende jaar Kaap toe. Ek hoop jy sal gelukkig wees. Dis ’n lekker stad om in te woon en te werk.”

Cathy verseker haar dat sy baie uitsien daarna en seker is dat sy dit sal geniet. Hulle gesels hiervan en daarvan, dan sê Annette ongeërg: “June sê vir my dat jy van Jos gehoor het. Waar is hy nou?”

Cathy vertel haar van Jos en sy vriend se reis, en dat ook hy volgende jaar in Kaapstad sal wees.

“O,” sê Annette. “Ek het gewonder wat hy gaan doen.”

Daar is ’n fronsie tussen haar wenkbroue en Cathy kry die indruk dat sy ontsteld is. Of is dit maar net die flikkerende lig van die vuur wat daardie vreemde uitdrukking aan haar gesig gee? Annette vra wat Jos se onmiddellike planne is, en Cathy vertel haar wat sy weet. Annette luister belangstellend, haar gesig stil en onleesbaar.

Die jong man wat langs Cathy sit, draai skielik na hulle toe en sê: “Praat julle van Jos de Lange? Hy was ’n joernalis in Johannesburg, maar ek het later gehoor hy is daar weg.”

“Hy het verlede jaar terug Stellenbosch toe gekom om sy meestersgraad te doen,” sê Annette bondig. “Ken jy hom?”

“Ons kom oorspronklik van dieselfde dorp af, maar ek het hom jare laas gesien. Wat gaan hy nou doen?”

“Hy het baie planne,” sê Cathy. “Radiowerk, vryskutjoernalistiek, toneel – hy stel in al daardie rigtings belang.”

“’n Briljante ou,” sê die jong man. “As hy net kan wegbly van die bottel.”

Die aaklige woord tref Cathy soos ’n klap in die gesig. ’n Oomblik is sy heeltemal lamgeslaan, dan draai sy ontsteld na hom toe: “Ons praat seker nie van dieselfde man nie. Ek ken Jos goed – ek het die afgelope jaar baie met hom te doen gekry en dikwels saam met hom uitgegaan – en sover ek weet, drink hy glad nie. Nie eers ’n glas wyn nie.”

“Ek is bly om dit te hoor,” sê hy opreg. “Dis ’n tragiese swakheid en het al genoeg probleme vir hom veroorsaak. Dit was terloops die rede waarom hy sy werk in Johannesburg verloor het.”

“Ek is seker jy maak ’n fout,” sê Cathy trots. “Of dat dit alles maar net skinderpraatjies is.”

Hy haal sy skouers op.

“My ouers ken sy oom en tannie by wie hy grootgeword het, goed. Ek weet hoeveel hartseer dit al vir hulle veroorsaak het.”

Nou eers sien Cathy dat Andries en June ook bygekom het en staan en luister. Andries lyk ’n bietjie ontsteld en June se oë is soos pierings.

Cathy lig haar kop en sê koud: “Ek is seker dis net skinderstories. Maar al is dit waar, is dit tog nie nodig dat jy dit voor almal uitblaker nie. As Jos probeer om so ’n . . . so ’n swakheid te oorwin, sal almal wat regtig sy vriende is, hom help soveel hulle kan, eerder as om agter sy rug dinge van hom te sê wat hy nie kan weerspreek nie.”

Die jong man lyk ongelukkig en verleë.

“Ek is jammer. Ek het nie bedoel om jou te ontstel, of om Jos agter sy rug te beskinder nie. Ek sou dit nooit genoem het nie, maar dis so ’n ou kwaal – ek het gedink almal wat Jos ken, weet daarvan. Ek is bly dit gaan so goed met hom dat jy nie eens daarvan weet nie, en ek hoop hy sal dit volhou. Hy het baie talente en ons sal almal graag wil sien dat hy hulle kan gebruik.”

’n Ongemaklike stilte val tussen die groepie. Cathy is bewus van Andries se blik op haar, maar sy kyk nie na hom nie. Annette staan op. Haar mooi gesig is onleesbaar.

“Ek hoop jy sal ons verskoon, June, maar Andries wil graag nog ’n bietjie by sy ouers kuier.” Sy sit haar hand ’n oomblik liggies op Cathy se skouer: “Ek kom vir jou in jou woonstel kuier. Sommer gou.”

Toe hulle weg is, het Cathy alle belangstelling in die partytjie verloor. Sy het miserabel gevoel, maar beleefdheidshalwe het sy nog ’n rukkie saamgesels. Haar gedagtes was egter baie ver weg.

Is dit waar? dink sy. Was die gerugte dan nie bloot skinderpraatjies nie? Die vreemde jong man was baie oortuig van sy saak, en nóg Annette nóg Andries het hom probeer weerspreek. Weet almal behalwe sy?

En die stories oor Annette en Jos? Hoeveel waarheid steek in hulle? As al die dinge wat die jong man sê waar is, en as Jos probeer om homself te rehabiliteer, waarom het Annette dan haar rug op hom gedraai? As sy hom regtig liefhet, sal sy nie alles in haar vermoë doen om hom te help nie? As dit Andries was en sy het hom liefgehad . . . maar dié idee is so belaglik en ontstellend dat sy dit dadelik van haar afskud.

Halftwaalf staan sy op, sê nag en gaan kamer toe. Dis June se partytjie, en as haar gaste nie weet wanneer om huis toe te gaan nie, kan June hulle maar self onthaal.

Toe June ’n halfuur later saggies by die kamer inkom, maak sy of sy slaap.

“Slaap jy al?” fluister June hoopvol. Cathy lê roerloos, met toe oë. Sy weet June wil oor die partytjie gesels, en in die besonder oor Jos en Annette en Andries, en daarvoor sien sy nie vanaand kans nie. June het nog ’n keer probeer en toe ’n laai ’n paar keer onnodig hard toegestamp, steeds sonder enige reaksie van Cathy se kant af. Toe gee sy maar die saak gewonne, klim in die bed en sit die lig af.

Maar lank nadat June geslaap het, het Cathy nog wakker gelê. Sy het geluister na die diep dreuning van die see en gedink aan wat die vreemde jong man gesê het, en daar was diepe deernis in haar hart teenoor Jos, wat saam met sy groot talente ook ’n swakheid geërf het wat soveel hartseer kan bring.

Aan die ander kant, as hy dit kan oorkom – soos hy skynbaar reeds besig is om te doen – tot watter hoogtes kan hy nie uitstyg nie!

Van Jos het haar gedagtes na Annette en Andries gegaan, en sy het weer die onrus in Annette se oë gesien toe sy hoor dat Jos ook volgende jaar in die Kaap kom werk.

En Andries? Is hy regtig aangetrokke tot Annette? Ná al die jare wat sy alleenreg op Andries gehad het, het sy seker so ’n bietjie besitlik geraak, want sy is jaloers by die gedagte dat sy hom met ander meisies moet deel. Maar sy sal maar net gewoond daaraan moet raak! Met ’n suggie rol sy om op haar sy. Alles het so rooskleurig gelyk en nou het daar ewe skielik weer allerhande probleme opgeduik.

Tryna du Toit-omnibus 7

Подняться наверх